Category Archives: Skynregses

Regse Verraad (Deel 2)

Hierdie is deel 2 van ‘n uitgebreide artikel oor die verraad wat gelei het tot die verlies van die politieke mag van die Afrikaner. Sien deel 1 hier.

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis was ‘n lid van die topbestuur van die Konserwatiewe Party (KP). In ‘n onderhoud wat kort voor sy dood met hom gevoer is erken hy dat die algemene konsensus onder lede van die KP-koukus was dat hulle (die KP) ‘n Blanke algemene verkiesing sou kon wen. Met die aankondiging dat ‘n referendum gehou gaan word is die KP-koukus byeengeroep om ‘n besluit te neem oor deelname daaraan of nie. Daar is toe ‘n gelykoptelling van stemme, met Andries Treurnicht wat as leier die beslissende stem moes uitbring. Derby-Lewis reken dat Treurnicht toe die “grootste fout van sy politieke lewe” gemaak het deur ten gunste van deelname aan die referendum te stem.

Marais ywer vir algemene verkiesing

In die voorafgaande maande het die leier van die HNP, mnr. Jaap Marais, herhaaldelik oproepe op die KP-leiding gedoen om ‘n algemene verkiesing af te dwing deur die bedanking van hul setels deur al die KP-volksraadslede. Die reeks tussenverkiesings wat hierop sou volg sou onteenseglik toon dat die NP se steun drasties afgeneem het.  Dit sou die bewys wees dat die Blanke kiesers die grondwetlike hervormings waarmee die regering besig was verwerp en dat hy daarom nie ‘n mandaat van die keisers geniet om daarmee voort te gaan nie. Die hou van ‘n Blanke algemene verkiesing sou dus deur hierdie skuif afgedwing word. En soos vroeër gemeld, was daar algemene konsensus dat die NP dan ontsetel sou word. Selfs Constand Viljoen verklaar op 18 Augustus 1993 dat ‘n algemene verkiesing met 50 tot 60 persent gewen kan word.

Hierdie skuif sou die enigste oorblywende demokratiese weg wees waardeur die Nasionale Party se verraad gestuit kon word. Maar ten spyte daarvan dat die KP geweet het dat so ‘n verkiesing gemaklik gewen sou kon word, het Treurnicht daarteen besluit.

Vanuit geheime kringe kom geheime planne

Intussen is uit Regerings- en Inligtingskringe  ‘n fyn-bedinkte komplot gesmee ten einde te verseker dat hul planne van verraad teen ons volk enduit gevoer sou word, en dat dit nie deur regse verset in die wiele gery sou word nie. In hierdie komplot het generaal Constand Viljoen die sentrale rol vervul. Die regse verset wat besig was om sterk momentum op te bou en wat kon lei tot gewapende weerstand moes deur sy toedoen verhoed word. Daarbenewens moes die aandrang vir die hou van ‘n Algemene Verkiesing geheel ontmoedig word.

IDASA

IDASA is die afkorting vir The Institute of Democratic Alternatives in South Africa. Die instituut is in 1986 deur Frederick van Zyl Slabbert (voormalige leier van die Progressiewe Federale Party – nou die DA) in die lewe geroep. Hulle is befonds deur George Soros wat steeds wêreldwyd in lande se interne politieke sake inmeng.

Linkses ontmoet verbanne ANC in Dakar

In 1987 reël IDASA die Dakar-konferensie met die verbanne ANC. Prof. Abraham Viljoen (broer van Constand Viljoen) en Theuns Eloff (later uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting) was onder die groep liberaliste as lede van die Suid-Afrikaanse Afvaardiging. Let wel, op hierdie tydstip was die kommunistiese ANC wat gewapende terroriste-aktiwiteit teen ons land gepleeg het en honderde mense vermink en vermoor het deur bomontploffings soos die Kerkstraatbom in 1983 en ander terreurdade ‘n verbode organisasie. Dit kon dus as hoogverraad beskou word om met hulle sameprekings te voer.

Conservative Dialogue Program van IDASA

Hierdie selfde volksondermynende ver-linkse organisasie, IDASA, roep in 1992 die Conservative Dialogue Programme (CDP) in die lewe. Die CDP se doel was om regse leiers (waarvan meeste nié so regs was nie) te beïnvloed en hulle te bestuur ten einde te verseker dat De Klerk se verraad nie deur die opbouende regse verset ontspoor word nie.

AVF is CDP se baba

Een van die belangrikste projekte van die CDP was die stigting van die Afrikaner Volksfront (AVF) op 19 Mei 1993. Die doel was om ‘n sambreel-organisasie vir al die regse organisasies daar te stel, met ‘n bestuur wat deur IDASA se CDP beheer word. Generaals Constand Viljoen en Tienie Groenewald sou hierin leidende rolle vervul. Groenewald het aan die Sunday Times van 2 Mei 1993 bevestig dat die leiers van die KP “die generaals” gevra het om die “twistende regse faksies” byeen te bring en voeg dan daarby dat die eerste vergadering van regses (20 April 1994) – as aanloop op die stigting van die AVF die 19de Mei – die vrug was van “months of lobbying behind the scenes”.

CDP-oogmerke en betrokkenes

Van Zyl Slabbert van IDASA skryf op 14 September 1993 as volg aan Hans Daerr in Duitsland:

“The project [die CDP] is of critical importance in avoiding bloodshed in South Africa and promoting effective negotiations. Project purpouse: to promote and sustain dialogue between the centre right, i.e. the Afrikaner Volksfront and the ANC”

Oor wie hieraan deelneem skryf hy verder:

“The most likely persons involved – Afrikaner Volksfront – Genl. Constand Viljoen, Genl. Tienie Groenewald, Genl. C. Visser, Dr. Piet Gous [Vrystaat Landbou-Unie], Dries Bruwer [Transvaal Landbou-Unie]. ANC – Mr. Thabo Mbeki, Mr. Jacob Zuma, Mr. Mdadla.”

AVF se aard verraai

Hierdie val natuurlik uiters vreemd op, want die regse kieser wou glad nie met die ANC onderhandel nie. Juis omdat hulle die onderhandelings verwerp het was hulle nou ondersteuners van die AVF wat, volgens die Suid-Afrikaanse aanlyn-geskiedenis “… gestig [is] deur 21 Afrikanerorganisasies as gevolg van die toenemende behoudende teenstand teen die veelparty-onderhandelinge wat in Kemptonpark aan die gang was”.

IDASA het dus deur sy CDP geknoei om te verseker dat die Afrikaner Volksfront wat in die lewe geroep sou word se leiers reeds besmet is met “avoiding bloodshed in South Africa and promoting effective negotiations”. Hierdie (ver)leiers moes soos die NP handel: Praat na regs – om jou ondersteuners te paai en te laat glo dat jy hulle belange dien, terwyl jy in die geheim na links doen ten einde sekere vooropgestelde doelwitte te bereik. Omdat dit duidelik was dat die Blanke kieser nie die NP se hervormings gesteun het nie en bereid was om dit met wapengeweld teë te gaan, moes die AVF in die lewe geroep word met ‘n leierskorps wat in die hande van die NP sou speel. Dit het die onmoontlike – om ‘n konserwatiewe volk se land en politieke mag van hom weg te steel – moontlik gemaak.

Geen Algemene Verkiesing!

IDASA se CDP moes ook verseker dat die regses nie aandring op ‘n algemene verkiesing nie, aangesien dit ‘n einde sou bring aan die “hervomings” waarmee De Klerk besig was, hervormings wat uiteindelik tot die val van Blank Suid-Afrika sou lei.

Reeds op die tweede vergadering (7 Mei 1993 te Potchefstroom) as aanloop tot die stiging van die Afrikaner Volksfront is beklemtoon dat die AVF téén die afdwing van ‘n algemene verkiesing is. Enkele maande later sou dié standpunt bevestig word en is selfs besluit “dat die moontlikheid van ‘n algemene verkiesing onder blankes nie eens bespreek mag word nie”. Dit val natuurlik baie vreemd op omdat hierdie die maklikste manier sou wees om die onderhandelinge met die kommuniste oor ons eiendom en politieke mag stop te sit en dit was ook die enigste wyse waarop die NP se oorgawe op ‘n vreedsame wyse gestuit kon word. Daarom kan met reg gevra word: maar wat was die doel van die stigting van die AVF dan wel? As organisasie waarvan bereken is dat hy meer as een miljoen lede gehad het, het die AVF uiteraard oor hoë bedingingsmag beskik. Waarom is hierdie mag nie uitgeoefen nie? Waarom is die aandrang tot die afdwing van ‘n algemene verkiesing reeds vanaf die heel eerste vergadering deur die inisieerders van die AVF afgeskiet?

AVF-leiers gekaapte gekooptes

Die antwoord op hierdie tergende vrae lê opgesluit daarin dat die AVF sy ontstaan gehad het in die binnekamers van IDASA se CDP. Van meet af aan was daar agter die skerms gekonkel om leidende persone in die regse politiek asook afgetrede militêre leiers te betrek om IDASA (‘n verlengstuk van die Nasionale Party) se sinistêre doelwitte te bereik. Die ondersteuners van die Volksfront is verraai deur hierdie gekoopte leiers. Die leiers van die AVF het nooit die ondersteuners van die organisasie se sentiment gedeel nie, al het hulle voorgegee dat hulle die ondersteuners se belange dien.

Geheime AVF-onderhandelings met ANC

Onderhandelinge met die ANC-SAKP bende deur die AFV-leiers het in Augustus 1993 in die geheim afgeskop. As die ondersteuners hiervan moes weet sou hul die AVF-leiding verwerp en waarskynlik tot geweld oorgegaan het. Op 12 Augustus 1993 ontmoet genl. Viljoen Mandela aan dié se huis in Houghton, Johannesburg.

Later van tyd, in die jaar 2001 het Viljoen aan Max du Preez van die Sunday Independent gesê dat teen daardie tyd (Augustus 1993) die twee landbouleiers, Dries Bruwer en Piet Gous – albei prominente lede van die Volksfront-leiding – reeds in samesprekings met die ANC betrokke was. Dié samesprekings met die ANC is bemiddel deur Jurgen Kögel van IDASA. ‘n Jaar vroeër reeds (Maart 1992) het prof. Viljoen van IDASA gerapporteer dat hy goeie kontak bewerkstellig het met twee vooraanstaande lede van die KP, mnr. Dries Bruwer en dr. Piet Gous, en dat met hulle hulp dit nodig was om “programme van aksie te implementeer wat die wyds moontlike trefkrag sou hê”. Hierdie was ‘n jaar vóór die stigting van die Volksfront. Só is leiers geïdentifiseer en voorberei vir die misleidings-opdragte wat hulle in die AVF sou uitvoer.

(vervolg in deel3)                                                                                                                                                                                                                                                                                 

Die Verraad wat ons Politieke Mag vernietig het

2024-09-11

deur ANB Nuusbrief Redaksie

Die opspraakwekkende artikel wat hier volg werp lig op die verraad wat teen ons volk gepleeg is en wat daartoe gelei het dat die Afrikaner beheer oor die politieke mag van sy land verloor het. Dié verraad was slegs moontlik vanweë ’n komplot wat gesmee is deur die Nasionale Party, die intellensiedienste en sekere “regse” leiers. Alhoewel hierdie verraad, danksy dokumente met verdoemende getuienis wat kort na 1994 bekend geword het, reeds so vroeg as 1997 in breë trekke blootgelê is, is dit nou volledig bevestig met die vrystelling van die “Afrikaner Akkoord” in die onlangse verlede. Dieselfde verraderlike dokument word ironies genoeg nou weer opgehemel, asof dít die Afrikanervolk se sleutel tot selfbeskikking in ’n eie volkstaat lê. En helaas, diegene wat hulle nou by die verraderlike “Akkoord” skaar, sit opnuut die verraad van 1994 wetend of onwetend voort.

Die artikel gee ’n oorsig van daardie verraderlike gebeure, sodat ons volk toegerus kan word om die nuwe veragtelike pogings om ons te mislei, te identifiseer en aan die kaak te stel. Laat ons hierdie nuwe misleidingspogings verwerp met die minagting wat dit verdien. 

Heel Suid-Afrika ís ons land! Ons val nie vir die geelwortel van ‘n “Volksstaat” in ruil waarvoor verraaier-politici die politieke seggenskap oor ons erfdeel, Suid-Afrika, aan ‘n kommunistiese Swart meerderheid oorhandig het nie.  Dit bly ons vertroue en verlange dat die Here wéér aan ons vryheid sal skenk in ons ganse Vaderland, soos so dikwels in ons geskiedenis gebeur het… Sý Hand is nié te kort!

Omdat dit so lywige onderwerp is, het ons die artikel in 4 dele verdeel.

Deel1, Deel2, Deel3, Deel4 en Deel 5.

Hier volg dan nou die eerste deel:

REGSE VERRAAD (Deel 1)

Regs en Links

Die Afrikanervolk is soos meeste ander volke verdeel in twee groepe – dié wat vanweë ‘n diepgewortelde volksnasionalisme konserwatief van inbors is, en dié wat ‘n meer liberale uitkyk op die lewe het. Ons praat van die regses en die linkses. Beskou mens die geskiedenis van ons volk kan hierdie verdeling reeds van die vroegste tye gade geslaan word. So was die deel van die volk wat ‘n meer liberale siening huldig in die 18oo’s dié wat hul heel gemaklik onder Engelse bewind aan die Kaap gevoel het. Hulle beweeg aan die buiterand van die harde nasionalistiese kern waaruit ‘n volk saamgestel is. Daardie stel waardereëls wat die aard en wese van ‘n volk bepaal. Die konserwatiewe denker vind homself altyd nader aan hierdie kern, hy lééf hierdie waardes en koester dít wat sy volk uniek maak.  Die liberale mens is pragmaties in sy denke , individualisties en meer gesteld op eiebelang. Die konserwatis daarteenoor is beginselgebonde, sien homself as deel van ‘n groep en stel gewoonlik eiebelang ondergeskik aan die groter geheel waarvan hy deel vorm – hetsy dit sy gesin, familie, gemeente/gemeenskap of volk is. Sy benadering is om altyd vanuit beginsel, eerder as vanuit omstandigheid te handel.

Hierom moes die konserwatiewe Vryburger van daardie era homself losskeur van Britse oorheersing aan die Kaap, die vreemde in, Sy dryfveer: die drang na vryheid – om homself te kan wees en oor homself te kan regeer! Die liberaalgesinde kon egter maklik vir homself ‘n tuiste vind onder Britse oorheersing, solank hy vir hom en sy gesin ‘n gerieflike, gemaklike plekkie daar kon skrop.      

Anglo-Boere-oorlog

Netso het die liberaalgesinde volksgenoot tydens die Anglo-Boereoorlog geen probleem gehad om aan die Engelse perde en voer en hulp te voorsien nie – wel teen groot beloning en beskerming van homself, maar tot nadeel van die volk waaraan hy behoort. Soos dit die liberale denker betaam – deurentyd in sy besluitneming gedryf deur omstandigheid, eerder as beginsel, met eiebelang wat altyd prioriteit geniet.

Maar gedryf deur sy lojaliteit aan volk en land en in nastrewing van die vryheidsideaal wat hom deurgaans inspireer het die konserwatiewe Bittereinder ter wille van die hoër saak, in troue beginselvastheid, groot verlies en lyding verduur. Moed en durf asook vaste geloofsvertroue in die Almagtige wat sy volk tot hier gelei en bewaar het, besiel hom tot stryd en ontbering en die bring van hoë offers.

Die Afrikaner is oorwegend konserwatief

Kenmerkend van die Afrikanervolk is dat die oorgrote meerderheid van volksgenote nog altyd dié is wat hierdie nasionalistiese konserwatiewe waardes voorstaan. Daar bestaan ‘n sterk drang na behoud van sy erfenis en ‘n trots op sy herkoms en bestaansreg as volk voor God. Getuienis van ‘n behoudende, konserwatiefdenkende nasie. Die sterkste bewys daarvan is dat hy oor al hierdie eeue as Blanke volk bly voortbestaan het. Genetici bereken die persentasie van Afrikaners se Europese herkoms as 98.9%. As dit vergelyk word met die graad van rasvermenging in ander Afrika-lande met Blanke setlaars word die merkwaardigheid daarvan besef. Van byvoorbeeld die Portugese in Mosambiek en Angola bestaan alleen nog net hul taal, of ‘n brabbel daarvan wat deur ‘n baster-nageslag gebesig word. 

Die konserwatiewe waardes van behou, bewaar, beskerm, bemin, behoed, verinnig blyk dus duidelik die waardesisteem te wees waarvolgens die oorgrote meerderheid van ons volk hulself betuig.

Hoogtepunt van Afrikaner-nasionalisme

Met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 en in die jare wat daarop volg tot en met dr. Verwoerd se sluipmoord in 1966 bereik die Afrikaner-nasionalisme sy hoogtepunt. Op die vryheidspad van die Afrikaner was die daarstelling van ‘n Republiek in 1961 ‘n grootse moment. Daarmee is die volk se heerskappy oor Blank Suid-Afrika – van Messina tot by Kaappunt, bevestig en verseël, en ook internasionaal so erken. Hierdeur is die laaste greintjie Britse heerskappy afgeskud. Dit het eindelik beslag gegee aan generaal Hertzog se wekroep: “Suid-Afrika eerste!”.

Eerste afwykings

Ná dr. Verwoerd se moord het die verdeling tussen liberale en konserwatiewe volksgenote duideliker geword. Onder aansporing van buitelandse druk en met finansiële beloning deur vyandige geldmagte is Afrikanerleiers oorreed om meer liberale beleidsrigtings voor te staan. Gedagtes soos “detènte” – basies: paai die Swartman en gee hom gelyk om sy guns te probeer wen – is nou deur John Vorster wat dr. Verwoerd as Eerste Minister opgevolg het, aangehang. Vorster het begeer om deur sy uitwaartse beleidsrigting  sterk aansluiting met leiers van Swart buurlande te soek. Dit is egter onmiddellik deur hulle as swakheid gesien en het aanleiding gegee tot verhoogde vyandigheid deur hulle en het tot verhoogde druk vir verandering van Suid-Afrika se binnelandse beleid gelei.

Voete van klei

Die New York Times beskryf John Vorster as volg: “John Vorster, a far more subtle and flexible politician…’ Direk in kontras tot sy voorganger se onkreukbare beginselvastheid. Vorster se opvolger, PW Botha, se wekroep was “adapt or die”! Nie meer die beproefde beginselgegronde pad van die Nasionale Party soos vergestalt onder die leiding van Malan, Strijdom en Verwoerd nie. Nou verkennend na buite en voel-voel die donker in…

Só is die pad ingelui na die vernietiging van die ideale soos vergestalt in Republiekwording. Die weg is gebaan na selfvernietiging en oorgawe aan die “Swart meerderheid”. Dié oorgawe was dan ook inderdaad die gevolg op die afwykende beleidsrigtings wat deur die opvolgers van Verwoerd nagevolg is. Die waarskuwings deur “doemprofete” vanaf die jare 1969 en verder, dat hierdie afwykende beleid tot ‘n Swart meerderheidsregering sou lei is inderdaad presies 25 jaar later in 1994 bewaarheid. Diegene wat vrot eiers en tamaties gegooi het en vergaderings van vêrsiendes wat hierteen probeer walgooi het opgebreek het, moet vandag hul koppe in skaamte laat sak in erkenning dat daardie handjievol beginselvaste manne en vroue toe al die tyd reg was.

Hierdie gemors is ‘n produk van die liberale denke

Konserwatisme behou, Liberalisme vernietig. Konserwatiewe Blanke bewind het vooruitgang, netheid en  orde beteken, maar dit is in 1994 vervang met stagnering en agteruitgang, wetteloosheid, korrupsie, wanorde en chaos. Die noodwendige eindproduk van die toepassing van liberale beleidsrigtings.

Praat na regs, doen na links

Die vraag is natuurlik hoe dit moontlik was om hierdie oorwegend konserwatiewe volk langs liberale weë te kon lei tot oorgawe en selfmoord. Die antwoord: deur beoefening van oneerlike politiek. Praat na regs, maar doen in die geheim na links. De Klerk se Nasionale Party het in aanloop tot die 1992 referendum slagspreuke soos : Eie skole, eie woongebiede gebruik om die misleides te paai, die indruk te skep dat hulle die Afrikaner se belange wil beskerm. Elke denkbare vorm van laakbare misleiding is oor dekades deur die Nasionale Party aangewend om seker te maak dat hy nie sy oorwegend konserwatiewe kiesersbasis vervreem nie – iets wat definitief wel sou gebeur indien die leiers hul ware intensies, naamlik om die Blanke sy politieke mag te ontneem en hom derdeklas-burger in sy eie land te maak – sou bekendmaak.

FW hervorm koorsagtig

Die merkwaardige is egter dat prysgawe van politieke mag steeds nie in 1994 sou kon plaasvind sonder die toetrede van sogenaamde regse rolspelers nie. Teen die laat tagtigerjare het die volk reeds erg skepties gestaan teenoor die hervormingsplanne van De Klerk. Dat dit besig was om af te stuur op Swart meerderheidsregering het nou deurgedring tot die meerderheid van die Blanke kiesers. Hulle het tot die besef gekom dat FW en die Nasionale Party besig was om ons uit te verkoop. Dit het veral duidelik geword na FW de Klerk se toespraak op die 2 Februarie 1990 – die sogenaamde Rooi Vrydag toespraak (geskryf deur niemand anders nie as genl. Tienie Groenewald – later een van die “regse” generaals in die Afrikaner Volksfront!) De Klerk kondig met dié toespraak aan dat verbanne organisasies soos die African National Congress (ANC) en die SACP (Kommuniste Party) ontban word. Kort hierna laat hy Nelson Mandela vry, ten spyte daarvan dat Mandela botweg weier om geweld af te sweer – ‘n “ononderhandelbare” voorwaarde wat destyds deur die regering gestel is.

Die politieke gety draai skerp teen die regering. Momentum bou onstuitbaar op vir die omverwerping van die Nasionale Party by die stembus. Daarom moes De Klerk alles in werking stel om sy verraad teen die volk te voltooi voordat die volgende Blanke algemene verkiesing volgens die grondwet in September 1994 moes plaasvind. Sonder twyfel sou die Nasionale Party met daardie verkiesing ontsetel geword het. Die kiesers het deur die leuens en verkiesingspropaganda gesien en besef dat die toekoms van ons land en die Blanke beskawing in doodsgevaar verkeer het.

Potchefstroom en Virginia tussenverkiesings

Met die tussenverkiesings wat in 1992 in Virginia in die Vrystaat en kort daarna in Potchefstroom in die Wes-Transvaal plaasgevind het was dit duidelik dat die skrif aan die muur was vir die Nasionale Party-regering. Hulle sou ‘n algemene verkiesing nie kon oorleef nie.  In reaksie hierop kondig FW de Klerk enkele dae ná die Potchefstroom-tussenverkiesing die hou van ‘n referendum aan.

Vervolg in deel 2

                                                                                                                                   

ANB NUUSBRIEF: AAN JOU VRIENDE WORD JY GEKEN

31 Augustus 2024

Politieke onstuimigheid

Daar is sonder twyfel tans ‘n versnelde pas in ontwikkeling van politieke sake te bespeur. Die struikelende ANC poog om mag te sentreer na die insluiting van ander partye by die “Eenheidsregering” of GNU.

Van alle kante breek onstabiliteit los – regeringslui is wantrouig teenoor mekaar: die ANC as party is erg verdeeld; die Swart bevolking raak opstandig en kriewelrig met hul regering; heelwat van hulle, veral die SAKP-vleuel is ongelukkig met die insluiting van die DA in die regering; Nuwe DA-ministers kom agter dat dit makliker is om vanuit die opposisiebanke kritiek te lewer as wat dit is om hul departemente (waarvan die amptenary ANC-gesindes is) “reg te ruk”.

Ramaphosa se dae getel

Maar die grootste enkel bekommernis vir Ramaphosa moet sonder twyfel die geldmag wees. Hy is immers deur hulle grootgemaak – geskool en afgerig vir die pos wat hy tans beklee. Hy is daarom met hulle onderduimse planne en groot mag geensins onbekend nie.

En, soos met Zuma die geval was, is die gety besig om ook vir Ramapôs verkeerd te draai. Diegene wat hom aan bewind geplaas het is kennelik besig om te oorweeg of die alternatief wat hulle sedert 1994 in die hoed hou, nou in werking gestel moet word. En Ramaphosa maak nie deel uit van daardie planne nie.

Afrikanerbond/Broederbond se verraad

Die Afrikanerbond, wat voor 1994 as die Afrikaner Broederbond bekendgestaan het, was die argitekte van die Nuwe Suid-Afrika – die gemors waarin ons ons tans bevind. Hulle het hoogverraad gepleeg deur alreeds in 1985 in persoon, van hul destydse voorsitter, prof. Pieter de Lange, in New York met die toe verbanne en onwettige ANC, geheime samesprekings te voer.

Dit, nadat hulle op eie erkenning reeds vanaf die middel 70’s (skaars ‘n dekade nadat dr. Verwoerd uit die pad gehaal is), binne die Broederbond begin samesprekings voer het oor die (on)volhoubaarheid van die apartheidsbeleid. In dieselfde jaar van hul huigelagtige en verraderlike samesprekings met die ANC, verskyn die eerste dokument uit hul binnekring wat ‘n nuwe bedeling bepleit. Reeds in 1986 laat hulle ‘n dokument die lig sien wat ‘n Swart regering vir Suid-Afrika in die vooruitsig stel en dit ook so aanbeveel.

In die Broederbond-binnekring is die NP-regering se denke en beleid gevorm. Deur hulle toedoen is die klimaat en voorwaardes geskep vir oorgawe van mag aan ‘n kommunistiese regime.

Afrikaner-Afrika-Inisiatief

Hierdie selfde verraderlike organisasie is nou weereens betrokke by die beplanning van ‘n nuwe bedeling. Hiervoor is hulle ingebind in ‘n nuwe organisasie by name die Afrikaner-Afrika Inisiatief (AAI).

Die AAI stel hom by monde van sy sameroeper, Chris Opperman, ten doel om “die Afrikaner as inheemse gemeenskap in gesprek te laat tree met Afrika” en “Terwyl ons moet erken dat ons groot foute in die verlede gemaak het, is ons verbind tot ‘n toekoms in Afrika”.

Theuns Eloff

Die medevoorsitter van die AAI is dr. Theuns Eloff – voormalige voorsitter van die FW de Klerk-stigting. Hy het in 1989 die predikant-beroep verlaat vanweë die feit dat hy deel was van verdere geheime, onwettige samesprekings met die toe nog verbanne ANC daardie jaar, hierdie slag in Dakar.

Hy het gehelp met fasilitering van die “vredesooreenkoms” met die ANC in 1991, was deel van Kodesa en hoof van die administrasie van die Veelparty Onderhandelingsproses in 1993/4 – hy was dus instrumenteel in die versekering van oordrag van mag na ‘n Swart regering.

Wie is ingeskakel by AAI ?

By hierdie organisasie, die Afrikaner-Afrika Inisiatief, is die Afrikanerbond ingeskakel om weer opnuut planne daar te stel vir ‘n nuwe bedeling. Die verbasende is egter die politieke bedmaats wat saam met hulle hierdie reis onderneem: Ja, ons verwag om die FAK, die Thabo Mbeki Foundation, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns en natuurlik die Afrikanerbond hier te sien.

Hulle is immers almal ou bekende liberale organisasies, geswore vyande van die Afrikanervolk; almal meelopers van en aktiewe medewerkers aan die mislukte, huidige bedeling. Maar, baie insiggewend is die volgende organisasies wat vir sommige as verrassing sal kom: Solidariteit en sy meelopers soos Afriforum, Saai, Sakeliga en dan ook die Vryheidstigting van Carel Boshoff van Orania.

Geen heil vir die Afrikaner in bewindsrevolusies deur linkses

Ja, aan jou vriende word jy geken.

Die vriende van hierdie “regse Afrikaner-organisasies” vertel die volle verhaal van hulle eintlike doelwitte, en wys kristalhelder hul ware kleure!

Nogeens, soos in die laat 70’s van die vorige eeu gekonkel is om ‘n bewinds-rewolusie te bewerkstellig, is hierdie gespuis nou opnuut besig om ‘n alternatiewe regering vir die ANC daar te stel. En daarin lê vir die Afrikaner en sy vryheids-ideaal geen heil nie.

“Breë Gemeenskapsfront ”

In 2022 verklaar die Afrikanerbond dat ‘n burgerlike samelewing nie meer vir die regering wag nie, maar self die leiding moet neem om dienste te lewer en instellings te vestig.

En wie besing hulle in hierdie verband? Die Solidariteitsbeweging wie se nuwe kernkrag elektrisiteitsplanne deur hulle hoë lof toegeswaai word. Hulle verklaar verder: “dit (is) nou noodsaaklik dat burgerlike organisasies en gemeenskappe regoor Suid-Afrika moet saamwerk om alternatiewe oplossings vir die land se vele uitdagings, waaronder misdaad, lae ekonomiese groei, staatsverval en gebrekkige dienslewering, te vind.”

Op dieselfde trant bepleit dr, Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus in die Rapport van 24 Julie 2022 die daarstel van ‘n breë gemeenskapsfront, wat saamgestel moet word deur politieke partye, burgerlike organisasies, kerke, sakelui, akademici ensomeer.

Diegene aandadig aan ondergang van Blank SA hou “Ons sal self…” toesprake

In Oktober 2022 hou die Erfenisstigting ‘n gespreksessie.

Die sprekers is Barend du Plessis, oudminister van finansies, Koos van der Merwe, oud-KP-LV en Stoffel van der Merwe, oudminister van onderwys, Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, met ‘n ander Afrikanervyand, ds. Cassie Aucamp as gespreksfasiliteerder.

Almal voorheen aandadig aan die ondergang van Blank Suid-Afrika. Die sentrale tema van hul toesprake: “ons sal self” en “Afrikaners sal nou moet selfdoen”.

Wat is die liberales se oplossing na ineenstorting van huidige bestel?

Maar al meer kom in gesprekke voor dat “dinge nie so kan aangaan nie”. Die GNU behoort ook binnekort sy krake te begin wys, vanweë die radikaal verskillende denkwyses aldaar. Nie soseer in beginsel nie, as eerder in handelswyse. Die moontlikheid vir die ineenstorting van die huidige bestel word al groter.

Wanneer die bestel inmekaarstort wil die AAI se manne gereed staan om ‘n alternatiewe regering daar te stel – Siener se Doringbos-regering. 

Moenie jou laat mislei nie

Laat daar by die volbloed Afrikaner geen twyfel bestaan oor die beweegredes en duistere motiewe van hierdie onheilige alliansie nie. Moet u nie laat mislei dat die doel is om van die ANC ontslae te raak en dit daarom goedgepraat kan word nie.

Die duistere motiewe van hierdie mense wat ons voorheen met hul geheime planne in die huidige gemors laat beland het, bepaal dat hulle vorentoe ook nie vertrou kan word nie. Staan vas in u geloof, in die wete dat ons hulp en redding van Bo kom. Beginsels staan vas en word nie deur omstandigheid gedikteer nie.

Afrikaner-vryheid lê nie in “gesprek en samewerking met Afrika” nie, maar soos Jaap Marais gesê het: na binne, en na Bo!

Oproep tot die stryd.

Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging weier om betrokke te raak by organisasies soos die AAI en sal steeds voortgaan om ons volksgenote teen misleidings soos hierdie te waarsku.

Vind ons Grondslag en Doelstellings, Kontakbesonderhede en Bankbesonderhede hier. Ondersteun ons in die stryd teen die liberalisme wat grootliks verantwoordelik was vir die oorgawe van alles wat vir ons dierbaar is aan die swart kommunistiese bestel, en ook verantwoordelik is vir die voortgesette aanslag op ons volk se Christelike waardes.