Die aanloop tot die Eerste Vryheidsoorlog

CH van der Grijp

Ons almal weet van die Eerste Vryheidsoorlog wat geëindig het met die slag van Majuba. Maar wat het die oorlog vooraf gegaan? En hoe vergelyk daardie tyd se gebeure met 1994 se gebeure?

Toe MW Pretorius bedank uit die Presidentsamp in 1871, het die volk die begeerte gehad om ‘n geleerde man as President te kry, want hy moet die Britse argumente op ‘n slim manier kan teëstaan.

So word Ds. Francois Burgers verkies as President. Maar Burgers was ‘n sterk voorstander van liberale godsdiens, vryheid van die individu en  inter-nasionale eenheid. Hy begin dadelik met sy ‘hervormings’ beleid, om die ZAR aanvaarbaar te maak vir die wêreld.

Klink dit nie bekend nie? John Vorster het “Klein Apartheid” afgeskaf om dieselfde rede, om Suid-Afrika aanvaarbaar te maak vir die wêreld.
Paul Kruger, ‘n Godsman, is oorgesien as moontlike President, want die volk wou die ZAR ‘n welgestelde, vooruitstrewende staat maak.

Paul Kruger het deur Burgers se wêreldse maniertjies gesien, en hy het geen geheim daarvan gemaak dat Burgers die ondergang van die jong Republiek gaan bewerkstelling nie. Paul Kruger bedank uit die Uitvoerende Raad (landsregering) in 1873 as Kommandant-generaal. Hy het eerder bedank as om deel van Burgers se hervormings-beleid te word en so die vertroue wat die volk in hom gestel het, te skaad.

Burgers was meer buite as binne die ZAR op allerlei reise. Terwyl hy juis weer op so ‘n reis was, 12 April 1877, ry Shepstone ewe rustig die ZAR binne, stryk die Vierkleur en hys die Union Jack ten aanskoue van die Volk. Shepstone was so seker van sy saak dat hy nie met ‘n militêre mag die ZAR beset nie, maar met net 25 polisiemanne. Hoe vernederend vir die nageslag van die Voortrekkers!

Net 25 jaar na die Zandrivier konfensie, waar die Afrikanervolk sy onafhanklikheid in 1852 verkry het, is hy sonder enige verset uitgelewer en onderwerp aan sy vyand.

Om teenstand te voorkom het President Burgers en die Uitvoerende Raad deur middel van agente pogings aangewend om die Transvalers tot kalmte te maan.

Twee dae voor die anneksasie is vergaderings gereël. Klink dit nie so baie na die verraad in 1994 nie?

Ene Hoffman (‘n agent), skryf aan Burgers dat die vergadering op Gatsrand goed bygewoon is, en dat hy geen moeite ondervind het om die mense tot bedaring te bring nie. Dat indien Shepstone nou enige optrede sou uitoefen, die burgers geen wapen sal opneem nie en sal wag op opdragte van die regering. Hoffman skryf dat die burgers hulle aan die bepaalde regering sal onderwerp, aangesien een daad van eie handeling tot regeringloosheid sal lei. Met hierdie vergadering, skryf Hoffman, het die gemoedere bedaar.
Daar is nog 5 sulke byeenkomste gehou om die burgers te bedaar.
Frederik Wolmarans het wel met 400 gewapende burgers gemobiliseer om Shepstone met geweld terug Kolonie toe te jaag, maar hulle is deur Burgers se Uitvoerende Raad oorgehaal om hul voorneme te laat vaar.

Die eerste opstandeling teen die Engelse regering was ‘n prokureur Van Eck, wat geweier het om sy belasting te betaal omdat hy gesê het dat dit ‘n onwettige regering is. Ses weke later het ook advokaat Fred Kleyn om soortgelyke redes geweier om sy belastings te betaal. Prokureur van Eck het blykbaar ‘n groot invloed onder die burgers gehad, omtrent ‘n maand na sy saak verhoor is, het bykans 400 burgers teen die betaling van belastings geprotesteer.

Die boere het op hulle kwitansies geskryf ‘Betaal onder dwang’. Die Landros wou die kwitansies nie aanvaar nie. Van daar af het die lydelike verset hand oor hand toegeneem. Ons weet hoe Genl. Piet Cronjé Potchefstroom gaan beset het, en van daar af het die wapen geweld begin.

Wat ons moet verstaan is dat die tyd vir die terugneem van hulle staat eers moes ryp word. Toe die tyd daar was het hulle hul vertroue op God gestel en die gelofte weer bevestig by Paardekraal. Daarna het hulle die oorlog ingegaan.

Vandag moet ons eers weer terugkeer na God deur werklik Sy Woord te ondersoek en dit te glo. Ons moet bely ons het gesondig en Hom dan dien.