Wie was Jan van Riebeeck?

deur CJH Vorster

Media smeerveldtogte, polities-korrekte skoolhandboeke en ‘gesuiwerde’ biblioteke, het tot gevolg gehad dat min mense vandag die volle waarheid ken van die man wat bekend staan as die Stigter van Suid-Afrika.

Hier is solank antwoorde op twee vrae wat mense gereeld vra:

1. Vanuit watter agtergrond het hy gekom?

Johan Anthonisz van Riebeeck is in 1619 in Culembourg gebore. Sy vader, Anthonij van Riebeeck, was ‘n Chirurgyn (in daardie dae het dit nie beteken hy was ‘n chirurg nie – ook nie geneesheer nie, en ook nie snydokter nie — maar iemand wat bloedlating toegepas het, en geneeshere bygestaan het.). Sy moeder, Elizabeth, was 20 jaar oud toe hy gebore is.

Jan se ouma en oupa aan moederskant se van was Van Graesbeeck (sy oupa was ‘n prokureur en notaris). Hulle het gewoon in die huis wat vandag bekend staan as Van Riebeeckhuis, in Culemborg. Die Van Riebeecks en Van Graesbeecks was nie ryk nie, maar gesiene mense.

Jan het grootgeword in Schiedam, waar sy vader sedert 1622 sy praktyk as chirurgyn voortgesit het.

Jan se sussie, Geertruyd, is later aan die Kaap met die sieketrooster Pieter van der Stael getroud, en het met haar gesin eers aan die Kaap gewoon en na Jan se vertrek, die Van Riebeecks na Malakka gevolg, maar dit was baie, baie jare later.

Jan het ook twee boeties gehad, beide jonk oorlede. Toe Jan 10 jaar oud was, en sy suster 6, is sy moeder oorlede. Sy vader is later weer getroud met Elsgen Burgers.

2. Was hy ‘n self-verrykende Swendelaar of ‘n eerlike, hardwerkende Koopman?

Toe Jan 16 jaar oud was, het hy sy vader vergesel op ‘n reis na Brasilië en die eiland Barbados. Jan het in sy vader se voetspore gevolg en as onder-chirurgyn by die Oos-Indiese Kompanjie in diens getree.

In 1639 vertrek hy na die Ooste, na Batavia. Daar het hy egter besluit om sy werk as chirurgyn te verlaat en as assistent in die Kasteel te begin werk.

Daar het hy spoedig bevordering gekry omdat hy so hardwerkend was (twee maal is hy spesiaal beloon en vermeld vir sy buitengewone dienswerk).

Ons sal nie nou hier ingaan op wat daar alles met hom gebeur het in die ooste nie, maar uit die aard van sy werk was dit duidelik dat net dapperstes daar uitgehou het, en daar byvoorbeeld in Formosa met uiterste diplomasie te werk gegaan moes word.

Hy is heen en weer verplaas, en het baie ervaring opgedoen in die proses. In 1642 is hy byvoorbeeld gekies om as sekretaris saam te gaan met ‘n afvaardiging na die koning van Atjeh (in die noorde van Sumatra), ‘n baie interessante belewenis.

In 1643 reis Jan saam met 55 ander vanaf Batavia na die kus van Tonkin, en daarna die eiland Formosa, waar hulle pas toestemming ontvang het om ‘n nuwe handelspos te stig.

Jan het hom sodanig onderskei in hierdie klein handelsvesting, beman deur slegs nege Nederlanders, en omring deur derduisende oorlogsugtige Chinese, dat hy uiteindelik in die posisie van waarnemende Opperhoof aangestel is, en in 1646 bevorder is tot volwaardige Koopman.

Intussen is die Goewerneur-generaal van Batavia, Antonio Van Dieman, verlangse familielid van Jan, oorlede. Sy opvolger, Cornelis van der Lijn, was geen vriend van Van Diemen of sy mense nie. In Batavia het ‘n hewige stryd tussen hom en Mevrou van Diemen, Antonio se weduwee, gewoed.

Van der Lijn het ook links en regs mense aangekla het van privaathandel, om aan die Here XVII bewys te lewer van sy ywer. Die kans is goed dat die onmin tussen hom en die van Diemens gedeeltelik tot gevolg gehad het, dat sy oog op Jan geval het, as volgende slagoffer van sy ondersoeke.

In ‘n brief aan Von Bronkhorst skryf hy dat hy reken dat die jongelinge in Tonkin, wat groot somme geld hanteer, nie vertrou kan word nie. Daarop ontbied hy koopman Jan van Riebeeck en onderkoopman Heycop na Batavia om rekenskap te kom gee, en daarop het hy toe sommer ook hulle loopbane in Batavia beeindig.

Nooit ooit is Jan skuldig bewys nie, maar ongelukkig kon hy ook nie regkry om sy onskuld te bewys nie.

Maar die feit dat hy met behoud van rang en gasie (besoldiging) na Amsterdam terug kon keer, bevestig dat die Here XVII geensins oortuig was van sy ‘skuld’ nie.

Die kans dat Jan in hierdie saak die slagoffer was van lastertonge, is baie groot. Om jou teen aanklagte wat nie bewys kan word nie, te verdedig, is gewoonlik moeilik, en dikwels onmoontlik.

Vir Jan wás dit onmoontlik…

(Bron: Avontuur in die Vreemde, die verhaal van Jan Van Riebeeck deur A.J.Böeseken. 1971.)