Deur Prof. A.D. Pont; geskryf in Mei 1995.
1. Inleidend
So stadigaan word dit al duideliker dat April-Mei 1994 baie meer was as net ‘n “demokratiese verkiesing”. Dit was die begin van ‘n rewolusie wat daarop gemik is om die hele Suid-Afrikaanse samelewing van die grond af te verander.
Volgens die resep van die liberaliste en die sosialiste moet eers afgebreek word en dan kan herbou word. Die probleem is dat afbreek makliker is, bouwerk is baie moeiliker en gewoonlik bly dit agterweë.
In hierdie afbraak-fase wat ons nou beleef, is die wekroep dat die Boere-Afrikaner moet prysgee om deel te word van die nuwe, groter, veelkleurige, veel kulturele nuwe ‘nasie’. Ons moet ons godsdiens, ons taal, ons kultuur, ons strewe na uitnemendheid, ons handhawing van ons beskawing prysgee. Alleen as ons dit gedoen het, kan ons aanpas.
2. Die Verlede
343 jaar gelede het Jan van Riebeeck aan die Kaap geland om ‘n verversingspos vir die Oos-Indiese Kompanjie daar te vestig. Teen die bedoeling van die Kompanjie in het dit ‘n kolonie geword en teen die bedoeling van die owerhede en die koloniale magte het hier in Suid-Afrika ‘n selfstandige, eiesoortige volk gegroei.
‘n Volk met ‘n eie taal, ‘n eie kultuur. ‘n Volk gevorm deur sy godsdiens en die Westerse beskawing waaruit hy spruit, maar ook geplooi, geskaaf, gebrei deur die lewensomstandighede in Suidelik Afrika.
Hierdie omstrede volk, die Boere-Afrikaner, het hier in suidelike Afrika vir homself ‘n vaderland verwerf deur harde werk, deur opoffering, vasberadenheid, deur stryd. Hierdie volk het tot ergernis van vele gebou, gepresteer en uitgestyg een in die proses ‘n vaderland gebou wat beny en begeer is deur ander.
In die jare 1899-1902 het die magtige Engelse empire hierdie Boere-Afrikaner ingedwing in ‘n uitwissings-oorlog waarvan die doel was: “…the complete and final settlement of the Boer question”.
Die Boere-Afrikaner het daardie aanslag oorleef. Gebore en getoë in Afrika, gebrei en gestaal deur hierdie wêreld, het die Boere-Afrikaner nie so maklik gaan lê nie.
3. Vandag
Die Boere-Afrikaner is weer eens in ‘n baie moeilike posisie. Ons vaderland, ons selfbeskikkingsreg, ons Christelike staat is prysgegee. Van die mooi beloftes waarmee ons verlei is om hierdie pad te loop, het niks gekom nie. Nou staan ons voor die werklikheid dat ons met uitwissing bedreig word, maar dan ‘n uitwissing wat ons self moet voltrek.
Dit is nodig om mooi daarop te let dat die aanslag op die Boere-Afrikaner gelei word deur “gebruikers van Afrikaans”. Dit is hulle wat die voortou neem om ons taal te verkleineer en op die agtergrond te stoot, soos die TV-programme oor die Taalmonument so duidelik geïllustreer het.
Ons kultuur, ons manier van lewe en doen word op talle maniere onder druk geplaas. Dit word duidelik dat ons christelik-nasionale lewenstyl vervang moet word met ‘n humanistiese, Amerikaanse manier van lewe, waar oppervlakkigheid, banaliteit en die gebrek aan waardes die toon aangee.
Ons skole en opvoedkundige strukture word al meer onder druk geplaas om standaarde te verlaag en andersoortige te akkommodeer ten koste van ons eie. Dit wil voorkom asof die staatskole die middel moet word waardeur die opkomende geslag vervreem moet word van die verlede en die geestes-eiendomlike van die Boere-Afrikaner.
Dieselfde word op die ekonomiese terrein probeer en op landbougebied moet die Afrikaner glo sy erfgrond ontruim, omdat “die meerderheid van die bevolking” nie ‘n bestaan kan maak op hulle erfgrond wat die hoogste landbou-potensiaal in die land het, nie.
Ons kerke met die unieke boodskap van die drie-enige God word gelyk geskakel met ander, heidense “godsdienste”, klaarblyklik om juis so die geloofs-inspirasie van die Boere-Afrikaner uit te doof.
Daarby moet die land nou ‘n sekulêre staat word. Die grondslae van die samelewing, die optrede van die staat en die mense, moet verheidens. In ruil daarvoor, so lyk dit, word “godsdiens vryheid” glo gewaarborg. Die vraag bly egter of die Christelike geloof wat die uitgangspunt en beginsels van die sekulêre staat nie kan aanvaar nie, nie juis deur die sekulêre staat onderdruk sal moet word nie?
Wanneer so na ons tyd en ons omstandighede gekyk word, lyk dit asof dieselfde magte wat aan die begin van die eeu gestreef het na “the complete and final settlement of the Boer question”, nog steeds op koers is. Daar word deesdae net gebruik gemaak van ander middele en magte.
Wat nou?
Die groot vraag is wat ons nou moet doen. Dit is nie so maklik om die vraag te antwoord nie. Maar die volgende kan oorweeg word: In die eerste plek moet ons ons geestelik losmaak van die nuwe samelewings-orde en dit raaksien as ‘n vyandige lewens orde. Die eerste Christelike gemeentes in die Romeinse Ryk het hulle doelbewus onttrek aan die heidense gemeenskap waarin hulle geleef het en hulle eie gemeenskap in stand gehou.
Die grense het hulle skerp en baie duidelik getrek. Daarna het hulle, vanuit die veranderde staanplekke wat hulle gebou het, die Romeinse Ryk verower met hulle geloof, kultuur en Christelike lewenstyl.
Daar lê vir ons ‘n voorbeeld ter oorweging. As ons dit oorweeg, moet ons daaraan dink: alles wat die mens is, alles wat hy doen, al die werke van sy hande word voorafgegaan deur denke, oorweging en besluite. ‘n Mens se denke, sy gees, en hoofsaak, sy geloof, bepaal sy manier van menswees. So ook ‘n volk.
Die geestelike dimensie van ‘n volk bepaal, inspireer, rig en regeer die optrede, handel en doen van ‘n volk. Uit die geestelike dimensie van die volk vloei die kultuur voort en die lewende asem wat dit dra, is die taal van die volk.
Ons moet terug na ons eie en onsself afvra: Ten eerste, watter eise stel ons verantwoordelikheid teenoor ons voorgeslagte, aan ons? En as ons so nadink oor ons geskiedenis moet ons probeer verstaan wat begrippe soos roeping, verantwoordelikheid en koersvastheid beteken.
En ten tweede, moet ons onsself afvra: wat ons taak vandag is as ons wil handhaaf en hou; ten derde moet ons sekerheid kry oor die eise wat ons verantwoordelikheid teenoor die geslagte wat nog kom, van ons vra. Dit beteken ons moet sekerheid kry oor die koers wat ons moet gaan.
Dit is nie maklike vrae nie. Maar voordat ons dit doen, moet ons eers dink. In ons nadenke moet ons ook vra na ons verhouding tot die lewende God van die Bybel. Waar staan ons voor God en wat het ons gemaak met ons gehoorsaamheid aan Hom; wat het geword van ons dankbare diens aan God?
Waar lê die beginpunt van ons denke: by die ewige God en Sy Woord of by die mens en sy gedagtes. Dit maak, in die hele situasie waarin ons vandag lewe, ‘n baie groot verskil waar ons met ons denke begin.
As ons die vrae wil antwoord, is die vraag of ons nog werklik die geskiedenis van ons volk ken, sodat ons kennis en inspirasie kan put uit die adel en die heldedom van die Afrikaner. Want daar kan ons leer dat geen Boere-Afrikaner ooit ‘n minderwaardigheidsgevoel hoef te hê omdat hy ‘n Afrikaner is, nie. Terselfdertyd sal die geskiedenis ons ook leer dat wat die Boere-Afrikaner vermag het, meer te danke is aan die genade van God as aan sy menslike vermoëns.
Die derde saak wat ons moet oorweeg is of ons nog die geestes-eiendomlike van die Boere-Afrikaner ken. Ons wat in die teerstrate van Suid-Afrika se groot stede opgegroei het, ken ons die wortels van ons Boere-Afrikaner se lewenstyl, ons manier van menswees in Afrika, ons kultuur?
Ons moet weer sekerheid hê oor die grondslae waarop ons staan, sodat elkeen van ons homself weerbaar kan maak, sodat ons dan saam kan bou aan die geestes besit van die Afrikaner. Dit is nogal krities dat ons ‘n oop oog sal hê vir die noodsaak om saam te dink, saam te werk, saam te stry, saam te bou.
Ons is in die sewentiger-jare wysgemaak dat ons moet uittrek uit die laer, want die oorlog is verby. Daar het ons ons saamhorigheidsgevoel prysgegee en in die oop vlakte die prooi geword van die propaganda van links. Ons het nie meer saam gedink, saam raad gehou, saam pal gestaan nie.
Die aard van die stryd
As dit alles gesê word, is dit duidelik dat ons nie in ‘n skietoorlog betrek is nie, maar in ‘n sielkundige oorlog, ‘n stryd om die besit van die siel van die Afrikanervolk. In so ‘n oorlog of stryd is daar nie kitsoplossings nie.
Die eerste voorwaarde bly egter dat ons ‘n bietjie moet terugtrek, dat ons weer in die laer moet staan, sodat ons daar saam kan herbou aan ons geestes eiendomlike. Ons moet die grense van ons volk-wees weer duidelik trek; ons moet vir onsself uitmaak waar ons aangeval word, sodat ons daar kan verdedig, sodat ons weer waar ons kan terugslaan. Ons het weer innerlike sekerheid, dissipline en doelgerigtheid nodig.
Dit vind ons in die eerste plek in ons binnekamer. Dit is gesê dat Johannes Calvyn, die hervormer in die dae van vervolging en stryd, die kerk en die gelowiges altyd weer besiel het met die slotvers van Psalm 138: “Die Here sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, Here, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!”
Ten Slotte
Ons staan voor groot uitdagings. Op ons geslag rus die verantwoordelikheid om te handhaaf en te herbou, om sterk te staan vir die voortbestaan van ons volk in hierdie nuwe omstandighede. Dit is ‘n enorme taak. Maar ons verantwoordelikheid teenoor ons voorgeslagte en ons verantwoordelikheid teenoor ons nageslag, verplig ons om die taak op te neem.
Tog is ons nie alleen nie. Die lewende God, onder Wie se Hand die Boere-Afrikanervolk hier gegroei het, het ons nog altyd gelei en bewaar. Hy sal Sy Hand nie van oor ons terugtrek nie.
Laat ons in geloof die drie-enige God, in verantwoordelikheid teenoor ons volk en met ‘n vasberade gees, die aanslae van die magte teenoor ons weerstaan. Die Here, ons God, sal op Sy tyd die oorwinning gee.
……………………………………
Bron: Bybel en Volk, nr. 4, jaargang 10; Mei 1995.