Spanning laai op in Swart geledere
Met die verkiesing wat oor enkele dae gaan plaasvind is spanninge besig om op te laai.
Ten eerste is die spanning in Swart geledere duidelik tasbaar, veral in Natal – waar voormalige bondgenote wat almal eens saamgetrek was in die ANC nou mekaar se kele wil afsny. Dit herinner sterk aan die woorde van wyle meneer Jaap Marais wat voorspel het dat die bestel nie sal staande bly nie, dat daar ‘n ineenstorting sal plaasvind wat met geweld gepaard sal gaan en dat dit sal begin as Swart-op-Swart geweld. Die politieke geweld daar in Natal is besig om kommerwekkende afmetings aan te neem soos wat leiers en ondersteuners van die ANC, EFF en die voormalige ANC-president, Jacob Zuma (nou by MK) mekaar die stryd aansê. Dit sal na alle verwagting in intensiteit toeneem soos ons die verkiesing nader.
Met die hoogs vlambare en uiters onstabiele situasie in ons land is dit natuurlik raadsaam om die nodige voorbereidings te tref ten einde gereed te wees om huis en haard te beskerm. Daar is ‘n hoë moontlikheid dat geweld en selfs pandemonium rondom die verkiesing of kort daarna kan uitbars.
Beginselvaste Afrikaners wil nie aan mislukte bedeling deelneem nie
Tweedens is daar die groot stryd om die “dwarstrekkerige”, konserwatiewe Afrikaner by die stemmery betrek te kry. Hierdie groepering van beginselvaste Afrikaners is duidelik ‘n groot kopseer vir die magte in beheer. Dit maak die liberalis doodsbenoud dat so ‘n groot proporsie beginselvaste Afrikaners hul nie laat intrek en besmet met die klad van die mislukte bedeling wat hulle veroorsaak het nie.
Flip Buys erken dat die NSA ‘n fout was
Lees mens wat Flip Buys – ywerige medewerker aan die totstandkoming van die veelrassige “Nuwe” Suid-Afrika (NSA) te sê het, dan begryp mens hul dilemma. Hulle is mede-verantwoordelik vir hierdie gemors. Maar dié wat dit van meet af aan teëgestaan en beveg het, en steeds nie daaraan deelneem nie is vir hulle doring in die vlees. Hulle is die gewete wat hul deurgaans herinner aan hul growwe oordeelsfoute en gewoon blatante verraad. Daarom ywer hulle vervaard om almal by die NSA se demokratiese proses te betrek sodat almal eindelik medepligtiges aan hul mislukte eksperiment sal wees.
Buys skryf:
Die verdiepende krisis in die land laat baie Afrikaners só moed verloor dat hulle meer oor die probleme kla as wat hulle iets daaraan doen. Dit geld selfs vir diegene wat al dekades gelede die komende krisis voorsien het, in ‘n tyd toe hulle vir hulle versiendheid aangeval en uitgestoot is as politieke uitgeworpenes. Die gevaar bestaan dat mense ‘n soort leë troos vind in die feit dat hulle reg was, in plaas daarvan om dit wat verkeerd is, reg te maak.”
Hierdie “verdiepende krisis” meneer Buys, is die gevolg van jou en ander kortsigtige Afrikaners se toedoen. Juis dáárteen is julle gewaarsku! Maar julle wou dit nie toe hoor nie want julle wou so graag optimisties help bou aan ‘n Nuwe Suid-Afrika. Dié wat “die komende krisis” voorsien het, het vir julle pertinent gewaarsku teen die gevolge van die dwase weg waarop julle jul begewe het. Ja, en die wat “vir hulle versiendheid aangeval en uitgestoot is as politieke uitgeworpenes”, is deur júlle só gebrandmerk. Dit het julle gedoen ten einde jul eie betrokkenheid by die verraad te verdoesel. Onthou jy nog jou skandelike smeerbrief aan mnr. Jaap Marais in 1993, meneer Buys?
Volk is mislei voor 1994 om deel te neem en sodoende oor te gee
Julle het die volk mislei deur mooipraatjies en probeer dieselfde taktiek nou weer. Julle behoort eintlik nou te sê: Julle was toe al die tyd reg. Julle behoort by die versiendes (soos jy hulle self noem) kers op te steek oor wat die pad vorentoe behoort te wees. Maar helaas, nogeens kom jy met geykte stellings en soetklinkende woordjies soos
“hulle moenie terugdink aan die verlede toe dinge gewerk het, in plaas daarvan dat hulle skeppende en energieke organisasies is wat aan ‘n beter toekoms bou” (Vanuit dieselfde skrywe as hierbo)
U sien, meneer Buys, dit gaan nie hier oor ‘n “donker pessimisme” waaraan ons ly nie, maar oor ‘n heldere realisme oor die werklikheid waarin ons staan – net soos wat dit voor 1994 ook daaroor gegaan het. Die bewys daarvoor is duidelik te sien in die uitkoms van die keuse. Julle positiewe meebou aan die NSA het alleen gelei tot die verval en chaos wat ons nou beleef. Miskien sou donker pessimisme (lees nugtere versiendheid) die beter pad wees om te volg! Inderdaad is die beslissing oor jul dwase keuse van saamwerk en opgaan in die bedeling duidelik: die ineenstorting van ons land!
Huidige mislukte staat is die gevolg daarvan
Is julle trots op die mislukte staat wat julle tot stand help bring het? Wat, buiten julle nuwe optimisme, kan as ‘n ligpunt of suksesstorie uitgelig word sedert 1994? Is julle trots op die mislukte ekonomie, die verval van stadsrade en infrastruktuur, die bedrog, diefstal en korrupsie, die skandelike toestand van Eskom of die Poskantoor …. die lys is eindeloos.
Juis hierteen het die versiende realiste wat so deur julle verguis is, gewaarsku.
Flip Buys en ander ja-broers is verantwoordelik vir instelling van die Swart meerderheidsregering
U, en die groepe waarmee u hande gevat het om die volk blindelings oor die afgrond te lei is hiervoor verantwoordelik en moet die volle blaam daarvoor dra. Daardie misleiding het ‘n nuwe Swart bewind tot stand gebring. Dit het daartoe gelei dat ons die politieke mag verloor het. Julle saampraters en ja-broers was verantwoordelik vir die instelling van ‘n Swart meerderheidsregering oor Blank Suid-Afrika.
En ten einde hierdie Afrikaner wat van voor 1994 deur julle planne gesien het nou stil te maak, wil julle hulle opnuut by julle optimistiese, positiewe saamwerk en saambou plannetjies betrek. Maar sodoende verseker julle dat hulle nog langer in hierdie bedeling tweedeklas-burgers bly. En om dit te bewerkstellig moet julle hulle by die stembus kry. Sodat geeneen kan sê: ek was my hande in onskuld, ek het hier geen deel aan nie!
Geen wonder nie dat Dirk Hermann enkele dae gelede op Facebook liries raak oor die opname onder lede van Solidariteit. Daarvolgens gaan meer as 97% van hulle stem. Dit laat Hermann opgewonde die voorspelling waag dat “Afrikaners oorweldigend gaan stem”. Die IPSOS-opname ‘n maand vroeër berig egter dat meer as 35% mense sê dat daar geen politieke party is wat hulle sienings verteenwoordig nie. Natuurlik het ons al in die verlede gesien dat “meningsopnames” gewoonlik eerder meningsvormers is. In tipies manipulerende styl moet die Afrikaner oorreed word om te gaan stem.
Ons land, ons Godgegewe erfenis is van ons weggesteel. Nie deur die Swart massas nie, nee, deur misleiers soos FW de Klerk en kie. En hierin is hulle ywerig ondersteun deur “regse” groeperinge wat dit vir hulle moontlik te maak om hierdie grootste verraad teen ons volk te pleeg. In plaas daarvan om direk daarteen stelling in te neem, viervoet vas te steek en botweg te weier, het hulle as paaiers en saampraters verwarring gesaai ten einde die NP genoeg tyd te gee om mag oor te dra.
Instrumenteel hierin was “regse” organisasies soos die Afrikaner Volksfront – met die generaals – Constand Viljoen en Tienie Groenewald. Twee uitgelese liberaliste (Groenewald het selfs De Klerk se Rooi Vrydag-toespraak geskryf). In plaas van gewapende weerstand soos beloof het hulle kort voor die 1994-verkiesing gekapituleer, die Vryheidsfront geregistreer en self aan die verkiesing gaan deelneem. Dan ook die Konserwatiewe Party – die “wenparty” – waar was hulle leiers toe hulle moes veg vir hul honderd-duisende ondersteuners? Saam met die Volksfront is hulle deur IDASA se Conservative Dialogue Program omgekoop om eerder hul mense te verraai. Dit is ook bevestig toe hulle enkele jare later in die Vryheidsfront van die “regse” generaal Viljoen opgegaan het.
Oproep bly steeds: Bly weg van 29 Mei verkiesing!
Moet u nie laat mislei of deur die mooipraatjies van die hedendaagse wolwe in skaapsklere laat manipuleer nie. Staan as Afrikaner by u reg – ons is die wettige eienaars van hierdie land. En ‘n beduidende aantal van ons volk het daardie reg gestand gedoen deur sedert 1994 nie aan hierdie mengelmoes-verkiesings deel te neem nie. Daardeur is ons volk se weiering om hierdie verraad te erken of daarin op te gaan, bevestig. Wees trots op u erfenis en oefen steeds die reg uit om NEE te sê. NEE vir hierdie bedeling. NEE vir veelrassige regering oor ons eiendom. NEE vir die meelopers wat ons land weggegee het. NEE vir die uitbring van ‘n stem op 29 Mei.
Ons weier om as klein minderheidsvolkie geklassifiseer te word. Ons is ‘n trotse volk in eie reg, ‘n volk met ‘n roemryke verlede en, met God’s genade, ‘n blink toekoms in Blank Suid-Afrika! Ons sal nie as volk in getalle getel word nie, nee, ons word geweeg deur ons bestaansreg as volk wat deur God in aansyn geroep is. As trotse eienaars van die land waar Hy ons ingelei en ons toegelaat het om die land te tem en aan die elemente te ontworstel. Daarop berus ons reg om terug te wen wat deur verraad van ons weggesteel is!