Category Archives: Tweede Vryheids Oorlog

16 Junie 1900. Konsentrasiekamp-dag.Twee kampe. Twee uitkomste.

deur CJH Vorster

Vandag, op 16 Junie 2026, gedenk ons weer die bitter lyding en dood van 34 000 vroue, kinders en bejaardes – in Britse moordkampe – tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1900-1902).

Waarom dié datum? Want op hierdie dag, in 1900, is die beleid van verskroeide aarde amptelik deur Lord Roberts geproklameer.
Dit was egter hoegenaamd nie die begin daarvan nie. Britse oorlogsbesluite is van die begin af deur Britse proklamasies afgekondig. En plase is van die begin af gebrand, en eiendom na willekeur vernietig.
Proklamasies was egter ‘n belangrike Britse sielkundige wapen. In sy boek, Vryheidstryd van die Afrikaner Vanaf Volksplanting tot Volksversaking, skryf Pieter Möller: “…Enersyds is dit as geelwortel voorgehou dat sagkens met die burgers gewerk sou word, indien hulle daarop reageer en oorgee. Andersyds is dit as afdreiging teen die halstarrige burgers, wat nie wou oorgee nie, gebruik.”

So meld die geskiedenisboeke ‘n rits proklamasies – elk met interessante gevolg, waarvan die duidelikste egter: die skeur in die Volk tussen ‘hensoppers’ en ‘joiners’ (moedeloses en verraaiers) aan die een kant, en ‘undesirable’s’ (bittereinders en getroues) aan die ander kant.

Proklamasie op proklamasie…

Proklamasie 17 Februarie 1900 – Vrystaatse burgers moet ophou om vyandelik teen Britse troepe op te tree, dan sal hul eiendom gerespekteer word. Teen dié wat vyandigheid voortsit, of aan strydende mede-burgers hulpmiddele of inligting verskaf, sal volgens oorlogsgebruik opgetree word. Britse troepe word verbied om private woonhuise te betree, burgerlikes te molesteer of eiendom te beskadig.
Gevolg: Pres. Kruger en Steyn bring onder Lord Roberts se aandag, dat Britse troepe steeds aanhou om burgerlikes (grotendeels vroue en kinders) te molesteer, hele veetroppe se hakskeensenings af te kap, werfdiere dood te kap, huise af te brand en plaasgeboue op te blaas. Verslag word ingedien dat baie van hierdie verwoestende bendes bestaan uit gewapende gekleurde troepe, onder bevel van Britse offisiere en National Scouts (Boereverraaiers) – soos bevestig deur privaat en oorlogs-korrespondensie. Nogtans word dit deur Lord Roberts ontken.
Die meerderheid Boere hou aan met veg.

Proklamasie 15 Maart 1900 – Dié burgers wat oorgee (Boere-offisiere en dié wat hulle “skuldig gemaak het” aan geweld teen Britse uitgesluit) sal Britse beskerming geniet. Burgers wat wapen neerlê, en met ‘n beëdigde verklaring onderneem om geen verdere aandeel in die oorlog te hê nie, sal van ‘n pas voorsien word om na sy woning terug te keer. Hy sal sy eiendom behou en nie krygsgevange geneem word nie.
Gevolg: Sommige moedelose burgers keer huiswaarts. Tot hul onthutsing ondervind hulle gou dat Lord Roberts hom nie aan sy beloftes steur nie. Plase word links en regs vernietig sonder onderskeid tussen vegtende burgers, neutrale burgers, krygsgevange burgers, gesneuwelde burgers en selfs weduwees (soos bevestig deur genl. De la Rey aan pres. Kruger). Ook neem die huissitters se vrouens hulle erg kwalik dat hulle sommer die stryd laat vaar het. Baie burgers keer terug na die kommando.

Proklamasie Junie 1900 – Alle Vrystaatse burgers wat nie uit die stryd wil tree nie, is voortaan verklaarde rebelle teen haar Majesteit. Plaaswonings in die nabyheid van plekke waar burgers spoorlyne en brûe opblaas, of aan telegraafdrade peuter, sal afgebrand word en die burgerlikes krygsgevange geneem word. Mense wat nie die aanwesigheid en bewegings van gewapende Boere-kommando’s aan die Engelse rapporteer nie, se vee sal gekonfiskeer word en hul wonings afgebrand word.
Gevolg: Die verwoesting neem drasties toe. Vroue, kinders en bejaardes word gedwing om te vlug, en hulpbehoewend gelaat.

Proklamasie 9 Julie 1900 – Krugersdorp-distrik se burgers word aangesê om voor 20 Julie oor te gee en ‘n eed van neutraliteit af te lê, by gebreke waarvan al hulle voorrade gekonfiskeer sal word. Dergelike kennisgewings volg in ander distrikte.
Gevolg: Lord Roberts word verplig om gesinne van sommige vegtende burgers wat “in nooddruf verkeer”, “onder versorging” te stel van die Engelse magte. Sodanige haweloses word, teen hulle sin, geskuif na ‘n omheinde area by Mafeking, die eerste kamp vir burgerlikes. Daar ontstaan nog so ‘n kamp, by Krugersdorp, en daarna ander kampe – meeste waarvan spoedig ontwikkel tot volwaardige moord-kampe.

Proklamasie 14 Augustus 1900 – Lord Roberts se valse beloftes word herhaal.
Gevolg: Nog meer hensoppers daag met hul vee en los besittings by die Britte op, hopende op beskerming. Om hulle te probeer huisves word vlugtelingkampe ingerig by Pretoria en Bloemfontein.
Nou is daar duidelik twee soorte in die sg. “refugee”-kampe. Die wat daar is omdat hulle daar wil wees, en die wat teen hulle sin daarheen geneem word. En daar word duidelik onderskeid getref in behandeling.
Eersgenoemde geniet voordele (selfs kamp-aanstellings en betaling) en besliste voordele as dit kom by rantsoene.
Laasgenoemde kry skaars genoeg om van te lewe. Na hulle word verwys as die “undesirables” (ongewenstes), want hulle mans, vaders en broers durf teen die Engelse aanhou veg.
Hierdie ongewenstes durf geen aanspraak maak op menslike behandeling nie. Vrot vleis, suiker besoedel met blouvitrioel en gemaalde glas, bitter klein meelrantsoen, en afgewaterde melk is hul daaglikse lot. Winkel toe kan hul nie gaan nie, want selfs al het hulle ‘n paar weggesteekte ponde, word hul nie toegelaat om die kamp te verlaat nie.
Bitter min gesinne beskik oor meubeltjies, en kookgeriewe is bitter armoedig. Ablusie? ‘n Sloot in die oopte. Behuising? Witseil kloktente, wat bitter min skuiling bied teen haelstorms, bitter winterkoue, stofstorms en skroeiende somerson. Dit blyk dan ook dat kampe opgerig word op terrein met die minste kans op beskutting. Klipperig, ver van skoon water, op die oop vlakte, selfs in moerasgebied…
Tog, vanuit hierdie kampe van verskrikking, waar die dood weldra sy bitter tol eis, stuur die dapper vroue briewe van aanmoediging aan hul mans in die veld. En die bittereinders sit die oorlog voort.

Proklamasie 24 September 1900 – Burgers wat vrywillig hul wapens neerlê, sal nie oorsee gestuur sal word nie, maar in Suid-Afrika geïnterneer word.
Gevolg: Ook hierdie belofte word nie gehou nie. Krygsgevanenes word sonder onderskeid in groot getalle verskeep na Ceylon, Indië, St Helena en Bermuda. Desondanks hou die vroue op die plase steeds aan om, so goed hul maar kan, die burgers te velde te ondersteun.
Lord Roberts gee opdrag dat Britse soldate alle voorrade van vegtende burgers vernietig – dit beteken alle vee, boorde, tuine, landerye, waens en voedsel op die plase, en indien nodig, ook die huise. Verskroeide aarde…

20 Desember 1900 – Lord Kitchener volg Lord Roberts op, en beloof weereens aan burgers wat gehoor gee aan Britse opdragte, beskerming van hul eiendom.
Gevolg: Die bittereinders lag dit af as tekens van Britse militêre onmag en noem dit spottend – ‘n “papierbom”. Teen die tyd weet hulle wat om te dink van die Britse “woord van eer”. Sommige burgers egter, oorweeg oorgawe.

Die Boere swyg nie. Teen-proklamasies word uitgevaardig.

As Lord Roberts op 24 Maart 1900 die Oranje Vrystaat tot Britse gebied verklaar, vaardig Pres. Steyn nog op dieselfde dag ‘n teenproklamasie uit waarin hy beswaar aanteken teen die optrede van Lord Roberts en opnuut bevestig: Die Stryd Duur Voort!
So klink ook Pres. Kruger se teenproklamasie, as Lord Robert die ZAR op 1 September 1900 annekseer: Ons gee nie oor nie!
So ook, beveel die regerings van die Boere Republieke dat dié burgers wat oorgee of die vyand help, se roerende eiendom verbeurd verklaar sal word (met voorwaarde dat, in geval van beslaglegging op eiendom, daar genoeg lewensmiddele vir die onderhoud van die vroue en kinders gelaat sal word).
En so… meld daar nog ‘n getal joiners en hensoppers, hulle met al hulle roerende besittings by die Engelse ”refugee”-kampe aan.
Vir hulle is dit geen vreemde besluit om beskerming te soek by juis dié wat hul volk se ondergang bewerk om hul minerale-rykdom te kan steel nie.

……………………………….

Vandag weer – twee kampe, twee uitkomste.

Die Vrede van Vereeniging het geen vrede gebring nie. Die vyande van ons volk het nooit opgehou werk nie. Britse, Joodse en Amerikaanse agente werk al dekades lank om die Republiek van Suid-Afrika se ondergang te bewerk. Met subtiele propganda-veldtogte word ontevredenheid onder die swart massas bewerk en chaos aangeblaas.
Die Afrikaner word swartgesmeer en gedemoraliseer totdat hy uiteindelik self glo dat hy ‘n onregmatige inwoner is in sy eie land.

Nou word hy ‘hulp’ aangebied deur die einste entiteite wat sy ondergang bewerk. Hy word belowe: As hy sy land oorgee, verlaat, sal hy fisiese en ekonomiese voordeel daaruit trek. Vryheid en vrede, selfs voorspoed, sal sy deel wees.
Niemand sal hom verkwalik vir wat in sy land aangaan nie. Oor familie en vriende, wat nog hul land as besitting probeer behou, hoef hy hom nie verder te kwel nie. As hulle kies om bloed te laat vir wat hul glo, laat hulle.

In die oë van die wêreld het die Bittereinder met die Tweede Vryheidsoorlog ALLES verloor – geliefdes, eiendom, lewensmoontlikheid, vryheid – teenoor die ‘nugtere’ hensoper en joiner, wat oënskynlik, ekonomies soveel behou het. En in die oë van die wereld gaan die Bittereinder weer ALLES verloor en die vlugteling en verraaier ten minste sy kans op ekonomiese en fisiese oorlewing kry – dalk ‘n duur prys om te betaal, maar betaalbaar.

Hulle maak ‘n fout.

Die soort ‘vryheid en voorspoed’ wat deur vlug of te verraai beding word, kom teen ‘n baie duurder prys as wat die vlugteling of verraaier, ooit kan besef. Dit kos hom nie bloot die afgee van minerale-rykdomme en sy kinders se regmatige erfgrond nie.

Dit kos hom sy volk.

Voortaan sal hy homself nie meer tuis voel in sy eie vel nie. Boer is hy nie meer nie. Afrikaner kan hy homself nie noem nie. Hy is iemand, iewers tussenin. Dit kos hom… wie hy is.

En dit kos hom sy vrede.

Tot hierdie bitter besef moes die hensoppers (en joiners) kom.
En tot hierdie besef sal die hensoppers vandag weer kom – dit is in werklikheid die ‘fanatiese’ bittereinder wat ALLES behou wat die moeite werd is: sy geloof, sy selfrespek, en sy volle identiteit as Boere-Afrikaner.
Die bittereinder het vrede met homself want hy het vrede met sy God.

Twee kampe. Twee uitkomste.
Een geskiedenis – wat nooit weer uitgewis kan word nie.

“Lang” Willem Prinsloo se Rykdom

Soos vertel deur mnr. Servaas le Roux in sy boek (titel onderaan hierdie stuk).

______________

Sommige word ryk gebore; sommige verkry rykdom; sommige word rykdom toegewerp. Willem Prinsloo was beslis in die derde kategorie. Na ‘n leeftyd van sukkel, waarin gebrek hom nou nie juis gepla het nie, maar ontbering sy skaduwee was, toe hy byna sewentig was, het hy een môre wakker geword en uitgevind dat die wêreld se rykste goudskat onder sy voete verborge lê.

Goudmyne, opspringende dorpe, al die tierlantyntjies van die “beskaafde” stadslewe was vir “Lang” Willem afstootlik. Hy het ‘n derde van sy plaas verkoop vir wat vir hom ‘n onmeetlike fortuin was, en getrek na ‘n minder bewoonde wêreld. Daar het hy ‘n ander plaas bekom, waar hy tog seker toegelaat sou word om sy dae in vrede te slyt sonder om sy buurman se skoorsteenrook te kan sien.

Nadat die geluk hom egter eenmaal toegelag het, kon hy nie so maklik daaraan ontsnap nie. Die hele Afrika was een stukkie woeste aarde, waardevoller as enige ander stuk ter wêreld, en daar het Lang Willem hom neergelaat op soek na eensaamheid en eenvoud. Ná goud kom diamante. Sy nuwe plaas was die ontstaanplek van die beroemde Premier-diamantmyn, houer van die beroemde Cullinan-diamant, onder die grootste ter wêreld, en die skatkamer waaruit ongemete rykdomme sou voortkom.

Hy is in 1818 in die Kaapkolonie gebore en was as agtienjarige seun onder die eerste emigrante wat hulle anderkant die Vaal gevestig het. Ek het ook verneem dat hy in Hendrik Potgieter se kommando was wat die Matabeles uit Transvaal gedryf het. ‘n Goeie aantal jare was hy olifantjagter, met matige sukses. In 1851 was hy lid van die eerste geselskap Boere wat die Ngami-meer besoek het. Ander in die geselskap was Martinus Swartz, Jan Viljoen en Petrus Jacobs.

Die enigste avontuur in sy jagtersloopbaan wat enigsins buite die alledaagse is, was sy geveg met ‘n gewonde buffel. Hy het die dier gekwes, die buffel het hom gestorm en Lang Willem het hom beetgepak. Ontsaglik sterk soos hy was, kon hy teen ‘n buffel nie veel uitrig nie, en hy is agteruit gedruk teen ‘n boomstam. Gelukkig was dit ‘n dik stam en die punte van ‘n paar gebreekte takke het só uitgesteek dat hy tussen hulle teen die stam kon leun op so ‘n manier dat die buffel hom nie mooi kon bykom nie.

Na ‘n ruk het die buffel teruggetrek toe hy al te veel bloed uit sy wond verloor het, en kort daarna het hy neergesak. Maande daarna het Prinsloo gely aan die inwendige beserings. Drie of vier maande lank kon hy net op krukke beweeg.

Nadat hy ‘n ruk in Transvaal was, het Willem hom op die Hoëveld van die Witwatersrand gevestig op ‘n plaas in die gebeid Oos-Rand. Die naam van die plaas was, as ek reg onthou “Geduld”. In heirdie tyd was sy lewe maar net soos dié van die ander Boere van die omgewing. Hoewel hulle onbesorgd kon lewe, het hulle geen rykdom hoegenaamd gehad nie.

Ek het die Prinsloos 40 jaar gelede goed geken en onthou hoe hulle my vertel het dat op die jaarlikse trek van die Hoëveld na die Laeveld die meisies die skape aangejaag het; die jong mans, natuurlik ook op perde, het die beeste versorg. Dit was hul omstandighede toe die eienaardige wisseling in hul lewe gekom het.

In 1885 en 1886 het skielik geblyk dat die Rand een van die grootste goudvelde ter wêreld is. ‘n Paar jaar later sou dit die grootste van almal wees. 

Prospekteerders het op Lang Willem se plaas gekom, en met sy opvattings van patriargale en landelike eenvoud het hy geweet dat die vrede en rus verby is. Hy het ‘n aanbod van £40,000 vir ‘n derde van sy plaas gekry en dit aangeneem. Dadelik het hy ‘n nuwe wêreld gaan soek en hom neergelaat op die plaas Kaalfontein, sowat 25 myl ten ooste van Pretoria. Dit was in 1888. Die ander twee-derdes van Geduld is mettertyd verkoop vir £90,000.

Ten spyte van sy plotselinge rykdom het Willem Prinsloo ‘n eenvoudige Boer gebly in sy uitkyk op die lewe, besonder taai en streng van aard. Uit niks het hierdie geaardheid beter gelyk as uit sy handelswyse met die geld wat so mildelik in sy hande gestop is nie.

Sy rykdom is aan die Standard Bank in Johannesburg in bewaring gegee. In 1889 het ‘n depressie ingetree. Die Bank van die Kaap die Goeie Hoop en die Westelike Provinsie-bank het ineen gestort. Willem Prinsloo wou niks meer waag nie. Met sy wa het hy die 70 myl of wat na Johannesurg getrek en stilgehou voor die Standard Bank in Commissionerstraat.

Daarbinne het hy sy geld gevra, in goud. Die kassier het gaan praat met die assistent-bestuurder, die assistent-bestuurder met die hoofbestuurder. Die baas het kom praat met hierdie onbuigsame Boer. Vergeefs. Willem Prinsloo wou sy geld hê en teenstand het hom net meer oortuig dat hy maar liewer sy geld moet vat.

Dit is vir hom gebring in seilsakkies, elk met £1,000. Moeisaam het hy dit begin tel, maar die proses was vir hom te lank. Hy het genoeg vertroue in sy medemens gehad om die bankbestuurder se woord te neem dat elk van die sakkies duisend goue ponde bevat; hy het hulle maar op sy wa gelaai en huis-toe gery.

Op sy plaas het hy die goud in ‘n groot kis in die voorhuis gehou. Mense het hom gewaarsku dat daar baie slegte mense na Transvaal gekom het wat hom sou vermoor en beroof. Hy het hom vasberade voorberei op elke gebeurtelikheid. Moderne gewere, almal gelaai, het klaar gestaan, maar sy grootste vertroue was nog altyd op sy ou olifantgeweer gevestig. As hy daarmee gewapen is, kon hulle maar kom.

Wyle mnr. Karel Rood, wat die plaas besoek het met die doel om die res van Geduld vir ‘n maatskappy te koop, het my van een insident vertel.

Willem Prinsloo, die seun van Lang Willem, het in ‘n naburige huis gewoon. Hy sou na Pretoria gaan en het met sy pa kom praat oor sake wat hy daar vir hom moet verrig. Nadat die instruksies gegee is, vra Lang Willem: “Het jy genoeg geld?”

“Ja, Pa.”

“Jy sal miskien meer nodig hê.”

“Nee, ek dink ek het genoeg, Pa.”

“Ek sê jy sal miskien meer nodig hê.”

Sonder praatjies het Lang Willem na die groot kis gestap, een van die sakkies oopgemaak, albei vuiste ingesteek en ‘n dubbele handvol goud uitgehaal. Sonder om te tel het hy dit in sy seun se bladsak gegooi.

Nadat die ander dele van Geduld verkoop was, het die opberging van goud op die plaas baie moeilik geword wanneer in die winter na die Laeveld getrek moes word. Na lange oorpeinsing het Lang Willem besluit om weer van die bank gebruik te maak. Hy wou die geld egter nie deponeer nie. Hy het die soliede brandkamers van die bank deurgekyk en besluit om die goud aan hulle toe te vertrou.

Drie en ‘n half jaar het hy opbergkoste vir sy goud betaal. Uiteindelik het hy ingesien dat die Standard Bank ‘n betroubare onderneming is en sy geld op vaste deposito geplaas.

Almal het hom Lang Prinsloo genoem, maar my pogings om sy lengte presies vas te stel het weer getoon hoe moeilik dit is om akkuraatheid te verkry van mense wat ‘n eenvoudige landelike lewe lei soos die ou Transvaalse Boere. Ek het Joachim Prinsloo gevra hoe lank sy vader was.

“O, so tussen ses en sewe voet.”

“Dis nie naby genoeg nie, Joachim. Kan jy nie ‘n beter skatting gee nie?”

Na ‘n rukkie se dink meen Joachim dat sy vader langer as ses en ‘n half voet was. Toe dink ek aan ‘n plan.

“Was hy so groot soos Lang Jan Erasmus?”

Lang Jan was baie jare die langste man in Transvaal, naamlik ses voet tien duim. Ons het hom altwee goed geken; hy was Lang Willem se kleinkind.

“Nee, hy was nie so groot soos Lang Jan nie.”

“Was hy dan so lank soos Doris Erasmus?” (‘n Broer van Jan.)

“Noudat jy van Doris praat, ja. Hy was presies so groot soos Doris, niks langer en niks korter nie.”

Dit het Lang Willem se lengte aangedui as ses voet agt duim.

Hy het ‘n taamlike klompie kinders gehad, maar party is jonk dood. Toe ek hulle 40 jaar gelede geken het, was die volgende kinders, in volgorde van ouderdom, nog in die lewe: mev. Erasmus, Willem, mev. Meyer, mev. van Dyk, Joachim, mej. Bettie Prinsloo en mev. van Niekerk (Marta).

Lang Willem is in 1898 oorlede. Voor sy dood is die plaas Kaalfontein onder sy kinders verdeel. Dit is op een van hierdie stukke dat die Premier-diamandmyn in 1902 ontdek is; 800 morg is vir £52,400 verkoop. Op ‘n ander deel van Kaalfontein is die diamantregte vir £100,000 verkoop. Na veel gesoek is geen myn op hierdie stuk gevind nie en is die Kaalfontein Diamond Company gelikwideer.

………………………….

Bron: Baanbrekers en Jagters van Suid-Afrika 1760-1890; deur Servaas le Roux; 1940.

Hoe het die Boere weer begin na die Tweede Vryheids Oorlog?

Party Boere het geld en ander goed weggesteek waarmee hulle weer na die oorlog kon begin:

Mnr. C. Strauss:“Oom Dottie het ‘n stroopblik, ‘n groen en goud Lyle’s Golden Syrup-blik wat daardie tyd vier pond inhoudsmaat gehad het, gevat, die geld daarin gesit en die deksel toegesoldeer. Op die plaas was ‘n land, ongeveer 10 ha groot, wat met ‘n klipmuur omring was. Oom Dottie het die blik met sy waardevolle inhoud in die klipmuur versteek.”

Tydens die oorlog het die spesifieke stuk muur omgeval, maar die blik, wel met ‘n paar ekstra duike in, was nog toe en het hy iets gehad om mee te begin.

Mev. Hendrie Louw: “Ouma-hulle se opstal is nooit afgebrand nie. Ná die oorlog kon hulle kosbaarhede soos droë perskes, saad, droë wors en eetgerei wat hulle in die grondmure toegemessel het, gebruik. Hulle het ook goedere wat hulle op hul plaas in ‘n grot versteek het, teruggebring.”

Mev. Mathilda de Kok: “Ná die oorlog het oupa Wille homself en ook sy bure van broodnodige saadkoring voorsien. Verreweg nie genoeg nie, maar ‘n noodsaaklike begin. Vroegtydig het hy sakke vol koring langs ‘n binnemuur in die skuur gepak en toe die muur daarop omgestoot veilig buite sig van enige vyand. Goed weggesteek onder die watervlak in die diep fonteinekuil bokant die populierbos was ook sy perdekar twee jaar lank weggesteek.”

Mev. Rina Steyl: “Oupa Crause het met hul aankoms (op hul afgebrande plaas) sy vrou en seuntjies omarm, gebid en gesê ondanks hul omstandighede loof hulle God en is hulle dankbaar dat hulle almal nog leef en saam terug op hul plaas kan wees. Hulle het sinkplate skuins teen mure van die murasie gepak om vir hulle ‘n woonbare skuiling te maak. Die kinders het by die afgebrande skure en perdestalle gebrande mielies opgetel en dit teen klippe so skoon as moontlik geskuur sodat ouma vir hulle kaboemielies kon maak.”

Tydens die oorlog het Oupa Crause vir sy gesin kom kuier, en net betyds weggejaag voor die engelse hom kon vang. Net voor hy gery het, het Ouma “…uitgehardloop gekom met ‘n vrugtefles en geroep: ‘My man, neem ons geld saam!’ Sy het haar voorskoot afgehaal en die vrugtefles met honderd goue ponde vasgebind sodat Oupa ‘n greep daarop kon hê. Oupa is in ‘n jaaggalop in die teenoorgestelde rigting as wat die engelse gery het na ‘n leegte waar die rooigrasse in hul sade gestaan het. In die gejaag het die gehawende voorskoot geskeur en Fluit het die vrugtefles stukkend getrap. Die goue ponde het tussen die gras gespat, maar Oupa moes voortjaag.”

Na die oorlog het die gesin 99 goue ponde daar opgetel.

Ander Boere het met skenkings van familie, ruilhandel en harde werk weer op die voete gekom:

Mnr. Hendrik Smit: “…Na die oorlog het … oom Hennie en tant Alie Palm … na hul leë plaas, Blackwood, teruggekeer. Van sy beeste en skape het nie een lewende dier oorgebly nie. Die huis en ander buitegeboue was afgebrand. Oor die agterste kamer in die gang het ‘n stuk dak bly hang, wat ‘n mate van skuiling teen wind en weer gebied het…. Hul enigste meubels was twee ysterkateltjies en ‘n paar leë seepkissies. Besorgde familie het ‘n kerriekoeitjie (‘n soort melkkoei van destyds) met ‘n groterige verskalfie vir ‘n bietjie koffiemelk geskenk.”

Mej. Amanda du Plessis: “…Ná die oorlog moes hulle help om afgebrande plaashuise op te bou. Pa moes timmer en bou. Ma het by ‘n gebarste seeppot skaapvet in steentjies seep probeer omsit en die kinders het wolpluisies van doringbome afgestroop om te verkoop….”

………………………..

Bron: ABO 100 Ons lesers vertel, deel 1, 2001.