ANB Nuusbrief 10 Januarie 2023 – Het Dr. Verwoerd ook kaders gehad?

deur Bertus Radford

rsa-vlag-naby

Van tyd tot tyd loods die liberaliste aanvalle, sou die Afrikaner Broederbond (AB) dan in sy vroeëre, veral die tydperk tydens Malan, Strydom en Verwoerd, ’n onreg teenoor die ander bevolkingsgroepe gepleeg het.

Met die aanvang van 2022 het Gwen Ngwenya, beleidshoof van die DA, ’n aanval op dr. Verwoerd geloods deur middel van ’n artikel in Rapport waarin sy beweer, Verwoerd het ook kaders aangestel. Hulle is net broeders genoem. Uit die aard van die saak is dit ’n ernstige aanvegting en behoort hierdie aanval van naderby beskou te word. Wat die ANC betref, besef die Afrikaner terdeë dat die ANC-kaders alles plunder, vernietig en hulself verryk.

Dit is egter na die AB waarna in diepte gedelf moet word. Ondersoek behoort ingestel te word wie en wat die Broederbond verteenwoordig het, en wat hul doelwit en oogmerke was tydens hul stigting.

Waar dit die ANC-kaders is wat hulself aan die mag vergryp, is dit die AB wat hulself op die kultuurakker geplaas het, en hul vrye tyd afgestaan het aan die opheffing van die armblanke-vraagstuk na die Tweede Vryheidsoorlog. Met die stigting van die AB op 5 Junie 1918 was dit dan ook in hierdie toestand waarin die Afrikaner homself bevind het. Die AB het nie net lede van die Nasionale Party as lede gehad nie, maar het uit Malaniete sowel as opposisie-lede en later ook Smelters bestaan.

Soos die jare verloop het, het die verhouding tussen die Nasionale Party en die AB veral na die sestigs nouer geword. Met kommunisme wat geblaas het in die nek van die Afrikaner het ’n hegter verhouding tussen dr. Verwoerd en die AB ontstaan. Tydens die termyn van dr. Verwoerd het die Broederbond dit weer duidelik uitgespel dat ’n AB-lid nooit voorrang sou kry om ’n posisie nie. Volksgenote in sekere poste is egter gereeld genooi om lid van die AB te word. Dit is manne wat hul beroep ernstig opgeneem het.

Daarom, onder dr. Verwoerd se besielende leiding, het hy die onmoontlike in enkele jare vermag. Die volk het soos nog nooit tevore agter ’n Eerste Minister gekonsolideer. Die Rivonia-bende is met groot sukses vasgetrek. Mandela se uitlating: “Onder kommunistiese beheer sal Suid-Afrika ’n land van melk en heuning wees”, toon vandag presies die teenoorgestelde. Die Engelstalige deel van die bevolking het dr. Verwoerd se beleid aanvaar. Die buiteland het groot vertroue getoon in ’n sterk en regverdige ekonomie. Die Progressiewe Party (PP), tans DA, se medestigter, Harry Oppenheimer, se uitlating dat dr. Verwoerd die bevolking se lewenstandaard kon handhaaf, was uit ’n onverwagse oord.

Dr. Verwoerd se sogenaamde kaders het die swart man ekonomies versterk. waarin hy ook uitstekend geslaag het. Die stedelike swart man is deur die bewysboekstelsel, wat die pasboek vervang het, beskerm teen uitlanders. Die Financial Mail het in 1968 gerapporteer dat die sestigerjare ’n ekonomiese wonderwerk is. Hierdie dinge het gebeur terwyl die Londense Financial Times in 1989 berig: “Die bydrae van die Afrikastate tot die wêreldekonomie is minder as 1%, en rente op buitelandse skuld is 95%”. Die oorwinning van dr. Verwoerd, wat betref die Suidwes-uitspraak, het verdere stukrag verleen.

Die moord op dr. Verwoerd het egter sy teenstanders uit ’n dilemma gered. Die Amerikaanse blad Time, wat bekend was dat hy dr. Verwoerd vyandiggesind is, het geskryf: “Suid-Afrika is midde-in ’n massiewe oplewing.

Beleggers van oor die wêreld het geld ingeploeg. Verwoerd roem dikwels daarop dat swartmense van Suid- Afrika beter daaraan toe is as elders op die kontinent. Ekonomies het hy gelyk.” Die suksesse van dr. Verwoerd en die geweldige oplewing wat dr. Verwoerd en sy sogenaamde kaders vir Suid-Afrika in sy geheel gebring het, in teenstelling met die ANC-kaders, is baie duidelik.

Ngwenya maak ook melding, na aanleiding van J.H.P. Serfontein se boek Brotherwood of Power, dat dr. Verwoerd homself as volg uitgedruk het ten opsigte van die AB per geleentheid: “Broeders, die Afrikaner Broederbond moet beheer kry op alles waarop hy sy hand kan lê, in elke sfeer van die lewe in Suid- Afrika. Lede moet mekaar help om bevordering te kry in die staatsdiens of enige ander werk met die oog daarop om belangrike administratiewe posisies in te palm”. Kan daar met sekerheid aangeneem word dat die aanhaling korrek vertaal is, want Ngwenya dui aan dat die aanhaling vertaal is na Afrikaans? Die Afrikanervolk is bewus
van Serfontein, een van die grootste jingo’s wat die volk opgelewer het, en ook skrywer van Die verkrampte aanslag, se diepgewortelde haat jeens Afrikanernasionalisme. Maar sou die aanhaling wel korrek wees, dan het dr. Verwoerd reeds in daardie stadium besef wat vir die Afrikanervolk voorlê, indien genoemde instansies nie deur die Afrikaner Broederbond beheer sou wees nie.

Die opkomende kommunistiese gevaar het dr. Verwoerd verder genoop tot hierdie standpunt, sou hy dit gesê het. Dr. Verwoerd het heel waarskynlik besef om die kommunisme te beveg, moes hy van die handskoene ontslae raak. Vandag aanskou die Afrikaner die gevaar wat deur dr. Verwoerd uitgewys is. Hy het geweet dat die AB die beheersentrum behoort te wees van daardie kosbaarhede waarsonder ’n Chistelike Nasionalistiese volk nie durf klaarkom nie. Die Afrikaner se stoflike en geestesgoedere was op die spel.

Om ’n duideliker beeld van die AB te verkry is dit goed om terug te beweeg na die stigting van die AB. Na hewige konflik tydens ’n openbare vergadering in 1918 tussen Afrikaners aan die een kant en Engelse en Smuts-ondersteuners aan die ander kant, het drie manne, H. van der Merwe, Henning Klopper en D.H.C. du Plessis, bymekaar gekom. ’n Besluit is geneem om ’n organisasie op die been te bring, waar reggeaarde Afrikaners bymekaar sou kom om die belange van die Afrikaner te beskerm. Hierdie organisasie is op 5 Junie
1918 gestig met veertien verteenwoordigers. Die naam Afrikaner Broederbond is egter formeel aangeneem tydens die 2 Julie 1918-vergadering.

Die doel van die AB was om die Afrikaner in ’n hegte eenheid saam te smee, en daarmee tesame die inskerping en liefde vir die Afrikaner se taal, tradisies, geskiedenis, land en volk aan te wakker. Die handhawing en uitbouing van Christelike beginsels was die grondslag waarop die AB berus het. In 1923 het die voorsitter van die Uitvoerende Raad (UR) gesê: “Die Bond wil die hart van Afrikaners saamsmelt en saambou. Ons gaan die volk een maak. Ons moet die toonbeeld van alle deug wees, rein, manlik, getrou.” Gedurende 1962 is ’n vermanende omsendbrief aan die lede gerig en lui as volg: “Mag ons vra dat elke broer sal bedink dat die AB ’n diensorganisasie is, en nie ’n belange-organisasie nie.

Elke broer het in die AB gekom om te gee, nie om te ontvang nie. Om te dien, nie om gedien te word nie.” Reg van die stigting van die AB het die broers besef dat hier ’n organisasie is wat homself onderskei van die alledaagse organisasies. Hulle kon aanvoel deur die regte resultate te kon verkry, moes hulle sake reg aanpak. Daarom is die manifes as volg saamgevat: “Al die voortreflike volke het manifeste of lodges wat soek om die volksiel te bewaar en ons hoop om
die Broederbond te maak tot die samebindende krag wat die sandkorrels van ons volk  onafskeidbaar bymekaar sal heg. Ons lodge moet ’n groot liggaam word waar al die kragte na samewerking verlang, saam ingespan, en gebruik sal word sodat die meeste vrugte vir ons volk sal afgewerp word met die minste verspilling van kragte.”

Dat die AB in ’n mindere of meerdere mate ’n vertroulike organisasie was, is inderdaad so, en baie goeie redes kan vir sodanige besluit aangevoer word. In die eerste plek moes die werk van die lid beskerm word, veral waar die Afrikanernasionalis geteiken was in hul werksomstandighede. Daar was ook medevolksgenote wat net sulke deugsame Afrikaners was, en derhalwe het die gevoel ontstaan dat die Broederbondlid nie moes dink dat sy deugde groter was nie. Meer belangrik was die wete dat die Broederbondlid moes besef hy is ’n lid omdat hy moes dien, en nie gedien te word nie. En daardeur sou oorambisie en eiewaan uitgeskakel word. Deur in stilte te werk kom vaderlandsliefde en onbaatsugtige idealisme tot sy reg. Verder ontstaan daar ’n intieme verhouding tussen broers deurdat die besef daar is, die arbeidsaamheid om ’n groter saak as hulself. Niks misterieus was verbonde aan die vertroulike aard van die Bond nie.

Dit kan vergelyk word met ’n kabinet of kerkraad of goed geordende sakeonderneming voor hy tot die beslissing kom wat sy lede raak. Besluite is nie voortydig bekend gemaak en daardeur die teenparty op sy hoede te stel nie. ’n Gedagte vind eers plaas by ’n nouer kring en gaan van daar na die UR en word eers deeglik ondersoek voordat dit aan die Bondsraad voorgelê word, en van daar gaan die idee na die volk wanneer dit goedgekeur is. Die gedagte wat opbouend en vrugbaar is bly dus nooit vertroulik nie. Die vertroulikheid word aan die begin van ’n nuwe gedagterigting ingespan om ’n suksesvolle ontplooiing aan die volk te verseker.

Lidmaatskap het vereis dat ’n persoon Afrikaanssprekend, van Protestantse geloof, skoon van karakter en vas van beginsel is, ook in die handhawing van sy Afrikanerskap en Suid-Afrika as hul enigste vaderland aanneem. In die jaarverslag van 1930–31 is baie pertinent gesê: “Die bond het sy lede uitgesoek omdat hy slawe nodig het – swoegers in diens van die volk. Lede mog niks vir homself verdien uit die Bond. Lede se kragte en talente moet geheel en al onbaatsugtig gewy word aan die belange van die volk ooreenkomstig die gewete van ’n Christelike gewete en ’n onbreekbare karakter.”

Nadat Beyers Naude, AB lid, deur die organisasie ontman is as oneerlik en dat hy vertroulike inligting gegee het aan die vyand, het die Sunday Times die likwidering van die Bond geëis. Sir De Villiers Graaff het ’n ondersoek na die AB geëis wat deur die AB toegestaan is. Die kommissie het nie net tot die gevolgtrekking gekom dat die AB homself aan geen van die beskuldigings skuldig gemaak het nie, maar kon die kommissie in baie opsigte positiewe terugvoering gee wat die vyand op sy neus laat kyk het.

Met die stigting van die AB was daar geen uitgewerkte plan nie. Dit was ’n geval van doen wat die hand vind om te doen. Na 1920 het die AB meer planmatig te werk gegaan. Die eerste taak was om die Afrikaner teen verguising, vernedering en verdrukking te beskerm Die AB het hom daarop toegespits deur ’n samehorigheidsgevoel onder die Afrikaners te kweek, asook die handhawing en bevordering van Afrikaans in skole, in die openbare lewe en handelswêreld, en die bevordering van moedertaalonderrig en die letterkunde. Die hoogste prestasie wat hieruit gevloei het was die totstandkoming van die FAK in 1929. Hierdie kan beskryf word as die eerste fase van die AB.

Die tweede fase tot onmiddellike aansluiting hierby, strek tot ongeveer 1939, en val saam met die probleemsituasie van die Afrikanervolk, in daardie jare op maatskaplike, ekonomiese en politieke gebied. Dit word gekenmerk deur die leiding wat die AB geneem het, onder andere in die reëlings van die Kimberley Volkskongres in 1934 oor die armblanke vraagstuk, die skep van ’n eie Afrikaanse bank, Volkskas, die reël van die Ekonomiese Volkskongres in 1939 en die daaruitspruitende Reddingsdaadbond. Verder die stigting van die Ekonomiese en Handelsinstituut, die stigting van die Nasionale Instituut vir CNO, die Instituut vir Volkswelsyn, en die stigting van die Afrikaanse werkersorganisasie om die kommunistiese en ander denasionaliserende invloede in die werkerswêreld te bestry.

Die derde fase het begin met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog tot en met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948. Die AB het na 1939 beskermend opgetree wanneer die belange van die Afrikaner bedreig was. Tydens hierdie tyd moes die AB voorkom dat daar ’n blywende breuk onder die Afrikaner ontstaan. Die wyse waarop die Afrikaner in die oorlog betrek was, het by die volk die oortuiging laat ontstaan dat ’n Republiek onontbeerlik is en is in daardie rigting gewerk.

Die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 het ’n verdere fase in plek laat val. Dit was nou die taak om die verwarring wat tydens die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het, tot orde te roep. Die totstandkoming van ’n Republiek sou hierdie verwarring in ’n groot mate teenwerk. Die inwydingsfees van die Voortrekker Monument en die van die Van Riebeeckfees was deel van die AB se taak en roeping. Deur die AB het die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) tot stand gekom wat die nodige leiding gegee het wat rasseverhoudinge betref.

Die totstandkoming van die Republiek het ’n verdere fase ingelei. Waar die stryd tot hiertoe na binne was het die AB nou die buitelandse gevaar die hoof gebied. Die kommunistiese gevaar en hul toenemende aggressie was nou op die agenda van die AB. Die waarnemende voorsitter van die Bondsraad het hom in 1955 sterk uitgedruk: “Die stryd om die behoud en uitbouing van die toekoms van die blanke en nie-blanke in Suidelike Afrika is in wese ’n stryd om die verinniging en behoud van ons Protestants-Christelike geloof, ’n stryd om die behoud en versterking van die Afrikanervolk as die roepingsbewuste draer van die toekoms van Suid-Afrika as blywende
tuiste vir sy aparte blanke en nie-blanke volksgemeenskappe, ’n stryd om ons mede Engelssprekende van die Republiek by ons Afrikaanse toekomstaak in te skakel, ’n stryd om ons nie-blanke volksgroepe te beskerm teen die uitbuitende intimiderende roekelose opstokers wat met behulp van liberaliste en humaniste die oogmerke van die Kommuniste en daarmee die vernietiging van die toekoms van blank en nie-blank as selfrespekterende aparte gemeenskappe bevorder”. Die AB het die Afrikanergedagte na die Engelssprekendes uitgedra  en het ’n gekoesterde en beskawingsinvloed op Afrika uitgeoefen.

Die sukses van die AB het daarin gelê dat die stille invloed van sy lede die kragfaktor was, en dit het uit-gestraal na die Afrikanergemeenskap. ’n Biblioteek en Publisiteitskomitee is na die Eerste Wêreldoorlog in die lewe geroep en voorlesings is gereeld gedoen, asook referate wat gelewer is. Die AB kon nie alles doen nie en daarom is openbare arms gestig wat uit nie-lede bestaan het. Die AB het hom al meer laat geld, veral op die kultuurakker. Die jeugdige krag en ondernemingsgees het ingewerk op die aktiwiteite. Met die besef dat die Afrikaanse taal die draer is van die Afrikaanse gedagte, het die AB homself algaande meer toegelê op die Afrikaanse taal en die trots daarvan. Afrikaanse name moes teruggebring word en die taal moes suiwer gepraat word. Die taal is aangemoedig onder die Engelssprekendes en nie-blankes.

Dit was die AB wat verskeie kommersiële groepe gestriem het deurdat hierdie groepe die regering wou forseer om ’n televisiediens in 1955 in te bring. Nie net op geestelike gebied nie, maar ook op stoflike gebied het die AB sy gewig ingegooi. Hierdie organisasie het besef dat die volk sterk huisgesinne moes huisves. In 1941 het die UR hom beywer deur Afrikaanse invloed te vestig by die Kindersorgverenigings oor die land heen. In 1944 het die Bondsraad besluit dat die Afrikaner se gesinslewe gestimuleer moes word en is die Reddingsdaadbond en die FAK versoek om ’n studie van die vraagstuk te maak. Die AB het besef dat Afrikaner verarming ’n bederflike invloed op die Afrikaner sou uitoefen en daarom het hy alles in sy vermoë gedoen om dit hok te slaan.

Tydens die Bondsberaad van 1931 het die Bond in die hoogste rat gegaan deur die onreg wat gepleeg is deur die staatsdiens teenoor staatsdienswerkers, tot orde te roep. Dit was egter ’n moeilike taak vanweë die feit dat daar opgetree is teenoor werkers wat hul lot by die Bond bekla het. Deur hierdie probleem te oorkom het die Bond van die Volksraadslede gebruik gemaak wat ’n frontaanval in die parlement kon maak en sodoende hierdie verontregting aan die man kon bring. Die AB is dikwels daarvan beskuldig dat hy in die guns van die Afrikaner opgetree het. Dit is egter as ’n onwaarheid ontbloot. Die Bond het in guns van die Afrikaner opgetree waar die Afrikaner verontreg is, maar dit was nooit ten koste van die ander bevolkingsgroepe nie. Die Afrikaner kon stoflik en geestelik beter diens verrig, en het derhalwe die hande van die AB versterk om alle bevolkingsgroepe in die breë te kon dien.

In hierdie verband kan enkeles genoem word. Die AB het vir alle boere ingestaan deur voorrang vir hul produkte te verkry. Die AB het hul beywer vir ’n eie muntstelsel. Hy het toegetree tot grondbewaring en die daarstelling van landboubewegings. Die korrupte bestuur van stede en dorpe is aangespreek. Die AB het geywer vir ’n eie redery in samewerking met die Ekonomiese Instituut.

Ook het die AB sy hande uitgesteek oorgrens heen met die plasing van Hollandse kinders in Afrikanergesinne. Finansiële hulp is aan die Duits-Afrikaner Hulpvereniging verleen, waar ’n bedrag van R500 000 deur die DAH ingesamel is.
Die AB het ’n openbare arm benodig deur ’n groter getal taal- en kultuurbewuste Afrikaners byeen te bring deur reeds geïnspireerde taal en kultuur Afrikaners te gebruik, en daardeur vervlakking wat na 1920 plaasgevind het, aan te spreek. Die Helpmekaar-vereniging is in die lewe geroep. Kort hierna is die FAK gestig met die opdrag om die Afrikaner se taal en kultuur te bevorder. Met die stigting van hierdie instansie was die wekroep: “Dit is ons kind en as ouers moet ons sorg dat hy gesond en behoorlik toegerus die wêreld ingaan om in lengte van dae sy heilsame invloed wyd en syd te laat geld”.

Op die ekonomiese gebied het die AB nie agterweë gebly nie, maar het hy ook wat dit betref, sy deel gedoen in die opheffing van die volk. ’n Fonds is geskep vir minderbevoorregte Afrikaners. Afrikanerbesighede is gehelp en daar is op verskillende vlakke met sakemanne saamgewerk vir die nodige stukrag. Afrikaanse seuns en dogters is van beurse voorsien vir hul studies. In 1937 het die Volkskas Bank tot stand gekom as gevolg van aaneenlopende ywer aan die kant van die AB. Verder het die Bond hom beywer vir volkswinkels. Die Reddingsdaadbond word in 1940 gestig as nog ’n openbare arm van die AB. Groot fondse spruit hieruit. Tientalle sakemanne word hierdeur gehelp en op die been gebring. Jong mense word ook hier met beurse bygestaan en in geskikte werke geplaas. Tydens die sitting van die Ekonomiese Volkskongres in Augustus 1942 word die Afrikaanse Handelsinstutuut uit die AB gebore. Die uitbuiting van die Afrikanerwerker deur groot kapitalistiese maatskappye word teengewerk. Die groot kapitaalmagte word ook uitgewys en daarteen georganiseer.

Op die onderwysgebied het die AB ook sy insette gelewer. Die daarstelling van moedertaalonderrig is deurentyd gepropageer. Die AB het voortdurend insae in onderwysbesluite gelewer. Die UR het in Oktober 1938 eendragtig besluit dat die Christelik-Nasionale lewens- en wêreldbeskouing die grondslag vir opvoeding behoort te wees. Die AB lê die weg vir verskillende beroepsrigtings. Die organisasie het sy volle gewig agter die Afrikaanse universiteite ingegooi en hierdie instansies ook finansieel bevorder. Die indringing van nie-Christelike en nie-Afrikaanse dokters by Afrikaner huisgesinne is teengewerk.

Wat betref die jeug het die AB verskillende jeugbewegings op die been gebring of bystand verleen met die stigting van jeugbewegings, waarvan die Voortrekkerbeweging in 1931 een was. In dieselfde jaar wat die Voortrekkerbeweging gestig is, het die AB ook aan studente aandag gegee deur die stigting van ANS wat bewerkstellig is deur middel van die Afrikaanse Studente Bond (ASB). Die doel hiervan was uitsluitlik om die studente te onttrek van die verderflike invloed wat NUSAS op die studente uitgeoefen het. Die vertroulike jeug-organisasie Ruiterwag het deur die toedoen van die Bond in 1955 tot stand gekom. Die FAK orkestreer in 1963 die Nasionale Jeugraad wat koördinerend tussen jeugorganisasies sou optree.

Met die besef dat die Afrikaner veranker is in die boereplaas en boerdery het die AB baie aandag geskenk aan boerdery. Die AB het verskillende openbare arms ingespan om boere behulpsaam te wees. Verskillende skemas is tot die beskikking van die boeregemeenskap gestel. Die boer is aangemoedig om by landbou-organisasies en unies aan te sluit wat tot voordeel van die boer sou strek.

Ook het die AB hom ten doel gestel om na die belange van die Afrikanerwerker om te sien, veral waar die Afrikanerwerker aan onsimpatieke werkgewers uitgelewer was. Die Blanke Werkers-Beskermingsbond is in 1944 gestig en die AB het onmiddellik sy hulp aangebied en die bedrag van R400 000 aan hierdie organisasie, wat die blanke o. a. beskerm het teen kommunistiese invloed, aangebied. In 1947 het die AB duisende mynwerkers te hulp gesnel vir noodsaaklike lewensmiddele. Die meriete van die mynwerker se griewe is gedeel. ’n Aksie komitee is in die lewe geroep wat die openbare steun in guns van die stakers aangemoedig het. Verskeie werkerorganisasies en unies, onder andere die Gemeenskap Volk en Arbeid, is gestig om toe te sien na die stoflike en geestesgoedere van die Afrikaner, asook sy taal en tradisies.

Met die aanvang van 1962, wat betref die nie-blanke aangeleentheid, was die uitgangspunt as volg: “Die algemene benadering van die taakgroep is dat dit nie gaan oor die formulering van beleid as sodanig nie, maar om weë te vind waarlangs aanvaarde beleid kragdadig en doelgerig uitgevoer kon word.” Die AB was ’n voorstander van massa segregasie en het ook die tuisland-beleid bepleit en selfs in ’n mate die planne uiteengesit. Die AB het swart universiteite in die vooruitsig gestel. Swart onderwys moes ook in gesonde kanale gelei word. Moedertaalonderrig is deurgaans bepleit en daarnaas een van die amptelike ampstale.

Hierdie organisasie het ’n swart nuusblad in die vooruitsig gestel, aangesien die Engelstalige koerante nie ’n gesonde gees teenoor die Afrikaner openbaar het nie. ’n Kort ruk daarna het die swart jeugblad Motswalla wa Bana te Bloemfontein die lig gesien wat die goedkeuring van die AB weggedra het. In 1948 is die Randse Onderlinge Hulp Organisasie (ROHO) op die been gebring wat alle liggame byeen gebring het. Die ROHO het die medewerking van die nie-blankes gesoek om ongewenste invloed teen te werk. ’n Komitee is in die lewe geroep wat hom op die
welsyn, ekonomiese en sosiale aangeleenthede toegespits het. ’n Goeie verhouding tussen wit en swart het hieruit gespruit en kommunisme kon doeltreffend teengewerk word. Terwyl SABRA hul met die formulering van beleid en andersyds praktiese aspekte van die swart vraagstuk besig gehou het, was dit die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns waarin die AB ’n aandeel gehad het met sy stigting en wat tot die stigting van die Afrika-Instituut oorgegaan het, wat gebeurtenisse in Afrika bestudeer het.
Wat betref die AB se houding aangaande die politiek was hul stand en uitgangspunt baie duidelik. Tydens die stigtingsvergadering van die AB was die besluit baie duidelik dat die AB nie politieke partye aanhang nie, maar “non-politiek” is. Tydens die tweede AB vergadering op 18 Julie 1918 is ’n konstitusie aangeneem waarvan art. 16 as volg lui: “Die vereniging is beslis non-politiek en dit word dus verwag dat politiek buite ons werksaamhede en vergaderings gehou sal word.” In artikel 9 daarvan word die verhouding van die Bond tot die politiek duidelik en onomwonde in die volgende woorde gestel: “In verband met die werksaamhede kan die vergadering enige volks vraagstuk of geskiedkundige punt bespreek met die doel om op onpartydige wyse uit te vind wat die beste is vir die sedelike, intellektuele, maatskaplike en staatkundige vooruitgang van ons volk. G’n spreker mag dus optree as propagandis vir een of ander bestaande politieke party, of party-politiek as sodanig nie. Die voorsitter sal streng let op hierdie bepaling”. Die AB het baie beslis opgetree rondom hierdie beginsel.

So sterk dat nadat die Nasionale Party in 1948 gewen het, die besluit geneem is dat geen Kabinetsminister op die UR mog dien nie. (Let wel, die uitgangspunt was nog altyd dat leiers AB lede mag word, maar AB lede is nie as leiers gestoot nie. ) Lede was vry om buite die AB hul politieke bedrywighede voort te sit. Dit is waar dat die AB en die Nasionale Party die hoogste belange van die volk nagestreef het. Hulle het dit egter onafhanklik van mekaar gedoen sonder om in konflik te verkeer. Gesprekke tussen die AB en Eerste Ministers het gereeld plaasgevind. Die AB het bv. onafhanklik geywer vir ’n Republiek en ook die bevegting van Kommunisme.

Ten opsigte van die identifisering van kommunisme het die AB ook die voortou geneem deur die Afrikaner te waarsku teen kommunisme. Na 1960 het die AB op ’n meer konstruktiewe en aanvallende wyse te werk gegaan. In 1943 is ’n studie van kommunisme gemaak. Verskillende instansies het hierby betrokke geraak. Na 1963 het die AB en die regering tot die besef gekom dat hierdie draak, die maaksel van die georganiseerde en internasionale geldmag, deurgedring tot “binne die AB deur Afrikaanse predikante, binne ons Afrikaanse kerke, deur nasionaliste, binne ons eie Nasionale party”. ’n Kongres wat gehandel het oor die insypelingsmetode van kommunisme is van 1–2 April gehou. Die tema was die Christendom teen die kommunisme. Die Nasionale Raad teen kommunisme is in die lewe geroep. In Oktober het die Nasionale Raad ’n internasionale simposium oor kommunisme gehou met kenners oor die wêreld heen. Hierdie Raad het in 1970 tot ’n einde gekom en daar kan met redelike sekerheid aangeneem word dat John Vorster en sy agterryers ’n hand daarin gehad het.

Die AB het geywer om ten alle tye volkseenheid te bewerkstellig. AB-lede het bestaan uit meer as net een party se lede of groepe se aanhangers en lede. Tydens die smelterjare het die Bond die wekroep laat uitgaan om alle reggeaarde Afrikaners bymekaar te bring. Die oorkoepelende volksaak het by die AB voorrang geniet. Die opheffing van die Afrikaner en die kultuuropdrag was die hoogste prioriteit. In die binnekring van die AB mog hulle mekaar nie aanval nie, alhoewel elke lid sy politieke gevoel daarnaas kon uitleef in sy betrokke party.

Gedurende die Eeufeesviering in 1938 het volkseenheid geseëvier. Die Tweede Wêreldoorlog het die nuutgevonde volkseenheid bekragtig. Met die stigting van die Ossewabrandwag was daar weer woelinge. Hierdie periode is egter beëindig met die bymekaarkom van dr. Malan en Klasie Havenga en het tot eenheid uitgeloop.

In 1967 wyk die AB egter af van sy nasionalistiese uitgangspunt en sê sy steun toe aan John Vorster se Nasionale Party. Hierna volg ’n hakkejag op mnr. Jaap Marais, dr. Hertzog en ander Afrikanernasionaliste, as gevolg van hulle verset teen John Vorster se gemengde sport en integrasiebeleid. In Oktober 1969 gaan die Afrikanernasionaliste oor tot partystigting en kry die Herstigte Nasionale Party (HNP) sy ontstaan. Tydens die HNP-kongres van 1972 breek die HNP finaal met die Afrikaner Broederbond.

Met hierdie gegewens in hand, die besef dat die AB nie net ’n organisasie om die beywering vir die opheffing en beskerming van die Afrikaner was nie, maar ook die Afrikaner se Protestantse lewens- en wêreldbeskouing ernstig opgeneem het. Daar kan selfs verder gegaan word wanneer gelet word op die rol wat die AB gespeel het ten opsigte van die anderstaliges, maar ook ten opsigte van die swart en bruin bevolking. Dr. Verwoerd is wel in die laat vyftigs tot vroeë sestigs verkies tot die UR wat streng gesproke teen die reglement van die Bond was.
Dr. Verwoerd was in daardie stadium Eerste Minister en nie ’n kabinetsminister nie, kan seker geargumenteer word. Hierdie stap is egter genoodsaak weens die kommunistiese gevaar wat hand oor hand toegeneem het. Nie net vir die Afrikaner nie, maar ook vir die anderstalige en swart bevolking het dit gevaar ingehou, soos tans bewys.

Trouens, die ganse Christendom staan gevaar om verswelg en vernietig te word deur hierdie draak. Maar terwyl hierdie kwessie aangeraak word is dit goed, en ook noodsaaklik deur dieper te delf na hierdie beskuldiging van die DA. Voor die naamsverandering na die DA was die naam DP, en voor dit die PFP, maar aanvanklik die
Progressiewe Party (PP) met Helen Suzman, die oer-oumagrootjie van liberalisme, as leier en stigter van die party, tesame met Harry Oppenheimer en die georganiseerde geldmag, nadat die party in 1959 van die VP weggebreek het. Die georganiseerde geldmag het dus pa gestaan vir die ontstaan van die PP, oftewel die DA. Dit is ook vandag nie meer ’n geheim dat die Internasionale Geldmag agter die Nuwe Wêreldorde en kommunisme sit nie. Kommunisme is die aktiewe arm van hierdie godfather. En nou die DA, die party wie se slagspreuk “one man one vote” is en dus pa moet staan vir die ANC, gelaai met kommuniste, die maaksel waarvan die DA dan nou die opposisie is. Maar die geldmag het ook in ’n groot mate beheer uitgeoefen op die ekonomiese akker, in so ’n mate dat dr. Verwoerd in die middel sestigs die geldmag laat ondersoek het. Die taak is aan prof. Piet Hoek toegesê. Alvorens die verslag geïmplimenteer kon word, is dr. Verwoerd vermoor. Daar kan stellig aangeneem word dat die verslag een van die groot redes is waarom dr. Verwoerd uit die weg geruim moes word.

Wanneer dus geargumenteer word of dr. Verwoerd hom ook skuldig gemaak het aan kaderontplooiing, dan die besef dat die Christelike Afrikanernasionalisme se ingesteldheid van so ’n aard is dat kaderontplooiing teen die aard van Afrikanernasionalisme is. Dan sal hierdie mag nie meer Afrikanernasionalisme wees nie. Wat dr. Verwoerd tot stand gebring het was ’n vreedsame land op ’n brandende kontinent waar moord en oproere tot die absolute minimum beperk was. Selfs die buitelandse joernaliste het telkemale hul koppe geskud in ongeloof,
soos bv. Sophiatown se verskuiwing na ’n nuwe woongebied, met juigende en singende swartes in die strate. ’n Land wat voorspoed beleef het onder al sy inwoners. Die nuwe indiensnemingskoers was 73 persent! Tydens die John Vorster oorname en vergrype het die AB sy ware karakter verloor. Die nuwe AB het saam met die Vorster/Botha/De Klerk-bende en die Progge (DA) en ander groeperinge voorgehardloop deur die land aan ’n Swart Engelse Kommunistiese (SEK) regering te oorhandig. Hiervan is die geheime Broederbond-dokument wat in 1987 ’n een-mens-een-stem-verkiesing in die vooruitsig gestel het, die grootste bewys. Hierdie is maar een sprekende voorbeeld. Terwyl die name van Vorster, Botha, De Klerk en ander in skande opgaan, is die nagedagtenis van dr. Verwoerd rein en edel en was dit Jan Botha van die destydse PP, nou DA, wat die lofwaardige uitlating gemaak het dat dr. Verwoerd met sy afsterwe alreeds sy eie monument opgerig het. Dr. Verwoerd, ’n man wat nie kaders nodig gehad het soos die Liberaliste en Kommuniste nie, maar ’n man wat geweet het om reg te wees is om ’n mag te wees, soos sy vyande en die wêreld tot hul ontsteltenis sou uitvind. ’n Man wie se eerbaarheid, integriteit en idealisme die wêreld telkemale verstom het.

 

Bronne:

Die Afrikaner-Broederbond: Eerste 50 jaar – A.N. Pelzer

Die era van Verwoerd – Jaap Marais (in minder mate)