Category Archives: Adv. J. G. Strijdom

Die Leeu van die Waterberg: adv. Hans Strijdom

(Deel 1)

“Dit was twee dae voordat  Suid-Afrika se vyfde premier aangewys sou word. Die hele land het gegis oor die drama wat hom in die komende week sou ontplooi. Agter die skerms was daar drukke beraadslagings oor wie dr. D. F. Malan sou opvolg. Om gereed te wees vir gebeurlikhede wou ek ‘n paar foto’s van Hans Strijdom en sy gesin maak. Deur bemiddeling van ‘n kabinetsminister het ons ‘n afspraak gereël, want Strijdom, wat pas van Europa af teruggekeer het, wou geen koerantman te woord staan nie.

Eindelik was die Strijdom-gesin gereed. Die fotograaf het oorgehaal, maar die kamera moedeloos laat sak. “Almal lyk so vreeslik ernstig,” het hy gekla.

“Glimlag ‘n bietjie, Hans,” het mev. San Strijdom haar eggenoot aangespreek. “Jy lyk darem te ernstig.”

Suid-Afrika se aangewese Premier het die oorslaanbaadjie van sy donker pak reggetrek en sy das nog ‘n keer verskuif. “Maar, vrou, jy weet tog dat ek ‘n ernstige man is,” het hy hom verweer. Dit is half skertsend gesê, want ‘n breë glimlag het sy gesig geplooi.

Maar onbewus het Hans Strijdom daardie dag self sy eie lewensbeskouing opgesom. Wat hy doen, doen hy met ‘n erns en toewyding wat min van sy kollegas by hom vermoed het toe hy byna dertig jaar gelede uit die agterbanke van die Volksraad opgestaan het om sy nooienstoespraak te lewer.

Só het sy politieke vriende en teenstanders Johannes Gerhardus Strijdom oor baie jare leer ken. Sy doelgerigtheid het hom voorbestem vir wat hy vandag is, en wat hy bereik het, het hy verower deur ernstige arbeid.” (1)

Sy opgroei

“…(Hans) was maar ‘n kwajong en het baie slae van sy vader en moeder gekry, dikwels omdat hy so eiesinnig was en dinge volgens sy eie manier wou doen… Dikwels het sy moeder hom gemaan: “Hans, trek aan jou skoene; die dorings sal jou steek.” Sy enigste reaksie was dan: “Bring die dorings en laat hulle my eers steek!” (1)

Hy het op Willowmore skoolgegaan, en was ‘n skrander leerling. Vir hoërskool opleiding het sy vader die jonge Hans na die geskiedkundige skool op Franschhoek gestuur. Op dié skool het so ‘n sterk Vaderlandsgees geheers dat “…gedurende die paar jaar dat Strijdom daar was, klagte (was) van die Onderwysdepartement oor die ‘dislojaliteit’ in die skool.” (1)

“Op Stellenbosch (1910-1912) het hy dadelik ingeskakel by dié deel van die studentesamelewing wat daarna gestreef het om die Afrikaner tot sy reg te laat kom. Hoewel hy nooit een van die leiers was nie, het hy aktief deelgeneem aan debatsverenigings en ander kultuursake. As debateerder was hy moeilik te klop. Hy het baie met sy studentemaats geargumenteer. Hy was ‘n pligsgetroue student, maar het nie nodig gehad om baie hard te werk nie. Tog het hy die eksamens met groot sukses afgelê. Hy was 18 jaar oud toe hy die graad B.A. behaal het.

Op die Rugbyveld was hy ‘n doring. Hy het langs sy vriend, Stephen le Roux senter gespeel. Daar het hy “…dieselfde toegewydheid en bestendigheid geopenbaar as wat sy openbare loopbaan in later jare gekenmerk het.” Tennis het hy ook graag gespeel en het altyd ‘n lewendige belangstelling in dié sportsoort gehad.

Na hy sy graad behaal het, het hy met volstruise in die distrik Willowmore gaan boer. Maar hy was skaars aan die gang toe die volstruismark in duie stort. Gelukkig kon hy op sy geleerdheid steun sodat hy in 1914 na Pretoria verhuis om staatsprokureur te word.

Die Eerste Wêreld Oorlog

Augustus 1914 word Suid-Afrika deur die Britse regering versoek om ‘n sekere deel van Suid-Wes-Afrika te gaan inneem. Hierdie tyd kan as die enigste periode beskou word waar Hans deur andersdenkendes verplig was om in stryd met sy gevestigde opvattings te handel. As 21-jarige was Hans Strijdom nog onderhewig aan die verpligte militêre diens van die Verdedigingsmag. (2)

Hy het egter nooit teen die Rebelle opgetree nie, en het botweg geweier om aan die militêre oefeninge vir die staatsamptenare deel te neem.

Na die Rebellie bekamp is deur die regering, word Hans opgeroep vir diens in die 6e Mediese Brigade Veldambulans. Daar was hy betrokke “…van 13 November 1914 af tot 26 Februarie 1915 en was onder die bevel van Engelse offisiere wat die lewe vir hom so ondraaglik gemaak het vanweë sy openlike teenkanting teen die Regering se oorlogsbeleid, dat hy aansoek gedoen het om oorgeplaas te word na een van die burgerkommando’s wat onder die leiding van Afrikaneroffisiere gestaan het.” (2)

So is hy op 27 Ferbruarie 1915 ingedeel by die Helgard-Verkenningskorps, deel van die 3e Berede Brigade (regtervleuel), onder die bevel van kaptein Helgard de Jager. Op 15 April is hy van gewone manskap tot korporaal bevorder, en op 9 Augustus 1915 het sy dienstydperk tot ‘n einde gekom.

Nylstroom toe

Hy het baie belanggestel in die toneel-bedryf, en op so ‘n geselligheid het Hans vir Margaretha van Hulstein, ‘n Londonse toneelkunstenaar wat onder die naam Marda Vanne opgetree het, ontmoet. Die twee was gou dolverlief en verloof kort daarna. Sy was die dogter van sir Willem van Hulstein, ‘n bekende mynbaas van die Goudstad en Engelse edelman.

Toe die getroude paartjie in Mei 1918 na Nylstroom verhuis, het daar egter krakies in hul huwelik verskyn. Margaretha kon haar nie by die platteland aanpas nie, en die twee is sonder enige kwade gevoelens geskei. Geen kinders is uit die huwelik gebore nie. (3)

In 1918 is Hans as advokaat tot die Kaapse Balie toegelaat, maar hy het nooit as advokaat gepraktiseer nie. Hy het egter aansoek gedoen, in Afrikaans, by die Hooggeregshof in Pretoria om as prokureur toegelaat te word. Dit is goedgekeur.

Hy was waarskynlik ook die eerste prokureur wat ‘n huwelikskontrak in Afrikaans opgestel het. Toe hy die kontrak by die Akteskantoor indien, het die Registrateur geweier om dit te registreer. Eers na ‘n bevelskrif van die Hooggeregshof is sy aansoek toegestaan.

As nuweling op Nylstroom het hy aanvanklik maar gesukkel om sy praktyk aan die gang te kry, maar weldra het sake verbeter en het hy ‘n bloeiende praktyk opgebou.

Sy belangstelling in die boerdery was nog altyd sterk. Hy het die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte gekoop en naweke geboer. Hier was hy altyd op sy gelukkigste. Later het hy ook op die plaas Sandvlakte naby Warmbad, saam met sy broer Raymond geboer. Daar het hulle veral met Friesbeeste geteel en op groot skaal gesaai.

Van 1923 tot 1929 was hy voorsitter van die Waterbergse Landbougenootskap. Maar nadat hy tot Volksraadslid vir Waterberg verkies is, hy nie meer kans gesien om sy aandag aan die boerdery te wy nie en het hy uitgetree. (3)

In die Volksraad

“Toe genl. Hertzog die destydse Volksraadslid vir Waterberg, Piet le Roux van Niekerk, na die Senaat bevorder, moes die kiesers van Waterberg in 1929 vir hulle ‘n nuwe kandidaat soek. Hul keuse het eenparig op Hans Strijdom geval, maar hy het nie lus gehad om Parlement toe te gaan nie. Hy moes uiteindelik omgepraat word. Die feit dat Stephen le Roux (sy vriend) reeds ‘n paar jaar vantevore Volksraad toe is, het sy besluit vergemaklik.” (3)

Toe hy egter besluit het om hom verkiesbaar te stel, het hy sy volle gewig by die saak ingewerp. In die verkiesingstryd het hy die oorwinning van sy voorganger bestendig deur 1156 stemme op hom te verenig teenoor 573 stemme vir sy teenstander, die kandidaat van die SAP.

As jong agterbanker in die Parlement, het Hans Strijdom aandag getrek deur die vuur en skerpheid van sy toesprake. Sy eerste toespraak het hy op 29 Julie 1929 in die Volksraad gehou. Hy het gepraat oor waterbewaring en besproeiing, ‘n saak wat hom sy lewe lank na aan die hart was. Hy het gepleit dat die regering “…’n duidelike besproeiingsbeleid vir die hele Suid-Afrika (moet) formuleer” en dat daar met die oog op waterbewaring, sonder versuim ‘n besproeiingsopname van die land gemaak word.

Dat dr. Malan in 1948 die portefeulje Lande en Besproeiing (nou Waterwese) aan adv. Strijdom toegewys het, is dus nie toevallig nie. Baie van die dinge wat hy as agterbanker bepleit het daardie jare, het hy as Besproeiingsminister ten uitvoer gebring. Dwarsdeur die jare was hy ‘n groot kampvegter vir die regte van die boere.

“Wat die politiek betref, het Strijdom tot die sogenaamde republikeinse vleuel van genl. Hertzog se Nasionale Party behoort. Hierdie vleuel, bestaande uit die jonger garde onder leiding van dr. N. J. Van der Merwe, is reeds vóór Strijdom se toetrede tot die Volksraad deur genl. Hertzog oor die kole gehaal oor hulle uitgesprokenheid.”(3)

Die mislukking van sy eerste huwelik “…was vir Strijdom ‘n hewige skok, maar die reaksie het hom reguit na sy bestemde loopbaan gestuur. Dit het hom met groter toewyding aan die saak van die Nasionale Party laat ywer.” (3)

Kort voordat hy tot Volksraadslid verkies is, het hy en die predikantsdogter San de Klerk mekaar ontmoet. Hulle is aan mekaar voorgestel net nadat hy skeidsregter by ‘n rugbywedstryd was. Toe Hans na die eerste Sitting in die Kaap terugkom op Nylstroom, het hy onthou van die bruinoog-nooi en haar gaan opsoek. Hy was heelwat ouer as almal in haar vriendekring, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Twee jaar later, in 1931, is hulle getroud.

Hans Strijdom het eindelik ‘n “…hawe gevind waar die branders altyd kalm was en die persoon van alle persone gevind wat hom sy hele loopbaan in die huis en op die verhoog sou bystaan.” (4) Dinge het dadelik by die huis goed gegaan, maar dit het nie so goed in die politiek verloop nie.

Suid-Afrika is van die goudstandaard afgedwing, groot droogte het in die Noord-Transvaal geheers, en die eerste klankies van ‘n koalisie met die Sappe, waarin adv. Strijdom so ‘n renons gehad het, het geklink. Hans Strijdom se lang en moeisame verblyf in die politieke woestyn het begin.

Nat en Sap smelt saam

 Op die Nasionale Party se kongres, 9 Augustus 1934 te Pretoria, was dit duidelik dat die oorgrote meerderheid ten gunste van die koalisie is. Hy en ‘n klein groepie Nasionaliste, onder aanvoering van mev. E.G. Jansen, hyself en L.J. du Plessis, het geen twyfel gehad oor hul standpunt i.v.m. ‘n koalisie tussen die SAP en die Nasionale Party, nie.

Hans Strijdom het sy kans afgewag om ook sy bydrae te lewer: “’Ek was van die begin af gekant teen Samesmelting om dieselfde redes as wat genl. Hertzog die vorige jaar teen koalisie was,’ het hy gesê. Verder het hy nie gekom nie. Die voorsitter het ontdek dat Strijdom selfs nie die afgevaardigde van Waterberg is nie, maar slegs die secundus. Die afgevaardigde, mnr. M. Bakker, was in daardie stadium self in die saal en die voorsitter het Strijdom se reg betwis om te praat terwyl die afgevaardigde aanwesig was. Sy beslissing het ‘n opstootjie laat ontstaan, maar Strijdom is nie toegelaat om verder te praat nie.”

Nadat die saak bepraat is, is besluit om te stem oor die vraag of die twee partye moet saamsmelt. Die uitslag was verpletterend vir die minderheid: 281 stemme teenoor 38.

Die 38 het hulle uit die kongres onttrek en in die klubsaal van die Polleys Hotel hul eie verrigtinge voortgesit. Hulle het besluit om die Nasionale Party voort te sit, ‘n nuwe hoofbestuur van sewe gekies. Hans Strijdom was een van die sewe, en as die party se enigste Volksraadslid in Transvaal, is hy ook aangewys as lid van die Federale Raad.

“…Die besluit wat Hans Strijdom en sy kollegas daardie dag geneem het, het moed vereis. Die stroom waarteen hulle moes swem, was sterk. Hoè sterk, het hulle eers later besef toe daar begin is om die Nasionale Party van onder af op te bou.

Nadat die formaliteite afgehandel is, het sen. Stoffberg gevra of hy iets kon sê. ‘Na wat vandag gebeur het, weet ons dat Hans Strijdom nie soos ander leiers bolmakisie sal slaan nie,’ het hy gesê. Die ander het luid toegejuig.”( 5)

(Word vervolg)

………

Saamgestel deur R. Vorster

………

Bronne:

  1. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 9-12.
  2. J.G. Strijdom, Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948; J. L. Basson; 1980; bl. 12-15.
  3. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 14-16.
  4. Ons eerste ses Premiers, ‘n persoonlike terugblik; Piet Meiring; 1972; bl.100-105
  5. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 22.