Tag Archives: IDASA

Regse Verraad (Deel 2)

Hierdie is deel 2 van ‘n uitgebreide artikel oor die verraad wat gelei het tot die verlies van die politieke mag van die Afrikaner. Sien deel 1 hier.

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis was ‘n lid van die topbestuur van die Konserwatiewe Party (KP). In ‘n onderhoud wat kort voor sy dood met hom gevoer is erken hy dat die algemene konsensus onder lede van die KP-koukus was dat hulle (die KP) ‘n Blanke algemene verkiesing sou kon wen. Met die aankondiging dat ‘n referendum gehou gaan word is die KP-koukus byeengeroep om ‘n besluit te neem oor deelname daaraan of nie. Daar is toe ‘n gelykoptelling van stemme, met Andries Treurnicht wat as leier die beslissende stem moes uitbring. Derby-Lewis reken dat Treurnicht toe die “grootste fout van sy politieke lewe” gemaak het deur ten gunste van deelname aan die referendum te stem.

Marais ywer vir algemene verkiesing

In die voorafgaande maande het die leier van die HNP, mnr. Jaap Marais, herhaaldelik oproepe op die KP-leiding gedoen om ‘n algemene verkiesing af te dwing deur die bedanking van hul setels deur al die KP-volksraadslede. Die reeks tussenverkiesings wat hierop sou volg sou onteenseglik toon dat die NP se steun drasties afgeneem het.  Dit sou die bewys wees dat die Blanke kiesers die grondwetlike hervormings waarmee die regering besig was verwerp en dat hy daarom nie ‘n mandaat van die keisers geniet om daarmee voort te gaan nie. Die hou van ‘n Blanke algemene verkiesing sou dus deur hierdie skuif afgedwing word. En soos vroeër gemeld, was daar algemene konsensus dat die NP dan ontsetel sou word. Selfs Constand Viljoen verklaar op 18 Augustus 1993 dat ‘n algemene verkiesing met 50 tot 60 persent gewen kan word.

Hierdie skuif sou die enigste oorblywende demokratiese weg wees waardeur die Nasionale Party se verraad gestuit kon word. Maar ten spyte daarvan dat die KP geweet het dat so ‘n verkiesing gemaklik gewen sou kon word, het Treurnicht daarteen besluit.

Vanuit geheime kringe kom geheime planne

Intussen is uit Regerings- en Inligtingskringe  ‘n fyn-bedinkte komplot gesmee ten einde te verseker dat hul planne van verraad teen ons volk enduit gevoer sou word, en dat dit nie deur regse verset in die wiele gery sou word nie. In hierdie komplot het generaal Constand Viljoen die sentrale rol vervul. Die regse verset wat besig was om sterk momentum op te bou en wat kon lei tot gewapende weerstand moes deur sy toedoen verhoed word. Daarbenewens moes die aandrang vir die hou van ‘n Algemene Verkiesing geheel ontmoedig word.

IDASA

IDASA is die afkorting vir The Institute of Democratic Alternatives in South Africa. Die instituut is in 1986 deur Frederick van Zyl Slabbert (voormalige leier van die Progressiewe Federale Party – nou die DA) in die lewe geroep. Hulle is befonds deur George Soros wat steeds wêreldwyd in lande se interne politieke sake inmeng.

Linkses ontmoet verbanne ANC in Dakar

In 1987 reël IDASA die Dakar-konferensie met die verbanne ANC. Prof. Abraham Viljoen (broer van Constand Viljoen) en Theuns Eloff (later uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting) was onder die groep liberaliste as lede van die Suid-Afrikaanse Afvaardiging. Let wel, op hierdie tydstip was die kommunistiese ANC wat gewapende terroriste-aktiwiteit teen ons land gepleeg het en honderde mense vermink en vermoor het deur bomontploffings soos die Kerkstraatbom in 1983 en ander terreurdade ‘n verbode organisasie. Dit kon dus as hoogverraad beskou word om met hulle sameprekings te voer.

Conservative Dialogue Program van IDASA

Hierdie selfde volksondermynende ver-linkse organisasie, IDASA, roep in 1992 die Conservative Dialogue Programme (CDP) in die lewe. Die CDP se doel was om regse leiers (waarvan meeste nié so regs was nie) te beïnvloed en hulle te bestuur ten einde te verseker dat De Klerk se verraad nie deur die opbouende regse verset ontspoor word nie.

AVF is CDP se baba

Een van die belangrikste projekte van die CDP was die stigting van die Afrikaner Volksfront (AVF) op 19 Mei 1993. Die doel was om ‘n sambreel-organisasie vir al die regse organisasies daar te stel, met ‘n bestuur wat deur IDASA se CDP beheer word. Generaals Constand Viljoen en Tienie Groenewald sou hierin leidende rolle vervul. Groenewald het aan die Sunday Times van 2 Mei 1993 bevestig dat die leiers van die KP “die generaals” gevra het om die “twistende regse faksies” byeen te bring en voeg dan daarby dat die eerste vergadering van regses (20 April 1994) – as aanloop op die stigting van die AVF die 19de Mei – die vrug was van “months of lobbying behind the scenes”.

CDP-oogmerke en betrokkenes

Van Zyl Slabbert van IDASA skryf op 14 September 1993 as volg aan Hans Daerr in Duitsland:

“The project [die CDP] is of critical importance in avoiding bloodshed in South Africa and promoting effective negotiations. Project purpouse: to promote and sustain dialogue between the centre right, i.e. the Afrikaner Volksfront and the ANC”

Oor wie hieraan deelneem skryf hy verder:

“The most likely persons involved – Afrikaner Volksfront – Genl. Constand Viljoen, Genl. Tienie Groenewald, Genl. C. Visser, Dr. Piet Gous [Vrystaat Landbou-Unie], Dries Bruwer [Transvaal Landbou-Unie]. ANC – Mr. Thabo Mbeki, Mr. Jacob Zuma, Mr. Mdadla.”

AVF se aard verraai

Hierdie val natuurlik uiters vreemd op, want die regse kieser wou glad nie met die ANC onderhandel nie. Juis omdat hulle die onderhandelings verwerp het was hulle nou ondersteuners van die AVF wat, volgens die Suid-Afrikaanse aanlyn-geskiedenis “… gestig [is] deur 21 Afrikanerorganisasies as gevolg van die toenemende behoudende teenstand teen die veelparty-onderhandelinge wat in Kemptonpark aan die gang was”.

IDASA het dus deur sy CDP geknoei om te verseker dat die Afrikaner Volksfront wat in die lewe geroep sou word se leiers reeds besmet is met “avoiding bloodshed in South Africa and promoting effective negotiations”. Hierdie (ver)leiers moes soos die NP handel: Praat na regs – om jou ondersteuners te paai en te laat glo dat jy hulle belange dien, terwyl jy in die geheim na links doen ten einde sekere vooropgestelde doelwitte te bereik. Omdat dit duidelik was dat die Blanke kieser nie die NP se hervormings gesteun het nie en bereid was om dit met wapengeweld teë te gaan, moes die AVF in die lewe geroep word met ‘n leierskorps wat in die hande van die NP sou speel. Dit het die onmoontlike – om ‘n konserwatiewe volk se land en politieke mag van hom weg te steel – moontlik gemaak.

Geen Algemene Verkiesing!

IDASA se CDP moes ook verseker dat die regses nie aandring op ‘n algemene verkiesing nie, aangesien dit ‘n einde sou bring aan die “hervomings” waarmee De Klerk besig was, hervormings wat uiteindelik tot die val van Blank Suid-Afrika sou lei.

Reeds op die tweede vergadering (7 Mei 1993 te Potchefstroom) as aanloop tot die stiging van die Afrikaner Volksfront is beklemtoon dat die AVF téén die afdwing van ‘n algemene verkiesing is. Enkele maande later sou dié standpunt bevestig word en is selfs besluit “dat die moontlikheid van ‘n algemene verkiesing onder blankes nie eens bespreek mag word nie”. Dit val natuurlik baie vreemd op omdat hierdie die maklikste manier sou wees om die onderhandelinge met die kommuniste oor ons eiendom en politieke mag stop te sit en dit was ook die enigste wyse waarop die NP se oorgawe op ‘n vreedsame wyse gestuit kon word. Daarom kan met reg gevra word: maar wat was die doel van die stigting van die AVF dan wel? As organisasie waarvan bereken is dat hy meer as een miljoen lede gehad het, het die AVF uiteraard oor hoë bedingingsmag beskik. Waarom is hierdie mag nie uitgeoefen nie? Waarom is die aandrang tot die afdwing van ‘n algemene verkiesing reeds vanaf die heel eerste vergadering deur die inisieerders van die AVF afgeskiet?

AVF-leiers gekaapte gekooptes

Die antwoord op hierdie tergende vrae lê opgesluit daarin dat die AVF sy ontstaan gehad het in die binnekamers van IDASA se CDP. Van meet af aan was daar agter die skerms gekonkel om leidende persone in die regse politiek asook afgetrede militêre leiers te betrek om IDASA (‘n verlengstuk van die Nasionale Party) se sinistêre doelwitte te bereik. Die ondersteuners van die Volksfront is verraai deur hierdie gekoopte leiers. Die leiers van die AVF het nooit die ondersteuners van die organisasie se sentiment gedeel nie, al het hulle voorgegee dat hulle die ondersteuners se belange dien.

Geheime AVF-onderhandelings met ANC

Onderhandelinge met die ANC-SAKP bende deur die AFV-leiers het in Augustus 1993 in die geheim afgeskop. As die ondersteuners hiervan moes weet sou hul die AVF-leiding verwerp en waarskynlik tot geweld oorgegaan het. Op 12 Augustus 1993 ontmoet genl. Viljoen Mandela aan dié se huis in Houghton, Johannesburg.

Later van tyd, in die jaar 2001 het Viljoen aan Max du Preez van die Sunday Independent gesê dat teen daardie tyd (Augustus 1993) die twee landbouleiers, Dries Bruwer en Piet Gous – albei prominente lede van die Volksfront-leiding – reeds in samesprekings met die ANC betrokke was. Dié samesprekings met die ANC is bemiddel deur Jurgen Kögel van IDASA. ‘n Jaar vroeër reeds (Maart 1992) het prof. Viljoen van IDASA gerapporteer dat hy goeie kontak bewerkstellig het met twee vooraanstaande lede van die KP, mnr. Dries Bruwer en dr. Piet Gous, en dat met hulle hulp dit nodig was om “programme van aksie te implementeer wat die wyds moontlike trefkrag sou hê”. Hierdie was ‘n jaar vóór die stigting van die Volksfront. Só is leiers geïdentifiseer en voorberei vir die misleidings-opdragte wat hulle in die AVF sou uitvoer.

(vervolg in deel3)