Die Slag van VEGKOP
*13 dae voor ons Vegkopfees
Nadat die laaste Voortrekker deur is, is die “poort” gesluit. Dit was omstreeks 12:00.
‘n Groep Matebeles het dadelik ‘n stuk of 80 beeste omsingel, doodgesteek en aan stukke gekap. Die vleis is op barbaarse wyse binne minute rou verorber, waarna hulle gereed was vir menseslagting. Die Matebele-leër het in drie verdeel, die laer in geheel omsingel en op ‘n afstand van 400 tree gaan sit en rus. Die Voortrekkers het die geleentheid aangegryp om geweerlope uit te spoel en vuurklippe te vervang.
In die onheilspellende “stilte” is gehoor hoe die Matebele hul assegaaie op klippe slyp.
Sommige vroue en veral kinders het van vrees gehuil en is gemaan om stil te wees.
Eers word Godsdiens gehou.
In die angswekkende aanskoue van die toneel rondom hulle was die spanning en benoudheid in die laer geweldig. Daarop roep Sarel Cilliers, wat die Godsdiensoefeninge in die laer gelei het, die hele laer bymekaar en lees uit Psalm 50:15 –
“En roept Mij aan in den dag der benauwdheid; Ik zal er u uithelpen, en gij zult Mij eren.”
Dan bid Cilliers dat God in sy grondelose genade hulle nie in die nood moet verlaat nie, maar help om, indien dit in Sy Raad mag bestaan, hul vyand die hoof te bied.
Met enkele kragtige woorde roep hy élkeen op om dapper en getrou te wees en volkome op God te vertrou.
Man, vrou, kind… selfs die bediendes, het in hierdie oomblikke van grootse angs en benoudheid, in stille eerbiedenis, gekniel, geluister… en moedig geword.
Daarna vra Sarel Cilliers vir Martha van Vuuren om Ps.130 vers 1 in te sit –
“Uit de diepten roep ik tot U, o HEERE!
HEERE! hoor naar mijn stem;”
laat Uw oren opmerkende zijn op de stem mijner smekingen.”
