Category Archives: Geskiedenis

Ons Gedenk: Cato Manor 24 Jan. 1960

Vandag 62 jaar gelede, het die verskriklikste slagting op polisiemanne in Cato Manor, Durban plaasgevind. Soos Brig. Hennie Heyman tereg sê: “As die Sharpevillie “massamoord” nie ‘n slagting onder die opstokers was nie, sou dit (soos Cato Manor) op ‘n massamoord van polisiemanne uitgeloop het.”

Hier volg ‘n saamgestelde vertelling van die gebeure, vry vertaal uit Engels.

Vooraf:

Volgens ‘n wet ingestel in 1908 deur die Britse wetskrywers, was dit onwettig om bier te maak en te verkoop. Op hierdie dag het die polisie, soos gewoonlik, weer ‘n klopjag geloods op een van die sjebiens waar onwettige bier verkoop is.

Agtergrond:

“…stakings het in middel 1959 in Natal begin toeneem… Tydens die stakings is baie mense gedood, eiendomme vernietig… huise verbrand… algemene paniek het losgebreek.”

“…Toe ‘n eenheid van 7 wit en 17 Zulu polisiemanne op patrollie by ‘n shebien aankom, het die gevoelens gou ontvlam toe ‘n vrou begin kla het dat een van die polisie offisiere op haar voet getrap het. Al het die konstabel om verskoning gevra, het die geroep en gekerm net aangehou en baie gou het ‘n beskonke bende van om en by 800, gewapen met stokke en pangas, die patrollie met klippe begin bestook….”

Na waarskuwingskote in die lug geskiet is, en dit geen uitwerking op die massa gehad het nie, het die oorblywende deel van die patrollie in twee aangrensende hutte gaan skuil. Hulle het net 24 patrone altesaam by hulle gehad, maar het dapper geveg tot die laaste oomblik. Na die deure en vensters afgebreek is, is hulle vermoor en in stukke gekap.

Die name van die 9 vermoorde Polisie manne is:

Sergeant. K Buhlalo

Constables CC Kriel

CPJS Rademan

GJ Joubert

LW Kunneke

F Dhludhla

P Jesza

M Nzuza

P Mtetwa

Mag ons hulle en die bitter hartseer gebeurtenis nooit vergeet nie.

Om ‘n lig te wees aan die Suidpunt van Afrika – 1652

“6 April 1652 is ‘n hoog uitstaande baken in ons geskiedenis. DIt was die begin. En… ‘n wonderbare begin. As ooit die spreekwyse: “Die mens wik, maar God beskik”, op ‘n gebeurtenis van toepassing is, is dit hier die geval.

150 jaar lank het die handelskepe van Portugese, Engelse en Hollanders die Stormkaap verbygeseil sonder dat daar ‘n plan bestaan het om hier ‘n volksplanting in aansyn te roep.

Ook nog in 1652 was daar onwilligheid by die direkteure van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie om hier meer as ‘n verversingstasie te stig. Tewens lyk dit of selfs Jan van Riebeeck eers nie lus gehad het om hier te bly nie.

En tog het 6 April 1652 die geboortedag van die blanke beskawing in Suid-Afrika geword.

En die verversingstasie het sy ideële inslag gekry. In onverganklike skrif moet die gebed van Van Riebeeck — ja, toe het sy hart gespreek! — in ons geboortegeskiedenis gegrif word. Hier volg die gebed wat ons uitgangspunt is; ‘n gebed wat nog altyd moet lewe onder ons en ‘n spoorslag moet wees tot hoër, edeler dinge.

Die gebed : (uittreksel vry vertaal in Afrikaans)

“O, Barmhartige, goedertieren God en hemelse Vader, ons bely dat dit u Goddelike Majesteit se besluit was om ons te roep tot die bestuur van die VOC se sake alhier aan die Kaap. Dat ons hier in U heilige Naam vergader is, om besluite te neem in die diens wat die Kompanjie vereis. Dat ons ook reg sal laat geskied. Wil gee dat onder hierdie wilde brutale mense (moontlik) u ware Gereformeerde Christelike Leer, mettertyd, mag verkondig word, tot U heilige Naam se lof en ere….”

Na aanleiding en op grond van dié gebed gaan ons nie ondersoek in hoever die hoë ideaal van Van Riebeeck nagekom is nie — dit moet die historikus doen. Ook sal nie nagespeur word in hoever ons volk aan die ware Christelike Gereformeerde Leer getrou gebly het nie — dit moet die teoloog en kerkhistorikus doen. Wat ons wil beklemtoon, is dat uit dié gebed ‘n ligstraal skyn wat die hele kontinent van Afrika moet verlig.

Dus nie materiële, politieke of watter ander oorweginge ook al mag nommer een wees nie. Dit is die Christelike, protestantse beginsel wat ook in hierdie wêreldperiode ons motief en besieling moet wees.

Noord-Afrika was in die eerste eeue van ons jaartelling ‘n bakermat van die Christendom. Vermaarde teologiese skole het daar verrys. En teoloë, van die grootstes in die kerkgeskiedenis, het daaraan onderrig gegee. Ons noem net die name van Augustinus, Cyprianus, Tertullianus, Origenes en Clemens Alexandrinus.

Maar die Mohammedanisme het die lig van die honderde Christelike gemeentes totaal uitgeblus. Daar het selfs geen naskemering van gebly nie.

Laat dit vir ons in die Suidland van Afrika ‘n waarskuwing wees!” (2)

“Nou nog die vraag: Wat het dit alles met 6 April te doen?

Die antwoord kan kort wees. Die Christelike beginsel het ten grondslag van die volksplanting aan Kaap die Goeie hoop gelê. Dit is as kern saamgevat in die gebed wat Van Riebeeck gedoen het. Volgens daardie beginsel het ons vaders hulle dan ook in hul ganse lewe geopenbaar.

Maar daar was in later tyd genoeg teëstand. Dink slegs aan die optrede van dr. Van der Kemp en sy geesverwante. Die beginsel wat hulle in ons volkslewe wou indra, was dié van die Franse Omwenteling: Gelyke regte vir almal wat mens is. En dit is die sienswyse waarteen ons nog gedurig die stryd moes voer.

Daarom roep ons nou weer: terug na die Christelike standpunt wat ons vaders as hegte fondament vir die volkslewe hier neergelê het.” (3)

“Voorwaarts dan, getrou en wakker

moedig, kragtig steeds vooruit!

Geen geweld, geen dwinglands woede

sal julle ideale stuit.

Laat jul roep oor berge dawer,

oor die vlaktes oor gedra:

Ewig hoog die vryheidsvaandel

stoere kroos van Afrika!” (1)

Bronne:

(1) Nuwe F.A.K.-Sangbundel, 1961, nr.14; Afrikanerlied, H.A. Fagan;

(2) Totius, nr. 7, bl. 377-378;

(3) Ditto, bl. 380

ANB Nuusbrief – Die Ontberinge van ons Boervroue

“…Op ‘n dag in Maart 1902 het ‘n Engelse kommando van Lindley af oor die werf getrek en agt kilometer daarvandaan in die rigting van Vechtkop kamp opgeslaan. Teen sononder het ‘n perderuiter sy verskyning gemaak….”

Boervrou slaan besope Engelse verkenner morsdood

(Mev. Mathilde du Toit)

Met die mans op kommando of as krygsgevangenes na Ceylon gestuur, het die 60-jarige Mev. Susarah Johanna Dorothea du Toit (geb. Crause) op die plaas Gertruida, Heilbron, ongeveer nege kilometer van Vechtkop, tydens die oorlog saam met ander vroue en kinders geskuil.

Hulle was haar dogters, mej. Miemie du Toit en mev. Sarie Marais, ‘n skoondogter, mev. Elizabeth du Toit en haar babaseun, ‘n niggie, mej. Miemie Crause van Ficksburg asook haar broer, en mnr. Jurgens Crause se jongste dogtertjie, Susarah Magdalena Crause (Sarie).

Mev. Susarah Magdalena Schutte (geb. Crause) was agt maande oud toe haar ma oorlede is. Sy is onder die sorg van haar pa se oudste suster, mev. du Toit, geplaas, wat ook by dié groep geskuil het.

Die plaashuis is nie minder nie as drie keer deur die Engelse afgebrand. Die vierde keer is dinamiet onder die vier hoeke geplaas en dit is opgeblaas, maar dwarsdeur die oorlog het die mense onder die leiding van onverskrokke mev. du Toit  uit die hande van die vyand gebly. Elke keer as hul woonplek vernietig is, het hulle weer ‘n blyplek met sinkplate geprakseer.

Mev. du Toit sê volgens haar ma was daar gedurig gevegte op die plaas. Die vroue moes soms heeldag onder die sinkplate skuil terwyl die Boere en die Kakies oor hulle heen op mekaar geskiet het.

Op ‘n dag in Maart 1902 het ‘n Engelse kommando van Lindley af oor die werf getrek en agt kilometer daarvandaan in die rigting van Vechtkop kamp opgeslaan. Teen sononder het ‘n perderuiter sy verskyning gemaak.

Eers het die vroue gedink dit is ‘n Boerespioen, maar sy skynbaar doellose bewegings het hulle agterdogtig gemaak. Dit was in werklikheid ‘n bruin man van die Engelse kommando wat goed beskonke was.

Hy het skielik reguit op die werf afgery, voor die murasie stilgehou en astrant met ‘n oormaat van militêre waardigheid van sy perd afgespring en die sinkplaat wat as deur gebruik is, oopgedwing.

‘n Worsteling het tussen hom en mev. Sarie Marais plaasgevind. Sy het opgemerk die geweer is verkeer gelaai en het die loop vasgegryp. Mej. Miemie du Toit het ‘n skamelbout van ‘n wa wat die Engelse verbrand het, gegryp en met alle krag en mag die man oor die kop geslaan. Hy was morsdood.

Die gevaar was dat die Engelse enige oomblik kon opdaag op soek na hul verkenner. Die vroue het sy perd afgesaal en die veld ingejaag. Daarna het hulle die lyk na ‘n sloot gesleep en probeer toegooi. Die bloed in die murasie is ook inderhaas afgewas. Nie lank daarna nie of die Engelse het na hom begin roep: “Old man, speak loud!”

Weer is die sinkplaat oopgebeur, maar die vroue het geswyg. Uit frustrasie is die waghond wat langs klein Sarie gesit het, deur die Engelse met ‘n bajonet doodgesteek. Sy het net geprobeer om die babaseuntjie stil te hou.

Die volgende oggend het die vroue ontdek die “Old man” het oop en bloot in die sloot gelê met net  ‘n klein bietjie grond op sy maag!

Die kinders is ook op ‘n dag gestuur om die skape te gaan aanjaag omdat die Engelse op pad was. Haar ma, Sarie, was een van hulle. Langs die pad het die Engelse hulle ingehaal en die kinders én die skape met swepe na die huis aangejaag.

Dáár is die skape saam met die perde en beeste in die kraal ingejaag en ‘n hooimied is op hulle omgekeer en aan die brand gesteek – voor die kinders. “My ma het gesê die gerunnik, gebulk en geblêr van die diere sou sy nooit in vergeet nie.”

Die huis is weer afgebrand, maar die tante het haar verset en  geweier om na ‘n konsentrasiekamp gebring te word.

Haar ma se tante, mev. Susarah du Toit, het gereeld gesondheidsbrood (waarskynlik ongesuurde brood) vir genl. Christiaan de Wet gebak, wat aan ‘n maagprobleem gely het. Hy en sy manskappe het dit gereeld op die plaas kom haal. Die voorraad meel, suiker, sout en koffie is in ‘n gat weggesteek.

Een nag het sy die meel gemaal om vir genl. de Wet en hulself brood te bak toe die Engelse opdaag. Sy het ‘n plan beraam, die sak meel toegeknoop klein Sarie daarop laat lê en gesê sy moet maak of sy siek is.

Sarie het haar lieflingpop, Hampf, in die hand gehad (Die pop is genoem na ‘n Duitse dokter wat haar voor die oorlog teen witseerkeel behandel het).

Vermoedelik is die vroue verraai, want ‘n Engelse soldaat het van die meel geweet. Hy het sy bajonet onder klein Sarie ingedruk en die sak oopgesny. Hy het dit buite op die grond uitgegooi en perde daaroor laat lei. Die pop het hy teen ‘n klip stukkend gegooi.

‘n Ander Tommie het na mev. Miemie du Toit geloop en gesê hy het ook ‘n dogtertjie by die huis. Hy het vir haar ‘n goue pond in die hand gegee en gesê ná die oorlog moet ‘n ander pop vir haar gekoop word. ‘n Blompotjie is toe na die oorlog met die geld gekoop.

Mev. du Toit sê haar pa, mnr. Jacobus Paulus Schutte, ook van Heilbron, was ‘n penkop en het as tienjarige in ‘n loopgraaf gelê toe ‘n koeël deur sy hoed getrek en sy kopvel geskroei het.

Bron: ABO 100 Ons lesers vertel, deel 1; Volksblad en Oorlogsmuseum; 2001.

Nou vriende, moet ons onsself die vraag afvra in hoe groot mate het ons hierdie waarskuwing verontagsaam? 

Maar daar is hoop. Ons kan opnuut leer en inkeer en doelgerig werk daaraan om ons identiteit te kan behou ten spyte van wat om ons vergaan. Begin deur jouself af te vra waarby jy in jou vrye tyd betrokke is. En waarby jou kinders betrokke is. Ondersteun dit die behoud van ons volksidentiteit?  So nie, raak betrokke by die ANB en help terugkeer en bou op die vastigheid van nasionalistiese beginsels, die lesse geleer uit ons geskiedenis en die voorbeelde van ons heldedom. Sluit aan by die ANB. Vind meer uit oor ons en ondersteun die uitdra van hierdie boodskap van hoop.  

ANB Nuusbrief – Die dolk 6 September 1966 – 6 September 2021

241520459_1527610957580348_6341379146123110174_n

Die dolk

Elk uur, minuut, sekonde – moord!
Die skindertaal en leuenwoord
van oraloor, van alle kant,
sensasioneel skandaal geplant
om volkehart en siel te brand
met vlammend pyn, met tranebrood…
gans onbeskermd ons siel, ontbloot.

Blind strompel onse Boerevolk,
verdwaal… Van die getuie-wolk
wat hom versterk het, weggeloop;
sélf eie skild en skans gestroop.
Tot sterwens siek en sonder hoop –
selfs God se Woorde drog-vertolk.
Blink in sy bors : die vyandsdolk.

Dié dolk wat eens ons Volksman dood
word elk dag, opnuut gestoot –
rooi bloed getap, deur tyd verswart,
uit Afrikaner-volk se hart…
Hoe lank voor daar uit smet en smart
‘n nuwe waarheids-krag sal groei,
ons volksgeloof weer op sal bloei…?

© Stienie