Monthly Archives: Junie 2022

ANB Nuusbrief: DIE KOMS VAN JONG SUID-AFRIKA

“…ons (moet) mekaar bemoedig, die hande vat en mekaar weer optrek na die hoogtes. Ons moet mekaar ondersteun en weer die patriotisme deur Nasionalisme laat opvlam tot groot hoogtes.”

Republiekfees toespraak gelewer 28 Mei 2022 deur Mnr. Dirk Joubert.

 Geagte volksgenote – baie dankie vir hierdie ge-eerde geleentheid om u toe te spreek. Ek wil begin deur aan u Lourens Taljaard se gedig ‘Waarheen Blank Suid-Afrika?’ voor te hou:
Elke nuwe dag van môre
sal soos gister kom en gaan.
Maar ons dade; goed of euwel;
bly vir nageslagte staan.
As ons lewenswa gekom het
by die uitspan op die pad;
sal ons nageslag dan trots wees
om die tou by ons te vat?
Sal ons weet dat ons getrou was
in die uitvoer van ons plig?
Of sal hul wat ons moet opvolg;
hulle vinger op ons rig?
Sal hul stemme; vol van sorge;
hierdie wanhoopsvraag moet vra;
“Waar is nou ons trotse erfenis;”
“WAAR IS BLANK SUID-AFRIKA?”
Daar is soveel negatiewe gedagtes rondom die Republiek van Suid-Afrika. Vandag is daar soveel dinge wat aangaan wat teen ons Christelike beginsels, teen ons opvoedings, teen ons stryd is. Maar ons lewer ‘n positiewe boodskap vandag, net soos wat ds. Boeta dit gedoen het.
As ek hier agter my op die bord kyk dan staan daar geskryf “Sodat die volgende geslag dit kan weet – die kinders wat gebore word. Dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders en hulle vertrou…” “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel…” Dit is wat ons moet doen.
Vandag weet ons nie: is ek ‘n Republikein of is ek ‘n Patriot? Strewe ons nog vandag om net ‘n suiwer Republikein te wees? Of het ons verander na Patriotte toe? Hierdie vraag moet u vir uself beantwoord.
Dit gesê deel ek net ‘n bietjie nuttelose informasie – so terloops.
Die eerste republiek is deur Cicero uitgeroep – die Romeinse Republiek. Die Romeinse republiek was die fase van die antieke Romeinse beskawing wat gekenmerk is deur ‘n republikeinse regeringsvorm. Die republikeinse tydperk het begin met die omverwerping van die Monargie c.509 v.C., en vir meer as 450 jaar bestaan tot met die subversie daarvan deur ‘n reeks burgeroorloë, in die Prinsipaat-regeringsvorm en die Keiserlik tydperk.
Dis net interessant dat alles in die geskiedenis herhaal.
Om te dink wat Republiekdag vir ons beteken, moet ons so bietjie terug gaan na die Vrede van Vereniging. Net so terloops, die Vredesonderhandelinge het plaasgevind op Vereniging, maar dit het niks te doen met die naam “Vrede van Vereniging” nie, dit is net so genoem. Die dorp is vernoem na die Zuid-Afrikaanse- en die Oranje-Vrystaat se Colen- en Mineralen Vereniging wat daar gestasioneer was.
Voor die tyd – 1902 -1908 (Vrede van Vereniging)
Tydens die onderhandelinge wat gelei het tot die ondertekening van die Verdrag of die Vrede van Vereniging, was daar vurige besprekings oor die lot van die volk sou hierdie verdrag nie voluit nagestreef word nie.
Dit was duidelik dat daar wel van die 60 Boere-leiers was wat wel die stryd wou voortsit en die meerderheid van 54 teenoor ses het later besluit ten gunste van die verdrag, waarop die Anglo Boereoorlog beëindig is. Hierdie stryd wat al sedert 11 Oktober 1899 gewoed het.
Die Boere-leiers het met hul aankoms daar alles in orde gevind en is hulle gehuisves in twee luukse tente. Die derde tent, die Tent van Samekoms, was in die middel opgeslaan waarin die samesprekings plaasgevind het.
Genl. Jan Smuts het op 30 Mei 1902 in sy openingstoespraak in die Tent van Samekoms op Vereniging die vergadering toegespreek en gesê: “Broers, ons het besluit om tot die bittere einde te staan; laat ons soos manne erken dat hierdie einde vir ons gekom het, in bitterder vorm gekom as wat ons ooit gedink het. Vir ‘n ieder van ons sou die dood ‘n soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Maar ons buk voor Gods wil. Die toekoms is duister; maar ons sal die moed, die hoop, die vertroue op God nie prysgee nie.”
Genl. Beyers is as voorsitter verkies. Elke afgevaardigde het die geleentheid gekry om die situasie in hul gebiede te beskryf. Genl. De Wet van die Oranje-Vrystaat het egter volstaan dat die stryd voortgesit moet word.
Na vele onderhandelinge op Maandag 19 Mei tussen Genls. Louis Botha, Christiaan de Wet, Koos de la Rey, J.B.M. Hertzog en Jan Smuts aan die Boerekant en Lord Milner en Genl. Kitchener, is die konsep voorstel op 21 Mei deur Hertzog, Smuts en Kitchener en sy regsverteenwoordiger, Richard Solomon opgestel en na Brittanje gestuur vir voorlegging.
Op 28 Mei kom die finale vorm terug met die opdrag dat dit in geheel aanvaar of verwerp moet word – sou dit verwerp word, sal die stryd voortduur.
Met President Steyn wat siek word is Genl. De Wet beëdig as president van die OVS, en die besprekinge is op 29 Mei in die tent van samekoms, hervat.
De Wet pleit dat die stryd wat in die Geloof begin is, ook in die Geloof moet voortgaan terwyl Beyers sê dat die posisie haglik geword het omdat daar ‘n gees van mismoedigheid heers tussen die mense en dat die voortbestaan van die volk in God se hande gelaat moet word. En teen die gees kan min stry.
Op Saterdag 31 Mei 1902 vergader tien verteenwoordigers van die Boerererepublieke by Melrose-Huis wat Kitchener se hoofkwartier was en die Verdrag van Vereniging word net na 11h00 die aand onderteken.
In hierdie verdrag was die voorwaardes duidelik uiteengesit, nl.:
  • Alle vegtende Boere van beide republieke moes hulself oorgee;
  • Alle vegtende Boere se wapens word gekonfiskeer;
  • Elkeen moes lojaliteit teenoor die Kroon sweer;
  • Geen doodstraf sou opgelê word nie;
  • Algemene Amnestie sou geld;
  • Die gebruik van Nederlands sou in skole en geregshowe toegelaat word. (Genl. Hertzog het daarop aangedring dat die taalbeleid nie verander mag word nie.)
  • Selfregering sou uiteindelik aan die Transvaal en die OVS toegeken word;
  • Brittanje het die bedrag van 3 miljoen pond aan die Boere betaal word vir heropbouing;
  • Eiendomsregte van Boere sou gerespekteer word;
  • Geen grondbelasting sou geld nie;
  • Geregistreerde privaat wapens sou toegelaat word.
Unie wording – 1910
Een van die redes van Unie wording was ‘n ekonomiese stryd.
Lord Alfred Milner, die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika en goewerneur van Transvaal en die Oranjerivierkolonie, het reeds in 1901 ‘n sogenaamde modus vivendi met Mosambiek aangegaan: in ruil vir die reg om in Mosambiek arbeiders vir die Transvaalse goudmyne te werf, sou minstens 55 % van die Witwatersrand se vragvervoer op die Lourenço Marques-spoorlyn geskied.
Die reëling was vir Transvaal die voordeligste omdat ongeveer 85 % van die spoorlyn deur sy eie gebied geloop het en Lourenço Marques (huidige Maputo) nader aan die Rand (Transvaalse goudvelde) was, as Durban of die Kaapse hawens.
Die samesmelting van die spoorweë van Transvaal en die Oranjerivierkolonie (Central South African Railways) het dit moontlik gemaak om die deel van die spoorlyn tussen Pretoria en die Mosambiekse grens van die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij te koop en het ook die verbinding van Kroonstad met Bethlehem moontlik gemaak.
As gevolg van die groot mededinging het die kuskolonies se inkomste uit spoorvervoer drasties afgeneem. ‘n Konferensie wat Milner in 1905 belê het om die geskille op te los, het misluk en hy kon ook nie daarin slaag om die modus vivendi met Mosambiek te wysig nie.
Teen 1908 het die Kaapkolonie ‘n geringe aandeel van 13 % in die Randse handelsverkeer gehad en Durban 24%. Die ekonomiese stryd is vererger deur die doeane-vraagstuk. Sedert 1903 het al 4 die kolonies plus Suid-Rhodesië (huidige Zimbabwe) en die Britse protektorate tot die tol-unie behoort wat buitelandse vryhandel verseker het.
Volgens ooreenkoms is regte op invoerprodukte in die hawens deur die kuskolonies in oorleg met die binnelandse kolonies gehef. Nadat die kuskolonies 5 % vir administrasiekoste afgetrek het, is die inkomste uit doeane gelykop onder die kolonies verdeel. Natal wou sy inkomste vermeerder deur die invoertariewe te verhoog. Transvaal was egter ten gunste van laer invoertariewe ten einde sy lewens-en mynbedryfskoste so laag moontlik te hou. In 1906 het Natal gedreig om hom aan die tolunie te onttrek, en om hom tegemoet te kom, is daar by ‘n konferensie in Pietermaritzburg toegewings gedoen wat niemand tevrede gestel het nie.
In 1907 het Transvaal, wat intussen verantwoordelike bestuur ontvang het, kennis gegee dat hy die tol-unie in Junie 1908 sou verlaat. Dit sou hom daartoe in staat stel om goedere goedkoper deur Lourenço Marques in te voer en terselfdertyd ‘n ringmuur van tariewe op te bou om sy eie landbouprodukte te beskerm. So ‘n stap sou ‘n ernstige verlies vir die kuskolonies beteken.
Die ekonomiese vraagstukke in Suid-Afrika was onoplosbaar en om ‘n permanente politieke breuk tussen die kolonies te voorkom, het ‘n politieke Unie met een spoorwegstelsel en een ekonomiese stelsel na die enigste oplossing gelyk.
Die tweede rede vir die Unie wording is die Rassebeleid.
Die feit dat baie swartes nou ontstam en na die stede vlug, en die verhuising van die Indiers uit Natal na die Transvaal, was vraagstukke wat oplossings nodig gehad het. Dit moes op hoë vlak met die Britte uitgesorteer word.
Die aanbevelings van ‘n Interkoloniale Kommissie van Bantoe-sake (1903-1905) was onuitvoerbaar omdat elke kolonie sy eie beleid gevolg het. Dit dan ook een van die redes waarom Indiërs tot in die 70 jare nog nie in die Oranje Vrystaat toegelaat is nie.
Die swak hantering van die Rassevraagstuk in die een kolonie, kon die veiligheid van die ander kolonies bedreig. In 1906 moes ‘n Zoeloe-opstand in Natal, bekend as die Bambata-rebellie, met die hulp van Transvaal en die Kaapkolonie onderdruk word. Meer as 3 000 Zoeloes het in die opstand gesneuwel.
Die opstand het gevolg op die besluit van die Natalse parlement om een pond persoonlike belasting op alle manlike burgers, behalwe getroude Swartes, te hef. Daar was byvoorbeeld ‘n hutte-belasting ingestel, en ook man-belasting vir elke Swarte oor die ouderdom van 18jaar. Maar dit was nie die hoof oorsaak van die opstand nie.
Volgens die Bambata-rebellie leier was dit die onderdrukking van die Swartes in Natal, en daarom het hulle uitgewyk na Transvaal en die Vrystaat.
Natal se hantering van die opstand en die daaropvolgende verhoor van Dinizulu, hoof van die Zoeloes se koningshuis, het skerp kritiek in Brittanje sowel as in Suid-Afrika tot gevolg gehad.
Terselfdertyd het die onbeheerste emigrasie van Indiërs uit Natal na Transvaal, daartoe gelei dat die Transvaalse regering wetgewing ingestel het om die instroming van Indiërs te beheer. Die Indiërs het hulle onder leiding van Mahatma Gandhi teen die wetgewing verset.
Die ooreenkoms wat in 1908 tussen Gandhi en Smuts bereik is, het die probleme tydelik opgelos. Dit was duidelik dat ‘n gemeenskaplike rassebeleid noodsaaklik was vir stabiliteit van al 4 die kolonies, en dat die beleid deur slegs ‘n sterk sentrale regering uitgevoer kon word.
Die gedagte aan staatkundige eenheid het teen 1906 reeds by verskeie Suid-Afrikaanse politici posgevat. Hul redes vir eenwording was, afgesien van die belangrike ekonomiese en rassevraagstukke, egter nie altyd dieselfde nie.
Die Transvaalse premier, genl. Louis Botha, en sy adjunk, genl. J.C. Smuts, wou graag die sogenaamde imperiale faktor in Suid-Afrika uitskakel, dit wil sê hulle wou sien dat die beweging vir eenheid in Suid-Afrika self ontwikkel, dat dit die steun van anti-imperialistiese partye geniet en dat dit nie deur Brittanje afgedwing word nie.
Die siening is gedeel deur die Kaapse politieke leier, John X. Merriman wat in 1908 met die steun van die Afrikanerbond, aan die bewind gekom het. Vir Botha en Smuts sou samewerking tussen die Afrikaners en die Engelse in ʼn verenigde Suid-Afrika die kroon span op die sogenaamde konsiliasiebeleid, wat hulle reeds in Transvaal toegepas het.
Oud-president M.T. Steyn en genl. J.B.M Hertzog was ook sterk voorstanders van eenwording, omdat al die Afrikaners in Suid-Afrika daardeur onder een vlag herenig sou word.
In ‘n sterk verenigde staat sou die Afrikaners beter daartoe in staat wees om hul identiteit te handhaaf. Die bewindhebbers in Brittanje het verantwoordelike bestuur aan Transvaal en die Oranjerivierkolonie verleen, juis in die hoop dat die vereniging van die Brits-Suid-Afrikaanse gebiede daardeur bespoedig sou word.
Volgens hulle sou ‘n verenigde Suid-Afrika ʼn versterking van die imperiale bande beteken, en ‘n groter mate van lojaliteit verseker ingeval Brittanje in ‘n Europese oorlog betrokke raak.
Die imperiale siening is onderskryf deur dr. L.S. Jameson, wat van 1904 tot 1908 die premier van die Kaapkolonie was. In November 1906 het hy hom deur Lionel Curtis laat oorreed om by lord Selborne (Milner se opvolger) aan te beveel dat die politieke situasie in Suid-Afrika hersien word met die oog op moontlike eenwording.
Curtis was ʼn lid van Milner se “Kindergarten”, wat belangrike openbare paste in Transvaal beklee het. In Oktober 1906 het hy uit sy pos bedank en ‘n reis deur al 4 die kolonies onderneem, waarna hy ʼn konsep-memorandum oor eenwording opgestel het.
Curtis se memorandum is met etlike wysigings in Januarie 1907 onder die naam van lord Selborne gepubliseer met die titel A review of the present mutual relations of the British South African colonies. Die memorandum is aan die regerings van die kolonies, insluitende aan Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), gestuur.
Selborne wou nie die indruk wek dat unifikasie van Britse kant op Suid-Afrika afgedwing word nie en het die klem geplaas op die voordele wat dit vir Suid-Afrika sou inhou.
Die memorandum het die historiese oorsake vir die verdeeldheid van Suid-Afrika behandel, en het dit onomwonde gestel dat blywende oplossings vir die ekonomiese en rasseprobleme, slegs in ‘n verenigde Suid-Afrika gevind kon word.
Daar is ook gewys op die voordele wat verkry sou word uit die gemeenskaplike ontwikkeling van die landbou en mynbou, asook die koste wat bespaar sou word deur die instelling van een administrasie en een verdedigingsmag. Die memorandum is gunstig ontvang, en in die daaropvolgende jaar het die idee vinnig veld gewen. Unifikasiebewegings het oral in Suid-Afrika ontstaan en die maandblad The State het hul lyfblad geword.
Doeanekonferensie
Op versoek van Transvaal is ‘n interkoloniale konferensie in Mei 1908, en later dieselfde maand in Kaapstad gehou, om die doeanevraagstuk te bespreek. Niks is bereik deur die konferensie nie, en Smuts het van die geleentheid gebruik gemaak om voorstelle in te dien wat daarop neergekom het dat die afgevaardigdes by hul onderskeie parlemente moes aanbeveel dat ʼn politieke vereniging van die kolonies bewerkstellig word.
Hy het ook gevra dat ʼn nasionale konvensie byeen moes kom sodat ‘n konsepgrondwet opgestel kon word. Dit het bekend gestaan as “Die Suid-Afrika-wet”.
Daar is besluit dat die Kaapkolonie 12 afgevaardigdes na die konferensie sou stuur, Transvaal 8 en die 2 kleiner kolonies elkeen 5. Suid-Rhodesie is genooi om 3 waarnemers te stuur, vir ingeval hulle later sou wou aansluit by die verenigde Suid-Afrika.
Nasionale Konvensie
Die afgevaardigdes van die 4 kolonies, insluitende die 3 waarnemers van Suid-Rhodesië, het van 12 Oktober tot 5 November 1908 in Durban vergader. ‘n Tweede sitting van die konvensie het van 23 November tot 3 Februarie 1909 in Kaapstad plaasgevind en ‘n derde sitting, waartydens amendemente oorweeg is, van 3 tot 11 Mei 1909 in Bloemfontein.
 Hoofregter J.H. de Villiers van die Kaapkolonie het as voorsitter opgetree. Vanweë sy groot intellektuele vermoë en grondige kennis van staatsreg het Smuts ʼn leidende rol by die konvensie gespeel. Hoewel al die afgevaardigdes ten gunste van politieke eenwording was, was daar groot struikelblokke wat uit die weg geruim moes word. Die eerste hiervan was die vraag of die grondwet van die voorgestelde verenigde staat federaal of uniaal moes wees.
In ‘n federasie (soos byvoorbeeld die VSA, Kanada en Australië) sou die kolonies hul eie parlemente behou en slegs sake van gemeenskaplike belang (byvoorbeeld verdediging, handel, spoorweë en poswese) aan die sentrale regering opdra.
Die sentrale regering van ʼn federasie het dus baie beperkte mag. ‘n Uniale grondwet sou voorsiening maak vir ‘n sterk, soewereine, sentrale regering. Die kolonies sou dus hul identiteite moes prysgee en in een staat opgaan.
Uit vrees vir oorheersing deur die Afrikaners was die oorwegend Engelssprekende Natal ten gunste van ‘n federasie. Sommige Kaapse leiers, soos J.H. (Onze Jan) Hofmeyr en F.S. Malan, was ook ten gunste van federasie omdat hulle gevrees het dat die Kaapkolonie deur die ekonomies sterker Transvaal, verswelg sou word.
Hulle was ook besorg dat die Kaapse Nie-Blanke stemreg deur ‘n Unie regering afgeskaf sou word. Smuts en Merriman was ten gunste van ‘n unie omdat ‘n sterk sentrale regering na hul mening noodsaaklik was vir die uitvoering van ‘n eenvormige rasse- en ekonomiese beleid. ‘n Uniale grondwet sou in die toekoms ook makliker by veranderende omstandighede in Suid-Afrika aangepas kon word. Wat ons weet het gelei tot die vorming van die Republiek.
Smuts het daarin geslaag om die meerderheid van die afgevaardigdes na sy standpunt oor te haal, maar in die finale grondwet is belangrike toegewings aan die federaliste gedoen: elke kolonie sou verander in ‘n provinsie met sy eie provinsiale bestuur, wat beperkte bevoegdhede sou hê.
Een van die mees omstrede probleme wat deur die konvensie opgelos moes word, was die kwessie van Nie-Blanke stemreg. In Transvaal en die Oranjerivierkolonie het die Nie-Blanke bevolking nog nooit stemreg gehad nie en een van die voorwaardes van die Vrede van Vereniging was dat die kwessie nie aangeroer sou word voordat selfregering verkry is nie.
In die Kaapkolonie het alle rassegroepe gelyke politieke regte gehad. Elke manlike bruger wat sy naam, adres en beroep kon neerskryf en ‘n vasgestelde eiendom of inkomste gehad het, kon stem. Daar was ook nie ʼn kleurslagboom in die parlement nie.
In Natal het Nie-Blankes ook stemreg gehad mits hulle aan sekere vereistes voldoen het, maar in die praktyk is die stemwette so toegepas dat minder as 1 % van die Nie-Blanke bevolking stem reg gehad het.
Die Kaapkolonie was nie bereid om sy Nie-Blanke stem reg prys te gee nie en wou sy stemwette op die hele Suid-Afrika van toepassing maak. Die ander 3 kolonies wou stemreg tot Blankes alleenlik beperk.
 Met die teësinnige goedkeuring van Brittanje is besluit om die status quo te handhaaf. Die stemreg van die Kaapse Nie-Blankes is egter in die grondwet verskans, dit wil sê dit kon nie afgeskaf word sonder ʼn tweederdemeerderheid in ʼn gesamentlike sitting van albei huise van die parlement nie.
Daar is ook bepaal dat Nie-Blankes nie sitting in die parlement kon hê nie. Op aandrang van Hertzog en Steyn is Nederlands (later vervang deur Afrikaans) se gelyke regte met Engels as amptelike taal ook in die grondwet verskans.
Daar is besluit dat die spoorweë van die kolonies, aan die Sentrale regering oorgedra word, en dat ‘n spesiale raad gestig sou word om die spoorweë op ‘n sakegrondslag te administreer. Die bestaande modus vivendi met Mosambiek is soos volg gewysig: van 50% tot 55% van die spoorvragte in die hawens en aan die Rand is aan Lourenço Marques toegestaan, 30% aan Durban en 15-20% aan die Kaap.
Uiteindelik is besluit om die hoofstede te verdeel. Pretoria sou die setel van die regering (dus die administratiewe hoofstad) wees, terwyl Kaapstad, waar die parlement sitting sou hê, die wetgewende hoofstad sou wees. Bloemfontein sou die setel van die Appèlhof wees en Pietermaritzbrug die setel van pos- en telegraafwese.
Die Britse protektorate – Basoetoland, Swaziland en Betsjoeanaland – en Suid-Rhodesië sou hulle nie by die Unie aansluit nie, hoewel ʼn bylae van die grondwet voorsiening gemaak het vir hul moontlike latere aansluiting. Die konsepgrondwet, bekend as die Suid-Afrika-wet (South Africa Act), is op 11 Mei 1909 deur die afgevaardigdes by die konvensie onderteken.
Die parlemente van Transvaal en die Oranjerivierkolonie het die wet eenparig goedgekeur, terwyl dit met 2 teenstemme deur ook die Kaapse parlement goedgekeur is. In Natal, waar die parlement besluit het om eers ʼn referendum te hou, het die bevolking oorweldigend ten gunste van unifikasie gestem.
Politieke organisasies van die Swart en Kleurlingbevolking in Suid-Afrika het intussen by die Britse regering geprotesteer teen die klousules wat op hulle betrekking gehad het. Die wet is egter sonder wysigings deur albei huise van die Britse parlement goedgekeur.
Republiek wording
Die Nasionale Party se oorwinning in die 1948-verkiesing, was die begin van ’n nuwe era. Met ’n republikeinsgesinde party aan die stuur van sake, het die kans op die vestiging van ’n republiek weer moontlik geword.
Toenmalige eerste minister dr. Hendrik Verwoerd het op 20 Januarie 1960 aangekondig dat die tyd ryp geword het vir die vestiging van ’n republiek. Hoewel die regering van die tyd sterk ten gunste van ’n republiek was, en dus die wegbreek van die Britse kroon voorgestaan het, is besluit om ’n referendum vir blanke kiesers uit te roep.
Dr. Verwoerd het gesê: “Ek kondig dus aan dat die vraag aan die volk sal gestel word by wyse van ’n referendum. Die rede waarom hierdie metode gekies word is omdat dit ’n vraagstuk is waarin ’n volk oor sy toekoms moet kan oordeel, vry van alle ander verwikkelinge”.
Voorts sou die vestiging van ’n republiek minimale veranderinge aan die bestaande parlementêre instellings, wetgewing, burgerskap, nasionale lied, vlag of grondwetlike praktyke tot gevolg hê.
Dr. Verwoerd het dit duidelik gestel dat die nuwe Grondwet van die republiek drie belangrike eienskappe sou hê, nl:
  • dit sou ’n republiek wees wat op Christelike waardes en norme gebaseer is;
  • dit sou ’n demokratiese stelsel met ’n parlementêre regeringsvorm behou;
  • en dit sou die taalregte van Afrikaans- én Engelssprekendes beskerm.
Die vraag wat uiteindelik op 5 Oktober 1960 aan blanke kiesers gestel is, was bloot: “Is u ten gunste van ’n Republiek vir die Unie?” Ja of Nee. Talle mense was nog steeds teen die vorming van ’n republiek gekant, en die uitslag was nie ’n oorweldigende “Ja”-stem nie, maar ’n oorwinning ten gunste van die vestiging van ’n Republiek is tog behaal met nagenoeg 75 000 stemme.
Dr. Verwoerd was tevrede met die uitslag en het die nuwe eenheid wat tussen Afrikaans- en Engelssprekendes sou heers, so beskryf: “Ons het bo kleinlikheid en selfsugtigheid uitgestyg. Die Engelssprekende en Afrikaanssprekende dele is soos ’n nuwe bruid en bruidegom wat die nuwe lewe in liefde betree en as lewensmaats saam bou en saam leef.”
Die 1960’s was gekenmerk deur talle uitdagings in die Suid-Afrikaanse politiek, en die vestiging van ’n republiek het ook nie sonder ’n prys gekom nie. In sy toespraak in 1961 tydens die opening van die nuwe akademiese jaar van die Universiteit van Stellenbosch het die toenmalige rektor, prof. H.B. Thom, byna profeties verklaar wat dié mylpaal in die Suid-Afrikaanse geskiedenis beteken:
Ons republiekwording sal beteken dat ons ’n verdere tree op die weg van konstitusionele ontwikkeling gedoen het. Dit sal beteken dat Suid-Afrika die grootste moontlike mate van staatkundige onafhanklikheid vir homself opgeëis het. Dit sal beteken dat hy tot die staatkundige mondigheid gekom het, en nou bereid is om die volle implikasies daarvan te aanvaar. Hy sal ’n Republiek word al sou dit ook meebring dat hy dan nie meer as lid van die Britse Statebond toegelaat sal word nie.
Waar republiekwording groter selfstandigheid beteken, sal dit terselfdertyd, wat leierskap en verantwoordelikhede betref, groter eise aan ons stel.
Maar laat ons onsself nie mislei nie: Ons Republiek, met die groter selfstandigheid wat hy gaan bring, gaan ook veel meer van ons vra.
Die besluit vir die vestiging van ’n Republiek en Suid-Afrika se binnelandse beleid het vroeg in 1961 ’n belangrike kwessie in gedrang gebring, naamlik Suid-Afrika se lidmaatskap aan die Statebond. Volgens Fred Barnard, Dr. Verwoerd se sekretaris, het dié leier nie oor Suid-Afrika se voortgesette lidmaatskap van die Statebond getwyfel nie en dit “as ’n blote formaliteit beskou”.
Druk oor Suid-Afrika se binnelandse beleid het egter steeds opgebou en in Maart 1961 het dr. Verwoerd Suid-Afrika sy aansoek om voortgesette lidmaatskap van dié organisasie, teruggetrek. Hierdeur het Suid-Afrika homself kwesbaar gelaat – en die politieke, ekonomiese en militêre beskerming wat deur die Statebond gebied is, verloor. Tog is die uittrede plaaslik grootliks verwelkom, en Suid-Afrikaners het gereed gemaak vir die amptelikhede vir die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika.
Ten spyte van struwelinge, is die republikeinse ideaal uiteindelik op 31 Mei 1961 verwesenlik met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika. Adv. C.R. Swart is as die land se eerste staatspresident ingehuldig, terwyl ander verrigtinge op Kerkplein in Pretoria plaasgevind het. Hiermee is die vryheid (waarvoor generasies lank gestry én gewerk is) los van Britse heerskappy uiteindelik behaal.
Verskeie prominente gebeure in die geskiedenis van die Afrikaner het op 31 Mei plaasgevind. Dit was juis daarom dat die keuse van 31 Mei 1961 vir die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika, so merkwaardig was.
Ons kyk byvoorbeeld na
  • 31 Mei 1902: Die Vrede van Vereeniging word onderteken.
  • 31 Mei 1910: Die Unie van Suid-Afrika kom tot stand.
  • 31 Mei 1928: Die nuwe Unievlag (die ou Suid-Afrikaanse landsvlag) word vir die eerste keer in Kaapstad gehys én “Die Stem” word vir die eerste keer tydens ’n amptelike staatsgeleentheid gesing.
  • 31 Mei 1961: Die Republiek van Suid-Afrika kom tot stand.
Vier feite oor republiekwording in Suid-Afrika
  • Die amp van goewerneur-generaal is vervang deur dié van ’n staatspresident. Adv. C.R. Swart wat op 31 Mei 1961 ingehuldig is as die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Hy was die amptelike staatshoof, maar die amp was tot in 1984 merendeels seremonieel van aard.
  • Die amp van eerste minister is behou ná republiekwording. Dr. Verwoerd het tot 1966 as eerste minister gedien, waarna John Vorster en P.W. Botha gevolg het. Die amp het in 1984 verval en met dié van staatspresident saamgesmelt.
  • Rand en sent het die pond en pennies vervang. Die Britse pond is tot in 1921 in Suid-Afrika gebruik, waarna die Suid-Afrikaanse pond in gebruik geneem is. Die rand is in 1961 ingestel teen ’n wisselkoers van R2 teenoor £1 en vandag is dit R1 teenoor nagenoeg £20. Met hierdie verandering van Pond na Rand moes daar natuurlik ‘n bietjie opleiding geskied. Daar is liedere gemaak, die lied se naam was Daan Desimaal, en daarin is aan die mense vertel hoe om Ponde, sjielings en pennies om te sit na Rande en sente toe. Interesant die lied is destyds in Afrikaans en Engels op Springbok Radio uitgesaai. (Hy is op YouTube, u kan gerus daarna gaan luister.)
  • Die Suid-Afrikaanse ekonomie het merkwaardige groei getoon in die 1960’s, naamlik 6%. Die Financial Mail het die periode tussen 1961 en 1966 as die “wonderjare” vir Suid-Afrika beskou toe die land se bruto binnelandse produk in reële terme met 30% gestyg het.
In die boek “Vryheidstryd van die Afrikaner” skryf Pieter Moller die hoofstuk genaamd ‘Die triomf van Nasionalisme – Die totstandkoming van die Rebubliek van Suid-Afrika’. ‘n Triomf was dit inderdaad.
Alhoewel daar baie politici was wat nie die republiekeinse gedagte gesteun het nie en eerder ‘n federale staat wou afdwing het, het dit nie ge-seëvier as federale staat nie. Dr. Verwoerd het die Statebond versoek om die Republiek te aanvaar, maar asgevolg van hulle rassebeleid wou hulle nie, en Suid-Afrika is uit die Statebond.
Waar laat al hierdie dinge ons vandag?
Gaan ons vandag nog by die toekoms aanpas onder die vaandel van die Republiek van Suid-Afrika? Wat beteken die Republiek vir ons vandag? 
Hierdie republiek van ons wat in alle fasette geplunder en verkrag is tot op die uiterste, en wat verdeeldheid onder elke liewe Afrikaner in hierdie land het?
Hierdie Republiek van ons wat in die hande van kommunisme is, waar alles waarvoor gewerk is
en opgebou is vernietig is, waar ons kinders nie die arbeidsmag kan betree nie?
Hierdie Republiek waar ons kinders, vrouens en boere, ons mense verkrag en vermoor word op die verraderlike wyses?
Hierdie Republiek is nie meer die Nasionalistiese Republiek nie, maar hy kan gesien word as die ashoop van die toekoms.
Hierdie Republiek wat oorgeneem is deur die kommunis; hierdie huidige vlag van die sogenaamde Suid-Afrika wat die teken is van verkragting en moord en korrupsie wat hulle nou op ‘n paal wil sit om vir die wêreld te wys; hierdie “Stem” wat ons vandag sing, die nuwe Stem, waar die helfte van ons uitgelaat is. Sou u hierdie “Stem” sing, is u nie deel van hierdie Patriotisme nie.
Net soos Jakob by Bet-El die klip geplaas het waar God vir hom beveel het “Sodat jy jou kinders kan vertel”, hier het ons dit gelees hier agter. Sal ons maar die Republikeine word van hierdie regering of sal ons die Patriotte bly en die regering waarin die Christelike waardes van die Republiek van Suid-Afrika gevestig is, navolg?
Sal ons die Republikeine word, of sal ons die Patriotte bly wat gevestig is deur God se Woord?
Sal ons voortdra aan die geskiedenis, die kultuur, die Geloof van ons voorouers?
Terwyl Nasionalisme in elkeen van ons is, vervaag dit in ander. In die alledaagse stryd tussen die afvalliges moet ons opstaan en uitrys bo die vervalle asgate van die verlede, uitstyg tot bo die wolke van vertroosting. Moet ons mekaar bemoedig, die hande vat en mekaar weer optrek na die hoogtes. Ons moet mekaar ondersteun en weer die patriotisme deur Nasionalisme laat opvlam tot groot hoogtes.
In die 4de strofe van Die Lied van Jong Suid-Afrika sing ons altyd
“Die Vryheid alleen is ons koning,
Sy wagwoord is: “Handhaaf en bou.”
Die stryd wat ons vaders begin het,
Sal woed tot ons sterf of gewin het.
Dit is die EED van Jong Suid-Afrika.”
Op die uitnodiging en op die advertensie vir hierdie Republiekfees, het gestaan “Die koms van Jong Suid-Afrika.” Hierdie is die lied en die eed van Jong Suid-Afrika, om op te staan.
Dit is JOU land, Jong Suid-Afrika. Soos ons gevra het aan die begin “Waar is Blank Suid-Afrika?”, hierdie is jou land, jy het die reg daartoe, God het jou hier geplaas. Die tema van hierdie dag sê “Die koms van Jong Suid-Afrika” en daarom is dit belangrik vir die jeug (en ook nie net die jeug nie, ons is ook nog jonk), om die vaandels te vat, en die stryd aan te sê teen die kommuniste van die huidige bestel.
Teen die mense wat tans ons Repuliek verwaarloos het. En die opstand moet kom uit die geledere van Jong Suid-Afrika. En ons is almal Jong Suid-Afrika.
Ek het gehoop dat ons netnou tydens die samesang die Republikeinse Marslied gaan sing, maar ons het hom toe nou nie gesing nie, daarom wil ek graag met die voorhou daarvan afsluit.
“Kom Burgers, gee mekaar die hand:
ons dien een volk, een Vaderland.
Ons erfenis het ons behou
En saam sal ons die toekoms bou.
Ons staan nou sterker bymekaar,
Eendragtig as ‘n volk geskaar.
Om groot die toekoms in te dra
Jou naam Suid-Afrika!
Kom Brugers, laat die wekroep hoor:
Suid-Afrika!
Ons beur die steilste berge oor,
Suid-Afrika!
Waar vlaktes oor die einders blou
word stede en fabrieke gebou:
Om ryker wins as goud te dra:
Jou eer, Suid-Afrika!”
In Willie Bienedell se boekie (Woorde, Waarhede en Wyshede vir ons tyd) het hy geskryf:
‘n Oproep
“Dit is sonde om moeg te wees as die tyd roep. Dit is sonde om eenkant te staan en wag dat iemand moet sê dat die tyd aangebreek het om iets te doen. Dit is sonde om vresend te rus. Ons het die daad nodig! Om eenkant te staan is nie wysheid nie – dit is verraad.”
Ek laat u met hierdie gedagte: Gister in geskiedenis vir môre se toekoms deur die werkinge van vandag, in God, deur God en vir God en Suid-Afrika!
Ek dank u.
Lewe die Boer!