Party Boere het geld en ander goed weggesteek waarmee hulle weer na die oorlog kon begin:
Mnr. C. Strauss:“Oom Dottie het ‘n stroopblik, ‘n groen en goud Lyle’s Golden Syrup-blik wat daardie tyd vier pond inhoudsmaat gehad het, gevat, die geld daarin gesit en die deksel toegesoldeer.Op die plaas was ‘n land, ongeveer 10 ha groot, wat met ‘n klipmuur omring was. Oom Dottie het die blik met sy waardevolle inhoud in die klipmuur versteek.”
Tydens die oorlog het die spesifieke stuk muur omgeval, maar die blik, wel met ‘n paar ekstra duike in, was nog toe en het hy iets gehad om mee te begin.
Mev. Hendrie Louw: “Ouma-hulle se opstal is nooit afgebrand nie. Ná die oorlog kon hulle kosbaarhede soos droë perskes, saad, droë wors en eetgerei wat hulle in die grondmure toegemessel het, gebruik. Hulle het ook goedere wat hulle op hul plaas in ‘n grot versteek het, teruggebring.”
Mev. Mathilda de Kok: “Ná die oorlog het oupa Wille homself en ook sy bure van broodnodige saadkoring voorsien. Verreweg nie genoeg nie, maar ‘n noodsaaklike begin. Vroegtydig het hy sakke vol koring langs ‘n binnemuur in die skuur gepak en toe die muur daarop omgestoot veilig buite sig van enige vyand.Goed weggesteek onder die watervlak in die diep fonteinekuil bokant die populierbos was ook sy perdekar twee jaar lank weggesteek.”
Mev. Rina Steyl: “Oupa Crause het met hul aankoms (op hul afgebrande plaas) sy vrou en seuntjies omarm, gebid en gesê ondanks hul omstandighede loof hulle God en is hulle dankbaar dat hulle almal nog leef en saam terug op hul plaas kan wees.Hulle het sinkplate skuins teen mure van die murasie gepak om vir hulle ‘n woonbare skuiling te maak. Die kinders het by die afgebrande skure en perdestalle gebrande mielies opgetel en dit teen klippe so skoon as moontlik geskuur sodat ouma vir hulle kaboemielies kon maak.”
Tydens die oorlog het Oupa Crause vir sy gesin kom kuier, en net betyds weggejaag voor die engelse hom kon vang. Net voor hy gery het, het Ouma “…uitgehardloop gekom met ‘n vrugtefles en geroep: ‘My man, neem ons geld saam!’ Sy het haar voorskoot afgehaal en die vrugtefles met honderd goue ponde vasgebind sodat Oupa ‘n greep daarop kon hê. Oupa is in ‘n jaaggalop in die teenoorgestelde rigting as wat die engelse gery het na ‘n leegte waar die rooigrasse in hul sade gestaan het. In die gejaag het die gehawende voorskoot geskeur en Fluit het die vrugtefles stukkend getrap. Die goue ponde het tussen die gras gespat, maar Oupa moes voortjaag.”
Na die oorlog het die gesin 99 goue ponde daar opgetel.
Ander Boere het met skenkings van familie, ruilhandel en harde werk weer op die voete gekom:
Mnr. Hendrik Smit: “…Na die oorlog het … oom Hennie en tant Alie Palm … na hul leë plaas, Blackwood, teruggekeer. Van sy beeste en skape het nie een lewende dier oorgebly nie. Die huis en ander buitegeboue was afgebrand.Oor die agterste kamer in die gang het ‘n stuk dak bly hang, wat ‘n mate van skuiling teen wind en weer gebied het…. Hul enigste meubels was twee ysterkateltjies en ‘n paar leë seepkissies.Besorgde familie het ‘n kerriekoeitjie (‘n soort melkkoei van destyds) met ‘n groterige verskalfie vir ‘n bietjie koffiemelk geskenk.”
Mej. Amanda du Plessis: “…Ná die oorlog moes hulle help om afgebrande plaashuise op te bou. Pa moes timmer en bou. Ma het by ‘n gebarste seeppot skaapvet in steentjies seep probeer omsit en die kinders het wolpluisies van doringbome afgestroop om te verkoop….”
“Dit was twee dae voordat Suid-Afrika se vyfde premier aangewys sou word. Die hele land het gegis oor die drama wat hom in die komende week sou ontplooi. Agter die skerms was daar drukke beraadslagings oor wie dr. D. F. Malan sou opvolg. Om gereed te wees vir gebeurlikhede wou ek ‘n paar foto’s van Hans Strijdom en sy gesin maak. Deur bemiddeling van ‘n kabinetsminister het ons ‘n afspraak gereël, want Strijdom, wat pas van Europa af teruggekeer het, wou geen koerantman te woord staan nie.
Eindelik was die Strijdom-gesin gereed. Die fotograaf het oorgehaal, maar die kamera moedeloos laat sak. “Almal lyk so vreeslik ernstig,” het hy gekla.
“Glimlag ‘n bietjie, Hans,” het mev. San Strijdom haar eggenoot aangespreek. “Jy lyk darem te ernstig.”
Suid-Afrika se aangewese Premier het die oorslaanbaadjie van sy donker pak reggetrek en sy das nog ‘n keer verskuif. “Maar, vrou, jy weet tog dat ek ‘n ernstige man is,” het hy hom verweer. Dit is half skertsend gesê, want ‘n breë glimlag het sy gesig geplooi.
Maar onbewus het Hans Strijdom daardie dag self sy eie lewensbeskouing opgesom. Wat hy doen, doen hy met ‘n erns en toewyding wat min van sy kollegas by hom vermoed het toe hy byna dertig jaar gelede uit die agterbanke van die Volksraad opgestaan het om sy nooienstoespraak te lewer.
Só het sy politieke vriende en teenstanders Johannes Gerhardus Strijdom oor baie jare leer ken. Sy doelgerigtheid het hom voorbestem vir wat hy vandag is, en wat hy bereik het, het hy verower deur ernstige arbeid.” (1)
Sy opgroei
“…(Hans) was maar ‘n kwajong en het baie slae van sy vader en moeder gekry, dikwels omdat hy so eiesinnig was en dinge volgens sy eie manier wou doen… Dikwels het sy moeder hom gemaan: “Hans, trek aan jou skoene; die dorings sal jou steek.” Sy enigste reaksie was dan: “Bring die dorings en laat hulle my eers steek!” (1)
Hy het op Willowmore skoolgegaan, en was ‘n skrander leerling. Vir hoërskool opleiding het sy vader die jonge Hans na die geskiedkundige skool op Franschhoek gestuur. Op dié skool het so ‘n sterk Vaderlandsgees geheers dat “…gedurende die paar jaar dat Strijdom daar was, klagte (was) van die Onderwysdepartement oor die ‘dislojaliteit’ in die skool.” (1)
“Op Stellenbosch (1910-1912) het hy dadelik ingeskakel by dié deel van die studentesamelewing wat daarna gestreef het om die Afrikaner tot sy reg te laat kom. Hoewel hy nooit een van die leiers was nie, het hy aktief deelgeneem aan debatsverenigings en ander kultuursake. As debateerder was hy moeilik te klop. Hy het baie met sy studentemaats geargumenteer. Hy was ‘n pligsgetroue student, maar het nie nodig gehad om baie hard te werk nie. Tog het hy die eksamens met groot sukses afgelê. Hy was 18 jaar oud toe hy die graad B.A. behaal het.
Op die Rugbyveld was hy ‘n doring. Hy het langs sy vriend, Stephen le Roux senter gespeel. Daar het hy “…dieselfde toegewydheid en bestendigheid geopenbaar as wat sy openbare loopbaan in later jare gekenmerk het.” Tennis het hy ook graag gespeel en het altyd ‘n lewendige belangstelling in dié sportsoort gehad.
Na hy sy graad behaal het, het hy met volstruise in die distrik Willowmore gaan boer. Maar hy was skaars aan die gang toe die volstruismark in duie stort. Gelukkig kon hy op sy geleerdheid steun sodat hy in 1914 na Pretoria verhuis om staatsprokureur te word.
Die Eerste Wêreld Oorlog
Augustus 1914 word Suid-Afrika deur die Britse regering versoek om ‘n sekere deel van Suid-Wes-Afrika te gaan inneem. Hierdie tyd kan as die enigste periode beskou word waar Hans deur andersdenkendes verplig was om in stryd met sy gevestigde opvattings te handel. As 21-jarige was Hans Strijdom nog onderhewig aan die verpligte militêre diens van die Verdedigingsmag. (2)
Hy het egter nooit teen die Rebelle opgetree nie, en het botweg geweier om aan die militêre oefeninge vir die staatsamptenare deel te neem.
Na die Rebellie bekamp is deur die regering, word Hans opgeroep vir diens in die 6e Mediese Brigade Veldambulans. Daar was hy betrokke “…van 13 November 1914 af tot 26 Februarie 1915 en was onder die bevel van Engelse offisiere wat die lewe vir hom so ondraaglik gemaak het vanweë sy openlike teenkanting teen die Regering se oorlogsbeleid, dat hy aansoek gedoen het om oorgeplaas te word na een van die burgerkommando’s wat onder die leiding van Afrikaneroffisiere gestaan het.” (2)
So is hy op 27 Ferbruarie 1915 ingedeel by die Helgard-Verkenningskorps, deel van die 3e Berede Brigade (regtervleuel), onder die bevel van kaptein Helgard de Jager. Op 15 April is hy van gewone manskap tot korporaal bevorder, en op 9 Augustus 1915 het sy dienstydperk tot ‘n einde gekom.
Nylstroom toe
Hy het baie belanggestel in die toneel-bedryf, en op so ‘n geselligheid het Hans vir Margaretha van Hulstein, ‘n Londonse toneelkunstenaar wat onder die naam Marda Vanne opgetree het, ontmoet. Die twee was gou dolverlief en verloof kort daarna. Sy was die dogter van sir Willem van Hulstein, ‘n bekende mynbaas van die Goudstad en Engelse edelman.
Toe die getroude paartjie in Mei 1918 na Nylstroom verhuis, het daar egter krakies in hul huwelik verskyn. Margaretha kon haar nie by die platteland aanpas nie, en die twee is sonder enige kwade gevoelens geskei. Geen kinders is uit die huwelik gebore nie. (3)
In 1918 is Hans as advokaat tot die Kaapse Balie toegelaat, maar hy het nooit as advokaat gepraktiseer nie. Hy het egter aansoek gedoen, in Afrikaans, by die Hooggeregshof in Pretoria om as prokureur toegelaat te word. Dit is goedgekeur.
Hy was waarskynlik ook die eerste prokureur wat ‘n huwelikskontrak in Afrikaans opgestel het. Toe hy die kontrak by die Akteskantoor indien, het die Registrateur geweier om dit te registreer. Eers na ‘n bevelskrif van die Hooggeregshof is sy aansoek toegestaan.
As nuweling op Nylstroom het hy aanvanklik maar gesukkel om sy praktyk aan die gang te kry, maar weldra het sake verbeter en het hy ‘n bloeiende praktyk opgebou.
Sy belangstelling in die boerdery was nog altyd sterk. Hy het die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte gekoop en naweke geboer. Hier was hy altyd op sy gelukkigste. Later het hy ook op die plaas Sandvlakte naby Warmbad, saam met sy broer Raymond geboer. Daar het hulle veral met Friesbeeste geteel en op groot skaal gesaai.
Van 1923 tot 1929 was hy voorsitter van die Waterbergse Landbougenootskap. Maar nadat hy tot Volksraadslid vir Waterberg verkies is, hy nie meer kans gesien om sy aandag aan die boerdery te wy nie en het hy uitgetree. (3)
In die Volksraad
“Toe genl. Hertzog die destydse Volksraadslid vir Waterberg, Piet le Roux van Niekerk, na die Senaat bevorder, moes die kiesers van Waterberg in 1929 vir hulle ‘n nuwe kandidaat soek. Hul keuse het eenparig op Hans Strijdom geval, maar hy het nie lus gehad om Parlement toe te gaan nie. Hy moes uiteindelik omgepraat word. Die feit dat Stephen le Roux (sy vriend) reeds ‘n paar jaar vantevore Volksraad toe is, het sy besluit vergemaklik.” (3)
Toe hy egter besluit het om hom verkiesbaar te stel, het hy sy volle gewig by die saak ingewerp. In die verkiesingstryd het hy die oorwinning van sy voorganger bestendig deur 1156 stemme op hom te verenig teenoor 573 stemme vir sy teenstander, die kandidaat van die SAP.
As jong agterbanker in die Parlement, het Hans Strijdom aandag getrek deur die vuur en skerpheid van sy toesprake. Sy eerste toespraak het hy op 29 Julie 1929 in die Volksraad gehou. Hy het gepraat oor waterbewaring en besproeiing, ‘n saak wat hom sy lewe lank na aan die hart was. Hy het gepleit dat die regering “…’n duidelike besproeiingsbeleid vir die hele Suid-Afrika (moet) formuleer” en dat daar met die oog op waterbewaring, sonder versuim ‘n besproeiingsopname van die land gemaak word.
Dat dr. Malan in 1948 die portefeulje Lande en Besproeiing (nou Waterwese) aan adv. Strijdom toegewys het, is dus nie toevallig nie. Baie van die dinge wat hy as agterbanker bepleit het daardie jare, het hy as Besproeiingsminister ten uitvoer gebring. Dwarsdeur die jare was hy ‘n groot kampvegter vir die regte van die boere.
“Wat die politiek betref, het Strijdom tot die sogenaamde republikeinse vleuel van genl. Hertzog se Nasionale Party behoort. Hierdie vleuel, bestaande uit die jonger garde onder leiding van dr. N. J. Van der Merwe, is reeds vóór Strijdom se toetrede tot die Volksraad deur genl. Hertzog oor die kole gehaal oor hulle uitgesprokenheid.”(3)
Die mislukking van sy eerste huwelik “…was vir Strijdom ‘n hewige skok, maar die reaksie het hom reguit na sy bestemde loopbaan gestuur. Dit het hom met groter toewyding aan die saak van die Nasionale Party laat ywer.” (3)
Kort voordat hy tot Volksraadslid verkies is, het hy en die predikantsdogter San de Klerk mekaar ontmoet. Hulle is aan mekaar voorgestel net nadat hy skeidsregter by ‘n rugbywedstryd was. Toe Hans na die eerste Sitting in die Kaap terugkom op Nylstroom, het hy onthou van die bruinoog-nooi en haar gaan opsoek. Hy was heelwat ouer as almal in haar vriendekring, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Twee jaar later, in 1931, is hulle getroud.
Hans Strijdom het eindelik ‘n “…hawe gevind waar die branders altyd kalm was en die persoon van alle persone gevind wat hom sy hele loopbaan in die huis en op die verhoog sou bystaan.” (4) Dinge het dadelik by die huis goed gegaan, maar dit het nie so goed in die politiek verloop nie.
Suid-Afrika is van die goudstandaard afgedwing, groot droogte het in die Noord-Transvaal geheers, en die eerste klankies van ‘n koalisie met die Sappe, waarin adv. Strijdom so ‘n renons gehad het, het geklink. Hans Strijdom se lang en moeisame verblyf in die politieke woestyn het begin.
Nat en Sap smelt saam
Op die Nasionale Party se kongres, 9 Augustus 1934 te Pretoria, was dit duidelik dat die oorgrote meerderheid ten gunste van die koalisie is. Hy en ‘n klein groepie Nasionaliste, onder aanvoering van mev. E.G. Jansen, hyself en L.J. du Plessis, het geen twyfel gehad oor hul standpunt i.v.m. ‘n koalisie tussen die SAP en die Nasionale Party, nie.
Hans Strijdom het sy kans afgewag om ook sy bydrae te lewer: “’Ek was van die begin af gekant teen Samesmelting om dieselfde redes as wat genl. Hertzog die vorige jaar teen koalisie was,’ het hy gesê. Verder het hy nie gekom nie. Die voorsitter het ontdek dat Strijdom selfs nie die afgevaardigde van Waterberg is nie, maar slegs die secundus. Die afgevaardigde, mnr. M. Bakker, was in daardie stadium self in die saal en die voorsitter het Strijdom se reg betwis om te praat terwyl die afgevaardigde aanwesig was. Sy beslissing het ‘n opstootjie laat ontstaan, maar Strijdom is nie toegelaat om verder te praat nie.”
Nadat die saak bepraat is, is besluit om te stem oor die vraag of die twee partye moet saamsmelt. Die uitslag was verpletterend vir die minderheid: 281 stemme teenoor 38.
Die 38 het hulle uit die kongres onttrek en in die klubsaal van die Polleys Hotel hul eie verrigtinge voortgesit. Hulle het besluit om die Nasionale Party voort te sit, ‘n nuwe hoofbestuur van sewe gekies. Hans Strijdom was een van die sewe, en as die party se enigste Volksraadslid in Transvaal, is hy ook aangewys as lid van die Federale Raad.
“…Die besluit wat Hans Strijdom en sy kollegas daardie dag geneem het, het moed vereis. Die stroom waarteen hulle moes swem, was sterk. Hoè sterk, het hulle eers later besef toe daar begin is om die Nasionale Party van onder af op te bou.
Nadat die formaliteite afgehandel is, het sen. Stoffberg gevra of hy iets kon sê. ‘Na wat vandag gebeur het, weet ons dat Hans Strijdom nie soos ander leiers bolmakisie sal slaan nie,’ het hy gesê. Die ander het luid toegejuig.”( 5)
(Word vervolg)
………
Saamgestel deur R. Vorster
………
Bronne:
Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 9-12.
J.G. Strijdom, Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948; J. L. Basson; 1980; bl. 12-15.
Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 14-16.
Ons eerste ses Premiers, ‘n persoonlike terugblik; Piet Meiring; 1972; bl.100-105
Hans Strijdom, Lewensloop en Beleid van Suid-Afrika se Vyfde Premier; Gert Coetsee; 1958; bl. 22.
“Die PAC het, op dieselfde patroon as die ANC (in die stigting van hulle militêre been, Unkhonto), baie vinnig ook hul eie moord-afdeling gestig. Hierdie terroriste-vleuel is gestig in Kaapstad se Langa en Njanga lokasies, tydens die winter van 1960. Sy bestaan is ontdek toe die polisie afgekom het op ‘n komplot om boergesinne in ‘n sekere dele van die Wes Kaap, veral die Stellenbosch gedeelte, uit te moor.
Hierdie organisasie is Poqo genoem, wat beteken “Suiwer”, heelwaarskynlik met verwysing na suiwer swart nasionalisme. Net soos Umkhonto, was Poqo se doelwit die omverwerping van die regering van Suid-Afrika. Waar Umkhonto alle rasse in die beweging verwelkom het, was Poqo streng beperk tot swartes alleen.
Groot groepe onskuldige swartes is geintimideer en mishandel ten einde hulle te dwing om by Poqo aan te sluit. Baie gou was dit die magtigste swart ondergrondse beweging in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Poqo was saamgestel op die eg tradisioneel kommunistiese wyse. Dit het bestaan uit selle. Lede van selle is nie toegelaat om te weet wie lede van ander selle was nie. Vir enigiemand wat Poqo-geheime verklap het, was die dood sy voorland. Dit is ‘n bekende feit dat amper twaalf lede so gedood is omdat hulle “Poqo geheime verklap het”. Daar is wel later ‘n paar radikale wittes in die beweging toegelaat.
Daar het ‘n poqo-sel bestaan in die Paarl destrik van die Wes Kaap, sedert laat 1961. Deur midel van ‘n reeks wrede moorde, beheer Poqo weldra amper die hele Langa lokasie. Party van die slagoffers is gemartel en gedood – hul koppe is afgesny terwyl hulle nog lewe.
Aan die einde van 1962 het Poqo weer in Paarl toegeslaan. In die vroeë oggend ure van 22 November 1962 het hulle in die area ingestroom en begin plunder, brand en steel. Ook is twee jong blankes, mej. Rencia Vermeulen, 19, en mnr. Frans Richard, 22, in stukke opgekap.
Die polisie het opgedaag en vyf van die moordenaars dood geskiet. ‘n Woeste geveg het gevolg wat meer sterftes tot gevolg gehad het. In verdere gevegte is nog ander gedood, gewond en oor die 300 gearresteer.
Poqo skrikbewind verskuif na Transkei
Teen die einde van 1962 het Poqo sy volle fokus na Transkei verskuif. Op 19 Oktober 1962 is ‘n hoofman in die St. Mark distrik, vermoor. Kort hierna het ‘n doodsbende (‘death squad’) van Langa vertrek om Transkei se Opperhoof, Kaiser Matanzima, te gaan vermoor.
Die polisie het weereens van die komplot te hore gekom, en in ‘n bloedige geveg op 12 Desember 1962, is sewe terroriste gedood en meer as ‘n dosyn gearresteer. Daarna het ‘n geveg by die Queenstown Spoorwegstasie met ‘n groep van 24 gewapende Poqo-moordenaars, gevolg. Een polisieman, Sersant Manie Maritz, is in stukke gekap. Twee Poqo-lede is hierna ter dood veroordeel en 18 ander in die tronk gestop.
Poqo het een na die ander doodsbende na Transkei gestuur, die polisie het ‘n hele paar van hulle op verskillende Spoorwegstasies gevang. In Januarie-Februarie 1963 kom die opdrag aan doodsbendes om “alle blankes in Transkei te vermoor”. Die polisie het hierdie komplot verydel en 200 arrestasies is gemaak.
Op 2 Februarie 1963, het 50 Poqo-moordenaars onverwags twee karravane van kampeerders, naby die Basheerivier brug, aangeval. Petrolbomme is in die karravane ingegooi en toe die mense vlug, is hulle geslaan en opgekap deur die “bevryders”.
Die vermoordes was mnr. Herman Grobbelaar, ‘n padbouer, sy vrou Elizabeth, hulle twee dogters, Norma, 14, Dawn, 10, asook ‘n jong vriend, mnr. Derek Thompson. Drie-en-twintig Poqo-moordenaars is later ter dood veroordeel vir hierdie misdade.
Tydens hierdie aanvalle was die stigter van Poqo, Robert Sebukwe, in die tronk. Sy tweede-in-bevel, Potlako Leballo, was in beheer van die moordtogte. Na Leballo ‘n termyn tronkstraf uitgedien het, het hy Suid-Afrika verlaat, net voor die Sharpeville-gebeure. Hy het sy hoofkwartiere verskuif na Maseru asook ‘n plek met die naam “Nasionale Huis”, geleë in Johannesburg.
Die nag van God se genade aan Suid-Afrika
In Leballo se Maseru kantoor het hy sy swart sekretaresse spesifieke bevele gegee, en aan haar ‘n briewetas vol briewe oorhandig. Haar bevele was dat sy en ‘n gesellin na Bloemfontein moes reis en die briewe, geaddresseer aan 150 geheime Poqo sel-leiers regoor Suid-Afrika, van daar af pos.
In elke brief was die bevel dat daar in die nag van 8 April 1963, ‘n massa opstand regoor Suid-Afrika moet plaasvind. Dood en verwoesting moet daardie nag plaasvind. Leballo het al ontelbare dreigemente gemaak dat hy mans, vroue en kinders in Suid-Afrika gaan uitmoor. Nou wou hy die dreigemente uitvoer.
‘n Paar nagte voor die 8ste April het die reën ordentlik neergegiet. ‘n Lenige, blou-oog Suid-Afrikaanse polisieman was die nag op besoek in Maseru. Terwyl hy langs die sopnat hoofstraat afstap, loop hy hom skielik vas teen ‘n “man wat hy dadelik herken as ‘n buitelandse agent wat in Maseru werk”.
In die gesprek wat gevolg het, het die agent genoem dat “sy span” heimlik ‘n paar nagte tevore in Poqo se hoofkwartiere ingekom het, en ‘n klomp dokumente afgeneem het. Sommige dokumente bevat name en adresse van honderde Poqp-lede binne Suid-Afrika! Na ‘n warm redenasie het die Suid-Afrikaner die agent oorreed om vir hom kopieë van die film te gee.
Teen middernag is die Polisieman per vliegtuig oppad Pretoria toe, waar hulle dadelik aan die werk spring om die film te ontwikkel. Uit die kopieë voor hom was dit duidelik dat die nag van 8 April eenkant gesit is vir moord en verwoesting regoor die land. Poqo wou duisende vermoor daardie nag. Leballo sou die bevele uitstuur vanuit sy kantoor in Maseru.
Al wat die lang polisieman nog kort gekom het, was die adresse van die Poqo doodsbendes. Hy het bevel gegee dat al die grensposte vanuit Lesotho streng dopgehou moet word. Toe Leballo se twee afgevaardigdes met die briewetas die volgende oggend die grens oorsteek, is hulle dadelik opgemerk deur die polisie.
Die twee afgevaardiges is uiteindelik in Ladybrand voorgekeer en die briewetas met sy inhoud in beslag geneem. Na die briewe ontsyfer is, kon die polisie uitgebreide massa arrestasies regoor die land maak. Amper al die “gewone soldate”, en die top leiers van Poqo is gearresteer. Tesame meer as 3 000!
‘n Gedeelte van die briewe het as volg gelui: “‘n Wilde dans- en drink-partytjie is gereël vir die nag van 8 April. Almal moet dans…” Sekuriteits Polisie het die kode herken. Die betekenis was dat daar die nag van die 8ste April “die dans van die dood en van verwoesting” moet wees.
Ten spyte van die puik werk van die polisie was daar nogtans insidente in Johannesbrug, King William’s Town en nog ‘n paar ander plekke.
Intussen het die polisie verdagte areas met landmyn verklikkers gevee, op soek na wapens. Fabrieke waar Poqo-lede gewerk het is deursoek. ‘n Ysingwekkende hoeveelheid primitiewe wapens is ontdek: pangas, strydbyle, byle, messe, assegaaie, swaarde, lood pype en selfgemaakte vuurwapens van allerlei soorte.
Daar is selfs spesiaal tuisgemaakte twee-snydende swaarde gevind. ‘n Paar honderd van hierdie wapens word in die Polisie Museum te Pretoria uitgestal. Met hierdie daad is een van die mees primitiewe, beplande revolusies in die geskiedenis van Suid-Afrika, afgeweer.
Deur die genade van God alleen, is die nasionale bloedbad wat hom die 8ste April 1963 sou afspeel, verhoed.
Vroeg in die jaar 1963, het die kommuniste en hul misleides ‘n sielkundige intimiderings-veldtog teen blankes en swartes in Suid-Afrika, geloods. Die kanaal hiervoor was die ANC.
Bangmaak pamflette is orals in posbusse en ander ooglopende plekke geplaas. Hierdie pamflette is oor ‘n groot gedeelte van die land versprei en het die volgende boodskap bevat:
“LUISTER WIT MAN!
Vyf blankes is in Transkei vermoor, ‘n ander een opgekap in Langa… Deur die hele land vind elke week sabotasie-veldtogte plaas, nou hier, dan daar. Die blankes is besig om al venyniger en paniekbevanger te raak… Teen hierdie spoed sal Suid-Afrika binne ‘n jaar of twee gewikkeld raak in ‘n tweede, maar bloediger en verwoede Algeriese oorlog.
SABOTASIE EN MOORD HET VERDUBBEL IN DIE LAASTE JAAR
SABOTASIE EN MOORD GAAN NIE VERDWYN NIE.
Voor jou lê ‘n oneindige lang toekoms van verskrikking, onsekerheid en stadig maar seker kwynende gesag. Jy sal altyd ‘n geweer by jou hê, en nooit weet wie jy kan vertrou nie. Miskien is die straatveër ‘n saboteur, miskien het die kantoor-teemaker ‘n geweer… Jy sal nooit veilig wees nie, en nooit sekerheid hê nie.
DIE OORLOG WAT JY BEGIN HET SAL JY NIE KAN WEN NIE.
Hoe dit ook al sy, nasionale paniek het nie losgebreek soos voorspel deur die CPSA-ANC en Unkhonto-leiers, nie.
Klopjag op Leballo se hoofkwartiere
‘n Klopjag is in April 1963, op die hoofkwartiere van Leballo in Maseru uitgevoer deur die Brits-Basoetoelandse Polisie. Hulle het afgekom op ‘n goudmyn van inligting. (Daar is uiters waardevolle ontdekkings gemaak.) Leêrs is gevind, met die name en adresse van omtrent 15 000 lede. Hierop het baie arrestasies gevolg, maar Leballo het daarin geslaag om te ontsnap.
Die berugte Patrick Duncan, wonende in Basoetoeland, was gedurende hierdie tyd kop in een mus met Leballo. Alhoewel grootendeels uitgeroei, het Poqo tog swakkies aangehou om op te tree. Poqo het nou ‘n publikasie uitgegee genaamd ‘Black Star’, waarin hy die bogenoemde feite ontken. Poqo het herhaaldelik gelieg oor sy verbintenis met kommunisme.
Leballo het Rooi China gaan besoek in Julie 1964 en ten minste $10 000 ontvang, met die belofte dat meer sal volg. In Februarie 1965 was hy weer in Peking as spesiale gas van die kommunistise Instituut van Buitelandse Sake. Hy het daar lesings gegee en inspeksies gedoen, en troepe is byeengeroep ter ere van hom. Baie PAC-lede is opgelei in Rooi China. Die PAC het kantore in verskeie Afrika stede, London en heimlik in Suid-Afrika.
Die Soviet Kommunistiese Party het amptelik hulle goedkeuring geheg aan die dade van Poqo. Hulle het verklaar dat “lydelike verset verby was” en het hulle seëning op “spontane uitbarstings van (sulke groepe soos) Poqo” uitgespreek.”
……………
Vry vertaal uit Engels uit die boek A History of Communism in South Africa, deur Henry R Pike, bl353-357.
In die vroeë oggendure van 22 November 1962 marsjeer ‘n groep van 200 tot 250 Poqo-lede, PAC se millitêre afdeling die Paarl binne, swaar bewapen met pangas, byle, kapmesse, loodpype en selfs vuurwapens.
Op die dorpsgrens verdeel hulle in twee groepe, een gaan Tronk toe om die gevangenes te ‘bevry’, terwyl die ander groep die Polisie Stasie aanval.
‘n Busbestuurder het die polisie in kennis gestel van die aantog, dus was hulle nie onkant gevang nie. Hoewel heelwat polisie voertuie beskadig is deur die massa, is die aanval op die Polisie Stasie en Tronk afgeweer.
Die gewapende massa storm toe egter die woonbuurt in waar hulle vensters stukkend gooi met klippe, inbreek by huise en voertuie stukkend kap. Daar is hulle deur die polisie en van die burgerlikes terug gedryf.
Twee blankes is gedurende die aanval vermoor: Mej. Rencia Vermeulen (17) en Mnr. Frans Richards (22) (hy het op troue gestaan) gruwelik vermoor, vermink en uitmekaar gekap.
Sewe Poqo-lede is dood in die geveg, en heelwat is in hegtenis geneem.
Ek haal graag die volgende stuk deur Dawie (Politieke rubriekskrywer van Die Burger 1946 tot 1964) vir u aan:
“Die Paarlse Onluste.
Ons gedagtes is vandag by die Paarl in die groot leed wat die dorp getref het.
Ek het die vermoorde meisie nie geken nie. Ook nie die vermoorde jong man wat op troue gestaan het en hier by Die Burger sou kom werk, of die ouer mense wat aangerand is nie. Ek is ook geen Paarliet nie.
Maar by die Bolandse Afrikaners is ‘n diep persoonlike gevoel gewek deur die ramp van Donderdag.
Dit moet wees om rede van die simboliese plek wat die Paarl in ons denke en gevoel beklee. Daarom is ‘n sukses of ‘n krisis altyd belangriker in die volkslewe as die Paarl die toneel daarvan was.
Dit kry vanself ‘n groter betekenis, soos ‘n boodskap wat gelewer word van ‘n geskiedkundige verhoog af.
Wat gebeur het.
As ek die breë trekke van die Paarl gebeurtenisse reg verstaan, dan is dit geen plaaslike verskynsel wat daar tot ‘n uitbarsting gekom het nie. Wat gebeur het — en ek spreek onder korreksie — is ongeveer dit:
Onder die Paarlse Bantoes het ‘n ondergrondse groep van terroriste bedrywig geraak. In hoeverre hul motiewe bloot misdadig was en in hoeverre van politieke aard, kan gedebatteer word. Maar hul metodes was dieselfde as dié van dergelike groepe in ander lokasies en trouens oor die hele Suid-Afrika.
Dit is om ‘n terroristiese heerskappy oor die grote gros van ordeliewende Bantoes te vestig en beskermingsgeld van hulle af te dreig. Soms word sulke gelde ingevorder vir ‘n werklike of denkbeeldige politieke saak: maar ek vermoed dat die grootste deel nie verder gaan as die afpersers se private sak nie.
Bantoes wat nie wil saamspeel nie, word hardhandig bearbei, en diegene wat by die polisie gaan kla of daarvan verdink word, kry selfs die uiterste straf as ‘n voorbeeld vir die ander.
Terreur in Lokasies.
Nou sien u waarom ek sê dat die Paarlse gebeurtenis, afgesien natuurlik van die besonderhede van die uiteindelike uitbarsting, nie as ‘n plaaslike verskynsel beskou kan word nie.
Dit is bekend, onder meer uit hofsake soos dié oor die moord-sameswering op Stellenbosch, dat sulke ondergrondse terroristegroepe ook op ander plekke in die lokasies bestaan.
Dit is ook klaarblyklik dat, al sou hulle in bepaalde gevalle nie danig politiek bewus wees nie, maar bloot misdadig, hulle feitlik ‘n klaargemaakte instrument vorm vir die giftiger soort revolusionêr wat Suid-Afrika die grootste skade in die kortste tyd wil aandoen.
Dit is dus lewensnoodsaaklik dat hierdie ondergrondse groepe opgeruim moet word.”
Vandag 62 jaar gelede, het die verskriklikste slagting op polisiemanne in Cato Manor, Durban plaasgevind. Soos Brig. Hennie Heyman tereg sê: “As die Sharpevillie “massamoord” nie ‘n slagting onder die opstokers was nie, sou dit (soos Cato Manor) op ‘n massamoord van polisiemanne uitgeloop het.”
Hier volg ‘n saamgestelde vertelling van die gebeure, vry vertaal uit Engels.
Vooraf:
Volgens ‘n wet ingestel in 1908 deur die Britse wetskrywers, was dit onwettig om bier te maak en te verkoop. Op hierdie dag het die polisie, soos gewoonlik, weer ‘n klopjag geloods op een van die sjebiens waar onwettige bier verkoop is.
Agtergrond:
“…stakings het in middel 1959 in Natal begin toeneem… Tydens die stakings is baie mense gedood, eiendomme vernietig… huise verbrand… algemene paniek het losgebreek.”
“…Toe ‘n eenheid van 7 wit en 17 Zulu polisiemanne op patrollie by ‘n shebien aankom, het die gevoelens gou ontvlam toe ‘n vrou begin kla het dat een van die polisie offisiere op haar voet getrap het. Al het die konstabel om verskoning gevra, het die geroep en gekerm net aangehou en baie gou het ‘n beskonke bende van om en by 800, gewapen met stokke en pangas, die patrollie met klippe begin bestook….”
Na waarskuwingskote in die lug geskiet is, en dit geen uitwerking op die massa gehad het nie, het die oorblywende deel van die patrollie in twee aangrensende hutte gaan skuil. Hulle het net 24 patrone altesaam by hulle gehad, maar het dapper geveg tot die laaste oomblik. Na die deure en vensters afgebreek is, is hulle vermoor en in stukke gekap.
Die name van die 9 vermoorde Polisie manne is:
Sergeant. K Buhlalo
Constables CC Kriel
CPJS Rademan
GJ Joubert
LW Kunneke
F Dhludhla
P Jesza
M Nzuza
P Mtetwa
Mag ons hulle en die bitter hartseer gebeurtenis nooit vergeet nie.
Mens hoor so baie “As ons volk tog net wil saamstaan.” En met ‘n nog dieper sug: “Maar ag, daar is nie ‘n leier is Suid-Afrika nie…”!
Ons beleef in hierdie moeilike tyd ‘n ‘droogte’ wat betref ‘n ware Volksleier. En met al die verwarring wat opsetlik in ons geledere gesaai is die laaste 30 jaar, moet ons dalk net weer bietjie gaan kyk waaruit ‘n ware volksleier se karakter saamgestel is.
‘n Gesegde wat ook baie aangehaal word in die vraag oor waar die leiers van ons tyd is, is: “Moeilike tye veroorsaak sterk mans; sterk mans veroorsaak voorspoedige tye; voorspoedige tye veroorsaak swak mans; en swak mans veroorsaak moeilik tye.”
Maar soos Dr. Ferdinand Postma in sy boek ‘Paul Kruger, Christen-Volksman en -Staatsman’, tereg uitwys: “Groot manne (leiers) is geskenke wat die Here aan ‘n volk gee… Wie dus hierdie opvatting huldig, sal hom nooit kan vereenselwig met die gedagte wat so dikwels uitgespreek word dat groot manne maar produkte van hulle tyd is nie. Dit is ‘n onmoontlike opvatting. Mense wat maar net produkte van hulle tyd is, kan nooit leiers wees nie; produkmense word gelei, maar kan nie leiding gee nie…”
Maar wat is ‘n ware volksleier?
Kom ons begin eerder deur te besin oor wat ‘n ware Volksleier nie is nie, en daaruit sal dan ook vanself vloei wat ‘n ware Volksleier werklik is.
1. ‘n Volksleier verskyn nie “blitsvinnig en onverwags” op die toneel nie.
In die Geloftefees toespraak wat in Rapport van 17 Desember 1995 gepubliseer is verklaar mnr. Izak De Villiers onder meer: “…in veelbewoë tye van die Afrikanervolk”, lui dit, “het leiers op alle gebiede meermale blitsvinnig en onverwags op die toneel verskyn… Wie kan sê dit kan nie weer kan gebeur nie?” Hy vra: “Waar is die Vader Kestell, die genl Hertzog en die Paul Kruger?”
Die opvallendste van dié gedagtegang is dat hierdie leiersfigure juis nie “blitsvinnig en onverwags” op die toneel verskyn het nie. Hulle het almal tot leierskap uitgestyg deur langdurige betrokkenheid by die stryd wat aan hulle volk opgedwing was. Hulle hoedanighede is in en deur die stryd beproef. En langs dié weg is hulle leierskap geleidelik bevestig.
Hierdie proses van leiersvorming is herkenbaar by elkeen van die egte Afrikanerleiers. Naas dié hierbo genoem, is daar dr. DF Malan, adv. JG Strijdom, dr. HF Verwoerd: manne wat jarelank op die voorpunt en in die brandpunt van die stryd hulle staal getoon het. En voor hulle, pres. MT Steyn, genl. Christiaan de Wet, genl. Koos de la Rey, wat hulle as politieke en militêre leiers oor die loop van jare betoon het. En verder terug: Piet Retief, Andries Pretorius, Andries Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz.
Nie een van hulle het “blitsvinnig en onverwags” op die toneel verskyn nie. Hulle leierskap het gerus op die moed, die insig, die bedrewenheid, die toewyding, die volharding wat hulle aan die dag gelê het.
2. ‘n Ware volksleier soek nie eie eer nie.
Vry vertaal uit Nederlands-Afrikaans: “Daar was nog ‘n ander soort mens wat genl. Christiaan de Wet verafsku het… dit was dié manne wat van een plek na die ander ry en voorgee dat hulle vir land en volk veg, maar intussen nooit tydens die gevegte te siene was nie. Mens kon hulle altyd herken aan die hordes veelkleurige eretoekennings aan hul baadjies vasgespeld, wat deur onwetende meisies aan hulle geskenk is vir hul sogenaamde dapperhede.Die ware helde van die oorlog het hulle nie met sulke uiterlikhede opgehou nie. Ek het menigmaal gesien hoe genl. De Wet so ‘n eretoekenning, wat hy by ‘n bewonderaar ontvang het, later aan ‘n ander bewonderaar gee.”
Vir ‘n ware leier gaan dit om die saak. ‘n Ware volksleier veg voor; nie omdat hy fisies groot en sterk is nie, maar omdat hy so sterk voel oor die saak dat hy, selfs al is hy alleen oor, nog sal veg. Dat hy sy lewe sal gee, as dit daarop aankom. Sulke vasberadenheid spoor selfs die bangbroeke onder die volk aan tot heldhaftigheid.
3. ‘n Ware volksleier saai nie stories rond oor ander leiers nie.
As hy en die ander leier vir dieselfde saak stry, en op dieselfde beginsels staan, stry hulle saam. Sy aan sy, daar is nie ‘n getoutrekkery oor wie die leier is nie: elkeen het sy sterk en swak punte.
As hulle nie vir dieselfde saak stry nie, raak hy nogtans nie persoonlik en kraak die ander leier af nie. Want dit gaan nie vir hom oor die persoon nie, maar oor die saak.
Hy lug op Christelike wyse, die redes waarom hy voel dat die rigting wat hy inslaan, die regte rigting is. En hy vertrou dat die wat die waarheid moet hoor, deur die Here se genade, sal hoor en hom sal volg.
4. ‘n Ware volksleier is ‘n standvastige Godsman.
Dit beteken nie dat hy vinnig Bybelversies kan aanhaal nie of met die Bybel onder die arm rondloop nie; die belangrikste is hy moet so lewe dat almal kan sien hy is ‘n kind van God.
‘n Ware leier kry nie ‘n grootkop oor sy volgelinge se getal groei, of oor hy sukses behaal nie. Dit maak sy hart in nederigheid bly; hy weet dat dit nie maar net hy is wat so oulik en slim is om soveel volgelinge te kry nie. Hy dank die Here dat Hy soveel mense die waarheid laat hoor. Hy bid dat die Here hom, as leier, die krag sal skenk om die regte besluite te maak en dat Hy hom sal sterk maak om te kan staande bly teen die aanslag van die vyand.
‘n Ware leier se krag lê daarin dat hy die Onsienlike sien. In die ewigheidslig van Bo, kan hy die regte en juiste waarde van dinge bepaal.
5. ‘n Ware volksleier ken sy feite.
Hy ken sy geskiedenis, sy belydenis, sy volk, sy vyand. Hy weet waar hy vandaan kom, en daarom weet hy waar hy wil heen.
Op die pad na vryheid neem hy twee dinge saam:
In sy hand hou hy die Bybel, sy kompas;
In sy sak dra hy die geskiedenis, sy kaart.
Sy roete, lank vantevore reeds deur God bepaal, is vas; sy tred, seker.
Ek sluit af met die volgende:
Moenie rondsit en wag vir ‘n leier om te verskyn nie. Hou op rondkyk na wat ander mense doen of nie doen nie; werk aan jouself, wees jy die leier. Soos Johannes Trojan (Duitse digter) gesê het:
“Een moet vooruitom te wys daar is nog ‘n stem,
wat as ander skugter swyg, vreesloos die waarheid bring.
Een moet vooruit in die noodwanneer mense vra:
waar is die manwat die moed het om voor te loop?
Wees jy die een! Stap voor!”
Deur R. Vorster
……..
Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging volg steeds die beginsels wat dr Malan ons geleer het. Om daarop voort bou wil ons u oproepe om ook betrokke te raak by die stryd en by jou mede-Afrikanernasionaliste in die ANB aan te sluit. Om meer oor ons te wete te kom lees ons Grondslag en doelstellings. Om aansoek te doen om te sluit vind die vorm hier . Indien jy meer wil weet kontak ons gerus.
Soos enige organisasie wat sy doel uitvoer vir die liefde van die saak is ons afhanklik van die bydraes en donasies om die uitvoering van ons doelstellings te befonds en om die nuusbrief uit te gee. Elkeen wat ons sy hart voel dat hy die doelstellings van die ANB ondersteun kan ‘n bydrae maak per bank inbetaling. Vind hier ‘n skakel vir ons Bankbesonderhede .