Tag Archives: Nasionale Party

Die Waarheid oor Apartheid.

In Oktober 2025 is ‘n reeks voordragte deur die Willem Petzer-groep op YOUTube geplaas onder die titel, WAARHEID OOR APARTHEID.

Kom ons kyk na 10 Okt se plasing – 1948: Die Apartheid wat geïmplementeer is, is nie die Apartheid wat die mense voor gestem het nie.

In die beskrywing staan:

“Die mense wat in 1948 vir die NP gestem het, wou nie net rasseskeiding hê nie. Hulle wou selfbeskikking hê: hul eie republiek, ‘n gedesentraliseerde Volkstaat met hul eie toekoms. Maar hulle het gesentraliseerde gemengde stede gekry, met slegs aparte woonbuurte. “

Die woorde “gesentraliseerd” en “gedesentraliseerd” word deesdae dikwels gebruik deur ‘waarheids’-ridders soos Ernst Roets, Carl Boshoff, en ja, Adi Schlebush (skrywer van Petzer se Reeks oor Prof. Stoker en ook lid van die Petzer- ‘navorsingspan’).

Wat word bedoel met ge(de)sentraliseerd?

In die voordrag kry ons bietjie nader insig in wat hulle bedoel daarmee.

Gedesentraliseerd = “die ou Republikeinse ideaal” van ‘n “groter aaneenlopende volkstaat met eie politieke selfbeskikking”, “groot streke wat slegs vir die Afrikaner of die Boer” is, “groter aaneenlopende gebiede met eie plaaslike soewereiniteit”. 

Gesentraliseerd = ‘n “apartheidstaat, wat verskillende besture het”, wat “al minder en minder soos ‘n landstreek met verskillende volkstate en stamgebiede begin lyk en al meer en meer soos ‘n multi-kulturele maar gesegregeerde eenheidstaat”; “…mikro-klein afbakeninkies in gemengde steden en dorpe… waar swart en wit eintlik langs mekaar gebly het en net met ‘n pad van mekaar geskei is”; ‘n “Eenheidstaat” waar persone van verskillende rasse nie mag ondertrou nie (“is dit werklik nodig?”, word gevra); ‘n “stedelike Apartheid waar almal eintlik saam in ‘n stad bly maar net in verskillende areas…”; “versplinterde woonbuurte of woonblokke of beskermde sones”.  “…apartheids-integrasie met gepaardgaande sosiale integrasie”; waar die Afrikaner die ander Suid-Afrikaners wil “domineer”.

Verskillende Apartheidsbeleide

Hierdie “apartheidstaat” het, volgens Petzer se voordrag, tot stand gekom in Malan en Strijdom se tyd, en staan teenoor die Republikeinse ideaal soos verpersoonlik in die ou Boere-republieke.

Daar word beweer dat hierdie twee Afrikaner-leiers stelselmatig afgewyk het van “die selfbeskikkingsideaal”, en dat dr. Verwoerd in werklikheid die Apartheid van Malan en Strijdom wou beeindig, en “terugbeweeg na die selfbeskikkingsideaal”.

Om hierdie stelling te regverdig, word ‘n ernstige skommeling in die tydsverloop van die geskiedenis gemaak. Die ‘historiese tydstaat’ wat, volgens Petzer, juis so belangrik is om die waarheid te bevestig, word dan in hierdie voordrag ernstig aangetas. 

Geskiedenis-volgorde verander

Die volgorde word deur die Petzer span verander.

En die gebeure in die geskiedenis netjies omgekeer.  

Die vraag is waarom Petzer se navorsingspan dan so misvat? So moeilik is dit tog nie om feite op te soek nie?

Wat was dan die Nasionale Party se Beleid van 1966?

Dit wat in die voordrag beweer word oor Malan en Strijdom is in werklikheid van toepassing op Vorster. Dit is maklik om die beleidsgeskiedenis van die Nasionale Regering van voor 1948 af, tot en met 1966, te gaan opsoek.

Die Nasionale Party het in Januarie 1966 ‘n Brosjure uitgegee met die naam Vrugte van die Nasionale Bewind.

Wat was die Nasionale regering se beleid na 1948? Ons haal aan:

Strijdom, Malan Verwoerd – een van sin en strewe(Bladsy 3):

“Die nasionale party is trots op sy eerste ministers wat hy sedert 1948 aan Suid-Afrika gegee het. Hul onkreukbaarheid, hul liefde vir volk en vaderland en hul toegewyde en voortreflike dienste aan Suid-Afrika sal altyd uittroon as besondere hoogtepunte in die geskiedenis van die land.

Eers was dit dr. D.F. Malan wat die bewind in 1948 van genl. J.C. Smuts oorgeneem het… …dr Malan het nie geweifel nie… Dit bewys die volk se vertroue in die Nasionale Party.

Dr Malan het die tuig op 30 Nov. 1954 neergelê en is opgevolg deur adv. JG Strijdom wat op 24 Aug. 1958 oorlede is. In die  vier jaar het hy veral die stryd oor kleurlingstemreg tot oplossing gevoer, terwyl hy die republikeinse ideaal sterk op die voorgrond gehou en daarmee die Party tot groter hoogtes gevoer het.

‘n Toespraak deur dr DF Malan by Winburg in 1937 is hier te lese wat duidelik Malan se volksgerigdheid en spesifiek sy geloof in God aandui. Die geskiedenis van JG Strijdom word ook hier in die artikel in kort behandel wat bogenoemde stellings deur die nasionale party van 1966 onderstreep.

Op 3 September 1958 is dr. H.F. Verwoerd as sesde Eerste Minister van Suid-Afrika aangewys en sommer van die staanspoor af het hy hom geopenbaar as kragtige leier wat die Party tot groot hoogtes sou voer. Dit het hy gedoen, nie alleen deur die Party nie maar ook die volk as geheel tot ‘n groter eenheid saam te smee.”

Die twee paaie (Bladsy 4):

“In 1959 het dr Verwoerd… in die Volksraad… met oortuiging daarop gewys dat daar in Suid-Afrika net een keuse is nl. ‘n keuse tussen

OF die blanke sy eie gebied te gee en die Bantoe syne,

OF om almal deurmekaar een vaderland te gee wat die Bantoe uiteindelik sal regeer.

(Lees dit weer! – Red)

Langs hierdie weg, aparte gebiede, wil die Nasionale Party die toekoms van die Witman in Suid-Afrika beveilig.”

Billikheid en selfbeskikking vir Bantoe (Bladsy 27):

“Die Nasionale regering, as voog van die Bantoe binne die Republiek, maak ‘n intensiewe studie van hierdie belangrike saak en glo die oplossing lê in ‘n beleid van billikheid en regverdigheid teenoor beide Blank en Bantoe.

Daarvolgens word die Bantoestuislande ontwikkel om GROTER SKEIDING teweeg te bring en binne die blanke gebiede word beter beheer oor die beweging en verblyf van die Bantoe toegepas. … Hierdie beleid word gevolg ook om groter veiligheid vir die Blanke te skep en die HEERSKAPPY vir hom in sy eie gebied te verseker. (aka selfbeskikking – CV)

Die Nasionale Party staan nog altyd getrou by sy verkiesingsmanifes wat in 1947 uitgegee is en waarin gesê is:

“Die Party staan vir die handhawing en beskerming van die blanke bevolking van Suid-Afrika as ‘n suiwer blanke ras, die handhawing en beskerming van die inheemse rassegroepe as APARTE volksgemeenskappe met moontlikhede om IN EIE gebiede te ontwikkel tot SELFVERSORGENDE volkseenhede en die aankweking van nasionale trots, selfrespek en wedersydse agting by die verskillende rasse van die land.”

Aardrykskundige skeiding (Bladsy 28):

“Tweedens word aardrykskundige skeiding toegepas. Blankes het grondbesitreg in die blanke gebiede. Die Bantoe het dit weer in hul tuislande, WAARHEEN HULLE  aangemoedig word om te GAAN teneinde in hul volkseie opgeneem te word.

Derdens word maatskaplike apartheid deurgevoer. Dit geld terreine soos werkafbakening in die arbeidsveld, universitêre onderwys, aparte woongebiede, VERWYDERING van swartkolle in blanke gebiede EN witkolle in Bantoegebiede.” 

Terugvloei van Bantoe na eie gebiede (Bladsy 29):

“Fisiese ontwikkeling in die tuislande word op omvattende skaal behartig, ten einde groter drakrag aan die gebiede te gee. Dit word gedoen om al meer Bantoe in hul land van ‘n heenkome te verseker en om so ‘n TERUGVLOEI te bewerkstellig van Bantoe wat in die blanke gebiede ‘n lewensbestaan gaan soek het. Die vyfjaarplan… maak voorsiening vir dorpstigting, besproeiing, bosbou, grondbewaring, graan- en veselverbouing en die hou van veevendusies.

…Die Bantoe kan in die dorpe huise huur of koop en so grondbesitters in sy tuislanddorpe word.”

Konsolidasie (Bladsy 54):

Dit is beleid dat swartkolle binne blanke gebiede uitgekoop word, teneinde die blanke gebiede te konsolideer. Vir hierdie doel is gronde ter waarde van R2,628,000 oor die laaste vyf jaar uitgekoop.

Gesonde Rassebeleid.

Na ‘n paar baie insiggewende paragrawe onder die hofies Ekonomiese ontwikkeling, Grensnywerhede, Bantoevestiging, Vreemde Bantoe, Agterbuurtes en plakkerskampe, Noodleniging en Belasting, sluit die hoofstuk af met die volgende opsomming:

“Die grondslag van die beleid is vreedsame naasbestaan tot voordeel en veiligheid vir al die verskillende rasse, die Blanke nie die minste nie.” (bl. 31)

Dit is dus duidelik dat, terwyl groepsgebiede ingestel is, “om die ongewenste deurmekaarboerdery van verskillende rasse aan bande te lê” (bl. 84), die uiteindelike ideaal was:

“opheffing – nie onderdrukking nie… rasse-vrede… tot voordeel van blank en nie-blank.” (bl. 68).

Verdere Beweringe

Petzer (se teks-skrywer) beweer:

Die jaloesie, konflik en ongelukkigheid wat swartes en anderskleuriges in opstand gebring het, was die direkte gevolg van omstandighede, geskep deur die apartheidsbeleid van die “liberale” Afrikanerleiers, Malan en Strijdom.

Nee, dit was nie. Die konflik het nie so “geword” van verkeerde beleid nie. Dit is teweeggebring – met baie moeite, geld en harde werk deur kommunistiese agente agter die skerms.

Malan en Strijdom se beleid was nie liberaal nie. Inteendeel, dit was die aanvang van Verwoerd se beleid. Geen verskil, alleen voortbouing. Hulle het in dieselfde voetspore is gevolg.

Wie se voetspore?

As dr. Verwoerd wou, kon hy ook op die Parlementstrappies verklaar het, dat hy in die voetspore van Malan en Strijdom sal volg. Hy sou nie gejok het nie, want hy het.

En Malan en Strijdom kon dieselfde verklaar het van Presidente Kruger en Steyn. Want dit was die voetspore waarin hulle gevolg het, so goed hulle kon. Die herstel van die Boere-Republieke was die doel en ideaal van al hierdie manne.

Baie dinge sou egter verander moes word, voor daardie ideaal bereik kon word. Want omstandighede het ondertussen verander.

Daar moes rekening gehou word met die erfenis van ‘n Brits-afgedwingde parlementêre stelsel. Daaraan sou verander moes word, stadig en deeglik, alvorens die Republiek sy ideale gestalte verkry. Hierdie proses is begin toe die NP aan bewind gekom het, en  stelselmatig voortgesit, tot en met dr. Verwoerd se dood.

Onkunde of moedswilligheid?

Hiervan word niks genoem in die voordrag nie. Waarom nie? Waarom word hierdie werklikhede deur Petzer (se teks-skrywer) geïgnoreer?

Waar kom hy daaraan om Vorster se skande op Malan en Strijdom te probeer afsmeer?  

Alles wat hy aan Malan en Strijdom toedig, is dit wat in werklikheid deur Vorster gedoen is, lank ná Malan en Strijdom van die toneel af is, en nádat Dr’s Verwoerd en Albert Hertzog en mnr. Jaap Marais uit die weg geruim is.

Dr Verwoerd se Hoek-verslag, die verslag wat op die dag van sy dood in die Volksraad behandel sou word, sou die Geldmag se sabotasie-skandes ontbloot het en stopgesit het. 

Ons weet vandag dat die Hoek-verslag deur Vorster en sy veiligheidspolisie weggesluit is, omdat dit die Geldmag veel skade sou berokken. Daar het die Geldmag egter nie gestop nie. Die Republikeinse strewe moes be-eindig en omgekeer word.

Uit die geskiedenis is dit duidelik.  

Die Geldmag het sukses behaal.  

Alles is goed vooruit beplan en uitgevoer: die moord op dr Verwoerd, die aanstelling van John Vorster, die kaping van die Nasionale Regering, die subtiele vergiftiging van die volksgemoed teen Albert Hertzog en Jaap Marais, die kaping van die Apartheidsbeleid,  en die verarming van die volk en verryking van die vyand tot op die punt waar ons mense die hande in die lug gegooi het en “Apartheid” verwens het, want “dit werk nie”.

Dit was HIERDIE sogenaamde “Apartheid” waarvoor “die mense” NIE in 1948 gestem het nie. Vorster se gekaapte kwasi-“Apartheid”. Vorster se “een Maori”-beleids-verraad.

Watter Apartheid is WEL voor gestem? 

Waarvoor “die mense” WEL gestem het, was dit wat Malan en Strijdom toegepas en uitgebou. Malan en Strijdom HET uit en uit die Republikeinse strewe gevolg en uitgebou, Strijdom nog meer as Malan, en Verwoerd het dit vasgelê, soos duidelik blyk uit die Nasionale Party se boekie, soos hierbo aangehaal. 

Dit wat Petzer se teks-skrywer beskryf was ALLERMINS Malan en Strijdom se beleid.

Wat hy beskryf is Vorster se verdraaide, verwronge gekaapte ‘apartheid’. En hierdie kaping het nie vóór dr Verwoerd plaasgevind nie, maar ná dr Verwoerd.

Op die trappies.

Vorster het ewe heilig op die Parlement-trappies gestaan en verklaar dat hy in dr Verwoerd se spore gaan volg. Daarna het hy ook gesê: “Toets my aan my dade.” Hy is getoets en hy het die toets jammerlik gedop. 

As John Vorster nie so effektief deur die Geldmag gestoot en gesteun was nie, sou hy nooit eers premier geword het nie. Dan sou dr. Albert Hertzog hom opgevolg het (soos deur meningsopnames aangetoon is) en sou Jaap Marais hom help sorg het dat Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling (en dus selfbeskikking) suksesvol deurgevoer sou word.

Gewete verkoop, gewete versuip.  

Die geskiedenis toon aan hoedat Jaap Marais lateraan baie amper daarin geslaag het om die Verraads-Regering om te keer – terug na ‘n Nasionale Regering. Weereens het die Geldmag ingetree – en die KP (Konserwatiewe party) het sy verlammende verdelings-rol gespeel.

Vorster het eendag verklaar – “Jy kan nie teen die Geldmag op nie”. Hy is omgekoop en het later sy gewete in drank probeer versuip. Daar is ‘n hele paar “Afrikaner-leiers” wat mens aan kan dink wat daardie selfde pad geloop het. Want dit is die voorland vir elkeen wat nog bietjie selfrespek oor het nadat hulle bruikbaarheid verslaan het. Bittere selfverwyt.

As die Petzer-groep nie oppas nie, sal hulle hulself eendag in dieselfde posisie bevind.

Die waarheid oor Apartheid?

Hierdie reeks Petzer-voordragte bevat NIE die volle waarheid oor Apartheid nie. Die “historiese tydstaat” (alias Petzer) is verander, en feite is verdraai en weggelaat. So kyk ons nou met wantroue na ELKE stuk in hierdie reeks.

Die waarheid oor Apartheid is dat dr. Verwoerd NIE gestaan het vir ‘n volkstaat nie. Nie een van die ware Nasionale Afrikanerleiers het gestaan vir ‘n volkstaatjie nie. Hul almal het SAAM gewerk vir die verkryging van ‘n Volks-Republiek, ten volle selfbeskikkend. Die HELE land vir die blanke Afrikaner, of niks!

Waar staan Petzer en span?  

Die Petzer-span vra ons geldelike hulp om ‘die volk se hart te verander’. Maar dan maak  hulle volksleiers soos Malan en Strijdom verdag en so in wese, ook Verwoerd, Hertzog en Jaap Marais.

Hulle impliseer dat dr. Verwoerd ‘n ander ideaal gehad het as Malan en Strijdom, en dat hy ‘n VOLKSTAAT wou skep.

Dit is nie waar nie. Die volkstaatgedagte kom NIE van Pres. Kruger en Steyn se Republieke nie, en ook nie van dr Verwoerd nie.

So waarom wil hulle die volkstaatgedagte bevorder?

Luister mooi.

Volkstaatgedagte se doelwit

Die Afrikanervolk is ‘n reuse struikelblok vir die magnate wat Suid-Afrika se rykdom soek. Daarom moet ons WEG, uit Suid-Afrika. Die plan is: Vermoor, verbaster of verskuif die Afrikanervolk – oorsee, of na ‘n volkstaat-reservaat.

Dis nou waar die mooi dorpie ORANIA inkom. En dis waar ons weer al meer hoor van die 1994-onderhandelings-ooreenkoms, by name AFRIKANER AKKOORD oftewel RESOLUSIE 235. Daarvolgens moet die volk SKUIF – na ‘n reservaat.

Ons is deur Vorster, PW, FW en al hul vriende uitverkoop, maar die verkoop-transaksie se laaste deel is NOU besig om te gebeur. (Baie mooi verduidelik in hierdie reeks artikels)

‘n Volk wat nie sy geskiedenis-feite ken nie, se hart kan maklik verander word deur “waarheid”-ridders. Dan begin so ‘n volk sommer glo hy moet ‘TREK’ na ‘n valse ‘vryheid’ en ‘n valse ‘selfbeskikking’. 

So word sy grond finaal onder hom uitverkoop, MET sy mede-werking.

Moet ons ‘TREK’?

Nee. Ons moenie. Ons mag nie. Ons KAN nie. Want dit gaan om veel meer as net ons self.

Dr Verwoerd het gesê:

“Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekker van ouds, “Ons kan nog stry.” En ons sal veg, al sou ons moet ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika…

Ons kan nie anders nie.

Ons staan soos ‘n Luther met die Hervorming, met die rug teen die muur. Ons veg nie om geld of goed nie. Ons veg om die lewe van ons volk.

Maar… nie net vir ons volk nie …ons veg vir die voortbestaan van die blanke beskawing. Die blanke is aan die suidpunt van Afrika ‘n voorpos vir die blanke beskawing.”

(Bloedrivier, 1958.)

Die Leeu van die Waterberg: adv. Hans Strijdom

(Deel 1)

“Dit was twee dae voordat  Suid-Afrika se vyfde premier aangewys sou word. Die hele land het gegis oor die drama wat hom in die komende week sou ontplooi. Agter die skerms was daar drukke beraadslagings oor wie dr. D. F. Malan sou opvolg. Om gereed te wees vir gebeurlikhede wou ek ‘n paar foto’s van Hans Strijdom en sy gesin maak. Deur bemiddeling van ‘n kabinetsminister het ons ‘n afspraak gereël, want Strijdom, wat pas van Europa af teruggekeer het, wou geen koerantman te woord staan nie.

Eindelik was die Strijdom-gesin gereed. Die fotograaf het oorgehaal, maar die kamera moedeloos laat sak. “Almal lyk so vreeslik ernstig,” het hy gekla.

“Glimlag ‘n bietjie, Hans,” het mev. San Strijdom haar eggenoot aangespreek. “Jy lyk darem te ernstig.”

Suid-Afrika se aangewese Premier het die oorslaanbaadjie van sy donker pak reggetrek en sy das nog ‘n keer verskuif. “Maar, vrou, jy weet tog dat ek ‘n ernstige man is,” het hy hom verweer. Dit is half skertsend gesê, want ‘n breë glimlag het sy gesig geplooi.

Maar onbewus het Hans Strijdom daardie dag self sy eie lewensbeskouing opgesom. Wat hy doen, doen hy met ‘n erns en toewyding wat min van sy kollegas by hom vermoed het toe hy byna dertig jaar gelede uit die agterbanke van die Volksraad opgestaan het om sy nooienstoespraak te lewer.

Só het sy politieke vriende en teenstanders Johannes Gerhardus Strijdom oor baie jare leer ken. Sy doelgerigtheid het hom voorbestem vir wat hy vandag is, en wat hy bereik het, het hy verower deur ernstige arbeid.” (1)

Sy opgroei

“…(Hans) was maar ‘n kwajong en het baie slae van sy vader en moeder gekry, dikwels omdat hy so eiesinnig was en dinge volgens sy eie manier wou doen… Dikwels het sy moeder hom gemaan: “Hans, trek aan jou skoene; die dorings sal jou steek.” Sy enigste reaksie was dan: “Bring die dorings en laat hulle my eers steek!” (1)

Hy het op Willowmore skoolgegaan, en was ‘n skrander leerling. Vir hoërskool opleiding het sy vader die jonge Hans na die geskiedkundige skool op Franschhoek gestuur. Op dié skool het so ‘n sterk Vaderlandsgees geheers dat “…gedurende die paar jaar dat Strijdom daar was, klagte (was) van die Onderwysdepartement oor die ‘dislojaliteit’ in die skool.” (1)

“Op Stellenbosch (1910-1912) het hy dadelik ingeskakel by dié deel van die studentesamelewing wat daarna gestreef het om die Afrikaner tot sy reg te laat kom. Hoewel hy nooit een van die leiers was nie, het hy aktief deelgeneem aan debatsverenigings en ander kultuursake. As debateerder was hy moeilik te klop. Hy het baie met sy studentemaats geargumenteer. Hy was ‘n pligsgetroue student, maar het nie nodig gehad om baie hard te werk nie. Tog het hy die eksamens met groot sukses afgelê. Hy was 18 jaar oud toe hy die graad B.A. behaal het.

Op die Rugbyveld was hy ‘n doring. Hy het langs sy vriend, Stephen le Roux senter gespeel. Daar het hy “…dieselfde toegewydheid en bestendigheid geopenbaar as wat sy openbare loopbaan in later jare gekenmerk het.” Tennis het hy ook graag gespeel en het altyd ‘n lewendige belangstelling in dié sportsoort gehad.

Na hy sy graad behaal het, het hy met volstruise in die distrik Willowmore gaan boer. Maar hy was skaars aan die gang toe die volstruismark in duie stort. Gelukkig kon hy op sy geleerdheid steun sodat hy in 1914 na Pretoria verhuis om staatsprokureur te word.

Die Eerste Wêreld Oorlog

Augustus 1914 word Suid-Afrika deur die Britse regering versoek om ‘n sekere deel van Suid-Wes-Afrika te gaan inneem. Hierdie tyd kan as die enigste periode beskou word waar Hans deur andersdenkendes verplig was om in stryd met sy gevestigde opvattings te handel. As 21-jarige was Hans Strijdom nog onderhewig aan die verpligte militêre diens van die Verdedigingsmag. (2)

Hy het egter nooit teen die Rebelle opgetree nie, en het botweg geweier om aan die militêre oefeninge vir die staatsamptenare deel te neem.

Na die Rebellie bekamp is deur die regering, word Hans opgeroep vir diens in die 6e Mediese Brigade Veldambulans. Daar was hy betrokke “…van 13 November 1914 af tot 26 Februarie 1915 en was onder die bevel van Engelse offisiere wat die lewe vir hom so ondraaglik gemaak het vanweë sy openlike teenkanting teen die Regering se oorlogsbeleid, dat hy aansoek gedoen het om oorgeplaas te word na een van die burgerkommando’s wat onder die leiding van Afrikaneroffisiere gestaan het.” (2)

So is hy op 27 Ferbruarie 1915 ingedeel by die Helgard-Verkenningskorps, deel van die 3e Berede Brigade (regtervleuel), onder die bevel van kaptein Helgard de Jager. Op 15 April is hy van gewone manskap tot korporaal bevorder, en op 9 Augustus 1915 het sy dienstydperk tot ‘n einde gekom.

Nylstroom toe

Hy het baie belanggestel in die toneel-bedryf, en op so ‘n geselligheid het Hans vir Margaretha van Hulstein, ‘n Londonse toneelkunstenaar wat onder die naam Marda Vanne opgetree het, ontmoet. Die twee was gou dolverlief en verloof kort daarna. Sy was die dogter van sir Willem van Hulstein, ‘n bekende mynbaas van die Goudstad en Engelse edelman.

Toe die getroude paartjie in Mei 1918 na Nylstroom verhuis, het daar egter krakies in hul huwelik verskyn. Margaretha kon haar nie by die platteland aanpas nie, en die twee is sonder enige kwade gevoelens geskei. Geen kinders is uit die huwelik gebore nie. (3)

In 1918 is Hans as advokaat tot die Kaapse Balie toegelaat, maar hy het nooit as advokaat gepraktiseer nie. Hy het egter aansoek gedoen, in Afrikaans, by die Hooggeregshof in Pretoria om as prokureur toegelaat te word. Dit is goedgekeur.

Hy was waarskynlik ook die eerste prokureur wat ‘n huwelikskontrak in Afrikaans opgestel het. Toe hy die kontrak by die Akteskantoor indien, het die Registrateur geweier om dit te registreer. Eers na ‘n bevelskrif van die Hooggeregshof is sy aansoek toegestaan.

As nuweling op Nylstroom het hy aanvanklik maar gesukkel om sy praktyk aan die gang te kry, maar weldra het sake verbeter en het hy ‘n bloeiende praktyk opgebou.

Sy belangstelling in die boerdery was nog altyd sterk. Hy het die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte gekoop en naweke geboer. Hier was hy altyd op sy gelukkigste. Later het hy ook op die plaas Sandvlakte naby Warmbad, saam met sy broer Raymond geboer. Daar het hulle veral met Friesbeeste geteel en op groot skaal gesaai.

Van 1923 tot 1929 was hy voorsitter van die Waterbergse Landbougenootskap. Maar nadat hy tot Volksraadslid vir Waterberg verkies is, hy nie meer kans gesien om sy aandag aan die boerdery te wy nie en het hy uitgetree. (3)

In die Volksraad

“Toe genl. Hertzog die destydse Volksraadslid vir Waterberg, Piet le Roux van Niekerk, na die Senaat bevorder, moes die kiesers van Waterberg in 1929 vir hulle ‘n nuwe kandidaat soek. Hul keuse het eenparig op Hans Strijdom geval, maar hy het nie lus gehad om Parlement toe te gaan nie. Hy moes uiteindelik omgepraat word. Die feit dat Stephen le Roux (sy vriend) reeds ‘n paar jaar vantevore Volksraad toe is, het sy besluit vergemaklik.” (3)

Toe hy egter besluit het om hom verkiesbaar te stel, het hy sy volle gewig by die saak ingewerp. In die verkiesingstryd het hy die oorwinning van sy voorganger bestendig deur 1156 stemme op hom te verenig teenoor 573 stemme vir sy teenstander, die kandidaat van die SAP.

As jong agterbanker in die Parlement, het Hans Strijdom aandag getrek deur die vuur en skerpheid van sy toesprake. Sy eerste toespraak het hy op 29 Julie 1929 in die Volksraad gehou. Hy het gepraat oor waterbewaring en besproeiing, ‘n saak wat hom sy lewe lank na aan die hart was. Hy het gepleit dat die regering “…’n duidelike besproeiingsbeleid vir die hele Suid-Afrika (moet) formuleer” en dat daar met die oog op waterbewaring, sonder versuim ‘n besproeiingsopname van die land gemaak word.

Dat dr. Malan in 1948 die portefeulje Lande en Besproeiing (nou Waterwese) aan adv. Strijdom toegewys het, is dus nie toevallig nie. Baie van die dinge wat hy as agterbanker bepleit het daardie jare, het hy as Besproeiingsminister ten uitvoer gebring. Dwarsdeur die jare was hy ‘n groot kampvegter vir die regte van die boere.

“Wat die politiek betref, het Strijdom tot die sogenaamde republikeinse vleuel van genl. Hertzog se Nasionale Party behoort. Hierdie vleuel, bestaande uit die jonger garde onder leiding van dr. N. J. Van der Merwe, is reeds vóór Strijdom se toetrede tot die Volksraad deur genl. Hertzog oor die kole gehaal oor hulle uitgesprokenheid.”(3)

Die mislukking van sy eerste huwelik “…was vir Strijdom ‘n hewige skok, maar die reaksie het hom reguit na sy bestemde loopbaan gestuur. Dit het hom met groter toewyding aan die saak van die Nasionale Party laat ywer.” (3)

Kort voordat hy tot Volksraadslid verkies is, het hy en die predikantsdogter San de Klerk mekaar ontmoet. Hulle is aan mekaar voorgestel net nadat hy skeidsregter by ‘n rugbywedstryd was. Toe Hans na die eerste Sitting in die Kaap terugkom op Nylstroom, het hy onthou van die bruinoog-nooi en haar gaan opsoek. Hy was heelwat ouer as almal in haar vriendekring, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Twee jaar later, in 1931, is hulle getroud.

Hans Strijdom het eindelik ‘n “…hawe gevind waar die branders altyd kalm was en die persoon van alle persone gevind wat hom sy hele loopbaan in die huis en op die verhoog sou bystaan.” (4) Dinge het dadelik by die huis goed gegaan, maar dit het nie so goed in die politiek verloop nie.

Suid-Afrika is van die goudstandaard afgedwing, groot droogte het in die Noord-Transvaal geheers, en die eerste klankies van ‘n koalisie met die Sappe, waarin adv. Strijdom so ‘n renons gehad het, het geklink. Hans Strijdom se lang en moeisame verblyf in die politieke woestyn het begin.

Nat en Sap smelt saam

 Op die Nasionale Party se kongres, 9 Augustus 1934 te Pretoria, was dit duidelik dat die oorgrote meerderheid ten gunste van die koalisie is. Hy en ‘n klein groepie Nasionaliste, onder aanvoering van mev. E.G. Jansen, hyself en L.J. du Plessis, het geen twyfel gehad oor hul standpunt i.v.m. ‘n koalisie tussen die SAP en die Nasionale Party, nie.

Hans Strijdom het sy kans afgewag om ook sy bydrae te lewer: “’Ek was van die begin af gekant teen Samesmelting om dieselfde redes as wat genl. Hertzog die vorige jaar teen koalisie was,’ het hy gesê. Verder het hy nie gekom nie. Die voorsitter het ontdek dat Strijdom selfs nie die afgevaardigde van Waterberg is nie, maar slegs die secundus. Die afgevaardigde, mnr. M. Bakker, was in daardie stadium self in die saal en die voorsitter het Strijdom se reg betwis om te praat terwyl die afgevaardigde aanwesig was. Sy beslissing het ‘n opstootjie laat ontstaan, maar Strijdom is nie toegelaat om verder te praat nie.”

Nadat die saak bepraat is, is besluit om te stem oor die vraag of die twee partye moet saamsmelt. Die uitslag was verpletterend vir die minderheid: 281 stemme teenoor 38.

Die 38 het hulle uit die kongres onttrek en in die klubsaal van die Polleys Hotel hul eie verrigtinge voortgesit. Hulle het besluit om die Nasionale Party voort te sit, ‘n nuwe hoofbestuur van sewe gekies. Hans Strijdom was een van die sewe, en as die party se enigste Volksraadslid in Transvaal, is hy ook aangewys as lid van die Federale Raad.

“…Die besluit wat Hans Strijdom en sy kollegas daardie dag geneem het, het moed vereis. Die stroom waarteen hulle moes swem, was sterk. Hoè sterk, het hulle eers later besef toe daar begin is om die Nasionale Party van onder af op te bou.

Nadat die formaliteite afgehandel is, het sen. Stoffberg gevra of hy iets kon sê. ‘Na wat vandag gebeur het, weet ons dat Hans Strijdom nie soos ander leiers bolmakisie sal slaan nie,’ het hy gesê. Die ander het luid toegejuig.”( 5)

(Word vervolg)

………

Saamgestel deur R. Vorster

………

Bronne:

  1. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 9-12.
  2. J.G. Strijdom, Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948; J. L. Basson; 1980; bl. 12-15.
  3. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 14-16.
  4. Ons eerste ses Premiers, ‘n persoonlike terugblik; Piet Meiring; 1972; bl.100-105
  5. Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 22.
Dr Albert Hertzog en Jaap Marais in 1970 wat dapper by hulle volk se Christenlik Calvinistiese grondslag bly staan het en die liberalisme ingevoer deur Vorster en kie. beveg het ten spyte van die persoonlike aanvalle vanuit die AB en NP

Hoe en waarom het die Afrikaner Broederbond omgeswaai na liberalisme?

Bertus Radford antwoord die vraag: Hoe en waarom het die Afrikaner Broederbond ’n gedaante-verwisseling van nasionalisme na liberalisme ondergaan? 

Die vraag word dikwels gevra hoe dit moontlik is dat ’n Afrikanerorganisasie soos die Afrikaner Broederbond (AB), ’n organisasie wat die Afrikaner se geestes-, maar ook stoflike goedere op die hart gedra het, die pad in so ’n mate kon byster raak? Maar meer nog, ook die rug op Afrikanernasionalisme kon draai? Dieselfde lede wat die AB uitgebou het, maar waarvan ’n aantal later ook die goeie werk vernietig het. Die antwoord op hierdie vrae strek oor baie grense heen en sny plek-plek baie diep.

Die verliberalisering van die Nasionale Party onder John Vorster en die AB beweeg parallel. Dr Verwoerd het per geleentheid melding gemaak dat sy grootste taak is om sy kabinet eerbaar te hou. Hy was sy tyd ver vooruit, daarby was hy ’n idealis en intellektuele reus. Sy politieke stukrag het die kerk, kuns en kultuur in beweging gebring.

Die aanslag op dr Verwoerd

Tydens die eerste mislukte aanslag op die lewe van dr Verwoerd was daar ’n geheul om dr Verwoerd en die NP van sy beleid te dwing. Paul Sauer het, as ervare politikus in die onseker toestand waarin die land verkeer het, die uitlating gemaak: “dat die ou boek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis toe is.” Hy reken ’n nuwe gees moet ontwikkel word vir vertroue by blanke en swart nasies. Sauer was kop in een mus met ’n georganiseerde anti-Verwoerd groep om daardeur die nuwe beleid in die NP-kabinet te kon indra.

Die NP-koukus het Sauer ’n week hierna gekonfronteer. Hy en Ben Schoeman was woedend. Na dr Verwoerd se ontslag het hy die afvalliges tot orde geroep. Die poging om die beleid te verander en Sauer tot Eerste Minister te verkies, het misluk. Hierna het dr Verwoerd die Basson, Piet Cilliers en Schalk Pienaar-groep voor stok gekry. Die Kaapse liberaliste het gaandeweg harder probeer om ’n skeuring te bewerkstellig. Die staatsgreep wat deur die georganiseerde geldmag op die Nasionale party uitgevoer is, was een van die nadeligste gevolge van die moord 6 jaar later. Vorster se hantering van die moord en sy vriendskap met Oppenheimer verduidelik sy dubbele rol.

Aanval teen dr Hertzog

Enkele weke voor die moord op dr Verwoerd het die Basson, Cilliers, Serfontein en Merwis-groep (Sunday Times) ’n geweldige veldtog teen dr Hertzog geloods om daardeur ’n wig tussen dr Verwoerd en dr Hertzog in te slaan weens die besef dat dr Hertzog heel waarskynlik die opvolger van dr Verwoerd sou wees. Nadat dr Verwoerd Jaap Marais en ’n aantal LV’s te woord gestaan het ten opsigte van hierdie bedenklike toestand was dr Verwoerd se opmerking: “Dit laat my besef dat ek so lank as moontlik moet probeer leef.” Hy het volle beheer oor sy kabinet gehad.

En tog was dit alreeds hier te bespeur dat daar ministers en LV’s was wat sag was, om die minste te sê. In Maart 1966 het die NP sy grootste oorwinning ooit beleef. ’n Verdere 20 setels is van die VP weggeneem. Dr Verwoerd se hantering van Rhodesië se eensydige onafhanklikheidsverklaring het talle Engelssprekende Suid-Afrikaners agter dr Verwoerd laat inskuif. Dr Verwoerd se vasberadenheid het vertroue geskep. Tydens die Geloftefees te Bloedrivier het hy gesê: “Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekkers van ouds: ‘Ons kan nog stry en ons sal veg, al moet ons ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika.’”

NP en AB “onvernietigbaar”

Talle NP-leiers en lede was ook AB-lede. Die oorgrote meerderheid AB-lede het dan ook die AB en NP as onvernietigbaar beskou. ’n Mede-Nasionalis het die AB of NP nie maklik of lukraak bevraagteken nie. Die Nasionale Party en AB was die voertuig wat die Afrikaner uit die vuur en die slyk van ondergang gered het. Die Eerste Minister en Voorsitter van die AB was die “aanvoerder en die pasaangeër”. Twee instansies met leiers waarna die volk opgekyk het. Dr Verwoerd het die Afrikaner stewig aan die NP gebind.

Die volk het ’n liggaam ontvang waarna baie jare uitgesien is. Die leier en party tot die daarstelling van ’n Republiek, ’n Republiek waarvoor 59 jaar gewag is. Die samewerking tussen dr Verwoerd en die AB met die kommunistiese gevaar in die agtergrond was intiem. Die twee invloedrykste persone in die land was die Eerste Minister van Suid-Afrika en die voorsitter van die Uitvoerende Raad (UR) van die AB, in daardie stadium dr PJ Meyer, die man wat die wa van 1958 saam met dr Verwoerd sou trek. Met die moord op dr Verwoerd was die Nasionale Party haas onvernietigbaar, menslik gesproke.

 John Vorster wyk af

Met die oorname van John Vorster was dit die posisie van die NP sowel as die AB, en was hy ook deeglik bewus dat die leier en die party onlosmaakbaar van mekaar is. Derhalwe het Vorster geglo die kabinet sou hom nie teengaan nie. Verder het Vorster op die rug van die Rivonia-verhoor gery waarvan dr Verwoerd weliswaar die breinkrag was met die inhegtenisname van die Kommuniste. Die eerste afwyking van NP-beleid was die taalkwessie, die ontvang van swart diplomate in blanke woonbuurte asook ’n Maori in ’n All Black-span. Vorster se verweer was indien nie aanpas nie, dan sal die NP stemme na links verloor. Later is teruggekrabbel dat hy hom verkeerd uitgedruk het. Totale verwarring is geskep, verwarring wat sou deurbeweeg na die AB. Die Maori-aangeleentheid sou die kabinet tot stemming bring. Gelukkig vir Vorster het die stemming nie plaasgevind nie.

Dr. Verwoerd en die NP se beginsel: “dat daar nie toegelaat sal word dat sport in Suid-Afrika gebruik word ten einde politieke oogmerke te bereik” is deur Vorster opsy geskuif. Vorster en PW Botha het alreeds in November 1963 agter die rug van dr Verwoerd geknoei ten opsigte van ’n Maori in die All Black-span. Op 1 Oktober 1968 het dr Piet Meyer van die AB Vorster uitgenooi na die Halfeeufees-bondsvergadering van die AB. Vorster het met mag en mening wal gegooi en die klagtes teen hom ontken. Ook na aanleiding van AP Treurnicht as redakteur van Hoofstad se hoofopskrif: “Vorster sê Maori’s kan maar kom”, ontken Vorster dit heftig. Die spanning tussen Broers het verhoog. In ’n later stadium wou dit lyk asof swart diplomate met hul gesinne in blanke woonbuurte vir ’n groot aantal Broers aanvaarbaar was.

Vorster neem aksie in verkeerde rigting

Vorster het hierna die Afrikaner Ordegroep, wat sterk Hertzog-gesind en meestal AB-lede was, ontbind. Hierdeur plaas Vorster vir Meyer op die agtervoet. Die druk het toegeneem en ’n liberale element het des te meer sy kop in die AB uitgesteek. Dr Piet Meyer het ’n kongres teen liberalisme aangelê, maar die Nasperskoerante, Die Burger, Beeld en Volksblad wat omgeswaai het na die liberale beleid van Vorster, tesame met die Liberal Cape Nats en geldmagnate het hierdie poging tot stillstand gedwing. ’n Verdere terugslag vir Meyer en die Afrikanernasionaliste. Sekere kultuurgroepe o.a. die Akademie vir Wetenskap en Kuns het die rug op Meyer gekeer.

Liberale Pers val Afrikanernasionaliste aan.

Sommige Naspers-koerante het na die afsterwe van dr Verwoerd sy beleid aangeval, oftewel skerper aangeval. Die Afrikanernasionaliste in die AB en die NP is deur hierdie koerante swartgesmeer en onwaarhede rondom hulle geborduur. Die hoë joernalistieke karakter aangaande die koerante het nou verander in ’n smeercampaign. Vorster het aan die Nasperskoerante die jawoord gegee. Hy is opgehemel terwyl die grofste onwaarhede teenoor die Afrikanernasionaliste versprei is. Die Beeld, Die Burger, Dagbreek en Volksblad was die voorbokke terwyl Hoofstad en Die Vaderland die Hertzog-groep goedgesind was. Intussen het die breë kerklui met enkele uitsondering nie ’n vinger verroer deur Vorster tot orde te vermaan nie, trouens sommige leraars het begin deur hul eie mense in die laer te bespied.

 “Staatsgreep” op AB

Met die aanvang van 1968 was dit duidelik dat sake vir die Afrikanernasionaliste nie baie rooskleurig was nie. Vroeg in Desember 1967 het die voorsitter van die UR die opmerking gemaak “dat ons grootste taak nou is om van John Vorster ontslae te raak”. As gevolg van Vorster se inmenging het die AB in die laat sestigs algaande dieper in die eensydige partypolitiek beland. Onder die voorsitterskap van Meyer en Treurnicht is toegelaat dat ’n “staatsgreep” op die AB uitgeoefen is weens hul halfhartigheid. Die AB het sy karakter verloor. Belangegroepe het die AB as nuttige kontakorganisasie misbruik. Polisieamptenare is sonder die gebruiklike sirkulasie van die persoon se naam en goedkeuring as lid van die organisasie ingeskryf. Vorster het van die standpunt uitgegaan dat die AB slegs bestaansreg onder die NP het. Die AB mag derhalwe nie onafhanklik wees soos in sy vroeër bestaan gekenmerk is nie.

Die sentrale komitee van die AB het in ’n stadium beswaar gemaak teen lede wat medebroers, sowel as sekere nasionalistiese koerantredakteurs, aanval. ’n Gesplete persoonlikheid was aan die ontwikkel. Dr Meyer het in ’n stadium gesê “’n ding click of dit click nie. Met Verwoerd het dit geclick, maar nie met John Vorster nie”. Enkele dae hierna sê Andries Treurnicht: “Jy weet ek wil nie ophou glo dat die man nie ons man is nie. Des te meer onenigheid het in die NP en AB ontstaan en die vraag is gevra of die tweespalt in die NP en die AB oorbrug kon word? Tydens die Halfeeu Bondsfees probeer Meyer die verdeeldheid besweer. Van ’n klagskrif, dae later opgestel deur Afrikanernasionaliste in die AB, het niks van gekom nie.

 Meyer en Treurnicht keer rug op Afrikanernasionalisme

In September 1969 het Meyer en Treurnicht Vorster besoek. Vorster wou prontuit weet, indien die NP sou skeur, waar staan hulle. Meyer en Treurnicht het hul steun aan Vorster gegee. Vir die Hertzog-groep was dit ’n groot teleurstelling. Die AB het ’n totale stutorganisasie van Vorster se NP geword. Anders as in die dertig- en veertigerjare waar die AB neutraal gestaan het, het die AB nou met ’n uitskopaksie begin.

Tydens ’n AB-saamtrek, net voor die 1970-verkiesing het geplante Vorster-ondersteuners begin skreeu dat Vorster moes praat, ’n aksie teen die dag se program en reglement. In Februarie 1970 was ’n herhaling hiervan tydens ’n druiwefees op die plaas van Hendrik Schoeman. ’n Groep AB-lede wat in die teenoorgestelde kamp was het ’n memorandum volgens artikel 88 van die reglement opgestel, waarin tugstappe teen Vorster aangevra is, waarvan niks gekom het nie. In die jaarverslag van die Bondsraad word erken dat die AB teen die HNP is. Tussen die sogenaamde onpartydigheid, soos vroeër deur Meyer uitgespel, en sy partydigheid nou, moes iets gebeur het. Die AB kon nie die druk weerstaan nie en het ’n totale mondstuk van die NP geword. Hierna word Treunicht aangewys as lid van die sportkomitee. Die UR besluit dat die sportbeleid in paaiemente aan die Broers bekend gemaak word, ten einde hul doel te bereik.

Aksies teen die Afrikanernasionaliste

Die UR het besef dat hulle nie net links en regs Broers kon uitskop nie. Die besluit is geneem om dr Hertzog en Jaap Marais uit te sonder en daardeur die skrik in die ander Afrikanernasionaliste te jaag met die hoop dat hulle deur hierdie taktiek hul “samewerking” sou gee. Belaglike en valse klagtes is teen die twee leiers geformuleer. Telkens is die onwaarhede in briefwisseling tot die frustrasie van die sekretariaat uitgewys. Die sekretariaat het tot die belaglike en paniekerige stap oorgegaan deur dr Hertzog en Jaap Marais van onbroederlike skrywes aan te kla. Teen Treurnicht, wat in 1972 aan ’n lasterklag skuldig bevind is, is nooit ’n vinger gelê nie.

’n Komitee bestaande uit J Jooste, AD Pont, G Beetge, WT Warais en PJ Malan is saamgestel om die UR te spreek. Die onderhoud is geweier. Hierna het die komitee die pad gevolg deur direk met ’n aantal Broers kontak te maak. ’n Groot aantal lede was geskok oor die sekretariaat se optrede, die kat was behoorlik in die hoenderhok. Hier is dr Hertzog, Jaap Marais en ander Broers uit die AB gesit.

In Oktober 1972 moes elke lid van die AB plegtig hul woord gee dat hulle geen “verbintenis of assosiasie” met die nuwe party sou hê nie. Hierdeur het verskeie lede hul verbintenis met die AB gestaak. Die eens Afrikaner-nasionalistiese beweging het nou die dinkskrum van die liberaliste en kommunistiese meelopers geword, vanwaar hulle blank Suid-Afrika aan die magte van die duisternis oorhandig het. Op die keper beskou kan met reg geargumenteer word dat die liberale werkswyse deur Vorster gevolg in die eens Afrikanernasionalistiese gedrewe Nasionale party, en Willie Marais se vernietiging van die Herstigte Nasionale Party dekades later, in ’n mindere of meerdere mate dieselfde pad van verliberalisering in die Afrikaner Broederbond gevolg is.

Liberale werkswyse telkens dieselfde

Met redelike sekerheid kan aangeneem word dat enkele Broers in die AB nie hierdie organisasie se geloofwaardigheid in twyfel wou of kon trek nie, na wat die Afrikaner Broederbond vir die Afrikaner gedoen het, terwyl die oorgrote meerderheid slap in die knieë geword het. Weens lamsakkig- en papbroekigheid het hulle hul laat meesleur deur die liberaliste en verraaiers wat die georganiseerde geldmag gesterk het in hul kwaad, waardeur die geldmag verryk is omdat hierdie liberaliste toegesien het hoe die Afrikaner Broederbond des te meer ’n sleutelrol gespeel het in die verraad teen die witman van Suid-Afrika.

Bronnelys

Vorster se 1 000 dae, BM Schoeman, 1974.

Die era van Verwoerd, JA Marais, 1994.

Die Afrikaner Broederbond, AN Pelzer, 1979.

The Super Afrikaners, Ivor Wilkins & Hans Strydom, 1978.