*27 dae voor ons Vegkopfees!
SILKAATS SE ONDERDUIMSHEID
As Matebele-koning het Mzilikazi (Silkaats) in Maart 1836 ‘n gesantskap Kaapstad toe gestuur en ‘n “vredesverbond” met die Britse Goewerneur Sir Benjamin D’Urban gesluit, waarvolgens hy beloof het om voortaan as ‘n “beskaafde vors” te regeer.
Intussen het sy spioene en bendes die gang van die waens en die groot troppe vee van die Voortrekkers dopgehou.
Silkaats was heeltemal op hoogte van die Groot Trek deur die Voortrekkers na die binneland.
JAGGESELSKAP ONDER LEIDING VAN STEPHANUS ERASMUS
‘n Jaggeselskap, onder leiding van Stephanus (SP) Erasmus, ‘n veldkornet van die wyk Kraairivier (huidige distrik Aliwal-Noord), was suidwaarts aan die terugkeer en het hul kamp ingerig nog sowat 5 uur te perd (±40km) vanaf die 2 groepe aan die Vaalrivier.
Erasmus was vergesel deur sy 3 seuns, Daniël, Pieter en Stephanus (jnr), Piet Bekker en seun, Carel Kruger en Jan Claassen.
By hulle was ook ‘n aantal kleurling-bediendes, 5 waens, 80 osse en 50 perde.
MATEBELE-AANVAL OP DIE ERASMUS-KAMP
Toe die Voortrekkers ver genoeg die binneland binnegetrek het, stuur Silkaats op 15 Augustus 1836 meer as ‘n 1000 impi’s uit onder leiding van Kalipi, een van sy 3 hoofindoenas (die ander 2 was Mkabalonta en Nkumbati), om die Trekkers “in sy jagveld op te eet”.
Op (nagenoeg) Maandag 22 Augustus 1836 het veldkornet Stephanus Erasmus se jagparty, soos hulle gewoonte was, vroeg oggend in 3 groepe uitgery in verskillende rigtings om te jag.
Die waens was onder toesig van sy gekleurde volk gelaat.
Piet Bekker en sy seun het tussen Matebele-impi’s wat in droeë gras geskuil het ingery, maar het betyds hul perde omgeruk en ontsnap.
Jan Claassen, wat nie ver van hulle af was nie, is egter nooit weer gesien nie.
Toe Stephanus Erasmus en sy seun Pieter teen die namiddag na hul kamp terugkeer merk hulle dat ‘n afdeling van sowat 600 skreeuende Matebele-vegters hul kamp omsingel het en besig was om die bediendes te vermoor.
Later is verneem dat Carel Kruger en Erasmus se 2 ander seuns, Daniel en Stephanus (jnr), sowel as ‘n aantal bediendes, deur Kalipi gevange geneem was (blykbaar om die waens en perde aan te dryf) en, oppad daarheen of na hul aankoms by Mosega, om die lewe gebring is.
Volgende…
