Op 2 Mei 1937 het Suid-Afrika se Eerste Minister, dr. DF Malan, die volk toegespreek tydens die se eeufeesviering van Winburg in die Vrystaat. Dit was by hierdie geleentheid dat hy die gevleuelde woorde “Glo in God, glo in u volk, glo in uself” gespreek het. Daar is beslis steeds baie waarde wat Afrikanernasionaliste vandag nog kan put uit hierdie boodskap. Wat hieronder verskyn, is `n opsomming van die toespraak soos in Die Burger gepubliseer.
Die fees sal vir dié wat dit bygewoon het, onvergeetlik wees, omdat dit gekenmerk is deur `n gees van ware samewerking van vriende toe die nagedagtenis van hul voorouers geëer moes word. Die fees is onvergeetlik omdat dit gehou is op heilige historiese grond, wat self `n boodskap vir die volk het. Die toestande wat 100 jaar gelede geheers het, en die gebeurtenisse wat toe plaasgevind het, is herskep en het herlewe en hierdie geslag het gemeenskap gehad met daardie geslag wie se boodskappe oorgedra moet word aan die geslagte van die toekoms.
Op Winburg word die Trekkers ’n Volk
Honderd jaar gelede is die keerpunt in die geskiedenis van die Afrikanerdom gesien. Die Groot Trek het nie plaasgevind as ’n georganiseerde eenheid nie, maar families het in klein groepies die land verlaat op verskeie tye om ‘n nuwe tuiste en `n nuwe bestaan te gaan soek.
Op Winburg het hulle bymekaargekom, waar hulle `n georganiseerde gemeenskap geword het. Hulle het opgehou om trekboere te wees en het ‘n Trekkende Volk geword met ‘n definitiewe doel. Om die Eeufees van daardie gebeurtenis te vier, is van die grootste belang vir Winburg en vir die Afrikanerdom.
Ons staan in die middel van twee eeue en is in staat om 100 jaar terug en in die toekoms te kyk, en daar is ‘n indruk waarvan ek nie kan wegkom nie – ‘n indruk dat daar in die geskiedenis van Suid Afrika ‘n definitiewe rigting is.
As ons terug kyk, lyk dit of die pad die afgelope 100 jaar vol draaie was, vol gevaarlike afgronde, en by rukke of die horison verdwyn het as ons nie vorentoe kyk nie, maar was daar nie ‘n rigting in hierdie blykbaar rigtinglose weg nie? Daardie weg is nie alleen deur werksmanne gemaak nie. Die ontwerp van daardie weg is die werk van ‘n Oppermagtige Brein, ‘n Ingenieur wat rigting gekry het vir ‘n blykbaar rigtinglose pad. Die rigting was vasgestel en het uitgeloop op ‘n vrye nasie.
Dis lank gelede reeds gesê dat die geskiedenis van Suid Afrika ‘n tragedie is en dat dit vergeet moet word om ons in staat te stel om ons aandag te skenk aan die huidige dringende probleme. Ons geskiedenis is nie net ‘n tragedie nie. Dis niks anders as die hoogste kunswerk van die eeue, ons het ‘n reg op ons nasieskap omdat dit aan ons gegee is deur die Argitek van die heelal. Die doel van die Argitek was die vorming van ‘n nuwe nasie onder die nasies van die wêreld.
Voortrekkers laat nuwe volk gebore word
Daar was voorheen blankes in Suid Afrika onder wie daar ‘n ontwakende nasieskap aanwesig was, maar dit moet erken word dat die Voortrekkers meer bygedra het tot die eintlike geboorte van die nasie as alle ander.
Ander belangrike gebeurtenis soos die landing van Jan van Riebeeck en die Eerste en die Tweede Vryheidsoorlog het ook bygedra tot die geboorte van ‘n nasie, maar nieteenstaande dit het die Voortrekkers die grootste aandeel geneem in die vorming van die Afrikanernasie.
In die briefwisseling tussen Piet Retief en sir Andries Stockenström praat laasgenoemde van “hierdie” mense, terwyl Retief van “my” land en “my” mense praat. Dit was die nuwe gees wat eerste deur die Voortrekkers uitgespreek is.
As ons terugkyk oor die afgelope 100 jaar, is ons verbaas oor die betreklike kort tydperk waarin ‘n nuwe nasie tot stand gekom het. Die geboorte van ‘n nasie in so ‘n kort tydjie is ‘n wonderwerk in vergelyking met ander nasies wat eeue geneem het. Hierdie kort tydperk van ons nasiewording het geen gelyke in die wêreldgeskiedenis nie.
Die wonder van ons taal
Ons het nie alleen nasieskap in ‘n eeu behaal nie, maar ons het ook ‘n eie taal opgebou, ‘n taal wat nie voorheen bestaan het nie. Die siel van ‘n nasie is gebore en daardie siel moes ‘n vorm van uiting hê.
‘n Nasie kan nie sonder ‘n taal bestaan nie en die geboorte van ons taal in so ‘n kort tydjie is ‘n ander wonderwerk wat nie sy gelyke in die wêreldgeskiedenis het nie. Die volk het baie jare vergeet dat hy ‘n eie taal het, maar ook dit het tot sy reg gekom. Sedert Afrikaans ‘n geskrewe taal geword het, het daar meer Afrikaanse boeke verskyn in 15 jaar as wat daar Engelse en Hollandse boeke in 100 jaar verskyn het.
Die volk moet ‘n geskiedenis hê om hom te inspireer en aan te spoor vir die toekoms. Ons is `n jong volk met `n jong taal, maar ons het ‘n ryk geskiedenis, vol met helde wat sal lewe so lank as wat die Afrikanernasie bestaan. Daar is geen ander nasie in die wêreld wat soveel groot manne gelewer het nie. As ons ‘n nasie was wat ons bemoei het met wêreldsake, sou ons ‘n Cromwell, Luther, Washington, en Lincoln kon gelewer het.
God het ‘n plan met Afrikanervolk
‘n Wonderwerk het in die afgelope 100 jaar gebeur, ‘n wonderwerk waaragter daar ‘n goddelike plan moet wees. Die geskiedenis van die Afrikaner openbaar vasberadenheid en ‘n doelbewustheid, wat ‘n mens laat voel dat die Afrikanerdom nie die werk van mense is nie, maar die skepping van God is.
Alles wat in die afgelope 100 jaar gebeur het, het gebeur in die teenwoordigheid van die drie woorde: “ten spyte van”. Ons het nie die groot getalle soos die Verenigde State nie, en die paar wat hier was, was oor die hele land versprei. Dit is nie moeilik om ‘n nasie op te bou uit groot getalle in ‘n dig bevolkte land nie. Ten spyte van die klein verspreide bevolking is ‘n nasie opgebou.
Deur middel van skole en opvoeding kan nasieskap gebore word, maar ons Volk het nie die voorregte van skool en kerk gehad nie. Dit het gevaar geloop om verstrooid te raak, en tog het ons ‘n nasie geword.
Ons het geen taal en kultuur van ons eie gehad nie,en moes dit leen. Ten spyte van die magtige kultuur wat ons wou oorskadu, het ons ‘n nasie geword.
‘n Nasie kan nie ‘n nasie bly sonder die liefde vir vryheid en gelykheid met ander nasies nie. Magte in Suid Afrika wat nie ‘n nuwe nasie nie wil hê nie, het komplotte gesmee om die Suid Afrikaanse nasie te vernietig.
Mag en sluheid het saamgespan, en die beendere van ons helde van vryheid lê versprei op die slagvelde. Die magtigste militêre ryk in die wêreld kon egter nie daarin slaag om ons volk te vernietig nie.
Ons mense is blootgestel aan die gevare van ‘n swart bedreiging en ‘n swart barbaarse bedreiging wat verskeie nasies vernietig het. Ons het egter ‘n volk gebly deur ‘n verhouding van heer en diensbode tussen blank en swart te skep, en nie rassevermenging toe te laat nie, want ‘n volk wat sy rasegtheid verloor, kan nie as volk voortbestaan nie. Ons het ‘n volk geword ten spyte van al die gevare en ten spyte van onsself.
Dwarsdeur ons geskiedenis is die Godsplan met ons volk klaarblyklik, en ons het die goddelike reg om Afrikaners te wees. Geen mag ter wêreld kan ons nasieskap doodmaak nie, want God het ons volk geskep.
Dit is nie nodig vir ons om te vra wat ons in die toekoms gaan doen nie. Ons kan slegs ‘n boodskap van hierdie feesviering rig aan dié wat dit in 2037 sal vier, want ons twyfel nie, en sal nooit twyfel dat die Afrikanervolk dan, of oor 500 jaar, nog sal bestaan nie.
Behoud van vryheid is moeilike taak
Die taak wat op die skouers van ons nageslag rus, sal moeiliker wees as die wat op ons skouers rus of wat op die skouers van die Voortrekkers gerus het.
Ons het vandag vryheid behaal; die stryd om vryheid is verby, maar juis om daardie rede sal hul stryd moeiliker wees, want dis makliker om vir vryheid te strewe as om te weet wat om daarmee te maak as dit eers verkry is, en hoe om dit vir konstitusionele doeleindes te gebruik.
Die Voortrekkers het die kolonie verlaat om die land oop te stel en ‘n nuwe tuisplek te vind. Sedertdien het trekkers die Suid-Afrikaanse kus en grense verlaat om nuwe woonplekke in Argentinie, Angola en elders te vind.
Ons taak en die taak van ons nageslag is om ‘n tuisplek te vind vir daardie Afrikaners in hul eie land waar hul hoort.
Daar is tans ‘n ander en nuwe trek, naamlik die van die platteland na die stede, en die taak van ons nageslag is om toestande in die stede te skep waaronder hierdie trekkers in staat sal wees om Afrikaners te bly, en waarin hulle ‘n lewensbestaan kan voer.
‘n Ander moeilike taak is geskep as gevolg van die toestroming na Suid Afrika van mense uit alle dele van die wêreld, wat hierheen gelok is deur die rykdom wat deur God hier geplaas is.
Die Voortrekkers het hierdie land vir ons verower en dit bewoonbaar gemaak vir ons. Sal ons hierdie land vir onsself en vir ons kinders behou, of toelaat dat dit in die hande van vreemdes verval, en die kinders van die Voortrekkers vreemdelinge en bywoners in hul eie land word ?
Die gevaar van rassevermenging
Die vraag is of Suid-Afrika aan ons sal bly behoort of nie? Die Voortrekkers het gewaak teen rassevermenging, en daardie taak rus nog op ons en sal op ons nageslag rus. In die tyd van die Voortrekkers was dit ‘n betreklik maklike taak, maar toestande het tans verander. Die gekleurde rasse raak beskaafd en hulle dring al hoe meer in die werk en kringe van die blanke, waar hulle skouer aan skouer saamwerk – nie as heer en dienskneg nie, maar as werksmense op ‘n gelykheids grondslag. In die grotere stede woon blankes en gekleurdes teenoor mekaar. Hul kinders speel saam.
Ons boodskap aan ons nageslag is: raak ontslae van die minderwaardigheidskompleks teenoor ander nasies en teenoor ons voorouers en Voortrekkers.
Die Voortrekkers het nie aan ‘n minderwaardigheidskompleks gely nie, en ons durf nie so ‘n kompleks by onsself aankweek nie. Ons nageslag moet aan hul vroue en kinders hul regmatige plek in die stryd vir volksbestaan, soos die Voortrekkers gedoen het, toeken. Ons moet dink aan Bloukrans en die Vrouemonument en besef dat net soveel lewens van vroue en kinders op die altaar van vryheid geplaas is as dié van mans.
Hierdie land is aan die Voortrekkers gegee in omstandighede waarin hulle God nie kon vergeet nie. Die Voortrekker was die kind van die veld, en onder die gedurige gevaar van barbaarse swarte mensehordes en diere was hulle noodwendig gedurig afhanklik van die hulp van God.
Ons land is onderhewig aan droogtes wat ons bestaan binne korte tyd kan wegveeg. Ons word gedurig aan God herinner tot wie ons, ons toevlug moet neem. As hierdie fondament ineenstort, is daar geen hoop vir die toekoms nie.
Antwoord op die roepstem
Grootheid word gebore tussen die heuwels in die stilte van die natuur, want in die eensaamheid van stilte spreek die natuur en God, en God word aan die mens geopenbaar. Daar hoor die mens die stem van God en die roepstem van die volk wat hom nodig het. Die mens antwoord dan op die roepstem, en onderneem die groot taak, en selfs as die volk die onderspit delf, weet hy dat God die bestaan van sy volk waarborg. Hy is nie bevrees om te wen of te verloor nie, want hy weet dat uit die dood lewe spruit, en dat hy die bystand van God en die opdrag van God het om hom te steun in die diens van sy volk. Dit dan is ons boodskap aan hulle wat hierdie geleentheid in 2037 sal vier, die boodskap wat ons van die Voortrekkers ontvang het, naamlik: Glo in God, glo in u volk, glo in uself.

Dr. DF Malan, baanbreker Afrikanerleier
