Monthly Archives: Desember 2021

ANB Nuusbrief : Belangrike ANB Kennisgewings vir einde van 2021

ANB hou Suksesvolle Jaarvergadering en Afsluiting vir 2021

Die ANB het nogeens vir ‘n volgende jaar ge-reorganiseer en vir die nuwe jaar is daar nou sewe takke wat oor Transvaal versprei is. Tzaneen, Ysterberg (Thabazimbi), Generaal Beyers (Nylstroom/Alma), Ellisras, Jaap Marais (Verwoerdburg), Trans-Magalies en ook HF Verwoerd (Pretoria Moot).  Ons het nuwe belangstelling in die Vrystaat en in die Noord Kaap ook wat ons hoop om uit te bou in die toekoms.

Die afgevaardigdes saam met bykomende verkose hoofbestuurslede vorm die Hoofbestuur van die ANB. Bykomende lede op die hoofbestuur sluit dan ook verteenwoordigers van Johannesburg en die Vrystaat in.

Die ANB be-oog om in 2022 meer aandag te gee aan die ander feesdae/gedenkdae om die oproep van ons geskiedenis na ons mense te bring. Dit is Majubadag, Stigtingsdag en Taaldag, afgesien van die Republiekdag en Heldedag wat ons reeds jaarliks vier. Die hoofbestuursvergaderdatums is dan ook so gekies dat dit op datum naby aan die betrokke dae val.  Meer besonderhede oor wat ons beplan sal volg.

Die dagbestuur vir die volgende jaar is:

Johan Grobler (Voorsitter)
Carel van der Grijp (Onder-voorsitter)
Marthinus (Boeta) Erasmus (Bykomende lid)
Koos Venter (Bykomende lid)
Emil de Villiers (Sekretaris/Penningmeester)

(Kliek hier vir Kontak besonderhede)

Leedwese

Ons het ook met leedwese kennis geneem van lede wat ons ontval het in die afgelope jaar. Ons dink aan tannie Suzette de Ridder, oom Frans Bennett en oom Piet Hartman. Hulle almal het voluit in die stryd gestaan vanaf die beginjare van die HNP en was ons altyd ‘n voorbeeld en aansporing wees.

Lede se kontakbesonderhede

Die sekretaris wil ‘n beroep doen op al die ANB lede om asb hulle kontakbesonderhede (ten minste ‘n selfoonnommer of e-pos adres) aan hom te stuur per “whatsapp”, “telegram” of e-pos.  Hoewel ons in ‘n tyd lewe van welige verskeidenheid en vinnige kommunikasie, verander mense se kontakbesonderhede ook veel vinniger.  As u besonderhede verander moet u ons dus asb ook dadelik inlig sodat ons u op hoogte kan hou van ons aksies en nuus met die regte perspektief aan u kan bly voorsien.  So bly ons betrokke by die stryd en kan ons mekaar daarin dra en versterk.

Ons moet darem byvoeg dat ons al die hoofbestuurslede se besonderhede het.

Ons beplan om dit binnekort moontlik te maak vir lede om hulle besonderhede ook self aanlyn hier op ons webtuiste by te kan werk.

ANB Nuusbrief Formaat

Soos u moontlik reeds weet, gee die ANB nie meer ‘n gedrukte nuusbrief uit nie, maar het omgeskakel na elektroniese media.  Ons versoek aan lede is om ook aan die lede wat nie toegang tot die elektroniese media het nie te help met uitdrukke van die elektroniese nuusbrief artikels.

Die ANB publiseer nou gereeld artikels op gesiggieblad (facebook)  en stuur ook gereeld die artikels per kriekie (“whatsapp”) via ‘n kennisgewingsgroep. Die gesiggieblad is ‘n openbare gespreksforum waarop daar reeds meer as 388 volgelinge is.  Sedert die begin van die jaar het die aantal belangstellendes veelvuldig toegeneem.  Terwyl ons nie Facebook besit nie en bewus is van hulle anti-nasionalistiese uitgangspunt, plaas ons ook die artikels op ons webtuiste waar ons vyande ons nog nie so maklik kan sensor nie.

Die pad vorentoe…

Ten spyte die roeringe van die waters deur magte in die wêreld, sien ons verder. Ons hoop bly op ‘n beter toekoms wat na hierdie lewe kom. Maar ons roeping bly in die lewe om ons bes te doen om ons vryheid te herwin om net een rede en dit is om God na die beste van ons vermoë te dien binne die struktuur van gesin, gemeente, Afrikanervolk.  Dit sal ‘n blywende stryd wees. maar ons krag daartoe is van buite onsself.  Dit word aangevuur deur geloof in God, die sekerheid van ons roeping en gedryf deur liefde vir die bewaring en uitbou van ons Godgegewe erfenis. Dit is die Christelike Nasionalisme.

Ons wens is dat u ook die geleentheid sal kan vind om ook ons Bloedrivier Gelofte aan God te gedenk op die 16de Desember vanjaar. Ons wens ook u en u gesin ‘n geseënde 2022.

Emil de Villiers

Sekretaris ANB.

 

 

C. J. Langenhoven Spreuke oor Werk

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom. ~ C.J. Langenhoven

Kla oor die kooi as dit ‘n ander is wat dit vir jou opgemaak het. ~ C.J. Langenhoven

Daar is geen luiaard wat glad nie wil werk nie. Hy verlang maar net na ‘n ander soort werk as die wat hy nou moet doen. ~ C.J. Langenhoven

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry. ~ C.J. Langenhoven

Die luiaard is die enigste man wat van sy slaap sal moet rekenskap gee. ~ C.J. Langenhoven

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde ‘n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie. ~ C.J. Langenhoven

Met gehoorsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees. ~ C.J. Langenhoven

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen die wat die misverstand jou sou gekos het. ~ C.J. Langenhoven

As sport ons daaglikse plig was, sou ons die werk wat ons nou moet doen byderhand neem vir ons plesier. ~ C.J. Langenhoven Die man wat vandag hierdie vak bevlieg en môre daardie wys self dat hy nie weet wat sy roeping is nie. Sy inkomste wys dit ook. ~ C.J. Langenhoven

Salomo het by ‘n luiaard se akker verbygeloop. Had hy bietjie vertoef dan kon hy gebie het op die vendusie. ~ C.J. Langenhoven

Hoe swaarder ‘n man aan sy goed gekom het, hoe swaarder bring hy daaraan deur. Swaar-kry: lekkerkry; lekker-kry: swaarkry ~ C.J. Langenhoven

Daar is een goeie ding wat ‘n slaaf soms koop wat vir sy baas te duur is. Die goeie ding is rus en die prys is arbeid. ~ C.J. Langenhoven

Daar is mense wat kan doen wat hulle wil, maar dit is die wat wil doen wat hulle kan. ~ C.J. Langenhoven

Ek was so besig om kanse te soek dat ek my geleenthede een vir een laat verbyglip het. ~ C.J. Langenhoven

Die ryk man het mos nie nodig om so suinig te wees nie. Maar hy is nie ‘n ryk man wat suinig geword het nie: hy is ‘n suinige man wat ryk geword het. ~ C.J. Langenhoven

Help jou swakke mededinger op die bene bly. As hy tot niet gaan, kom daar straks ‘n sterke in sy plek. ~ C.J. Langenhoven

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus. ~ C.J. Langenhoven

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk. ~ C.J. Langenhoven

Welvaart is die dogter van matigheid en die moeder van weelde. ~ C.J. Langenhoven

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en swaarste is die wat my voete nooit vat. ~ C.J. Langenhoven

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns nie. ~ C.J. Langenhoven

Die man wat ek na soek, is nie die wat die minste foute maak nie, maar die wat die meeste foute regmaak. ~ C.J. Langenhoven

En vêrder die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie. ~ C.J. Langenhoven Het die daeraad lief en die dag sal jou liefhê. ~ C.J. Langenhoven

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal ‘n tyd kom wanneer ‘n baas jou sal laat vroeg opstaan. ~ C.J. Langenhoven

‘n Man wat oor homself baas is, is nooit die kneg van ‘n ander nie. ~ C.J. Langenhoven

Dis die flukse perd wat flou word. ~ C.J. Langenhoven

Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet. ~ C.J. Langenhoven

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir ‘n ander. ~ C.J. Langenhoven

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van ‘n ander se aanskyn sy pastei. ~ C.J. Langenhoven

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan ‘n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees. ~ C.J. Langenhoven

‘n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Die wat hy nie wegja nie loop weg. ~ C.J. Langenhoven

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur. ~ C.J. Langenhoven

Om van ‘n ou ding ontslae te raak, verf hom nuut. ~ C.J. Langenhoven

Vir sy eie voordeel beklee ‘n man ‘n beroep; vir die voordeel van sy ewemens volg hy ‘n roeping. ~ C.J. Langenhoven

‘n Goeie ambagsman kry nooit sy werk na sy eie sin nie; ‘n slegte kry dit nooit na die sin van sy klandisie nie. ~ C.J. Langenhoven

Elke artikel wat hy maak is ‘n nuwe skoonheid waarvan hy die skepper is: dis syne en ‘n ander kon dit nie so gemaak het nie, want sy siel het hy daarin uitgegiet. ~ C.J. Langenhoven

Die slegte ambagsman beveel sy werk aan; goeie werk beveel sy ambagsman aan. ~ C.J. Langenhoven

So ‘n ambagsman is die gelukkigste mens op die aarde. Sy arbeid is sy lewenslus. Sy hardste werkdag is sy keurigste vakansie. Nie om die prys of die loon nie, maar om die heerlikheid van sy werk, werk hy. ~ C.J. Langenhoven

Ploeg self op die klip land en gee vir jou kneg die sagte grond. Dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook. ~ C.J. Langenhoven

Moenie by die huis rondlê en jou knegte werk toe stuur nie. As jy vir jou eie belange traag is, hoe kan jy verwag dat hulle vir ‘n ander s’n ywerig moet wees? ~ C.J. Langenhoven

Doen jou eie werk. Dis verveliger om te wag solank as ‘n ander jou ketel kook as wanneer jy hom self kook. Tog gaan dit gouer, wat hy is nie so spaarsaam met die hout nie. ~ C.J. Langenhoven

Om die luiaard gisteraand nie moeg was nie, het hy vannag nie gerus nie en daarom is hy vanmôre nog lui. ~ C.J. Langenhoven

Die goedkoopste manier om aan jou lewensmiddel te kom is om daarvoor te werk. Die duurste is om dit te steel. ~ C.J. Langenhoven

As jy geen stuk kennis het van die ambag waar jy ‘n man voor huur nie, bekyk sy gereedskap. Hy sal nie in jou belang oppassender wees as in sy eie nie. ~ C.J. Langenhoven

Staan by die man wat by die dag werk om te sien dat hy nie te stadig is nie, en by die man wat by die stuk werk om te sien dat hy nie te haastig is nie – of huur twee, een by die dag en een by die stuk, en laat die een die ander skaam maak. ~ C.J. Langenhoven

Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel. ~ C.J. Langenhoven

As jy jou werk sleg doen omdat jy jou loon te min beskou, sal jy nooit goeie werk doen nie: want jy sal nooit genoeg loon kry na jou eie sin nie. ~ C.J. Langenhoven

Ons betaal ons onwillige knegte altyd te veel, ons gewilliges altyd te min. ~ C.J. Langenhoven

Betaal ‘n donkie se prys en moenie ‘n perd se diens te wagte wees nie – maar jy betaal maklik ‘n perd se prys en jy kry ‘n donkie se diens. ~ C.J. Langenhoven

Daarom het Adam en Eva die Paradys nie gewaardeer nie omdat hy hulle niks gekos het nie. ~ C.J. Langenhoven

‘n Man wat nog nooit self iets bymekaar gemaak het nie, het altyd slim planne hoedat ‘n ander sy geld behoort te gebruik wat daarvoor gewerk het. ~ C.J. Langenhoven

Die geluk van die skyf is by die roer, en die geluk van die oes by die boer. Die belangstelling van die kneg moet jy toekry: jy kan dit nie huur nie. ~ C.J. Langenhoven

As ek die begeerte mog waag, sou ek dit graag so wil hê dat die engel wat my kom haal huis toe, my daar bring met die verslag: “Ek het hom by sy werk gekry.” ~ C.J. Langenhoven –

Ons weg deur die wêreld, 1913

Huldeblyk – Suzette de Ridder

Suzette Douwine de Ridder is op 29 Julie 1928 in Potchefstroom gebore. Sy was die oudste kind van Boy (Josephus Marthinus) en Tollie (Gertruida Anna Susanna) Fourie.

Na die voltooiing van haar skooldae, eers in Central Primary School en Leith Academy in Edinburgh, Skotland (1939), daarna in die High School for Girls in Potchefstroom, het sy haar graad B.A. Ed. Ph. (HOD) in 1951 aan die Universiteit van Pretoria behaal.

Sy hou in 1952 by die Hoërskool Heidelberg skool. Van 1953–56 gee sy Engels by Afrikaans Hoër Meisieskool. Sy was onder andere ook ’n kranige sportvrou. Sy ontmoet Johan (Johannes) de Ridder, ’n argitek wat onder andere vele kerke ontwerp het. Hulle trou op 14 Desember 1954 en vestig hulle eers in Herbert Bakerstraat 31 en later in Herbert Bakerstraat 56 te Groenkloof, waar hulle gewoon het tot 2003. Natuurlik was die huis deur Johan ontwerp.

Uit die huwelik is 4 kinders gebore: Johan 1958, Trudy 1959, Tienie 1962 en Tomas 1964. Baie interessant is die feit dat Suzette se moeder ’n nooi van der Merwe was en haar seun, Johan se vrou, ook van der Merwe was.

Ten spyte van die verlies van twee seuns het Suzette in geloof moedig voluit voortgelewe. Thomas is in 1982 op byna 19, as eerstejaarstudent in Argitektuur, tragies en misterieus in ’n motorongeluk oorlede. Johan is in 2012 aan breinkanker oorlede. Johan, haar eggenoot, is in 2013 oorlede, hoofsaaklik as gevolg van Parkinson-siekte.

Hulle was vir meer as 59 jaar baie gelukkig getroud. Na 2003 het hulle na die Protea-aftreeoord in Centurion verskuif. In 2019 het sy na Huis Nasaret in Waterkloof verskuif, nie ver van haar Herbert Bakerhuis nie.

Hoewel sy baie swaar gekry het na Johan se afsterwe, het sy selfstandig (met Tienie se hulp) aangegaan. Sy het nog elke Sondag van Centurion na die Gereformeerde Kerk, Meintjieskop, gery waar hulle vir baie jare lidmate was. Sy het, net soos Johan, meer as een rugoperasie gehad en derhalwe redelik krom geloop, maar altyd aan die hardloop totdat sy een Sondagoggend langs die pad gaan staan het met die motor. Die kinders het haar toe dringend versoek om nie meer alleen te ry nie. Tienie, wat haar baie liefdevol bygestaan het tot haar einde toe, het daarna gesorg dat sy elke Sondagoggend by die kerk kom en weer terug.

Tienie beskryf sy ma as baie Godvresend, aantreklik, stylvol, lojaal, blymoedig, ruimhartig, onpartydig en beskeie. Behalwe Godvresend was hulle ook groot nasionalistiese, patriotiese volksgenote – in hart en siel Afrikaners. Sy en Johan was al die die jare HNP’s en het op verskeie kultuurinstansies gedien. Hy onder andere by die GHA en sy by Boervrouforum.

Met die skeuring het hulle onmiddellik ingeskakel by die ANB en was erelede tot hul dood. Suzette het na Johan se dood nog baie ANB-vergaderings bygewoon en baie sinvolle bydraes gelewer.

Weens swak bloedsomloop het sy die laaste paar maande ongeneeslike sere aan haar bene gekry en kon nie meer loop nie en was die laaste maand bedlêend. Haar toestand het toe vinnig versleg, want in haar eie woorde het sy haar kerk en die gemeenskap van die Heiliges so gemis dat sy oorgegee het. Ten spyte van haar 92 jaar was haar brein nog skerp en haar taalgebruik onberispelik.

Haar lewe is gekenmerk deur ‘n diepe dankbaarheid teenoor haar Skepper, onwrikbare geloof en innige liefde vir haar man, kinders en kleinkinders. Sy was ‘n besondere aantreklike, netjiese,
vriendelike, innemende, ruimhartige, opofferende en beskeie persoon. Sy het met die grootste sorg, deernis en meelewing na siekes en hulpbehoewendes omgesien en waar ook al gehelp.
Die manier hoe sy terugslae en beproewing sonder klag en moed in lydsaamheid gedra het sal vir ons altyd ‘n voorbeeld wees.

Sy was bevoorreg dat haar drie oorblywende kinders die laaste week by haar bed kon waak (Trudy en Helene vanaf die Kaap).