Monthly Archives: April 2022

ANB Nuusbrief: Toespraak deur Johann Grobler op die ANB se Stigtingsdagviering 2 April 2022

image_2022-04-07_082629Dit gaan oor stigtingsdag. Dit is 370 jaar gelede wat Jan van Riebeeck aan die Kaap gekom het. Die ontdekkingsreisigers, Vasco da Gama, Dias ens is daar verby maar die Kaap was maar vir die uitverkorenes daar gewees. Nie enige een moes daar begin nie, dis hoekom daar storms was, mense weggedrywe het. Daar was ‘n rede daarvoor. Ons besef dat God dit bewerk het om die ware geloof, die Protestantse geloof, hier te vestig, nie die Roomse nie.

In die begin het God die hemel en aarde geskape, en die aarde was woes en leeg. Daar was niks.

So kan ons ook sê dat in die begin was die Suidpunt van Afrika, woes en leeg, daar was niks.

So was daar voor enige blanke mense voet aan wal gesit het aan die Suidpunt van Afrika ook geen ontwikkeling nie.

Met die eerste seevaarders wat om die Suidpunt van Afrika gekom het, het hulle wel aangedoen aan die kante. Daar was nie hawens nie, ons weet dit is ‘n onstuimige see. Hulle het wel die Hottentotte aan die kus gekry. So het daardie seevaarders dan ingekom, watervoorraad gesoek. Dan kon hulle ook daarvan kry, maar die oomblik as hulle hul rug draai en die water op die skip laai, was daar ‘n geveg gewees. Want, so het die inboorlinge gemeen, die water was dan die hulle s’n en hoe kan die witmense dan die water vir hulle toe-eien.

6 April was tot in 1994 ‘n vakansiedag. Bekend as Stigtingsdag of Van Riebeeck dag. Van Riebeeck was die eerste persoon wat werklik voet aan wal in Suid-Afrika gesit het en iets begin het, daarom word hy ook beskou as die stigter van die Afrikaner volk.

In sy twintiger jare begin Jan van Riebeeck sy loopbaan as ‘n onder-skeepsdokter en werk by die Vereenigd Oost Indiese Kompanjie (VOC) En die VOC, in Nederland , was as handelsmaatskappy baie sterker as die ander lande in die toestande van daardie tyd. Hulle rykdom het gekom uit handel dryf met die Ooste. Daarvoor was die skeepvaart om die suidpunt van Afrika baie belangrik. Die handelsroete oor land was belemmer deur struikrowers en daarom het die seeweg die voorkeur gekry.

Jan van Riebeeck het goed gevorder binne die VOC en is eindelik bevorder tot kommandeur van die nuwe verversingspos vir verbygaande skepe aan die Kaap.

Merkwaardig is dat Jan van Riebeeck op die oggend van 16 Desember 1651 in die hawe van Texel sy inskeep op sy weg na die Kaap gedoen het. Op ‘n datum wat later om ‘n belangrike rede deel van die herdenkingsdae (saam met 10 Oktober en 6 April) vir ons volk geword het.

Ook saam aan boord van die Drommedaris was sy vrou Maria en hulle seuntjie Lambertus. Ook was hulle tog begin saam met 4 ander skepe, volgelaai met voorrade uit die pakhuise van die VOC.  Daarmee moes hulle ‘n nedersetting aan die Kaap begin. Twee van die skepe (Walvis en Olifant) was te swaar gelaai en kon nie saam met hulle die tog begin nie, maar die ander (Drommedaris, Rijger en Goede Hoop) het op die 24ste Desember 1651 vertrek.

Weereens kan ons nie werklik besef in watter situasie daardie mense hulle bevind het nie. Ons dink ons kan, maar vir ons is dit net nie moontlik om ons daarin in te leef oor wat se wedervaring dit vir hulle was en hoe woes dit was langs die kus af en ook in die binneland nie. So ‘n reis was dan ook sonder betroubare kaarte (wat hulle gehad het was met die hand geteken) en sonder behoorlike navigasiehulpmiddels. Verder was hulle maar net afhanklik van die wind. Dit was maar baie ernstige omstandighede en dit was dus grootliks ‘n geloofsreis. Dit was baie gevaarlik.

Maar van Riebeeck het drie opdragte gekry. Die grootste: Vestig ‘n verversingspos aan die Kaap om die handelsvlote van die kompanjie wat onderweg na die ooste daar verbykom en op pad terug, van vars water en kos te voorsien.

Dan ook: Vestig handelsbetrekkinge met die inboorlinge ten einde ‘n boerdery van vee en landbou op die been te bring.

En laastens: Bring die lig van die evangelie na die heiden nasies en bekeer hulle tot die Christendom. Van die vroegste tye was dit reeds daar, het ons die hand gereik. Is daar mense uitgestuur om die heilige evangelie aan hulle te verkondig en vandag nog probeer ons en slaag nog steeds nie daarin nie.

Op 5 April 1652 sien hulle Tafelberg in die dynserige verte en teen laatmiddag van Saterdag 6 April vaar hulle Tafelbaai binne.

Van Riebeeck teken aan dat daar ‘n sagte bries gewaai het en dat die baai oop en skoon was. Ons luister na hoe dit was en dit laat ons ook weer dink aan die oggend van Bloedrivier. Maria van Riebeeck sou later skryf dat dit ‘n sagte en ‘n koel bries was en dat dit haar laat dink het aan die Bybelse beskrywing van hoe God teen die skemeraand aan Elia verskyn het onder die braambos: Ook ‘n sagte en koel bries. Sy het dit toegeskryf dat dit beteken: Alle seën en voorspoed.

Die Drommedaris en De Goede Hoop gooi anker in Tafelbaai net so voor sononder daardie Saterdag van 6 April en die Rijger kom die volgende dag, die Sondag daar aan. Daar was toe aan boord van die drie skepe ‘n dankdiens gehou op 7 April. Weereens was die geloofsoortuigings van die mense prakties uitgeleef. Laatmiddag van 7 April het Van Riebeeck vir die eerste keer aan land gegaan. En op reeds op Maandag 8 April begin die werk in alle erns om die halfwegstasie te bou. Op 7 Mei het die ander twee skepe (Olifant en Walvis) daar aangekom.

Hoewel van Riebeeck op 7 April voet aan wal gesit het, het hy self 6 April, toe die skepe Tafelbaai binnegevaar het, as die aankomsdag gekies. In sy dagregister skryf hy ‘n paar jaar later dat hulle besluit het om 6 April as ‘n dankdag en biddag in te stel om die weldade van God wat hulle so bestem het in gedagte te hou.

Hulle seevaart asook hulle eerste twee jaar het so voorspoedig verloop dat hulle daarin die hand van die Hemelse Vader gesien het en ‘n belofte aan Hom gemaak het wat dan as volg lui (soos in Afrikaans vertaal): “Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die Here gelei met die skepe Drommedaris, Rijger en De Goed Hoop, hier ten plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here meesters (here 17) te bou en te bestendig. En opgetel het dat God die Here alle sake tot vandag met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop het en laat slaag het. Daarom het ons besluit en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die sesde April tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n blywende dankdag en biddag in te stel sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis, in herinnering gehou sal moet word.”

Hiermee het hulle dan erkenning aan die Almagtige God van hemel en aarde gegee. Die doel van die instelling was dan dat die gedagtenis aan die weldade net soos met die instelling van Bloedrivier se gelofte, aan die nakomelinge vertel sal word en dat God daarvoor altyd vereer moet word. Dit is dan egter ook die doel vandag waaroor ons dan ook die dag herdenk om u as nakomelinge te herinner aan die beskikkende hand van die Here wat hom met die volksplanting van die volk aan die suidpunt van Afrika Hom oor ons ontferm het.

Van Riebeeck sien homself as lojale amptenaar van die VOC en na 10 jaar aan die Kaap is hy na die Ooste vir bevordering. Maar hy het westerse waardes in die Kaap gevestig. Dit sluit in westerse kennis, argitektuur en landboumetodes. Wat aanvanklik ‘n halfwegstasie, verversingspos vir skepe was, het verder ontwikkel.

Sy belangrikste bydra (in 1657) was toe hy van sommige die VOC amptenare (almal daar was aanvanklik werknemers van die VOC) vryburgers gemaak het. Die het vir hulleself begin boer. Hierdie vryburgers het dan ook gekies om hulle bande met Europa te verbreek en Afrika hulle tuiste te maak. Sodat dit dan met reg gesê kan word dat hierdie vryburgers, as protestante Christene, eintlik volksplanters was en gesien kan word as die eerste Afrikaners. (Hoewel hulle seker nog nie Afrikaanse gepraat het nie).

So, waar ons nou na 370 jaar terugkyk is dit egter duidelik dat nie net was 6 April 1652 die vestiging van ‘n verversingspos nie, maar ook die ontstaan van beskawing. ‘n Christelike, Protestantse ligpunt van beskawing, ontwikkeling en opbou. Uit hierdie verversingspos sou die vryburgers georganiseerde landbou vestig, sou hierdie groepie van hulle die Afrikaner word. Hulle sou die Voortrekker word wat eindelik as mondige volk uit die smeltkroes van die Groot Trek sou tree om die beskawing ook na die binneland van Suid-Afrika te bring.

Uit hierdie baie kort aanlandingsgeskiedenis leer ons ook enkele kritiese belangrike lesse van ons volksidentiteit. Dit leer ons dat die volk wat sou groei uit hierdie volksplanting, uit die wortels van protestantisme kom. Ons Europese voorsate was Calviniste. Dit wil sê, Bybels getroue Christene, wat hulle in elke opsig laat lei het deur die Skrif en die daarop geboude riglyn van die Christelike geloofsleer. Dit leer ons dat hierdie voorouers en die latere Voortrekkers ‘n nuwe beskawing hier gevestig en uitgebou het deur die uitdra en uitleef van hulle Christelike oortuigings. Hulle het baie vinnige gegroei tot ‘n bodemgebonde volk aan die die suidpunt van Afrika.

Anders as blote koloniste het hulle hierdie land hulle eie gemaak deur die sweet van opbou en ontwikkeling en die bloed van selfverdediging. Soveel anders as die aggressiewe bloedvergieting van Afrika Barbarisme en imperialistiese grondgryp (van die Engelse) wat ons latere geskiedenis gekenmerk het. Dit leer ons van die vryheidsstrewe, die nasionalisme, die reg op die voorkeur vir ons eie, ons godsdiensvryheid en ons selfbeskikking. Die embrio van ons volk, ons diepste volkswaardes en volkskenmerke spruit uit hierdie volksplanting 370 jaar gelede. Baie daarvan leef vandag steeds voort in ons volksidentiteit en simbole en die inherente ingesteldheid van opbou.

Ongelukkig blyk dit dat ons nie altyd hierdie stukkie erfenis na waarde skat nie. Kan ons dan vandag weer vra: Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen? Kom ons staan ‘n oomblik stil, en kyk terug en peil vorentoe op die toekoms en draai terug na die afdraaipaaie waar ons verkeerd gegaan het. Dat ons weer die toekoms doelgerig, lynreg kan peil. Vir ons as nageslag van hierdie mense wat die voorsate en volksplanters was, met dank daaraan dat ons vandag hier kan wees.

Glo in jou God, glo in jou volk en glo in jouself, want die stryd duur voort.