Tag Archives: Gebed van Van Riebeeck

Om ‘n lig te wees aan die Suidpunt van Afrika – 1652

“6 April 1652 is ‘n hoog uitstaande baken in ons geskiedenis. DIt was die begin. En… ‘n wonderbare begin. As ooit die spreekwyse: “Die mens wik, maar God beskik”, op ‘n gebeurtenis van toepassing is, is dit hier die geval.

150 jaar lank het die handelskepe van Portugese, Engelse en Hollanders die Stormkaap verbygeseil sonder dat daar ‘n plan bestaan het om hier ‘n volksplanting in aansyn te roep.

Ook nog in 1652 was daar onwilligheid by die direkteure van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie om hier meer as ‘n verversingstasie te stig. Tewens lyk dit of selfs Jan van Riebeeck eers nie lus gehad het om hier te bly nie.

En tog het 6 April 1652 die geboortedag van die blanke beskawing in Suid-Afrika geword.

En die verversingstasie het sy ideële inslag gekry. In onverganklike skrif moet die gebed van Van Riebeeck — ja, toe het sy hart gespreek! — in ons geboortegeskiedenis gegrif word. Hier volg die gebed wat ons uitgangspunt is; ‘n gebed wat nog altyd moet lewe onder ons en ‘n spoorslag moet wees tot hoër, edeler dinge.

Die gebed : (uittreksel vry vertaal in Afrikaans)

“O, Barmhartige, goedertieren God en hemelse Vader, ons bely dat dit u Goddelike Majesteit se besluit was om ons te roep tot die bestuur van die VOC se sake alhier aan die Kaap. Dat ons hier in U heilige Naam vergader is, om besluite te neem in die diens wat die Kompanjie vereis. Dat ons ook reg sal laat geskied. Wil gee dat onder hierdie wilde brutale mense (moontlik) u ware Gereformeerde Christelike Leer, mettertyd, mag verkondig word, tot U heilige Naam se lof en ere….”

Na aanleiding en op grond van dié gebed gaan ons nie ondersoek in hoever die hoë ideaal van Van Riebeeck nagekom is nie — dit moet die historikus doen. Ook sal nie nagespeur word in hoever ons volk aan die ware Christelike Gereformeerde Leer getrou gebly het nie — dit moet die teoloog en kerkhistorikus doen. Wat ons wil beklemtoon, is dat uit dié gebed ‘n ligstraal skyn wat die hele kontinent van Afrika moet verlig.

Dus nie materiële, politieke of watter ander oorweginge ook al mag nommer een wees nie. Dit is die Christelike, protestantse beginsel wat ook in hierdie wêreldperiode ons motief en besieling moet wees.

Noord-Afrika was in die eerste eeue van ons jaartelling ‘n bakermat van die Christendom. Vermaarde teologiese skole het daar verrys. En teoloë, van die grootstes in die kerkgeskiedenis, het daaraan onderrig gegee. Ons noem net die name van Augustinus, Cyprianus, Tertullianus, Origenes en Clemens Alexandrinus.

Maar die Mohammedanisme het die lig van die honderde Christelike gemeentes totaal uitgeblus. Daar het selfs geen naskemering van gebly nie.

Laat dit vir ons in die Suidland van Afrika ‘n waarskuwing wees!” (2)

“Nou nog die vraag: Wat het dit alles met 6 April te doen?

Die antwoord kan kort wees. Die Christelike beginsel het ten grondslag van die volksplanting aan Kaap die Goeie hoop gelê. Dit is as kern saamgevat in die gebed wat Van Riebeeck gedoen het. Volgens daardie beginsel het ons vaders hulle dan ook in hul ganse lewe geopenbaar.

Maar daar was in later tyd genoeg teëstand. Dink slegs aan die optrede van dr. Van der Kemp en sy geesverwante. Die beginsel wat hulle in ons volkslewe wou indra, was dié van die Franse Omwenteling: Gelyke regte vir almal wat mens is. En dit is die sienswyse waarteen ons nog gedurig die stryd moes voer.

Daarom roep ons nou weer: terug na die Christelike standpunt wat ons vaders as hegte fondament vir die volkslewe hier neergelê het.” (3)

“Voorwaarts dan, getrou en wakker

moedig, kragtig steeds vooruit!

Geen geweld, geen dwinglands woede

sal julle ideale stuit.

Laat jul roep oor berge dawer,

oor die vlaktes oor gedra:

Ewig hoog die vryheidsvaandel

stoere kroos van Afrika!” (1)

Bronne:

(1) Nuwe F.A.K.-Sangbundel, 1961, nr.14; Afrikanerlied, H.A. Fagan;

(2) Totius, nr. 7, bl. 377-378;

(3) Ditto, bl. 380