Monthly Archives: Mei 2023

Vandag is Republiekdag: 31 Mei 2023

Vandag is Republiekdag. Ons wat die geskiedenis in herinnering roep weet dat ons in 1652 in hierdie land aangekom en ons gevestig het. Ons weet dan ook van die vryburgers wat losgekom het van die Nederlandse kompanjie om vry voedsel aan die skepe te voorsien. Dan weet ons ook van die Britse se eerste en tweede besettings en ook van die aanvalle van Xhosas aan die Oosgrens en van die Groot Trek. Dit was ‘n stryd om vryheid gewees.

Die onafhanklike state van Natalia, Vrystaat en Transvaal (ZAR) was deur die Voortrekkers gestig ter uitlewing van ons onafhanklikheid. Maar die Engelse Imperialisme het ons agtervolg en het ons die republieke verloor. In die stryd is baie van ons vrouens en kinders in konsentrasiekampe vermoor. Hulle verskroeide aarde beleid het die plase afgebrand. Dit alles om die goud en minerale van die land in die hande te kry. Dieselfde wêreldmagte sit steeds die stryd teen Christen-nasies en state voort om hulle een wêreld regering daar te stel. Dis ‘n stryd om vryheid wat in 1806 met die eerste Britse besetting begin het en oor jare gevoer is. ‘n Stryd waarin aar betaal is met Boere se bloed, met die bloed van kinders. Die kinders se grafte langs die trekpad. Ons Oupas en Oumas het so ‘n transportakte vir die land verkry deur bloed.

Daardie stryd het nie gestaak met die oorgawe van 31 Mei 1902 nie. Op 31 Mei 1910 het ons die Unie van Suid-Afrika verkry. Weereens het die magte van die wêreld ons teëgegaan. Ons weet van die stryd wat Hertzog, Malan en Strijdom gevoer het. Advokaat Strijdom, die leeu van die noorde, het alles in plek gekry om die unie tot ‘n onafhanklike republiek te lei. Kort na hy aan bewind gekom het, is hy oorlede aan kanker maar dokter Verwoerd het hom opgevolg en die droom van advokaat Strijdom verwesentlik. Op 31 Mei 1961 het ons ‘n republiek geword. Ons was weer vry van die wêreldmagte, vry om ‘n volk te wees.

Daarby het ons ook gesê dat daardie vryheid behoort aan alle volke in Suid-Afrika en daarom moet die vryheid weer terug gaan na hulle toe. Die grense van hulle gronde en lande wat deur die Britse imperialisme uitgewis is, moes weer herstel word. Sodoende moes die swartman ook sy onafhanklike state gekry het, soos Zululand, Ciskei, Transkei ens. Maar in ‘n sameswering is Verwoerd deur die kommuniste vermoor. Die gevolg was dat ons in 1994 weereens ons vryheid verloor het. Vandag, soos 1902, word ons volk uit die werksplek gedruk. Hy word ‘n tweederangse burger in sy eie land. Die kommuniste het ook weereens al die grense tussen die volke uitgewis. Onder die naam van broederskap en liefde word al die volke in Suid-Afrika vandag deur die kommunisme onderdruk.

Dis ‘n stryd teen die wêreldmag wat voortduur. Mag God dit ook so beskik dat ons Afrikanervolk weer vry sal wees van die wêreldmagte se onderdrukking, waar ons God kan dien sonder voorskrifte en ons weer ons taal kan praat en ons kultuur kan uitleef.

Soos ek, wat ‘n Christen Afrikanernasionalis is, gun ek dit ook aan elke volk in Suid-Afrika. Dat elke volk in Suid-Afrika sy eie grondgebied kan kry waar hy homself kan regeer in liefde en sy eie kultuur en geloofsoortuigings kan uitleef en sy kinders daarin kan opvoed. Om so sy kinders te kan oplei om waardevol te wees vir sy eie mense. Soos ek dit vir elke volk gun, so ook vir my eie. Dus wens ek julle elkeen ‘n geseënde Republiekfees. Ek wens ek ook dat julle ingedagte sal hou die stryd wat julle voorouers gestry, die stryd waarin God ons in gelei het. Dat ons op die dag ook alleen die eer aan God te gee. Hy wat ons deur trekkerspad, Bloedrivier, konsentrasiekamp, al die pyn en lyding en ook vandag met die plaasmoorde en moord en doodslag steeds gelei het. Ons moet besef: God regeer en alle eer kom Hom toe.

Dankie en ‘n mooi dag aan elkeen van julle.

Carel van der Grijp

ANB NUUSKOMMENTAAR April 2023 – Nuwe Partye

Vir 29 jaar lank word Suid-Afrika deur ‘n korrupte en onbevoegde regering regeer. Dit is geen geheim dat die ANC nog niks bygedra het of toegelaat het vir die verbetering van die Suid-Afrikaanse ekonomie en burgers se lewenstandaarde nie, maar eerder deur korrupte politiek en onetiese besigheidsake Suid-Afrika tot ‘n bedelaar by die wêreldbanke gedryf…

Volgens die Corruption Watch is oor die 4200 korrupsie klagtes  in 2018 teen die Provinsiale regering van Suid-Afrika gegee. Die elle lange lys van die ANC se skandale en korrupsie klagtes is onmeetbaar soos dit elke dag meer en meer groei. Die nuutste korrupsie skandaal wat op die media se voorblaaie is is die VBS Bank (Venda Building Society Bank) en die ANC wat pap geskep het by die VBS Mutual Bank van meer as R16 miljoen tussen 2017 en 2018 deur Noord-Transvaalse (Limpopo) ANC elites, Danny Msiza en voormalige ANC provinsiale jeug leier, Kabelo Matsepe. Volgens advokaat, Terry Motau se 148 bladsy verslag oor die skandaal, het Msiza oor die 10 Munisipaliteite se burgermeesters en tesourie-amptenare in die Noord-Transvaal (Limpopo) oorreed om deposito’s in die VBS Mutual Bank te plaas en is  oor die R1.89 biljoen uitgedeel tussen 53 persone.

Die ANC se National Working Committee (NWC) en Provincial Executive Committee (PEC) het saam vergader met sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, om te bespreek hoe die ANC te werke gaan gaan rondom die saak. Hy sê ook dat dit belangrik is dat die saak nie die ANC se verkiesings vermoë in die Noord-Transvaal (Limpopo) belemmer nie, veral omdat die skandaal nou weer groot aandag van die media kry.

Saam met die nuutste skandale en korrupsie klagtes hang die donker wolk van Ramaphosa se Phala-Phala saak oor die ANC, asook Eskom korrupsie en ANC bande, werkloosheid, swak of geen dienslewering van publieke instansies, ekonomiese wanbestuur, ‘n mislukte regstelsel en die skending van basiese regte.

Dit is dan geen verbasing dat in die afgelope 3 jaar meer en meer nuwe politiese partye ontstaan het nie.

In 2020 is Team Sugar SA bekend gemaak, ‘n party wat weg gebreek het van die EFF. Action SA is in Augustus 2020 deur voormalige burgermeester van Johannesburg, Herman Mashaba, gestig.

Op die 19de April is nog twee nuwe partye aangekondig naamlik, Rise Mzansi en Arise South Africa. Voormalige Transvaal (Gauteng) leier van Action SA, Bongani Baloyi, het ook ‘n nuwe party in April aangekondig naamlik, Xiluva.

Al hierdie nuwe partye het dieselfde doelwit en leuse, om die ANC se ondoeltreffendheid en onbevoegdheid uit te wys en as teen partye in die 2024 verkiesing te wees. Gaan hierdie mengelmoes van partye dit moeilik maak vir die ANC volgende jaar of is dit ‘n taktiek wat gebruik word om die stemmers van die ANC se grootste kompetisie te verdeel?

Terug na April 2023 Nuusbrief

Wie was Jan van Riebeeck?

deur CJH Vorster

Media smeerveldtogte, polities-korrekte skoolhandboeke en ‘gesuiwerde’ biblioteke, het tot gevolg gehad dat min mense vandag die volle waarheid ken van die man wat bekend staan as die Stigter van Suid-Afrika.

Hier is solank antwoorde op twee vrae wat mense gereeld vra:

1. Vanuit watter agtergrond het hy gekom?

Johan Anthonisz van Riebeeck is in 1619 in Culembourg gebore. Sy vader, Anthonij van Riebeeck, was ‘n Chirurgyn (in daardie dae het dit nie beteken hy was ‘n chirurg nie – ook nie geneesheer nie, en ook nie snydokter nie — maar iemand wat bloedlating toegepas het, en geneeshere bygestaan het.). Sy moeder, Elizabeth, was 20 jaar oud toe hy gebore is.

Jan se ouma en oupa aan moederskant se van was Van Graesbeeck (sy oupa was ‘n prokureur en notaris). Hulle het gewoon in die huis wat vandag bekend staan as Van Riebeeckhuis, in Culemborg. Die Van Riebeecks en Van Graesbeecks was nie ryk nie, maar gesiene mense.

Jan het grootgeword in Schiedam, waar sy vader sedert 1622 sy praktyk as chirurgyn voortgesit het.

Jan se sussie, Geertruyd, is later aan die Kaap met die sieketrooster Pieter van der Stael getroud, en het met haar gesin eers aan die Kaap gewoon en na Jan se vertrek, die Van Riebeecks na Malakka gevolg, maar dit was baie, baie jare later.

Jan het ook twee boeties gehad, beide jonk oorlede. Toe Jan 10 jaar oud was, en sy suster 6, is sy moeder oorlede. Sy vader is later weer getroud met Elsgen Burgers.

2. Was hy ‘n self-verrykende Swendelaar of ‘n eerlike, hardwerkende Koopman?

Toe Jan 16 jaar oud was, het hy sy vader vergesel op ‘n reis na Brasilië en die eiland Barbados. Jan het in sy vader se voetspore gevolg en as onder-chirurgyn by die Oos-Indiese Kompanjie in diens getree.

In 1639 vertrek hy na die Ooste, na Batavia. Daar het hy egter besluit om sy werk as chirurgyn te verlaat en as assistent in die Kasteel te begin werk.

Daar het hy spoedig bevordering gekry omdat hy so hardwerkend was (twee maal is hy spesiaal beloon en vermeld vir sy buitengewone dienswerk).

Ons sal nie nou hier ingaan op wat daar alles met hom gebeur het in die ooste nie, maar uit die aard van sy werk was dit duidelik dat net dapperstes daar uitgehou het, en daar byvoorbeeld in Formosa met uiterste diplomasie te werk gegaan moes word.

Hy is heen en weer verplaas, en het baie ervaring opgedoen in die proses. In 1642 is hy byvoorbeeld gekies om as sekretaris saam te gaan met ‘n afvaardiging na die koning van Atjeh (in die noorde van Sumatra), ‘n baie interessante belewenis.

In 1643 reis Jan saam met 55 ander vanaf Batavia na die kus van Tonkin, en daarna die eiland Formosa, waar hulle pas toestemming ontvang het om ‘n nuwe handelspos te stig.

Jan het hom sodanig onderskei in hierdie klein handelsvesting, beman deur slegs nege Nederlanders, en omring deur derduisende oorlogsugtige Chinese, dat hy uiteindelik in die posisie van waarnemende Opperhoof aangestel is, en in 1646 bevorder is tot volwaardige Koopman.

Intussen is die Goewerneur-generaal van Batavia, Antonio Van Dieman, verlangse familielid van Jan, oorlede. Sy opvolger, Cornelis van der Lijn, was geen vriend van Van Diemen of sy mense nie. In Batavia het ‘n hewige stryd tussen hom en Mevrou van Diemen, Antonio se weduwee, gewoed.

Van der Lijn het ook links en regs mense aangekla het van privaathandel, om aan die Here XVII bewys te lewer van sy ywer. Die kans is goed dat die onmin tussen hom en die van Diemens gedeeltelik tot gevolg gehad het, dat sy oog op Jan geval het, as volgende slagoffer van sy ondersoeke.

In ‘n brief aan Von Bronkhorst skryf hy dat hy reken dat die jongelinge in Tonkin, wat groot somme geld hanteer, nie vertrou kan word nie. Daarop ontbied hy koopman Jan van Riebeeck en onderkoopman Heycop na Batavia om rekenskap te kom gee, en daarop het hy toe sommer ook hulle loopbane in Batavia beeindig.

Nooit ooit is Jan skuldig bewys nie, maar ongelukkig kon hy ook nie regkry om sy onskuld te bewys nie.

Maar die feit dat hy met behoud van rang en gasie (besoldiging) na Amsterdam terug kon keer, bevestig dat die Here XVII geensins oortuig was van sy ‘skuld’ nie.

Die kans dat Jan in hierdie saak die slagoffer was van lastertonge, is baie groot. Om jou teen aanklagte wat nie bewys kan word nie, te verdedig, is gewoonlik moeilik, en dikwels onmoontlik.

Vir Jan wás dit onmoontlik…

(Bron: Avontuur in die Vreemde, die verhaal van Jan Van Riebeeck deur A.J.Böeseken. 1971.)

Republiekdag Liedere 27 Mei 2023

Republiekdag Liedere 27 Mei 2023 

  1. Uit die Chaos van die Eeue (vers 1)

Uit die chaos van die eeue

het verrys ‘n stoere volk.

Met die durf van Pioniere

word ons nasiestryd vertolk.

Met die polsslag van ons volksiel

word ons dank jou toegedra.

Deur ons sangers, skilders, bouer

roem ons jou Suid-Afrika.

Ons sal handhaaf, ons sal opbou

ons sal hoog jou vaandel dra;

Ons sal sterk wees in ons Liefde

vir ons Volk, Suid-Afrika.

  1. Oranje-Blanje-Blou (vers 1)

 

Die Hoogland is ons woning,

die land van son en veld,

waar woeste vryheidswinde waai

oor graf van meen’ge held.

Die ruimtes het ons siel gevoed,

ons kan g’n slawe wees,

want vryer as die arendsvlug,

die vlugte van ons gees.

 

Dis die tyd, Dis die dag

Om te handhaaf en te bou.

Hoog die hart, Hoog die vlag

Hoog Oranje-blanje-blou!

Ons gaan saam die donker toekoms in

om as een te sneuwel of oorwin,

met ons oog gerig op jou,

ons Oranje-blanje-blou!

 

  1. Die lied van Jong Suid-Afrika (verse 1 en 2)

 

En hoor jy die magtige dreuning?

Oor die veld kom dit wyd gesweef,

die lied van ‘n volk se ontwaking

wat harte laat sidder en beef,

van Kaapland tot bo in die Noorde,

rys dawerend luid die akkoorde:

Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika!   x3

 

Die klop van ons ossewawiele

het die eeue se rus verstoor,

Die klank van ons voorlaaierskote

het klowe en kranse gehoor.

Die diere het stil staan en luister,

die bome het bewend gefluister

Dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika!   x3

 

 

  1. Vrystaatse Volkslied (vers 1)

 

Heft, Burgers, ‘t lied der vrijheid aan

en zingt ons eigen volksbestaan!

Van vreemde banden vrij,

Bekleedt ons klein gemenebest,

op orde, wet en recht gevest,

Rang in der Statenrij x2

 

  1. Transvaalse Volkslied (vers 1)

 

Kent gij dat volk vol heldenmoed

en toch zo lang geknecht?

Het heeft geofferd goed en bloed

voor vrijheid en voor recht.

Komt, Burgers! laat de vlaggen wapp’ren,

ons lijden is voorbij;

Roemt in der zege onzer dapp’ren:

Dat vrije volk zijn wij!

Dat vrije volk, dat vrije volk

Dat vrije, vrije volk zijn wij!

 

  1. De Wet! (vers 1)

 

Wie is die dapper generaal?

De Wet!

Wie stry so dapper in Transvaal?

De Wet!

Wie is dit wat die trotse Brit

so telkens op sy hiele sit?

De Wet! De Wet! De Wet!

De Wet! De Wet! De Wet! De Wet!

 

  1. Sarie Marais (verse 1, 2, 4)

 

My Sarie Marais

is so ver van my hart,

ek hoop om haar weer te sien.

Sy het in die wyk

van die Mooirivier gewoon,

nog voor die oorlog het begin.

Refrein:

O bring my t’rug na die ou Transvaal,

daar waar my Sarie woon,

daar onder in die mielies

by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais,

daar onder in die mielies

by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais.

 

 

Ek was nie bang

dat die Kakies my sou vang

en ver oor die see wegstuur;

toe veg ek aan die kant

van die dapper kommandant

daar onder langs die Grootrivier.

Refrein:

O bring my t’rug na die ou Transvaal,

daar waar my Sarie woon,

daar onder in die mielies

by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais,

daar onder in die mielies

by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais.

 

Verlossing het gekom het gekom

en die huis toe gaan was daar,

T’rug na die ou Transvaal;

My liewelingspersoon

sal seker ook daar wees

om my met ‘n kus te beloon.

Refrein:

O bring my t’rug na die ou Transvaal,

daar waar my Sarie woon,

daar onder in die mielies

by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais,

daar onder in die mielies

by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais.

 

  1. Afrikaners, Landgenote (vers 1)

 

Afrikaners, landgenote,

wees getrou aan Volk en Taal!

Aan julselwe, aan elkander,

van die Kaap tot aan die Vaal;

van Oranje tot Zambezi,

in Natal en in Transvaal.

Afrikaners, Landgenote,

Wees getrou aan Volk en Taal!

 

  1. O, Boereplaas (al 3 verse)

 

O boereplaas, geboortegrond!

Jou het ek lief bo alles.

Al dwaal ek heel die wêreld rond

waar so gelukkig, so gesond?

O, boereplaas, geboortegrond!

Jou het ek lief bo alles.

 

O, moederhuis, waar ooit so tuis?

Jou het ek lief bo alles

Die wêreldrykdom, prag en praal

kan jou verlies my nooit betaal.

O, moederhuis, waar ooit so tuis?

Jou het ek lief bo alles.

 

O, moedertaal, o soetste taal!

Jou het ek lief bo alles.

Van al die tale wat ek hoor,

niks wat my siel ooit so bekoor.

O, moedertaal, o soetste taal!

Jou het ek lief bo alles.

 

  1. Vlaglied

 

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:

Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?

Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg

Vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;

Die pand van ons erfnis, geslag op geslag,

Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;

Ons nasie se grondbrief van eiendomsland,

uitgegee op gesag van die Hoogste se hand

Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,

Die vlag van ons eie Suid-Afrika.

 

  1. Die lied van Jong Suid-Afrika (verse 3 en 4)

 

Waar glorie van songloed die berge

oor hul fronsende voorhoof streel,

waar winde oor golwende vlaktes

met grassaad kerjakker en speel,

Die land wat ons vaders gekoop het,

met bloed tot ons eie gedoop het:

Dit is die LAND van Jong Suid-Afrika!   x3

 

Die golwende veld is ons woning,

en ons dak is die hemel blou;

Die Vryheid alleen is ons koning,

sy wagwoord is: “Handhaaf en bou”.

Die stryd wat ons vaders begin het,

sal woed tot ons sterf of gewin het.

Dit is die EED van Jong Suid-Afrika!   x3

 

  1. Hul Boodskap: 1838-1938 (vers 3)

 

Ryk beskenk uit ons verlede

Wil ons padlangs hou.

God der Eeue rig ons skrede

Dat ons beter bou!

Ban die vreemd en valse gode,

Hoop deur duisend droewe node,

Kinders van Suid-Afrika.

Kinders van Suid-Afrika!

Dr Albert Hertzog en Jaap Marais in 1970 wat dapper by hulle volk se Christenlik Calvinistiese grondslag bly staan het en die liberalisme ingevoer deur Vorster en kie. beveg het ten spyte van die persoonlike aanvalle vanuit die AB en NP

Hoe en waarom het die Afrikaner Broederbond omgeswaai na liberalisme?

Bertus Radford antwoord die vraag: Hoe en waarom het die Afrikaner Broederbond ’n gedaante-verwisseling van nasionalisme na liberalisme ondergaan? 

Die vraag word dikwels gevra hoe dit moontlik is dat ’n Afrikanerorganisasie soos die Afrikaner Broederbond (AB), ’n organisasie wat die Afrikaner se geestes-, maar ook stoflike goedere op die hart gedra het, die pad in so ’n mate kon byster raak? Maar meer nog, ook die rug op Afrikanernasionalisme kon draai? Dieselfde lede wat die AB uitgebou het, maar waarvan ’n aantal later ook die goeie werk vernietig het. Die antwoord op hierdie vrae strek oor baie grense heen en sny plek-plek baie diep.

Die verliberalisering van die Nasionale Party onder John Vorster en die AB beweeg parallel. Dr Verwoerd het per geleentheid melding gemaak dat sy grootste taak is om sy kabinet eerbaar te hou. Hy was sy tyd ver vooruit, daarby was hy ’n idealis en intellektuele reus. Sy politieke stukrag het die kerk, kuns en kultuur in beweging gebring.

Die aanslag op dr Verwoerd

Tydens die eerste mislukte aanslag op die lewe van dr Verwoerd was daar ’n geheul om dr Verwoerd en die NP van sy beleid te dwing. Paul Sauer het, as ervare politikus in die onseker toestand waarin die land verkeer het, die uitlating gemaak: “dat die ou boek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis toe is.” Hy reken ’n nuwe gees moet ontwikkel word vir vertroue by blanke en swart nasies. Sauer was kop in een mus met ’n georganiseerde anti-Verwoerd groep om daardeur die nuwe beleid in die NP-kabinet te kon indra.

Die NP-koukus het Sauer ’n week hierna gekonfronteer. Hy en Ben Schoeman was woedend. Na dr Verwoerd se ontslag het hy die afvalliges tot orde geroep. Die poging om die beleid te verander en Sauer tot Eerste Minister te verkies, het misluk. Hierna het dr Verwoerd die Basson, Piet Cilliers en Schalk Pienaar-groep voor stok gekry. Die Kaapse liberaliste het gaandeweg harder probeer om ’n skeuring te bewerkstellig. Die staatsgreep wat deur die georganiseerde geldmag op die Nasionale party uitgevoer is, was een van die nadeligste gevolge van die moord 6 jaar later. Vorster se hantering van die moord en sy vriendskap met Oppenheimer verduidelik sy dubbele rol.

Aanval teen dr Hertzog

Enkele weke voor die moord op dr Verwoerd het die Basson, Cilliers, Serfontein en Merwis-groep (Sunday Times) ’n geweldige veldtog teen dr Hertzog geloods om daardeur ’n wig tussen dr Verwoerd en dr Hertzog in te slaan weens die besef dat dr Hertzog heel waarskynlik die opvolger van dr Verwoerd sou wees. Nadat dr Verwoerd Jaap Marais en ’n aantal LV’s te woord gestaan het ten opsigte van hierdie bedenklike toestand was dr Verwoerd se opmerking: “Dit laat my besef dat ek so lank as moontlik moet probeer leef.” Hy het volle beheer oor sy kabinet gehad.

En tog was dit alreeds hier te bespeur dat daar ministers en LV’s was wat sag was, om die minste te sê. In Maart 1966 het die NP sy grootste oorwinning ooit beleef. ’n Verdere 20 setels is van die VP weggeneem. Dr Verwoerd se hantering van Rhodesië se eensydige onafhanklikheidsverklaring het talle Engelssprekende Suid-Afrikaners agter dr Verwoerd laat inskuif. Dr Verwoerd se vasberadenheid het vertroue geskep. Tydens die Geloftefees te Bloedrivier het hy gesê: “Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekkers van ouds: ‘Ons kan nog stry en ons sal veg, al moet ons ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika.’”

NP en AB “onvernietigbaar”

Talle NP-leiers en lede was ook AB-lede. Die oorgrote meerderheid AB-lede het dan ook die AB en NP as onvernietigbaar beskou. ’n Mede-Nasionalis het die AB of NP nie maklik of lukraak bevraagteken nie. Die Nasionale Party en AB was die voertuig wat die Afrikaner uit die vuur en die slyk van ondergang gered het. Die Eerste Minister en Voorsitter van die AB was die “aanvoerder en die pasaangeër”. Twee instansies met leiers waarna die volk opgekyk het. Dr Verwoerd het die Afrikaner stewig aan die NP gebind.

Die volk het ’n liggaam ontvang waarna baie jare uitgesien is. Die leier en party tot die daarstelling van ’n Republiek, ’n Republiek waarvoor 59 jaar gewag is. Die samewerking tussen dr Verwoerd en die AB met die kommunistiese gevaar in die agtergrond was intiem. Die twee invloedrykste persone in die land was die Eerste Minister van Suid-Afrika en die voorsitter van die Uitvoerende Raad (UR) van die AB, in daardie stadium dr PJ Meyer, die man wat die wa van 1958 saam met dr Verwoerd sou trek. Met die moord op dr Verwoerd was die Nasionale Party haas onvernietigbaar, menslik gesproke.

 John Vorster wyk af

Met die oorname van John Vorster was dit die posisie van die NP sowel as die AB, en was hy ook deeglik bewus dat die leier en die party onlosmaakbaar van mekaar is. Derhalwe het Vorster geglo die kabinet sou hom nie teengaan nie. Verder het Vorster op die rug van die Rivonia-verhoor gery waarvan dr Verwoerd weliswaar die breinkrag was met die inhegtenisname van die Kommuniste. Die eerste afwyking van NP-beleid was die taalkwessie, die ontvang van swart diplomate in blanke woonbuurte asook ’n Maori in ’n All Black-span. Vorster se verweer was indien nie aanpas nie, dan sal die NP stemme na links verloor. Later is teruggekrabbel dat hy hom verkeerd uitgedruk het. Totale verwarring is geskep, verwarring wat sou deurbeweeg na die AB. Die Maori-aangeleentheid sou die kabinet tot stemming bring. Gelukkig vir Vorster het die stemming nie plaasgevind nie.

Dr. Verwoerd en die NP se beginsel: “dat daar nie toegelaat sal word dat sport in Suid-Afrika gebruik word ten einde politieke oogmerke te bereik” is deur Vorster opsy geskuif. Vorster en PW Botha het alreeds in November 1963 agter die rug van dr Verwoerd geknoei ten opsigte van ’n Maori in die All Black-span. Op 1 Oktober 1968 het dr Piet Meyer van die AB Vorster uitgenooi na die Halfeeufees-bondsvergadering van die AB. Vorster het met mag en mening wal gegooi en die klagtes teen hom ontken. Ook na aanleiding van AP Treurnicht as redakteur van Hoofstad se hoofopskrif: “Vorster sê Maori’s kan maar kom”, ontken Vorster dit heftig. Die spanning tussen Broers het verhoog. In ’n later stadium wou dit lyk asof swart diplomate met hul gesinne in blanke woonbuurte vir ’n groot aantal Broers aanvaarbaar was.

Vorster neem aksie in verkeerde rigting

Vorster het hierna die Afrikaner Ordegroep, wat sterk Hertzog-gesind en meestal AB-lede was, ontbind. Hierdeur plaas Vorster vir Meyer op die agtervoet. Die druk het toegeneem en ’n liberale element het des te meer sy kop in die AB uitgesteek. Dr Piet Meyer het ’n kongres teen liberalisme aangelê, maar die Nasperskoerante, Die Burger, Beeld en Volksblad wat omgeswaai het na die liberale beleid van Vorster, tesame met die Liberal Cape Nats en geldmagnate het hierdie poging tot stillstand gedwing. ’n Verdere terugslag vir Meyer en die Afrikanernasionaliste. Sekere kultuurgroepe o.a. die Akademie vir Wetenskap en Kuns het die rug op Meyer gekeer.

Liberale Pers val Afrikanernasionaliste aan.

Sommige Naspers-koerante het na die afsterwe van dr Verwoerd sy beleid aangeval, oftewel skerper aangeval. Die Afrikanernasionaliste in die AB en die NP is deur hierdie koerante swartgesmeer en onwaarhede rondom hulle geborduur. Die hoë joernalistieke karakter aangaande die koerante het nou verander in ’n smeercampaign. Vorster het aan die Nasperskoerante die jawoord gegee. Hy is opgehemel terwyl die grofste onwaarhede teenoor die Afrikanernasionaliste versprei is. Die Beeld, Die Burger, Dagbreek en Volksblad was die voorbokke terwyl Hoofstad en Die Vaderland die Hertzog-groep goedgesind was. Intussen het die breë kerklui met enkele uitsondering nie ’n vinger verroer deur Vorster tot orde te vermaan nie, trouens sommige leraars het begin deur hul eie mense in die laer te bespied.

 “Staatsgreep” op AB

Met die aanvang van 1968 was dit duidelik dat sake vir die Afrikanernasionaliste nie baie rooskleurig was nie. Vroeg in Desember 1967 het die voorsitter van die UR die opmerking gemaak “dat ons grootste taak nou is om van John Vorster ontslae te raak”. As gevolg van Vorster se inmenging het die AB in die laat sestigs algaande dieper in die eensydige partypolitiek beland. Onder die voorsitterskap van Meyer en Treurnicht is toegelaat dat ’n “staatsgreep” op die AB uitgeoefen is weens hul halfhartigheid. Die AB het sy karakter verloor. Belangegroepe het die AB as nuttige kontakorganisasie misbruik. Polisieamptenare is sonder die gebruiklike sirkulasie van die persoon se naam en goedkeuring as lid van die organisasie ingeskryf. Vorster het van die standpunt uitgegaan dat die AB slegs bestaansreg onder die NP het. Die AB mag derhalwe nie onafhanklik wees soos in sy vroeër bestaan gekenmerk is nie.

Die sentrale komitee van die AB het in ’n stadium beswaar gemaak teen lede wat medebroers, sowel as sekere nasionalistiese koerantredakteurs, aanval. ’n Gesplete persoonlikheid was aan die ontwikkel. Dr Meyer het in ’n stadium gesê “’n ding click of dit click nie. Met Verwoerd het dit geclick, maar nie met John Vorster nie”. Enkele dae hierna sê Andries Treurnicht: “Jy weet ek wil nie ophou glo dat die man nie ons man is nie. Des te meer onenigheid het in die NP en AB ontstaan en die vraag is gevra of die tweespalt in die NP en die AB oorbrug kon word? Tydens die Halfeeu Bondsfees probeer Meyer die verdeeldheid besweer. Van ’n klagskrif, dae later opgestel deur Afrikanernasionaliste in die AB, het niks van gekom nie.

 Meyer en Treurnicht keer rug op Afrikanernasionalisme

In September 1969 het Meyer en Treurnicht Vorster besoek. Vorster wou prontuit weet, indien die NP sou skeur, waar staan hulle. Meyer en Treurnicht het hul steun aan Vorster gegee. Vir die Hertzog-groep was dit ’n groot teleurstelling. Die AB het ’n totale stutorganisasie van Vorster se NP geword. Anders as in die dertig- en veertigerjare waar die AB neutraal gestaan het, het die AB nou met ’n uitskopaksie begin.

Tydens ’n AB-saamtrek, net voor die 1970-verkiesing het geplante Vorster-ondersteuners begin skreeu dat Vorster moes praat, ’n aksie teen die dag se program en reglement. In Februarie 1970 was ’n herhaling hiervan tydens ’n druiwefees op die plaas van Hendrik Schoeman. ’n Groep AB-lede wat in die teenoorgestelde kamp was het ’n memorandum volgens artikel 88 van die reglement opgestel, waarin tugstappe teen Vorster aangevra is, waarvan niks gekom het nie. In die jaarverslag van die Bondsraad word erken dat die AB teen die HNP is. Tussen die sogenaamde onpartydigheid, soos vroeër deur Meyer uitgespel, en sy partydigheid nou, moes iets gebeur het. Die AB kon nie die druk weerstaan nie en het ’n totale mondstuk van die NP geword. Hierna word Treunicht aangewys as lid van die sportkomitee. Die UR besluit dat die sportbeleid in paaiemente aan die Broers bekend gemaak word, ten einde hul doel te bereik.

Aksies teen die Afrikanernasionaliste

Die UR het besef dat hulle nie net links en regs Broers kon uitskop nie. Die besluit is geneem om dr Hertzog en Jaap Marais uit te sonder en daardeur die skrik in die ander Afrikanernasionaliste te jaag met die hoop dat hulle deur hierdie taktiek hul “samewerking” sou gee. Belaglike en valse klagtes is teen die twee leiers geformuleer. Telkens is die onwaarhede in briefwisseling tot die frustrasie van die sekretariaat uitgewys. Die sekretariaat het tot die belaglike en paniekerige stap oorgegaan deur dr Hertzog en Jaap Marais van onbroederlike skrywes aan te kla. Teen Treurnicht, wat in 1972 aan ’n lasterklag skuldig bevind is, is nooit ’n vinger gelê nie.

’n Komitee bestaande uit J Jooste, AD Pont, G Beetge, WT Warais en PJ Malan is saamgestel om die UR te spreek. Die onderhoud is geweier. Hierna het die komitee die pad gevolg deur direk met ’n aantal Broers kontak te maak. ’n Groot aantal lede was geskok oor die sekretariaat se optrede, die kat was behoorlik in die hoenderhok. Hier is dr Hertzog, Jaap Marais en ander Broers uit die AB gesit.

In Oktober 1972 moes elke lid van die AB plegtig hul woord gee dat hulle geen “verbintenis of assosiasie” met die nuwe party sou hê nie. Hierdeur het verskeie lede hul verbintenis met die AB gestaak. Die eens Afrikaner-nasionalistiese beweging het nou die dinkskrum van die liberaliste en kommunistiese meelopers geword, vanwaar hulle blank Suid-Afrika aan die magte van die duisternis oorhandig het. Op die keper beskou kan met reg geargumenteer word dat die liberale werkswyse deur Vorster gevolg in die eens Afrikanernasionalistiese gedrewe Nasionale party, en Willie Marais se vernietiging van die Herstigte Nasionale Party dekades later, in ’n mindere of meerdere mate dieselfde pad van verliberalisering in die Afrikaner Broederbond gevolg is.

Liberale werkswyse telkens dieselfde

Met redelike sekerheid kan aangeneem word dat enkele Broers in die AB nie hierdie organisasie se geloofwaardigheid in twyfel wou of kon trek nie, na wat die Afrikaner Broederbond vir die Afrikaner gedoen het, terwyl die oorgrote meerderheid slap in die knieë geword het. Weens lamsakkig- en papbroekigheid het hulle hul laat meesleur deur die liberaliste en verraaiers wat die georganiseerde geldmag gesterk het in hul kwaad, waardeur die geldmag verryk is omdat hierdie liberaliste toegesien het hoe die Afrikaner Broederbond des te meer ’n sleutelrol gespeel het in die verraad teen die witman van Suid-Afrika.

Bronnelys

Vorster se 1 000 dae, BM Schoeman, 1974.

Die era van Verwoerd, JA Marais, 1994.

Die Afrikaner Broederbond, AN Pelzer, 1979.

The Super Afrikaners, Ivor Wilkins & Hans Strydom, 1978.

Andries Hendrik Potgieter

deur Bertus Radford

Andries Hendrik Potgieter aanskou op 19 Desember 1792 die eerste lewenslig. Hy was fors en gespierd en met sy “Dopper”-uitrusting en gelyk gesnyde baard was hy maklik herkenbaar. Hy was ’n matige roker. Hendrik Potgieter se geloofslewe het hom na aan die hart gelê. Die liberale gelykheidsleer het hy nie geduld nie. As Voortrekkerleier sou hy diep spore trap in die grondlegging van Transvaal, ’n man wat nie altyd die regmatige erkenning as pionier en baanbreker ontvang het nie. Op trek na sy bestemming sou verskeie gesinne, onder andere Paul Kruger se ouers, by sy trek aansluit nadat Potgieter se trek die Tarka en Colesberg verlaat het. Met sy fyn aanvoeling en versiendheid het hy besef om van die Engelse juk ontslae te raak, moet die Afrikaner weg beweeg van die see, want “die Engelse is by die see.” Hy het egter besef dat ’n korridor na die see van die allergrootse belang is, derhalwe onderhandel hy suksesvol met die Portugese om ’n deurweg na Delagoabaai. Van die swart kapteins pleit by Potgieter om beskerming deur grond aan Potgieter te verkoop in ruil vir hul veiligheid teen die Matebeles. Na die verraderlike Liebenberg-moorde slaan die trekkers die aanval van die 6000 Matebeles wonderbaarlik met 35 man by Vegkop af.

Tydens ’n algemene vergadering in Desember 1836 word Gerrit Maritz tot President-regter en Potgieter tot laerkommandant verkies. Potgieter en Uys gaan hierna op ’n strafekspedisie waarna hulle die Matebeles verslaan en verjaag tot die huidige Bulawayo in ’n negedaagse oorlog. Na die moorde op Retief en ’n groot aantal Voortrekkers, vind die slag van Italeni in Natal op 11 April 1838 plaas. Die Voortrekkerkommandos word in ’n hinderlaag gelei en moes noodgedwonge die aftog blaas. Piet Uys en sy seun Dirkie sneuwel in die hinderlaag. Potgieter word deur sommige van die Voortrekkers van lafhartigheid beskuldig waarna hy terugkeer na Transvaal.

Potgieter verken Transvaal in sy geheel en verskillende dorpe kom tot stand. Potgieter ontmoet ’n Engelse gesant te Potchefstroom waarin Engeland die Transvaalse onafhanklikheid erken. As gevolg van verskillende menings betreffende die regeringsvorm kom gereelde onenigheid na vore. ’n Klein rebellie kom te Potchefstroom in opstand maar daar kom niks van nie. Onenigheid tussen Andries Pretorius en Hendrik Potgieter vind plaas as gevolg van Pretorius se inmengery in die Tranvaalsake, nadat Pretorius Natal verlaat en homself in Transvaal gevestig het. Gert Kruger en Pretorius onderteken die Sandrivierkonvensie waardeur Engeland die Tranvaal soewerein onafhanklik verklaar. Op 15 Maart 1852 vind die twee leiers mekaar. Hendrik Potgieter sterf op 16 Desember 1852.

Die Opposisie in Stadsrade ’n “klaaglike mislukking”

deur Bertus Radford

Professor Koos Malan van Sakeliga en Bennie van Zyl van TLUSA het op 6 Maart, tydens die fokusprogram van Pretoria FM, hul lot bekla wat betref die opposisie in die stadsrade, maar in die besonder koalisievorming. Volgens Malan is die “koalisies ’n klaaglike mislukking weens die baasspelerigheid van die DA” nadat Van Zyl ’n ellelange treurmare gelewer het rakende die huidige stadsrade wat nie die mas opkom nie, maar veral die koalisies, tot die verdriet van hul kieserskorps. Van Zyl het met ’n tipiese à la Bennie van Zyl die prent probeer inkleur en aan die einde uitgekom met die gedagte dat “gekyk moet word na iets anders”. Malan het dadelik gereageer met die woorde: “Ek gaan stem en diegene wat nie stem nie is aan die swart kant,” wat die Afrikaner by ’n baie belangrike en aktuele punt bring.

Nie-stemmers word gereeld daarvan beskuldig dat ’n wegbly-stem ’n stem vir die ANC is. Hierdie argument verg heelwat dieper ondersoek. Uiteraard is dit verraad. Die ANC-regime, die uitroeper van die verkiesing, is ’n kommunistiese organisasie, gelaai met Kommuniste en in bondgenootskap met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Mandela, die skrywer van die boek How to be a good Communist, was ’n geswore Kommunis. Kommunisme op sy beurt is die aktiewe arm van die Antichris. Die ANC is dus ingeskakel by die Antichris, die magte van die duisternis. Nou is dit so dat hierdie magte, met die ANC as spreekbuis, die politieke partye in Suid-Afrika uitnooi om te registreer vir die verkiesing deur hierdie onheilspellende magte. Aan hierdie party, nou die draer van die seël van die magte van die duisternis, gaan die stemmer sy stem toesê. Terwyl die ANC in baie volke se oë wêreldwyd ongeloofwaardig en onwettig is, is dit nou die stemmer wat wettigheid verleen aan die ANC en sy drakoniese meelopers. Nie net legitimiteit word verleen nie, maar die stemmer gee as’t ware ook erkenning en bestaansreg aan hierdie duistere magte. Indien die Afrikaner soos een man wegbly verloor die ANC sy geloofwaardigheid in die oë van die wêreld, en sodanige aksie sal die eerste treë tot verset wees.

In stede dat die soustreinryers, net so korrup soos die ANC, ’n openbare sirkus van die stadsrade en parlement maak, beweeg die Afrikaner nou in die regte rigting. Hierdie wete sal verdere druk op die vyand plaas. ’n Aksie van hierdie aard sal aanleiding gee tot ’n algehele ontevredenheid ter plaatse. ’n Toestand wat heilsaam sal inwerk op ’n toekomstige blanke regering. Tesame hiermee sal die blanke in plaas van ’n inkrimpende, weer ’n uitdagende houding inneem en die wêreld met respek na die Afrikaner laat kyk. Is dit die ander rigting waarvan Van Zyl onbewustelik praat? Die nie-stemmer sal dus nie aan die swart kant wees nie, maar die stemmer wel. En indien weer ’n diskussie wie die steun aan die ANC, die magte van die duisternis oorhandig, dan is dit die nie-stemmer wat met ’n rein, skoon gewete en gemoedsrus die toekoms tegemoet gaan terwyl die stemmer die oog laat sak.