deur Bertus Radford
9 September 2021
Met die naderende munisipale verkiesing word die vraag weer gestel of daar enigsins sin daarin is om te stem, en indien wel, vir watter van die opposisiepartye? Die ANC gaan uit hul pad deur Suid-Afrikaners by die stembus te kry, veral die Afrikaners. Die vraag wat hieruit ontstaan is, waarom die geweldige angstigheid om die Afrikaner tot die stembus te dwing? Die antwoord is voor die hand liggend. Deur die Afrikaner tot die stembus te beweeg wil hulle hul ontwettigheid te bowe kom en hulself daardeur legitiem verklaar. Dus, die Afrikaner is van die grootste belang vir sy geloofwaardigheid, al beteken dit dat die Afrikaner vir die opposisiepartye stem. Die logiese redenasie van die kant van die ANC behoort tog te wees om die steun op hulself te verenig. Indien dan nie, deur die steun van die opposisie weg te hou en daardeur hul persentasie te verhoog, maar hier gebeur die teenoorgestelde.
’n Algaande groter ontevredenheid gaan van volksgenote uit deurdat stadsraadslede, deur die Afrikaners ingestem, nie aan hul beloftes voldoen nie. So het ironies genoeg, selfs die verloopte Flip Buys, Solidariteit, enkele weke gelede die opmerking gemaak dat die demokrasie in Suid-Afrika gefaal het en stadsraadslede nie hul plig doen nie. Voortdurend hoor of sien die Afrikaners die krisisse wat dag tot dag opduik en dat hul klagtes op dowe ore val, indien hul enigsins die betrokke raadslid kan opspoor. Terwyl die soustrein gery word is dit die belastingbetaler wat die hand diep in die sak steek.
Die gedugte Franse veggeneraal Napoleon Bonaparte se uitgangspunt was om nooit die vyand aan te vat op die terrein deur die vyand gekies nie. Alhoewel hierdie nie ’n algemene verkiesing is nie, bly die beginsel nog dieselfde. Die ANC besef die magteloosheid van die Afrikaner wanneer die stembus ter sprake kom. Hierdie konvensionele stryd ontmagtig die Afrikaner tot in sy diepste wese. Hierdie magte besef die Afrikaner moet weggekeer word van ’n langdurige politieke guerillastryd en daardeur verhinder word dat hulle op die vyand se swak plekke en flanke konsentreer.
Laastens, maar nie die minste nie, nooit mag vergeet word dat God Drie-Enig uitgeskryf is uit die huidige grondwet, deur diegene wat die verkiesing uitgeroep het. Derhalwe behoort die gelowige homself te distansieer van hierdie proses en daardeur sy of haar hande skoon hou.
Die Afrikaner se pad is baie duidelik uitgelê. Keer die verkiesing die rug en weier om geloofwaardigheid te verleen aan ’n ongeloofwaardige proses en daardeur homself op die wêreldkaart te plaas van diegene wat geweier het om in te val by planne daarop gemik om die Afrikaner te ontmagtig.
Ons oproep is dus ondersteun jou volk se saak deur NIE aan die regime se verkiesings deel te neem nie, maar betrokke te word by die stryd en aan te sluit by jou mede-Afrikanernasionaliste van die ANB. Vir meer oor ons: Grondslag en doelstellings. Om aansoek te doen om te sluit vind die vorm hier . In dien jy meer wil weet kontak ons gerus.