Waar is ons Ware Volksleiers?

Mens hoor so baie “As ons volk tog net wil saamstaan.” En met ‘n nog dieper sug: “Maar ag, daar is nie ‘n leier is Suid-Afrika nie…”!

Ons beleef in hierdie moeilike tyd ‘n ‘droogte’ wat betref ‘n ware Volksleier. En met al die verwarring wat opsetlik in ons geledere gesaai is die laaste 30 jaar, moet ons dalk net weer bietjie gaan kyk waaruit ‘n ware volksleier se karakter saamgestel is.

‘n Gesegde wat ook baie aangehaal word in die vraag oor waar die leiers van ons tyd is, is: “Moeilike tye veroorsaak sterk mans; sterk mans veroorsaak voorspoedige tye; voorspoedige tye veroorsaak swak mans; en swak mans veroorsaak moeilik tye.”

Maar soos Dr. Ferdinand Postma in sy boek ‘Paul Kruger, Christen-Volksman en -Staatsman’, tereg uitwys: “Groot manne (leiers) is geskenke wat die Here aan ‘n volk gee… Wie dus hierdie opvatting huldig, sal hom nooit kan vereenselwig met die gedagte wat so dikwels uitgespreek word dat groot manne maar produkte van hulle tyd is nie. Dit is ‘n onmoontlike opvatting. Mense wat maar net produkte van hulle tyd is, kan nooit leiers wees nie; produkmense word gelei, maar kan nie leiding gee nie…”

Maar wat is ‘n ware volksleier?

Kom ons begin eerder deur te besin oor wat ‘n ware Volksleier nie is nie, en daaruit sal dan ook vanself vloei wat ‘n ware Volksleier werklik is.

1. ‘n Volksleier verskyn nie “blitsvinnig en onverwags” op die toneel nie.

In die Geloftefees toespraak wat in Rapport van 17 Desember 1995 gepubliseer is verklaar mnr. Izak De Villiers onder meer: “…in veelbewoë tye van die Afrikanervolk”, lui dit, “het leiers op alle gebiede meermale blitsvinnig en onverwags op die toneel verskyn… Wie kan sê dit kan nie weer kan gebeur nie?” Hy vra: “Waar is die Vader Kestell, die genl Hertzog en die Paul Kruger?”

Die opvallendste van dié gedagtegang is dat hierdie leiersfigure juis nie “blitsvinnig en onverwags” op die toneel verskyn het nie. Hulle het almal tot leierskap uitgestyg deur langdurige betrokkenheid by die stryd wat aan hulle volk opgedwing was. Hulle hoedanighede is in en deur die stryd beproef. En langs dié weg is hulle leierskap geleidelik bevestig.

Hierdie proses van leiersvorming is herkenbaar by elkeen van die egte Afrikanerleiers. Naas dié hierbo genoem, is daar dr. DF Malan, adv. JG Strijdom, dr. HF Verwoerd: manne wat jarelank op die voorpunt en in die brandpunt van die stryd hulle staal getoon het. En voor hulle, pres. MT Steyn, genl. Christiaan de Wet, genl. Koos de la Rey, wat hulle as politieke en militêre leiers oor die loop van jare betoon het. En verder terug: Piet Retief, Andries Pretorius, Andries Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz.

Nie een van hulle het “blitsvinnig en onverwags” op die toneel verskyn nie. Hulle leierskap het gerus op die moed, die insig, die bedrewenheid, die toewyding, die volharding wat hulle aan die dag gelê het.

2. ‘n Ware volksleier soek nie eie eer nie.

Vry vertaal uit Nederlands-Afrikaans: “Daar was nog ‘n ander soort mens wat genl. Christiaan de Wet verafsku het… dit was dié manne wat van een plek na die ander ry en voorgee dat hulle vir land en volk veg, maar intussen nooit tydens die gevegte te siene was nie. Mens kon hulle altyd herken aan die hordes veelkleurige eretoekennings aan hul baadjies vasgespeld, wat deur onwetende meisies aan hulle geskenk is vir hul sogenaamde dapperhede. Die ware helde van die oorlog het hulle nie met sulke uiterlikhede opgehou nie. Ek het menigmaal gesien hoe genl. De Wet so ‘n eretoekenning, wat hy by ‘n bewonderaar ontvang het, later aan ‘n ander bewonderaar gee.”

Vir ‘n ware leier gaan dit om die saak. ‘n Ware volksleier veg voor; nie omdat hy fisies groot en sterk is nie, maar omdat hy so sterk voel oor die saak dat hy, selfs al is hy alleen oor, nog sal veg. Dat hy sy lewe sal gee, as dit daarop aankom. Sulke vasberadenheid spoor selfs die bangbroeke onder die volk aan tot heldhaftigheid.

3. ‘n Ware volksleier saai nie stories rond oor ander leiers nie.

As hy en die ander leier vir dieselfde saak stry, en op dieselfde beginsels staan, stry hulle saam. Sy aan sy, daar is nie ‘n getoutrekkery oor wie die leier is nie: elkeen het sy sterk en swak punte.

As hulle nie vir dieselfde saak stry nie, raak hy nogtans nie persoonlik en kraak die ander leier af nie. Want dit gaan nie vir hom oor die persoon nie, maar oor die saak.

Hy lug op Christelike wyse, die redes waarom hy voel dat die rigting wat hy inslaan, die regte rigting is. En hy vertrou dat die wat die waarheid moet hoor, deur die Here se genade, sal hoor en hom sal volg.

4. ‘n Ware volksleier is ‘n standvastige Godsman.

Dit beteken nie dat hy vinnig Bybelversies kan aanhaal nie of met die Bybel onder die arm rondloop nie; die belangrikste is hy moet so lewe dat almal kan sien hy is ‘n kind van God.

‘n Ware leier kry nie ‘n grootkop oor sy volgelinge se getal groei, of oor hy sukses behaal nie. Dit maak sy hart in nederigheid bly; hy weet dat dit nie maar net hy is wat so oulik en slim is om soveel volgelinge te kry nie. Hy dank die Here dat Hy soveel mense die waarheid laat hoor. Hy bid dat die Here hom, as leier, die krag sal skenk om die regte besluite te maak en dat Hy hom sal sterk maak om te kan staande bly teen die aanslag van die vyand.

‘n Ware leier se krag lê daarin dat hy die Onsienlike sien. In die ewigheidslig van Bo, kan hy die regte en juiste waarde van dinge bepaal.

5. ‘n Ware volksleier ken sy feite.

Hy ken sy geskiedenis, sy belydenis, sy volk, sy vyand. Hy weet waar hy vandaan kom, en daarom weet hy waar hy wil heen.

Op die pad na vryheid neem hy twee dinge saam:

In sy hand hou hy die Bybel, sy kompas;

In sy sak dra hy die geskiedenis, sy kaart.

Sy roete, lank vantevore reeds deur God bepaal, is vas; sy tred, seker.

Ek sluit af met die volgende:

Moenie rondsit en wag vir ‘n leier om te verskyn nie. Hou op rondkyk na wat ander mense doen of nie doen nie; werk aan jouself, wees jy die leier. Soos Johannes Trojan (Duitse digter) gesê het:

“Een moet vooruit om te wys daar is nog ‘n stem,

wat as ander skugter swyg, vreesloos die waarheid bring.

Een moet vooruit in die nood wanneer mense vra:

waar is die man wat die moed het om voor te loop?

Wees jy die een! Stap voor!”

Deur R. Vorster

……..

Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging volg steeds die beginsels wat dr Malan ons geleer het. Om daarop voort bou wil ons u oproepe om ook betrokke te raak by die stryd en by jou mede-Afrikanernasionaliste in die ANB aan te sluit. Om meer oor ons te wete te kom lees ons Grondslag en doelstellings. Om aansoek te doen om te sluit vind die vorm hier . Indien jy meer wil weet kontak ons gerus.

Soos enige organisasie wat sy doel uitvoer vir die liefde van die saak is ons afhanklik van die bydraes en donasies om die uitvoering van ons doelstellings te befonds en om die nuusbrief uit te gee. Elkeen wat ons sy hart voel dat hy die doelstellings van die ANB ondersteun kan ‘n bydrae maak per bank inbetaling. Vind hier ‘n skakel vir ons Bankbesonderhede .

Laaste Nuusbrief Nr 70 April/Mei 2023 – in drukbare PDF formaat.

Om ‘n lig te wees aan die Suidpunt van Afrika – 1652

“6 April 1652 is ‘n hoog uitstaande baken in ons geskiedenis. DIt was die begin. En… ‘n wonderbare begin. As ooit die spreekwyse: “Die mens wik, maar God beskik”, op ‘n gebeurtenis van toepassing is, is dit hier die geval.

150 jaar lank het die handelskepe van Portugese, Engelse en Hollanders die Stormkaap verbygeseil sonder dat daar ‘n plan bestaan het om hier ‘n volksplanting in aansyn te roep.

Ook nog in 1652 was daar onwilligheid by die direkteure van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie om hier meer as ‘n verversingstasie te stig. Tewens lyk dit of selfs Jan van Riebeeck eers nie lus gehad het om hier te bly nie.

En tog het 6 April 1652 die geboortedag van die blanke beskawing in Suid-Afrika geword.

En die verversingstasie het sy ideële inslag gekry. In onverganklike skrif moet die gebed van Van Riebeeck — ja, toe het sy hart gespreek! — in ons geboortegeskiedenis gegrif word. Hier volg die gebed wat ons uitgangspunt is; ‘n gebed wat nog altyd moet lewe onder ons en ‘n spoorslag moet wees tot hoër, edeler dinge.

Die gebed : (uittreksel vry vertaal in Afrikaans)

“O, Barmhartige, goedertieren God en hemelse Vader, ons bely dat dit u Goddelike Majesteit se besluit was om ons te roep tot die bestuur van die VOC se sake alhier aan die Kaap. Dat ons hier in U heilige Naam vergader is, om besluite te neem in die diens wat die Kompanjie vereis. Dat ons ook reg sal laat geskied. Wil gee dat onder hierdie wilde brutale mense (moontlik) u ware Gereformeerde Christelike Leer, mettertyd, mag verkondig word, tot U heilige Naam se lof en ere….”

Na aanleiding en op grond van dié gebed gaan ons nie ondersoek in hoever die hoë ideaal van Van Riebeeck nagekom is nie — dit moet die historikus doen. Ook sal nie nagespeur word in hoever ons volk aan die ware Christelike Gereformeerde Leer getrou gebly het nie — dit moet die teoloog en kerkhistorikus doen. Wat ons wil beklemtoon, is dat uit dié gebed ‘n ligstraal skyn wat die hele kontinent van Afrika moet verlig.

Dus nie materiële, politieke of watter ander oorweginge ook al mag nommer een wees nie. Dit is die Christelike, protestantse beginsel wat ook in hierdie wêreldperiode ons motief en besieling moet wees.

Noord-Afrika was in die eerste eeue van ons jaartelling ‘n bakermat van die Christendom. Vermaarde teologiese skole het daar verrys. En teoloë, van die grootstes in die kerkgeskiedenis, het daaraan onderrig gegee. Ons noem net die name van Augustinus, Cyprianus, Tertullianus, Origenes en Clemens Alexandrinus.

Maar die Mohammedanisme het die lig van die honderde Christelike gemeentes totaal uitgeblus. Daar het selfs geen naskemering van gebly nie.

Laat dit vir ons in die Suidland van Afrika ‘n waarskuwing wees!” (2)

“Nou nog die vraag: Wat het dit alles met 6 April te doen?

Die antwoord kan kort wees. Die Christelike beginsel het ten grondslag van die volksplanting aan Kaap die Goeie hoop gelê. Dit is as kern saamgevat in die gebed wat Van Riebeeck gedoen het. Volgens daardie beginsel het ons vaders hulle dan ook in hul ganse lewe geopenbaar.

Maar daar was in later tyd genoeg teëstand. Dink slegs aan die optrede van dr. Van der Kemp en sy geesverwante. Die beginsel wat hulle in ons volkslewe wou indra, was dié van die Franse Omwenteling: Gelyke regte vir almal wat mens is. En dit is die sienswyse waarteen ons nog gedurig die stryd moes voer.

Daarom roep ons nou weer: terug na die Christelike standpunt wat ons vaders as hegte fondament vir die volkslewe hier neergelê het.” (3)

“Voorwaarts dan, getrou en wakker

moedig, kragtig steeds vooruit!

Geen geweld, geen dwinglands woede

sal julle ideale stuit.

Laat jul roep oor berge dawer,

oor die vlaktes oor gedra:

Ewig hoog die vryheidsvaandel

stoere kroos van Afrika!” (1)

Bronne:

(1) Nuwe F.A.K.-Sangbundel, 1961, nr.14; Afrikanerlied, H.A. Fagan;

(2) Totius, nr. 7, bl. 377-378;

(3) Ditto, bl. 380

Die Opposisie in Stadsrade ’n “Klaaglike mislukking”

deur Bertus Radford

Professor Koos Malan van Sakeliga en Bennie van Zyl van TLU-SA het op 6 Maart, tydens die fokusprogram van Pretoria FM, hul lot bekla wat betref die opposisie in die stadsrade, maar in die besonder koalisievorming. Volgens Malan is die “koalisies ’n klaaglike mislukking weens die baasspelerigheid van die DA” nadat Van Zyl ’n ellelange treurmare gelewer het rakende die huidige stadsrade wat nie die mas opkom nie, maar veral die koalisies, tot die verdriet van hul kieserskorps. Van Zyl het met ’n tipiese à la Bennie van Zyl die prent probeer inkleur en aan die einde uitgekom met die gedagte dat “gekyk moet word na iets anders”. Malan het dadelik gereageer met die woorde: “Ek gaan stem en diegene wat nie stem nie is aan die swart kant,” wat die Afrikaner by ’n baie belangrike en aktuele punt bring.

Nie-stemmers word gereeld daarvan beskuldig dat ’n wegbly-stem ’n stem vir die ANC is. Hierdie argument verg heelwat dieper ondersoek. Uiteraard is dit verraad. Die ANC-regime, die uitroeper van die verkiesing, is ’n kommunistiese organisasie, gelaai met Kommuniste en in bondgenootskap met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Mandela, die skrywer van die boek How to be a good Communist, was ’n geswore Kommunis. Kommunisme op sy beurt is die aktiewe arm van die Antichris. Die ANC is dus ingeskakel by die Antichris, die magte van die duisternis. Nou is dit so dat hierdie magte, met die ANC as spreekbuis, die politieke partye in Suid-Afrika uitnooi om te registreer vir die verkiesing deur hierdie onheilspellende magte. Aan hierdie party, nou die draer van die seël van die magte van die duisternis, gaan die stemmer sy stem toesê. Terwyl die ANC in baie volke se oë wêreldwyd ongeloofwaardig en onwettig is, is dit nou die stemmer wat wettigheid verleen aan die ANC en sy drakoniese meelopers. Nie net legitimiteit word verleen nie, maar die stemmer gee as’t ware ook erkenning en bestaansreg aan hierdie duistere magte. Indien die Afrikaner soos een man wegbly verloor die ANC sy geloofwaardigheid in die oë van die wêreld, en sodanige aksie sal die eerste treë tot verset wees.

In stede dat die soustreinryers, net so korrup soos die ANC, ’n openbare sirkus van die stadsrade en parlement maak, beweeg die Afrikaner nou in die regte rigting. Hierdie wete sal verdere druk op die vyand plaas. ’n Aksie van hierdie aard sal aanleiding gee tot ’n algehele ontevredenheid ter plaatse. ’n Toestand wat heilsaam sal inwerk op ’n toekomstige blanke regering. Tesame hiermee sal die blanke in plaas van ’n inkrimpende, weer ’n uitdagende houding inneem en die wêreld met respek na die Afrikaner laat kyk. Is dit die ander rigting waarvan Van Zyl onbewustelik praat? Die nie-stemmer sal dus nie aan die swart kant wees nie, maar die stemmer wel. En indien weer ’n diskussie wie die steun aan die ANC, die magte van die duisternis oorhandig, dan is dit die nie-stemmer wat met ’n rein, skoon gewete en gemoedsrus die toekoms tegemoet gaan terwyl die stemmer die oog laat sak.

Andries Hendrik Potgieter

deur BERTUS RADFORD

Wie was hy?

Andries Hendrik Potgieter aanskou op 19 Desember 1792 die eerste lewenslig. Hy was fors en gespierd en met sy “Dopper”-uitrusting en gelyk gesnyde baard was hy maklik herkenbaar. Hy was ’n matige roker. Hendrik Potgieter se geloofslewe het hom na aan die hart gelê. Die liberale gelykheidsleer het hy nie geduld nie.

Voortrekkerleier

As Voortrekkerleier sou hy diep spore trap in die grondlegging van Transvaal, ’n man wat nie altyd die regmatige erkenning as pionier en baanbreker ontvang het nie. Op trek na sy bestemming sou verskeie gesinne, onder andere Paul Kruger se ouers, by sy trek aansluit nadat Potgieter se trek die Tarka en Colesberg verlaat het. Met sy fyn aanvoeling en versiendheid het hy besef om van die Engelse juk ontslae te raak, moet die Afrikaner weg beweeg van die see, want “die Engelse is by die see.” Hy het egter besef dat ’n korridor na die see van die allergrootste belang is, derhalwe onderhandel hy suksesvol met die Portugese om ’n deurweg na Delagoabaai. Van die swart kapteins pleit by Potgieter om beskerming deur grond aan Potgieter te verkoop in ruil vir hul veiligheid teen die Matebeles. Na die verraderlike Liebenberg-moorde slaan die trekkers die aanval van die 6000 Matebeles wonderbaarlik met 35 man by Vegkop af.

 In Natal

Tydens ’n algemene vergadering in Desember 1836 word Gerrit Maritz tot President-regter en Potgieter tot laerkommandant verkies. Potgieter en Maritz gaan hierna op ’n strafekspedisie waarna hulle die Matebeles verslaan en verjaag tot die huidige Bulawayo in ’n nege-daagse oorlog. Na die moorde op Retief en ’n groot aantal Voortrekkers, vind die slag van Italeni in Natal op 11 April 1838 plaas. Die Voortrekkerkommando’s word in ’n hinderlaag gelei en moes noodgedwonge die aftog blaas. Piet Uys en sy seun Dirkie sneuwel in die hinderlaag. Potgieter word deur sommige van die Voortrekkers van lafhartigheid beskuldig waarna hy terugkeer na Transvaal.

Potgieter se rol in Transvaal se soewereiniteit.

Potgieter verken Transvaal in sy geheel en verskillende dorpe kom tot stand. Potgieter ontmoet ’n Engelse gesant te Potchefstroom waarin Engeland die Transvaalse onafhanklikheid erken. As gevolg van verskillende menings betreffende die regeringsvorm kom gereelde onenigheid na vore. ’n Klein rebellie kom te Potchefstroom in opstand maar daar kom niks van nie. Onenigheid tussen Andries Pretorius en Hendrik Potgieter vind plaas as gevolg van Pretorius se inmengery in die Transvaal se sake, nadat Pretorius Natal verlaat en homself in Transvaal gevestig het. Gert Kruger en Pretorius onderteken die Sandrivierkonvensie waardeur Engeland die Transvaal soewerein onafhanklik verklaar. Op 15 Maart 1852 vind die twee leiers mekaar. Hendrik Potgieter sterf op 16 Desember 1852

ANB Genl Beyers Tak vier Stigtingsdag

Die ANB lede van die Generaal Beyers tak het op gepaste wyse Stigtingsdag gedenk. Ons moet steeds besef dat ons volk die wonderlike voorreg het om ‘n Christelik Protestantse oorsprong te hê.

Dit plaas ook ‘n plig op ons om daardie erfenis in gedagtenis te hou en voort te sit. Nie oor onsself nie maar as uitlewing van ons roeping as kinders van God binne die volksverband waarbinne Hy ons geplaas het.

Ons geskiedenis vertel aan ons kinders  van die liefdesdade gedoen en swaarkry gely deur ons volkshelde ter wille van wat reg is. Ons volkspele is so ook ’n lewende simboliese binding van ons kultuur en erfenis.  Dit beeld deur sang en beweging ons volk se karakter uit. Die tak se lede wil graag almal aanmoedig om volksdrag of volkspele drag te kry of te maak en te dra om sigbaar ons volk te verenig in ons kultuurerfenis.

ANB Nuusbrief nr. 70, April/Mei 2023

anb-nuusbrief-hoofIn hierdie uitgawe:

Die volledig nuusbrief is ook hier beskikbaar in aflaaibare drukbare  PDF formaat.

Daar is hoop. Ons kan opnuut leer en inkeer en doelgerig werk daaraan om ons identiteit te kan behou ten spyte van wat om ons vergaan. Begin deur jouself af te vra waarby jy in jou vrye tyd betrokke is. En waarby jou kinders betrokke is. Ondersteun dit die behoud van ons volksidentiteit en die uitleef van die beginsels wat ons voorouers hulle lewe voor afgelê het?  So nie, raak betrokke by die ANB en help terugkeer en bou op die vastigheid van nasionalistiese beginsels, die lesse geleer uit ons geskiedenis en die voorbeelde van ons heldedom. Sluit aan by die ANB. Vind meer uit oor ons en ondersteun die uitdra van hierdie boodskap van hoop.  

ANB Nuusbrief Redaksie.

ANB Veroordeel nuwe vlaag van plaasaanvalle

ANB VERKLARING 9 Junie 2023

Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging veroordeel die vlaag plaasaanvalle en moorde ten sterkste. Ons veroordeel die geweldsmisdade wat teen ons as blankes gepleeg word, ongeag van of dit op plase of in dorpe en stede gebeur.

Ons hoor die dreigemente deur swart ekstremistiese leiers, soos Malema, Mbeki en andere, van ‘n leierlose rewolusie wat met geweld gepaard sal gaan. Die rewolusie, wat eers teen die Witman en dan teen die swart elite sal losbars, het reeds begin. Die swart ekstremiste gebruik die ekonomiese verval en armoede om die rewolusie te regverdig, en wil voorgee dat dit ‘n spontane optrede van die armes en werkloses sal wees.

Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging veroordeel die ANC se ideologiese, asook ekonomiese aanslag teen die Witman, maar veral teen die Afrikanervolk. Ons verwerp ten sterkste wetgewing soos BEE en swart bevoordeling in die werksplek, nuwe kwotas, die waterwetgewing ens. Ons besef dat die gewelddadige aanslag op ons lewens, en die wetgewende aanslag loop hand aan hand.

Ons, as die Afrikaner Nasionalistiese Beweging, beskou dit as een en die selfde aanslag om die Afrikanervolk totaal en al uit te wis en te vernietig.

Oom Jaap Marias het, kort voor sy afsterwe, gewaarsku dat hierdie bestel in duie gaan stort, en dat dit met geweld gepaard sal gaan. Ons sal die middele tot ons beskikking moet gebruik, weer trou aan mekaar moet sweer en weer ons grense moet trek, al gaan dit met bloed gepaard.
Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging roep die Witman en Afrikanervolk op om te verenig onder die beginsels van Afrikaner Nasionalisme. Ons roep al ons volksgenote op om hul te distansieer van die persone, organisasies en groepe wat aandadig was aan die oorgawe en verraad van 1994. Weier om, deur deelname aan die bestel, legitimiteit te gee aan die oorgawe van 1994. Verwerp die wat u roep tot die stembus om die “Eed van Getrouheid” aan die grondwet met ‘n kruisie te bevestig. Verwerp hulle en word deel van die vryheidstryd van die Afrikaner nasionalis.

Die aanslag sal toeneem want dit is ‘n totale aanslag teen ons Volk. Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging waarsku dat daar totale anargie in die land gaan losbars. Skakel nou in by volksgerigte veiligheidstrukture soos plaaswagte en buurtwagte. Beveilig u woning en u plaas.

Bewapen uself en elkeen in die huis met ‘n wettige wapen en hou dit byderhand. Doen kursusse in skietkuns, veldkuns en stedelike oorlewing.

Laat ons die middele tot ons beskikking nóú gebruik om ons self te beveilig.

Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging roep elke Afrikaner op, elke Witman, wat hom met ons vryheids-ideaal vereenselwig, om die vryheidstryd saam met die Afrikaner Nasionalistiese Beweging te voer op die beginsels van Christelike Afrikaner Nasionalisme.

Eendrag Maak Mag!

Carel van der Grijp, ANB Voorsitter.

 

Om meer oor ons te wete te kom lees ons Grondslag en doelstellings. Om aansoek te doen om aan te sluit vind die vorm hier . Indien jy meer wil weet kontak ons gerus.

Soos enige organisasie wat sy doel uitvoer vir die liefde van die saak is ons afhanklik van die bydraes en donasies om die uitvoering van ons doelstellings te befonds en om die nuusbrief uit te gee.   Elkeen wat ons sy hart voel dat hy die doelstellings van die ANB ondersteun kan ‘n bydrae maak per bank inbetaling. Vind hier ‘n skakel vir ons Bankbesonderhede   

 

Vandag is Republiekdag: 31 Mei 2023

Vandag is Republiekdag. Ons wat die geskiedenis in herinnering roep weet dat ons in 1652 in hierdie land aangekom en ons gevestig het. Ons weet dan ook van die vryburgers wat losgekom het van die Nederlandse kompanjie om vry voedsel aan die skepe te voorsien. Dan weet ons ook van die Britse se eerste en tweede besettings en ook van die aanvalle van Xhosas aan die Oosgrens en van die Groot Trek. Dit was ‘n stryd om vryheid gewees.

Die onafhanklike state van Natalia, Vrystaat en Transvaal (ZAR) was deur die Voortrekkers gestig ter uitlewing van ons onafhanklikheid. Maar die Engelse Imperialisme het ons agtervolg en het ons die republieke verloor. In die stryd is baie van ons vrouens en kinders in konsentrasiekampe vermoor. Hulle verskroeide aarde beleid het die plase afgebrand. Dit alles om die goud en minerale van die land in die hande te kry. Dieselfde wêreldmagte sit steeds die stryd teen Christen-nasies en state voort om hulle een wêreld regering daar te stel. Dis ‘n stryd om vryheid wat in 1806 met die eerste Britse besetting begin het en oor jare gevoer is. ‘n Stryd waarin aar betaal is met Boere se bloed, met die bloed van kinders. Die kinders se grafte langs die trekpad. Ons Oupas en Oumas het so ‘n transportakte vir die land verkry deur bloed.

Daardie stryd het nie gestaak met die oorgawe van 31 Mei 1902 nie. Op 31 Mei 1910 het ons die Unie van Suid-Afrika verkry. Weereens het die magte van die wêreld ons teëgegaan. Ons weet van die stryd wat Hertzog, Malan en Strijdom gevoer het. Advokaat Strijdom, die leeu van die noorde, het alles in plek gekry om die unie tot ‘n onafhanklike republiek te lei. Kort na hy aan bewind gekom het, is hy oorlede aan kanker maar dokter Verwoerd het hom opgevolg en die droom van advokaat Strijdom verwesentlik. Op 31 Mei 1961 het ons ‘n republiek geword. Ons was weer vry van die wêreldmagte, vry om ‘n volk te wees.

Daarby het ons ook gesê dat daardie vryheid behoort aan alle volke in Suid-Afrika en daarom moet die vryheid weer terug gaan na hulle toe. Die grense van hulle gronde en lande wat deur die Britse imperialisme uitgewis is, moes weer herstel word. Sodoende moes die swartman ook sy onafhanklike state gekry het, soos Zululand, Ciskei, Transkei ens. Maar in ‘n sameswering is Verwoerd deur die kommuniste vermoor. Die gevolg was dat ons in 1994 weereens ons vryheid verloor het. Vandag, soos 1902, word ons volk uit die werksplek gedruk. Hy word ‘n tweederangse burger in sy eie land. Die kommuniste het ook weereens al die grense tussen die volke uitgewis. Onder die naam van broederskap en liefde word al die volke in Suid-Afrika vandag deur die kommunisme onderdruk.

Dis ‘n stryd teen die wêreldmag wat voortduur. Mag God dit ook so beskik dat ons Afrikanervolk weer vry sal wees van die wêreldmagte se onderdrukking, waar ons God kan dien sonder voorskrifte en ons weer ons taal kan praat en ons kultuur kan uitleef.

Soos ek, wat ‘n Christen Afrikanernasionalis is, gun ek dit ook aan elke volk in Suid-Afrika. Dat elke volk in Suid-Afrika sy eie grondgebied kan kry waar hy homself kan regeer in liefde en sy eie kultuur en geloofsoortuigings kan uitleef en sy kinders daarin kan opvoed. Om so sy kinders te kan oplei om waardevol te wees vir sy eie mense. Soos ek dit vir elke volk gun, so ook vir my eie. Dus wens ek julle elkeen ‘n geseënde Republiekfees. Ek wens ek ook dat julle ingedagte sal hou die stryd wat julle voorouers gestry, die stryd waarin God ons in gelei het. Dat ons op die dag ook alleen die eer aan God te gee. Hy wat ons deur trekkerspad, Bloedrivier, konsentrasiekamp, al die pyn en lyding en ook vandag met die plaasmoorde en moord en doodslag steeds gelei het. Ons moet besef: God regeer en alle eer kom Hom toe.

Dankie en ‘n mooi dag aan elkeen van julle.

Carel van der Grijp

ANB NUUSKOMMENTAAR April 2023 – Nuwe Partye

Vir 29 jaar lank word Suid-Afrika deur ‘n korrupte en onbevoegde regering regeer. Dit is geen geheim dat die ANC nog niks bygedra het of toegelaat het vir die verbetering van die Suid-Afrikaanse ekonomie en burgers se lewenstandaarde nie, maar eerder deur korrupte politiek en onetiese besigheidsake Suid-Afrika tot ‘n bedelaar by die wêreldbanke gedryf…

Volgens die Corruption Watch is oor die 4200 korrupsie klagtes  in 2018 teen die Provinsiale regering van Suid-Afrika gegee. Die elle lange lys van die ANC se skandale en korrupsie klagtes is onmeetbaar soos dit elke dag meer en meer groei. Die nuutste korrupsie skandaal wat op die media se voorblaaie is is die VBS Bank (Venda Building Society Bank) en die ANC wat pap geskep het by die VBS Mutual Bank van meer as R16 miljoen tussen 2017 en 2018 deur Noord-Transvaalse (Limpopo) ANC elites, Danny Msiza en voormalige ANC provinsiale jeug leier, Kabelo Matsepe. Volgens advokaat, Terry Motau se 148 bladsy verslag oor die skandaal, het Msiza oor die 10 Munisipaliteite se burgermeesters en tesourie-amptenare in die Noord-Transvaal (Limpopo) oorreed om deposito’s in die VBS Mutual Bank te plaas en is  oor die R1.89 biljoen uitgedeel tussen 53 persone.

Die ANC se National Working Committee (NWC) en Provincial Executive Committee (PEC) het saam vergader met sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, om te bespreek hoe die ANC te werke gaan gaan rondom die saak. Hy sê ook dat dit belangrik is dat die saak nie die ANC se verkiesings vermoë in die Noord-Transvaal (Limpopo) belemmer nie, veral omdat die skandaal nou weer groot aandag van die media kry.

Saam met die nuutste skandale en korrupsie klagtes hang die donker wolk van Ramaphosa se Phala-Phala saak oor die ANC, asook Eskom korrupsie en ANC bande, werkloosheid, swak of geen dienslewering van publieke instansies, ekonomiese wanbestuur, ‘n mislukte regstelsel en die skending van basiese regte.

Dit is dan geen verbasing dat in die afgelope 3 jaar meer en meer nuwe politiese partye ontstaan het nie.

In 2020 is Team Sugar SA bekend gemaak, ‘n party wat weg gebreek het van die EFF. Action SA is in Augustus 2020 deur voormalige burgermeester van Johannesburg, Herman Mashaba, gestig.

Op die 19de April is nog twee nuwe partye aangekondig naamlik, Rise Mzansi en Arise South Africa. Voormalige Transvaal (Gauteng) leier van Action SA, Bongani Baloyi, het ook ‘n nuwe party in April aangekondig naamlik, Xiluva.

Al hierdie nuwe partye het dieselfde doelwit en leuse, om die ANC se ondoeltreffendheid en onbevoegdheid uit te wys en as teen partye in die 2024 verkiesing te wees. Gaan hierdie mengelmoes van partye dit moeilik maak vir die ANC volgende jaar of is dit ‘n taktiek wat gebruik word om die stemmers van die ANC se grootste kompetisie te verdeel?

Terug na April 2023 Nuusbrief

Wie was Jan van Riebeeck?

deur CJH Vorster

Media smeerveldtogte, polities-korrekte skoolhandboeke en ‘gesuiwerde’ biblioteke, het tot gevolg gehad dat min mense vandag die volle waarheid ken van die man wat bekend staan as die Stigter van Suid-Afrika.

Hier is solank antwoorde op twee vrae wat mense gereeld vra:

1. Vanuit watter agtergrond het hy gekom?

Johan Anthonisz van Riebeeck is in 1619 in Culembourg gebore. Sy vader, Anthonij van Riebeeck, was ‘n Chirurgyn (in daardie dae het dit nie beteken hy was ‘n chirurg nie – ook nie geneesheer nie, en ook nie snydokter nie — maar iemand wat bloedlating toegepas het, en geneeshere bygestaan het.). Sy moeder, Elizabeth, was 20 jaar oud toe hy gebore is.

Jan se ouma en oupa aan moederskant se van was Van Graesbeeck (sy oupa was ‘n prokureur en notaris). Hulle het gewoon in die huis wat vandag bekend staan as Van Riebeeckhuis, in Culemborg. Die Van Riebeecks en Van Graesbeecks was nie ryk nie, maar gesiene mense.

Jan het grootgeword in Schiedam, waar sy vader sedert 1622 sy praktyk as chirurgyn voortgesit het.

Jan se sussie, Geertruyd, is later aan die Kaap met die sieketrooster Pieter van der Stael getroud, en het met haar gesin eers aan die Kaap gewoon en na Jan se vertrek, die Van Riebeecks na Malakka gevolg, maar dit was baie, baie jare later.

Jan het ook twee boeties gehad, beide jonk oorlede. Toe Jan 10 jaar oud was, en sy suster 6, is sy moeder oorlede. Sy vader is later weer getroud met Elsgen Burgers.

2. Was hy ‘n self-verrykende Swendelaar of ‘n eerlike, hardwerkende Koopman?

Toe Jan 16 jaar oud was, het hy sy vader vergesel op ‘n reis na Brasilië en die eiland Barbados. Jan het in sy vader se voetspore gevolg en as onder-chirurgyn by die Oos-Indiese Kompanjie in diens getree.

In 1639 vertrek hy na die Ooste, na Batavia. Daar het hy egter besluit om sy werk as chirurgyn te verlaat en as assistent in die Kasteel te begin werk.

Daar het hy spoedig bevordering gekry omdat hy so hardwerkend was (twee maal is hy spesiaal beloon en vermeld vir sy buitengewone dienswerk).

Ons sal nie nou hier ingaan op wat daar alles met hom gebeur het in die ooste nie, maar uit die aard van sy werk was dit duidelik dat net dapperstes daar uitgehou het, en daar byvoorbeeld in Formosa met uiterste diplomasie te werk gegaan moes word.

Hy is heen en weer verplaas, en het baie ervaring opgedoen in die proses. In 1642 is hy byvoorbeeld gekies om as sekretaris saam te gaan met ‘n afvaardiging na die koning van Atjeh (in die noorde van Sumatra), ‘n baie interessante belewenis.

In 1643 reis Jan saam met 55 ander vanaf Batavia na die kus van Tonkin, en daarna die eiland Formosa, waar hulle pas toestemming ontvang het om ‘n nuwe handelspos te stig.

Jan het hom sodanig onderskei in hierdie klein handelsvesting, beman deur slegs nege Nederlanders, en omring deur derduisende oorlogsugtige Chinese, dat hy uiteindelik in die posisie van waarnemende Opperhoof aangestel is, en in 1646 bevorder is tot volwaardige Koopman.

Intussen is die Goewerneur-generaal van Batavia, Antonio Van Dieman, verlangse familielid van Jan, oorlede. Sy opvolger, Cornelis van der Lijn, was geen vriend van Van Diemen of sy mense nie. In Batavia het ‘n hewige stryd tussen hom en Mevrou van Diemen, Antonio se weduwee, gewoed.

Van der Lijn het ook links en regs mense aangekla het van privaathandel, om aan die Here XVII bewys te lewer van sy ywer. Die kans is goed dat die onmin tussen hom en die van Diemens gedeeltelik tot gevolg gehad het, dat sy oog op Jan geval het, as volgende slagoffer van sy ondersoeke.

In ‘n brief aan Von Bronkhorst skryf hy dat hy reken dat die jongelinge in Tonkin, wat groot somme geld hanteer, nie vertrou kan word nie. Daarop ontbied hy koopman Jan van Riebeeck en onderkoopman Heycop na Batavia om rekenskap te kom gee, en daarop het hy toe sommer ook hulle loopbane in Batavia beeindig.

Nooit ooit is Jan skuldig bewys nie, maar ongelukkig kon hy ook nie regkry om sy onskuld te bewys nie.

Maar die feit dat hy met behoud van rang en gasie (besoldiging) na Amsterdam terug kon keer, bevestig dat die Here XVII geensins oortuig was van sy ‘skuld’ nie.

Die kans dat Jan in hierdie saak die slagoffer was van lastertonge, is baie groot. Om jou teen aanklagte wat nie bewys kan word nie, te verdedig, is gewoonlik moeilik, en dikwels onmoontlik.

Vir Jan wás dit onmoontlik…

(Bron: Avontuur in die Vreemde, die verhaal van Jan Van Riebeeck deur A.J.Böeseken. 1971.)