ENGELS, ENGELS ALLES… AFRIKAANS!

Gepubliseer ANB Nuusbrief April 2006

Tans is daar ongeveer 5 000 moedertale op aarde. Van hulle sal meer as die helfte teen 2100 nie meer gepraat word nie. Afrikaans hoef nie een van die tale te wees wat uitsterf nie, skryf MARISA HAASBROEK.

Nog nooit in die geskiedenis was daar ‘n taal wat deur so baie mense op so baie plekke gepraat word as tans met Engels nie. In 1936 was daar 174 miljoen mense wat Engels as moedertaal gehad het en 20 miljoen mense wat Engels as tweede taal gebruik het. In 1986 het 300 miljoen mense Engels as moedertaal gebruik en 400 miljoen as tweede taal. Teen 1997 het die syfer gestyg tot 350 miljoen mense met Engels as moedertaal en 700 miljoen met Engels as tweede taal. Daarby kon 1800 miljoen mense hulself op ‘n manier met Engels oor die weg help.

Engels is ongetwyfeld tans die taal van die diplomasie. ‘n Waarnemer was byvoorbeeld in 1991 tydens ‘n politieke konferensie in die Balkan, geskok toe omtrent al die deelnemers, wat Russies goed magtig was, verkies het om in gebroke Engels met mekaar te praat. Daardie lande sien Rusland as ‘n onderdrukker en Engels is dus meer neutraal vir hulle, maar die groter gebruik van Engels bly nietemin ‘n wêreldwye neiging. Soos in die Europese Unie met sy ses amptelike tale en al, word Engels tans meer gebruik as Frans of Duits.

In die lugvaartbedryf praat almal Engels. Is daar in ‘n land twee amptelike kennisgewings, is een waarskynlik in Engels. Daar word baie meer Engelse koerante en tydskrifte gepubliseer as in enige ander taal. Engels is die taal van die Internet en van die meeste flieks en TV uitsendings. ‘n Mens hoor Engelse woorde in ‘n Duitse nuusbulletin, in ‘n Franse sportverslag, in gesprekke tussen Zoeloe en Afrikaanse tieners. Belangriker nog, as twee mense verskillende tale praat, praat hulle meestal Engels met mekaar, synde in die gange van die VN of in ‘n rekenaarwinkel in Singapoer. Ek het al, tot my spyt, Engels met Nederlanders gepraat!

Nooit het ek kon dink dat ek met iets wat Mahatma Ghandi gesê het, sou saamstem nie, maar ‘n mens is lus om saam met hom te weeklaag: “… people seem to be drunk with the wine of English and they speak English in their clubs, in their home and everywhere. They are denationalized.” Die feit dat hy dié uitspraak in 1946 in Engels gemaak het, maak dit juis meer ironies.

Daar is tale in die wêreld met meer moedertaalsprekers as Engels. Chinees het 700 miljoen van hulle en Hindi (van Indië) ook 350 miljoen, maar hierdie tale word in ‘n enkele, goedbegrensde gebied gepraat en is nie sulke wêreldwye tale soos Engels nie.

Tydens die Romeinse Ryk het tale ook teen so ‘n duiselingwekkende tempo soos vandag tot niet gegaan. Kyk ‘n mens na ‘n kaart van die grondgebied waaroor die Romeine teen 100 vC die septer geswaai het, was daar ongeveer sestig tale in gebruik. Vyfhonderd jaar later het net tien tale in hierdie gebied oorgebly. Die sterkste twee was Latyn en Grieks. Die linguïs, Andrew Dalby se beskrywing van hoe ‘n tipiese nieLatyns-sprekende gesin in daardie dae sou redeneer, verduidelik goed wat die dinamiek van so ‘n taalverplasing is.

Sprekers van minderheidstale wat hulself binne ‘n groter gemeenskap en ekonomie bevind het, kon besluit het dat hulle niks met die nuwe taal te make wou hê nie. Maar dan het hulle hul afgesny van ‘n moontlike inkomste. Baie gou sou hulle besef het dat handel en beroepsmoontlikhede in Latyn meer was. Hulle kon dus besluit het om Latyn net te praat as dit noodsaaklik was. Mettertyd sou hulle Latyn egter goed kon praat. Spoedig sou so ‘n gesin moes kies watter taal hulle hul kinders sou leer. Hulle kon daarop aandring dat die kinders net hulle moedertaal praat. Maar hulle sou aan hulself moes erken dat daar meer geleenthede vir hul kinders sal wees as hulle Latyn goed kon praat en sou die kinders dan Latyn begin leer. Die kinders sou dan min of meer tweetalig groot word. Hulle sou die ou taal meer by die huis en in die buurt hoor en Latyn in die handel en by die werk.

In die Romeise Ryk is beweeglikheid aangemoedig en die kans dat ‘n volgende geslag met iemand trou wat ‘n ander moedertaal praat, was groter. As hulle self ouers in so ‘n gemengde huwelik word, sou hulle doelbewus moes besluit in watter taal hulle die kinders gaan grootmaak. Latyn sou al hoe meer na die logiese keuse lyk.

Soos wat die klem met elke volgende geslag al hoe meer op Latyn val, word die motivering om die ou, plaaslike taal enigsins aan te leer, al hoe kleiner. En mettertyd verdwyn die ou taal heeltemal. Soos in die geval van Latyn destyds, praat meer mense Engels, omdat Engels tans die voertuig na groter welvaart is.

Koning Kamehamela IV van Hawaii wat in 1855 die volgende gesê het, som die huidige beskouing oor Engels goed op: “… it is my firm conviction that unless my subjects become educated in this tongue (Engels), their hope of intellectual progress, and of meeting the foreigners on terms of equality, is a vain one.”

Met hierdie uitspraak het die koning in wese die doodvonnis van Hawaiis geteken. In 1870 het Engels in Hawaii die taal van alle wetgewing geword, in 1893 is die monargie omvergewerp deur ‘n gesamentlike poging van buitelandse sakemanne. Kort daarna het Amerika Hawaii geannekseer. Al het die Hawaiiers hul taal en kultuur opgeoffer, omdat hulle Engels as ‘n hoër-status taal gesien het, het dit hulle niks gebaat nie. Vandag is hulle ‘n minderheid in hul eie land en bevind hulle hulself meestal in lae-status-poste wat swak betaal.

Veeltaligheid is sommer ‘n oorlas en hoe gouer almal Engels praat hoe beter, meen baie mense. Die meeste van hulle is interessant genoeg Engelssprekend. Hulle is verkeerd. Soveel tale as moontlik moet bewaar bly. Dis dalk die maklikste om dit met behulp van die ekologie-beeld van biodiversiteit te verduidelik: as die genepoel van ‘n spesie te klein raak, raak die spesie kwesbaar vir siektes. Dis presies dieselfde met tale.

Talle linguïste is van mening dat elke taal in die wêreld ‘n unieke denkstelsel het, unieke kennis het en dus ‘n unieke bydrae maak tot die menslike ervaring. Gestel daar steek oor ‘n eeu weer ‘n geestelike gogga, iets soos kommunisme, sy kop uit en daar is net twee tale in die wêreld oor. Van waar af gaan die verset kom teen die dwang op denkvryheid as die hele mensdom op presies dieselfde manier dink?

‘n Sprekende voorbeeld van hoe kennis in ‘n spesifieke taal ingebed is, kom uit die taal Noord-Fries, wat tans ‘n minderheidstaal is wat net op die eilande Föhr en Amrum noord van Duitsland gepraat word. In alle moderne Europese tale kry ons ‘n woord vir die pituïtêre klier (ook bekend as die harsingslymklier), wat gewoonlik óf ‘n Latynse óf ‘n Griekse oorsprong het. Sulke akademiese woorde dui gewoonlik daarop dat net mense soos dokters en ander anatomiekenners weet van die bestaan van dié klier. Dié klier is in die meeste diere maar omtrent so groot soos ‘n ertjie en boere en slagters sal dit gewoonlik nie oplet in skape, varke of beeste nie.

Maar die Noord-Frieslanders het ‘n gewone, en baie bekende naam vir dié klier. Hulle noem dit ‘n brajnkoop, ‘n breinknoop. Hoekom? Want Noord-Frieslanders is tradisioneel walvisjagters, wat die klier by dié dier gesien het. In walvisse is dit inderdaad baie meer opvallend en so groot soos ‘n lemoen. Noord-Fries gebruik selfs die woord in een van sy idiome, wat waarskynlik uit die walvisjagtyd kom. “Hi wiar so areg, at ham a brajnkoop baarst”, Hy was so kwaad dat sy harsingslymvlies gebars het. Die walvisjagters het opgelet dat ‘n walvis wat geslag is na ‘n lang en harde geveg met die jagters, bloeding in hierdie klier gehad het. Eers in die 1970’s het die Kanadese navorser Selye sy stresteorie bekend gemaak en deur sy navorsing bevind wat die Noord-Fries-landers al vir eeue weet — naamlik dat stress die pituïtêre klier beskadig.

Dink net, as meer mense Noord-Fries geleer het, kon ons dié kennis al lankal gehad het! ‘n Mens kan nie help om te wonder hoeveel kennis vervat is in daardie vyftig tale wat in die Romeinse Ryk tot niet is nie. Sou sprekers van hierdie tale dalk geweet het van ‘n geneesmiddel vir kanker of ‘n leidraad gehad het wat die wêreld met sy huidige energiekrisis kon help?

Die linguïs, Marianne Mithun is van mening dat as ‘n taal in die vergetelheid verdwyn, die intiemste aspekte van daardie kultuur ook kan verdwyn: maniere waarop daardie sprekers hulle ervarings tot woorde bring, hoe idees met mekaar in verband gebring word, hoe mense met mekaar in verhouding tree. Die meer bewuste aspekte van die taal is ook tot niet: tradisionele rituele, praattaal, mites, legendes en selfs humor. Baie keer sê mense dat as hulle ‘n ander taal praat, hulle ander dinge sê en selfs dink.

‘n Taal wat tot niet gaan, is ‘n verlies vir die hele mensdom, want dis ‘n verlies aan insig in ander mense se belewenis van die wêreld, sê Mithun. Andrew Dalby is van mening dat die mensdom hierdie wisselwerking van verskillende kennis- en denksisteme nodig om voortuitgang te verseker.

Ons aanvaar dus dat dit noodsaaklik is om tale te bewaar, maar my saak en verantwoordelikheid lê ten eerste by my eie moederaal. Hoe stuit ‘n mens die agteruitgang van Afrikaans? Wat doen jy as al hoe meer mense om jou verkies om hulle kinders eerder Engels te leer, omdat soos hulle net soos die burgers van die destydse Romeise Ryk sê: “Hoe anders gaan hulle eendag werk kry?

In die eerste plek moet ons die unieke bydrae van Afrikaans, soos enige ander taal, tot die mensdom se ervaring en kennis besef. Presies waar dit lê, sal slimmer mense as ek moet uitdink. Konkrete voorbeelde soos die Friese klier rakel ‘n mens helaas nie so maklik op nie. Ek voel tog aan dat Afrikaans ‘n verbondenheid met die landskap het, wat dalk uitsonderlik is. Ek dink hier aan ‘n karakter in Ben Venter se roman Waterbobbejaan wat ‘n probleem “oopdink”. ‘n Mens sien amper die wye Afrika ruimtes in die man se kop as hy tot ‘n oplossing kom. So-iets kom meermale in ons letterkunde voor.

alreeds in 1683 het Leibniz gesê dat taal en nasie saam floreer. Nasionaliste redeneer immers só: ek behoort tot hierdie groep mense omdat ek gene, geskiedenis en geloof met hulle deel. Daarom praat ek die taal van my groep, is ek lief vir en trots op my taal. Vir so iemand is dit baie moeiliker om sy taal prys te gee, as vir iemand wat aan homself dink as ‘n blote indiwidu in ‘n see van mense.

wat aan homself dink as ‘n blote indiwidu in ‘n see van mense. Fichte het gesê dat ‘n taal ‘n nasie se siel is. Hy het bygevoeg dat diegene wat dieselfde taal praat aan mekaar verbind is met onsigbare bande. Waar daar ‘n afsonderlike taal bestaan, bestaan daar ook ‘n afsonderlike nasie. Om Afrikaans (of enige ander taal) te bewaar, is dit belangrik om die taal se gebruiksvelde so wyd as moontlik te hou. Andrew Dalby sê dat as ‘n taal aan’t uitsterf is, sy woordeskat en grammatika al kleiner word. Wat gebeur is dat die sprekers van die taal dit nie langer voed nie.

die taal dit nie langer voed nie. CL Barber sê taal het veral ses gebruiksfunksies.

‘n Mens gebruik taal in die volgende funksies:

  • Om jou gevoelens mee uit te druk.
  • Om in te speel.
  • As ‘n instrument tot denke.
  • As ‘n manier om die bande tussen mense te versterk.
  • Om ander mense te beïnvloed en dus ook saam met ander mense te kan werk.
  • Omdat jy deel is van ‘n spesifieke groep mense, dit maak jou deel van ‘n taalgemeenskap.

Die taak van elke Afrikaner is om Afrikaans so dikwels as moontlik op al ses maniere te gebruik. Dink aan elke keer wat Afrikaans gebruik word in enige situasie as ‘n klein oorwinning, nog ‘n asemteug langer wat vir Afrikaans gewen word. Wanneer al daardie baie asemteue bymekaar kom, raak dit ‘n magtige wind. So kan ons, ons taal maar daarmee saam ons unieke uitkyk op die lewe, overgesetsynde ons identiteit behou.

Onthou gerus dat ook vir die magtige Engels die wiel kan draai. Wie praat immers vandag nog Latyn soos Julius Ceaser dit gepraat het? Met soveel tweedetaalsprekers wat Engels tans so geradbraak praat, gebeur dit dalk eerder vroeër as later.

BRONNE GEBRUIK:

  •  Language in danger, Andrew Dalby, Penguin Books, 2002, ISBN 0-140-29064-8
  • The story of language, CL Barber, Pan Books, 1972, ISBN 0-330-33048-9