ANB Nuusbrief – Wat van Volksbehoud?

trapblokkies

10 September 2021

Verwoerd aan die woord: 

“…Dan ‘n laaste gedagte. ‘n Mens moenie net dink aan menspotensiaal en volkspotensiaal nie, want per slot van rekening is hulle maar net tekens van die materiële of die sienbare voorspoed waarna jy soek. Dit is goed om die materiële voordele van jou land te ontwikkel. Dit is goed om mens en volk in te span om jou land ryk en sterk te maak. Deur daardie voorspoed kan jy agting in die wêreld afdwing; kan jy aanvalle afweer; kan jy respek verwerf vir wat jy daeliks verrig. Dit is alles goed; dit is alles noodsaaklik. Dit stel jou ook in staat om die middele aan te skaf wat jy nodig het vir jou landsverdediging. Dus: Inspanning van die mens tot sy maksimale krag, die opbou van die vertroue en die krag van ‘n volk, is alles goed, maar dit tog bykomstig — dit moet ons ook besef — tot iets wat essensieel is.

Daardie iets wat essensieel is, is die volk se stryd om voortbestaan. Volksbehoud neem voorrang bo enige materiële voordeel. Daar sal tye wees wanneer jy die materiële voordeel sal moet prysgee en jou menspotensiaal sal moet inspan op maniere wat jy miskien nie graag sal wil nie. Materiële voordele sal dan moet verloën word ter wille van volksbehoud. Dit is waarmee ek wil afsluit: Die gedagte dat menspotensiaal en volkspotensiaal in diens van die behoud van die volk moet wees, van die volk se voortbestaan, van die volk se identiteit, van sy karakter.

In ons land is dit belangrik omdat dit bedreig kan word deur te veel gebruik te maak van nie-blankes wat eintlik ook ‘n reg op volksbehoud en voortbestaan van hul eie het. Nogtans is daar diegene wat pleit dat hulle ingespan moet word as ‘n deel van die opboumiddels van ons materiële voorspoed, kom wat wil. Met ander woorde, hulle wil met die oog op voorspoed onbeperk die bruikbaarheid van die nie-blankes in ons midde ontwikkel en aanwend. Hulle wil dit nie op hulle eie, binne hul eie gemeenskap op landsgebied waartoe hulle geregtig is, doen nie, maar vir eie doeleinde uitbuit as ‘n deel van een gemengde volk van Suid-Afrika. Dan sal dit beteken dat ‘n menspotensiaal ingetrek word waardeur die blanke se volksbehoud, sy volksidentiteit, verlore kan gaan. Daardie prys mag nie betaal word nie. Die volksbehoud het voorrang. Die volkspotensiaal en die menspotensiaal is sy dienskneg.

Dit geld nie net op die terrein van rasseverhoudings nie. Dit is nie net waar van Suid-Afrika met sy spesiale vorm van bestaansprobleem nie. Dit is ook waar van ander lande waar die kleurfaktor glad nie in die prent kom nie. Ek wil die voorbeeld noem wat teenswoordig in verskillende tydskrifte en koerante ontleed is, naamlik Switserland. Switserland is ‘n staat wat geweldig ontwikkel en ‘n baie hoë peil van voorspoed bereik het met die gevolg dat sy eie menspotensiaal nie meer vir sy dienste genoeg is nie. As gevolg daarvan word groot getalle mense in sy bedrywe ingespan wat veral uit Italië en Spanje afkomstig is. Hy is egter so gesteld op die behoud van sy volk, van sy volksidentiteit, dat hy sorg dat hierdie inkomende werkkragte in ‘n hoë mate apart gehou word van sy eie burgery. Switserland sorg dat die verblyfstermyne van sy werksbesoekers sodanig is dat hulle nie in die volk ingelyf sal kan word nie. Hulle moet van tyd tot tyd teruggaan na hulle eie lande. Met ander woorde doelbewus word gebruik gemaak van trekarbeid.

Die faktor van kleur is nie daar teenwoordig nie. Daarom merk die wêreld dit nie op nie. Maar dit is apartheid in ‘n bepaalde sin van die woord, met die gebruik van trekarbeid, net soos dit ook elders, onder meer hier, bestaan. Die grondgedagte daaragter is ‘n regmatige, wat ons moet aanprys, naamlik dat Switserland, met sy eeue oue geskiedenis en nieteenstaande hy ook uit meer as een volksbestanddeel saamgestel is, sy eie volksidentiteit nie wil laat verlore gaan as gevolg van die huidige behoefte aan menskragte van elders nie.

Menspotensiaal en volkspotensiaal moet dienstig wees aan volksbehoud. Behoefte daaraan moet die volk nie vernietig nie. Elke volk het reg op sy eie land en op al die moontlikhede van sy land. Wanneer hy dit opbou en gebruik maak van ander, moet dit nie sy bestaan bedreig nie. …”

Bron: Verwoerd aan die woord II, die laaste vier jaar; saamgestel deur Wilhelm J. Verwoerd; bl. 371-373.

Nou vriende, moet ons onsself die vraag afvra in hoe groot mate het ons hierdie waarskuwing verontagsaam? 

Maar daar is hoop. Ons kan opnuut leer en inkeer en doelgerig werk daaraan om ons identiteit te kan behou ten spyte van wat om ons vergaan. Begin deur jouself af te vra waarby jy in jou vrye tyd betrokke is. En waarby jou kinders betrokke is. Ondersteun dit die behoud van ons volksidentiteit?  So nie, raak betrokke by die ANB en help terugkeer en bou op die vastigheid van nasionalistiese beginsels, die lesse geleer uit ons geskiedenis en die voorbeelde van ons heldedom. Sluit aan by die ANB. Vind meer uit oor ons en ondersteun die uitdra van hierdie boodskap van hoop.