Tag Archives: Dr. D.F. Malan

Die Waarheid oor Apartheid.

In Oktober 2025 is ‘n reeks voordragte deur die Willem Petzer-groep op YOUTube geplaas onder die titel, WAARHEID OOR APARTHEID.

Kom ons kyk na 10 Okt se plasing – 1948: Die Apartheid wat geïmplementeer is, is nie die Apartheid wat die mense voor gestem het nie.

In die beskrywing staan:

“Die mense wat in 1948 vir die NP gestem het, wou nie net rasseskeiding hê nie. Hulle wou selfbeskikking hê: hul eie republiek, ‘n gedesentraliseerde Volkstaat met hul eie toekoms. Maar hulle het gesentraliseerde gemengde stede gekry, met slegs aparte woonbuurte. “

Die woorde “gesentraliseerd” en “gedesentraliseerd” word deesdae dikwels gebruik deur ‘waarheids’-ridders soos Ernst Roets, Carl Boshoff, en ja, Adi Schlebush (skrywer van Petzer se Reeks oor Prof. Stoker en ook lid van die Petzer- ‘navorsingspan’).

Wat word bedoel met ge(de)sentraliseerd?

In die voordrag kry ons bietjie nader insig in wat hulle bedoel daarmee.

Gedesentraliseerd = “die ou Republikeinse ideaal” van ‘n “groter aaneenlopende volkstaat met eie politieke selfbeskikking”, “groot streke wat slegs vir die Afrikaner of die Boer” is, “groter aaneenlopende gebiede met eie plaaslike soewereiniteit”. 

Gesentraliseerd = ‘n “apartheidstaat, wat verskillende besture het”, wat “al minder en minder soos ‘n landstreek met verskillende volkstate en stamgebiede begin lyk en al meer en meer soos ‘n multi-kulturele maar gesegregeerde eenheidstaat”; “…mikro-klein afbakeninkies in gemengde steden en dorpe… waar swart en wit eintlik langs mekaar gebly het en net met ‘n pad van mekaar geskei is”; ‘n “Eenheidstaat” waar persone van verskillende rasse nie mag ondertrou nie (“is dit werklik nodig?”, word gevra); ‘n “stedelike Apartheid waar almal eintlik saam in ‘n stad bly maar net in verskillende areas…”; “versplinterde woonbuurte of woonblokke of beskermde sones”.  “…apartheids-integrasie met gepaardgaande sosiale integrasie”; waar die Afrikaner die ander Suid-Afrikaners wil “domineer”.

Verskillende Apartheidsbeleide

Hierdie “apartheidstaat” het, volgens Petzer se voordrag, tot stand gekom in Malan en Strijdom se tyd, en staan teenoor die Republikeinse ideaal soos verpersoonlik in die ou Boere-republieke.

Daar word beweer dat hierdie twee Afrikaner-leiers stelselmatig afgewyk het van “die selfbeskikkingsideaal”, en dat dr. Verwoerd in werklikheid die Apartheid van Malan en Strijdom wou beeindig, en “terugbeweeg na die selfbeskikkingsideaal”.

Om hierdie stelling te regverdig, word ‘n ernstige skommeling in die tydsverloop van die geskiedenis gemaak. Die ‘historiese tydstaat’ wat, volgens Petzer, juis so belangrik is om die waarheid te bevestig, word dan in hierdie voordrag ernstig aangetas. 

Geskiedenis-volgorde verander

Die volgorde word deur die Petzer span verander.

En die gebeure in die geskiedenis netjies omgekeer.  

Die vraag is waarom Petzer se navorsingspan dan so misvat? So moeilik is dit tog nie om feite op te soek nie?

Wat was dan die Nasionale Party se Beleid van 1966?

Dit wat in die voordrag beweer word oor Malan en Strijdom is in werklikheid van toepassing op Vorster. Dit is maklik om die beleidsgeskiedenis van die Nasionale Regering van voor 1948 af, tot en met 1966, te gaan opsoek.

Die Nasionale Party het in Januarie 1966 ‘n Brosjure uitgegee met die naam Vrugte van die Nasionale Bewind.

Wat was die Nasionale regering se beleid na 1948? Ons haal aan:

Strijdom, Malan Verwoerd – een van sin en strewe(Bladsy 3):

“Die nasionale party is trots op sy eerste ministers wat hy sedert 1948 aan Suid-Afrika gegee het. Hul onkreukbaarheid, hul liefde vir volk en vaderland en hul toegewyde en voortreflike dienste aan Suid-Afrika sal altyd uittroon as besondere hoogtepunte in die geskiedenis van die land.

Eers was dit dr. D.F. Malan wat die bewind in 1948 van genl. J.C. Smuts oorgeneem het… …dr Malan het nie geweifel nie… Dit bewys die volk se vertroue in die Nasionale Party.

Dr Malan het die tuig op 30 Nov. 1954 neergelê en is opgevolg deur adv. JG Strijdom wat op 24 Aug. 1958 oorlede is. In die  vier jaar het hy veral die stryd oor kleurlingstemreg tot oplossing gevoer, terwyl hy die republikeinse ideaal sterk op die voorgrond gehou en daarmee die Party tot groter hoogtes gevoer het.

‘n Toespraak deur dr DF Malan by Winburg in 1937 is hier te lese wat duidelik Malan se volksgerigdheid en spesifiek sy geloof in God aandui. Die geskiedenis van JG Strijdom word ook hier in die artikel in kort behandel wat bogenoemde stellings deur die nasionale party van 1966 onderstreep.

Op 3 September 1958 is dr. H.F. Verwoerd as sesde Eerste Minister van Suid-Afrika aangewys en sommer van die staanspoor af het hy hom geopenbaar as kragtige leier wat die Party tot groot hoogtes sou voer. Dit het hy gedoen, nie alleen deur die Party nie maar ook die volk as geheel tot ‘n groter eenheid saam te smee.”

Die twee paaie (Bladsy 4):

“In 1959 het dr Verwoerd… in die Volksraad… met oortuiging daarop gewys dat daar in Suid-Afrika net een keuse is nl. ‘n keuse tussen

OF die blanke sy eie gebied te gee en die Bantoe syne,

OF om almal deurmekaar een vaderland te gee wat die Bantoe uiteindelik sal regeer.

(Lees dit weer! – Red)

Langs hierdie weg, aparte gebiede, wil die Nasionale Party die toekoms van die Witman in Suid-Afrika beveilig.”

Billikheid en selfbeskikking vir Bantoe (Bladsy 27):

“Die Nasionale regering, as voog van die Bantoe binne die Republiek, maak ‘n intensiewe studie van hierdie belangrike saak en glo die oplossing lê in ‘n beleid van billikheid en regverdigheid teenoor beide Blank en Bantoe.

Daarvolgens word die Bantoestuislande ontwikkel om GROTER SKEIDING teweeg te bring en binne die blanke gebiede word beter beheer oor die beweging en verblyf van die Bantoe toegepas. … Hierdie beleid word gevolg ook om groter veiligheid vir die Blanke te skep en die HEERSKAPPY vir hom in sy eie gebied te verseker. (aka selfbeskikking – CV)

Die Nasionale Party staan nog altyd getrou by sy verkiesingsmanifes wat in 1947 uitgegee is en waarin gesê is:

“Die Party staan vir die handhawing en beskerming van die blanke bevolking van Suid-Afrika as ‘n suiwer blanke ras, die handhawing en beskerming van die inheemse rassegroepe as APARTE volksgemeenskappe met moontlikhede om IN EIE gebiede te ontwikkel tot SELFVERSORGENDE volkseenhede en die aankweking van nasionale trots, selfrespek en wedersydse agting by die verskillende rasse van die land.”

Aardrykskundige skeiding (Bladsy 28):

“Tweedens word aardrykskundige skeiding toegepas. Blankes het grondbesitreg in die blanke gebiede. Die Bantoe het dit weer in hul tuislande, WAARHEEN HULLE  aangemoedig word om te GAAN teneinde in hul volkseie opgeneem te word.

Derdens word maatskaplike apartheid deurgevoer. Dit geld terreine soos werkafbakening in die arbeidsveld, universitêre onderwys, aparte woongebiede, VERWYDERING van swartkolle in blanke gebiede EN witkolle in Bantoegebiede.” 

Terugvloei van Bantoe na eie gebiede (Bladsy 29):

“Fisiese ontwikkeling in die tuislande word op omvattende skaal behartig, ten einde groter drakrag aan die gebiede te gee. Dit word gedoen om al meer Bantoe in hul land van ‘n heenkome te verseker en om so ‘n TERUGVLOEI te bewerkstellig van Bantoe wat in die blanke gebiede ‘n lewensbestaan gaan soek het. Die vyfjaarplan… maak voorsiening vir dorpstigting, besproeiing, bosbou, grondbewaring, graan- en veselverbouing en die hou van veevendusies.

…Die Bantoe kan in die dorpe huise huur of koop en so grondbesitters in sy tuislanddorpe word.”

Konsolidasie (Bladsy 54):

Dit is beleid dat swartkolle binne blanke gebiede uitgekoop word, teneinde die blanke gebiede te konsolideer. Vir hierdie doel is gronde ter waarde van R2,628,000 oor die laaste vyf jaar uitgekoop.

Gesonde Rassebeleid.

Na ‘n paar baie insiggewende paragrawe onder die hofies Ekonomiese ontwikkeling, Grensnywerhede, Bantoevestiging, Vreemde Bantoe, Agterbuurtes en plakkerskampe, Noodleniging en Belasting, sluit die hoofstuk af met die volgende opsomming:

“Die grondslag van die beleid is vreedsame naasbestaan tot voordeel en veiligheid vir al die verskillende rasse, die Blanke nie die minste nie.” (bl. 31)

Dit is dus duidelik dat, terwyl groepsgebiede ingestel is, “om die ongewenste deurmekaarboerdery van verskillende rasse aan bande te lê” (bl. 84), die uiteindelike ideaal was:

“opheffing – nie onderdrukking nie… rasse-vrede… tot voordeel van blank en nie-blank.” (bl. 68).

Verdere Beweringe

Petzer (se teks-skrywer) beweer:

Die jaloesie, konflik en ongelukkigheid wat swartes en anderskleuriges in opstand gebring het, was die direkte gevolg van omstandighede, geskep deur die apartheidsbeleid van die “liberale” Afrikanerleiers, Malan en Strijdom.

Nee, dit was nie. Die konflik het nie so “geword” van verkeerde beleid nie. Dit is teweeggebring – met baie moeite, geld en harde werk deur kommunistiese agente agter die skerms.

Malan en Strijdom se beleid was nie liberaal nie. Inteendeel, dit was die aanvang van Verwoerd se beleid. Geen verskil, alleen voortbouing. Hulle het in dieselfde voetspore is gevolg.

Wie se voetspore?

As dr. Verwoerd wou, kon hy ook op die Parlementstrappies verklaar het, dat hy in die voetspore van Malan en Strijdom sal volg. Hy sou nie gejok het nie, want hy het.

En Malan en Strijdom kon dieselfde verklaar het van Presidente Kruger en Steyn. Want dit was die voetspore waarin hulle gevolg het, so goed hulle kon. Die herstel van die Boere-Republieke was die doel en ideaal van al hierdie manne.

Baie dinge sou egter verander moes word, voor daardie ideaal bereik kon word. Want omstandighede het ondertussen verander.

Daar moes rekening gehou word met die erfenis van ‘n Brits-afgedwingde parlementêre stelsel. Daaraan sou verander moes word, stadig en deeglik, alvorens die Republiek sy ideale gestalte verkry. Hierdie proses is begin toe die NP aan bewind gekom het, en  stelselmatig voortgesit, tot en met dr. Verwoerd se dood.

Onkunde of moedswilligheid?

Hiervan word niks genoem in die voordrag nie. Waarom nie? Waarom word hierdie werklikhede deur Petzer (se teks-skrywer) geïgnoreer?

Waar kom hy daaraan om Vorster se skande op Malan en Strijdom te probeer afsmeer?  

Alles wat hy aan Malan en Strijdom toedig, is dit wat in werklikheid deur Vorster gedoen is, lank ná Malan en Strijdom van die toneel af is, en nádat Dr’s Verwoerd en Albert Hertzog en mnr. Jaap Marais uit die weg geruim is.

Dr Verwoerd se Hoek-verslag, die verslag wat op die dag van sy dood in die Volksraad behandel sou word, sou die Geldmag se sabotasie-skandes ontbloot het en stopgesit het. 

Ons weet vandag dat die Hoek-verslag deur Vorster en sy veiligheidspolisie weggesluit is, omdat dit die Geldmag veel skade sou berokken. Daar het die Geldmag egter nie gestop nie. Die Republikeinse strewe moes be-eindig en omgekeer word.

Uit die geskiedenis is dit duidelik.  

Die Geldmag het sukses behaal.  

Alles is goed vooruit beplan en uitgevoer: die moord op dr Verwoerd, die aanstelling van John Vorster, die kaping van die Nasionale Regering, die subtiele vergiftiging van die volksgemoed teen Albert Hertzog en Jaap Marais, die kaping van die Apartheidsbeleid,  en die verarming van die volk en verryking van die vyand tot op die punt waar ons mense die hande in die lug gegooi het en “Apartheid” verwens het, want “dit werk nie”.

Dit was HIERDIE sogenaamde “Apartheid” waarvoor “die mense” NIE in 1948 gestem het nie. Vorster se gekaapte kwasi-“Apartheid”. Vorster se “een Maori”-beleids-verraad.

Watter Apartheid is WEL voor gestem? 

Waarvoor “die mense” WEL gestem het, was dit wat Malan en Strijdom toegepas en uitgebou. Malan en Strijdom HET uit en uit die Republikeinse strewe gevolg en uitgebou, Strijdom nog meer as Malan, en Verwoerd het dit vasgelê, soos duidelik blyk uit die Nasionale Party se boekie, soos hierbo aangehaal. 

Dit wat Petzer se teks-skrywer beskryf was ALLERMINS Malan en Strijdom se beleid.

Wat hy beskryf is Vorster se verdraaide, verwronge gekaapte ‘apartheid’. En hierdie kaping het nie vóór dr Verwoerd plaasgevind nie, maar ná dr Verwoerd.

Op die trappies.

Vorster het ewe heilig op die Parlement-trappies gestaan en verklaar dat hy in dr Verwoerd se spore gaan volg. Daarna het hy ook gesê: “Toets my aan my dade.” Hy is getoets en hy het die toets jammerlik gedop. 

As John Vorster nie so effektief deur die Geldmag gestoot en gesteun was nie, sou hy nooit eers premier geword het nie. Dan sou dr. Albert Hertzog hom opgevolg het (soos deur meningsopnames aangetoon is) en sou Jaap Marais hom help sorg het dat Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling (en dus selfbeskikking) suksesvol deurgevoer sou word.

Gewete verkoop, gewete versuip.  

Die geskiedenis toon aan hoedat Jaap Marais lateraan baie amper daarin geslaag het om die Verraads-Regering om te keer – terug na ‘n Nasionale Regering. Weereens het die Geldmag ingetree – en die KP (Konserwatiewe party) het sy verlammende verdelings-rol gespeel.

Vorster het eendag verklaar – “Jy kan nie teen die Geldmag op nie”. Hy is omgekoop en het later sy gewete in drank probeer versuip. Daar is ‘n hele paar “Afrikaner-leiers” wat mens aan kan dink wat daardie selfde pad geloop het. Want dit is die voorland vir elkeen wat nog bietjie selfrespek oor het nadat hulle bruikbaarheid verslaan het. Bittere selfverwyt.

As die Petzer-groep nie oppas nie, sal hulle hulself eendag in dieselfde posisie bevind.

Die waarheid oor Apartheid?

Hierdie reeks Petzer-voordragte bevat NIE die volle waarheid oor Apartheid nie. Die “historiese tydstaat” (alias Petzer) is verander, en feite is verdraai en weggelaat. So kyk ons nou met wantroue na ELKE stuk in hierdie reeks.

Die waarheid oor Apartheid is dat dr. Verwoerd NIE gestaan het vir ‘n volkstaat nie. Nie een van die ware Nasionale Afrikanerleiers het gestaan vir ‘n volkstaatjie nie. Hul almal het SAAM gewerk vir die verkryging van ‘n Volks-Republiek, ten volle selfbeskikkend. Die HELE land vir die blanke Afrikaner, of niks!

Waar staan Petzer en span?  

Die Petzer-span vra ons geldelike hulp om ‘die volk se hart te verander’. Maar dan maak  hulle volksleiers soos Malan en Strijdom verdag en so in wese, ook Verwoerd, Hertzog en Jaap Marais.

Hulle impliseer dat dr. Verwoerd ‘n ander ideaal gehad het as Malan en Strijdom, en dat hy ‘n VOLKSTAAT wou skep.

Dit is nie waar nie. Die volkstaatgedagte kom NIE van Pres. Kruger en Steyn se Republieke nie, en ook nie van dr Verwoerd nie.

So waarom wil hulle die volkstaatgedagte bevorder?

Luister mooi.

Volkstaatgedagte se doelwit

Die Afrikanervolk is ‘n reuse struikelblok vir die magnate wat Suid-Afrika se rykdom soek. Daarom moet ons WEG, uit Suid-Afrika. Die plan is: Vermoor, verbaster of verskuif die Afrikanervolk – oorsee, of na ‘n volkstaat-reservaat.

Dis nou waar die mooi dorpie ORANIA inkom. En dis waar ons weer al meer hoor van die 1994-onderhandelings-ooreenkoms, by name AFRIKANER AKKOORD oftewel RESOLUSIE 235. Daarvolgens moet die volk SKUIF – na ‘n reservaat.

Ons is deur Vorster, PW, FW en al hul vriende uitverkoop, maar die verkoop-transaksie se laaste deel is NOU besig om te gebeur. (Baie mooi verduidelik in hierdie reeks artikels)

‘n Volk wat nie sy geskiedenis-feite ken nie, se hart kan maklik verander word deur “waarheid”-ridders. Dan begin so ‘n volk sommer glo hy moet ‘TREK’ na ‘n valse ‘vryheid’ en ‘n valse ‘selfbeskikking’. 

So word sy grond finaal onder hom uitverkoop, MET sy mede-werking.

Moet ons ‘TREK’?

Nee. Ons moenie. Ons mag nie. Ons KAN nie. Want dit gaan om veel meer as net ons self.

Dr Verwoerd het gesê:

“Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekker van ouds, “Ons kan nog stry.” En ons sal veg, al sou ons moet ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika…

Ons kan nie anders nie.

Ons staan soos ‘n Luther met die Hervorming, met die rug teen die muur. Ons veg nie om geld of goed nie. Ons veg om die lewe van ons volk.

Maar… nie net vir ons volk nie …ons veg vir die voortbestaan van die blanke beskawing. Die blanke is aan die suidpunt van Afrika ‘n voorpos vir die blanke beskawing.”

(Bloedrivier, 1958.)

‘n BOODSKAP VIR DIE TOEKOMS – DF Malan

Op 2 Mei 1937 het Suid-Afrika se Eerste Minister, dr. DF Malan, die volk toegespreek tydens die se eeufeesviering van Winburg in die Vrystaat. Dit was by hierdie geleentheid dat hy die gevleuelde woorde “Glo in God, glo in u volk, glo in uself” gespreek het. Daar is beslis steeds baie waarde wat Afrikanernasionaliste vandag nog kan put uit hierdie boodskap. Wat hieronder verskyn, is `n opsomming van die toespraak soos in Die Burger gepubliseer.

Die fees sal vir dié wat dit bygewoon het, onvergeetlik wees, omdat dit gekenmerk is deur `n gees van ware samewerking van vriende toe die nagedagtenis van hul voorouers geëer moes word. Die fees is onvergeetlik omdat dit gehou is op heilige historiese grond, wat self `n boodskap vir die volk het. Die toestande wat 100 jaar gelede geheers het, en die gebeurtenisse wat toe plaasgevind het, is herskep en het herlewe en hierdie geslag het gemeenskap gehad met daardie geslag wie se boodskappe oorgedra moet word aan die geslagte van die toekoms.

Op Winburg word die Trekkers ’n Volk

Honderd jaar gelede is die keerpunt in die geskiedenis van die Afrikanerdom gesien. Die Groot Trek het nie plaasgevind as ’n georganiseerde eenheid nie, maar families het in klein groepies die land verlaat op verskeie tye om ‘n nuwe tuiste en `n nuwe bestaan te gaan soek.

Op Winburg het hulle bymekaargekom, waar hulle `n georganiseerde gemeenskap geword het. Hulle het opgehou om trekboere te wees en het ‘n Trekkende Volk geword met ‘n definitiewe doel. Om die Eeufees van daardie gebeurtenis te vier, is van die grootste belang vir Winburg en vir die Afrikanerdom.

Ons staan in die middel van twee eeue en is in staat om 100 jaar terug en in die toekoms te kyk, en daar is ‘n indruk waarvan ek nie kan wegkom nie – ‘n indruk dat daar in die geskiedenis van Suid Afrika ‘n definitiewe rigting is.

As ons terug kyk, lyk dit of die pad die afgelope 100 jaar vol draaie was, vol gevaarlike afgronde, en by rukke of die horison verdwyn het as ons nie vorentoe kyk nie, maar was daar nie ‘n rigting in hierdie blykbaar rigtinglose weg nie? Daardie weg is nie alleen deur werksmanne gemaak nie. Die ontwerp van daardie weg is die werk van ‘n Oppermagtige Brein, ‘n Ingenieur wat rigting gekry het vir ‘n blykbaar rigtinglose pad. Die rigting was vasgestel en het uitgeloop op ‘n vrye nasie.

Dis lank gelede reeds gesê dat die geskiedenis van Suid Afrika ‘n tragedie is en dat dit vergeet moet word om ons in staat te stel om ons aandag te skenk aan die huidige dringende probleme. Ons geskiedenis is nie net ‘n tragedie nie. Dis niks anders as die hoogste kunswerk van die eeue, ons het ‘n reg op ons nasieskap omdat dit aan ons gegee is deur die Argitek van die heelal. Die doel van die Argitek was die vorming van ‘n nuwe nasie onder die nasies van die wêreld.

Voortrekkers laat nuwe volk gebore word

Daar was voorheen blankes in Suid Afrika onder wie daar ‘n ontwakende nasieskap aanwesig was, maar dit moet erken word dat die Voortrekkers meer bygedra het tot die eintlike geboorte van die nasie as alle ander.

Ander belangrike gebeurtenis soos die landing van Jan van Riebeeck en die Eerste en die Tweede Vryheidsoorlog het ook bygedra tot die geboorte van ‘n nasie, maar nieteenstaande dit het die Voortrekkers die grootste aandeel geneem in die vorming van die Afrikanernasie.

In die briefwisseling tussen Piet Retief en sir Andries Stockenström praat laasgenoemde van “hierdie” mense, terwyl Retief van “my” land en “my” mense praat. Dit was die nuwe gees wat eerste deur die Voortrekkers uitgespreek is.

As ons terugkyk oor die afgelope 100 jaar, is ons verbaas oor die betreklike kort tydperk waarin ‘n nuwe nasie tot stand gekom het. Die geboorte van ‘n nasie in so ‘n kort tydjie is ‘n wonderwerk in vergelyking met ander nasies wat eeue geneem het. Hierdie kort tydperk van ons nasiewording het geen gelyke in die wêreldgeskiedenis nie.

Die wonder van ons taal

Ons het nie alleen nasieskap in ‘n eeu behaal nie, maar ons het ook ‘n eie taal opgebou, ‘n taal wat nie voorheen bestaan het nie. Die siel van ‘n nasie is gebore en daardie siel moes ‘n vorm van uiting hê.

‘n Nasie kan nie sonder ‘n taal bestaan nie en die geboorte van ons taal in so ‘n kort tydjie is ‘n ander wonderwerk wat nie sy gelyke in die wêreldgeskiedenis het nie. Die volk het baie jare vergeet dat hy ‘n eie taal het, maar ook dit het tot sy reg gekom. Sedert Afrikaans ‘n geskrewe taal geword het, het daar meer Afrikaanse boeke verskyn in 15 jaar as wat daar Engelse en Hollandse boeke in 100 jaar verskyn het.

Die volk moet ‘n geskiedenis hê om hom te inspireer en aan te spoor vir die toekoms. Ons is `n jong volk met `n jong taal, maar ons het ‘n ryk geskiedenis, vol met helde wat sal lewe so lank as wat die Afrikanernasie bestaan. Daar is geen ander nasie in die wêreld wat soveel groot manne gelewer het nie. As ons ‘n nasie was wat ons bemoei het met wêreldsake, sou ons ‘n Cromwell, Luther, Washington, en Lincoln kon gelewer het.

God het ‘n plan met Afrikanervolk

‘n Wonderwerk het in die afgelope 100 jaar gebeur, ‘n wonderwerk waaragter daar ‘n goddelike plan moet wees. Die geskiedenis van die Afrikaner openbaar vasberadenheid en ‘n doelbewustheid, wat ‘n mens laat voel dat die Afrikanerdom nie die werk van mense is nie, maar die skepping van God is.

Alles wat in die afgelope 100 jaar gebeur het, het gebeur in die teenwoordigheid van die drie woorde: “ten spyte van”. Ons het nie die groot getalle soos die Verenigde State nie, en die paar wat hier was, was oor die hele land versprei. Dit is nie moeilik om ‘n nasie op te bou uit groot getalle in ‘n dig bevolkte land nie. Ten spyte van die klein verspreide bevolking is ‘n nasie opgebou.

Deur middel van skole en opvoeding kan nasieskap gebore word, maar ons Volk het nie die voorregte van skool en kerk gehad nie. Dit het gevaar geloop om verstrooid te raak, en tog het ons ‘n nasie geword.

Ons het geen taal en kultuur van ons eie gehad nie,en moes dit leen. Ten spyte van die magtige kultuur wat ons wou oorskadu, het ons ‘n nasie geword.

‘n Nasie kan nie ‘n nasie bly sonder die liefde vir vryheid en gelykheid met ander nasies nie. Magte in Suid Afrika wat nie ‘n nuwe nasie nie wil hê nie, het komplotte gesmee om die Suid Afrikaanse nasie te vernietig.

Mag en sluheid het saamgespan, en die beendere van ons helde van vryheid lê versprei op die slagvelde. Die magtigste militêre ryk in die wêreld kon egter nie daarin slaag om ons volk te vernietig nie.

Ons mense is blootgestel aan die gevare van ‘n swart bedreiging en ‘n swart barbaarse bedreiging wat verskeie nasies vernietig het. Ons het egter ‘n volk gebly deur ‘n verhouding van heer en diensbode tussen blank en swart te skep, en nie rassevermenging toe te laat nie, want ‘n volk wat sy rasegtheid verloor, kan nie as volk voortbestaan nie. Ons het ‘n volk geword ten spyte van al die gevare en ten spyte van onsself.

Dwarsdeur ons geskiedenis is die Godsplan met ons volk klaarblyklik, en ons het die goddelike reg om Afrikaners te wees. Geen mag ter wêreld kan ons nasieskap doodmaak nie, want God het ons volk geskep.

Dit is nie nodig vir ons om te vra wat ons in die toekoms gaan doen nie. Ons kan slegs ‘n boodskap van hierdie feesviering rig aan dié wat dit in 2037 sal vier, want ons twyfel nie, en sal nooit twyfel dat die Afrikanervolk dan, of oor 500 jaar, nog sal bestaan nie.

Behoud van vryheid is moeilike taak

Die taak wat op die skouers van ons nageslag rus, sal moeiliker wees as die wat op ons skouers rus of wat op die skouers van die Voortrekkers gerus het.

Ons het vandag vryheid behaal; die stryd om vryheid is verby, maar juis om daardie rede sal hul stryd moeiliker wees, want dis makliker om vir vryheid te strewe as om te weet wat om daarmee te maak as dit eers verkry is, en hoe om dit vir konstitusionele doeleindes te gebruik.

Die Voortrekkers het die kolonie verlaat om die land oop te stel en ‘n nuwe tuisplek te vind. Sedertdien het trekkers die Suid-Afrikaanse kus en grense verlaat om nuwe woonplekke in Argentinie, Angola en elders te vind.

Ons taak en die taak van ons nageslag is om ‘n tuisplek te vind vir daardie Afrikaners in hul eie land waar hul hoort.

Daar is tans ‘n ander en nuwe trek, naamlik die van die platteland na die stede, en die taak van ons nageslag is om toestande in die stede te skep waaronder hierdie trekkers in staat sal wees om Afrikaners te bly, en waarin hulle ‘n lewensbestaan kan voer.

‘n Ander moeilike taak is geskep as gevolg van die toestroming na Suid Afrika van mense uit alle dele van die wêreld, wat hierheen gelok is deur die rykdom wat deur God hier geplaas is.

Die Voortrekkers het hierdie land vir ons verower en dit bewoonbaar gemaak vir ons. Sal ons hierdie land vir onsself en vir ons kinders behou, of toelaat dat dit in die hande van vreemdes verval, en die kinders van die Voortrekkers vreemdelinge en bywoners in hul eie land word ?

Die gevaar van rassevermenging

Die vraag is of Suid-Afrika aan ons sal bly behoort of nie? Die Voortrekkers het gewaak teen rassevermenging, en daardie taak rus nog op ons en sal op ons nageslag rus. In die tyd van die Voortrekkers was dit ‘n betreklik maklike taak, maar toestande het tans verander. Die gekleurde rasse raak beskaafd en hulle dring al hoe meer in die werk en kringe van die blanke, waar hulle skouer aan skouer saamwerk – nie as heer en dienskneg nie, maar as werksmense op ‘n gelykheids grondslag. In die grotere stede woon blankes en gekleurdes teenoor mekaar. Hul kinders speel saam.

Ons boodskap aan ons nageslag is: raak ontslae van die minderwaardigheidskompleks teenoor ander nasies en teenoor ons voorouers en Voortrekkers.

Die Voortrekkers het nie aan ‘n minderwaardigheidskompleks gely nie, en ons durf nie so ‘n kompleks by onsself aankweek nie. Ons nageslag moet aan hul vroue en kinders hul regmatige plek in die stryd vir volksbestaan, soos die Voortrekkers gedoen het, toeken. Ons moet dink aan Bloukrans en die Vrouemonument en besef dat net soveel lewens van vroue en kinders op die altaar van vryheid geplaas is as dié van mans.

Hierdie land is aan die Voortrekkers gegee in omstandighede waarin hulle God nie kon vergeet nie. Die Voortrekker was die kind van die veld, en onder die gedurige gevaar van barbaarse swarte mensehordes en diere was hulle noodwendig gedurig afhanklik van die hulp van God.

Ons land is onderhewig aan droogtes wat ons bestaan binne korte tyd kan wegveeg. Ons word gedurig aan God herinner tot wie ons, ons toevlug moet neem. As hierdie fondament ineenstort, is daar geen hoop vir die toekoms nie.

Antwoord op die roepstem

Grootheid word gebore tussen die heuwels in die stilte van die natuur, want in die eensaamheid van stilte spreek die natuur en God, en God word aan die mens geopenbaar. Daar hoor die mens die stem van God en die roepstem van die volk wat hom nodig het. Die mens antwoord dan op die roepstem, en onderneem die groot taak, en selfs as die volk die onderspit delf, weet hy dat God die bestaan van sy volk waarborg. Hy is nie bevrees om te wen of te verloor nie, want hy weet dat uit die dood lewe spruit, en dat hy die bystand van God en die opdrag van God het om hom te steun in die diens van sy volk. Dit dan is ons boodskap aan hulle wat hierdie geleentheid in 2037 sal vier, die boodskap wat ons van die Voortrekkers ontvang het, naamlik: Glo in God, glo in u volk, glo in uself.

 Dr. DF Malan, baanbreker Afrikanerleier

Bloedrivier Gelofte

Toespraak deur dr. D.F. Malan op 16 Desember 1938 op Bloedrivier, ‘n hoogtepunt van die Voortrekkereeufees.

Die onderwerp waaroor ek tot u wil spreek is: Die Nuwe Groot Trek Suid-Afrika se noodroep en die antwoord daarop.

Wat daarmee bedoel word, weet die meeste van u wat met ons volkstoestande bekend is, al dadelik. Ek wil spreek oor die grootskaalse verhuising van ons blanke plattelandse bevolking na die stede, oor die stryd wat veral die Afrikaners, en onder hulle baie duisende wat Voortrekkerbloed in hul are het, daar moet voer om hul brood, om hul siel, om hul Afrikanerskap, en nie die minste nie, om in die aangesig van die moeilikste omstandighede Suid-Afrika ‘n witmansland te hou.

Dis uit daardie nuwe wortelstryd wat stil, haas ongemerk maar onafgebroke en meedoënloos voortgaan en wat meer as iets anders die toekoms van ons blanke Afrikanerdom besils, dat daar ‘n noodroep opstyg. Dis tot u dat dit kom. En dis dit wat ek wil laat hoor.

Daar is voorwaar geen geskikter plek en geen geskikter geleentheid om na daardie stem van u volk te luister nie. Op Bloedrivier se slagveld staan u op heilige grond. Dis hier waar die groot beslissing geval het oor Suid-Afrika se toekoms, oor die Christelike beskawing in ons land en oor die voortbestaan en die verantwoordelike magsposisie van die blanke ras.

Dis hier waar die Voortrekker se menslike hart, se leeuemoed, se onwrikbare geloof in sy God en in sy volk die duidelikste en kragtigste spreek tot die nageslag. Dis hier waar in die uur van doodsgevaar en sonder om dit self so te bedoel, u voorvaders voor die wêreld ‘n aanskoulike beeld van hulself afgeteken het wat op die mees afdoende wyse die vurige laster van die eeu wat was en die eeu wat kom, beskaam.

Maar daar is grond waarop u staan wat nog heiliger is. U staan op die skeiding van twee eeue. Agter u rus u oog op die jaar 1838 as op ‘n hoog uitstaande en alles beheersende bergop in die bloue verte. Voor u op die nog onbetrede Pad van Suid-Afrika lê daar ewe ver en dynsig-blou die jaar 2038. Agter u lê die spore van die Voortrekkers se ossewaens, diep en onuitwisbaar afgedruk oor die wyd uitliggende vlaktes en oor die grynsende, draakagtige bergreekse van ons land se geskiedenis.

Hulle het die stem van Suid-Afrika gehoor. Hulle het uit Gods hand hul taak ontvang. Hulle het hul antwoord gegee. Hulle het hul offers gebring. Daar is nog ‘n blanke ras. Daar is ‘n nuwe volk. Daar is ‘n eie taal. Daar is ‘n onsterflike vryheidsdrang. Daar is ‘n onafwysbare volksbestemming. In hierdie Eeufeesjaar 1938 oordeel hul nageslag oor hulle. En daardie oordeel oor hulle gaan voor die oog van alle geslagte nou in volksmonumente daar verewig staan.

Hul taak is afgedaan. Maar oor daardie onbekende landstreek wat wyd uitgestrek voor u lê, sal daar ook die spore getrek word van ossewaens. Dit sal wees u ossewaens, simbolies as u dit so wil noem, maar nietemin werklik. U en u kinders sal geskiedenis maak.

Sal Suid-Afrika dan nog witmansland wees? Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons met vermoeide oë sal aanstaar as ‘n ewige verwyt? Sal die Afrikanerdom dan een wees en vry? Sal u volk dan God nog ken?

Oor die Pad van Suid-Afrika sal ook u moet trek oor bergreeks en deur dorsland heen. Koers hoef u nie te soek nie. Dis daar. Sal u hom hou?

Aan lig hoef dit u nie te ontbreek nie. Die fakkel met vaste voet oor honderd jaar heen gedra, word vir u in u hand geplaas. Sal u hom brandende hou?

U voorvaders het ‘Die Stem’ nooit gesing nie omdat hul hom nie geken het nie. Maar uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see en oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee, het hulle sy geklank tog opgevang en verstaan. Hulle het geantwoord. Hulle het geoffer. In u ore weerklink daardie selfde stem. Hy is op u lippe omdat u hom liefhet en bely as u eie en enige volkslied. Maar het u hom ook gehoor? Die eeu wat kom, sal u antwoord ontvang. In sy weegskaal sal hy u offers weeg. En 2038 sal oor u oordeel.

Onder die vrae wat ek netnou gestel het, is daar twee waarmee my onderwerp meer besonderlik te doen het. Die een is: Sal daar dan nog ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons sal aanstaar met vermoeide oë as ‘n ewige verwyt? En die ander, wat intiem daarmee saamhang, is: Sal Suid-Afrika nog ‘n witmansland wees?

Ek gaan hierdie vrae nie beantwoord deur my in ydele voorspelling te verdiep nie. As daar enige antwoord gegee word, dan moet dit kom van die verenigde Afrikanerdom wat die deur Voortrekkers gebaande Pad van Suid-Afrika doelbewus en standvastig sal betree, of wat sielloos en doelloos daarvan sal afdwaal. U ‘ja’ kan alleen gegee word deur die magtige daad.

My taak vandag is slegs om u te sê dat, terwyl u hier staan, daardie vrae alreeds besig is om beantwoord te word, en beantwoord te word in u naam.

Die stryd met wapens is verby. Dit was die Voortrekkers s’n. Maar die nog heftiger, dodeliker stryd as hulle s’n was, word nou beslis. Die slagveld is verskuiwe. U Bloedrivier is nie hier nie. U Bloedrivier lê in die stad.

Ek behoef u nouliks te sê dat die Afrikanerdom weer op trek is, op sy nuwe Groot, of miskien moet ek sê, sy nuwe Groter Trek. Dis nie soos honderd jaar gelede ‘n trek weg van die middelpunte van die beskawing af nie, maar ‘n trek terug – terug van die platteland na die stad, terug selfs uit ander vroeëre toevlugsoorde soos Angola en Argentinië na Suid-Afrika.

As u ooit daaraan getwyfel het, dan verkondig hierdie terugtog dit nou met luide stem dat hierdie land waar die Voortrekkers se bloed lê, u land is, en dat die volk wat hul stryd en geloof help skep het, u volk is. U het geen ander nie. Met die Afrikanerdom moet u lewe en met die Afrikanerdom moet u sterwe.

Die trek na die stede groei klaarblyklik vinnig aan en niks kan dit keer nie. Dertig jaar gelede was die getal blankes in die stede en op die platteland ongeveer gelyk. By die totstandkoming van die Unie het die verhouding ten gunste van die platteland oënskynlik selfs verbeter. Met die laaste sensus egter, te wete dié van 1936, het dit geblyk dat die blanke bevolking van die stede 66 persent was van die geheel, dit wil sê dat dit twee maal so groot was as dié van die platteland. En die pas was blykbaar nog besig om te versnel. Want terwyl gedurede die vyf jaar tevore die stedelike bevolking so vinnig toegeneem het soos nooit tevore nie, dit wil sê met vyf persent, het die totale landelike blanke bevolking vir die eerste keer werklik verminder, en wel met 12,000.

Dat hierdie geweldige volkstrek feitlik die Afrikaanssprekende bevolking alleen raak, behoef u nouliks te bewys. In al ons stede kan iedereen dit vir homself aanskou.

Maar niks kan duideliker spreek nie as hierdie feit, dat waar die Afrikaner in die stad ‘n dertig jaar gelede ‘n klein, en na dit geskyn het, ‘n verdwynende minderheid was, 41 persent van die blanke stedelike bevolking van vandag Afrikaans as huistaal gebruik. Dit sluit dorpe met minder as 2,000 blanke inwoners nie in nie. Dit beteken dat daar vandag alreeds ongeveer 540,000 Afrikaners in die stede woon, dit wil sê byna die helfte van die hele Afrikaanssprekende blanke bevolking van ons land.

As een ding vandag waar is, dan is dit dit, dat dit in die stad is waar die Afrikanerdom se stryd gewen sal word of waar die nuwe volk wat op die moordvelde van Natal sy bloeddoop ontvang het, met al sy frisse hoop en met al sy kortstondige glorie begrawe sal lê.

U vra my tereg os hierdie nuwe Groot Trek dan nie, net soos dié van 100 jaar gelede, ‘n seën is in plaas van ‘n ramp; of dit nie die verowering beteken van nuwe gebied en van nuwe mag waar die Afrikaner met al sy pioniersinstink en al sy heldemoed nog nooit tevore sy voet geplant het nie; of hier nie die grond gelê word van ‘n ekonomiese onafhanklikheid wat vir die Afrikaner nog baie meer mag beteken as die stigting van die vroeëre vrye, onafhanklike Voortrekkerstate?

My antwoord is: dit kan so wees, en mag God gee dat dit sal. Maar ook dit: as dit sal, dan sal dit alleen geskied as die Bloedrivier van vandag beslis word en gou genoeg beslis word soos die Bloedrivier van Andries Pretorius en van Sarel Cilliers.

Ek het soëwe gesê dat die stryd op die voorposte van hierdie nuwe Groter Trek van die Afrikanerdom heftiger en dodeliker is as die stryd met wapens wat u vandag gedenk. Laat die feite self verduidelik.

Eers is daar hierdie allerernstige feit dat na hierdie beperkte stedelike gebied waar die bevolking in sy massas saamdrom, dit nie slegs die Afrikaner is wat trek nie, maar ook die nie-blanke (naturel, Asiaat en Kleurling) met sy honderdduisende. Die lewensbestaan wat daar gemaak kan word, word saam met die blanke deur hulle gedeel, en as getalle alleen kan beslis, dan is die kanse van die stryd al dadelik teen die blanke. Dis oral so, maar nêrens kan u dit so aanskoulik voor u sien as in die grootste stede nie.

‘n Paar voorbeelde sal u oortuig.

Neem Kaapstad. In die 15 jaar tussen 1921 en 1936 het die blanke bevolking daar toegeneem met 56,000, maar die nie-blanke met 67,000.

Neem Port-Elizabeth. Dit het aangegroei met 27,000 blankes, maar daarteenoor 31,000 nie-blankes.

Neem Kimberley. Daar was ‘n verlies van 2,700 blankes, en ‘n aanwas van 3,000 nie-blankes.

Neem Bloemfontein met 10,000 meer blankes, maar 14,000 meer nie-blankes.

Neem Durban met 35,000 meer blankes, maar 60,000 meer nie-blankes.

En neem die Witwatersrand met sy 171,000 meer blankes, maar daarteenoor met sy 311,000 meer nie-blankes.

Neem alle stedelike gebiede saam dan vind u dat daar in daardie 15 jaar 46,000 blankes bygekom het terwyl die nie-blankes hul getalle vermeerder het met 812,000. As u dink dat deur die nuwe Groot Trek van die Afrikaner na die stede toe daardie middelpunte van ons industriële en ekonomiese lewe witter word, dan vergis u u deeglik. Hulle word swarter.

Daar is verder ook hierdie nie minder verontrustende feit dat by daardie nuwe Bloedrivier van ons volk blanke en nie-blanke mekaar ontmoet in ‘n baie nouer kontak met mekaar en in ‘n baie klemmender worstelgreep as toe 100 jaar gelede die kring van wit getente waens die laer beskerm het en die koëelgeweer en assegaai teen mekaar gekletter het.

Blank en nie-blank verdring vandag mekaar in dieselfde arbeidsmark. Van die 207,000 loontrekkers in fabrieke en produktiewe nywerhede is 81,000 blanke manne en vroue en met die ander 126,000 nie-blanke werkers staan hulle vir ‘n groot deel dag na dag skouer aan skouer. Vir ‘n groot deel ontvang hulle dieselfde beskermde lone, en sover as hulle georganiseerde vakmanne is, sit hulle dikwels ook op gelyke voet met mekaar in dieselfde vakbonde.

Maar nog meer. As in hierdie worsteling om sy plek in die son te behou, die blanke man se voorsprong in beskawing en opvoeding iets vir hom beteken, dan kom hy vinnig ook daar te staan voor ‘n gans nuwe situasie.

As die stadslewe vermeerderde onderwysgeriewe vir die reeds begaafde blanke meebring, dan is dit tog nog baie meer so vir die on- of half beskaafde nie-blanke trekker. En is dit nie ‘n feit dat waar in die eerste 25 jaar ná Unie die getal blanke kinders op skool toegeneem het met 127 persent, die getal van nie-blankes toegeneem het met 254 persent, dit wil sê net dubbeld soveel; dat in Kaapstad meer bepaald die vermeerdering van blanke skoolgaande kinders 90 persent was teenoor 160 persent nie-blankes en dat in Transvaal gedurende dieselfde tydperk die blanke vermeerdering slegs 200 persent bedra het teenoor ‘n nie-blanke vermeerdering van 614 persent? Kennis is mag. Die strydkanse verander, maar ten koste van die blanke.

Daar is ‘n derde feit wat op die uitslag van hierdie worstelstryd sy magtige invloed moet uitoefen en wat, as daar geen redding kom nie, die ondergang van Suid-Afrika as witmansland moet verseël.

Die Afrikanertrekker van vandag wat op die voorposte in die bres moet staan vir sy volk, is van almal die swakste toegerus vir die stryd. Die swaarste las rus op die swakste skouers. Dis min dat die Afrikaner wat na die stad trek, dit doen uit weelde. Dis sy nood wat hom dryf. Geestelik en verstandelik is daar niks met hom of met sy kind verkeerd nie. Wetenskaplike ondersoek het vasgestel dat selfs onder ongunstige omstandighede een derde van sy getal bokant die gemiddelde peil van die blanke bevolking staan.

Maar dit neem nie weg nie dat hy tog die beliggaming is van die armoede wat die boereplaas in die agterbuurte van die stede stort. Omdat Afrikaner-armoede nie luidrugtige armoede is nie, maar swygende armoede, het u nie geweet hoe wyd en hoe diep dit was nie. Ná die ontdekkende lig van die Carnegie-ondersoek weet u dit nou. Hoor dit weer:

17 en ‘n half persent van alle huisgesinne met skoolgaande kinders word beskryf as ‘baie arm’. As ons hierdie syfer as maatstaf neem vir die hele blanke bevolking, dan was op ‘n konserwatiewe skatting meer as 30,000 van die blanke bevolking ‘baie arm’.

Die gegewens is in 1929-1930 versamel en toe was die gevolge van die huidige depressie nog nie so sterk gevoel nie.

Kennis is mag, het ek soëwe in verband met die opkoms van die nie-blanke gesê. Armoede, dit sê ek nou weer in verband met die Afrikaner-trekker, in verband met die kind en erfgenaam van Bloedrivier se heldegeslag en in verband met die worstelstryd om in ‘n witmansland te hou wat ons het, armoede is onmag en nederlaag.

By dit alles om daar nog een groot feit wat nie vergeet mag word nie, en wat, as daar nie gou en kragtig ingegryp word nie, die geloofsoorwinning van Bloedrivier op die lange duur moet omskep in wanhoop en ondergang. Die Afrikanertrekker in die stad moet lewe, en Suid-Afrika verwag van hom dat ten spyte van sy armoede hy moet lewe as ‘n beskaafde witman.

En goddank, met al die diepste verlange van sy siel wil hy dit self ook nog. Die Arikaner in hom weier nog altyd om homself te verloën.

Maar komende van die boereplaas het hy geen ander kanse nie as om te probeer lewe as ‘n ongeskoolde of halfgeskoolde arbeider van sy handewerk. En wat vind hy rondom hom? Aan die een kant beskermde werkverskaffing en beskermde hoë lone vir nie-blankes gelykop met blankes. Maar omdat hy geen vakman is nie en dit ook nie kan word nie of as sodanig geen erkenning kan kry nie, staan hy daar voor ‘n geslote deur.

Aan die ander kant van hom weer is daar lone deur die vrye kompetisie tussen wit en gekleurd en swart so laag afgedruk, dat volgens die Kommissierapport van 1934, ‘hulle nie in staat is om daarvan fatsoenlik te lewe nie’.

Maar ook selfs daar stuit hy nog alte dikwels teen daardie ysterdeur van ‘n onsimpatieke werkgewersgemeenskap wat sy taal nie ken nie en wat sy Afrikanerskap verfoei, terwyl sy eie mede-Afrikaner, wat hom indirek kragtig sou kan help, weier om dit te doen omdat in sy veragtelike slaafsheid hy by vreemdes hom vir sy eie taal skaam.

So woed die stryd meedoënloos voort, dag na dag en jaar na jaar, steeds groeiende in omvang en dodelikheid. Die stryd word beslis, maar nie soos vir u voorvaders nie.

Waar hy ook in die bres moet staan vir sy volk, ontmoet die Afrikaner van die nuwe Groot Trek die nie-blanke by sy Bloedrivier half of selfs geheel ongewapend, sonder skans en sonder rivierskeiding, weerloos op die ope vlakte van ekonomiese gelykstelling.

Is u verwonder oor die aanvanklike afloop? Kan u iets anders verwag het as die onheilspellende bevinding van ‘n regeringskommisie hierdie jaar, dat die boonste groep van nie-blankes die onderste groep van blankes in die arbeidsmark gemaklik kan verdring?

Kan u nog stene gooi na u mede-Afrikaner as u hom vind in die agterbuurte van u groot stede, huis aan huis, en soms selfs kamer aan kamer met Kleurlinge en Asiate en stemgeregtigde naturelle, en as u sy kind lustig-onskuldig op straat sien speel in ‘n bonte mengeling van alle kleure?

En as u lees in die wetenskaplike Carnegie-rapport dat die skeidsmuur langsaam afgebreek word, dat maatskaplike vermenging gemaklik lei tot geslagsgemeenskap en dat dit weer die verdwyning veroorsaak van die suiwer blanke kleur, moet u dan as Afrikaner God nie dank nie dat daarby nog dit kon gevoeg word dat “so iets nog ‘n uitsondering is selfs by veragterde blankes en veral by dié van die Afrikaanssprekende seksie?”

So is dit nog by die Trekker wat die godsdienssin en die lewesuitkyk van die boereplaas met hom meegebring het.

Maar as die geslag wat in die nuwe omstandighede gebore word en opgroei, anders word, watter reg het u dan om die vinger van verwyt na hulle uit te steek? Dit was u volk. Die wanhopige stryd wat hulle vir ‘n witmansland moes voer, was dit ook vir u en u kinders, en u het dit geweet. Hul geroep was tot u. Dit was ‘n noodroep soos dié wat ten hemel opgestyg het van Bloukrans en van Hlomo Amaboeta. En u het nie gehoor nie.

Die noodroep is daar. Dit wag op u antwoord. Daardie antwoord mag nie langer bestaan in konferensies of kommissies of koerantartikels of platformtoesprake of selfs in fondsinsamelings alleen nie.

Die tyd van woorde is verby. Die tyd is daar vir grondige, doeltreffende en desnoods drastiese maatreëls. Dis hier nie die plek om daarop in te gaan nie. Ek wil alleen die mening uitspreek dat die innerlike ooreenstemming daaromtrent by ons volk werklik baie groter is as wat openlik erken word; en dat daardie eenheid van oortuiging hom nie laat geld nie, alleen omdat die Afrikaner sy onmiskenbare volksliefde nog altyd laat dwarsboom deur allerlei oorwegings van minder belang.

Sal daar dan nog  ‘n armblankevraagstuk wees wat hierdie ryk land van ons met vermoeide oë sal aanstaar as ewige verwyt? Sal Suid-Afrika dan nog ‘n witmansland wees? Dis die vraag wat gestel word, veral aan u wat vandag op hierdie heilige grond staan op die skeiding van twee eeue.

Hierdie Eeufeesjaar, hierdie wonderjaar van ons geskiedenis wat na sy einde haas, sal dit wees die frisse bergstroom wat in die sand verdwyn of die klank wat op die dorre wind wegsterf? Of sal dit wees soos dit blykbaar bedoel is om te wees – die Afrikaner se God-gegewe geleentheid?

U het vergeet, maar die herinnering word weer in u wakker. In die glans van u beskawing en in die stofwolk wat die gejaag na goud laat opstyg het oor u land, is die hemel daarbo vir u dof geword. By die gekreun van die ossewa sien u nou weer helderder die sterre wat u voorvaders laat koers hou het deur Suid-Afrika se donkerste nag. Hul ster van vryheid blink helder ook op u pad.

Maar u weet ook nou dat daardie vryheid vir hulle meer beteken het as maar net die vryheid om hulself te regeer en om hul eie nasieskap ten volle uit te lewe.

Hul vryheid was ook, en veral, die vryheid om hulself as blanke ras te beskerm. Soos u dit nooit anders kon besef het nie, besef u vandag dat hulle koers u koers is, dat hulle pad u pad is, en dat hulle taak om Suid-Afrika witmansland te maak, in tiendubbele mate ook u taak is.

In sware stryd om die bestaan het u afgeleer om op te sien. U het u laat wysmaak dat om u volk te laat lewe, dit genoeg is om te sorg vir sy ‘botter en brood’. U het u idealisme begrawe. U het skuins gekyk na wat dit u belief het om ‘sentiment’ te noem, en die vreemdeling wat u eie nasieskap verfoei vir sy eie voordeel, het u daarin aangemoedig. U het nie daaraan gedink dat ‘n volk, net so min as ‘n individuele mens, by brood alleen kan lewe nie.

U het vergeet dat dit ideale alleen is wat tot selfopofferende dade kan aanspoor: dat sentiment die sement is, en dat die uitsterf daarvan die sekerste weg is tot volksontbinding en dood.

Dis hierdie Eeufeesjaar wat die volk wakker roep uit sy doodslaap. Dis Danskraal en Bloedrivier wat dit weer oor Suid-Afrika se vlaktes uitbasuin dat om te kan oorwin, jy bowe alles nodig het om op te kyk, en dat met die wederopstanding van die Afrikanerdom se ou idealisme daar ook uit die graf moet verrys nuwe hoop, nuwe vaderlandsliefde, nuwe wilskrag en nuwe eenheid.

Daardie nuwe eenheid wil u hê, en Goddank dat u nog wil. Maar het u uself al ooit ernstig afgevra: vir wat? Wil u dit hê vir u volk of vir u eie groter gerief?

Is wat u beoog, ‘n daad van gemeenskaplike selfopoffering om u vaderland te dien en om u kinders se toekoms veilig te maak, of is dit alleen maar ‘n ander openbaring van daardie selfsug wat nie wil offer wat Suid-Afrika vra nie en wat daarom van stryd in enige vorm en vir enige saak wil wegvlug?

Wil u eenheid hê alleen maar net om met hande in mekaar geslaan doelloos voort te slenter, of begeer u dit om doelbewus en vasberade op die Pad van Suid-Afrika die groot en dringende vraagstukke van u volk op te los?

Eenheid sonder doel is waardeloos en kan soos ‘n waterpoel homself omskep in ‘n verpestende stilstand. Doelbewustheid skep lewe en vooruitgang en daarmee ook vrugbare en blywende eenheid.

Daar is ‘n Krag wat sterk genoeg is om ons op daardie Pad van Suid-Afrika te voer tot ons bestemming. Dis die Krag Daarbo wat nasies skep en hul lot bepaal. Dis ook die Krag wat daartoe gegee is en wat sluimer in die hart van elke Afrikaner.

Dis die Krag wat kan uitgaan, en wat bedoel was om uit te gaan , van diegene wat die vermoeide trekkerstryder in die stad se eie vlees en bloed is, en wat bykans 60 persent uitmaak van Suid-Afrika se blanke bevolking. Verenig daardie krag doelbewus in ‘n magtige reddingsdaad, dan is die Afrikanerdom se toekoms verseker en dan is die blanke beskawing gered.

In hierdie Eeufeesjaar het die Afrikanerdom homself weer ontdek. Opgestaan uit die stof van vernedering en eie veragting, eis hy nou volle erkenning vir homself vir sy edele voorgeslag en vir sy nageslag. U eis dit deur die nuwe wekroep van u ossewaens en monumente. U eis dit deur vasberade ‘n end te maak aan iedere miskenning van u regte. As teken van u nuwe nasietrots en selfvertroue heg u die name van u groot Voortrekkerleiers aan u strate en eis u ‘Die Stem van Suid-Afrika’ as u eie erkende Volkslied.

Het u vaderlandsliefde en innerlike krag genoeg om in hierdie Eeufeesjaar, om by hierdie Godgegewe geleentheid daarby ook nog te eis wat oneindig groter en lewensbelangriker is as dit alles tesame, naamlik die veilig gemaakte voortbestaan van u eie blanke ras?

Andries Pretorius was groot as krygsman en as staatsman. Maar groter nog was hy omdat, toe die noodroep tot hom kom van die worstelende bloedende blanke Afrikanerdom, hy onmiddelik huis en haard en eie veiligheid verlaat het om in die bres vir sy volk te gaan staan.

U roem Andries Pretorius. Sy naam is op almal se lippe. Daar is ‘n noodroep vandag van daardie selfde Afrikanerdom, meer gesmoor, maar ernstiger, langduriger, smekender, miskien wanhopiger as wat daar vir hom opgestyg het uit die moordvelde van Natal. Dit kom na u.

Ek vra hier vandag aan u en aan elke Afrikaner: Roem Andries Pretorius met u woord. Maar roem hom nog die hoogste van al deur die daad, en volg sy voorbeeld na.

Ek dank u.

Bron:

Glo in u Volk, D.F. Malan as redenaar 1908-1954; Samestelling, inleiding en aantekeninge deur S.W. Pienaar, bygestaan deur J.J.J. Scholtz; 1964.