Die Geskiedenis van ‘n volk is die voedsel wat daardie volk laat groei. Dit is die wortel en anker vir elke geslag. ‘n Volk getrou aan sy geskiedenis bly ook getrou aan sy geloof, sy afkoms en herkoms, sy taal, kultuur en tradisies.
Soos Jopie Fourie dit in sy sterwinsuur op 20 Desember 1914 gestel het: “Die boom wat geplant is en met my bloed benat word, sal opgroei tot ‘n groot boom en sal heerlike vrugte dra”.
In 1453 word Europa lamgelê toe die bestaande handelsroete na die Ooste, Klein-Asië en Noord-Afrika deur die Turke, die vyand van die Christendom, verower is. ‘n Alternatiewe handelsroete moes gevind word.
Eerste bloed in die suidpunt van Afrika
Op 6 Januarie 1488 betree die eerste Witman die suidkus van Afrika by Visbaai. Daarna verskuif Bartholomeüs Dias na Mossebaai vir die inneem van vars water. Inboorlinge bestorm egter Dias en sy matrose en hulle word met klippe bestook. Van die Portugese seevaarders se kant word daar in selfverdediging ‘n skoot geskiet en ‘n inboorling word gedood. Só vloei die heel eerste bloed tussen Wit en Swart aan die suidpunt van Afrika, met die Swartman as die aggressor.
Sowat 164 jaar later, op 6 April 1652, stap Jan van Riebeeck aan wal in die Kaap van Goeie Hoop om ‘n handelstasie op te rig. ‘n Handelstasie wat die wêreld se geskiedenis op byna elke gebied sou beïnvloed.
Die soeke na speserye en ivoor word dus die baanbreker vir die geboorte van ‘n volk, want deur die verloop van die jare het hier ‘n volk ontstaan met sy eie taal, kultuur, geloof en lewens- en wêreld-beskouing. ‘n Volk wat gelouter is deur die eise om staande te bly teen die onderdrukking van die Britse wêreldheersers, wat ook die haat teen die Afrikanervolk aangevuur het onder die Swart bewoners van Afrika.
As ons kyk wat hierdie volk moes verduur, is dit menslik byna onmoontlik dat hulle kon oorleef. Die Afrikanervolk is dus ‘n wonderwerk van God. Ten spyte van al die aanslae om die ontstaan van hierdie volk te verhoed, het hy tog een van die wêreld se voortreflikste volke geword.
Die beproewinge van die Boere op die oosgrens, die Britse besetting in 1806, die vervolging en teregstelling van Boere deur Britse owerhede, die onteiening en herverdeling van plase, die afbrand van en moorde op plase, die verpligte Engelse onderwys en taalbeleid en gelykstelling tussen rasse was niks anders as ‘n totale aanslag nie.
Die beproewings op die Groot Trek het bewys dat die Swart massas 30 jaar na die besetting van die Kaap steeds deur die Britse owerhede en hul sendeling-handlangers in Natal aangevuur is om die Trekkers uit te moor.
Die Slag van Bloedrivier en die Gelofte van 16 Desember 1838 was ‘n keerpunt in die verloop van die geskiedenis. Hieruit het ‘n gevoel van samehorigheid ontstaan en dit is vandag nog steeds die gebeurtenis wat regdenkende nasionalistiese Afrikaners bymekaarbring.
Die volkssmart word ‘n wekroep tot vryheid
Die stigting van die twee Boererepublieke en hul onafhanklikheid vry van die Britse oorheersing was ‘n oorwinning in die Boervolk se stryd. Maar daar sou dit ongelukkig nie eindig nie. Toe kom die Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë, die oorwinning by Majuba, die moord op 27927 weerlose vroue en kinders en die afbrand van huise en plase tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Saam met die ewige vervolgingswaansin van die Britse Imperialiste en die stryd ná 1902 vir die behoud van volk en taal, die 1914 Rebellie en die moord op Jopie Fourie was al hierdie historiese gebeure ‘n martelpad vir die Afrikanervolk.
Al hierdie gebeurtenisse het egter ook die volk se wil om te leef en steeds vry te wees laat opvlam. “Die boom wat geplant is en met my bloed benat word, sal opgroei tot ‘n groot boom en sal heerlike vrugte dra”, het Jopie Fourie gesê kort voor hy op ‘n Sondag deur Botha en Smuts se magte doodgeskiet is.
Die teregstelling van Jopie Fourie was ‘n hartseer gebeurtenis in die geskiedenis en dit het die volk aan die hart geruk. Afrikaners wat passief was, het meer betrokke geraak. Botha en Smuts het hul aansien verloor en weer is die geskiedenis van die onreg deur die volk in herinnering gebring.
Digters en skrywers het die pen opgeneem en die geskiedenis berym. Met weemoed is die volk gevul en die wil om vry te wees het herleef, soos dié gedig “Wekroep tot die volk – Jopie Fourie” deur Jan FE Cilliers dit verwoord:
Vriend en vyand en renegaat,
Luister toe! Dis n man wat praat –
Wat ek gedaan het, is gedaan
Met ope oog, soos ek voor jul staan;
sê Jopie Fourie
Ek vrae nie om genade nie,
Transvaal, my land, jou kind is jou
tot in die boeie getrou;
bo slawediens is die eer wat hy begeer.
Ek vra nie om trane of rou vir my;
Ek vra net dat jul trou sal bly
Aan God en sede, volk en taal en ideaal –
En heerlike vrug sal die boom nog dra
Van Suid-Afrika.
Dié boom hét vrugte voortgebring en sy saad is deur die volksmond versprei. Met ywer het die volk gewerk en hul kinders daarvan vertel. Nasionalisme het herleef so ook die strewe om weer hul vryheid terug te win. Op 31 Mei 1961, byna 47 veertig jaar na Jopie se teregstelling, word die vrug ingewin.
Verraad laat vryheid verlore gaan
Die vryheid waarvoor Jopie Fourie sy bors aangebied het, om die koeëls te ontvang met die vaste oortuiging dat God sy dood sal gebruik om die volk tot ontwaking op te wek en sodoende die vryheid te erwe, word 79 jaar na Fourie se teregstelling in Desember 1993 ongedaan gemaak. Toe ontbind die laaste verkose Blanke volksraad en word dit vervang met ‘n tussentydse regering waaraan die ANC deel het.
Die skandalige oorgawe word op 27 April 1994 verseël. Byna 80 jaar na Jopie Fourie se offer verloor die Afrikanervolk sy vryheid. Fourie se vryheidsboom is vergete, onversorg en verwaarloos. Daar vloei steeds Afrikanerbloed, maar dit benat nie meer die vryheidsboom nie.
Vandag, 20 later, staan daardie boom deur onkruid en dissels berank met die verval duidelik sigbaar. Sy takke is besmet met swam en parasiet en hy is stadig aan die verwelk. Die vrugte is min en sonder saad – ‘n toonbeeld van die toestand waarin ons volk vandag verkeer.
Mandela word ‘n wêreld-ikoon
Op 5 Desember 2013 sterf die groot “ikoon” of hedendaagse “messias” en gepryste “vredemaker van die nuwe Suid-Afrika, Nelson Mandela.
Die wêreld is in rou gedompel en hy word met lofsange geprys.
Ook deur sekere Afrikaners wat voorgee om ook “vry” te voel sonder hul Afrikanerskap en die skuldgevoel van apartheid. Hiervoor pryse hulle vir Mandela. Reuse standbeelde word deur die wêreld opgerig. Die wêreld vier sy lewe en daar word gesê dat hy bedank moet word dat die Afrikaners oorwin is en dat daar nooit weer apartheid (“Aparthate”), afsonderlike ontwikkeling, rasse diskriminasie en nasionalisme (alles natuurlik sondes teen die mensdom) in Suid-Afrika toegelaat of geduld sal word nie.
5 Desember 2013 word ‘n dag wat altyd onthou sal word en waaroor kinders regoor die wêreld in die toekoms in geskiedenisboeke as ‘n “hartseer dag” sal leer. Daarmee saam sal hulle leer van die “wreedheid van die Afrikaner” en die “Long walk to Freedom” van hierdie wêreldgod. Die meerderheid Afrikaner sal natuurlik sy kind in die regering se skole plaas en toelaat dat die leuen aan hom geleer word.
Die pilare wankel
Die meerderheid Afrikaners besef en erken vandag dat die voortbestaan van die Blanke – en veral die voortbestaan van die Afrikaner as volk – in die weegskaal is. Die feit is egter dat die skaal oorhel na die uitwissing van die volk. Volgens die “Stop Die Plaasmoorde”veldtog se statistiek is daar ongeveer 68 000 Blankes sedert 1994 in Suid-Afrika vermoor en omtrent ‘n miljoen het die land verlaat.
Daarteenoor is die aanwas vir die Blanke (Afrikaners ingesluit) maar 0,75 % en word daar voorspel dat in 2016 die aanwas op 0% sal wees.
Wil ons nog as ‘n volk voortbestaan? ‘n Volk word gebou op vier pilare: Sy geloof, ras, gemeenskaplike afkoms (geskiedenis) en taal. Indien een hiervan ontbreek, bestaan daar in werklikheid nie ‘n volk nie. Indien een van die pilare begin wankel en nie versterk of gestabiliseer word nie, is die ineenstorting onvermydelik.
Ons wil graag glo dat die Christen Afrikanernasionalis tog nog op die vier pilare geanker is. Die aanslag word by die dag feller en ons word vandag wysgemaak dat die Afrikaner nie raseg is nie.
Kleurlinge word deur sekere groepe as Afrikaners beskou en word daar verder gegaan dat daar self Swart gene in die Afrikaner voorkom. Volgens dié standpunt is die Afrikaner dus eintlik ‘n nie-blanke.
Om alles te kroon is die aanslag op ons taal, Afrikaans, veller as ooit tevore.
Die vraag is wat kan ons doen? Die antwoord is reeds gegee deur dr. DF Malan. “Keer terug. Terug na u volk (Geskiedenis), terug na u volk se hoogste ideale, terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar”.
Hierdie pand is om God te dien, om Blank te bly en die vryheidsideaal na te streef.
Verwyder dus u kind uit die leerplan van die ANC/SAKP/ Cosatu-alliansie en lei hom terug. Weg van vreemde invloede. Daardeur word die volk gelei op die pad van genesing en herstel.
Kom laat ons daardie onkruid en dissels uit Jopie Fourie se boom verwyder. Kom laat ons die verrotte tak met parasiet en swam uitkap en nuwe lote daar laat uitspruit.
Kom laat ons die boom met ons opoffering benat en weer vrugte laat voortkom. Laat ons die boom se vrugbare saad laat voortplant om weer vrugte van ware Christelike Afrikanernasionalisme te dra en daardeur sal die pad na vryheid bewandel word.
……………………………..
Bron: Uit ANB Nuusbrief nr.50, April 2014. Gaan blaai gerus bietjie deur die volle nuusbrief by hierdie skakel.
Toespraak deur dr. D.F. Malan op 16 Desember 1938 op Bloedrivier, ‘n hoogtepunt van die Voortrekkereeufees.
Die onderwerp waaroor ek tot u wil spreek is: Die Nuwe Groot Trek Suid-Afrika se noodroep en die antwoord daarop.
Wat daarmee bedoel word, weet die meeste van u wat met ons volkstoestande bekend is, al dadelik. Ek wil spreek oor die grootskaalse verhuising van ons blanke plattelandse bevolking na die stede, oor die stryd wat veral die Afrikaners, en onder hulle baie duisende wat Voortrekkerbloed in hul are het, daar moet voer om hul brood, om hul siel, om hul Afrikanerskap, en nie die minste nie, om in die aangesig van die moeilikste omstandighede Suid-Afrika ‘n witmansland te hou.
Dis uit daardie nuwe wortelstryd wat stil, haas ongemerk maar onafgebroke en meedoënloos voortgaan en wat meer as iets anders die toekoms van ons blanke Afrikanerdom besils, dat daar ‘n noodroep opstyg. Dis tot u dat dit kom. En dis dit wat ek wil laat hoor.
Daar is voorwaar geen geskikter plek en geen geskikter geleentheid om na daardie stem van u volk te luister nie. Op Bloedrivier se slagveld staan u op heilige grond. Dis hier waar die groot beslissing geval het oor Suid-Afrika se toekoms, oor die Christelike beskawing in ons land en oor die voortbestaan en die verantwoordelike magsposisie van die blanke ras.
Dis hier waar die Voortrekker se menslike hart, se leeuemoed, se onwrikbare geloof in sy God en in sy volk die duidelikste en kragtigste spreek tot die nageslag. Dis hier waar in die uur van doodsgevaar en sonder om dit self so te bedoel, u voorvaders voor die wêreld ‘n aanskoulike beeld van hulself afgeteken het wat op die mees afdoende wyse die vurige laster van die eeu wat was en die eeu wat kom, beskaam.
Maar daar is grond waarop u staan wat nog heiliger is. U staan op die skeiding van twee eeue. Agter u rus u oog op die jaar 1838 as op ‘n hoog uitstaande en alles beheersende bergop in die bloue verte. Voor u op die nog onbetrede Pad van Suid-Afrika lê daar ewe ver en dynsig-blou die jaar 2038. Agter u lê die spore van die Voortrekkers se ossewaens, diep en onuitwisbaar afgedruk oor die wyd uitliggende vlaktes en oor die grynsende, draakagtige bergreekse van ons land se geskiedenis.
Hulle het die stem van Suid-Afrika gehoor. Hulle het uit Gods hand hul taak ontvang. Hulle het hul antwoord gegee. Hulle het hul offers gebring. Daar is nog ‘n blanke ras. Daar is ‘n nuwe volk. Daar is ‘n eie taal. Daar is ‘n onsterflike vryheidsdrang. Daar is ‘n onafwysbare volksbestemming. In hierdie Eeufeesjaar 1938 oordeel hul nageslag oor hulle. En daardie oordeel oor hulle gaan voor die oog van alle geslagte nou in volksmonumente daar verewig staan.
Hul taak is afgedaan. Maar oor daardie onbekende landstreek wat wyd uitgestrek voor u lê, sal daar ook die spore getrek word van ossewaens. Dit sal wees u ossewaens, simbolies as u dit so wil noem, maar nietemin werklik. U en u kinders sal geskiedenis maak.
Sal Suid-Afrika dan nog witmansland wees? Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons met vermoeide oë sal aanstaar as ‘n ewige verwyt? Sal die Afrikanerdom dan een wees en vry? Sal u volk dan God nog ken?
Oor die Pad van Suid-Afrika sal ook u moet trek oor bergreeks en deur dorsland heen. Koers hoef u nie te soek nie. Dis daar. Sal u hom hou?
Aan lig hoef dit u nie te ontbreek nie. Die fakkel met vaste voet oor honderd jaar heen gedra, word vir u in u hand geplaas. Sal u hom brandende hou?
U voorvaders het ‘Die Stem’ nooit gesing nie omdat hul hom nie geken het nie. Maar uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see en oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee, het hulle sy geklank tog opgevang en verstaan. Hulle het geantwoord. Hulle het geoffer. In u ore weerklink daardie selfde stem. Hy is op u lippe omdat u hom liefhet en bely as u eie en enige volkslied. Maar het u hom ook gehoor? Die eeu wat kom, sal u antwoord ontvang. In sy weegskaal sal hy u offers weeg. En 2038 sal oor u oordeel.
Onder die vrae wat ek netnou gestel het, is daar twee waarmee my onderwerp meer besonderlik te doen het. Die een is: Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons sal aanstaar met vermoeide oë as ‘n ewige verwyt? En die ander, wat intiem daarmee saamhang, is: Sal Suid-Afrika nog ‘n witmansland wees?
Ek gaan hierdie vrae nie beantwoord deur my in ydele voorspelling te verdiep nie. As daar enige antwoord gegee word, dan moet dit kom van die verenigde Afrikanerdom wat die deur Voortrekkers gebaande Pad van Suid-Afrika doelbewus en standvastig sal betree, of wat sielloos en doelloos daarvan sal afdwaal. U ‘ja’ kan alleen gegee word deur die magtige daad.
My taak vandag is slegs om u te sê dat, terwyl u hier staan, daardie vrae alreeds besig is om beantwoord te word, en beantwoord te word in u naam.
Die stryd met wapens is verby. Dit was die Voortrekkers s’n. Maar die nog heftiger, dodeliker stryd as hulle s’n was, word nou beslis. Die slagveld is verskuiwe. U Bloedrivier is nie hier nie. U Bloedrivier lê in die stad.
Ek behoef u nouliks te sê dat die Afrikanerdom weer op trek is, op sy nuwe Groot, of miskien moet ek sê, sy nuwe Groter Trek. Dis nie soos honderd jaar gelede ‘n trek weg van die middelpunte van die beskawing af nie, maar ‘n trek terug – terug van die platteland na die stad, terug selfs uit ander vroeëre toevlugsoorde soos Angola en Argentinië na Suid-Afrika.
As u ooit daaraan getwyfel het, dan verkondig hierdie terugtog dit nou met luide stem dat hierdie land waar die Voortrekkers se bloed lê, u land is, en dat die volk wat hul stryd en geloof help skep het, u volk is. U het geen ander nie. Met die Afrikanerdom moet u lewe en met die Afrikanerdom moet u sterwe.
Die trek na die stede groei klaarblyklik vinnig aan en niks kan dit keer nie. Dertig jaar gelede was die getal blankes in die stede en op die platteland ongeveer gelyk. By die totstandkoming van die Unie het die verhouding ten gunste van die platteland oënskynlik selfs verbeter. Met die laaste sensus egter, te wete dié van 1936, het dit geblyk dat die blanke bevolking van die stede 66 persent was van die geheel, dit wil sê dat dit twee maal so groot was as dié van die platteland. En die pas was blykbaar nog besig om te versnel. Want terwyl gedurede die vyf jaar tevore die stedelike bevolking so vinnig toegeneem het soos nooit tevore nie, dit wil sê met vyf persent, het die totale landelike blanke bevolking vir die eerste keer werklik verminder, en wel met 12,000.
Dat hierdie geweldige volkstrek feitlik die Afrikaanssprekende bevolking alleen raak, behoef u nouliks te bewys. In al ons stede kan iedereen dit vir homself aanskou.
Maar niks kan duideliker spreek nie as hierdie feit, dat waar die Afrikaner in die stad ‘n dertig jaar gelede ‘n klein, en na dit geskyn het, ‘n verdwynende minderheid was, 41 persent van die blanke stedelike bevolking van vandag Afrikaans as huistaal gebruik. Dit sluit dorpe met minder as 2,000 blanke inwoners nie in nie. Dit beteken dat daar vandag alreeds ongeveer 540,000 Afrikaners in die stede woon, dit wil sê byna die helfte van die hele Afrikaanssprekende blanke bevolking van ons land.
As een ding vandag waar is, dan is dit dit, dat dit in die stad is waar die Afrikanerdom se stryd gewen sal word of waar die nuwe volk wat op die moordvelde van Natal sy bloeddoop ontvang het, met al sy frisse hoop en met al sy kortstondige glorie begrawe sal lê.
U vra my tereg os hierdie nuwe Groot Trek dan nie, net soos dié van 100 jaar gelede, ‘n seën is in plaas van ‘n ramp; of dit nie die verowering beteken van nuwe gebied en van nuwe mag waar die Afrikaner met al sy pioniersinstink en al sy heldemoed nog nooit tevore sy voet geplant het nie; of hier nie die grond gelê word van ‘n ekonomiese onafhanklikheid wat vir die Afrikaner nog baie meer mag beteken as die stigting van die vroeëre vrye, onafhanklike Voortrekkerstate?
My antwoord is: dit kan so wees, en mag God gee dat dit sal. Maar ook dit: as dit sal, dan sal dit alleen geskied as die Bloedrivier van vandag beslis word en gou genoeg beslis word soos die Bloedrivier van Andries Pretorius en van Sarel Cilliers.
Ek het soëwe gesê dat die stryd op die voorposte van hierdie nuwe Groter Trek van die Afrikanerdom heftiger en dodeliker is as die stryd met wapens wat u vandag gedenk. Laat die feite self verduidelik.
Eers is daar hierdie allerernstige feit dat na hierdie beperkte stedelike gebied waar die bevolking in sy massas saamdrom, dit nie slegs die Afrikaner is wat trek nie, maar ook die nie-blanke (naturel, Asiaat en Kleurling) met sy honderdduisende. Die lewensbestaan wat daar gemaak kan word, word saam met die blanke deur hulle gedeel, en as getalle alleen kan beslis, dan is die kanse van die stryd al dadelik teen die blanke. Dis oral so, maar nêrens kan u dit so aanskoulik voor u sien as in die grootste stede nie.
‘n Paar voorbeelde sal u oortuig.
Neem Kaapstad. In die 15 jaar tussen 1921 en 1936 het die blanke bevolking daar toegeneem met 56,000, maar die nie-blanke met 67,000.
Neem Port-Elizabeth. Dit het aangegroei met 27,000 blankes, maar daarteenoor 31,000 nie-blankes.
Neem Kimberley. Daar was ‘n verlies van 2,700 blankes, en ‘n aanwas van 3,000 nie-blankes.
Neem Bloemfontein met 10,000 meer blankes, maar 14,000 meer nie-blankes.
Neem Durban met 35,000 meer blankes, maar 60,000 meer nie-blankes.
En neem die Witwatersrand met sy 171,000 meer blankes, maar daarteenoor met sy 311,000 meer nie-blankes.
Neem alle stedelike gebiede saam dan vind u dat daar in daardie 15 jaar 46,000 blankes bygekom het terwyl die nie-blankes hul getalle vermeerder het met 812,000. As u dink dat deur die nuwe Groot Trek van die Afrikaner na die stede toe daardie middelpunte van ons industriële en ekonomiese lewe witter word, dan vergis u u deeglik. Hulle word swarter.
Daar is verder ook hierdie nie minder verontrustende feit dat by daardie nuwe Bloedrivier van ons volk blanke en nie-blanke mekaar ontmoet in ‘n baie nouer kontak met mekaar en in ‘n baie klemmender worstelgreep as toe 100 jaar gelede die kring van wit getente waens die laer beskerm het en die koëelgeweer en assegaai teen mekaar gekletter het.
Blank en nie-blank verdring vandag mekaar in dieselfde arbeidsmark. Van die 207,000 loontrekkers in fabrieke en produktiewe nywerhede is 81,000 blanke manne en vroue en met die ander 126,000 nie-blanke werkers staan hulle vir ‘n groot deel dag na dag skouer aan skouer. Vir ‘n groot deel ontvang hulle dieselfde beskermde lone, en sover as hulle georganiseerde vakmanne is, sit hulle dikwels ook op gelyke voet met mekaar in dieselfde vakbonde.
Maar nog meer. As in hierdie worsteling om sy plek in die son te behou, die blanke man se voorsprong in beskawing en opvoeding iets vir hom beteken, dan kom hy vinnig ook daar te staan voor ‘n gans nuwe situasie.
As die stadslewe vermeerderde onderwysgeriewe vir die reeds begaafde blanke meebring, dan is dit tog nog baie meer so vir die on- of half beskaafde nie-blanke trekker. En is dit nie ‘n feit dat waar in die eerste 25 jaar ná Unie die getal blanke kinders op skool toegeneem het met 127 persent, die getal van nie-blankes toegeneem het met 254 persent, dit wil sê net dubbeld soveel; dat in Kaapstad meer bepaald die vermeerdering van blanke skoolgaande kinders 90 persent was teenoor 160 persent nie-blankes en dat in Transvaal gedurende dieselfde tydperk die blanke vermeerdering slegs 200 persent bedra het teenoor ‘n nie-blanke vermeerdering van 614 persent? Kennis is mag. Die strydkanse verander, maar ten koste van die blanke.
Daar is ‘n derde feit wat op die uitslag van hierdie worstelstryd sy magtige invloed moet uitoefen en wat, as daar geen redding kom nie, die ondergang van Suid-Afrika as witmansland moet verseël.
Die Afrikanertrekker van vandag wat op die voorposte in die bres moet staan vir sy volk, is van almal die swakste toegerus vir die stryd. Die swaarste las rus op die swakste skouers. Dis min dat die Afrikaner wat na die stad trek, dit doen uit weelde. Dis sy nood wat hom dryf. Geestelik en verstandelik is daar niks met hom of met sy kind verkeerd nie. Wetenskaplike ondersoek het vasgestel dat selfs onder ongunstige omstandighede een derde van sy getal bokant die gemiddelde peil van die blanke bevolking staan.
Maar dit neem nie weg nie dat hy tog die beliggaming is van die armoede wat die boereplaas in die agterbuurte van die stede stort. Omdat Afrikaner-armoede nie luidrugtige armoede is nie, maar swygende armoede, het u nie geweet hoe wyd en hoe diep dit was nie. Ná die ontdekkende lig van die Carnegie-ondersoek weet u dit nou. Hoor dit weer:
17 en ‘n half persent van alle huisgesinne met skoolgaande kinders word beskryf as ‘baie arm’. As ons hierdie syfer as maatstaf neem vir die hele blanke bevolking, dan was op ‘n konserwatiewe skatting meer as 30,000 van die blanke bevolking ‘baie arm’.
Die gegewens is in 1929-1930 versamel en toe was die gevolge van die huidige depressie nog nie so sterk gevoel nie.
Kennis is mag, het ek soëwe in verband met die opkoms van die nie-blanke gesê. Armoede, dit sê ek nou weer in verband met die Afrikaner-trekker, in verband met die kind en erfgenaam van Bloedrivier se heldegeslag en in verband met die worstelstryd om in ‘n witmansland te hou wat ons het, armoede is onmag en nederlaag.
By dit alles om daar nog een groot feit wat nie vergeet mag word nie, en wat, as daar nie gou en kragtig ingegryp word nie, die geloofsoorwinning van Bloedrivier op die lange duur moet omskep in wanhoop en ondergang. Die Afrikanertrekker in die stad moet lewe, en Suid-Afrika verwag van hom dat ten spyte van sy armoede hy moet lewe as ‘n beskaafde witman.
En goddank, met al die diepste verlange van sy siel wil hy dit self ook nog. Die Arikaner in hom weier nog altyd om homself te verloën.
Maar komende van die boereplaas het hy geen ander kanse nie as om te probeer lewe as ‘n ongeskoolde of halfgeskoolde arbeider van sy handewerk. En wat vind hy rondom hom? Aan die een kant beskermde werkverskaffing en beskermde hoë lone vir nie-blankes gelykop met blankes. Maar omdat hy geen vakman is nie en dit ook nie kan word nie of as sodanig geen erkenning kan kry nie, staan hy daar voor ‘n geslote deur.
Aan die ander kant van hom weer is daar lone deur die vrye kompetisie tussen wit en gekleurd en swart so laag afgedruk, dat volgens die Kommissierapport van 1934, ‘hulle nie in staat is om daarvan fatsoenlik te lewe nie’.
Maar ook selfs daar stuit hy nog alte dikwels teen daardie ysterdeur van ‘n onsimpatieke werkgewersgemeenskap wat sy taal nie ken nie en wat sy Afrikanerskap verfoei, terwyl sy eie mede-Afrikaner, wat hom indirek kragtig sou kan help, weier om dit te doen omdat in sy veragtelike slaafsheid hy by vreemdes hom vir sy eie taal skaam.
So woed die stryd meedoënloos voort, dag na dag en jaar na jaar, steeds groeiende in omvang en dodelikheid. Die stryd word beslis, maar nie soos vir u voorvaders nie.
Waar hy ook in die bres moet staan vir sy volk, ontmoet die Afrikaner van die nuwe Groot Trek die nie-blanke by sy Bloedrivier half of selfs geheel ongewapend, sonder skans en sonder rivierskeiding, weerloos op die ope vlakte van ekonomiese gelykstelling.
Is u verwonder oor die aanvanklike afloop? Kan u iets anders verwag het as die onheilspellende bevinding van ‘n regeringskommisie hierdie jaar, dat die boonste groep van nie-blankes die onderste groep van blankes in die arbeidsmark gemaklik kan verdring?
Kan u nog stene gooi na u mede-Afrikaner as u hom vind in die agterbuurte van u groot stede, huis aan huis, en soms selfs kamer aan kamer met Kleurlinge en Asiate en stemgeregtigde naturelle, en as u sy kind lustig-onskuldig op straat sien speel in ‘n bonte mengeling van alle kleure?
En as u lees in die wetenskaplike Carnegie-rapport dat die skeidsmuur langsaam afgebreek word, dat maatskaplike vermenging gemaklik lei tot geslagsgemeenskap en dat dit weer die verdwyning veroorsaak van die suiwer blanke kleur, moet u dan as Afrikaner God nie dank nie dat daarby nog dit kon gevoeg word dat “so iets nog ‘n uitsondering is selfs by veragterde blankes en veral by dié van die Afrikaanssprekende seksie?”
So is dit nog by die Trekker wat die godsdienssin en die lewesuitkyk van die boereplaas met hom meegebring het.
Maar as die geslag wat in die nuwe omstandighede gebore word en opgroei, anders word, watter reg het u dan om die vinger van verwyt na hulle uit te steek? Dit was u volk. Die wanhopige stryd wat hulle vir ‘n witmansland moes voer, was dit ook vir u en u kinders, en u het dit geweet. Hul geroep was tot u. Dit was ‘n noodroep soos dié wat ten hemel opgestyg het van Bloukrans en van Hlomo Amaboeta. En u het nie gehoor nie.
Die noodroep is daar. Dit wag op u antwoord. Daardie antwoord mag nie langer bestaan in konferensies of kommissies of koerantartikels of platformtoesprake of selfs in fondsinsamelings alleen nie.
Die tyd van woorde is verby. Die tyd is daar vir grondige, doeltreffende en desnoods drastiese maatreëls. Dis hier nie die plek om daarop in te gaan nie. Ek wil alleen die mening uitspreek dat die innerlike ooreenstemming daaromtrent by ons volk werklik baie groter is as wat openlik erken word; en dat daardie eenheid van oortuiging hom nie laat geld nie, alleen omdat die Afrikaner sy onmiskenbare volksliefde nog altyd laat dwarsboom deur allerlei oorwegings van minder belang.
Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons met vermoeide oë sal aanstaar as ewige verwyt? Sal Suid-Afrika dan nog ‘n witmansland wees? Dis die vraag wat gestel word, veral aan u wat vandag op hierdie heilige grond staan op die skeiding van twee eeue.
Hierdie Eeufeesjaar, hierdie wonderjaar van ons geskiedenis wat na sy einde haas, sal dit wees die frisse bergstroom wat in die sand verdwyn of die klank wat op die dorre wind wegsterf? Of sal dit wees soos dit blykbaar bedoel is om te wees – die Afrikaner se God-gegewe geleentheid?
U het vergeet, maar die herinnering word weer in u wakker. In die glans van u beskawing en in die stofwolk wat die gejaag na goud laat opstyg het oor u land, is die hemel daarbo vir u dof geword. By die gekreun van die ossewa sien u nou weer helderder die sterre wat u voorvaders laat koers hou het deur Suid-Afrika se donkerste nag. Hul ster van vryheid blink helder ook op u pad.
Maar u weet ook nou dat daardie vryheid vir hulle meer beteken het as maar net die vryheid om hulself te regeer en om hul eie nasieskap ten volle uit te lewe.
Hul vryheid was ook, en veral, die vryheid om hulself as blanke ras te beskerm. Soos u dit nooit anders kon besef het nie, besef u vandag dat hulle koers u koers is, dat hulle pad u pad is, en dat hulle taak om Suid-Afrika witmansland te maak, in tiendubbele mate ook u taak is.
In sware stryd om die bestaan het u afgeleer om op te sien. U het u laat wysmaak dat om u volk te laat lewe, dit genoeg is om te sorg vir sy ‘botter en brood’. U het u idealisme begrawe. U het skuins gekyk na wat dit u belief het om ‘sentiment’ te noem, en die vreemdeling wat u eie nasieskap verfoei vir sy eie voordeel, het u daarin aangemoedig. U het nie daaraan gedink dat ‘n volk, net so min as ‘n individuele mens, by brood alleen kan lewe nie.
U het vergeet dat dit ideale alleen is wat tot selfopofferende dade kan aanspoor: dat sentiment die sement is, en dat die uitsterf daarvan die sekerste weg is tot volksontbinding en dood.
Dis hierdie Eeufeesjaar wat die volk wakker roep uit sy doodslaap. Dis Danskraal en Bloedrivier wat dit weer oor Suid-Afrika se vlaktes uitbasuin dat om te kan oorwin, jy bowe alles nodig het om op te kyk, en dat met die wederopstanding van die Afrikanerdom se ou idealisme daar ook uit die graf moet verrys nuwe hoop, nuwe vaderlandsliefde, nuwe wilskrag en nuwe eenheid.
Daardie nuwe eenheid wil u hê, en Goddank dat u nog wil. Maar het u uself al ooit ernstig afgevra: vir wat? Wil u dit hê vir u volk of vir u eie groter gerief?
Is wat u beoog, ‘n daad van gemeenskaplike selfopoffering om u vaderland te dien en om u kinders se toekoms veilig te maak, of is dit alleen maar ‘n ander openbaring van daardie selfsug wat nie wil offer wat Suid-Afrika vra nie en wat daarom van stryd in enige vorm en vir enige saak wil wegvlug?
Wil u eenheid hê alleen maar net om met hande in mekaar geslaan doelloos voort te slenter, of begeer u dit om doelbewus en vasberade op die Pad van Suid-Afrika die groot en dringende vraagstukke van u volk op te los?
Eenheid sonder doel is waardeloos en kan soos ‘n waterpoel homself omskep in ‘n verpestende stilstand. Doelbewustheid skep lewe en vooruitgang en daarmee ook vrugbare en blywende eenheid.
Daar is ‘n Krag wat sterk genoeg is om ons op daardie Pad van Suid-Afrika te voer tot ons bestemming. Dis die Krag Daarbo wat nasies skep en hul lot bepaal. Dis ook die Krag wat daartoe gegee is en wat sluimer in die hart van elke Afrikaner.
Dis die Krag wat kan uitgaan, en wat bedoel was om uit te gaan , van diegene wat die vermoeide trekkerstryder in die stad se eie vlees en bloed is, en wat bykans 60 persent uitmaak van Suid-Afrika se blanke bevolking. Verenig daardie krag doelbewus in ‘n magtige reddingsdaad, dan is die Afrikanerdom se toekoms verseker en dan is die blanke beskawing gered.
In hierdie Eeufeesjaar het die Afrikanerdom homself weer ontdek. Opgestaan uit die stof van vernedering en eie veragting, eis hy nou volle erkenning vir homself vir sy edele voorgeslag en vir sy nageslag. U eis dit deur die nuwe wekroep van u ossewaens en monumente. U eis dit deur vasberade ‘n end te maak aan iedere miskenning van u regte. As teken van u nuwe nasietrots en selfvertroue heg u die name van u groot Voortrekkerleiers aan u strate en eis u ‘Die Stem van Suid-Afrika’ as u eie erkende Volkslied.
Het u vaderlandsliefde en innerlike krag genoeg om in hierdie Eeufeesjaar, om by hierdie Godgegewe geleentheid daarby ook nog te eis wat oneindig groter en lewensbelangriker is as dit alles tesame, naamlik die veilig gemaakte voortbestaan van u eie blanke ras?
Andries Pretorius was groot as krygsman en as staatsman. Maar groter nog was hy omdat, toe die noodroep tot hom kom van die worstelende bloedende blanke Afrikanerdom, hy onmiddelik huis en haard en eie veiligheid verlaat het om in die bres vir sy volk te gaan staan.
U roem Andries Pretorius. Sy naam is op almal se lippe. Daar is ‘n noodroep vandag van daardie selfde Afrikanerdom, meer gesmoor, maar ernstiger, langduriger, smekender, miskien wanhopiger as wat daar vir hom opgestyg het uit die moordvelde van Natal. Dit kom na u.
Ek vra hier vandag aan u en aan elke Afrikaner: Roem Andries Pretorius met u woord. Maar roem hom nog die hoogste van al deur die daad, en volg sy voorbeeld na.
Ek dank u.
Bron:
Glo in u Volk, D.F. Malan as redenaar 1908-1954; Samestelling, inleiding en aantekeninge deur S.W. Pienaar, bygestaan deur J.J.J. Scholtz; 1964.