Tag Archives: Afrikanerskap

Die Waarheid oor Apartheid.

In Oktober 2025 is ‘n reeks voordragte deur die Willem Petzer-groep op YOUTube geplaas onder die titel, WAARHEID OOR APARTHEID.

Kom ons kyk na 10 Okt se plasing – 1948: Die Apartheid wat geïmplementeer is, is nie die Apartheid wat die mense voor gestem het nie.

In die beskrywing staan:

“Die mense wat in 1948 vir die NP gestem het, wou nie net rasseskeiding hê nie. Hulle wou selfbeskikking hê: hul eie republiek, ‘n gedesentraliseerde Volkstaat met hul eie toekoms. Maar hulle het gesentraliseerde gemengde stede gekry, met slegs aparte woonbuurte. “

Die woorde “gesentraliseerd” en “gedesentraliseerd” word deesdae dikwels gebruik deur ‘waarheids’-ridders soos Ernst Roets, Carl Boshoff, en ja, Adi Schlebush (skrywer van Petzer se Reeks oor Prof. Stoker en ook lid van die Petzer- ‘navorsingspan’).

Wat word bedoel met ge(de)sentraliseerd?

In die voordrag kry ons bietjie nader insig in wat hulle bedoel daarmee.

Gedesentraliseerd = “die ou Republikeinse ideaal” van ‘n “groter aaneenlopende volkstaat met eie politieke selfbeskikking”, “groot streke wat slegs vir die Afrikaner of die Boer” is, “groter aaneenlopende gebiede met eie plaaslike soewereiniteit”. 

Gesentraliseerd = ‘n “apartheidstaat, wat verskillende besture het”, wat “al minder en minder soos ‘n landstreek met verskillende volkstate en stamgebiede begin lyk en al meer en meer soos ‘n multi-kulturele maar gesegregeerde eenheidstaat”; “…mikro-klein afbakeninkies in gemengde steden en dorpe… waar swart en wit eintlik langs mekaar gebly het en net met ‘n pad van mekaar geskei is”; ‘n “Eenheidstaat” waar persone van verskillende rasse nie mag ondertrou nie (“is dit werklik nodig?”, word gevra); ‘n “stedelike Apartheid waar almal eintlik saam in ‘n stad bly maar net in verskillende areas…”; “versplinterde woonbuurte of woonblokke of beskermde sones”.  “…apartheids-integrasie met gepaardgaande sosiale integrasie”; waar die Afrikaner die ander Suid-Afrikaners wil “domineer”.

Verskillende Apartheidsbeleide

Hierdie “apartheidstaat” het, volgens Petzer se voordrag, tot stand gekom in Malan en Strijdom se tyd, en staan teenoor die Republikeinse ideaal soos verpersoonlik in die ou Boere-republieke.

Daar word beweer dat hierdie twee Afrikaner-leiers stelselmatig afgewyk het van “die selfbeskikkingsideaal”, en dat dr. Verwoerd in werklikheid die Apartheid van Malan en Strijdom wou beeindig, en “terugbeweeg na die selfbeskikkingsideaal”.

Om hierdie stelling te regverdig, word ‘n ernstige skommeling in die tydsverloop van die geskiedenis gemaak. Die ‘historiese tydstaat’ wat, volgens Petzer, juis so belangrik is om die waarheid te bevestig, word dan in hierdie voordrag ernstig aangetas. 

Geskiedenis-volgorde verander

Die volgorde word deur die Petzer span verander.

En die gebeure in die geskiedenis netjies omgekeer.  

Die vraag is waarom Petzer se navorsingspan dan so misvat? So moeilik is dit tog nie om feite op te soek nie?

Wat was dan die Nasionale Party se Beleid van 1966?

Dit wat in die voordrag beweer word oor Malan en Strijdom is in werklikheid van toepassing op Vorster. Dit is maklik om die beleidsgeskiedenis van die Nasionale Regering van voor 1948 af, tot en met 1966, te gaan opsoek.

Die Nasionale Party het in Januarie 1966 ‘n Brosjure uitgegee met die naam Vrugte van die Nasionale Bewind.

Wat was die Nasionale regering se beleid na 1948? Ons haal aan:

Strijdom, Malan Verwoerd – een van sin en strewe(Bladsy 3):

“Die nasionale party is trots op sy eerste ministers wat hy sedert 1948 aan Suid-Afrika gegee het. Hul onkreukbaarheid, hul liefde vir volk en vaderland en hul toegewyde en voortreflike dienste aan Suid-Afrika sal altyd uittroon as besondere hoogtepunte in die geskiedenis van die land.

Eers was dit dr. D.F. Malan wat die bewind in 1948 van genl. J.C. Smuts oorgeneem het… …dr Malan het nie geweifel nie… Dit bewys die volk se vertroue in die Nasionale Party.

Dr Malan het die tuig op 30 Nov. 1954 neergelê en is opgevolg deur adv. JG Strijdom wat op 24 Aug. 1958 oorlede is. In die  vier jaar het hy veral die stryd oor kleurlingstemreg tot oplossing gevoer, terwyl hy die republikeinse ideaal sterk op die voorgrond gehou en daarmee die Party tot groter hoogtes gevoer het.

‘n Toespraak deur dr DF Malan by Winburg in 1937 is hier te lese wat duidelik Malan se volksgerigdheid en spesifiek sy geloof in God aandui. Die geskiedenis van JG Strijdom word ook hier in die artikel in kort behandel wat bogenoemde stellings deur die nasionale party van 1966 onderstreep.

Op 3 September 1958 is dr. H.F. Verwoerd as sesde Eerste Minister van Suid-Afrika aangewys en sommer van die staanspoor af het hy hom geopenbaar as kragtige leier wat die Party tot groot hoogtes sou voer. Dit het hy gedoen, nie alleen deur die Party nie maar ook die volk as geheel tot ‘n groter eenheid saam te smee.”

Die twee paaie (Bladsy 4):

“In 1959 het dr Verwoerd… in die Volksraad… met oortuiging daarop gewys dat daar in Suid-Afrika net een keuse is nl. ‘n keuse tussen

OF die blanke sy eie gebied te gee en die Bantoe syne,

OF om almal deurmekaar een vaderland te gee wat die Bantoe uiteindelik sal regeer.

(Lees dit weer! – Red)

Langs hierdie weg, aparte gebiede, wil die Nasionale Party die toekoms van die Witman in Suid-Afrika beveilig.”

Billikheid en selfbeskikking vir Bantoe (Bladsy 27):

“Die Nasionale regering, as voog van die Bantoe binne die Republiek, maak ‘n intensiewe studie van hierdie belangrike saak en glo die oplossing lê in ‘n beleid van billikheid en regverdigheid teenoor beide Blank en Bantoe.

Daarvolgens word die Bantoestuislande ontwikkel om GROTER SKEIDING teweeg te bring en binne die blanke gebiede word beter beheer oor die beweging en verblyf van die Bantoe toegepas. … Hierdie beleid word gevolg ook om groter veiligheid vir die Blanke te skep en die HEERSKAPPY vir hom in sy eie gebied te verseker. (aka selfbeskikking – CV)

Die Nasionale Party staan nog altyd getrou by sy verkiesingsmanifes wat in 1947 uitgegee is en waarin gesê is:

“Die Party staan vir die handhawing en beskerming van die blanke bevolking van Suid-Afrika as ‘n suiwer blanke ras, die handhawing en beskerming van die inheemse rassegroepe as APARTE volksgemeenskappe met moontlikhede om IN EIE gebiede te ontwikkel tot SELFVERSORGENDE volkseenhede en die aankweking van nasionale trots, selfrespek en wedersydse agting by die verskillende rasse van die land.”

Aardrykskundige skeiding (Bladsy 28):

“Tweedens word aardrykskundige skeiding toegepas. Blankes het grondbesitreg in die blanke gebiede. Die Bantoe het dit weer in hul tuislande, WAARHEEN HULLE  aangemoedig word om te GAAN teneinde in hul volkseie opgeneem te word.

Derdens word maatskaplike apartheid deurgevoer. Dit geld terreine soos werkafbakening in die arbeidsveld, universitêre onderwys, aparte woongebiede, VERWYDERING van swartkolle in blanke gebiede EN witkolle in Bantoegebiede.” 

Terugvloei van Bantoe na eie gebiede (Bladsy 29):

“Fisiese ontwikkeling in die tuislande word op omvattende skaal behartig, ten einde groter drakrag aan die gebiede te gee. Dit word gedoen om al meer Bantoe in hul land van ‘n heenkome te verseker en om so ‘n TERUGVLOEI te bewerkstellig van Bantoe wat in die blanke gebiede ‘n lewensbestaan gaan soek het. Die vyfjaarplan… maak voorsiening vir dorpstigting, besproeiing, bosbou, grondbewaring, graan- en veselverbouing en die hou van veevendusies.

…Die Bantoe kan in die dorpe huise huur of koop en so grondbesitters in sy tuislanddorpe word.”

Konsolidasie (Bladsy 54):

Dit is beleid dat swartkolle binne blanke gebiede uitgekoop word, teneinde die blanke gebiede te konsolideer. Vir hierdie doel is gronde ter waarde van R2,628,000 oor die laaste vyf jaar uitgekoop.

Gesonde Rassebeleid.

Na ‘n paar baie insiggewende paragrawe onder die hofies Ekonomiese ontwikkeling, Grensnywerhede, Bantoevestiging, Vreemde Bantoe, Agterbuurtes en plakkerskampe, Noodleniging en Belasting, sluit die hoofstuk af met die volgende opsomming:

“Die grondslag van die beleid is vreedsame naasbestaan tot voordeel en veiligheid vir al die verskillende rasse, die Blanke nie die minste nie.” (bl. 31)

Dit is dus duidelik dat, terwyl groepsgebiede ingestel is, “om die ongewenste deurmekaarboerdery van verskillende rasse aan bande te lê” (bl. 84), die uiteindelike ideaal was:

“opheffing – nie onderdrukking nie… rasse-vrede… tot voordeel van blank en nie-blank.” (bl. 68).

Verdere Beweringe

Petzer (se teks-skrywer) beweer:

Die jaloesie, konflik en ongelukkigheid wat swartes en anderskleuriges in opstand gebring het, was die direkte gevolg van omstandighede, geskep deur die apartheidsbeleid van die “liberale” Afrikanerleiers, Malan en Strijdom.

Nee, dit was nie. Die konflik het nie so “geword” van verkeerde beleid nie. Dit is teweeggebring – met baie moeite, geld en harde werk deur kommunistiese agente agter die skerms.

Malan en Strijdom se beleid was nie liberaal nie. Inteendeel, dit was die aanvang van Verwoerd se beleid. Geen verskil, alleen voortbouing. Hulle het in dieselfde voetspore is gevolg.

Wie se voetspore?

As dr. Verwoerd wou, kon hy ook op die Parlementstrappies verklaar het, dat hy in die voetspore van Malan en Strijdom sal volg. Hy sou nie gejok het nie, want hy het.

En Malan en Strijdom kon dieselfde verklaar het van Presidente Kruger en Steyn. Want dit was die voetspore waarin hulle gevolg het, so goed hulle kon. Die herstel van die Boere-Republieke was die doel en ideaal van al hierdie manne.

Baie dinge sou egter verander moes word, voor daardie ideaal bereik kon word. Want omstandighede het ondertussen verander.

Daar moes rekening gehou word met die erfenis van ‘n Brits-afgedwingde parlementêre stelsel. Daaraan sou verander moes word, stadig en deeglik, alvorens die Republiek sy ideale gestalte verkry. Hierdie proses is begin toe die NP aan bewind gekom het, en  stelselmatig voortgesit, tot en met dr. Verwoerd se dood.

Onkunde of moedswilligheid?

Hiervan word niks genoem in die voordrag nie. Waarom nie? Waarom word hierdie werklikhede deur Petzer (se teks-skrywer) geïgnoreer?

Waar kom hy daaraan om Vorster se skande op Malan en Strijdom te probeer afsmeer?  

Alles wat hy aan Malan en Strijdom toedig, is dit wat in werklikheid deur Vorster gedoen is, lank ná Malan en Strijdom van die toneel af is, en nádat Dr’s Verwoerd en Albert Hertzog en mnr. Jaap Marais uit die weg geruim is.

Dr Verwoerd se Hoek-verslag, die verslag wat op die dag van sy dood in die Volksraad behandel sou word, sou die Geldmag se sabotasie-skandes ontbloot het en stopgesit het. 

Ons weet vandag dat die Hoek-verslag deur Vorster en sy veiligheidspolisie weggesluit is, omdat dit die Geldmag veel skade sou berokken. Daar het die Geldmag egter nie gestop nie. Die Republikeinse strewe moes be-eindig en omgekeer word.

Uit die geskiedenis is dit duidelik.  

Die Geldmag het sukses behaal.  

Alles is goed vooruit beplan en uitgevoer: die moord op dr Verwoerd, die aanstelling van John Vorster, die kaping van die Nasionale Regering, die subtiele vergiftiging van die volksgemoed teen Albert Hertzog en Jaap Marais, die kaping van die Apartheidsbeleid,  en die verarming van die volk en verryking van die vyand tot op die punt waar ons mense die hande in die lug gegooi het en “Apartheid” verwens het, want “dit werk nie”.

Dit was HIERDIE sogenaamde “Apartheid” waarvoor “die mense” NIE in 1948 gestem het nie. Vorster se gekaapte kwasi-“Apartheid”. Vorster se “een Maori”-beleids-verraad.

Watter Apartheid is WEL voor gestem? 

Waarvoor “die mense” WEL gestem het, was dit wat Malan en Strijdom toegepas en uitgebou. Malan en Strijdom HET uit en uit die Republikeinse strewe gevolg en uitgebou, Strijdom nog meer as Malan, en Verwoerd het dit vasgelê, soos duidelik blyk uit die Nasionale Party se boekie, soos hierbo aangehaal. 

Dit wat Petzer se teks-skrywer beskryf was ALLERMINS Malan en Strijdom se beleid.

Wat hy beskryf is Vorster se verdraaide, verwronge gekaapte ‘apartheid’. En hierdie kaping het nie vóór dr Verwoerd plaasgevind nie, maar ná dr Verwoerd.

Op die trappies.

Vorster het ewe heilig op die Parlement-trappies gestaan en verklaar dat hy in dr Verwoerd se spore gaan volg. Daarna het hy ook gesê: “Toets my aan my dade.” Hy is getoets en hy het die toets jammerlik gedop. 

As John Vorster nie so effektief deur die Geldmag gestoot en gesteun was nie, sou hy nooit eers premier geword het nie. Dan sou dr. Albert Hertzog hom opgevolg het (soos deur meningsopnames aangetoon is) en sou Jaap Marais hom help sorg het dat Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling (en dus selfbeskikking) suksesvol deurgevoer sou word.

Gewete verkoop, gewete versuip.  

Die geskiedenis toon aan hoedat Jaap Marais lateraan baie amper daarin geslaag het om die Verraads-Regering om te keer – terug na ‘n Nasionale Regering. Weereens het die Geldmag ingetree – en die KP (Konserwatiewe party) het sy verlammende verdelings-rol gespeel.

Vorster het eendag verklaar – “Jy kan nie teen die Geldmag op nie”. Hy is omgekoop en het later sy gewete in drank probeer versuip. Daar is ‘n hele paar “Afrikaner-leiers” wat mens aan kan dink wat daardie selfde pad geloop het. Want dit is die voorland vir elkeen wat nog bietjie selfrespek oor het nadat hulle bruikbaarheid verslaan het. Bittere selfverwyt.

As die Petzer-groep nie oppas nie, sal hulle hulself eendag in dieselfde posisie bevind.

Die waarheid oor Apartheid?

Hierdie reeks Petzer-voordragte bevat NIE die volle waarheid oor Apartheid nie. Die “historiese tydstaat” (alias Petzer) is verander, en feite is verdraai en weggelaat. So kyk ons nou met wantroue na ELKE stuk in hierdie reeks.

Die waarheid oor Apartheid is dat dr. Verwoerd NIE gestaan het vir ‘n volkstaat nie. Nie een van die ware Nasionale Afrikanerleiers het gestaan vir ‘n volkstaatjie nie. Hul almal het SAAM gewerk vir die verkryging van ‘n Volks-Republiek, ten volle selfbeskikkend. Die HELE land vir die blanke Afrikaner, of niks!

Waar staan Petzer en span?  

Die Petzer-span vra ons geldelike hulp om ‘die volk se hart te verander’. Maar dan maak  hulle volksleiers soos Malan en Strijdom verdag en so in wese, ook Verwoerd, Hertzog en Jaap Marais.

Hulle impliseer dat dr. Verwoerd ‘n ander ideaal gehad het as Malan en Strijdom, en dat hy ‘n VOLKSTAAT wou skep.

Dit is nie waar nie. Die volkstaatgedagte kom NIE van Pres. Kruger en Steyn se Republieke nie, en ook nie van dr Verwoerd nie.

So waarom wil hulle die volkstaatgedagte bevorder?

Luister mooi.

Volkstaatgedagte se doelwit

Die Afrikanervolk is ‘n reuse struikelblok vir die magnate wat Suid-Afrika se rykdom soek. Daarom moet ons WEG, uit Suid-Afrika. Die plan is: Vermoor, verbaster of verskuif die Afrikanervolk – oorsee, of na ‘n volkstaat-reservaat.

Dis nou waar die mooi dorpie ORANIA inkom. En dis waar ons weer al meer hoor van die 1994-onderhandelings-ooreenkoms, by name AFRIKANER AKKOORD oftewel RESOLUSIE 235. Daarvolgens moet die volk SKUIF – na ‘n reservaat.

Ons is deur Vorster, PW, FW en al hul vriende uitverkoop, maar die verkoop-transaksie se laaste deel is NOU besig om te gebeur. (Baie mooi verduidelik in hierdie reeks artikels)

‘n Volk wat nie sy geskiedenis-feite ken nie, se hart kan maklik verander word deur “waarheid”-ridders. Dan begin so ‘n volk sommer glo hy moet ‘TREK’ na ‘n valse ‘vryheid’ en ‘n valse ‘selfbeskikking’. 

So word sy grond finaal onder hom uitverkoop, MET sy mede-werking.

Moet ons ‘TREK’?

Nee. Ons moenie. Ons mag nie. Ons KAN nie. Want dit gaan om veel meer as net ons self.

Dr Verwoerd het gesê:

“Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekker van ouds, “Ons kan nog stry.” En ons sal veg, al sou ons moet ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika…

Ons kan nie anders nie.

Ons staan soos ‘n Luther met die Hervorming, met die rug teen die muur. Ons veg nie om geld of goed nie. Ons veg om die lewe van ons volk.

Maar… nie net vir ons volk nie …ons veg vir die voortbestaan van die blanke beskawing. Die blanke is aan die suidpunt van Afrika ‘n voorpos vir die blanke beskawing.”

(Bloedrivier, 1958.)

‘n BOODSKAP VIR DIE TOEKOMS – DF Malan

Op 2 Mei 1937 het Suid-Afrika se Eerste Minister, dr. DF Malan, die volk toegespreek tydens die se eeufeesviering van Winburg in die Vrystaat. Dit was by hierdie geleentheid dat hy die gevleuelde woorde “Glo in God, glo in u volk, glo in uself” gespreek het. Daar is beslis steeds baie waarde wat Afrikanernasionaliste vandag nog kan put uit hierdie boodskap. Wat hieronder verskyn, is `n opsomming van die toespraak soos in Die Burger gepubliseer.

Die fees sal vir dié wat dit bygewoon het, onvergeetlik wees, omdat dit gekenmerk is deur `n gees van ware samewerking van vriende toe die nagedagtenis van hul voorouers geëer moes word. Die fees is onvergeetlik omdat dit gehou is op heilige historiese grond, wat self `n boodskap vir die volk het. Die toestande wat 100 jaar gelede geheers het, en die gebeurtenisse wat toe plaasgevind het, is herskep en het herlewe en hierdie geslag het gemeenskap gehad met daardie geslag wie se boodskappe oorgedra moet word aan die geslagte van die toekoms.

Op Winburg word die Trekkers ’n Volk

Honderd jaar gelede is die keerpunt in die geskiedenis van die Afrikanerdom gesien. Die Groot Trek het nie plaasgevind as ’n georganiseerde eenheid nie, maar families het in klein groepies die land verlaat op verskeie tye om ‘n nuwe tuiste en `n nuwe bestaan te gaan soek.

Op Winburg het hulle bymekaargekom, waar hulle `n georganiseerde gemeenskap geword het. Hulle het opgehou om trekboere te wees en het ‘n Trekkende Volk geword met ‘n definitiewe doel. Om die Eeufees van daardie gebeurtenis te vier, is van die grootste belang vir Winburg en vir die Afrikanerdom.

Ons staan in die middel van twee eeue en is in staat om 100 jaar terug en in die toekoms te kyk, en daar is ‘n indruk waarvan ek nie kan wegkom nie – ‘n indruk dat daar in die geskiedenis van Suid Afrika ‘n definitiewe rigting is.

As ons terug kyk, lyk dit of die pad die afgelope 100 jaar vol draaie was, vol gevaarlike afgronde, en by rukke of die horison verdwyn het as ons nie vorentoe kyk nie, maar was daar nie ‘n rigting in hierdie blykbaar rigtinglose weg nie? Daardie weg is nie alleen deur werksmanne gemaak nie. Die ontwerp van daardie weg is die werk van ‘n Oppermagtige Brein, ‘n Ingenieur wat rigting gekry het vir ‘n blykbaar rigtinglose pad. Die rigting was vasgestel en het uitgeloop op ‘n vrye nasie.

Dis lank gelede reeds gesê dat die geskiedenis van Suid Afrika ‘n tragedie is en dat dit vergeet moet word om ons in staat te stel om ons aandag te skenk aan die huidige dringende probleme. Ons geskiedenis is nie net ‘n tragedie nie. Dis niks anders as die hoogste kunswerk van die eeue, ons het ‘n reg op ons nasieskap omdat dit aan ons gegee is deur die Argitek van die heelal. Die doel van die Argitek was die vorming van ‘n nuwe nasie onder die nasies van die wêreld.

Voortrekkers laat nuwe volk gebore word

Daar was voorheen blankes in Suid Afrika onder wie daar ‘n ontwakende nasieskap aanwesig was, maar dit moet erken word dat die Voortrekkers meer bygedra het tot die eintlike geboorte van die nasie as alle ander.

Ander belangrike gebeurtenis soos die landing van Jan van Riebeeck en die Eerste en die Tweede Vryheidsoorlog het ook bygedra tot die geboorte van ‘n nasie, maar nieteenstaande dit het die Voortrekkers die grootste aandeel geneem in die vorming van die Afrikanernasie.

In die briefwisseling tussen Piet Retief en sir Andries Stockenström praat laasgenoemde van “hierdie” mense, terwyl Retief van “my” land en “my” mense praat. Dit was die nuwe gees wat eerste deur die Voortrekkers uitgespreek is.

As ons terugkyk oor die afgelope 100 jaar, is ons verbaas oor die betreklike kort tydperk waarin ‘n nuwe nasie tot stand gekom het. Die geboorte van ‘n nasie in so ‘n kort tydjie is ‘n wonderwerk in vergelyking met ander nasies wat eeue geneem het. Hierdie kort tydperk van ons nasiewording het geen gelyke in die wêreldgeskiedenis nie.

Die wonder van ons taal

Ons het nie alleen nasieskap in ‘n eeu behaal nie, maar ons het ook ‘n eie taal opgebou, ‘n taal wat nie voorheen bestaan het nie. Die siel van ‘n nasie is gebore en daardie siel moes ‘n vorm van uiting hê.

‘n Nasie kan nie sonder ‘n taal bestaan nie en die geboorte van ons taal in so ‘n kort tydjie is ‘n ander wonderwerk wat nie sy gelyke in die wêreldgeskiedenis het nie. Die volk het baie jare vergeet dat hy ‘n eie taal het, maar ook dit het tot sy reg gekom. Sedert Afrikaans ‘n geskrewe taal geword het, het daar meer Afrikaanse boeke verskyn in 15 jaar as wat daar Engelse en Hollandse boeke in 100 jaar verskyn het.

Die volk moet ‘n geskiedenis hê om hom te inspireer en aan te spoor vir die toekoms. Ons is `n jong volk met `n jong taal, maar ons het ‘n ryk geskiedenis, vol met helde wat sal lewe so lank as wat die Afrikanernasie bestaan. Daar is geen ander nasie in die wêreld wat soveel groot manne gelewer het nie. As ons ‘n nasie was wat ons bemoei het met wêreldsake, sou ons ‘n Cromwell, Luther, Washington, en Lincoln kon gelewer het.

God het ‘n plan met Afrikanervolk

‘n Wonderwerk het in die afgelope 100 jaar gebeur, ‘n wonderwerk waaragter daar ‘n goddelike plan moet wees. Die geskiedenis van die Afrikaner openbaar vasberadenheid en ‘n doelbewustheid, wat ‘n mens laat voel dat die Afrikanerdom nie die werk van mense is nie, maar die skepping van God is.

Alles wat in die afgelope 100 jaar gebeur het, het gebeur in die teenwoordigheid van die drie woorde: “ten spyte van”. Ons het nie die groot getalle soos die Verenigde State nie, en die paar wat hier was, was oor die hele land versprei. Dit is nie moeilik om ‘n nasie op te bou uit groot getalle in ‘n dig bevolkte land nie. Ten spyte van die klein verspreide bevolking is ‘n nasie opgebou.

Deur middel van skole en opvoeding kan nasieskap gebore word, maar ons Volk het nie die voorregte van skool en kerk gehad nie. Dit het gevaar geloop om verstrooid te raak, en tog het ons ‘n nasie geword.

Ons het geen taal en kultuur van ons eie gehad nie,en moes dit leen. Ten spyte van die magtige kultuur wat ons wou oorskadu, het ons ‘n nasie geword.

‘n Nasie kan nie ‘n nasie bly sonder die liefde vir vryheid en gelykheid met ander nasies nie. Magte in Suid Afrika wat nie ‘n nuwe nasie nie wil hê nie, het komplotte gesmee om die Suid Afrikaanse nasie te vernietig.

Mag en sluheid het saamgespan, en die beendere van ons helde van vryheid lê versprei op die slagvelde. Die magtigste militêre ryk in die wêreld kon egter nie daarin slaag om ons volk te vernietig nie.

Ons mense is blootgestel aan die gevare van ‘n swart bedreiging en ‘n swart barbaarse bedreiging wat verskeie nasies vernietig het. Ons het egter ‘n volk gebly deur ‘n verhouding van heer en diensbode tussen blank en swart te skep, en nie rassevermenging toe te laat nie, want ‘n volk wat sy rasegtheid verloor, kan nie as volk voortbestaan nie. Ons het ‘n volk geword ten spyte van al die gevare en ten spyte van onsself.

Dwarsdeur ons geskiedenis is die Godsplan met ons volk klaarblyklik, en ons het die goddelike reg om Afrikaners te wees. Geen mag ter wêreld kan ons nasieskap doodmaak nie, want God het ons volk geskep.

Dit is nie nodig vir ons om te vra wat ons in die toekoms gaan doen nie. Ons kan slegs ‘n boodskap van hierdie feesviering rig aan dié wat dit in 2037 sal vier, want ons twyfel nie, en sal nooit twyfel dat die Afrikanervolk dan, of oor 500 jaar, nog sal bestaan nie.

Behoud van vryheid is moeilike taak

Die taak wat op die skouers van ons nageslag rus, sal moeiliker wees as die wat op ons skouers rus of wat op die skouers van die Voortrekkers gerus het.

Ons het vandag vryheid behaal; die stryd om vryheid is verby, maar juis om daardie rede sal hul stryd moeiliker wees, want dis makliker om vir vryheid te strewe as om te weet wat om daarmee te maak as dit eers verkry is, en hoe om dit vir konstitusionele doeleindes te gebruik.

Die Voortrekkers het die kolonie verlaat om die land oop te stel en ‘n nuwe tuisplek te vind. Sedertdien het trekkers die Suid-Afrikaanse kus en grense verlaat om nuwe woonplekke in Argentinie, Angola en elders te vind.

Ons taak en die taak van ons nageslag is om ‘n tuisplek te vind vir daardie Afrikaners in hul eie land waar hul hoort.

Daar is tans ‘n ander en nuwe trek, naamlik die van die platteland na die stede, en die taak van ons nageslag is om toestande in die stede te skep waaronder hierdie trekkers in staat sal wees om Afrikaners te bly, en waarin hulle ‘n lewensbestaan kan voer.

‘n Ander moeilike taak is geskep as gevolg van die toestroming na Suid Afrika van mense uit alle dele van die wêreld, wat hierheen gelok is deur die rykdom wat deur God hier geplaas is.

Die Voortrekkers het hierdie land vir ons verower en dit bewoonbaar gemaak vir ons. Sal ons hierdie land vir onsself en vir ons kinders behou, of toelaat dat dit in die hande van vreemdes verval, en die kinders van die Voortrekkers vreemdelinge en bywoners in hul eie land word ?

Die gevaar van rassevermenging

Die vraag is of Suid-Afrika aan ons sal bly behoort of nie? Die Voortrekkers het gewaak teen rassevermenging, en daardie taak rus nog op ons en sal op ons nageslag rus. In die tyd van die Voortrekkers was dit ‘n betreklik maklike taak, maar toestande het tans verander. Die gekleurde rasse raak beskaafd en hulle dring al hoe meer in die werk en kringe van die blanke, waar hulle skouer aan skouer saamwerk – nie as heer en dienskneg nie, maar as werksmense op ‘n gelykheids grondslag. In die grotere stede woon blankes en gekleurdes teenoor mekaar. Hul kinders speel saam.

Ons boodskap aan ons nageslag is: raak ontslae van die minderwaardigheidskompleks teenoor ander nasies en teenoor ons voorouers en Voortrekkers.

Die Voortrekkers het nie aan ‘n minderwaardigheidskompleks gely nie, en ons durf nie so ‘n kompleks by onsself aankweek nie. Ons nageslag moet aan hul vroue en kinders hul regmatige plek in die stryd vir volksbestaan, soos die Voortrekkers gedoen het, toeken. Ons moet dink aan Bloukrans en die Vrouemonument en besef dat net soveel lewens van vroue en kinders op die altaar van vryheid geplaas is as dié van mans.

Hierdie land is aan die Voortrekkers gegee in omstandighede waarin hulle God nie kon vergeet nie. Die Voortrekker was die kind van die veld, en onder die gedurige gevaar van barbaarse swarte mensehordes en diere was hulle noodwendig gedurig afhanklik van die hulp van God.

Ons land is onderhewig aan droogtes wat ons bestaan binne korte tyd kan wegveeg. Ons word gedurig aan God herinner tot wie ons, ons toevlug moet neem. As hierdie fondament ineenstort, is daar geen hoop vir die toekoms nie.

Antwoord op die roepstem

Grootheid word gebore tussen die heuwels in die stilte van die natuur, want in die eensaamheid van stilte spreek die natuur en God, en God word aan die mens geopenbaar. Daar hoor die mens die stem van God en die roepstem van die volk wat hom nodig het. Die mens antwoord dan op die roepstem, en onderneem die groot taak, en selfs as die volk die onderspit delf, weet hy dat God die bestaan van sy volk waarborg. Hy is nie bevrees om te wen of te verloor nie, want hy weet dat uit die dood lewe spruit, en dat hy die bystand van God en die opdrag van God het om hom te steun in die diens van sy volk. Dit dan is ons boodskap aan hulle wat hierdie geleentheid in 2037 sal vier, die boodskap wat ons van die Voortrekkers ontvang het, naamlik: Glo in God, glo in u volk, glo in uself.

 Dr. DF Malan, baanbreker Afrikanerleier

“Lang” Willem Prinsloo se Rykdom

Soos vertel deur mnr. Servaas le Roux in sy boek (titel onderaan hierdie stuk).

______________

Sommige word ryk gebore; sommige verkry rykdom; sommige word rykdom toegewerp. Willem Prinsloo was beslis in die derde kategorie. Na ‘n leeftyd van sukkel, waarin gebrek hom nou nie juis gepla het nie, maar ontbering sy skaduwee was, toe hy byna sewentig was, het hy een môre wakker geword en uitgevind dat die wêreld se rykste goudskat onder sy voete verborge lê.

Goudmyne, opspringende dorpe, al die tierlantyntjies van die “beskaafde” stadslewe was vir “Lang” Willem afstootlik. Hy het ‘n derde van sy plaas verkoop vir wat vir hom ‘n onmeetlike fortuin was, en getrek na ‘n minder bewoonde wêreld. Daar het hy ‘n ander plaas bekom, waar hy tog seker toegelaat sou word om sy dae in vrede te slyt sonder om sy buurman se skoorsteenrook te kan sien.

Nadat die geluk hom egter eenmaal toegelag het, kon hy nie so maklik daaraan ontsnap nie. Die hele Afrika was een stukkie woeste aarde, waardevoller as enige ander stuk ter wêreld, en daar het Lang Willem hom neergelaat op soek na eensaamheid en eenvoud. Ná goud kom diamante. Sy nuwe plaas was die ontstaanplek van die beroemde Premier-diamantmyn, houer van die beroemde Cullinan-diamant, onder die grootste ter wêreld, en die skatkamer waaruit ongemete rykdomme sou voortkom.

Hy is in 1818 in die Kaapkolonie gebore en was as agtienjarige seun onder die eerste emigrante wat hulle anderkant die Vaal gevestig het. Ek het ook verneem dat hy in Hendrik Potgieter se kommando was wat die Matabeles uit Transvaal gedryf het. ‘n Goeie aantal jare was hy olifantjagter, met matige sukses. In 1851 was hy lid van die eerste geselskap Boere wat die Ngami-meer besoek het. Ander in die geselskap was Martinus Swartz, Jan Viljoen en Petrus Jacobs.

Die enigste avontuur in sy jagtersloopbaan wat enigsins buite die alledaagse is, was sy geveg met ‘n gewonde buffel. Hy het die dier gekwes, die buffel het hom gestorm en Lang Willem het hom beetgepak. Ontsaglik sterk soos hy was, kon hy teen ‘n buffel nie veel uitrig nie, en hy is agteruit gedruk teen ‘n boomstam. Gelukkig was dit ‘n dik stam en die punte van ‘n paar gebreekte takke het só uitgesteek dat hy tussen hulle teen die stam kon leun op so ‘n manier dat die buffel hom nie mooi kon bykom nie.

Na ‘n ruk het die buffel teruggetrek toe hy al te veel bloed uit sy wond verloor het, en kort daarna het hy neergesak. Maande daarna het Prinsloo gely aan die inwendige beserings. Drie of vier maande lank kon hy net op krukke beweeg.

Nadat hy ‘n ruk in Transvaal was, het Willem hom op die Hoëveld van die Witwatersrand gevestig op ‘n plaas in die gebeid Oos-Rand. Die naam van die plaas was, as ek reg onthou “Geduld”. In heirdie tyd was sy lewe maar net soos dié van die ander Boere van die omgewing. Hoewel hulle onbesorgd kon lewe, het hulle geen rykdom hoegenaamd gehad nie.

Ek het die Prinsloos 40 jaar gelede goed geken en onthou hoe hulle my vertel het dat op die jaarlikse trek van die Hoëveld na die Laeveld die meisies die skape aangejaag het; die jong mans, natuurlik ook op perde, het die beeste versorg. Dit was hul omstandighede toe die eienaardige wisseling in hul lewe gekom het.

In 1885 en 1886 het skielik geblyk dat die Rand een van die grootste goudvelde ter wêreld is. ‘n Paar jaar later sou dit die grootste van almal wees. 

Prospekteerders het op Lang Willem se plaas gekom, en met sy opvattings van patriargale en landelike eenvoud het hy geweet dat die vrede en rus verby is. Hy het ‘n aanbod van £40,000 vir ‘n derde van sy plaas gekry en dit aangeneem. Dadelik het hy ‘n nuwe wêreld gaan soek en hom neergelaat op die plaas Kaalfontein, sowat 25 myl ten ooste van Pretoria. Dit was in 1888. Die ander twee-derdes van Geduld is mettertyd verkoop vir £90,000.

Ten spyte van sy plotselinge rykdom het Willem Prinsloo ‘n eenvoudige Boer gebly in sy uitkyk op die lewe, besonder taai en streng van aard. Uit niks het hierdie geaardheid beter gelyk as uit sy handelswyse met die geld wat so mildelik in sy hande gestop is nie.

Sy rykdom is aan die Standard Bank in Johannesburg in bewaring gegee. In 1889 het ‘n depressie ingetree. Die Bank van die Kaap die Goeie Hoop en die Westelike Provinsie-bank het ineen gestort. Willem Prinsloo wou niks meer waag nie. Met sy wa het hy die 70 myl of wat na Johannesurg getrek en stilgehou voor die Standard Bank in Commissionerstraat.

Daarbinne het hy sy geld gevra, in goud. Die kassier het gaan praat met die assistent-bestuurder, die assistent-bestuurder met die hoofbestuurder. Die baas het kom praat met hierdie onbuigsame Boer. Vergeefs. Willem Prinsloo wou sy geld hê en teenstand het hom net meer oortuig dat hy maar liewer sy geld moet vat.

Dit is vir hom gebring in seilsakkies, elk met £1,000. Moeisaam het hy dit begin tel, maar die proses was vir hom te lank. Hy het genoeg vertroue in sy medemens gehad om die bankbestuurder se woord te neem dat elk van die sakkies duisend goue ponde bevat; hy het hulle maar op sy wa gelaai en huis-toe gery.

Op sy plaas het hy die goud in ‘n groot kis in die voorhuis gehou. Mense het hom gewaarsku dat daar baie slegte mense na Transvaal gekom het wat hom sou vermoor en beroof. Hy het hom vasberade voorberei op elke gebeurtelikheid. Moderne gewere, almal gelaai, het klaar gestaan, maar sy grootste vertroue was nog altyd op sy ou olifantgeweer gevestig. As hy daarmee gewapen is, kon hulle maar kom.

Wyle mnr. Karel Rood, wat die plaas besoek het met die doel om die res van Geduld vir ‘n maatskappy te koop, het my van een insident vertel.

Willem Prinsloo, die seun van Lang Willem, het in ‘n naburige huis gewoon. Hy sou na Pretoria gaan en het met sy pa kom praat oor sake wat hy daar vir hom moet verrig. Nadat die instruksies gegee is, vra Lang Willem: “Het jy genoeg geld?”

“Ja, Pa.”

“Jy sal miskien meer nodig hê.”

“Nee, ek dink ek het genoeg, Pa.”

“Ek sê jy sal miskien meer nodig hê.”

Sonder praatjies het Lang Willem na die groot kis gestap, een van die sakkies oopgemaak, albei vuiste ingesteek en ‘n dubbele handvol goud uitgehaal. Sonder om te tel het hy dit in sy seun se bladsak gegooi.

Nadat die ander dele van Geduld verkoop was, het die opberging van goud op die plaas baie moeilik geword wanneer in die winter na die Laeveld getrek moes word. Na lange oorpeinsing het Lang Willem besluit om weer van die bank gebruik te maak. Hy wou die geld egter nie deponeer nie. Hy het die soliede brandkamers van die bank deurgekyk en besluit om die goud aan hulle toe te vertrou.

Drie en ‘n half jaar het hy opbergkoste vir sy goud betaal. Uiteindelik het hy ingesien dat die Standard Bank ‘n betroubare onderneming is en sy geld op vaste deposito geplaas.

Almal het hom Lang Prinsloo genoem, maar my pogings om sy lengte presies vas te stel het weer getoon hoe moeilik dit is om akkuraatheid te verkry van mense wat ‘n eenvoudige landelike lewe lei soos die ou Transvaalse Boere. Ek het Joachim Prinsloo gevra hoe lank sy vader was.

“O, so tussen ses en sewe voet.”

“Dis nie naby genoeg nie, Joachim. Kan jy nie ‘n beter skatting gee nie?”

Na ‘n rukkie se dink meen Joachim dat sy vader langer as ses en ‘n half voet was. Toe dink ek aan ‘n plan.

“Was hy so groot soos Lang Jan Erasmus?”

Lang Jan was baie jare die langste man in Transvaal, naamlik ses voet tien duim. Ons het hom altwee goed geken; hy was Lang Willem se kleinkind.

“Nee, hy was nie so groot soos Lang Jan nie.”

“Was hy dan so lank soos Doris Erasmus?” (‘n Broer van Jan.)

“Noudat jy van Doris praat, ja. Hy was presies so groot soos Doris, niks langer en niks korter nie.”

Dit het Lang Willem se lengte aangedui as ses voet agt duim.

Hy het ‘n taamlike klompie kinders gehad, maar party is jonk dood. Toe ek hulle 40 jaar gelede geken het, was die volgende kinders, in volgorde van ouderdom, nog in die lewe: mev. Erasmus, Willem, mev. Meyer, mev. van Dyk, Joachim, mej. Bettie Prinsloo en mev. van Niekerk (Marta).

Lang Willem is in 1898 oorlede. Voor sy dood is die plaas Kaalfontein onder sy kinders verdeel. Dit is op een van hierdie stukke dat die Premier-diamandmyn in 1902 ontdek is; 800 morg is vir £52,400 verkoop. Op ‘n ander deel van Kaalfontein is die diamantregte vir £100,000 verkoop. Na veel gesoek is geen myn op hierdie stuk gevind nie en is die Kaalfontein Diamond Company gelikwideer.

………………………….

Bron: Baanbrekers en Jagters van Suid-Afrika 1760-1890; deur Servaas le Roux; 1940.

Op ‘n Persoonlike Noot

Die wêreldberoemde sangeres Mimi Coertse was ‘n skoolvriendin van dr. Verwoerd se een dogter. Hier vertel sy bietjie van hoe sy dié groot man geken het.

____________

Min mense weet waarskynlik dat ek dr. Verwoerd goed geken het. Ek het dikwels na hom toe gehardloop as ek probleme gehad het en hy het my ook van sy kant ondersteun, selfs as ek nie daarvoor gevra het nie.

Gewoonlik, wanneer ek in die sestiger jare van Europa af gekom het, het ‘n staatsvoertuig my die volgende dag kom haal en na Libertas geneem om te gaan kuier. Een van daardie kere het ek so ‘n pragtige, driedubbele string pêrels aangehad en dit was vir Dok verskriklik mooi. Toe ek vir hom sê dat ek dit in Wenen gekoop het, en dat dit soveel of soveel gekos het, sê hy: “Nouja, dan moet jy maar volgende keer vir Betsie een saambring.” Ek het toe vir Betsie een saamgebring en hy het so ewe die geld gegee…

My kennismaking met die Verwoerds gaan al heelwat verder terug; om die waarheid te sê, na 1946 toe ek nog op skool was. Hulle dogter Anna was ‘n klasmaat van my op Helpmekaar Hoër Meisieskool in Johannesburg en dit het ‘n oor en weer kuiery afgegee.

Ek sal nooit die dag vergeet toe ek die eerste keer by hulle gaan eet het nie. Ons sit die middag om die tafel, toe tik haar pa op sy bord, almal laat hulle koppe sak, hy tik weer en toe begin hulle eet. “Nou maar wanneer bid ons?” vra ek. Hy sê toe, nee, elkeen bid vir homself. Toe sê ek: “In ons huis bid my pa altyd kliphard vir ons almal.”

Jare later kuier ek in Libertas en my ma en pa is ook genooi vir ete. Toe bid Dok hardop, waarop tannie Betsie sê: “Dit doen hy net as Mimi Coertse aan tafel is.” En dit was ook so.

By daardie eerste ontmoeting het ek gehoor hoe hy ‘n storie kan vertel dat jou hare rys. Dié storie was nogal die waarheid, hoor. Hy het vertel hoe hy in die nag van ‘n vergadering af tuisgekom het en by die hek voorgelê is deur ‘n paar gewapende jongmanne wat hom wou ontvoer. Hy het toe deur die hek gebars en ternouernood ontkom. Later is vasgestel dat dit Stormjaers van die Ossewa-Brandwag was wat nie gehou het van sy koerant-artikels teen hulle nie.

Wat hy ook vertel het, was dat hy ‘n paar dae later ‘n hoë besoeker uit Engeland, ‘n sir Somebody wat ‘n koerantredakteur was, dink ek, saam met hom in die kar huistoe gebring het vir middagete. Die hek was weer toe. Nou stop hy, hy weet nie of hy moet uitklim om oop te maak nie want die hek is nooit toe nie. Dit kan ‘n lokval wees. Hy sê hy begin sweet. Hy kan ook nie die man langs hom op hol jaag nie.

Die volgende oomblik spring twee knape agter ‘n bos uit met speelgoedgeweertjies. Dit was toe Hendrik en Christiaan wat die storie gehoor het en gedink het dit sal groot pret wees om ‘n heropvoering te hou! Dok sê hy was die eerste keer nie bang nie, maar die tweede keer het die koue sweet op hom uitgeslaan al was dit helder oordag.

My uitgesprokendheid, soos dié middag by die ete, het my al dikwels in die sop laat beland, maar nie by Dok nie. In 1966 is N.P. van Wyk Louw se stuk Die pluimsaad waai ver in Pretoria opgevoer en ek weet Dok het nie daarvan gehou nie. Ek het seker met ander oë daarna gekyk want ek het vir hom gesê ek dink dit was ‘n goeie opvoering. Hy het nie met my geargumenteer nie, net gesê: “Los dit dan nou maar.”

Daar was ‘n ander keer wat ek in die koerant uitgekryt is omdat ek te velde getrek het teen die hoesery en proesery van gehore by musiekuitvoerings. Ek is dan nou so geliefd en ek word so goed behandel en ek kry sulke goeie kritiek, dit is mos pure ondankbaarheid van my om die publiek te kritiseer. Maar die mense het regtig geen respek gehad nie.

Ek kry toe onverwags ‘n oproep van die Eerste Minister. Hy sê: “Hulle gaan met jou probeer praat oor die koerantberigte. Nou sê ek vir jou, jy sê nie ‘n woord nie. Hulle soek net nog ammunisie. Jy antwoord net nie. Dit is die beste taktiek.” Ek het daardie advies ter harte geneem en my lewe lank onthou.

Dit het een of twee keer gebeur dat ek hom sommer uit Wenen gebel het om raad te vra. Soms is ek genooi na plekke waarheen ek nie geweet het of ek moet gaan en hoe dit gereël kan word nie; Rusland byvoorbeeld.

‘n Ander geval waar Dok blitsvinnig tot my redding gekom het was in 1965 hier in Suid-Afrika. Ek was toe met die Italianer getroud. My pa se neef wat in die politiek was, het ons gaan wys hoe lyk dit in Soweto. Hy wou ons wys watter vordering gemaak word met die uitvoering van die beleid. Ek het ‘n kamera gehad, foto’s geneem en die foto’s by ‘n apteek ingehandig om ontwikkel te word.

Ons was skaars terug op my ouers se kleinhoewe tussen Pretoria en Hartbeespoortdam, toe daag die polisie daar op. Hulle kom toe vrae vra en beslag lê op die foto’s. Die apteker moes hulle seker in kennis gestel het. Ek het niks verkeerd gedoen nie; wat sal ek nou met die foto’s aanvang?

Ek bel toe sommer die Eerste Minister en sê “die geheime polisie” is hier en hulle sukkel met my. Dit was nie vyftien minute later nie, toe kom daar ‘n oproep vir een van die polisiemanne, daar word so ‘n bietjie gepraat, en weg is hulle sonder die foto’s. Dok was nie aan die slaap nie, hoor. Hy het geweet wat dit is om op te tree.

Dit laat my aan ‘n ander episode dink, maar miskien het die KWV (Kaapse Wyn Vereniging) ook ‘n rol daarin gespeel, ek weet nie.

Daar was ‘n swendelary in Wenen aan die gang met Suid-Afrikaanse rooiwyn. Van my kollegas het ‘n bottel gekoop en dit het sleg gesmaak. Iemand het ondersoek ingestel en gevind die wyn word nagemaak deur ‘n poeier met water te meng; bid jou dit aan!

Kort daarna was ek in Pretoria en ek vertel toe die storie aan tafel by die Verwoerds. Dok het nie ‘n oog geknip nie; hy sê niks. Terug in Wenen vind ek alles in rep en roer. Daar het ‘n opdrag uit Suid-Afrika gekom om al die Suid-Afrikaanse rooiwyn van die winkelrakke af te haal en die ambassadeur is woedend. Hulle gaan al die visums na en probeer vasstel wie die nuus versprei. Ek was nog nooit stom nie, maar ek kon my eie afleiding maak.

Van my ouers se kleinhoewe gepraat, dit het meer as een keer gebeur dat ek ná ‘n kuier by Libertas alleen in die aand met my Mini-motortjie moes terugry. Dan het tannie Betsie gewoonlik saam met my gery met die bestuurder en die ampsmotor agterna om haar weer terug te bring.

Daar was ook die keer toe my motor oorgekook het. Dok-hulle het my by die voordeur kom afsien, toe merk hy die plas water. Bedink nou die volgende toneel: Ek lig die enjinkap op en Dok is op sy knieë om onder die kar in te kyk.  Tannie Betsie kom nader om te keer: “Maar Pappa, jy kan tog nie uitmaak wat verkeerd is nie.” En die veiligheidswag dink hy is die groot ekspert: “Nee, Doktor asseblief, laat ek sien.”

Intussen het Dok al klaar opgelet dit is die verkoeler se dop wat nie teruggeplaas is nie. “Betsie,” sê hy, “nou ry jy saam met Mimi terug na die garage waar sy vanoggend volgemaak het en kyk dat sy die regte dop terugkry.” Betsie is toe saam, ja, daar is die dop, sy klim in die ander kar wat agterna gekom het en terug is sy na Libertas.

Dok was vrygewig met my. Ek het soms konserte in Pretoria gehad om geld in te samel vir die Mimi Coertse-beurs. Ek sing verniet, die mense koop kaartjies en die opbrengs gaan om jong sangers oorsee te stuur vir studie. Dok het dan vir my ‘n blanko tjek gestuur met sy handtekening, en ‘n nota dat ek moet invul hoeveel ek dink hy behoort te gee vir die konsert.

Dit het nie heeltemal so maklik gegaan om staatsgeld uit hom te kry nie toe TRUK op ‘n stadium in die nood was met hulle operaseisoen. Dit was omstreeks 1962/1963 wat Bags Cilliers my (namens wie weet ek nie meer nie) afgevaardig het om met dr. Verwoerd te gaan praat oor addisionele fondse en ek was bra teensinnig.

Sê maar die bedrag wat hulle wou hê was R400 000, of so iets. Ek kom by die Eerste Ministerswoning en sê vir Dok ek wil eintlik vanaand bietjie besigheid kom praat. Hy neem my saam studeerkamer toe en haal eers die kussings af want nie een van ons sit graag teen kussings op ‘n bank nie.

Ek stel my versoek en dink by myself: kom nou, Dok, jy kan as jy wil. Hy begin praat, daar is damme wat gebou moet word, daar is armoede en die behoefte is groot. My moed sak. Ek voel vanaand kry ek niks. Uiteindelik sê hy: “Maar ek sal jou darem R200 000 kan gee.” TRUK het gejubel. Die saak was gered.

Dr. Verwoerd het goeie musiek waardeer en het opreg belang gestel in my loopbaan. Hy het my vertel van die operas wat hy as platsakstudent in Duitsland gesien het, onder andere die Berlynse première (nie die wêreldpremière nie) van Der Rosenkavalier van Richard Strauss.

Ek weet nie hoeveel van my konserte hy bygewoon het nie, maar een kan ek baie goed onthou. Dit was in 1960 met die Uniefees in Bloemfontein toe ek spesiaal gekom het om in Rigoletto te sing. Daarna het ek ook nog twee of drie uitvoerings in die Aula in Pretoria gegee. Hy was nog besig om te herstel ná die eerste aanslag op sy lewe by die Randse Paasskou vroeër daardie jaar.

Ek het by Bags Cilliers van die universiteit tuisgegaan. Hier bel Dok uit die bloute en vra vier kaartjies vir Vrydag, twee vir hom en tannie Betsie en twee vir die wagte wat hom moet vergesel. Bags sê dit kan nie, alles is uitverkoop, hy sal hoogstens twee plekke kan organiseer, maar vier is onmoontlik. Ek bel terug. “Kyk,” sê Dok oor die telefoon, “as hy nie vir my plek kan kry nie dan loop ek op die verhoog orals langs jou saam waar jy sing.”

Ek kom by die huis en vertel dit vir my ma. Ag siestog, voor sy haarself kan keer sê sy: “Haai my kind, hy kan dit mos nie doen nie, sê nou maar hulle skiet hom weer en dan skiet hulle jóú raak!”

Die aand ná die uitvoering was daar ‘n onthaal by prof. Rautenach en Dok was ook daar. Ek vertel toe maar as ‘n grap wat my ma op die ingewing van die oomblik krytgeraak het. Sy oë het vol trane geskiet en hy het gesê: “Dis net ‘n moeder wat so kan voel.” Ander mense het toe ná die tyd gefluister dat hulle darem nie geweet het hy kan so bewoë raak nie.

Die eerste keer wat ek hom gesien het ná die skietery was by Libertas. Toe hy by die deur inkom, het ek opgestaan en na hom toe geloop. Hy het mos so ‘n skewe manier gehad om ‘n mens te omarm. Hy sit toe sy arm om my, half aan die een kant, en nadat osn gegroet het, hou hy my vas en sê: “Dit het hier ingegaan en hier uitgekom.” Hy het gesukkel om die woorde te sê, en hy wys my toe verder: “Ek kan nog nie my twee vingers insteek nie. My mond is nog nie heeltemal reg nie, maar verder makeer ek niks.”

Ons het toe nog so ‘n bietjie gepraat oor die skietery. Sy woorde onthou ek nog soos gister: “Die Here het nog planne met my, dis dié dat ek nie dood is nie, ek het nog ‘n paar dinge om te doen.”

Ek was regtig baie na aan dr. Verwoerd. Hy was ‘n nederige man. Wanneer my ouers, Ben en Maria, by die klein tafeltjjie in die restaurant van die parlementshuis gesit het, het hy van die groot tafel waar sy kollegas bymekaar was, opgestaan en by hulle kom sit.

……………………….

Bron: Verwoerd, só onthou ons hom; saamgestel deur Wilhelm J. Verwoerd; 2001.

Sal die boom wat Jopie Fourie geplant het weer vrugte dra?

Deur Carel van der Grijp

Die Geskiedenis van ‘n volk is die voedsel wat daardie volk laat groei. Dit is die wortel en anker vir elke geslag. ‘n Volk getrou aan sy geskiedenis bly ook getrou aan sy geloof, sy afkoms en herkoms, sy taal, kultuur en tradisies.

Soos Jopie Fourie dit in sy sterwinsuur op 20 Desember 1914 gestel het: “Die boom wat geplant is en met my bloed benat word, sal opgroei tot ‘n groot boom en sal heerlike vrugte dra”.

In 1453 word Europa lamgelê toe die bestaande handelsroete na die Ooste, Klein-Asië en Noord-Afrika deur die Turke, die vyand van die Christendom, verower is. ‘n Alternatiewe handelsroete moes gevind word.

Eerste bloed in die suidpunt van Afrika

Op 6 Januarie 1488 betree die eerste Witman die suidkus van Afrika by Visbaai. Daarna verskuif Bartholomeüs Dias na Mossebaai vir die inneem van vars water. Inboorlinge bestorm egter Dias en sy matrose en hulle word met klippe bestook. Van die Portugese seevaarders se kant word daar in selfverdediging ‘n skoot geskiet en ‘n inboorling word gedood. Só vloei die heel eerste bloed tussen Wit en Swart aan die suidpunt van Afrika, met die Swartman as die aggressor.

Sowat 164 jaar later, op 6 April 1652, stap Jan van Riebeeck aan wal in die Kaap van Goeie Hoop om ‘n handelstasie op te rig. ‘n Handelstasie wat die wêreld se geskiedenis op byna elke gebied sou beïnvloed.

Die soeke na speserye en ivoor word dus die baanbreker vir die geboorte van ‘n volk, want deur die verloop van die jare het hier ‘n volk ontstaan met sy eie taal, kultuur, geloof en lewens- en wêreld-beskouing. ‘n Volk wat gelouter is deur die eise om staande te bly teen die onderdrukking van die Britse wêreldheersers, wat ook die haat teen die Afrikanervolk aangevuur het onder die Swart bewoners van Afrika.

As ons kyk wat hierdie volk moes verduur, is dit menslik byna onmoontlik dat hulle kon oorleef. Die Afrikanervolk is dus ‘n wonderwerk van God. Ten spyte van al die aanslae om die ontstaan van hierdie volk te verhoed, het hy tog een van die wêreld se voortreflikste volke geword.

Die beproewinge van die Boere op die oosgrens, die Britse besetting in 1806, die vervolging en teregstelling van Boere deur Britse owerhede, die onteiening en herverdeling van plase, die afbrand van en moorde op plase, die verpligte Engelse onderwys en taalbeleid en gelykstelling tussen rasse was niks anders as ‘n totale aanslag nie.

Die beproewings op die Groot Trek het bewys dat die Swart massas 30 jaar na die besetting van die Kaap steeds deur die Britse owerhede en hul sendeling-handlangers in Natal aangevuur is om die Trekkers uit te moor.

Die Slag van Bloedrivier en die Gelofte van 16 Desember 1838 was ‘n keerpunt in die verloop van die geskiedenis. Hieruit het ‘n gevoel van samehorigheid ontstaan en dit is vandag nog steeds die gebeurtenis wat regdenkende nasionalistiese Afrikaners bymekaarbring.

Die volkssmart word ‘n wekroep tot vryheid

Die stigting van die twee Boererepublieke en hul onafhanklikheid vry van die Britse oorheersing was ‘n oorwinning in die Boervolk se stryd. Maar daar sou dit ongelukkig nie eindig nie. Toe kom die Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë, die oorwinning by Majuba, die moord op 27927 weerlose vroue en kinders en die afbrand van huise en plase tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Saam met die ewige vervolgingswaansin van die Britse Imperialiste en die stryd ná 1902 vir die behoud van volk en taal, die 1914 Rebellie en die moord op Jopie Fourie was al hierdie historiese gebeure ‘n martelpad vir die Afrikanervolk.

Al hierdie gebeurtenisse het egter ook die volk se wil om te leef en steeds vry te wees laat opvlam. “Die boom wat geplant is en met my bloed benat word, sal opgroei tot ‘n groot boom en sal heerlike vrugte dra”, het Jopie Fourie gesê kort voor hy op ‘n Sondag deur Botha en Smuts se magte doodgeskiet is.

Die teregstelling van Jopie Fourie was ‘n hartseer gebeurtenis in die geskiedenis en dit het die volk aan die hart geruk. Afrikaners wat passief was, het meer betrokke geraak. Botha en Smuts het hul aansien verloor en weer is die geskiedenis van die onreg deur die volk in herinnering gebring.

Digters en skrywers het die pen opgeneem en die geskiedenis berym. Met weemoed is die volk gevul en die wil om vry te wees het herleef, soos dié gedig “Wekroep tot die volk – Jopie Fourie” deur Jan FE Cilliers dit verwoord:

Vriend en vyand en renegaat,

Luister toe! Dis n man wat praat –

Wat ek gedaan het, is gedaan

Met ope oog, soos ek voor jul staan;

sê Jopie Fourie

Ek vrae nie om genade nie,

Transvaal, my land, jou kind is jou

tot in die boeie getrou;

bo slawediens is die eer wat hy begeer.

Ek vra nie om trane of rou vir my;

Ek vra net dat jul trou sal bly

Aan God en sede, volk en taal en ideaal –

En heerlike vrug sal die boom nog dra

Van Suid-Afrika.

Dié boom hét vrugte voortgebring en sy saad is deur die volksmond versprei. Met ywer het die volk gewerk en hul kinders daarvan vertel. Nasionalisme het herleef so ook die strewe om weer hul vryheid terug te win. Op 31 Mei 1961, byna 47 veertig jaar na Jopie se teregstelling, word die vrug ingewin.

Verraad laat vryheid verlore gaan

Die vryheid waarvoor Jopie Fourie sy bors aangebied het, om die koeëls te ontvang met die vaste oortuiging dat God sy dood sal gebruik om die volk tot ontwaking op te wek en sodoende die vryheid te erwe, word 79 jaar na Fourie se teregstelling in Desember 1993 ongedaan gemaak. Toe ontbind die laaste verkose Blanke volksraad en word dit vervang met ‘n tussentydse regering waaraan die ANC deel het.

Die skandalige oorgawe word op 27 April 1994 verseël. Byna 80 jaar na Jopie Fourie se offer verloor die Afrikanervolk sy vryheid. Fourie se vryheidsboom is vergete, onversorg en verwaarloos. Daar vloei steeds Afrikanerbloed, maar dit benat nie meer die vryheidsboom nie.

Vandag, 20 later, staan daardie boom deur onkruid en dissels berank met die verval duidelik sigbaar. Sy takke is besmet met swam en parasiet en hy is stadig aan die verwelk. Die vrugte is min en sonder saad – ‘n toonbeeld van die toestand waarin ons volk vandag verkeer.

Mandela word ‘n wêreld-ikoon

Op 5 Desember 2013 sterf die groot “ikoon” of hedendaagse “messias” en gepryste “vredemaker van die nuwe Suid-Afrika, Nelson Mandela.

Die wêreld is in rou gedompel en hy word met lofsange geprys.

Ook deur sekere Afrikaners wat voorgee om ook “vry” te voel sonder hul Afrikanerskap en die skuldgevoel van apartheid. Hiervoor pryse hulle vir Mandela. Reuse standbeelde word deur die wêreld opgerig. Die wêreld vier sy lewe en daar word gesê dat hy bedank moet word dat die Afrikaners oorwin is en dat daar nooit weer apartheid (“Aparthate”), afsonderlike ontwikkeling, rasse diskriminasie en nasionalisme (alles natuurlik sondes teen die mensdom) in Suid-Afrika toegelaat of geduld sal word nie.

5 Desember 2013 word ‘n dag wat altyd onthou sal word en waaroor kinders regoor die wêreld in die toekoms in geskiedenisboeke as ‘n “hartseer dag” sal leer. Daarmee saam sal hulle leer van die “wreedheid van die Afrikaner” en die “Long walk to Freedom” van hierdie wêreldgod. Die meerderheid Afrikaner sal natuurlik sy kind in die regering se skole plaas en toelaat dat die leuen aan hom geleer word.

Die pilare wankel

Die meerderheid Afrikaners besef en erken vandag dat die voortbestaan van die Blanke – en veral die voortbestaan van die Afrikaner as volk – in die weegskaal is. Die feit is egter dat die skaal oorhel na die uitwissing van die volk. Volgens die “Stop Die Plaasmoorde”veldtog se statistiek is daar ongeveer 68 000 Blankes sedert 1994 in Suid-Afrika vermoor en omtrent ‘n miljoen het die land verlaat.

Daarteenoor is die aanwas vir die Blanke (Afrikaners ingesluit) maar 0,75 % en word daar voorspel dat in 2016 die aanwas op 0% sal wees.

Wil ons nog as ‘n volk voortbestaan? ‘n Volk word gebou op vier pilare: Sy geloof, ras, gemeenskaplike afkoms (geskiedenis) en taal. Indien een hiervan ontbreek, bestaan daar in werklikheid nie ‘n volk nie. Indien een van die pilare begin wankel en nie versterk of gestabiliseer word nie, is die ineenstorting onvermydelik.

Ons wil graag glo dat die Christen Afrikanernasionalis tog nog op die vier pilare geanker is. Die aanslag word by die dag feller en ons word vandag wysgemaak dat die Afrikaner nie raseg is nie.

Kleurlinge word deur sekere groepe as Afrikaners beskou en word daar verder gegaan dat daar self Swart gene in die Afrikaner voorkom. Volgens dié standpunt is die Afrikaner dus eintlik ‘n nie-blanke.

Om alles te kroon is die aanslag op ons taal, Afrikaans, veller as ooit tevore.

Die vraag is wat kan ons doen? Die antwoord is reeds gegee deur dr. DF Malan. “Keer terug. Terug na u volk (Geskiedenis), terug na u volk se hoogste ideale, terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar”.

Hierdie pand is om God te dien, om Blank te bly en die vryheidsideaal na te streef.

Verwyder dus u kind uit die leerplan van die ANC/SAKP/ Cosatu-alliansie en lei hom terug. Weg van vreemde invloede. Daardeur word die volk gelei op die pad van genesing en herstel.

Kom laat ons daardie onkruid en dissels uit Jopie Fourie se boom verwyder. Kom laat ons die verrotte tak met parasiet en swam uitkap en nuwe lote daar laat uitspruit.

Kom laat ons die boom met ons opoffering benat en weer vrugte laat voortkom. Laat ons die boom se vrugbare saad laat voortplant om weer vrugte van ware Christelike Afrikanernasionalisme te dra en daardeur sal die pad na vryheid bewandel word.

……………………………..

Bron: Uit ANB Nuusbrief nr.50, April 2014. Gaan blaai gerus bietjie deur die volle nuusbrief by hierdie skakel.

Bloedrivier Gelofte

Toespraak deur dr. D.F. Malan op 16 Desember 1938 op Bloedrivier, ‘n hoogtepunt van die Voortrekkereeufees.

Die onderwerp waaroor ek tot u wil spreek is: Die Nuwe Groot Trek Suid-Afrika se noodroep en die antwoord daarop.

Wat daarmee bedoel word, weet die meeste van u wat met ons volkstoestande bekend is, al dadelik. Ek wil spreek oor die grootskaalse verhuising van ons blanke plattelandse bevolking na die stede, oor die stryd wat veral die Afrikaners, en onder hulle baie duisende wat Voortrekkerbloed in hul are het, daar moet voer om hul brood, om hul siel, om hul Afrikanerskap, en nie die minste nie, om in die aangesig van die moeilikste omstandighede Suid-Afrika ‘n witmansland te hou.

Dis uit daardie nuwe wortelstryd wat stil, haas ongemerk maar onafgebroke en meedoënloos voortgaan en wat meer as iets anders die toekoms van ons blanke Afrikanerdom besils, dat daar ‘n noodroep opstyg. Dis tot u dat dit kom. En dis dit wat ek wil laat hoor.

Daar is voorwaar geen geskikter plek en geen geskikter geleentheid om na daardie stem van u volk te luister nie. Op Bloedrivier se slagveld staan u op heilige grond. Dis hier waar die groot beslissing geval het oor Suid-Afrika se toekoms, oor die Christelike beskawing in ons land en oor die voortbestaan en die verantwoordelike magsposisie van die blanke ras.

Dis hier waar die Voortrekker se menslike hart, se leeuemoed, se onwrikbare geloof in sy God en in sy volk die duidelikste en kragtigste spreek tot die nageslag. Dis hier waar in die uur van doodsgevaar en sonder om dit self so te bedoel, u voorvaders voor die wêreld ‘n aanskoulike beeld van hulself afgeteken het wat op die mees afdoende wyse die vurige laster van die eeu wat was en die eeu wat kom, beskaam.

Maar daar is grond waarop u staan wat nog heiliger is. U staan op die skeiding van twee eeue. Agter u rus u oog op die jaar 1838 as op ‘n hoog uitstaande en alles beheersende bergop in die bloue verte. Voor u op die nog onbetrede Pad van Suid-Afrika lê daar ewe ver en dynsig-blou die jaar 2038. Agter u lê die spore van die Voortrekkers se ossewaens, diep en onuitwisbaar afgedruk oor die wyd uitliggende vlaktes en oor die grynsende, draakagtige bergreekse van ons land se geskiedenis.

Hulle het die stem van Suid-Afrika gehoor. Hulle het uit Gods hand hul taak ontvang. Hulle het hul antwoord gegee. Hulle het hul offers gebring. Daar is nog ‘n blanke ras. Daar is ‘n nuwe volk. Daar is ‘n eie taal. Daar is ‘n onsterflike vryheidsdrang. Daar is ‘n onafwysbare volksbestemming. In hierdie Eeufeesjaar 1938 oordeel hul nageslag oor hulle. En daardie oordeel oor hulle gaan voor die oog van alle geslagte nou in volksmonumente daar verewig staan.

Hul taak is afgedaan. Maar oor daardie onbekende landstreek wat wyd uitgestrek voor u lê, sal daar ook die spore getrek word van ossewaens. Dit sal wees u ossewaens, simbolies as u dit so wil noem, maar nietemin werklik. U en u kinders sal geskiedenis maak.

Sal Suid-Afrika dan nog witmansland wees? Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons met vermoeide oë sal aanstaar as ‘n ewige verwyt? Sal die Afrikanerdom dan een wees en vry? Sal u volk dan God nog ken?

Oor die Pad van Suid-Afrika sal ook u moet trek oor bergreeks en deur dorsland heen. Koers hoef u nie te soek nie. Dis daar. Sal u hom hou?

Aan lig hoef dit u nie te ontbreek nie. Die fakkel met vaste voet oor honderd jaar heen gedra, word vir u in u hand geplaas. Sal u hom brandende hou?

U voorvaders het ‘Die Stem’ nooit gesing nie omdat hul hom nie geken het nie. Maar uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see en oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee, het hulle sy geklank tog opgevang en verstaan. Hulle het geantwoord. Hulle het geoffer. In u ore weerklink daardie selfde stem. Hy is op u lippe omdat u hom liefhet en bely as u eie en enige volkslied. Maar het u hom ook gehoor? Die eeu wat kom, sal u antwoord ontvang. In sy weegskaal sal hy u offers weeg. En 2038 sal oor u oordeel.

Onder die vrae wat ek netnou gestel het, is daar twee waarmee my onderwerp meer besonderlik te doen het. Die een is: Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons sal aanstaar met vermoeide oë as ‘n ewige verwyt? En die ander, wat intiem daarmee saamhang, is: Sal Suid-Afrika nog ‘n witmansland wees?

Ek gaan hierdie vrae nie beantwoord deur my in ydele voorspelling te verdiep nie. As daar enige antwoord gegee word, dan moet dit kom van die verenigde Afrikanerdom wat die deur Voortrekkers gebaande Pad van Suid-Afrika doelbewus en standvastig sal betree, of wat sielloos en doelloos daarvan sal afdwaal. U ‘ja’ kan alleen gegee word deur die magtige daad.

My taak vandag is slegs om u te sê dat, terwyl u hier staan, daardie vrae alreeds besig is om beantwoord te word, en beantwoord te word in u naam.

Die stryd met wapens is verby. Dit was die Voortrekkers s’n. Maar die nog heftiger, dodeliker stryd as hulle s’n was, word nou beslis. Die slagveld is verskuiwe. U Bloedrivier is nie hier nie. U Bloedrivier lê in die stad.

Ek behoef u nouliks te sê dat die Afrikanerdom weer op trek is, op sy nuwe Groot, of miskien moet ek sê, sy nuwe Groter Trek. Dis nie soos honderd jaar gelede ‘n trek weg van die middelpunte van die beskawing af nie, maar ‘n trek terug – terug van die platteland na die stad, terug selfs uit ander vroeëre toevlugsoorde soos Angola en Argentinië na Suid-Afrika.

As u ooit daaraan getwyfel het, dan verkondig hierdie terugtog dit nou met luide stem dat hierdie land waar die Voortrekkers se bloed lê, u land is, en dat die volk wat hul stryd en geloof help skep het, u volk is. U het geen ander nie. Met die Afrikanerdom moet u lewe en met die Afrikanerdom moet u sterwe.

Die trek na die stede groei klaarblyklik vinnig aan en niks kan dit keer nie. Dertig jaar gelede was die getal blankes in die stede en op die platteland ongeveer gelyk. By die totstandkoming van die Unie het die verhouding ten gunste van die platteland oënskynlik selfs verbeter. Met die laaste sensus egter, te wete dié van 1936, het dit geblyk dat die blanke bevolking van die stede 66 persent was van die geheel, dit wil sê dat dit twee maal so groot was as dié van die platteland. En die pas was blykbaar nog besig om te versnel. Want terwyl gedurede die vyf jaar tevore die stedelike bevolking so vinnig toegeneem het soos nooit tevore nie, dit wil sê met vyf persent, het die totale landelike blanke bevolking vir die eerste keer werklik verminder, en wel met 12,000.

Dat hierdie geweldige volkstrek feitlik die Afrikaanssprekende bevolking alleen raak, behoef u nouliks te bewys. In al ons stede kan iedereen dit vir homself aanskou.

Maar niks kan duideliker spreek nie as hierdie feit, dat waar die Afrikaner in die stad ‘n dertig jaar gelede ‘n klein, en na dit geskyn het, ‘n verdwynende minderheid was, 41 persent van die blanke stedelike bevolking van vandag Afrikaans as huistaal gebruik. Dit sluit dorpe met minder as 2,000 blanke inwoners nie in nie. Dit beteken dat daar vandag alreeds ongeveer 540,000 Afrikaners in die stede woon, dit wil sê byna die helfte van die hele Afrikaanssprekende blanke bevolking van ons land.

As een ding vandag waar is, dan is dit dit, dat dit in die stad is waar die Afrikanerdom se stryd gewen sal word of waar die nuwe volk wat op die moordvelde van Natal sy bloeddoop ontvang het, met al sy frisse hoop en met al sy kortstondige glorie begrawe sal lê.

U vra my tereg os hierdie nuwe Groot Trek dan nie, net soos dié van 100 jaar gelede, ‘n seën is in plaas van ‘n ramp; of dit nie die verowering beteken van nuwe gebied en van nuwe mag waar die Afrikaner met al sy pioniersinstink en al sy heldemoed nog nooit tevore sy voet geplant het nie; of hier nie die grond gelê word van ‘n ekonomiese onafhanklikheid wat vir die Afrikaner nog baie meer mag beteken as die stigting van die vroeëre vrye, onafhanklike Voortrekkerstate?

My antwoord is: dit kan so wees, en mag God gee dat dit sal. Maar ook dit: as dit sal, dan sal dit alleen geskied as die Bloedrivier van vandag beslis word en gou genoeg beslis word soos die Bloedrivier van Andries Pretorius en van Sarel Cilliers.

Ek het soëwe gesê dat die stryd op die voorposte van hierdie nuwe Groter Trek van die Afrikanerdom heftiger en dodeliker is as die stryd met wapens wat u vandag gedenk. Laat die feite self verduidelik.

Eers is daar hierdie allerernstige feit dat na hierdie beperkte stedelike gebied waar die bevolking in sy massas saamdrom, dit nie slegs die Afrikaner is wat trek nie, maar ook die nie-blanke (naturel, Asiaat en Kleurling) met sy honderdduisende. Die lewensbestaan wat daar gemaak kan word, word saam met die blanke deur hulle gedeel, en as getalle alleen kan beslis, dan is die kanse van die stryd al dadelik teen die blanke. Dis oral so, maar nêrens kan u dit so aanskoulik voor u sien as in die grootste stede nie.

‘n Paar voorbeelde sal u oortuig.

Neem Kaapstad. In die 15 jaar tussen 1921 en 1936 het die blanke bevolking daar toegeneem met 56,000, maar die nie-blanke met 67,000.

Neem Port-Elizabeth. Dit het aangegroei met 27,000 blankes, maar daarteenoor 31,000 nie-blankes.

Neem Kimberley. Daar was ‘n verlies van 2,700 blankes, en ‘n aanwas van 3,000 nie-blankes.

Neem Bloemfontein met 10,000 meer blankes, maar 14,000 meer nie-blankes.

Neem Durban met 35,000 meer blankes, maar 60,000 meer nie-blankes.

En neem die Witwatersrand met sy 171,000 meer blankes, maar daarteenoor met sy 311,000 meer nie-blankes.

Neem alle stedelike gebiede saam dan vind u dat daar in daardie 15 jaar 46,000 blankes bygekom het terwyl die nie-blankes hul getalle vermeerder het met 812,000. As u dink dat deur die nuwe Groot Trek van die Afrikaner na die stede toe daardie middelpunte van ons industriële en ekonomiese lewe witter word, dan vergis u u deeglik. Hulle word swarter.

Daar is verder ook hierdie nie minder verontrustende feit dat by daardie nuwe Bloedrivier van ons volk blanke en nie-blanke mekaar ontmoet in ‘n baie nouer kontak met mekaar en in ‘n baie klemmender worstelgreep as toe 100 jaar gelede die kring van wit getente waens die laer beskerm het en die koëelgeweer en assegaai teen mekaar gekletter het.

Blank en nie-blank verdring vandag mekaar in dieselfde arbeidsmark. Van die 207,000 loontrekkers in fabrieke en produktiewe nywerhede is 81,000 blanke manne en vroue en met die ander 126,000 nie-blanke werkers staan hulle vir ‘n groot deel dag na dag skouer aan skouer. Vir ‘n groot deel ontvang hulle dieselfde beskermde lone, en sover as hulle georganiseerde vakmanne is, sit hulle dikwels ook op gelyke voet met mekaar in dieselfde vakbonde.

Maar nog meer. As in hierdie worsteling om sy plek in die son te behou, die blanke man se voorsprong in beskawing en opvoeding iets vir hom beteken, dan kom hy vinnig ook daar te staan voor ‘n gans nuwe situasie.

As die stadslewe vermeerderde onderwysgeriewe vir die reeds begaafde blanke meebring, dan is dit tog nog baie meer so vir die on- of half beskaafde nie-blanke trekker. En is dit nie ‘n feit dat waar in die eerste 25 jaar ná Unie die getal blanke kinders op skool toegeneem het met 127 persent, die getal van nie-blankes toegeneem het met 254 persent, dit wil sê net dubbeld soveel; dat in Kaapstad meer bepaald die vermeerdering van blanke skoolgaande kinders 90 persent was teenoor 160 persent nie-blankes en dat in Transvaal gedurende dieselfde tydperk die blanke vermeerdering slegs 200 persent bedra het teenoor ‘n nie-blanke vermeerdering van 614 persent? Kennis is mag. Die strydkanse verander, maar ten koste van die blanke.

Daar is ‘n derde feit wat op die uitslag van hierdie worstelstryd sy magtige invloed moet uitoefen en wat, as daar geen redding kom nie, die ondergang van Suid-Afrika as witmansland moet verseël.

Die Afrikanertrekker van vandag wat op die voorposte in die bres moet staan vir sy volk, is van almal die swakste toegerus vir die stryd. Die swaarste las rus op die swakste skouers. Dis min dat die Afrikaner wat na die stad trek, dit doen uit weelde. Dis sy nood wat hom dryf. Geestelik en verstandelik is daar niks met hom of met sy kind verkeerd nie. Wetenskaplike ondersoek het vasgestel dat selfs onder ongunstige omstandighede een derde van sy getal bokant die gemiddelde peil van die blanke bevolking staan.

Maar dit neem nie weg nie dat hy tog die beliggaming is van die armoede wat die boereplaas in die agterbuurte van die stede stort. Omdat Afrikaner-armoede nie luidrugtige armoede is nie, maar swygende armoede, het u nie geweet hoe wyd en hoe diep dit was nie. Ná die ontdekkende lig van die Carnegie-ondersoek weet u dit nou. Hoor dit weer:

17 en ‘n half persent van alle huisgesinne met skoolgaande kinders word beskryf as ‘baie arm’. As ons hierdie syfer as maatstaf neem vir die hele blanke bevolking, dan was op ‘n konserwatiewe skatting meer as 30,000 van die blanke bevolking ‘baie arm’.

Die gegewens is in 1929-1930 versamel en toe was die gevolge van die huidige depressie nog nie so sterk gevoel nie.

Kennis is mag, het ek soëwe in verband met die opkoms van die nie-blanke gesê. Armoede, dit sê ek nou weer in verband met die Afrikaner-trekker, in verband met die kind en erfgenaam van Bloedrivier se heldegeslag en in verband met die worstelstryd om in ‘n witmansland te hou wat ons het, armoede is onmag en nederlaag.

By dit alles om daar nog een groot feit wat nie vergeet mag word nie, en wat, as daar nie gou en kragtig ingegryp word nie, die geloofsoorwinning van Bloedrivier op die lange duur moet omskep in wanhoop en ondergang. Die Afrikanertrekker in die stad moet lewe, en Suid-Afrika verwag van hom dat ten spyte van sy armoede hy moet lewe as ‘n beskaafde witman.

En goddank, met al die diepste verlange van sy siel wil hy dit self ook nog. Die Arikaner in hom weier nog altyd om homself te verloën.

Maar komende van die boereplaas het hy geen ander kanse nie as om te probeer lewe as ‘n ongeskoolde of halfgeskoolde arbeider van sy handewerk. En wat vind hy rondom hom? Aan die een kant beskermde werkverskaffing en beskermde hoë lone vir nie-blankes gelykop met blankes. Maar omdat hy geen vakman is nie en dit ook nie kan word nie of as sodanig geen erkenning kan kry nie, staan hy daar voor ‘n geslote deur.

Aan die ander kant van hom weer is daar lone deur die vrye kompetisie tussen wit en gekleurd en swart so laag afgedruk, dat volgens die Kommissierapport van 1934, ‘hulle nie in staat is om daarvan fatsoenlik te lewe nie’.

Maar ook selfs daar stuit hy nog alte dikwels teen daardie ysterdeur van ‘n onsimpatieke werkgewersgemeenskap wat sy taal nie ken nie en wat sy Afrikanerskap verfoei, terwyl sy eie mede-Afrikaner, wat hom indirek kragtig sou kan help, weier om dit te doen omdat in sy veragtelike slaafsheid hy by vreemdes hom vir sy eie taal skaam.

So woed die stryd meedoënloos voort, dag na dag en jaar na jaar, steeds groeiende in omvang en dodelikheid. Die stryd word beslis, maar nie soos vir u voorvaders nie.

Waar hy ook in die bres moet staan vir sy volk, ontmoet die Afrikaner van die nuwe Groot Trek die nie-blanke by sy Bloedrivier half of selfs geheel ongewapend, sonder skans en sonder rivierskeiding, weerloos op die ope vlakte van ekonomiese gelykstelling.

Is u verwonder oor die aanvanklike afloop? Kan u iets anders verwag het as die onheilspellende bevinding van ‘n regeringskommisie hierdie jaar, dat die boonste groep van nie-blankes die onderste groep van blankes in die arbeidsmark gemaklik kan verdring?

Kan u nog stene gooi na u mede-Afrikaner as u hom vind in die agterbuurte van u groot stede, huis aan huis, en soms selfs kamer aan kamer met Kleurlinge en Asiate en stemgeregtigde naturelle, en as u sy kind lustig-onskuldig op straat sien speel in ‘n bonte mengeling van alle kleure?

En as u lees in die wetenskaplike Carnegie-rapport dat die skeidsmuur langsaam afgebreek word, dat maatskaplike vermenging gemaklik lei tot geslagsgemeenskap en dat dit weer die verdwyning veroorsaak van die suiwer blanke kleur, moet u dan as Afrikaner God nie dank nie dat daarby nog dit kon gevoeg word dat “so iets nog ‘n uitsondering is selfs by veragterde blankes en veral by dié van die Afrikaanssprekende seksie?”

So is dit nog by die Trekker wat die godsdienssin en die lewesuitkyk van die boereplaas met hom meegebring het.

Maar as die geslag wat in die nuwe omstandighede gebore word en opgroei, anders word, watter reg het u dan om die vinger van verwyt na hulle uit te steek? Dit was u volk. Die wanhopige stryd wat hulle vir ‘n witmansland moes voer, was dit ook vir u en u kinders, en u het dit geweet. Hul geroep was tot u. Dit was ‘n noodroep soos dié wat ten hemel opgestyg het van Bloukrans en van Hlomo Amaboeta. En u het nie gehoor nie.

Die noodroep is daar. Dit wag op u antwoord. Daardie antwoord mag nie langer bestaan in konferensies of kommissies of koerantartikels of platformtoesprake of selfs in fondsinsamelings alleen nie.

Die tyd van woorde is verby. Die tyd is daar vir grondige, doeltreffende en desnoods drastiese maatreëls. Dis hier nie die plek om daarop in te gaan nie. Ek wil alleen die mening uitspreek dat die innerlike ooreenstemming daaromtrent by ons volk werklik baie groter is as wat openlik erken word; en dat daardie eenheid van oortuiging hom nie laat geld nie, alleen omdat die Afrikaner sy onmiskenbare volksliefde nog altyd laat dwarsboom deur allerlei oorwegings van minder belang.

Sal daar dan nog  ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons met vermoeide oë sal aanstaar as ewige verwyt? Sal Suid-Afrika dan nog ‘n witmansland wees? Dis die vraag wat gestel word, veral aan u wat vandag op hierdie heilige grond staan op die skeiding van twee eeue.

Hierdie Eeufeesjaar, hierdie wonderjaar van ons geskiedenis wat na sy einde haas, sal dit wees die frisse bergstroom wat in die sand verdwyn of die klank wat op die dorre wind wegsterf? Of sal dit wees soos dit blykbaar bedoel is om te wees – die Afrikaner se God-gegewe geleentheid?

U het vergeet, maar die herinnering word weer in u wakker. In die glans van u beskawing en in die stofwolk wat die gejaag na goud laat opstyg het oor u land, is die hemel daarbo vir u dof geword. By die gekreun van die ossewa sien u nou weer helderder die sterre wat u voorvaders laat koers hou het deur Suid-Afrika se donkerste nag. Hul ster van vryheid blink helder ook op u pad.

Maar u weet ook nou dat daardie vryheid vir hulle meer beteken het as maar net die vryheid om hulself te regeer en om hul eie nasieskap ten volle uit te lewe.

Hul vryheid was ook, en veral, die vryheid om hulself as blanke ras te beskerm. Soos u dit nooit anders kon besef het nie, besef u vandag dat hulle koers u koers is, dat hulle pad u pad is, en dat hulle taak om Suid-Afrika witmansland te maak, in tiendubbele mate ook u taak is.

In sware stryd om die bestaan het u afgeleer om op te sien. U het u laat wysmaak dat om u volk te laat lewe, dit genoeg is om te sorg vir sy ‘botter en brood’. U het u idealisme begrawe. U het skuins gekyk na wat dit u belief het om ‘sentiment’ te noem, en die vreemdeling wat u eie nasieskap verfoei vir sy eie voordeel, het u daarin aangemoedig. U het nie daaraan gedink dat ‘n volk, net so min as ‘n individuele mens, by brood alleen kan lewe nie.

U het vergeet dat dit ideale alleen is wat tot selfopofferende dade kan aanspoor: dat sentiment die sement is, en dat die uitsterf daarvan die sekerste weg is tot volksontbinding en dood.

Dis hierdie Eeufeesjaar wat die volk wakker roep uit sy doodslaap. Dis Danskraal en Bloedrivier wat dit weer oor Suid-Afrika se vlaktes uitbasuin dat om te kan oorwin, jy bowe alles nodig het om op te kyk, en dat met die wederopstanding van die Afrikanerdom se ou idealisme daar ook uit die graf moet verrys nuwe hoop, nuwe vaderlandsliefde, nuwe wilskrag en nuwe eenheid.

Daardie nuwe eenheid wil u hê, en Goddank dat u nog wil. Maar het u uself al ooit ernstig afgevra: vir wat? Wil u dit hê vir u volk of vir u eie groter gerief?

Is wat u beoog, ‘n daad van gemeenskaplike selfopoffering om u vaderland te dien en om u kinders se toekoms veilig te maak, of is dit alleen maar ‘n ander openbaring van daardie selfsug wat nie wil offer wat Suid-Afrika vra nie en wat daarom van stryd in enige vorm en vir enige saak wil wegvlug?

Wil u eenheid hê alleen maar net om met hande in mekaar geslaan doelloos voort te slenter, of begeer u dit om doelbewus en vasberade op die Pad van Suid-Afrika die groot en dringende vraagstukke van u volk op te los?

Eenheid sonder doel is waardeloos en kan soos ‘n waterpoel homself omskep in ‘n verpestende stilstand. Doelbewustheid skep lewe en vooruitgang en daarmee ook vrugbare en blywende eenheid.

Daar is ‘n Krag wat sterk genoeg is om ons op daardie Pad van Suid-Afrika te voer tot ons bestemming. Dis die Krag Daarbo wat nasies skep en hul lot bepaal. Dis ook die Krag wat daartoe gegee is en wat sluimer in die hart van elke Afrikaner.

Dis die Krag wat kan uitgaan, en wat bedoel was om uit te gaan , van diegene wat die vermoeide trekkerstryder in die stad se eie vlees en bloed is, en wat bykans 60 persent uitmaak van Suid-Afrika se blanke bevolking. Verenig daardie krag doelbewus in ‘n magtige reddingsdaad, dan is die Afrikanerdom se toekoms verseker en dan is die blanke beskawing gered.

In hierdie Eeufeesjaar het die Afrikanerdom homself weer ontdek. Opgestaan uit die stof van vernedering en eie veragting, eis hy nou volle erkenning vir homself vir sy edele voorgeslag en vir sy nageslag. U eis dit deur die nuwe wekroep van u ossewaens en monumente. U eis dit deur vasberade ‘n end te maak aan iedere miskenning van u regte. As teken van u nuwe nasietrots en selfvertroue heg u die name van u groot Voortrekkerleiers aan u strate en eis u ‘Die Stem van Suid-Afrika’ as u eie erkende Volkslied.

Het u vaderlandsliefde en innerlike krag genoeg om in hierdie Eeufeesjaar, om by hierdie Godgegewe geleentheid daarby ook nog te eis wat oneindig groter en lewensbelangriker is as dit alles tesame, naamlik die veilig gemaakte voortbestaan van u eie blanke ras?

Andries Pretorius was groot as krygsman en as staatsman. Maar groter nog was hy omdat, toe die noodroep tot hom kom van die worstelende bloedende blanke Afrikanerdom, hy onmiddelik huis en haard en eie veiligheid verlaat het om in die bres vir sy volk te gaan staan.

U roem Andries Pretorius. Sy naam is op almal se lippe. Daar is ‘n noodroep vandag van daardie selfde Afrikanerdom, meer gesmoor, maar ernstiger, langduriger, smekender, miskien wanhopiger as wat daar vir hom opgestyg het uit die moordvelde van Natal. Dit kom na u.

Ek vra hier vandag aan u en aan elke Afrikaner: Roem Andries Pretorius met u woord. Maar roem hom nog die hoogste van al deur die daad, en volg sy voorbeeld na.

Ek dank u.

Bron:

Glo in u Volk, D.F. Malan as redenaar 1908-1954; Samestelling, inleiding en aantekeninge deur S.W. Pienaar, bygestaan deur J.J.J. Scholtz; 1964.

Die Leeu van die Waterberg: adv. Hans Strijdom

(Deel 1)

“Dit was twee dae voordat  Suid-Afrika se vyfde premier aangewys sou word. Die hele land het gegis oor die drama wat hom in die komende week sou ontplooi. Agter die skerms was daar drukke beraadslagings oor wie dr. D. F. Malan sou opvolg. Om gereed te wees vir gebeurlikhede wou ek ‘n paar foto’s van Hans Strijdom en sy gesin maak. Deur bemiddeling van ‘n kabinetsminister het ons ‘n afspraak gereël, want Strijdom, wat pas van Europa af teruggekeer het, wou geen koerantman te woord staan nie.

Eindelik was die Strijdom-gesin gereed. Die fotograaf het oorgehaal, maar die kamera moedeloos laat sak. “Almal lyk so vreeslik ernstig,” het hy gekla.

“Glimlag ‘n bietjie, Hans,” het mev. San Strijdom haar eggenoot aangespreek. “Jy lyk darem te ernstig.”

Suid-Afrika se aangewese Premier het die oorslaanbaadjie van sy donker pak reggetrek en sy das nog ‘n keer verskuif. “Maar, vrou, jy weet tog dat ek ‘n ernstige man is,” het hy hom verweer. Dit is half skertsend gesê, want ‘n breë glimlag het sy gesig geplooi.

Maar onbewus het Hans Strijdom daardie dag self sy eie lewensbeskouing opgesom. Wat hy doen, doen hy met ‘n erns en toewyding wat min van sy kollegas by hom vermoed het toe hy byna dertig jaar gelede uit die agterbanke van die Volksraad opgestaan het om sy nooienstoespraak te lewer.

Só het sy politieke vriende en teenstanders Johannes Gerhardus Strijdom oor baie jare leer ken. Sy doelgerigtheid het hom voorbestem vir wat hy vandag is, en wat hy bereik het, het hy verower deur ernstige arbeid.” (1)

Sy opgroei

“…(Hans) was maar ‘n kwajong en het baie slae van sy vader en moeder gekry, dikwels omdat hy so eiesinnig was en dinge volgens sy eie manier wou doen… Dikwels het sy moeder hom gemaan: “Hans, trek aan jou skoene; die dorings sal jou steek.” Sy enigste reaksie was dan: “Bring die dorings en laat hulle my eers steek!” (1)

Hy het op Willowmore skoolgegaan, en was ‘n skrander leerling. Vir hoërskool opleiding het sy vader die jonge Hans na die geskiedkundige skool op Franschhoek gestuur. Op dié skool het so ‘n sterk Vaderlandsgees geheers dat “…gedurende die paar jaar dat Strijdom daar was, klagte (was) van die Onderwysdepartement oor die ‘dislojaliteit’ in die skool.” (1)

“Op Stellenbosch (1910-1912) het hy dadelik ingeskakel by dié deel van die studentesamelewing wat daarna gestreef het om die Afrikaner tot sy reg te laat kom. Hoewel hy nooit een van die leiers was nie, het hy aktief deelgeneem aan debatsverenigings en ander kultuursake. As debateerder was hy moeilik te klop. Hy het baie met sy studentemaats geargumenteer. Hy was ‘n pligsgetroue student, maar het nie nodig gehad om baie hard te werk nie. Tog het hy die eksamens met groot sukses afgelê. Hy was 18 jaar oud toe hy die graad B.A. behaal het.

Op die Rugbyveld was hy ‘n doring. Hy het langs sy vriend, Stephen le Roux senter gespeel. Daar het hy “…dieselfde toegewydheid en bestendigheid geopenbaar as wat sy openbare loopbaan in later jare gekenmerk het.” Tennis het hy ook graag gespeel en het altyd ‘n lewendige belangstelling in dié sportsoort gehad.

Na hy sy graad behaal het, het hy met volstruise in die distrik Willowmore gaan boer. Maar hy was skaars aan die gang toe die volstruismark in duie stort. Gelukkig kon hy op sy geleerdheid steun sodat hy in 1914 na Pretoria verhuis om staatsprokureur te word.

Die Eerste Wêreld Oorlog

Augustus 1914 word Suid-Afrika deur die Britse regering versoek om ‘n sekere deel van Suid-Wes-Afrika te gaan inneem. Hierdie tyd kan as die enigste periode beskou word waar Hans deur andersdenkendes verplig was om in stryd met sy gevestigde opvattings te handel. As 21-jarige was Hans Strijdom nog onderhewig aan die verpligte militêre diens van die Verdedigingsmag. (2)

Hy het egter nooit teen die Rebelle opgetree nie, en het botweg geweier om aan die militêre oefeninge vir die staatsamptenare deel te neem.

Na die Rebellie bekamp is deur die regering, word Hans opgeroep vir diens in die 6e Mediese Brigade Veldambulans. Daar was hy betrokke “…van 13 November 1914 af tot 26 Februarie 1915 en was onder die bevel van Engelse offisiere wat die lewe vir hom so ondraaglik gemaak het vanweë sy openlike teenkanting teen die Regering se oorlogsbeleid, dat hy aansoek gedoen het om oorgeplaas te word na een van die burgerkommando’s wat onder die leiding van Afrikaneroffisiere gestaan het.” (2)

So is hy op 27 Ferbruarie 1915 ingedeel by die Helgard-Verkenningskorps, deel van die 3e Berede Brigade (regtervleuel), onder die bevel van kaptein Helgard de Jager. Op 15 April is hy van gewone manskap tot korporaal bevorder, en op 9 Augustus 1915 het sy dienstydperk tot ‘n einde gekom.

Nylstroom toe

Hy het baie belanggestel in die toneel-bedryf, en op so ‘n geselligheid het Hans vir Margaretha van Hulstein, ‘n Londonse toneelkunstenaar wat onder die naam Marda Vanne opgetree het, ontmoet. Die twee was gou dolverlief en verloof kort daarna. Sy was die dogter van sir Willem van Hulstein, ‘n bekende mynbaas van die Goudstad en Engelse edelman.

Toe die getroude paartjie in Mei 1918 na Nylstroom verhuis, het daar egter krakies in hul huwelik verskyn. Margaretha kon haar nie by die platteland aanpas nie, en die twee is sonder enige kwade gevoelens geskei. Geen kinders is uit die huwelik gebore nie. (3)

In 1918 is Hans as advokaat tot die Kaapse Balie toegelaat, maar hy het nooit as advokaat gepraktiseer nie. Hy het egter aansoek gedoen, in Afrikaans, by die Hooggeregshof in Pretoria om as prokureur toegelaat te word. Dit is goedgekeur.

Hy was waarskynlik ook die eerste prokureur wat ‘n huwelikskontrak in Afrikaans opgestel het. Toe hy die kontrak by die Akteskantoor indien, het die Registrateur geweier om dit te registreer. Eers na ‘n bevelskrif van die Hooggeregshof is sy aansoek toegestaan.

As nuweling op Nylstroom het hy aanvanklik maar gesukkel om sy praktyk aan die gang te kry, maar weldra het sake verbeter en het hy ‘n bloeiende praktyk opgebou.

Sy belangstelling in die boerdery was nog altyd sterk. Hy het die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte gekoop en naweke geboer. Hier was hy altyd op sy gelukkigste. Later het hy ook op die plaas Sandvlakte naby Warmbad, saam met sy broer Raymond geboer. Daar het hulle veral met Friesbeeste geteel en op groot skaal gesaai.

Van 1923 tot 1929 was hy voorsitter van die Waterbergse Landbougenootskap. Maar nadat hy tot Volksraadslid vir Waterberg verkies is, hy nie meer kans gesien om sy aandag aan die boerdery te wy nie en het hy uitgetree. (3)

In die Volksraad

“Toe genl. Hertzog die destydse Volksraadslid vir Waterberg, Piet le Roux van Niekerk, na die Senaat bevorder, moes die kiesers van Waterberg in 1929 vir hulle ‘n nuwe kandidaat soek. Hul keuse het eenparig op Hans Strijdom geval, maar hy het nie lus gehad om Parlement toe te gaan nie. Hy moes uiteindelik omgepraat word. Die feit dat Stephen le Roux (sy vriend) reeds ‘n paar jaar vantevore Volksraad toe is, het sy besluit vergemaklik.” (3)

Toe hy egter besluit het om hom verkiesbaar te stel, het hy sy volle gewig by die saak ingewerp. In die verkiesingstryd het hy die oorwinning van sy voorganger bestendig deur 1156 stemme op hom te verenig teenoor 573 stemme vir sy teenstander, die kandidaat van die SAP.

As jong agterbanker in die Parlement, het Hans Strijdom aandag getrek deur die vuur en skerpheid van sy toesprake. Sy eerste toespraak het hy op 29 Julie 1929 in die Volksraad gehou. Hy het gepraat oor waterbewaring en besproeiing, ‘n saak wat hom sy lewe lank na aan die hart was. Hy het gepleit dat die regering “…’n duidelike besproeiingsbeleid vir die hele Suid-Afrika (moet) formuleer” en dat daar met die oog op waterbewaring, sonder versuim ‘n besproeiingsopname van die land gemaak word.

Dat dr. Malan in 1948 die portefeulje Lande en Besproeiing (nou Waterwese) aan adv. Strijdom toegewys het, is dus nie toevallig nie. Baie van die dinge wat hy as agterbanker bepleit het daardie jare, het hy as Besproeiingsminister ten uitvoer gebring. Dwarsdeur die jare was hy ‘n groot kampvegter vir die regte van die boere.

“Wat die politiek betref, het Strijdom tot die sogenaamde republikeinse vleuel van genl. Hertzog se Nasionale Party behoort. Hierdie vleuel, bestaande uit die jonger garde onder leiding van dr. N. J. Van der Merwe, is reeds vóór Strijdom se toetrede tot die Volksraad deur genl. Hertzog oor die kole gehaal oor hulle uitgesprokenheid.”(3)

Die mislukking van sy eerste huwelik “…was vir Strijdom ‘n hewige skok, maar die reaksie het hom reguit na sy bestemde loopbaan gestuur. Dit het hom met groter toewyding aan die saak van die Nasionale Party laat ywer.” (3)

Kort voordat hy tot Volksraadslid verkies is, het hy en die predikantsdogter San de Klerk mekaar ontmoet. Hulle is aan mekaar voorgestel net nadat hy skeidsregter by ‘n rugbywedstryd was. Toe Hans na die eerste Sitting in die Kaap terugkom op Nylstroom, het hy onthou van die bruinoog-nooi en haar gaan opsoek. Hy was heelwat ouer as almal in haar vriendekring, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Twee jaar later, in 1931, is hulle getroud.

Hans Strijdom het eindelik ‘n “…hawe gevind waar die branders altyd kalm was en die persoon van alle persone gevind wat hom sy hele loopbaan in die huis en op die verhoog sou bystaan.” (4) Dinge het dadelik by die huis goed gegaan, maar dit het nie so goed in die politiek verloop nie.

Suid-Afrika is van die goudstandaard afgedwing, groot droogte het in die Noord-Transvaal geheers, en die eerste klankies van ‘n koalisie met die Sappe, waarin adv. Strijdom so ‘n renons gehad het, het geklink. Hans Strijdom se lang en moeisame verblyf in die politieke woestyn het begin.

Nat en Sap smelt saam

 Op die Nasionale Party se kongres, 9 Augustus 1934 te Pretoria, was dit duidelik dat die oorgrote meerderheid ten gunste van die koalisie is. Hy en ‘n klein groepie Nasionaliste, onder aanvoering van mev. E.G. Jansen, hyself en L.J. du Plessis, het geen twyfel gehad oor hul standpunt i.v.m. ‘n koalisie tussen die SAP en die Nasionale Party, nie.

Hans Strijdom het sy kans afgewag om ook sy bydrae te lewer: “’Ek was van die begin af gekant teen Samesmelting om dieselfde redes as wat genl. Hertzog die vorige jaar teen koalisie was,’ het hy gesê. Verder het hy nie gekom nie. Die voorsitter het ontdek dat Strijdom selfs nie die afgevaardigde van Waterberg is nie, maar slegs die secundus. Die afgevaardigde, mnr. M. Bakker, was in daardie stadium self in die saal en die voorsitter het Strijdom se reg betwis om te praat terwyl die afgevaardigde aanwesig was. Sy beslissing het ‘n opstootjie laat ontstaan, maar Strijdom is nie toegelaat om verder te praat nie.”

Nadat die saak bepraat is, is besluit om te stem oor die vraag of die twee partye moet saamsmelt. Die uitslag was verpletterend vir die minderheid: 281 stemme teenoor 38.

Die 38 het hulle uit die kongres onttrek en in die klubsaal van die Polleys Hotel hul eie verrigtinge voortgesit. Hulle het besluit om die Nasionale Party voort te sit, ‘n nuwe hoofbestuur van sewe gekies. Hans Strijdom was een van die sewe, en as die party se enigste Volksraadslid in Transvaal, is hy ook aangewys as lid van die Federale Raad.

“…Die besluit wat Hans Strijdom en sy kollegas daardie dag geneem het, het moed vereis. Die stroom waarteen hulle moes swem, was sterk. Hoè sterk, het hulle eers later besef toe daar begin is om die Nasionale Party van onder af op te bou.

Nadat die formaliteite afgehandel is, het sen. Stoffberg gevra of hy iets kon sê. ‘Na wat vandag gebeur het, weet ons dat Hans Strijdom nie soos ander leiers bolmakisie sal slaan nie,’ het hy gesê. Die ander het luid toegejuig.”( 5)

(Word vervolg)

………

Saamgestel deur R. Vorster

………

Bronne:

  1. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 9-12.
  2. J.G. Strijdom, Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948; J. L. Basson; 1980; bl. 12-15.
  3. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 14-16.
  4. Ons eerste ses Premiers, ‘n persoonlike terugblik; Piet Meiring; 1972; bl.100-105
  5. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 22.

Waar is ons Ware Volksleiers?

Mens hoor so baie “As ons volk tog net wil saamstaan.” En met ‘n nog dieper sug: “Maar ag, daar is nie ‘n leier is Suid-Afrika nie…”!

Ons beleef in hierdie moeilike tyd ‘n ‘droogte’ wat betref ‘n ware Volksleier. En met al die verwarring wat opsetlik in ons geledere gesaai is die laaste 30 jaar, moet ons dalk net weer bietjie gaan kyk waaruit ‘n ware volksleier se karakter saamgestel is.

‘n Gesegde wat ook baie aangehaal word in die vraag oor waar die leiers van ons tyd is, is: “Moeilike tye veroorsaak sterk mans; sterk mans veroorsaak voorspoedige tye; voorspoedige tye veroorsaak swak mans; en swak mans veroorsaak moeilik tye.”

Maar soos Dr. Ferdinand Postma in sy boek ‘Paul Kruger, Christen-Volksman en -Staatsman’, tereg uitwys: “Groot manne (leiers) is geskenke wat die Here aan ‘n volk gee… Wie dus hierdie opvatting huldig, sal hom nooit kan vereenselwig met die gedagte wat so dikwels uitgespreek word dat groot manne maar produkte van hulle tyd is nie. Dit is ‘n onmoontlike opvatting. Mense wat maar net produkte van hulle tyd is, kan nooit leiers wees nie; produkmense word gelei, maar kan nie leiding gee nie…”

Maar wat is ‘n ware volksleier?

Kom ons begin eerder deur te besin oor wat ‘n ware Volksleier nie is nie, en daaruit sal dan ook vanself vloei wat ‘n ware Volksleier werklik is.

1. ‘n Volksleier verskyn nie “blitsvinnig en onverwags” op die toneel nie.

In die Geloftefees toespraak wat in Rapport van 17 Desember 1995 gepubliseer is verklaar mnr. Izak De Villiers onder meer: “…in veelbewoë tye van die Afrikanervolk”, lui dit, “het leiers op alle gebiede meermale blitsvinnig en onverwags op die toneel verskyn… Wie kan sê dit kan nie weer kan gebeur nie?” Hy vra: “Waar is die Vader Kestell, die genl Hertzog en die Paul Kruger?”

Die opvallendste van dié gedagtegang is dat hierdie leiersfigure juis nie “blitsvinnig en onverwags” op die toneel verskyn het nie. Hulle het almal tot leierskap uitgestyg deur langdurige betrokkenheid by die stryd wat aan hulle volk opgedwing was. Hulle hoedanighede is in en deur die stryd beproef. En langs dié weg is hulle leierskap geleidelik bevestig.

Hierdie proses van leiersvorming is herkenbaar by elkeen van die egte Afrikanerleiers. Naas dié hierbo genoem, is daar dr. DF Malan, adv. JG Strijdom, dr. HF Verwoerd: manne wat jarelank op die voorpunt en in die brandpunt van die stryd hulle staal getoon het. En voor hulle, pres. MT Steyn, genl. Christiaan de Wet, genl. Koos de la Rey, wat hulle as politieke en militêre leiers oor die loop van jare betoon het. En verder terug: Piet Retief, Andries Pretorius, Andries Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz.

Nie een van hulle het “blitsvinnig en onverwags” op die toneel verskyn nie. Hulle leierskap het gerus op die moed, die insig, die bedrewenheid, die toewyding, die volharding wat hulle aan die dag gelê het.

2. ‘n Ware volksleier soek nie eie eer nie.

Vry vertaal uit Nederlands-Afrikaans: “Daar was nog ‘n ander soort mens wat genl. Christiaan de Wet verafsku het… dit was dié manne wat van een plek na die ander ry en voorgee dat hulle vir land en volk veg, maar intussen nooit tydens die gevegte te siene was nie. Mens kon hulle altyd herken aan die hordes veelkleurige eretoekennings aan hul baadjies vasgespeld, wat deur onwetende meisies aan hulle geskenk is vir hul sogenaamde dapperhede. Die ware helde van die oorlog het hulle nie met sulke uiterlikhede opgehou nie. Ek het menigmaal gesien hoe genl. De Wet so ‘n eretoekenning, wat hy by ‘n bewonderaar ontvang het, later aan ‘n ander bewonderaar gee.”

Vir ‘n ware leier gaan dit om die saak. ‘n Ware volksleier veg voor; nie omdat hy fisies groot en sterk is nie, maar omdat hy so sterk voel oor die saak dat hy, selfs al is hy alleen oor, nog sal veg. Dat hy sy lewe sal gee, as dit daarop aankom. Sulke vasberadenheid spoor selfs die bangbroeke onder die volk aan tot heldhaftigheid.

3. ‘n Ware volksleier saai nie stories rond oor ander leiers nie.

As hy en die ander leier vir dieselfde saak stry, en op dieselfde beginsels staan, stry hulle saam. Sy aan sy, daar is nie ‘n getoutrekkery oor wie die leier is nie: elkeen het sy sterk en swak punte.

As hulle nie vir dieselfde saak stry nie, raak hy nogtans nie persoonlik en kraak die ander leier af nie. Want dit gaan nie vir hom oor die persoon nie, maar oor die saak.

Hy lug op Christelike wyse, die redes waarom hy voel dat die rigting wat hy inslaan, die regte rigting is. En hy vertrou dat die wat die waarheid moet hoor, deur die Here se genade, sal hoor en hom sal volg.

4. ‘n Ware volksleier is ‘n standvastige Godsman.

Dit beteken nie dat hy vinnig Bybelversies kan aanhaal nie of met die Bybel onder die arm rondloop nie; die belangrikste is hy moet so lewe dat almal kan sien hy is ‘n kind van God.

‘n Ware leier kry nie ‘n grootkop oor sy volgelinge se getal groei, of oor hy sukses behaal nie. Dit maak sy hart in nederigheid bly; hy weet dat dit nie maar net hy is wat so oulik en slim is om soveel volgelinge te kry nie. Hy dank die Here dat Hy soveel mense die waarheid laat hoor. Hy bid dat die Here hom, as leier, die krag sal skenk om die regte besluite te maak en dat Hy hom sal sterk maak om te kan staande bly teen die aanslag van die vyand.

‘n Ware leier se krag lê daarin dat hy die Onsienlike sien. In die ewigheidslig van Bo, kan hy die regte en juiste waarde van dinge bepaal.

5. ‘n Ware volksleier ken sy feite.

Hy ken sy geskiedenis, sy belydenis, sy volk, sy vyand. Hy weet waar hy vandaan kom, en daarom weet hy waar hy wil heen.

Op die pad na vryheid neem hy twee dinge saam:

In sy hand hou hy die Bybel, sy kompas;

In sy sak dra hy die geskiedenis, sy kaart.

Sy roete, lank vantevore reeds deur God bepaal, is vas; sy tred, seker.

Ek sluit af met die volgende:

Moenie rondsit en wag vir ‘n leier om te verskyn nie. Hou op rondkyk na wat ander mense doen of nie doen nie; werk aan jouself, wees jy die leier. Soos Johannes Trojan (Duitse digter) gesê het:

“Een moet vooruit om te wys daar is nog ‘n stem,

wat as ander skugter swyg, vreesloos die waarheid bring.

Een moet vooruit in die nood wanneer mense vra:

waar is die man wat die moed het om voor te loop?

Wees jy die een! Stap voor!”

Deur R. Vorster

……..

Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging volg steeds die beginsels wat dr Malan ons geleer het. Om daarop voort bou wil ons u oproepe om ook betrokke te raak by die stryd en by jou mede-Afrikanernasionaliste in die ANB aan te sluit. Om meer oor ons te wete te kom lees ons Grondslag en doelstellings. Om aansoek te doen om te sluit vind die vorm hier . Indien jy meer wil weet kontak ons gerus.

Soos enige organisasie wat sy doel uitvoer vir die liefde van die saak is ons afhanklik van die bydraes en donasies om die uitvoering van ons doelstellings te befonds en om die nuusbrief uit te gee. Elkeen wat ons sy hart voel dat hy die doelstellings van die ANB ondersteun kan ‘n bydrae maak per bank inbetaling. Vind hier ‘n skakel vir ons Bankbesonderhede .

Laaste Nuusbrief Nr 70 April/Mei 2023 – in drukbare PDF formaat.