Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) rig die onderstaande ope skrywe aan mnr. Willem Petzer, 17 Mei 2025
Geagte Mnr Petzer
U deeglike en volledige uiteensetting in een van u onlangse YouTube-uitsending (https://www.facebook.com/100044326849389/posts/pfbid0hBcsmaRx9a8PwHWhssGBYBP6TxWsoiMAndBm1Xx72WvA2LYxCaNM3rWgdzPfaLojl/?app=fbl) van die ANC se oogmerke, aksies en (sedert 1994) wetgewing ten einde uitvoering te gee aan die 1955 Kommunistiese “Freedom Charter” is ons insiens in die kol. Daarmee wens die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) u en u span hartlik geluk. Die waarheid móét internasionaal rugbaar gemaak word en in hierdie opsig ondersteun ons u heelhartig.
OngelukkIg trap u aan die einde van u aanbieding egter in die slaggat deur na u eie volk – die Afrikanervolk – te verwys as ‘n “minderheidsgroep” in die huidige Suid-Afrikaanse politieke bestel, wat mens ook sou kon noem die “ANC-regime”.
Graag nooi ons u uit om die ANB se ontleding van die politieke gebeure vanaf 1981 tot 2001, maar veral dié tussen 1990 en 1994, by die volgende skakel https://www.anbsa.co.za/die-waarheid-van-ons-geskiedenis/ noukeurig na te gaan. U sal daaruit bemerk dat u volk – die Afrikanervolk – deur verraad van “leiers” in eie geledere, deur middel van die IDASA-komplot, op veragtelike wyse bedrieg en uit die politieke seggenskap oor ons Vaderland – die Republiek van Suid-Afrika – gekul is. U, en die jong geslag wat ná 1994 gebore is, nooi ons hartlik uit om dié geskiedenis na te gaan.
Die essensie van die IDASA-komplot kan in onderstaande opsomming baie kortliks in die volgende hoofpunte saamgevat word:
- Die deursnee Konserwatiewe Party- en Afrikaner Volksfront-ondersteuner (bykans een miljoen Afrikaners) sou tussen 1990 en 1994 nie kon droom dat hulle deur hul eie “leiers”, wat hulle volkome vertrou het, verraai en uitverkoop sou word nie.
- Die begrippe “Selfbeskikking” en ‘n “Volkstaat” was die misleidingsretoriek wat Afrikanervolksverraaiers vóór 1994 reeds gebruik het.
- Deur regse Afrikaners se gedagtes in die rigting van ‘n “volkstaat” te stuur is hul vasbeslotenheid om die De Klerk-regering se oorgawe-politiek langs die konstitusionele weg by die stembus te stuit, doelbewus verydel.
- ‘n “Volkstaat, wat selfs “militêr afgedwing sou word”, (as geelwortel en troosprys) moes die Afrikanervolk daartoe beweeg om van sy politieke mag/seggenskap oor sy Godgegewe Vaderland – die Republiek van Suid-Afrika – afstand te doen.
- In die hoogste geheimhouding het “regse” Afrikanerleiers by etlike geleenthede op verraderlike wyse met die vyande van ons volk, die ANC-SAKP-NP-regering, reeds agt maande vóór die April’94-verkiesing, onderhandelinge gevoer.
- Tydens een van dié “onderhandelinge” (18 en 19 November 1993 by Farm Inn buite Pretoria) sou hulle namens Die Afrikaner Volksfront aan die ANC-SAKP onderneem
(a) om die oorgawe-verkiesing in April ’94 nié omver te werp nie
(b) en boonop hul lede aan te spoor om aan die “demokratiese verkiesing” (die weggee van ons land aan Kommuniste) deel te neem. - Die veragtelike “Afrikaner Akkoord” was die vrug van dié geheime gekonkel en geknoei deur verraderlike “regse” leiers agter die rug van die Afrikanervolk.
- Terselfdertyd het hierdie sélfde “Afrikanerleiers” die Boere-krisis-aksie (BKA), wat basies bestaan het uit die Blanke burger-kommando’s verspreid oor ons hele land, op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas “om enige dag tot aksie oor te gaan”, want die April oorgawe-verkiesing gaan verséker (deur “Operasie Jakkals”) militêr verhoed word!
- Daarvoor kon ook op die samewerking van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) en, sogenaamd, die ondersteuning van ‘n aansienlike deel (44 generaals) van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) gereken word.
- Verder is deur hierdie sélfde verraderlike “Afrikanerleiers” van verskeie verhoë af aan ons volk dié bedrieglike gerusstelling gegee
(a) dat die oorgawe-verkiesing beslis nié sal plaasvind nie
(b) en dat ‘n “Boere-Afrikaner Volksrepubliek” (‘n Volkstaat!) vir die Afrikanervolk uitgeroep gaan word, waarvoor op 29 Januarie 1994 selfs n “Oorgangs -Volksraad” in die lewe geroep is… natuurlik net om die skyn van erns aan die volk voor te hou. - Die Bophuthatswana-operasie (11 Maart 1994) was ‘n Nasionale Intelligensie (NI) projek wat, in noue samewerking met dié verraderlike “Afrikanerleiers”, haarfyn beplan en deurgevoer is, ten einde die BKA en AWB as regse “bedreiginge” vir ‘n vreedsame magsoordrag aan die ANC-SAKP, effektief uit te skakel.
- Bogenoemde word bevestig deur ‘n geheime skakeldokument van Nasionale Intelligensie op 19 Julie 1993 waarin genl. Tienie Groenewald via die buitelandse ambassade-kantore die vrese vir ‘n regse magsoorname besweer.
Dit het gelui: “REGSE OPSTANDE SAL NIE PLAASVIND NIE. BKA NAME SAL BEKEND GEMAAK WORD. MOONTLIKE OPSTAND SAL GEPAARD GAAN MET VERNEDERENDE RESULTAAT”. - Dat genl. Constand Viljoen eers die dag ná die Bophuthatswana-debakel sy “Vryheidsfront” finaal gaan registreer het om aan die April-verkiesing deel te neem “omdat hy toe gesien het dat oorlog nie gaan werk nie” is ‘n leuen.
- Genl. Viljoen het geweet wat in Bophuthatswana gáán gebeur. Hy was deel van die beplanning. Daarom het hy rééds teen die Woensdag (9 Maart), volgens die regulasie vir alle partye, sy kandidatelys by die OVK in Kempton Park ingehandig en dus die Vryheidsfront finaal geregistreer.
- Dat soveel as moontlik Blankes en veral Afrikaners aan die oorgawe verkiesing van April-‘94 moes déélneem, OM LEGITIMITEIT AAN DIE “NUWE POLITIEKE BESTEL” TE GEE, was die essensie van die IDASA-komplot.
- Dit beteken eenvoudig dat die huidige Suid-Afrikaanse “politieke bestel” nie tot stand sou kon kom sónder die geheime verraderlike agteraf gekonkel en medewerking van “regse” volksleiers, direk téén hul ondersteuners se wense en belang, met die ANC-SAKP as kommunistiese terroriste-organisasies nie.
Ons wys u daarop dat bogenoemde slegs ‘n baie kernagtige samevatting is van ‘n uitgebreide en deeglik begronde studie wat deur verskeie dokumentêre bewyse gestaaf word, soos u dit in die ANB-studie waarna hierbo verwys is sal kan nagaan.
In die lig van bogenoemde historiese feitlike gebeure, wat uiteraard in die grootste geheimhouding agter die skerms plaasgevind het en vir die afgelope 30 jaar deur die skuldiges vurig ontken of verswyg is, stel die ANB vandag aan u en ál ons mede-Afrikaners die volgende punte om te oordink:
a. Die Afrikanervolk is in 1994 op verraderlike wyse deur “regse” leiers wat hy vertrou het uit sy regmatige politieke seggenskap oor sy Vaderland – die Republiek van Suid-Afrika – gekul. Hy het NIE sy toestemming gegee dat mag aan Kommuniste oor sy Vaderland oorgedra mag word nie.
b. Vandag bedryf die Afrikanervolk, na 30 jaar, alleen deur die genade van ons hemelse Vader, ten spyte van ‘n gestadigde “oorlog” wat teen hom gevoer word waarvan derduidende plaasaanvalle getuig, stééds verreweg die grootste deel van die ekonomies-aktiewe landbougrond in Suid-Afrika.
c. Die name (nié die ANC “uitdinksels” in hul poging om die geskiedenis uit te vee nie) van dorpe, plase, riviere, berge, provinsies, distrikte en straatname reg oor ons héle land getuig duidelik aan wie hierdie land behoort. (Dit sluit daardie dele waarvan die name anders getuig natuurlik uit.) Blank Suid-Afrika, soos die Republiek voor 1994 algemeen bekendgestaan het, is die Afrikanervolk se Godgegewe Vaderland. Deur hoë offers en harde werk het hy dit van die wildernis ontworstel tot ‘n erfenis vir sy nageslag. Hy het die land van niemand “gesteel” nie.
d. Hoewel baie gedwing was om teen hul sin te emigreer, het vele wat hul werk verloor of op “vroeë pensioen” geplaas is ná 1994, deur vindingryke entrepreneurskap nuwe besighede in ons dorpe en stede, te midde van drakoniese ANC-wetgewing, landwyd gevestig en opgebou.
e. As dit vir ons net om ons materialistiese voortbestaan gegaan het, sou ons inderdaad ons wortels hier kon uittrek en elders heen vlug, maar
i. dan versaak ons die geloof van ons voorgeslag,
ii. hou ons op om Afrikaner- en Boerevolk te wees
iii. en kies ons vir die tydelike materialisme en individualisme van die ongeloof.
(Ons beweer nie dat álmal wat die afgelope 30 jaar noodgedwonge moes emigreer dit uit ongeloof gedoen het nie. Om te emigreer beteken om jou tot ‘n nuwe volk in ‘n nuwe Vaderland te gaan voeg.)
f. Al is soveel duisende boere en hul dierbares, veral sedert die afskaffing van die kommandostelsel, die afgelope 40 jaar op die grusaamste wyses op plase en elders vermoor of vermink, is hul offers (net soos dié van 27 000 Boervroue en –kinders in die konsentrasiekampe) nié tevergeefs nie. Dit is die heldere bewys aan die wêreld dat die Kommuniste hul oorlog teen die Afrikanervolk ná 1994 steeds onverpoosd voortsit.
g. Elke druppel bloed is op die hande van dáárdie volksverraaier-“leiers” deur wie die ANC-SAKP in 1994 aan bewind gestel is en wat vandag verdien om deur die volk verwerp te word.
h. Ons is egter deur die HERE se bewaring nóg in ons Vaderland. Hóm kom die wraak toe.
i. Maar om te vlug (na Amerika of waar ookal) is om die “boodskap” aan die Kommuniste uit te stuur dat hul druk dividende lewer. Dán word die druk op húlle wat nog vasstaan net gróter.
j. Plaasaanvalle het ons Boerevolk weer geleer om saam te staan. Elke aanval wat afgeweer word bring mense nader aan mekaar en ons vyande verloor moed. Die wyse waarop etlike gemeenskappe byvoorbeeld die onluste in Natal ‘n tyd gelede afgeweer het, terwyl die SAPS magteloos was, is verblydend.
k. Maar waar boere-gemeenskappe weens druk uitmekaar spat (verkoop en wegtrek) bied ons ons grond op ‘n skinkbord aan. Só bereik die Kommuniste hul doel.
l. Daarom is dit van kardinale belang dat élke landelike én stedelike distrik op eie inisiatief eie beveiligings- en ondersteuningstrukture (veral waar so-iets nog nie bestaan nie) op die been móét bring, ten einde die rewolusionêre onluste wat na alle aanduidings nou gaan toeneem, die hoof te bied.
m. Om ons grond, besighede en eiendom, ons erfgoed, prys te gee om ons in ‘n “Volkstaat” (waar ookal in SA) te gaan vestig, is om:
i. uit eie beweging ons erfenis aan die Kommuniste te oorhandig,
ii. die HERE se bewaring oor ons die afgelope 30 jaar te misken,
iii. die geloofsverwagting prys te gee dat die HERE, wat die onreg en verraad aanskou het, ons op Sy tyd as dit in Sy Raad so beskik is, soos in 1881 en 1961, wéér in ons Vaderland sál herstel.
n. As ons eenmaal ons eiendom (ter wille van ‘n “volkstaat”) verlaat
i. verloor die Afrikanervolk sy regmatige aanspraak op Blank Suid-Afrika
ii. en word uitvoering gegee aan die ou verraadsplanne van vóór 1994 (vergelyk punt 2,3,4 en 7 hierbo).
o. By al die mooi dinge wat in Orania gebeur mág ons nie vergeet dat die HERE hierdie héle land as erfdeel aan ons toevertrou het nie.
i. Dat sommige Afrikaners hulle in Orania en omgewing gaan vestig het om ‘n besonder hegte Afrikanergemeenskap te vorm met wye potensiaal tot verdere ontwikkeling is goed.
ii. Dat Orania egter tot ‘n eie onafhanklike Volksrepubliek kan ontwikkel, binne die huidige Suid-Afrikaanse politieke bestel is, soos die “Afrikaner Akkoord” duidelik uitspel, ‘n illusie.
iii. Waarom dan nie bly vasstaan in die gemeenskappe waar die HERE ons volk steeds geplaas het en wil gebruik oor ons hele land nie?
iv. Diegene wat ywer vir ‘n “Volkstaat” aan die hand van die “Afrikaner Akkoord” of op welke wyse ookal wil in der waarheid afstand doen van die Vaderland, ons Godgegewe erfenis.
v. As ons “tevrede” is met ‘n Volkstaatjie gee ons aan die ANC-SAKP “toestemming” om met hul plundering van ons héle land voort te gaan.
vi. En wat sal uiteindelik van ons “Volkstaat” oorbly wanneer die hele land in chaos en anargie en stamgevegte ten gronde gaan?
vii. Hoe durf ons kapituleer, ons grond verlaat, dit vrywillig aan die regime oorhandig asof hulle ‘n wettige aanspraak daarop het? Om dan te gaan krepeer in ‘n “Volkstaat”, omring deur daardie vyandige regime, uitgelewer aan hulle wetlike vereistes en voorwaardes, en dan die skamele hoop te koester dat die massas nie toenemend na die “Volkstaat” sal keer namate hul ineenstorting versnel, veral nadat die ekonomies aktiewe Blankes onttrek het.
p. Die ANB is derhalwe oortuig dat indien ons val vir die geelwortel van ‘n “Volkstaat” (wat van die begin af déél van die bedrieglike komplot teen die Afrikanervolk was en sonder twyfel steeds is) ons beslis in die hande van die Kommuniste speel, wat wil hê dat ons ons erfgoed vrywillig in hul hande moet laat.
q. Ons erfenis, ons Nabotswingerd, die vólle deel van ons Vaderland bekend as Blank Suid-Afrika, wat deur ons voorgeslagte deur geloof en harde werk van die wildernis ontworstel is, mág ons nie van óns nageslag vervreem nie! (Nabot het nie sy wingerd aan Agab aangebied om dan slegs ‘n klein deeltjie vir eie gebruik – materialisme – terug te vra nie.)
r. Dít kan in die lig van ons volksgeskiedenis in hierdie land nié oorbeklemtoon word nie:
i. Deur hoë en dure offers van geloof, harde werk en selfs hul vergote bloed is ons héle Vaderland deur ‘n Godvresende voorgeslag as erfenis aan ons toevertrou.
ii. Wee ons indien ons nié ook bereid is om ten bloede toe te stry om ons erfenis aan ons nageslag te kan oordra nie.
s. Mág ons dit aanvaar dat in net 30 jaar deur ‘n vreemde mag van buite (die ANC en Kommunisme het nié vanuit ons eie inheemse Swart volkere voortgespruit nie) afgebreek is wat God in 300 jaar deur die nasate van Geus en Hugenoot hiér tot stand geroep het?
t. Mág ons sê: Die HERE se hand is te kort om wéér hierdie land aan ons terug te gee (Jesaja 59:1), soos Hy reeds twee maal in ons volksverlede gedoen hét?
u. Die HERE hét die onreg en verraad gesien… en Hy sién die bloed van soveel weerlose bejaardes op ons plase. Ons oë en vertroue is op Hom alléén. Laat ons op ons knieë voor Hóm buig en Hom om genade smeek. Ons behoud is vandag, soos by Bloedrivier, alléén in Sy welbehae geleë.
v. Soos ons voorgeslagte, soos blyk uit ons geskiedenis, in hul standvastigheid en geloofskrag volhard het deur die aller onstuimigste tye, só moet ons óók doen.
w. Laat dié onder ons wat van die ware geloof afvallig geword het tot Hóm terugkeer. Laat hulle weer vertrou soos ons vadere vertrou het…
x. Ons heil lê NIE in die raadsale van die wêreld, by Trump of om die onderhandelingstafel met Kommuniste nie. Ook nie binne hierdie politieke bestel wat deur verraad tot stand gekom het nie!
y. Die HERE hét in 1961 aan ons ‘n Vrye Republiek oor heel Suid-Afrika gegee. Die Britse imperialisme kon dit nie verhoed nie. Mag die HERE ons wéér in ons Vaderland herstel op Sy tyd. Die Kommuniste en wêreldkragte sal dit weer nié kan verhoed nie.
z. Die ANB se oproep is:
i. Kom ons maak ons los van hierdie verraderlike “politieke bestel”.
ii. Kom ons onttrek ons nie aan ons Vaderland nie.
iii. Kom ons VERENIG weer rondom ons ou volksideaal: Ons wíl weer in ons ganse Vaderland oor onsself regeer!
iv. ‘n Volk wat dít nie wil nie is die naam volk nie werd nie.
U mag nou moontlik die Afrikaner Nasionalistiese Beweging as “ver-regs” tipeer… Wel, wat “regs” en “links” betref: Om regs te wees en om ‘n “regse baadjie” aan te trek is twee verskillende dinge. Verskeie van ons “regse” leiers soos hierbo na verwys, was in werklikhed linkse agente en volksverraaiers met duistere agendas wat vele mislei het. Dit was leiers wat, vanweë hul regse openbare standpunte en uitsprake groot steun onder ons volk geniet het, maar wat agteraf in die geheim met die vyande van ons volk, die Kommuniste, samesprekings gevoer en selfs ten nouste meegewerk het. Van hiérdie strategie van die vyand om ons volksaak te ondermyn deur “leiers” wat regs praat, maar in die geheim links doen, gaan sékerlik nog boeke geskryf word namate die volle waarheid van ons geskiedenis blootgelê word…
Namate ‘n nuwe volks-nasionalisme begin ontwaak onder ons mense, veral onder jong Afrikaners, word nuwe planne in plek gestel deur vyande van ons volk om nogeens, soos voor 1994, deur misleiding daardie opwelling van die nasionalisme te bestuur. Die Afrikanervolk het oor te veel beskik waarop die wêreldoorheersers graag hul kloue wou lê. Daarvan wil hulle nie nou afstand doen nie. Dat die Afrikaner boonop vandag steeds voedsel vir ‘n groot deel van Afrika voorsien druis in teen die diaboliese plan om die mensdom deur middel van voedsel-monopolie te beheer.
Daarom kom diesélfde “leiers” (individue) vandag wéér na vore en boonop met die ou retoriek van “selfbeskikking” en ‘n “volkstaat”. En na 30 jaar is daar ‘n nuwe geslag vir wie dit baie “sin maak” om só van die verknegting deur die ANC en hul drakoniese wetgewing bevry te word. Gevolglik kan ‘n mens verwag dat die “volkstaat”-idee nou wéér onder ons volk soos soetkoek gaan verkoop. Die Afrikaner moet sy erfgrond oorlaat in die hande van die “magte in beheer” en in ‘n “volkstaat” die wêreldheerskappy probeer ontvlug. Dít mág nie!
Die ANB deel nié u sentiment in u oproep aan president Trump om te help “to make South Africa great again” deur “steps taken to end ANC discrimination and opression” nie. Die ANC-regime is ‘n onwettige regering wat sonder die toestemming van die wettige eienaars van hierdie land politieke beheer van ons land geneem het. Soos hierbo deeglik uiteengesit is dié verraad voltrek met die hulp van leiers van die KP en die AVF wat hul lede en volgelinge bedrieg het. Van ‘n finale referendum/stemming om die oorgang na ‘n nuwe politieke bestel te in werking te stel (volgens die belofte van FW de Klerk) het niks gekom nie. Daarom kan met reg gestel word dat die ANC-regime onwettig regeer. Dít is die onreg wat reggestel moet word! En daarvoor kan u maar vergeet om die internasionale wêreld se hulp in te roep. Dit is immers deur hulle inmenging en befondsing dat die Blanke bewind in Suid-Afrika beëindig is.
U het ongelukkig grootgeword onder ‘n bestel waarin die wettige eienaars en alleen-burgers van die RSA tweedeklas-burgers onder ‘n ANC-bewind is. Daarom is dit van kardinale belang dat jongmense soos u hulself verwittig van die geskiedenis van veral die tydperk van die magsoorname deur ‘n Swart meerderheidsregering. Sodra u uself van die feite rondom daardie tydperk verwittig het sal u die stelling deur u gemaak dat die beste tydperk van ons geskiedenis die jare 1992 tot 2008 was onvoorwaardelik terugtrek. Hierdie was juis die jare van verraad en konkelwerk waardeur ons volk mislei is om te glo in die bereiking van selfbeskikking vir die Afrikaner in ‘n eie grondgebied, terwyl sy eienaarskap en alleenseggenskap oor sy erfgrond sopas van hom weggesteel is deur verraad uit eie geledere! Dit kan nóóit as die beste tydperk van die verlede aangedui word nie, self nie eens deur die Nuwe Suid-Afrika-bril nie! Die bloeijare van ons geskiedenis was vanaf 1948 met die bewindsoorname van die Nasionale Party en het sy hoogtepunt bereik vanaf Republiekwording in 1961 totdat dr. Verwoerd in 1966 vermoor is sodat die pad voorberei kon word vir die vernietiging van Blanke bewind in Suid-Afrika, sowel as Suider-Afrika.
En nie net vanweë die feit dat alles beter gewerk het, dat die ekonomie gefloreer het, misdaad effektief beheer is, alles skoon, netjies en geordend was nie, mnr. Petzer. Al hierdie dinge is uitvloeisels van ‘n geslaagde politieke beleid. Wanneer effektief regeer word is die geldeenheid sterk en gaan die ekonomie van krag tot krag, net soos wat wet en orde ‘n uitvloeisel van effektiewe politieke bestuur is. Die huidige verval en wetteloosheid tesame met ‘n ekonomie wat dreig om ineen te stort is weer ‘n sprekende voorbeeld van oneffektiewe regering vanweë implementering van ‘n politieke beleid wat gedoem is tot mislukking.
Nee, ook vanweë die feit dat die apartheidsbeleid ‘n edele en regverdige beleid was. ‘n Beleid wat erkenning gegee het aan die regverdigheid daarvan dat elke volk oor homself behoort te regeer in sy eie grondgebied, vry van inmenging of oorheersing deur ander volke of rasse. Dit het van die Calvinistiese beginsel van leef en laat leef uitgegaan, met inbegrip daarvan dat aan elke volk dieselfde regte en voorregte in sy eie gebied gegun word. Dat rassevermenging rasse-wrywing meebring. Daarom is aan die Swart volkere dieselfde grondgebiede terugbesorg waar hulle aanvanklik aangetref is toe hierdie grootliks onbewoonde land binnegetrek is. Vandag word groot gewag gemaak van die vreeslike emosionele skade wat Swartmense moes ly vanweë die “drakoniese apartheidswette”, ‘n leuen wat ongelukkig ook deur Blanke kinders geglo word omdat hulle, soos uself in ‘n onderhoud sê, van vroeë laerskooljare af mee geïndroktineer word. En so sal elke ANC-jeugdige ook verklaar – veral as hulle soos u ná ’94 gebore is. Maar gaan gesels gerus met die ouer Swartmense … hulle sal vir jou noem dat hulle graag die apartheidsjare wil terughê – toe hulle darem vanweë “apartheids-ligte” en goeie wet en orde veilig was in die lokasies.
Maar omdat dr. Verwoerd se apartheidsbeleid so ‘n groot sukses was moes hy uit die weg geruim word deur hom te vermoor. Toe kon ons volksvyande net soos die Britte toentertyd vir die Uitlanders, stemreg eis vir die Swart massas. Net soos Paul Kruger tóé gesê het: “julle wil my lánd hê” was dit hier weer presies dieselfde – die stemregkwessie is bloot aangeroer ten einde die Blanke se seggenskap oor sy land hom te ontneem. Daarmee is ook die apartheidbeleid vermoor en kon Pik Botha in die sewentigerjare trots voor die VVO verklaar dat die NP-regering ná doktor Verwoerd die suurstofkrane van apartheid geleidelik toegedraai het.
As u en ander vanuit die oogpunt redeneer dat die huidige bestel legitiem is en dat die Afrikaner maar ‘n ongewensde bywoner geraak het in sy eie Vaderland, maak dit ook nie sin om vir ‘n Volkstaat te ywer nie. As die Swartes se grond van hulle gesteel is deur die Europese indringers, en die Blanke glad niks hier verloor het nie, en toe boonop die misdaad teen die mensdom, genaamd apartheid aan die Swart volkere kom opdring het, wat gee hom ‘n reg tot eie grondgebied? Dan moet ons maar toegee aan hul eise: gee terug die grond, die besighede en welvaart – dis tog deur uitbuiting van goedkoop Swart arbeid bereik, en trek terug Europa toe!
Op grond van watter argumente wil u dan selfbeskikking vir die Afrikaner hê?
Die ANB verkondig luid en ondubbelsinnig dat hierdie land aan die Afrikaner behoort. Hy is die erfgenaam en regmatige eienaar daarvan. Dit is die erfdeel wat deur God self aan hom toegedeel is. Geen verdraaiing van die geskiedenis of indoktrinasie deur kerk, mediahuis of skool, wat ons verlede beswadder en poog om die Afrikaner met ‘n skuldgevoel te belaai, kan dit ooit verander nie.
Daarom lê ons heil en ons vryheidstrewe nie binne hierdie politieke bestel nie. Ook nie by Trump of die internasionale wêreld nie. Ons kan onder hierdie God-onterende grondwet niks heilsaams vir ons volk beding nie. Ons heil lê in die herwinning van die politieke seggenskap oor ons land. Alleen dan sal die Afrikaner waarlik vry wees.
Meneer Petzer, u, as meningsvormer word opgeroep tot gesprek met die Afrikaner Nasionalistiese Beweging. In die politiek is daar geen goue middeweg, die “middelgrond” wat u probeer handhaaf nie. Die Nasionale Party het lank daardie posisie probeer handhaaf nadat hulle dr. Verwoerd se apartheidsbeleid verlaat het. Waar het hulle geëindig – op 5 Augustus 2005 het al hulle parlementariërs oorgeloop na die ANC – let wel, nie na die DP (die ou PFP), hul tradisionele linkse vyande wat die NP geleidelik al meer links gedruk het as amptelike opposisie in die parlement nie, nee, skoon by hulle verby om in die kommunistiese ANC op te gaan! U bevind uself dus op daardie glybaan na links. Dit verg mannemoed om nie altyd die politiek korrekte antwoord te gee of die standpunt te probeer inneem wat nie aanstoot gee nie. Die middeweg vereis dit egter. Maar dit deug nie, want die politiek is altyd gepolariseerd. Die Afrikaner is nie ‘n minderheidsgroep in sy eie land nie. Hy is die alleen-eienaar daarvan. ‘n Volk soos die Afrikanervolk, wat danksy God se genade gedy het, met ‘n roemryke heldedom en verlede, wat in die State-ry verhef is tot een van die voorste volke in die wêreld, word nie vanweë getalle-oorwig tot ‘n “minderheidsgroep” gereduseer nie.
Ons wil graag met u in gesprek tree oor al hierdie aangeleenthede.
Vriendelike groete
Dagbestuur: Afrikaner Nasionalistiese Beweging