Tag Archives: Afrikaner Broerderbond

Dr Albert Hertzog en Jaap Marais in 1970 wat dapper by hulle volk se Christenlik Calvinistiese grondslag bly staan het en die liberalisme ingevoer deur Vorster en kie. beveg het ten spyte van die persoonlike aanvalle vanuit die AB en NP

Hoe en waarom het die Afrikaner Broederbond omgeswaai na liberalisme?

Bertus Radford antwoord die vraag: Hoe en waarom het die Afrikaner Broederbond ’n gedaante-verwisseling van nasionalisme na liberalisme ondergaan? 

Die vraag word dikwels gevra hoe dit moontlik is dat ’n Afrikanerorganisasie soos die Afrikaner Broederbond (AB), ’n organisasie wat die Afrikaner se geestes-, maar ook stoflike goedere op die hart gedra het, die pad in so ’n mate kon byster raak? Maar meer nog, ook die rug op Afrikanernasionalisme kon draai? Dieselfde lede wat die AB uitgebou het, maar waarvan ’n aantal later ook die goeie werk vernietig het. Die antwoord op hierdie vrae strek oor baie grense heen en sny plek-plek baie diep.

Die verliberalisering van die Nasionale Party onder John Vorster en die AB beweeg parallel. Dr Verwoerd het per geleentheid melding gemaak dat sy grootste taak is om sy kabinet eerbaar te hou. Hy was sy tyd ver vooruit, daarby was hy ’n idealis en intellektuele reus. Sy politieke stukrag het die kerk, kuns en kultuur in beweging gebring.

Die aanslag op dr Verwoerd

Tydens die eerste mislukte aanslag op die lewe van dr Verwoerd was daar ’n geheul om dr Verwoerd en die NP van sy beleid te dwing. Paul Sauer het, as ervare politikus in die onseker toestand waarin die land verkeer het, die uitlating gemaak: “dat die ou boek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis toe is.” Hy reken ’n nuwe gees moet ontwikkel word vir vertroue by blanke en swart nasies. Sauer was kop in een mus met ’n georganiseerde anti-Verwoerd groep om daardeur die nuwe beleid in die NP-kabinet te kon indra.

Die NP-koukus het Sauer ’n week hierna gekonfronteer. Hy en Ben Schoeman was woedend. Na dr Verwoerd se ontslag het hy die afvalliges tot orde geroep. Die poging om die beleid te verander en Sauer tot Eerste Minister te verkies, het misluk. Hierna het dr Verwoerd die Basson, Piet Cilliers en Schalk Pienaar-groep voor stok gekry. Die Kaapse liberaliste het gaandeweg harder probeer om ’n skeuring te bewerkstellig. Die staatsgreep wat deur die georganiseerde geldmag op die Nasionale party uitgevoer is, was een van die nadeligste gevolge van die moord 6 jaar later. Vorster se hantering van die moord en sy vriendskap met Oppenheimer verduidelik sy dubbele rol.

Aanval teen dr Hertzog

Enkele weke voor die moord op dr Verwoerd het die Basson, Cilliers, Serfontein en Merwis-groep (Sunday Times) ’n geweldige veldtog teen dr Hertzog geloods om daardeur ’n wig tussen dr Verwoerd en dr Hertzog in te slaan weens die besef dat dr Hertzog heel waarskynlik die opvolger van dr Verwoerd sou wees. Nadat dr Verwoerd Jaap Marais en ’n aantal LV’s te woord gestaan het ten opsigte van hierdie bedenklike toestand was dr Verwoerd se opmerking: “Dit laat my besef dat ek so lank as moontlik moet probeer leef.” Hy het volle beheer oor sy kabinet gehad.

En tog was dit alreeds hier te bespeur dat daar ministers en LV’s was wat sag was, om die minste te sê. In Maart 1966 het die NP sy grootste oorwinning ooit beleef. ’n Verdere 20 setels is van die VP weggeneem. Dr Verwoerd se hantering van Rhodesië se eensydige onafhanklikheidsverklaring het talle Engelssprekende Suid-Afrikaners agter dr Verwoerd laat inskuif. Dr Verwoerd se vasberadenheid het vertroue geskep. Tydens die Geloftefees te Bloedrivier het hy gesê: “Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekkers van ouds: ‘Ons kan nog stry en ons sal veg, al moet ons ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika.’”

NP en AB “onvernietigbaar”

Talle NP-leiers en lede was ook AB-lede. Die oorgrote meerderheid AB-lede het dan ook die AB en NP as onvernietigbaar beskou. ’n Mede-Nasionalis het die AB of NP nie maklik of lukraak bevraagteken nie. Die Nasionale Party en AB was die voertuig wat die Afrikaner uit die vuur en die slyk van ondergang gered het. Die Eerste Minister en Voorsitter van die AB was die “aanvoerder en die pasaangeër”. Twee instansies met leiers waarna die volk opgekyk het. Dr Verwoerd het die Afrikaner stewig aan die NP gebind.

Die volk het ’n liggaam ontvang waarna baie jare uitgesien is. Die leier en party tot die daarstelling van ’n Republiek, ’n Republiek waarvoor 59 jaar gewag is. Die samewerking tussen dr Verwoerd en die AB met die kommunistiese gevaar in die agtergrond was intiem. Die twee invloedrykste persone in die land was die Eerste Minister van Suid-Afrika en die voorsitter van die Uitvoerende Raad (UR) van die AB, in daardie stadium dr PJ Meyer, die man wat die wa van 1958 saam met dr Verwoerd sou trek. Met die moord op dr Verwoerd was die Nasionale Party haas onvernietigbaar, menslik gesproke.

 John Vorster wyk af

Met die oorname van John Vorster was dit die posisie van die NP sowel as die AB, en was hy ook deeglik bewus dat die leier en die party onlosmaakbaar van mekaar is. Derhalwe het Vorster geglo die kabinet sou hom nie teengaan nie. Verder het Vorster op die rug van die Rivonia-verhoor gery waarvan dr Verwoerd weliswaar die breinkrag was met die inhegtenisname van die Kommuniste. Die eerste afwyking van NP-beleid was die taalkwessie, die ontvang van swart diplomate in blanke woonbuurte asook ’n Maori in ’n All Black-span. Vorster se verweer was indien nie aanpas nie, dan sal die NP stemme na links verloor. Later is teruggekrabbel dat hy hom verkeerd uitgedruk het. Totale verwarring is geskep, verwarring wat sou deurbeweeg na die AB. Die Maori-aangeleentheid sou die kabinet tot stemming bring. Gelukkig vir Vorster het die stemming nie plaasgevind nie.

Dr. Verwoerd en die NP se beginsel: “dat daar nie toegelaat sal word dat sport in Suid-Afrika gebruik word ten einde politieke oogmerke te bereik” is deur Vorster opsy geskuif. Vorster en PW Botha het alreeds in November 1963 agter die rug van dr Verwoerd geknoei ten opsigte van ’n Maori in die All Black-span. Op 1 Oktober 1968 het dr Piet Meyer van die AB Vorster uitgenooi na die Halfeeufees-bondsvergadering van die AB. Vorster het met mag en mening wal gegooi en die klagtes teen hom ontken. Ook na aanleiding van AP Treurnicht as redakteur van Hoofstad se hoofopskrif: “Vorster sê Maori’s kan maar kom”, ontken Vorster dit heftig. Die spanning tussen Broers het verhoog. In ’n later stadium wou dit lyk asof swart diplomate met hul gesinne in blanke woonbuurte vir ’n groot aantal Broers aanvaarbaar was.

Vorster neem aksie in verkeerde rigting

Vorster het hierna die Afrikaner Ordegroep, wat sterk Hertzog-gesind en meestal AB-lede was, ontbind. Hierdeur plaas Vorster vir Meyer op die agtervoet. Die druk het toegeneem en ’n liberale element het des te meer sy kop in die AB uitgesteek. Dr Piet Meyer het ’n kongres teen liberalisme aangelê, maar die Nasperskoerante, Die Burger, Beeld en Volksblad wat omgeswaai het na die liberale beleid van Vorster, tesame met die Liberal Cape Nats en geldmagnate het hierdie poging tot stillstand gedwing. ’n Verdere terugslag vir Meyer en die Afrikanernasionaliste. Sekere kultuurgroepe o.a. die Akademie vir Wetenskap en Kuns het die rug op Meyer gekeer.

Liberale Pers val Afrikanernasionaliste aan.

Sommige Naspers-koerante het na die afsterwe van dr Verwoerd sy beleid aangeval, oftewel skerper aangeval. Die Afrikanernasionaliste in die AB en die NP is deur hierdie koerante swartgesmeer en onwaarhede rondom hulle geborduur. Die hoë joernalistieke karakter aangaande die koerante het nou verander in ’n smeercampaign. Vorster het aan die Nasperskoerante die jawoord gegee. Hy is opgehemel terwyl die grofste onwaarhede teenoor die Afrikanernasionaliste versprei is. Die Beeld, Die Burger, Dagbreek en Volksblad was die voorbokke terwyl Hoofstad en Die Vaderland die Hertzog-groep goedgesind was. Intussen het die breë kerklui met enkele uitsondering nie ’n vinger verroer deur Vorster tot orde te vermaan nie, trouens sommige leraars het begin deur hul eie mense in die laer te bespied.

 “Staatsgreep” op AB

Met die aanvang van 1968 was dit duidelik dat sake vir die Afrikanernasionaliste nie baie rooskleurig was nie. Vroeg in Desember 1967 het die voorsitter van die UR die opmerking gemaak “dat ons grootste taak nou is om van John Vorster ontslae te raak”. As gevolg van Vorster se inmenging het die AB in die laat sestigs algaande dieper in die eensydige partypolitiek beland. Onder die voorsitterskap van Meyer en Treurnicht is toegelaat dat ’n “staatsgreep” op die AB uitgeoefen is weens hul halfhartigheid. Die AB het sy karakter verloor. Belangegroepe het die AB as nuttige kontakorganisasie misbruik. Polisieamptenare is sonder die gebruiklike sirkulasie van die persoon se naam en goedkeuring as lid van die organisasie ingeskryf. Vorster het van die standpunt uitgegaan dat die AB slegs bestaansreg onder die NP het. Die AB mag derhalwe nie onafhanklik wees soos in sy vroeër bestaan gekenmerk is nie.

Die sentrale komitee van die AB het in ’n stadium beswaar gemaak teen lede wat medebroers, sowel as sekere nasionalistiese koerantredakteurs, aanval. ’n Gesplete persoonlikheid was aan die ontwikkel. Dr Meyer het in ’n stadium gesê “’n ding click of dit click nie. Met Verwoerd het dit geclick, maar nie met John Vorster nie”. Enkele dae hierna sê Andries Treurnicht: “Jy weet ek wil nie ophou glo dat die man nie ons man is nie. Des te meer onenigheid het in die NP en AB ontstaan en die vraag is gevra of die tweespalt in die NP en die AB oorbrug kon word? Tydens die Halfeeu Bondsfees probeer Meyer die verdeeldheid besweer. Van ’n klagskrif, dae later opgestel deur Afrikanernasionaliste in die AB, het niks van gekom nie.

 Meyer en Treurnicht keer rug op Afrikanernasionalisme

In September 1969 het Meyer en Treurnicht Vorster besoek. Vorster wou prontuit weet, indien die NP sou skeur, waar staan hulle. Meyer en Treurnicht het hul steun aan Vorster gegee. Vir die Hertzog-groep was dit ’n groot teleurstelling. Die AB het ’n totale stutorganisasie van Vorster se NP geword. Anders as in die dertig- en veertigerjare waar die AB neutraal gestaan het, het die AB nou met ’n uitskopaksie begin.

Tydens ’n AB-saamtrek, net voor die 1970-verkiesing het geplante Vorster-ondersteuners begin skreeu dat Vorster moes praat, ’n aksie teen die dag se program en reglement. In Februarie 1970 was ’n herhaling hiervan tydens ’n druiwefees op die plaas van Hendrik Schoeman. ’n Groep AB-lede wat in die teenoorgestelde kamp was het ’n memorandum volgens artikel 88 van die reglement opgestel, waarin tugstappe teen Vorster aangevra is, waarvan niks gekom het nie. In die jaarverslag van die Bondsraad word erken dat die AB teen die HNP is. Tussen die sogenaamde onpartydigheid, soos vroeër deur Meyer uitgespel, en sy partydigheid nou, moes iets gebeur het. Die AB kon nie die druk weerstaan nie en het ’n totale mondstuk van die NP geword. Hierna word Treunicht aangewys as lid van die sportkomitee. Die UR besluit dat die sportbeleid in paaiemente aan die Broers bekend gemaak word, ten einde hul doel te bereik.

Aksies teen die Afrikanernasionaliste

Die UR het besef dat hulle nie net links en regs Broers kon uitskop nie. Die besluit is geneem om dr Hertzog en Jaap Marais uit te sonder en daardeur die skrik in die ander Afrikanernasionaliste te jaag met die hoop dat hulle deur hierdie taktiek hul “samewerking” sou gee. Belaglike en valse klagtes is teen die twee leiers geformuleer. Telkens is die onwaarhede in briefwisseling tot die frustrasie van die sekretariaat uitgewys. Die sekretariaat het tot die belaglike en paniekerige stap oorgegaan deur dr Hertzog en Jaap Marais van onbroederlike skrywes aan te kla. Teen Treurnicht, wat in 1972 aan ’n lasterklag skuldig bevind is, is nooit ’n vinger gelê nie.

’n Komitee bestaande uit J Jooste, AD Pont, G Beetge, WT Warais en PJ Malan is saamgestel om die UR te spreek. Die onderhoud is geweier. Hierna het die komitee die pad gevolg deur direk met ’n aantal Broers kontak te maak. ’n Groot aantal lede was geskok oor die sekretariaat se optrede, die kat was behoorlik in die hoenderhok. Hier is dr Hertzog, Jaap Marais en ander Broers uit die AB gesit.

In Oktober 1972 moes elke lid van die AB plegtig hul woord gee dat hulle geen “verbintenis of assosiasie” met die nuwe party sou hê nie. Hierdeur het verskeie lede hul verbintenis met die AB gestaak. Die eens Afrikaner-nasionalistiese beweging het nou die dinkskrum van die liberaliste en kommunistiese meelopers geword, vanwaar hulle blank Suid-Afrika aan die magte van die duisternis oorhandig het. Op die keper beskou kan met reg geargumenteer word dat die liberale werkswyse deur Vorster gevolg in die eens Afrikanernasionalistiese gedrewe Nasionale party, en Willie Marais se vernietiging van die Herstigte Nasionale Party dekades later, in ’n mindere of meerdere mate dieselfde pad van verliberalisering in die Afrikaner Broederbond gevolg is.

Liberale werkswyse telkens dieselfde

Met redelike sekerheid kan aangeneem word dat enkele Broers in die AB nie hierdie organisasie se geloofwaardigheid in twyfel wou of kon trek nie, na wat die Afrikaner Broederbond vir die Afrikaner gedoen het, terwyl die oorgrote meerderheid slap in die knieë geword het. Weens lamsakkig- en papbroekigheid het hulle hul laat meesleur deur die liberaliste en verraaiers wat die georganiseerde geldmag gesterk het in hul kwaad, waardeur die geldmag verryk is omdat hierdie liberaliste toegesien het hoe die Afrikaner Broederbond des te meer ’n sleutelrol gespeel het in die verraad teen die witman van Suid-Afrika.

Bronnelys

Vorster se 1 000 dae, BM Schoeman, 1974.

Die era van Verwoerd, JA Marais, 1994.

Die Afrikaner Broederbond, AN Pelzer, 1979.

The Super Afrikaners, Ivor Wilkins & Hans Strydom, 1978.