“…Op ‘n dag in Maart 1902 het ‘n Engelse kommando van Lindley af oor die werf getrek en agt kilometer daarvandaan in die rigting van Vechtkop kamp opgeslaan. Teen sononder het ‘n perderuiter sy verskyning gemaak….”
Boervrou slaan besope Engelse verkenner morsdood
(Mev. Mathilde du Toit)
Met die mans op kommando of as krygsgevangenes na Ceylon gestuur, het die 60-jarige Mev. Susarah Johanna Dorothea du Toit (geb. Crause) op die plaas Gertruida, Heilbron, ongeveer nege kilometer van Vechtkop, tydens die oorlog saam met ander vroue en kinders geskuil.
Hulle was haar dogters, mej. Miemie du Toit en mev. Sarie Marais, ‘n skoondogter, mev. Elizabeth du Toit en haar babaseun, ‘n niggie, mej. Miemie Crause van Ficksburg asook haar broer, en mnr. Jurgens Crause se jongste dogtertjie, Susarah Magdalena Crause (Sarie).
Mev. Susarah Magdalena Schutte (geb. Crause) was agt maande oud toe haar ma oorlede is. Sy is onder die sorg van haar pa se oudste suster, mev. du Toit, geplaas, wat ook by dié groep geskuil het.
Die plaashuis is nie minder nie as drie keer deur die Engelse afgebrand. Die vierde keer is dinamiet onder die vier hoeke geplaas en dit is opgeblaas, maar dwarsdeur die oorlog het die mense onder die leiding van onverskrokke mev. du Toit uit die hande van die vyand gebly. Elke keer as hul woonplek vernietig is, het hulle weer ‘n blyplek met sinkplate geprakseer.
Mev. du Toit sê volgens haar ma was daar gedurig gevegte op die plaas. Die vroue moes soms heeldag onder die sinkplate skuil terwyl die Boere en die Kakies oor hulle heen op mekaar geskiet het.
Op ‘n dag in Maart 1902 het ‘n Engelse kommando van Lindley af oor die werf getrek en agt kilometer daarvandaan in die rigting van Vechtkop kamp opgeslaan. Teen sononder het ‘n perderuiter sy verskyning gemaak.
Eers het die vroue gedink dit is ‘n Boerespioen, maar sy skynbaar doellose bewegings het hulle agterdogtig gemaak. Dit was in werklikheid ‘n bruin man van die Engelse kommando wat goed beskonke was.
Hy het skielik reguit op die werf afgery, voor die murasie stilgehou en astrant met ‘n oormaat van militêre waardigheid van sy perd afgespring en die sinkplaat wat as deur gebruik is, oopgedwing.
‘n Worsteling het tussen hom en mev. Sarie Marais plaasgevind. Sy het opgemerk die geweer is verkeer gelaai en het die loop vasgegryp. Mej. Miemie du Toit het ‘n skamelbout van ‘n wa wat die Engelse verbrand het, gegryp en met alle krag en mag die man oor die kop geslaan. Hy was morsdood.
Die gevaar was dat die Engelse enige oomblik kon opdaag op soek na hul verkenner. Die vroue het sy perd afgesaal en die veld ingejaag. Daarna het hulle die lyk na ‘n sloot gesleep en probeer toegooi. Die bloed in die murasie is ook inderhaas afgewas. Nie lank daarna nie of die Engelse het na hom begin roep: “Old man, speak loud!”
Weer is die sinkplaat oopgebeur, maar die vroue het geswyg. Uit frustrasie is die waghond wat langs klein Sarie gesit het, deur die Engelse met ‘n bajonet doodgesteek. Sy het net geprobeer om die babaseuntjie stil te hou.
Die volgende oggend het die vroue ontdek die “Old man” het oop en bloot in die sloot gelê met net ‘n klein bietjie grond op sy maag!
Die kinders is ook op ‘n dag gestuur om die skape te gaan aanjaag omdat die Engelse op pad was. Haar ma, Sarie, was een van hulle. Langs die pad het die Engelse hulle ingehaal en die kinders én die skape met swepe na die huis aangejaag.
Dáár is die skape saam met die perde en beeste in die kraal ingejaag en ‘n hooimied is op hulle omgekeer en aan die brand gesteek – voor die kinders. “My ma het gesê die gerunnik, gebulk en geblêr van die diere sou sy nooit in vergeet nie.”
Die huis is weer afgebrand, maar die tante het haar verset en geweier om na ‘n konsentrasiekamp gebring te word.
Haar ma se tante, mev. Susarah du Toit, het gereeld gesondheidsbrood (waarskynlik ongesuurde brood) vir genl. Christiaan de Wet gebak, wat aan ‘n maagprobleem gely het. Hy en sy manskappe het dit gereeld op die plaas kom haal. Die voorraad meel, suiker, sout en koffie is in ‘n gat weggesteek.
Een nag het sy die meel gemaal om vir genl. de Wet en hulself brood te bak toe die Engelse opdaag. Sy het ‘n plan beraam, die sak meel toegeknoop klein Sarie daarop laat lê en gesê sy moet maak of sy siek is.
Sarie het haar lieflingpop, Hampf, in die hand gehad (Die pop is genoem na ‘n Duitse dokter wat haar voor die oorlog teen witseerkeel behandel het).
Vermoedelik is die vroue verraai, want ‘n Engelse soldaat het van die meel geweet. Hy het sy bajonet onder klein Sarie ingedruk en die sak oopgesny. Hy het dit buite op die grond uitgegooi en perde daaroor laat lei. Die pop het hy teen ‘n klip stukkend gegooi.
‘n Ander Tommie het na mev. Miemie du Toit geloop en gesê hy het ook ‘n dogtertjie by die huis. Hy het vir haar ‘n goue pond in die hand gegee en gesê ná die oorlog moet ‘n ander pop vir haar gekoop word. ‘n Blompotjie is toe na die oorlog met die geld gekoop.
Mev. du Toit sê haar pa, mnr. Jacobus Paulus Schutte, ook van Heilbron, was ‘n penkop en het as tienjarige in ‘n loopgraaf gelê toe ‘n koeël deur sy hoed getrek en sy kopvel geskroei het.
Bron: ABO 100 Ons lesers vertel, deel 1; Volksblad en Oorlogsmuseum; 2001.
Nou vriende, moet ons onsself die vraag afvra in hoe groot mate het ons hierdie waarskuwing verontagsaam?
Maar daar is hoop. Ons kan opnuut leer en inkeer en doelgerig werk daaraan om ons identiteit te kan behou ten spyte van wat om ons vergaan. Begin deur jouself af te vra waarby jy in jou vrye tyd betrokke is. En waarby jou kinders betrokke is. Ondersteun dit die behoud van ons volksidentiteit? So nie, raak betrokke by die ANB en help terugkeer en bou op die vastigheid van nasionalistiese beginsels, die lesse geleer uit ons geskiedenis en die voorbeelde van ons heldedom. Sluit aan by die ANB. Vind meer uit oor ons en ondersteun die uitdra van hierdie boodskap van hoop.