16 Junie 1900. Konsentrasiekamp-dag.Twee kampe. Twee uitkomste.

deur CJH Vorster

Vandag, op 16 Junie 2026, gedenk ons weer die bitter lyding en dood van 34 000 vroue, kinders en bejaardes – in Britse moordkampe – tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1900-1902).

Waarom dié datum? Want op hierdie dag, in 1900, is die beleid van verskroeide aarde amptelik deur Lord Roberts geproklameer.
Dit was egter hoegenaamd nie die begin daarvan nie. Britse oorlogsbesluite is van die begin af deur Britse proklamasies afgekondig. En plase is van die begin af gebrand, en eiendom na willekeur vernietig.
Proklamasies was egter ‘n belangrike Britse sielkundige wapen. In sy boek, Vryheidstryd van die Afrikaner Vanaf Volksplanting tot Volksversaking, skryf Pieter Möller: “…Enersyds is dit as geelwortel voorgehou dat sagkens met die burgers gewerk sou word, indien hulle daarop reageer en oorgee. Andersyds is dit as afdreiging teen die halstarrige burgers, wat nie wou oorgee nie, gebruik.”

So meld die geskiedenisboeke ‘n rits proklamasies – elk met interessante gevolg, waarvan die duidelikste egter: die skeur in die Volk tussen ‘hensoppers’ en ‘joiners’ (moedeloses en verraaiers) aan die een kant, en ‘undesirable’s’ (bittereinders en getroues) aan die ander kant.

Proklamasie op proklamasie…

Proklamasie 17 Februarie 1900 – Vrystaatse burgers moet ophou om vyandelik teen Britse troepe op te tree, dan sal hul eiendom gerespekteer word. Teen dié wat vyandigheid voortsit, of aan strydende mede-burgers hulpmiddele of inligting verskaf, sal volgens oorlogsgebruik opgetree word. Britse troepe word verbied om private woonhuise te betree, burgerlikes te molesteer of eiendom te beskadig.
Gevolg: Pres. Kruger en Steyn bring onder Lord Roberts se aandag, dat Britse troepe steeds aanhou om burgerlikes (grotendeels vroue en kinders) te molesteer, hele veetroppe se hakskeensenings af te kap, werfdiere dood te kap, huise af te brand en plaasgeboue op te blaas. Verslag word ingedien dat baie van hierdie verwoestende bendes bestaan uit gewapende gekleurde troepe, onder bevel van Britse offisiere en National Scouts (Boereverraaiers) – soos bevestig deur privaat en oorlogs-korrespondensie. Nogtans word dit deur Lord Roberts ontken.
Die meerderheid Boere hou aan met veg.

Proklamasie 15 Maart 1900 – Dié burgers wat oorgee (Boere-offisiere en dié wat hulle “skuldig gemaak het” aan geweld teen Britse uitgesluit) sal Britse beskerming geniet. Burgers wat wapen neerlê, en met ‘n beëdigde verklaring onderneem om geen verdere aandeel in die oorlog te hê nie, sal van ‘n pas voorsien word om na sy woning terug te keer. Hy sal sy eiendom behou en nie krygsgevange geneem word nie.
Gevolg: Sommige moedelose burgers keer huiswaarts. Tot hul onthutsing ondervind hulle gou dat Lord Roberts hom nie aan sy beloftes steur nie. Plase word links en regs vernietig sonder onderskeid tussen vegtende burgers, neutrale burgers, krygsgevange burgers, gesneuwelde burgers en selfs weduwees (soos bevestig deur genl. De la Rey aan pres. Kruger). Ook neem die huissitters se vrouens hulle erg kwalik dat hulle sommer die stryd laat vaar het. Baie burgers keer terug na die kommando.

Proklamasie Junie 1900 – Alle Vrystaatse burgers wat nie uit die stryd wil tree nie, is voortaan verklaarde rebelle teen haar Majesteit. Plaaswonings in die nabyheid van plekke waar burgers spoorlyne en brûe opblaas, of aan telegraafdrade peuter, sal afgebrand word en die burgerlikes krygsgevange geneem word. Mense wat nie die aanwesigheid en bewegings van gewapende Boere-kommando’s aan die Engelse rapporteer nie, se vee sal gekonfiskeer word en hul wonings afgebrand word.
Gevolg: Die verwoesting neem drasties toe. Vroue, kinders en bejaardes word gedwing om te vlug, en hulpbehoewend gelaat.

Proklamasie 9 Julie 1900 – Krugersdorp-distrik se burgers word aangesê om voor 20 Julie oor te gee en ‘n eed van neutraliteit af te lê, by gebreke waarvan al hulle voorrade gekonfiskeer sal word. Dergelike kennisgewings volg in ander distrikte.
Gevolg: Lord Roberts word verplig om gesinne van sommige vegtende burgers wat “in nooddruf verkeer”, “onder versorging” te stel van die Engelse magte. Sodanige haweloses word, teen hulle sin, geskuif na ‘n omheinde area by Mafeking, die eerste kamp vir burgerlikes. Daar ontstaan nog so ‘n kamp, by Krugersdorp, en daarna ander kampe – meeste waarvan spoedig ontwikkel tot volwaardige moord-kampe.

Proklamasie 14 Augustus 1900 – Lord Roberts se valse beloftes word herhaal.
Gevolg: Nog meer hensoppers daag met hul vee en los besittings by die Britte op, hopende op beskerming. Om hulle te probeer huisves word vlugtelingkampe ingerig by Pretoria en Bloemfontein.
Nou is daar duidelik twee soorte in die sg. “refugee”-kampe. Die wat daar is omdat hulle daar wil wees, en die wat teen hulle sin daarheen geneem word. En daar word duidelik onderskeid getref in behandeling.
Eersgenoemde geniet voordele (selfs kamp-aanstellings en betaling) en besliste voordele as dit kom by rantsoene.
Laasgenoemde kry skaars genoeg om van te lewe. Na hulle word verwys as die “undesirables” (ongewenstes), want hulle mans, vaders en broers durf teen die Engelse aanhou veg.
Hierdie ongewenstes durf geen aanspraak maak op menslike behandeling nie. Vrot vleis, suiker besoedel met blouvitrioel en gemaalde glas, bitter klein meelrantsoen, en afgewaterde melk is hul daaglikse lot. Winkel toe kan hul nie gaan nie, want selfs al het hulle ‘n paar weggesteekte ponde, word hul nie toegelaat om die kamp te verlaat nie.
Bitter min gesinne beskik oor meubeltjies, en kookgeriewe is bitter armoedig. Ablusie? ‘n Sloot in die oopte. Behuising? Witseil kloktente, wat bitter min skuiling bied teen haelstorms, bitter winterkoue, stofstorms en skroeiende somerson. Dit blyk dan ook dat kampe opgerig word op terrein met die minste kans op beskutting. Klipperig, ver van skoon water, op die oop vlakte, selfs in moerasgebied…
Tog, vanuit hierdie kampe van verskrikking, waar die dood weldra sy bitter tol eis, stuur die dapper vroue briewe van aanmoediging aan hul mans in die veld. En die bittereinders sit die oorlog voort.

Proklamasie 24 September 1900 – Burgers wat vrywillig hul wapens neerlê, sal nie oorsee gestuur sal word nie, maar in Suid-Afrika geïnterneer word.
Gevolg: Ook hierdie belofte word nie gehou nie. Krygsgevanenes word sonder onderskeid in groot getalle verskeep na Ceylon, Indië, St Helena en Bermuda. Desondanks hou die vroue op die plase steeds aan om, so goed hul maar kan, die burgers te velde te ondersteun.
Lord Roberts gee opdrag dat Britse soldate alle voorrade van vegtende burgers vernietig – dit beteken alle vee, boorde, tuine, landerye, waens en voedsel op die plase, en indien nodig, ook die huise. Verskroeide aarde…

20 Desember 1900 – Lord Kitchener volg Lord Roberts op, en beloof weereens aan burgers wat gehoor gee aan Britse opdragte, beskerming van hul eiendom.
Gevolg: Die bittereinders lag dit af as tekens van Britse militêre onmag en noem dit spottend – ‘n “papierbom”. Teen die tyd weet hulle wat om te dink van die Britse “woord van eer”. Sommige burgers egter, oorweeg oorgawe.

Die Boere swyg nie. Teen-proklamasies word uitgevaardig.

As Lord Roberts op 24 Maart 1900 die Oranje Vrystaat tot Britse gebied verklaar, vaardig Pres. Steyn nog op dieselfde dag ‘n teenproklamasie uit waarin hy beswaar aanteken teen die optrede van Lord Roberts en opnuut bevestig: Die Stryd Duur Voort!
So klink ook Pres. Kruger se teenproklamasie, as Lord Robert die ZAR op 1 September 1900 annekseer: Ons gee nie oor nie!
So ook, beveel die regerings van die Boere Republieke dat dié burgers wat oorgee of die vyand help, se roerende eiendom verbeurd verklaar sal word (met voorwaarde dat, in geval van beslaglegging op eiendom, daar genoeg lewensmiddele vir die onderhoud van die vroue en kinders gelaat sal word).
En so… meld daar nog ‘n getal joiners en hensoppers, hulle met al hulle roerende besittings by die Engelse ”refugee”-kampe aan.
Vir hulle is dit geen vreemde besluit om beskerming te soek by juis dié wat hul volk se ondergang bewerk om hul minerale-rykdom te kan steel nie.

……………………………….

Vandag weer – twee kampe, twee uitkomste.

Die Vrede van Vereeniging het geen vrede gebring nie. Die vyande van ons volk het nooit opgehou werk nie. Britse, Joodse en Amerikaanse agente werk al dekades lank om die Republiek van Suid-Afrika se ondergang te bewerk. Met subtiele propganda-veldtogte word ontevredenheid onder die swart massas bewerk en chaos aangeblaas.
Die Afrikaner word swartgesmeer en gedemoraliseer totdat hy uiteindelik self glo dat hy ‘n onregmatige inwoner is in sy eie land.

Nou word hy ‘hulp’ aangebied deur die einste entiteite wat sy ondergang bewerk. Hy word belowe: As hy sy land oorgee, verlaat, sal hy fisiese en ekonomiese voordeel daaruit trek. Vryheid en vrede, selfs voorspoed, sal sy deel wees.
Niemand sal hom verkwalik vir wat in sy land aangaan nie. Oor familie en vriende, wat nog hul land as besitting probeer behou, hoef hy hom nie verder te kwel nie. As hulle kies om bloed te laat vir wat hul glo, laat hulle.

In die oë van die wêreld het die Bittereinder met die Tweede Vryheidsoorlog ALLES verloor – geliefdes, eiendom, lewensmoontlikheid, vryheid – teenoor die ‘nugtere’ hensoper en joiner, wat oënskynlik, ekonomies soveel behou het. En in die oë van die wereld gaan die Bittereinder weer ALLES verloor en die vlugteling en verraaier ten minste sy kans op ekonomiese en fisiese oorlewing kry – dalk ‘n duur prys om te betaal, maar betaalbaar.

Hulle maak ‘n fout.

Die soort ‘vryheid en voorspoed’ wat deur vlug of te verraai beding word, kom teen ‘n baie duurder prys as wat die vlugteling of verraaier, ooit kan besef. Dit kos hom nie bloot die afgee van minerale-rykdomme en sy kinders se regmatige erfgrond nie.

Dit kos hom sy volk.

Voortaan sal hy homself nie meer tuis voel in sy eie vel nie. Boer is hy nie meer nie. Afrikaner kan hy homself nie noem nie. Hy is iemand, iewers tussenin. Dit kos hom… wie hy is.

En dit kos hom sy vrede.

Tot hierdie bitter besef moes die hensoppers (en joiners) kom.
En tot hierdie besef sal die hensoppers vandag weer kom – dit is in werklikheid die ‘fanatiese’ bittereinder wat ALLES behou wat die moeite werd is: sy geloof, sy selfrespek, en sy volle identiteit as Boere-Afrikaner.
Die bittereinder het vrede met homself want hy het vrede met sy God.

Twee kampe. Twee uitkomste.
Een geskiedenis – wat nooit weer uitgewis kan word nie.