Soos onthou deur AH Potgieter, junior, die derde seun uit sy vader se eerste huwelik. Hy is gebore op 15 Okt. 1830, en het hierdie verklaring in Feb.-Maart 1912 afgelê.
Terwyl die trekkerleier, Andries Potgieter, met ‘n ekspidisie weg van sy laer was op soek na Louis Trichardt en lang Hans van Rensburg, is sy laer deur die Matabeles aangeval. Die laer het toe besluit om te versit, weg van hul staanplek langs die Vaalrivier, en terug na Vegkop.
___
Solang as ons trek nog by die Vaalrivier was kom Stephanus Erasmus met ‘n komissie daar aan, om die land te besien. Hulle is die Vaalrivier deur, en toe ‘n ent van ons langs die rivier af getrek… Toe vader van Trichardt terugkom vind hy ons staanplek aan die Vaalrivier verlate, en net die lyke van die swartes nog daar. Hy het toe al op ons wa-spore gekom tot by Vegkop. Dit was ‘n grote blydskap toe hy daar kom, want almal het gedink dat hy en sy maats deur Silkaats vermoor was.
Silkaats het intussentyd ‘n tweede kommando naturelle uitgestuur om ons laer te kom aanval. Die swartes het eers op Erasmus se laer afgekom. Erasmus het dié môre vroeg te perd uitgegaan om te gaan skiet, langs die Vaalriver af. Toe hy die middag by sy laer terugkom, was dit al deur die swartes ingeneem, en al sy mense vermoor; maar die swartes was nog in die laer.
Erasmus het van ons laer hoër op langs die rivier geweet. Hy het toe ‘n wye draai om die swartes gery, om ook te kom waarsku, maar toe hy by ons staanplek kom, was ons al weg. Hy het ons toe al op onse wa-spore agternagesit, en eers by Vegkop het hy ons ingehaal.
Die Liebenbergs se trek was toe nog by wat nou Liebenbergsvlei is. Erasmus het hulle gewaarsku dat die swartes aan’t kom was, maar hulle wou dit nie glo nie, en het daar gebly. Erasmus is toe van hulle af weg om ons te kom waarsku. Van die Liebenbergs het hy gehoor dat ons by Vegkop was.
Toe Erasmus by ons kom het hy net sy perd, klere aan sy lyf, bandelier en geweer; al sy ander goed het in die slag gebly by sy laer.
Toe hy ons sy sware tyding vertel het, het vader dadelik sy jonger broer, Nicolaas, en sy swaer Piet Botha, gestuur om die Liebenbergs te gaan sê hul moet padgee, en ook na Vegkop toe kom. Maar toe hulle daar kom was die Liebenbergs al vermoor. Nicolaas Potgieter en Piet Botha het laat in die nag weer by ons teruggekom.
Die Voorbereiding
Toe Erasmus ons sy tyding bring, het almal dadelik aan die werk gegaan om onslaer so sterk as moontlik te maak. Doringbome word afgeskap en aangesleep, die bome word aan mekaar vasgebind en onder die waens ingesleep en deurmekaar gevleg, en toe met kettings vasgewoel, sodat dit onmoontlik vir die swartes sou wees om dit uit te sleep of af te kap met hul asgaaie.
Toe die laer so sterk was as wat ons dit kon maak, moes daar koeëls gegiet word. Elkeen het geweet dat daar geen tyd sou wees om die kruit en koeëls behoorlik met die laaistok vas te stamp nie, en daarom word die koeëls ‘n weinig kleiner gegiet as wat hul werklik moes wees, sodat hul vanself die loop kon inval, tot op die kruit.
Iedere koeël was toe weer byna deurgesaag in die vorm van ‘n kruis, elke koeël kry daardeur vier punte, wat weer aanmekaar gedruk word. As daar nou geskiet word, dan spat so ‘n gesaagde koeël in vier dele. Die vroue het sakkies gemaak. In elke sakkie was daar van 10 tot 12 lopers. Die sakkies was ook so dat hul die loop kon inval sonder dat ‘n laaistok nodig was om hul af te druk.
In die middel van die laer was vier waens getrek in die vorm van ‘n vierkant. Dit was aan die kante en bo-op bedek met velle, en moes dien as beskerming vir die vroue en kinders.
Die spanning bou op.
Die volgende môre, toe dit begin lig word, is my vader met die mans die laer uit om die swartes tegemoet te ry. Voor die geveg aanvang neem, het my vader met sy tolk vooruitgery na die swartes toe, om te probeer hul te beweeg om om te draai.
Toe vader en sy tolk na genoeg kom, het die swartes op hul afgestorm en asgaaie op hul afgegooi. Toe vader nou eindelik insien dat dit onmoontlik sou wees om die saak op ‘n vredeliewende wyse te skik, het hy teruggejaag na sy mense.
Die swartes het hulle gevolg. Toe vader by sy mense kom, gee hy bevel om te skiet. Die swartes was al digby. Daar was geen tyd om posisie in te neem nie, elke man het sy geweer afgevuur, op sy perd gespring en dan weer voortgejaag. In die jaag moes hulle laai, dan weer halt, afspring en skiet; dan maar weer op die perd spring, jaag, laai, weer afspring en skiet.
Die swartes het maar altyd digby gebly. Op hierdie manier het die geveg voortgeduur tot hul naby die laer was. Toe gee vader bevel dat hul laer-toe moet jaag, sodat hulle die poort of ingang toe kon maak, die gewere skoonmaak, elke man sy bandelier en kruithoring aan kon kry en posisie inneem vóór die swartes by die laer kom.
Iedere man moes ‘n paar bakke of skottels by hom neem, om sy kruit, koeëls en lopers in te hou. In die geveg was daar geen tyd om ordentlik te laai nie. Elkeen moes maar ‘n handvol kruit neem, dit in die loop van die geweer laat val, en dan die koeël of lopers bo-op, en afvuur.
Die swartes het tot by ‘n spruit naby die laer gekom, daar het hulle gaan rus. Dit was omtrent twaalf uur toe ons mense die laer ingejaag het. Drie mans het die veld ingejaag in plaas van na die laer. Hulle het ons, en hul vroue en families daar in die steek gelaat.
Dit was ‘n benoude uurtjie vir ons, solank as die swartes daar by die spruit rus. My oom, Koos Potgieter, kon dit nie meer uithou nie. Hy sê toe aan my vader: “As die swartes moet kom, laat hul dan kom. Ek sal uitgaan en hul aanlok. As ek moet dood dan moet ek maar; dié wag kan ek nie langer uithou nie.”
Die Slag vind plaas.
My vader wou hom nie uit laat gaan nie, maar stap na sy wa, neem sy sweep-stok, bind daar ‘n rooi lap aan en swaai dit na die swartes toe. Die Matabeles neem die uitdaging aan, en begin aan te kom in twee horings. Toe die twee horings om ons laer was, sluit hulle aaneen, en storm toe met ‘n wilde geskreeu op die laer af.
Vader het beveel dat niemand moes skiet voordat sy eie skoot val nie. Toe die swartes omtrent 30 tree van die laer was, vuur vader; en toe was daar ‘n vreeslike geskiet, gefluit, gehuil en geskreeu. Die asgaaie was soos ‘n dikke swerm sprinkane in en oor die laer. Die swartes ruk en pluk aan die takke.
Ons mense verweer hul dapper, en eindelik moes die swartes terugtrek, met agterlating van enige honderde dooies. Hulle het net ver genoeg teruggetrek om buite die bereik van die ou Sannas te kom.
Vader het toe agt van die flukste en ratste manne uitgesoek, en met hulle stap hy die hek uit na die swartes toe, terwyl die ander mans posisie moes inneem op die waens en kiste. Toe vader met sy agt man na genoeg aan die swartes was, begin hul om te skiet. Die swartes storm op hulle af, vader en sy agt man vlug die laer in, en die ander mans moes dan die swartes terugskiet.
Dit het verskeie male gebeur, toe die mense merk dat sommige van die lyke, wat daar om die laer lê, sweet en ander nie. Met die in en uitgaan van vader en sy agt man, het die swartes ook ‘n ander plan bedink. Dit was: as hulle op die laer afstorm, moes ‘n klomp bly lê asof hulle geskiet was, om dan by die volgende keer, saam die laer te kan instorm. En dit was hulle wat in die warm son gelê en sweet het.
Van daar af was dit die gebruik by enige aanval om eers die wat lê en sweet, dood te skiet. Op dié manier het die geveg voortgeduur tot laat die aand, toe die swartes die vlug neem. Al ons vee het hulle bymekaar gemaak en meegeneem.
Na die Slag.
My twee ooms, Nicolaas Potgieter en Piet Botha is daar in die geveg gedood, en drie ander is gewond, een was ‘n Bekker, met ‘n asgaai in die kuit, een was Van Staden met ‘n asgaai deur sy mond, en die derde was ‘n vrou met ‘n asgaai in haar hoof. Na die geveg moes ons kinders en die volk help om die swartes weg te sleep. Daar was 36 of 37 man in die laer.
Vader het aan die sendeling Archbell, tyding gestuur van ons toestand. En hy het toe van die Koranna’s se beeste gekry en na ons toe gestuur. Daarmee het ons toe terug na Masoes se berg getrek.
Die strafekspedisie.
Toe ons by Masoes gekom het, het ons daar ‘n lang tyd versuim. My vader het sy broer, Koos, na die Kolonie gestuur om ons toestand aan die familie en vriende daar bekend te maak. Toe dit hulle bekend word, het daar dadelik 250 of 350 man na ons toe gekom. Daar is toe dadelik ‘n kommando van naby die 400 man onder bevel van my vader, gevorm om Silkaats te gaan straf.
Silkaats se hoofstad was toe in wat nou die Marico distrik is, en by die berg wat later bekend geword het as Ensil- of Enslins-berg.
Die laer kon nie oral met die kommando saam trek nie, omdat hulle te onbekend was met die wêreld en dit ook maar taamlik bergagtig was. Daar word toe besluit om die laer te trek n hele ent vanwaar Silkaats se krale was, en alleen met die perdekommando voort te gaan.
Nog vóór die kommando van Masoes af vertrek het, het ‘n swart-Kaptein Majebie om beskerming kom vra en as beloning vir die beskerming het hy onderneem om die kommando te lei teen Silkaats. Majebie het vroeër in die Transvaal gewoon, maar moes vir Silkaats vlug, en het hy met sy volgelinge in die Vrystaat kom woon.
‘n Aantal van Majebie se volgelinge het agtergebly waar die laer getrek was, om as bediendes behulpsaam te weesl terwyl ander met die perde-kommando meegegaan het as padwysers en bediendes.
Die perde-kommando het toe soveel kos en ammunisie meegeneem as wat hulle kon, en het vortgetrek na Marico, en daar het hulle drie dae met Silkaats geveg, voor die oorwinning behaal is. Die laer was te ver weg van die gevegsterrein vir die burgers om saans daarheen terug te kom.
In die môre begin die geveg, en dan veg hulle die hele dag deur tot dit begin laat word; dan eem die kommando al die vee wat hulle die dag buitgemaak het en trek daarmee weg, so ver as wat hulle kan kom. Dan moet die vee maar so onbewaak gelaat word, terwyl die kommando verder trek om tussen die swart-statte uit te kom, sodat hulle nie in die nag deur die swartes omsingel word nie.
Die nag kom die swartes en neem die beeste weg. Die volgende dag neem die kommando die vee spore tot hulle weer by die swartes kom, dan begin die geveg weer en duur voort tot dit laat word. Dan word die geskiedenis van die vorige aand weer herhaal. Na die geveg van die derde dag, het die swartes nnie weer die gebuite vee kom haal nie, maar het hulle op die vlug geslaan.
Die burgers en hul perde, was al só afgemat, hul kos was ook al gedaan en hul ammunisie byna ook, dat dit onmoontlik was om die swartes agterna te sit. Daar word toe besluit om a die laer terug te gaan, en vandaar na die staanplek by Masoes.
Daar gekom moes al die buit-vee uitgedeel word. Die vriende en familie wat van die Kolonie af gekom het, het geweier om iets te neem, maar het aan my vader gesê: Deel ons gedeelte uit onder die geruïneerde mense.
Die sendeling Lindley was werksaam onder Silkaats se swartes, maar na die gevegte het hy besluit om met die kommando saam te gaan. Hy was bang dat die swartes hom sal vermoor. Ek meen dat hy later na Natal gegaan het.
Aangesien ons nog al die tyd sonder grond was, word besluit om met ‘n gedeelte van die buit ‘n stuk grond te ruil. ‘n Gedeelte tussen die Modder- en Rietriviere word toe geruil van die swart-Kaptein Sikonjela. Daar het ons toe iets meer as twee jaar gewoon.
Majebie het ‘n stuk grond gekry langs die Skoonspruit, westelike Transvaal, en het met sy volgelinge daar gaan woon.
………………….
Bron: Voortrekkermense III; Gustav S. Preller; 1922