Afrikaanse Musiek in die Rewolusie

Musiek is ‘n wondergawe deur God aan die mens geskenk. Dit is ‘n manier waarop ons ons diepste hartsgevoelens kan uitbeeld in klank, selfs sonder om ‘n woord te sê. Ons kan intense blydskap, bitter woede, pynlike smart uitbeeld en sommer net prettig wees, ‘n klein babatjie aan die slaap sus en bykans elke moontlike emosie of gedagte uitbeeld deur middel van musiek. RENCIA DE VILLIERS kyk in hierdie artikel na die gevare van musiek wat aangewend word as rewolusionêre wapen.

Wat is Musiek?

My woordeboek sê: “Musiek is die kuns om aangename verbindings van klanke te maak waardeur in skone vorm aan gevoelens uiting gegee word”.
Met ander woorde, eerstens is dit “aangename” verbindings en tweedens ‘n “skone” vorm. Klanke moet dus mooi en rein wees om musiek te wees.
Ons lewe vandag in ‘n wêreld waar baie ander klanke egter as musiek deurgaan. Ons dink byvoorbeeld aan die oorverdowende kabaal wat gespeel word voor ‘n sportwedstryd. Die “musiek” waarna ons luister in die tandartsstoel, die klanke wat oor ons uitgegiet word in die supermark, op die skoolkonsert, in die haarsalon, op die TV. Kortom, dis omtrent al “musiek” wat ons hoor.
Ons noem dié soort musiek by ‘n verskeidenheid name: pop,’rave’, ‘rap’, ‘hip-hop’, ‘punk’, ‘techno’, ‘blues’, ‘songs’ en ‘Afrikaanse Rock’.
Ons noem dit ook Afrikaanse Musiek. Nou – ja, hulle sing miskien Afrikaans (as ons sou vergeet van al die Engelse en menigmaal growwe vloekwoorde tussenin) maar is dit musiek? Voldoen dit aan die definisie van musiek? Soms, maar meestal duidelik nie. Maar as dit dan nie musiek is nie, wat is hierdie klanke, waar kom dit vandaan en wat is die doel daarmee?

Musiek as wapen

Die meeste mense is seker reeds vertroud met Pavlov en sy eksperimente op honde. Ek herhaal nietemin kortliks die kernpunte om u geheues te verfris. Hierdie Russiese navorser het in die tyd van die groot kommunis, Lenin se regering, geëksperimenteer met die reaksie van honde op die ritmiese getik van ‘n metronoom.
Telkens wanneer hulle kos kry het die metronoom 120 slae/minuut geslaan. Toe hul daaraan gewoond was, is ‘n ander metronoom teen 60 slae/min gespeel wanneer hul nie kos kry nie. Hulle is dus gekondisioneer om speeksel af te skei as die metronoom vinnig loop en kos te weier as hy stadig tik. Pavlov het gemerk dat die honde nou baie verward raak as hy die metronoom teen 60 slae/min laat tik as hy hulle kos gee. Hy gaan toe ‘n treetjie verder en sit die twee metronome tegelykertyd aan en die resultaat is stuiptrekkings, oë wat omdop en algehele waansin. Dit alles net deur middel van ritme.
Lenin was vreeslik ingenome met hierdie resultaat en het dit begin toepas op sy slagoffers. Dit is verder ontwikkel en die effek geweldig versterk deur ligblitse by te voeg, gekorreleer met die ‘proefkonyne’ se normale polsslag. Absolute hipnose en kunsmatige neurose word so bewerk. Voeg nou hierby woorde waarmee ‘n sekere ideologie oorgedra word en die woorde bly steek by die luisteraar sonder dat hy/sy eers daarvan bewus is — dit word sy/haar ‘eie’ denke.
Asof al hierdie gekombineerde tegnologie nie genoeg is nie, kom daar nog ietsie uit Afrika by. Veral op die platteland hoor mens gereeld die dromme wat tot laat in die nag geslaan word in die lokasies. Dromslanery word gebruik tydens spiritualistiese aksies soos inisiasie-skole en om geeste op te roep. Hier kry mens ook die aanhoudende herhaling van dieselfde klank of woord wat vir ure aaneen geskree, gehuil of gegil word. Die deelnemers aan die ‘fees’ word deur die dromklanke en ge-“sing” van die vrouens in ‘n hipnotiese toestand gebring wat hulle in staat stel om byvoorbeeld vermoeienis of pyn beter te hanteer. Dit word genoem ‘Voodoo’.
Voeg nou Pavlov, psigedeliese flitsende ligte, ‘Voodoo’ en ‘n sanger of twee bymekaar en dié heksebrousel gee ons Popmusiek.
Dis darem om bietjie vinnig gevolgtrekkings te maak, sal sommige dalk sê. Kom ons gaan kyk of dit so vergesog is.

Elvis Presley

Ons begin maar met Elvis Presley — die held van miljoene, veral vroue. Soveel so dat vandag nog jaarliks op sy verjaarsdag spesiale optogte gehou en kranse gelê word. Wie was die man?
Hy is in 1935 gebore, nie so baie lank gelede nie. Sy promotors noem hom: “White Boy with Black hips, to introduce Black Music to America’s White Youth.” Elvis self het gesê: “The colored folks been singing it and playing it just like I’m doin’ now, man, for more years than I know. I got it from them.”
Die kenmerke van Presley se ‘musiek’ was:

  • Redelike sang met meesleurende liedjies.
  • Geweldige volume met flitsende (psigedeliese) ligte.
  • Suggestiewe bewegings wat op die verhoog uitgevoer word.
  • “Beat”, dit wil sê, ‘n oorverdowende ‘doef-doef’.
    Dit was genoeg om enige tiener histeries te laat. Elvis was ‘n deskundige daarin om die sondige drange na vore te bring en as suiwer genot, krag en energie voor te stel. Hy het selfs erken dat hy die bewegings gaan instudeer het by die neger-kunstenaars: dis bewegings wat gebruik is tydens hulle vrugbaarheids-afgodsfeeste!
    Wat het sy luisteraars uit sy konserte gekry? — Histerie en sinlike genot.
    Sy voorkoms? Nie te erg onaardig nie, veral aan die begin van sy loopbaan. Hy het gehou van stywe, blink klere gesny volgens ‘n prent wat ‘n voorstelling van Jesus Christus sou wees.
    Wat het hy gekry? — miljoene der miljoene dollars en hy kon sy ideologie uitdra.
    Wat was sy ideologie?
  • Wanorde en misdaad.
  • Satanisme. Hy verklaar “I always felt an unseen hand behind me”, en Gary Herman skryf in sy boek Rock and Roll Babylon dat Elvis “recognise the Devil’s part in his success”.
  • Vrye ‘liefde’.
  • Die “New Age”-gedagte. Elvis verklaar: “Someday in the near future we will see how the so called ministers of God react as they see their worn out ways and the whole ‘old age’ start crumbling. I can’t wait till this New Age comes…”
  • Vermenging.
    Wat is sy uiteinde? Selfvernietiging deur middel van sy eie ideologie en dwelms.

Beatles

Dan was daar die Beatles en die Rolling Stones — bekende name.
Minder bekend is die feit dat die Beatles hul ontstaan te danke het aan ‘n sekere groep skrywers, die Beatniks, wat ten doel gehad het die omverwerping van alle orde. Hulle was die destydse “vryheidsaktiviste”, stryders vir gelykheid oor kleur, ras en geloofsgrense heen.
Wikipedia beskryf die Beatniks as “the first oppositional culture”: “The counterculture of the 1960s refers to a period between 1960 and 1973 that began in the United States as a reaction against the conservative social norms…The term “beatnik” was applied to non-conformists…”
Hulle sê egter die volgende oor hulself: “We beatniks weren’t radical, we were just aware of the ridiculous standards in society…”
Wat was die kenmerke van die ‘musiek’ van die Beatles?

  • Geweldige volume en psigedeliese ligte.
  • ‘n “Beat” wat die aarde laat skud (Rock).
  • Suggestiewe insinuasies in hul liedjies.
  • Godslastering — veral John Lennon was baie uitgesproke oor sy ‘geloof’.
    Wat het hul daarmee bereik?
  • Hulle dra hul antichristelike, kommunistiese idees oor in die onderbewussyn van die jongmense en ander, ouer mense. (Een jong bewonderaar prewel: “As hulle van iets hou, hou jy ook skielik daarvan; gee hulle nie daarvoor om die, dan verfoei jy dit”).
  • Die “New Age” — “I believe we’re moving towards a new age in ideas and events… There is a young revolution in thought and manner about to take place.”
  • “Vrye liefde”: “vryheid” sonder perke in ‘n sogenaamde “nuwe wêreld”. Dink maar aan Lennon. Hy sê, na hy en sy vrou Yoko in die openbaar hul vuil lewe bedryf het: “It will be like the garden of Eden, a new Paradise for the youth of the Western World, because…” (en dan haal hy aan uit die Bybel) “En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hulle nie geskaam nie.” In wese verkondig hy dus dat as die mens in wellus en onwelvoeglikheid lewe, hy weer sondeloos sal wees. Christus en die sondeval word dus heeltemal verwerp.
  • Vermenging.
  • Propageer revolusie.
    En natuurlik die miljoene wat in hul geldkoffers land. Hul voorkoms? Vuil met stinkende, lang hare en stywe suggestiewe klere.
    Hulle uiteinde? Selfvernietiging deur middel van dwelms, drank en selfmoord.
    (Eienaardig genoeg kan mens deesdae oor ‘n bekende volksgerigte radio-stasie gereeld na die Beatles luister. Luister ‘n slag na die wóórde).

Ander popsangers

Kom ons dink aan nog ‘n populêre sanger van daardie tyd. Hy lyk nogal ordentlik, Neil Diamond.
Hy verwerf veral bekendheid met die komponering van die musiek vir die rolprent Jonathan Livingston Seagull— ‘n subtiele uitbeelding van die Oosterse godsdienste en transendentale meditasie. Hy laat geen twyfel oor sy beskouing van Christus nie. Op sy plaat “Top Root Manuscript” vergelyk hy Christus met ‘n swart vrou uit Afrika. Die woorde “When rhythm and blues lost (s)ensuality for me. I fell in love with a woman named gospel. We met secretly in the churches of harlem, and made love at revival meetings in mississippi. And loving her as I did, I found a great yearning to know of her roots, and I found them and they were in Africa, and they left me breathless.”
Neil Diamond was ‘n topverkoper in Suid-Afrika. Anton Goosen was die Huisgenoot se Tienerdebat skrywer in 1976. Hy skryf: “Dink jy aan die naam Neil Diamond, dink jy aan ‘n rits treffer deuntjies. Daar is Sweet Caroline, Crack’ling Rosie, Longfellow Serenade…” (Laasgenoemde handel oor meditasie). Neil Diamond het onlangs weer op die toneel verskyn. Hy hou konserte, skryf liedjies en loods liefdadigheidsaksies veral vir die ‘minderbevoorregtes’. Tans is daar ‘n uitstalling in die Grammy museum aan hom gewy.
Madonna het nie veel bekendstelling nodig nie. As uitgesproke Satanis en ook as ‘vryheids-aktivis’ is sy berug. Sy’s ook lief daarvoor om uit die Bybel aan te haal.
Sy is tans besig met die skryf van ‘n reeks kinderboeke, “The English Roses”— ‘n Boekresensie in die Guardian lees as volg: “Madonna’s kabbala teacher suggested she share her spiritual wisdom in books for children…”
Michael Jackson was onlangs hoofnuus as gevolg van sy skielike dood. Hy was ‘n Neger wat tog nie “wit” genoeg kon word nie en vermenging sterk gepropageer het. ‘n Beskrywing van ‘n Jackson-video lees as volg: “The Jackson Brothers appear as messianic spirits charged with leading people over the rainbow, into a better world. Floating above the earth like seraphs, the Jacksons begin to sing, and as they do all the people below — blacks, whites, and asians — join hands and see a vision of a peacock in the sky”.

Alternatiewe Afrikaanse musiek

Nou moet ons eers ‘n oomblik stilstaan. Die doel van hierdie artikel is nie om uit te wy oor die buitelandse kunstenaars nie, maar om die lyn deur te trek na eie bodem.
Is ons plaaslike kunstenaars anders? Het hulle ‘n ander doel voor oë? Gaan dit vir hulle bloot daaroor om musiek te maak? Kom ons noem ‘n paar bekende name: Koos Kombuis, Anton Goosen, Valiant Swart, Karen Zoid, Steve Hofmeyr, Jackie Louw, Chris Chameleon… Ons ken hulle. Hulle val nou nie noodwendig in almal se smaak nie, maar maak tog — darem — interessante, Afrikáánse musiek?
In Suid-Afrika het popmusiek op dieselfde tyd as in die buiteland sy opwagting gemaak, maar aanvanklik was die kunstenaars hier net bereid om in Engels te sing. Afrikaans was slegs geskik geag vir volksliedjies en kerksang. Dit het egter verander in die 1980’s.
Ek haal aan uit ‘n rubriek geskryf deur Theunis Engelbrecht: “Wat wel ‘n positiewe ontwikkeling in Afrikaanse musiek is, is die gebruik van al hoe meer uiteenlopende musiekstyle — van punk tot techno en psigedelies. En ook harde, industriële musiek, soos dié van Battery 9.” Waarop die skrywer hierdie musiek by die naam noem, naamlik “verstrooiingsmusiek”!
Klink dit nie baie soos Elvis en sy maters nie?
Nog ‘n persvrystelling van Dirk Uys op 20 September 2001 na aanleiding van ‘n beoogde Laserplaat naamlik “Vloek van die Kitaar”, lui: “Ek het besluit op die titel ‘Vloek van die Kitaar’ omdat dit die gebeure van die laaste 21 jaar die beste versinnebeeld. Die skrywer en sanger van hierdie apokaliptiese meesterstuk, Valiant Swart….” (Terloops: apokalipties dui op totale vernietiging en rewolusie.)
Die kunstenaars wat op Vloek van die Kitaar verskyn is Anton Goosen, Koos Kombuis, Valiant Swart, Piet Botha, Bernoldus Niemand, Springbok Nude Girls, Beeskraal, Akkedis, Spinnekop, Battery 9, Brasse Vannie Kaap, Karen Zoid en Raaskopleef.
Die skrywer en van bogenoemde ‘kunstenaars’ was lid van die Voëlvry-beweging, ‘n uiters liberale organisasie, ook genoem “die Alternatiewe Afrikaanse Rockbeweging.” waarvan die primêre doel was “om te help om ‘n demokrasie in Suid Afrika te bewerkstellig”. Hierdie organisasie of groep was dus hoofsaaklik gemoeid daarmee om op die gebied van musiek in Suid-Afrika rewolusie tot stand te bring. “Ons het ons doel bereik…” aldus Dirk Uys. Die Voëlvry beweging het egter nie net uit musikante bestaan nie maar ook uit skrywers en digters. Herinner dit ons nie sterk aan die destydse Beatniks nie?
‘n Afvaardiging van die groep was nou betrokke by die aanvanklike samesprekings met die ANC, in Dakar — die sogenaamde ‘watervalberaad’. “Ek is na die Voëlvry toer deur IDASA (Instituut vir ‘n Demokratiese Alternatief vir Suid Afrika) aangestel om ‘n subversiewe Afrikaanse kunstefees te beplan en te organiseer. Die skielike ontbanning van verbode politieke partye en organisasies asook die vrylating van Mandela in Februarie 1990 het my projek oorbodig gemaak en ek kon kies om in die organisasie aan te bly of om te bedank en aan te gaan met my Rock ‘n Roll loopbaan.” Johannes Kerkorrel skryf later: “We are liberating the language. If you can make a language into rock and roll, it can’t be an oppresive language anymore. It’s got to be free. It’s just an African language like any other…”
Hulle is dus “bevryders”, “vryheidsvegters”, voorstanders van die New Age. Soos hul openlik erken: “Nie een van ons wil voorskriftelik wees nie — rock ‘n roll bots in elk geval direk met enige vorm van konvensie.”

Oor hulle verbintenis met die ANC spog Koos Kombuis: “…our contribution to their cause must not be underestimated, because at a crucial point in history we took from government its greatest power base, the youth.” En verder: “Die belangrike rol wat die Voëlvry-beweging as ‘n protesbeweging gespeel het, kan nie onderskat word nie. Dit het vernuwing in die Afrikaanse musiek wêreld gebring en baie van vandag se “jong” kunstenaars is in navolging van die Voëlvry-musikante.”

Die nuwe musiekhelde

Teen hierdie agtergrond kan ons nou gaan kyk na die hedendaagse’helde’ op die musiek/rock verhoog.
Steve Hofmeyr word voorgehou as dié Taalstryder, bevryder, na volgenswaardige voorbeeld, Christen ensovoorts. Nietemin is hy kort-kort in die nuus oor sy onsedelikheid, wandade en perversiteit.
Reeds in sy vroeë jare as akteur haal hy die nuus met sy betrokkenheid by “Joseph and his Amazing Technicolor Dreamcoat”.
Net so ‘n vinnige opmerking oor hierdie produksie. Die musiek is geskryf deur Andrew Lloyd Webber, wat ook die lirieke vir “Jesus Christ Superstar” geskryf het. Dit is luide, lawaaierige ‘Rock’ en bespot en verdraai die Bybelse geskiedenis van Josef. Sy broers kom byvoorbeeld by die paleis aan, suip hulself smoordronk en word getrakteer op skamel geklede danseresse. Jakob self is ‘n popsanger. Die grootste leuen word verkondig deurdat, volgens die produksie, Josef swig voor die verleiding van Potifar se vrou. Hy kruip agter haar aan soos ‘n honger hond, en toe hy gevang word, word hy in die tronk gegooi. Met die uitleg van die droom aan die koning sê Josef hoekom hy die droom kan uitlê: “Anybody can make it if they got a lucky break”.


Steve se soort kuns?

Hoe klink sy eie musiek?

  • Geweldige volume en psigedeliese ligte. ‘n “Beat” wat die aarde laat skud (ROCK).
  • Suggestiewe insinuasies in sy liedjies.
  • Godslastering — gaan maak gerus ‘n draai op sy webwerf.
    Wat bereik hy daarmee? Hy dra die antichristelike, kommunistiese idees oor aan die onderbewussyn van ons Afrikaner jong mense. Die New Age — ‘vryheid’ sonder perke in ‘n sogenaamde “nuwe wêreld”.
    Hy propageer rewolusie.
    Enige idee hoeveel Steve verdien met sy optredes? Sy voorkoms? Deurmekaar met hare punt in die wind, stywe onwelvoeglike klere. Is hy werklik ‘n taalstryder en volksheld?

Wie is Steve Hofmeyr se vriende?

Kurt Darren se bekendste liedjie is seker “Loslappie” — Hy is die voorbeeld en held van vele, veral vroue. Chris Chameleon (self ‘n popsanger van formaat en nou ook rubriekskrywer van die byvoegsel tot Beeld, By) skryf in Junie 2009: “Kurt Darren… die maatstaf waaraan enige Afrikaanse aspirant-musiekkunstenaar met platinum-drome homself kan meet… die koning van Afrikaanse pop, die Michael Jackson van Afrikanerklanke… “
Jakkie Louw, Jak de Priester, Amanda Strydom, Bok van Blerk…Noem maar op, hulle dra almal dieselfde ideologie oor. Wanorde,wellus, bandeloosheid, rewolusie, New Age.
Ek wil graag u aandag ook vestig op ‘n buitelandse kunstenares wat in Suid-Afrika baie gewild is en ook veral saam met Steve Hofmeyr sing: Dana Winner. Haar musiek het nogal mooi wysies en getuig van goeie sang. Baie van ons ouer mense vind haar musiek aangenaam.

Maar hoor wat sing sy: Een van die snitte op haar CD: “In love with you” se woorde is as volg: “I know a grand new age is dawning… Follow your star till rainbows unfold and we’ll (be) one under the sun, one, till the end of the road. Mother Nature will help us, let her smile upon us…”
Dieselfde ideologie? Verseker.
Ten slotte kyk ons na wat die ‘ouer Afrikaanse sangers’ te sê het oor die ‘nuwe generasie’ sangers: Ek haal vir Koos Kombuis aan:
“Soos destyds met Voëlvry, het die beweging ‘n spokesman; ja, dit is die ietwat verbaasde, gekneusde, teësinnige gesig van Bok van Blerk wat nou ons tydskrifvoorblaaie versier. Soos Kerkorrel destyds… Luister na Bok van Blerk. Luister na die stem van die jeug. Hier kom iets groter… as die klein groepie drug addicts van Voëlvry… Ek is bevoorreg om dit te kan sien gebeur. En ek is nog jonk van gees en kinderlik genoeg om te glo …dat ons nog op pad is na die Beloofde land.”

En dan sluit hy af met: “Amen, ja, kom, Azania.”

Slotsom

Ons sien dus dat rock-musiek nie sommer net ‘n nuwe, lekker, loslyf styl is nie maar met ‘n doel ontwikkel is, naamlik die vernietiging van alle orde om ‘n sg. New Age daar te stel. Waar daar geen grense, geen bande, geen beperkings is nie.

“Wat dring en dryf die wilde heidendom,
dat volke raas in opgewondenheid?
Gedugte konings staan gereed alom,
en wêreldgrotes raadslaag vir die stryd,
om God almagtig na die kroon te steek
en saam teen sy Gesalfde op te staan.
Hul sê: “Kom nou, laat ons hul bande breek
en van hul juk vir altyd ons ontslaan!”

Psalm 2 (soos berym deur Totius

Eenvoudig gestel is die duiwel se plan dus om juis ons (en veral die jeug) wat interessante, opwindende nuwe Afrikaanse musiek soek om na te luister, te gebruik om God subtiel te laster, en die ‘bande’ te ‘breek’.

Kyk maar net rondom ons:

  • Snaakse haarstyle wat punt in die wind te staan (wanorde).
  • Te stywe, nousluitende klere (mans en meisies) om immoraliteit te verkondig as reg en die geslagverskille te laat verdwyn.
  • Suiwer taalgebruik is uit die mode en vloekwoorde is nou aanvaarbaar as ‘beskrywende taal’.

Laat ons hier en nou besluit om ons nie te laat gebruik om die New Age te propageer nie. Ons sal nie toelaat dat ander mense van ons swape en harlekyne maak nie, of ons inspan vir hul rewolusionêre doel nie, maar ons lewe rig volgens die Bybelse rigsnoer van Psalm 119:9: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.”

Waarna moet ons dus soek? Na die suiwer en rein verbindings van klanke, waardeur in skone vorm aan ons gevoelens uiting gegee kan word.