27 Augustus 2024
Wat is die ANB se begronding hieroor?
Die ANB het op sy Hoofbestuursvergadering op Saterdag 24 Augustus in verband met die Volksverootmoedigingsaksie, wat vir 1September in die vooruitsig gestel word, die volgende hoofpunte beklemtoon.
1. Die ANB is daartoe verbind om ons Afrikanervolk in sy geheel voortdurend op te roep tot ware opregte verootmoediging voor die lewende God.
2. Wat ware volksverootmoediging in wese behels is vir die ANB van die allergrootste belang.
3. As gelowige enkelinge, huisgesinne en selfs families moet ons ons gereeld in waarheid en opregtheid verootmoedig voor God. Verg. Job1:5, Jos.24:15
4. Volksverootmoediging mag nie in ‘n minder ernstige lig beskou word as die verootmoediging van die enkeling, huisgesin of familie nie.
5. Die ware verootmoediging moet voorafgegaan word deur ernstige, noukeurige en volledige selfondersoek in die lig van Gods Woord.
6. Alleen deur die werking van die Heilige Gees kom die begenadigdes in Christus tot ware skulderkentenis en skuldbelydenis voor die Heilige God. Dié sonde(s) waarmee ons God vertoorn het móét dan uit ons lewens geban, uitgewis en begrawe word. Verg. Gen.35:2-4; Rigt.10:16
7. Eers dán volg ware verootmoediging waarin die HERE ‘n welgevalle het… waar met die sondige en verkeerde wat in ons lewens posgevat het weggedoen en die opregte begeerte is om ons ganse lewens na Gods weë in te rig om Hom te dien en verheerlik.
In die lig van bogenoemde vertrekpunte moet, in geval van volksverootmoediging, dus die volgende gebeur:
1. Alleréérs moet ons volkssondes in alle erns en so noukeurig en volledig moontlik omskryf en uiteengesit word.
2. Daarna moet dié sondes, begrond in Gods Woord, herhaaldelik en volhardend in ons volksgeledere verkondig en as’t ware uitbasuin word, deur alle moontlike kanale en middele.
3. So moet ons volk vermaan word om hulle te bekeer en dus te breek met alle Godonterende kultuur uitinge en lewenspraktyke.
4. Wanneer in bogenoemde profetiese werksaamheid vir ‘n geruime tyd volhard is, kan na ons oortuiging, oorgegaan word in die uitroep van ‘n “dag van verootmoediging” vir diegene wat volkome eensgesind ag gegee het op die vermaninge en hul van die volkssondes waarvan hulle oortuig geraak het, van harte bekeer het.
In die lig van bogenoemde neem die ANB die volgende besluit:
1. Die voorgestelde datum van 1 September vanjaar waarin ons volk opgeroep word tot ware volksverootmoediging, is na ons oordeel gans te vroeg, aangesien die deeglike en volledige uiteensetting van volkssondes en die oproep tot ware bekering, na ons mening, nie na behore geskied het nie.
2. Die ANB is volkome bereid en kragtens ons grondslag en oortuiging van harte daartoe verbind om mee te werk om ware volksverootmoediging na te streef. Ons sê “na te streef” aangesien nét die HERE ware volksverootmoediging kan bewerk (1Kon.8:35), soos Hy byvoorbeeld by Paardekraal (Desember 1880) gedoen het.
3. Die ANB wil ook beklemtoon dat die opregte en ootmoedige intrede en voorbedes vir ons Afrikanervolk, wat in sy breë verband tans ver van die weë van die HERE weggedwaal het, nie by een van ons nagelaat moet word nie. As voorbeelde hiervan wys ons op Moses (Eks.32:32), Daniël (Dan.9) en die apostel Paulus (Rom.9:1-8).
Tot hiertoe ons Hoofbestuursbesluit op Saterdag 24 Augustus.
ANB distansieer hom van Volkskrag se volksverootmoedigings-inisiatief
Intussen het dit onder die aandag van die ANB Dagbestuur gekom dat Volkskrag die werklike “organiseerders” van die volksverootmoedigings-inisiatief blyk te wees. Hiervan was die ANB Hoofbestuur tydens sy bespreking en besluit op Saterdag 24 Augustus nie bewus nie.
Derhalwe is die ANB Dagbestuur genoodsaak om die volgende bykomende besluit te neem:
1. Ons merk dat Volkskrag deur ‘n wye reeks “werksgroepe”, ‘n voortsetting van die Volksfront se Volksrepubliek-werkkomitee is.
2. Die Afrikaner Volksfront het reeds voor die 1994-verkiesing agter die skerms (d.w.s. sonder dat die leiers dit aan die volk gesê het) met die volksvyand, die ANC, gaan onderhandel, waarvolgens hulle die volk sal lei om die “nuwe politieke bestel” te aanvaar (deur inderdaad as “Vryheidsfront” met die oog op die verkiesing te registreer), mits die ANC bereid sou wees om Artikel 235 in die nuwe “onderhandelde” RSA-Grondwet in te skryf, en waarvolgens die Afrikanervolk die sogenaamde “selfbeskikkingsreg” sou hê, om aan die hand van die “Afrikaner Akkoord” te kon “beding”, vir ‘n stukkie eie grondgebied iewers in die Republiek waar hy homself sogenaamd sal kan regeer.
3. Bogenoemde optrede deur die Afrikaner Volksfront leierskorps, voor die 1994-verkiesing, was niks anders as ‘n skandelike daad van volksverraad nie.
4. Hulle het en wil steeds die Afrikanervolk, wat nog nêrens die RSA as sy wettige eiendom afgeteken het nie, probeer beweeg om die “nuwe politieke bestel” wat deur verraad en in werklikheid onwettig tot stand gekom het, te aanvaar en ons daarby neer te lê.
5. Derhalwe stel die Afrikaner Nasionalistiese Beweging aan Volkskrag die volgende onomwonde:
6. Die Afrikanervolk wat deur die Drie-enige God uit Gereformeerd-Calvinistiese wortels tot stand gebring is en deur Hom hier in ons Vaderland Suid-Afrika tot volk in aansyn geroep is, gaan “beding” nie vir sogenaamde “selfbeskikking” by ‘n God-onterende en God-verloënende en boonop onwettige “regering”, of watter internasionale instansie ook al, om ‘n gedeeltetjie van sy regmatige eiendom terug te ontvang nie.
7. Alle pogings van ons jongste dag deur wie ook al, om die Afrikanervolk te probeer beweeg om die 1994-Grondwet en dus ook die ANC-regering as wettig te aanvaar, deur aan sy “verkiesings” deel te neem, of van die sogenaamde Art.235 “gebruik te maak” om tot ‘n “onderhandelde skikking” te kom, word deur die ANB beskou as ‘n voortsetting van dieselfde verraad wat in 1994 teen ons volk gepleeg is ten einde ons die politieke seggenskap oor ons Vaderland te ontneem.
8. Daarenteen verklaar ons dat die Republiek van Suid-Afrika, waarvan dié grondgebiede wat histories regmatig aan die onderskeie nie-blanke volke en stamme van Suid-Afrika behoort het, en teen die laat sestigerjare ordelik en finaal aan hulle oorgedra was, uitgesluit, steeds die eiendom en Vaderland van die Afrikanervolk is. Die HERE alléén is by magte om, as dit Sy wil is en op Sy tyd, ook die politieke seggenskap, oor daardie volle deel van die Republiek van Suid-Afrika wat histories aan die witman behoort, weer aan ons terug te gee.
9. Die saak van ware volksverootmoediging is, soos u uit die Hoofbestuursbesluit sal kan aflei, vir ons ‘n saak van allergrootse erns. Soos genoem is die ANB volkome bereid en kragtens ons grondslag en oortuiging van harte daartoe verbind om ware volksverootmoediging van die Afrikanervolk na te streef.
10. Ons beskou dit egter as uiters onaanneemlik en selfs laakbaar dat ‘n saak van súlke erns soos volksverootmoediging, deur Volkskrag misbruik word om die Afrikanervolk in te bind in die soveelste verraderlike poging om die Goddelose bestel waaraan die HERE ons volk in sy tugtiging nou al ‘n geruime tyd onderwerp het, as “goed en reg” te aanvaar en boonop op ons knieë voor die ANC en die wêreld te gaan “bedel” om ‘n stukkie Suid-Afrika terug te kry.
11. In die lig van die direkte betrokkenheid van Volkskrag by die volksverootmoedigingsaksie (1Sept), het die ANB Dagbestuur geen ander keuse as om ons geheel en al daarvan te distansieer nie.
12. Ware volksverootmoediging kan slegs op die basis van ware Christelike Afrikanernasionalisme geskied, wat behels dat ons erken dat die HERE aan ons ons hele land Suid-Afrika as erfdeel gegee het, soos Hy aan alle volke gee na die welbehae van Sy wil, en ons oë alléén op Hom, die Alvermoënde God, gerig is, wat by magte is om ons volk weer volkome vry te maak, op Sý goeie tyd.
Ons het geen begeerte om Volkskrag of watter organisasie ookal as voorlopers van ons Afrikanervolk te opponeer nie, maar wens van harte dat ons hele volk die verraad wat gepleeg is sal insien, hulle daarvan sal distansieer en saam met die ANB die bestel sedert 1994 sal verwerp.
Mag ons voortdurend ons volksgenote in alle erns vermaan om hul aller éérs van hul goddelose weë te bekeer, na die HERE onse God en na Sy onfeilbare Woord (1933/53) in ons Afrikaanse taal terug te keer.
En mag ons as gelowige Afrikaners as ‘n eenheidsmag búite die bestel verenig
rondom dié beginsel:
Suid-Afrika ís ons Land!
Afrikaans is ons Taal!
Die HERE, die Almagtige, is ons God!