*29 dae voor ons Vegkopfees!
EKSPEDISIE NA LOUIS TRICHARDT EN HANS VAN RENSBURG
Op 25 Mei 1836 vertrek Potgieter en Cilliers en 9 ander burgers vanaf Vetrivier om met Louis Trichardt en Hans Van Rensburg kontak te maak, asook die binneland te verken.
Dit was met die verwagting om ‘n weg na die Portugese hawens aan die see te vind.
Die verkenningskommisie sou in drie maande 2400km te perd aflê.
Op 23 Junie 1836 kom hulle aan op Soutpan aan die westelike punt van die Soutpansberg, waar Louis Trichardt sy semi-permanente staning gehad het.
Daarvandaan het hulle ooswaarts gereis, ook om na die vermiste Van Rensburg-Trek te soek, deur die Limpopo-rivier die huidige Mosambiek binne.
Toe hulle op Portugeessprekende Swartes afkom wat op soek was na olifanttande vir skepe langs die ooskus hawens, was Potgieter en sy metgeselle tevrede dat die Portugese hawens bereik sou kon word.
Op 17 Augustus keer hulle vanaf Soutpan terug na hul gesinne in die huidige Vrystaat.
Hendrik Potgieter stuur sy broer, Hermanus, vooruit met die boodskap dat die Trekkers hom solank noordwaarts tegemoet moet trek.
