VERSKEIE TREKGESELSKAPPE VESTIG HUL VOORLOPIG (28)

Voorgeskiedenis tot die Slag van Vegkop, Oktober 1836

*28 dae voor ons Vegkopfees!

Gedurende die drie maande van Potgieter en sy reisgeselskap se afwesigheid het Trekkerfamilies in die Vrystaat en tot langs die Vaalrivier, waar wild volop en die weiding uitstekend was, rustig in klein groepies verspreid uitgespan.
Silkaats se gedugte Matebele-stam se hoofkraal was redelik ver noord-wes by Mosega en Kapain, in die omgewing van die huidige Zeerust.
Die wêreld lê oop, is onbewoon en daar is geen tekens van enige gevaar.
Twee trekgeselskappe het teen Julie 1836 die Vaalrivier deurgetrek en hulle aan die noordelike oewer gevestig.
Dié van Barend Liebenberg het bestaan uit 10 volwassenes en 28 kinders met 9 waens, wat hy naby aan ‘n koppie oorkant die Vaalrivier, ietwat noord-oos van die die huidige Parys, ingerig het. (Die koppie heet later Liebenbergkoppie / Moordkoppie)
‘n Aansienlik groter groep Voortrekkers, waaronder die families Botha (Johannes Petrus), Steyn (Hermanus), Hamman (Jacobus), Kruger (Daniel), Fourie (Stefanus) en Bronkhorst (Lucas), het hulself ook ten noorde van die Vaalrivier ingerig.
Hul staning was digby die drif waar hulle die Vaalrivier oorgesteek het (later bekend as Rensburgdrif), in ‘n oopte reg langs ‘n aantal koppies. (Die plaas heet vandag nog “Kopjeskraal” of Koppieskraal).
Die families van veldkornette Gerrit Bronkhorst, Christiaan Liebenberg en (moontlik) Sarel Cilliers, metgeselle van Hendrik Potgieter se verkenningstog, was ook by dié 2 trekgeselskappe ten noorde van Vaalrivier teenwoordig.

Volgende…