ANB Nuusbrief – Waarom wil die britte nie om verskoning vra vir die Afrikanervolk nie?

Mnr JA Marias
1 Februarie 1999
-Die britse koningin vra om verskoning aan ‘n Maorivolk in Nieu Zeeland vir ‘n oorlog van 150 jaar gelede. Maar sy weier om die Boerevolk om verskoning te vra vir die britse gruweldade van 100 jaar gelede.
-Mnr. Tony Blair, britse Eerste Minister, vra verskoning aan die Ierse volk vir britse versuim 150 jaar gelede tydens die aartappelhongersnood van 1845 – 49. Maar mnr. Blair weier om die Afrikaners om verskoning te vra vir die dood en verwoesting wat die britte 100 jaar gelede in die 2de Vryheidsoorlog in Suid-Afrika gesaai het.
-Daarby vra mnr. Blair (aan wie ook al) om verskoning vir die hoë britse belastings op Amerikaanse kolonies, wat 225 jaar gelede gelei het tot die Amerikaanse Vryheidsoorlog. Maar vir die dood van duisende kindertjies in britse Konsentrasiekampe 100 jaar gelede wil mnr. Blair nie om verskoning vra nie.
-En die britte eis self van die Japanners verskoning vir die behandeling van britse krygsgevangenes in die Tweede Wêreldoorlog meer as 50 jaar gelede. Dog, die britte weier om vir hul oorlogsmisdade teen die Afrikaners om verskoning te vra.
Waarom dié ongerymdhede? Dit is ‘n uiters belangrike vraag. Waarom vra die britse owerheid verskoning aan ander vir mindere gruwels, maar vir die Afrikaners wil hulle nie om verskoning vra nie?
Watter verskuilde rede het die britte vir hierdie opsigtelike teenstrydigheid? Waarom behandel hulle die Afrikaners anders as alle ander volke en nasies met wie hulle gebots het?
Die britte wil die Boere nie vergewe nie
Daar is waarskynlik meer as een rede. Maar een is dat die Boerekommando’s die britse militêre aansien ‘n vernederende knou toegedien het in die 2de Vryheidsoorlog. Hulle het gedink die oorlog sou binne drie maande verby gewees het, maar dit het amper drie jaar geduur en die grootste britse militêre monstering vereis wat tot op daardie stadium in die geskiedenis saamgetrek is. Die britte wil die Boere nie vergewe nie.
‘n Tweede rede is dat, soos Alfred Milner ná die vrede gesê het, “The South African struggle continues” — die stryd duur voort. Daaraan het hy toegevoeg: “It is no longer war with bullets, but it is war still”. As van britse kant die oorlog (sonder koeëls) voortgesit word, sal die britte natuurlik nie verskoning vir hulle wandade wil vra nie. Is dit die verklaring vir hulle weiering?
Milner is lankal dood, maar vyf jaar gelede het ‘n voormalige britse Minister, Lord Deedes, verklaar dat, ná die verkiesingsoorwinning van die Afrikaners in 1948, die britse Departement van Buitelandse Sake “op die voorpunt was van die geveg teen die Nasionale Regering”. Dit beteken dat die britse regering in ‘n geveg teen die regering van Suid-Afrika was — ‘n voortsetting van die “Boer War”.
Hoe is dié geveg gevoer? “Die Engelse koerante in die wêreld”, het mnr Paul Sauer, ‘n voormalige Suid-Afrikaanse Kabinetslid, in 1960 gesê, “saai gif teen Suid-Afrika. En dieselfde geld vir die BBC”. Daaraan het hy toegevoeg: “Wat vandag uit brittanje kom is niks minders as ‘n haatgesang teen Suid-Afrika nie”. Só is Milner se oorlog teen die Afrikaners voortgesit. En die britte wil blykbaar nie die Afrikaners om verskoning vra terwyl dié oorlog nog deur hulle voortgesit word nie.
Die Daily Express van Londen se internasionale uitgawe van 23-29 Maart 1994 het in kleur op die voorblad die volgende smerige beswaddering van Afrikaners gehad:
“The Boers are largely stupid. They are gross, foul-mouthed and bloated with arrogance. They are propably the most unattractive breed on earth.”
Dit is haatspraak, smeerjoernalistiek, wat net in verband met ‘n vyand gebruik word teen wie jy in ‘n oorlog is en wat jy wil voorstel as iets waarsonder die wêreld beter sal wees. Natuurlik gee dit te kenne dat britte nie ‘n volk om verskoning hoef te vra wat in sulke veragtende terme deur britte voorgestel word nie. So word die oolog sonder koeëls geveg.
Hierdie beswaddering is net ‘n weerklank uit die vorige eeu toe die historikus J.A. Froude geskryf het: “The Boers had been so systematically abused and misrepresented that the english scarcely regarded them as human beings to whom they owed any moral consideration”.
Dit is die werklikheid waarmee Afrikaners steeds te maak het. En dit verklaar waarom britte bereid is om verskoning te vra vir Maori’s en Iere en Amerikaners, en self verskoning eis van Japanners. Maar die Afrikaners wil die britte nie om verskoning vra nie vir die barbaarse gruweldade van Kitchener se leër, wat veel erger is as dié wat britte elders gepleeg het en waarvoor hulle wel om verskoning vra: “The South African strugle continues”. En die doel is, soos Milner ook gesê het: “We must knock the bottom out of the Afrikaner nation for ever and ever and ever. Amen.”
Die britse optrede is dubbelslagtig.
Hierdie weiering van die britse owerheid om, reëlreg in stryd met sy ander optrede, die Afrikaners om verskoning te vra, toon hoe ernstig dié saak is. Geen volk of staat sal só flagrant sy eie openbare betuiging van spyt in een geval loënstraf deur te weier om verskoning te vra in ‘n soortgelyke ander geval nie. Daar moet gewigtige oorwegings aan britse kant wees vir hierdie diskriminasie teen Afrikaners, soos hierbo aangedui. Geen ander rede as Boerehaat is die verklaring vir dié vyandigheid teen Afrikaners nie.
Hoe meer die britte vasskop teen verskoning vra, hoe meer geleentheid sal dit egter gee om die britse gruweldade weer wêreldwyd oop te vlek en Afrikaners te laat besef: die engelse oorlog teen die Afrikaner duur voort. Die saak van die Afrikaners is vyfvoudig versterk deur die britte self weens die verskonings wat hulle reeds aan die ander gevra het en tegelyk ook van ander geëis het.
Die Afrikanervolk se eer vereis dus dat Afrikaners by die britte aandring op verskoning vir die barbaarse britse metodes waarmee die Boere beveg is, soos genl. Jan Smuts daaroor geskryf het: “Die ongehoorde wreedheid en barbaarsheid… Die hoon, die smaad en veragting, die barbaarse ruheid waarmee die onskuldige vroue behandel is… Die hele land is tot die wortel verwoes en verniel… Die oorlog ontaard geleidelik in ‘n poging om die Afrikanervolk uit te delg”.
Die Afrikanervolk het dieselfde, indien nie ‘n groter, reg as ander instansies om van die britse verskoning te kry vir die gruweldade van Kitchener se leër wat alle reëls van beskawing geskend en ‘n skandvlek op die geskiedenis van die mensdom gelaat het.
…………………………………………….
Oorgetik uit: Afspraak met die toekoms, Die stem van Jaap Marias en Afrikanernasionalisme; saamgestel deur LW Bienedell; 2001.
Hierdie beriggie is onlangs op die ANB se gesiggieblad geplaas maar binne 24 uur is dit deur “facebook” se “beleidspolisie” geblok en as “haatspraak” bevind!  Hieruit kan u duidelik sien dat die stryd voortduur omdat die Afrikaner se vyande ons steeds wil vernietig. Die ANB is voluit in daardie stryd. Voeg u ondersteuning by die van u mede-Afrikaners en sluit nou aan by die ANB. Volg die skakel om aansoek te doen.