Monthly Archives: Februarie 2025

Adv. Jurgens Prinsloo en Dr. Jann Schlebusch moet vrae beantwoord

In Deel 7 van die artikelreeks Regse Verraad wat op die ANB-webblad verskyn het is onder andere ook die naam genoem van dr. Jann Schlebusch van Bloemfontein, ‘n bekende in kultuur- en godsdienskringe. Daaroor het mnr. Boeta Erasmus, lid van die ANB-dagbestuur, met dr. Schlebusch in privaat gesprek getree. In die loop van die wisseling van argumente is die verraderlike rol van die topleiding van die Konserwatiewe Party (KP) onder die loep geneem.

Hierteen het dr. Schlebusch sterk geprotesteer, waarna hy besluit het om sy siening van die saak in ‘n plasing op sy Facebook-blad te publiseer.

Daar was ‘n oorweldigende reaksie op sy plasing, met heelwat deelnemers wat dr. Schlebusch laat bontstaan het met die statering van feite rondom die verhouding tussen die KP en HNP voor en na 1994, asook die rol wat die topleiding van die KP en die Volksfront (AFV) gespeel het in die 1994-verraad.

Die leier van die Afrikaner Selbeskikkingsparty, adv. Jurg Prinsloo, het later ter ondersteuning van dr. Schlebusch tot die gesprek toegetree. Maar soos dr. Schlebusch kon ook hy nie hond haaraf maak teen die oorweldigende feitestellings wat deur veral mnr. Boeta Erasmus gelewer is nie.

Mnr. Erasmus het pertinente vrae gestel waarop geen antwoorde verskaf is nie, veral na aanleiding van bedenklike stellings wat deur adv. Prinsloo gemaak is. Hy is by herhaling deur mnr. Erasmus gepols om bewyse daarvoor te lewer, maar steeds swyg hy soos die graf daaroor.  

Deur mnr. Erasmus is ‘n kliniese ontleding gelewer van die ontvouing van die verraad van 1994, soos in detail uiteengesit in ‘n studiestuk wat in Desember verlede jaar deur die ANB op hul webwerf gepubliseer is (https://www.anbsa.co.za/die-waarheid-van-ons-geskiedenis/).  Die vernietiging van die Afrikanervolk se politieke mag kon alleen bewerkstellig word  deur die geheime medewerking van leiers van die KP en AFV wat hulle lede en ons volk op die mees skandelike wyse verraai het. Indringende vrae is deur mnr. Erasmus gestel. Sy aantygings oor die verraderlike rol van hierdie leiers is met deeglike bewysvoering, aan die hand van dokumentêre bewysstukke, gestaaf.

Die stilswye en klaarblyklike onvermoë van diegene wat hierdie verraad aanvanklik heftig ontken het spreek boekdele.

Adv. Jurg Prinsloo, ons wag nog stééds vir u terugvoering oor waarom die KP met die oog op die Florida-Tussenverkiesing (Augustus ’92) nié ‘n kandidaat teen die NP gestel het nie? Of anders gestel: Waarom het die KP die konstitusionele stryd om die De Klerk-regering se magsoordrag aan ‘n kommunistiese Swart-meerderheidsregering ná Maart ’92, meer as twee jaar vóór die oorgawe-verkiesing, stopgesit?  Ons wag nog vir u nadere beskrywing van “verskeie optogte met baniere waarin ‘n blanke verkiesing geëis is” en die “gesamentlike saamtrek” van leiers met toesprake waarin na u “herinnering” ook ‘n verkiesing “geëis” sou wees, ná die Maart ’92 referendum…

Waarom het die KP-topleiding die KP-kongresbesluit van September ’93 dat “dringend ‘n Blanke Algemene Verkiesing geëis móét word” verontagsaam? Waarom het die KP as amptelike opposisie in die Parlement die ongrondwetlike afskaffing van parlementêre tussenverkiesings deur die DE Klerk-regering reeds in September ’92 klakkeloos aanvaar? Waarom is die aandrang (van slegs die HNP) op die afdwing van Blanke verkiesings op beide die stigtingsvergaderings van die AVF (20 April en 7 Mei 1993) deur alle “regse” leiers wat op dié vergaderings teenwoordig was in die wind geslaan? Wat het genl. Tienie Groenewald bedoel met dié bedenklike stelling, volgens Sunday Times 2 Mei 1993, dat die vergadering van 20 April in die TLU-gebou “the culmination of months of “lobying” behind the scenes” was? Waarom mag op die AVF-Bosberaad van Augustus ’92 selfs “die moontlikheid van Blanke verkiesings nie eens genoem” word nie?

Wáár het die KP druk op die regering uitgeoefen om ‘n Blanke verkiesing te eis op die mees kritieke tydstip toe almal besef het waarop sake afstuur? Onthou dat De Klerk nog in die Maart’92 Referendum “eie skole” en “eie woonbuurtes” gewaarborg het!

Daar is ook talle vrae oor wat in die binnekring van die BKA gebeur het… veral rondom die Bophuthatswana-operasie van 11 Maart 1994. Vrae wat deur dr. Schlebusch, wat volgens eie getuienis in die BKA-leiding betrokke was, geantwoord moet word, maar waarop geen antwoorde ontvang word nie.

Indien die aanbieding van die feitlike gebeure soos beskryf in die ANB-studie van Desember 2024 nie betwis of weerlê word nie, moet aanvaar word dat dit die waarheid is en dat die Afrikanervolk op laakbare bedrogvolle wyse uit die politieke seggenskap oor sy Vaderland deur mis”leiers” uit eie geledere gekul is.

Dit maak van die huidige ANC-regime ‘n “politieke bestel” wat slegs deur ‘n agteraf verraderlike gekonkel tot stand kon kom.

En nou beoog húlle om op “gewettigde” wyse ons grond te vat en deur BELA ons kinders van ons te vervreem.

WANNEER gaan die Afrikanervolk die WAARHEID in die oë kyk, hierdie bestel verwerp asook die “leiers” wat ons hierin gelei en ons steeds hierin wil hou. Die énigste doel agter sogenaamde “Afrikaner verteenwoordiging” in die huidige politieke bestel is om daaraan legitimiteit te gee.

WANNEER gaan ons volk weer (buite die huidige politieke bestel) EENDRAGTIG NEE sê en terugveg soos ons gelowige voorgeslagte in ons volksverlede so baie moes doen?

Laat ons eendragtig VERENIG buite hierdie verraderlike bestel. Die Afrikanervolk het nóóit sy toestemming verleen dat sy regmatige eiendom, die Republiek van Suid-Afrika, van hom vervreem word nie.

Ons oë is nie op Trump nie… maar op die HERE alléén!

NUGTER BEOORDEEL: Ballinge, Vlugtelinge en Emigrante.

deur CJH Vorster, 12 Februarie 2025

Deel 1

Inleiding

Na Trump se verklaring oor die vlugtelingstatus wat die VSA verleen aan Afrikaners (interessant, nie Suid-Afrikaanse blankes nie, maar Afrikaners), is die gesprek weer vuurwarm – oor emigreer, vlug en ballingskap.
Let wel, vlug en emigreer is twee verskillende dinge.
As jy vlug, word jy vlugteling. As vlugteling is jy ontneem van baie regte. As jy vlug, plaas jy jouself in die hande van die mense waarheen jy vlug. Jy verklaar jouself bereid om te gaan en te doen wat die ‘redder’ besluit. Hy het nou jou belange, jou lewe in sy hande. Jy is nie meer baas oor jou bewegings en besluite nie. Tot tyd en wyl omstandighede verander.
Net so is om te emigreer en om in ballingskap weggevoer te word, twee verskillende dinge.

Emigreer of vlug?

Soos reeds gestel: Daar is ‘n groot verskil tussen emigreer en vlug.
Die Hugenote (Franse) wat na SA gekom het, was vlugtelinge (weereens, nie ballinge nie), gedwing om ter wille van hul geloof hul land te verlaat. Hulle is nie weggevoer teen hulle sin nie. Hulle was ook, soos ons nou, onder beleg in hul eie land, en is uiteindelik deur langdurige doodstryd daartoe gedwing om te vlug.
Sommige het by die inburgering van die eerste dragonders, die afbrand van die eerste tempels die land verlaat. Ander het baie lank vasgebyt, vir dekades, en eeue – voordat hulle, hulle kinders of kindskinders die groot stap geneem het. Ten spyte van bloedige vervolging. Baie het gekies om op moedergrond te sterf, eerder as om die land te verlaat.

Die regte tyd?

Wie is ons om te oordeel oor watter tyd vir elkeen die regte tyd was om te vlug? Net so sal ons nie nou kan oordeel oor watter tyd die regte tyd is om te vlug nie. Dit bly maar ‘n gewetensaak vir elkeen.
Maar een ding is duidelik:
Vir ons gelowige voorouers was die bedreiging en vernietiging van hul geestelike erfgoed, hul geloofs-beginsels, die hoofbepalende faktor. Nié fisiese of ekonomiese voordeel nie.
Ter wille van die getuienis, in geloofs-noodsaak, moes hulle.

Geloof of gemak?

Dit is ongelukkig so dat die besluit om te emigreer, by meeste mense ontstaan uit die behoefte aan gemoedsrus en fisiese en finansiële sekuriteit, en nié geloofs-noodsaak nie.
Vrae aan myself, om eerlik te antwoord:
Word ek vir my geloof vervolg – ten bloede? Word my lewens-moontlikheid so ingeperk dat ek nie anders kan as om te vlug nie? Wanneer het my voorouers gevlug? Is ek ook nou daar, in soortgelyke situasie?
Hoe belangrik is dit vir my om my Godgegewe identiteit (soos ten nouste verbind aan my land, volk en taal) te beskerm as deel van my erfenis?
Hoe belangrik is my roeping vir my – om te getuig as gelowige Afrikaner teenoor ‘n ongelowige identiteitlose wêreld?
Wanneer verval my roeping om die getuienis te laat hoor? Verval dit ooit? Kan ek kies om my roeping te laat vaar?
Wat van die rekenskap wat ek eendag moet gee teenoor God, die Gewer van my erfgoed, geestelik en fisies?

Om te Emigreer.

Om te emigreer en vlug is twee verskillende dinge.
Jy kies om te emigreer. Hier is ‘n paar dinge om in gedagte te hou.
Dié wat kies om die land te verlaat om permanent in ‘n ander land te gaan woon, verlaat in effek ook hul volk. Hulle gaan nie as volksgroep nie, en so ‘n emigrasie lei nie tot uitbreiding van die landsgrense, of die stigting van nuwe volks-republieke nie soos wat die geval was met die Voortrekkers nie.
Hulle gaan as individue.
En hulle versprei oor die wêreld… en word opgeneem in die multikulturele samelewing.

Nuwe identiteit – of identiteitsloos?

Indien jy gelowig is sal dit noodwendig wees dat jy ‘n nuwe identiteit aanneem. Want ‘n gelowige is iemand met identiteit. Hy wil sy verantwoordelikheid teenoor sy nageslag nie versaak nie.
In die nuwe land ruil hy as’t ware sy Godgegewe/gebore identiteit vir n nuwe identiteit, en beloof trou aan sy nuwe land. Hy verklaar hom bereid om die nuwe land se taal, kultuur en maniere sy eie te maak, want net dan is hy opreg in sy bedoelings teenoor sy nuwe land, en die nageslag wat hy daarin grootmaak.
As opregte Christen, wil hy immers nie daar gaan om bloedsuier te wees, net gesteld op eie gewin en welvaart-voordele nie. Hy maak daardie land sy eie – hy word Amerikaner, Australiër, Duitser, Hollander, Brit, Fransman.
As jy emigreer bly jy nié Afrikaner nie.

Deel 2

‘n Nuwe volk, elders?

Dit is wel so dat ons volk gevorm is deurdat lede uit verskillende volke hier op nuwe bodem as’t ware deur omstandighede gedwing is om uiteindelik hul identiteit as Hollander, Fransman, Brit, Duitser, Sweed… prys te gee en Afrikaner te word.
Stelselmatig, en deur middel van omstandighede is hierdie lede van verskillende volke gedwing om op te gaan in ‘n nuwe volk. Dit het nie oornag gebeur nie, en veral die Franse Hugenote het probeer om Franse te bly in hul nuwe land. Dit was egter God se wil dat hulle hul nuwe identiteit moes aanvaar.
Nou word die gedagte geopper dat dit dalk God se wil kan wees om die Afrikanervolk te laat verdwyn, en wie weet… miskien weer ‘n ander, nuwe volk te gaan begin op ‘n ander plek.

Druk en nood.

Waarom dink hulle hierdie volk se tyd is verby? Omdat dit alte swaar begin gaan, en die toekoms al swarter lyk. Druk en nood is ons voorland – menslik gesproke is daar geen hoop vir ons voortbestaan hier aan die suidpunt van Afrika nie. Menslik gesproke.
Maar kom ons dink bietjie mooi.
Uit die geskiedenis sien ons dat ons volk juis gebóre is uit druk en nood. En dat ons volk steeds voortbestaan óndanks nood en druk. Op sy swakste en benoudste is die gelowige, en die gelowige volk, telkens op sy sterkste – want dan is hy sterk in Christus. (2 Kor. 12:9-10)
Ken ons nog ons geskiedenis?
Nee, ons het skromelik nagelaat om onsself en ons kinders te herinner aan die groot dade van God (Ps. 78:3-4). Daarom dat daar nou in onsekerheid rondgeval word.
Deur terug te kyk na sy geskiedenis, groei die gelowige Afrikaner in geloofsvertroue en word hy verseker van die liefdevolle uitvoer van God se Raadsplan. Want daar vind hy bewyse genoeg, van volkstigting af tot nou, dat dit God se wil is dat ons as volk moet bestaan.

Want God wil…

Lees gerus pres Kruger se toespraak op 16 Desember 1896 (uittreksel verder ondertoe**).
Die dag toe die President sy Geloftefees-rede gegee het, was ons volk nog baie jonk en klein, maar het alreeds deur erge beproewinge gegaan – telkemale is ons amper uitgewis deur die Zoeloes, die Matebeles, die Engelse.
Vanaf 1896 sou ons weer verdere amper-uitwissings beleef. Dink maar aan die 2de Vryheidsoorlog, die twee wêreldoorloë se impak, die wurggreep van die magnate, die dodelike terrorisme op en binne ons landsgrense en die uiteindelike voortgesette volksmoord waaroor die hele wêreld swyg.
En steeds bestaan ons volk – want God wil dit.

Wil God nog?

Hoe vra ons dan nou – wil God nog?
Is dit nie duidelik dat God hierdie volk se bestaan gewil het ten spyte van al die teenkanting en aanslae van die heidense wêreld nie?
Niks het intussen verander nie, net die intensiteit en die wyse van aanslag wissel, soos wat tyd verloop. Die wêreld het nog altyd hierdie volk gehaat, omdat hy God haat. En hy sal nooit ophou haat nie.
Let ook maar mooi op – hierdie vraag se oorsprong lê in werklikheid nie by die opregte Afrikaner-gelowige nie, maar by dieselfde listige versoeker wat ons Here Jesus op ‘n hoë berg laat staan het, en Hom vergesigte laat sien het van ‘n ‘brave new world’, met voorspoed en vooruitgang…
Dit is hý wat wil hê dat hierdie volk (alle volke) moet ophou bestaan. En dis hý wat God se skeppings-orde wil vernietig en Hom van Sy troon wil stoot.

Versoeking.

Gaan ons groot oorweging wees, “die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid”? Liewer nou toegee en wegraak in ‘n identiteitslose, rondreisende kosmopolie wat maar altyd soek om te gaan na daar waar dit die gemaklikste is?
Gaan ons getuienis stil word ter wille van valse vrede en voorspoed?
Of gaan ons vasstaan en soos ons voorouers in die spore van ons Here Jesus stap, in geloofsvertroue?
“Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Mat. 4:8-10)

Voorouer-getuienis.

** Pres. Kruger by Paardekraal, 16 Desember 1896:
“ My broeders ek wil u daarop opmerksaam maak hoe spoedig ons Gods wonders vergeet… …Laat ons op Gods hand let sodat ons weet wat Hy aan ons gegee het, opdat ons ons geloftes betaal. En kyk, God het aan ons die oorwinning gegee en ons het ons vryheid weer teruggekry. Is dit geen wonder nie? Die geringste heiden en die ongelowigste moet erken dat die Gods hand is wat aan ons die vryheid teruggegee het, en geen mense nie… Laat ons derhalwe God se weë in die oog hou en sien wat Hy gedoen het en Hom weer verheerlik, siende wat sy dade is, en nie met ons lippe nie, maar met die hart, en dat ons goed verstaan waarom ons ons geloftes moet aflê. Laat die volk meer en meer in elke saak sy toevlug tot God neem, want die Here wil dit.”
En toe die vyand hard en reguit dreig: “Salisbury sê hierdie volk mag nie bestaan nie. Wie sal beslis? Sekerlik die Here.”
Genl. De Wet, 1916: Kom ons toon aan die wêreld “…dat daar nog in Suid-Afrika ten minste ‘n paar duisend manne is wat hul God, hul geskiedenis en hulself nog nie vergeet het nie.”

Ons getuienis.

Die rede waarvoor ons hier geplaas is, is as ligdraers in donker Afrika – dit is ons roeping.
Miskien word ons binne afsienbare tyd so erg geteister deur fisiese aanslag, dat ons werklik gedwing word om te vlug, of gevange geneem en werklik weggevoer word in ballingskap.
Of ons nou vlug of werklik weggevoer word in ballingskap, laat dit wees om geloofs-beginsel.
Die getuienis moet en sál gehoor word.

Deel 3

Verkeer ons volk in Ballingskap?

Daar word, so ‘n bietjie onlogies, beweer dat ons volk eintlik in ballingskap verkeer. Maar is dit werklik die geval?
Ons volk het ‘n ryk en interessante geskiedenis. Ons vind daarin heelwat ooreenkomste met dié van Ou Testamentiese Israel. So ook wat betref emigrasie (trek) en ballingskap.
Ballingskap is nie iets wat gekies word nie. Dit is iets waar jy in gedwing word. Dit gebeur teen jou sin. Jy word met geneem na ‘n land weg van jou eie land, teen jou sin, en daar moet jy bly tot jy ontsnap, verlos word, doodgaan of jou vyand jou laat gaan.
Die Israeliete is weggevoer in Ballingskap – deur hul vyande. Teen hul sin. Ver van hul erfgoed. Nadat Pres Kruger deur sy regering oorsee gestuur is, het hy in ballingskap sy laaste jare in vreemde land deurgebring. Teen sy sin. Ver van sy erfgoed.

Vêr van ons geestelike erfgoed.

Nou word gevra: verkeer ons volk nie vandag ook in Ballingskap nie? Word ons nie teen ons sin gevange gehou in ‘n land wat nie (meer) aan ons behoort nie?
O ja, ons volk verkeer in ballingskap, maar dit is ‘n geestelike ballingskap.
Dit beteken om ver verwyder te geraak het van jou geestelike erfgoed – die Woord van God, die gereformeerde leer, die Calvinistiese lewensbeskouing – alles wat deur ons voorvaders aan ons nagelaat is. Ons is deur ons geestelike vyande oorrompel met vreemde leringe, en as’t ware weggevoer deur charismatiese dwaalleraars en nou word ons op ‘n vreemde geestelike werf gevange gehou. Ver van ons geestelike erfgoed.
Ons onthou skaars meer hoe dit vantevore was – ons ken nie meer dit wat aan ons nagelaat is nie. Ons erfenis is weg, en ons staan ver eenkant en weeklaag en wens om ‘terug te kom’.

Wegkom of terugkom?

Weet ons ooit nog waarheen om ‘terug te kom’?
Solank ons nog nie verstaan waarvandaan ons verwyder geraak het nie, sal ons aanhou dink ons moet fisies êrens heen ‘weg’ beweeg, om uit ballingskap verlos te raak. Ons sal aanhou dink ‘weg’-kom is die antwoord. Weg van fisiese oorheersing en verdrukking.
Maar wat in werklikheid nodig is, is ‘terug’ kom – na ons geestelike erfgoed toe. En daaruit sal volg geestelike (en fisiese) vryheid gepaardgaande met daardie vrede wat die menslike verstand te bowe gaan (Fil. 4:7).

Onder beleg.

Daar is nog so baie te sê hieroor.
Dit is tog immers ons goeie reg om te bid en te werk vir ‘n (nuwe) eie land waar ons, onsself weer kan regeer. En ja, ons voel wel deeglik soos vreemdelinge in ons eie land. Vanweë broeder-verraad het ons in hierdie situasie beland – ons is daar in gedwing.
Dit is teen ons sin dat ons so verdruk word. Hier sit ons vasgevang tot ons ontsnap, verlos word of die vyand ons laat gaan.
Maar weereens – waarom dink ons, ons moet wegkom van hier om vry te word?
Nee! Ons wil nie gaan nie. Dis die vyand wat moet gaan. Dis húlle wat moet weg.
Onthou, ons is nie in fisiese ballingskap nie. Ons is (nog) hier. In ons land. En ja, dit is (nog steeds) ons eie land. Die hele land.
Ons is nie, soos Israel, weggevoer na ‘n vreemde landstreek nie. Ons is wel, soos Israel, vir die soveelste keer, ONDER BELEG van die vyand. Vasgekeer in ons eie huise, binne ons eie landsgrense.

Terug!

Wat om te doen? Terugkom na God, terugkom na ons geestelike erfgoed. God se barmhartigheid is groot.
“…tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.” (Hos. 12:7)
“As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.
Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.” (Deut 4:30-31)

Donald Trump se besorgdheid oor die Afrikaner

Maar wat is die Afrikaner se Roeping?

Die Uitvoerende Bevel

Die aankondiging deur die Amerikaanse administrasie dat die regering van die VSA besorgd is oor die wel en weë van die Blankes hier in Suid-Afrika maak groot opslae. Die Amerikaanse regering spreek veral kommer uit oor die pas-aangenome Grondgryp-wet. Dit is opgevolg met ‘n uitvoerende bevel (“executive order”) deur Trump wat Afrikaners toelaat om in Amerika vlugtelingstatus te verwerf.

Alhoewel die bevel spesifiek verwys na Afrikaners wat deur bogenoemde wet van hul grond/eiendom beroof word, stel die bevel verder dat vlugtelingstatus toegestaan sal word aan Afrikaners “who are victims of unjust racial discrimination”, wat in effek sou beteken dat alle Afrikaners outomaties daarvoor sou kwalifiseer.

Onteiening is logiese volgende stap

Die vraag is natuurlik waar die vreeslike besorgdheid van die Amerikaanse regering oor die lot van die Afrikaner nou skielik vandaan kom. Amerika was saam met die Verenigde Koninkryk die hoofrolspelers om druk op die vorige Nasionale Party-regering uit te oefen. Daardie druk het hulle uiteindelik laat kapituleer en dit het tot direkte gevolg gehad dat die politieke mag aan ‘n kommunistiese Swart meerderheidsregering oorgedra is. Toe die Afrikaner daardeur sy vryheid en politieke seggenskap oor sy eiendom verloor het was die Amerikaners verheug daaroor. Waaroor dan nou die vreeslike besorgdheid oor die logiese gevolg van daardie stap – naamlik dat die Afrikaner ook van sy grond en eiendom beroof word? Afrika het immers bewys dat presies dit die opeenvolging van gebeure is wat volg op Swart bewindsoorname. En die ANC se Freedom Charter wat hierdie proses ook woord-vir-woord so uitspel, was reeds voor 1994 aan almal bekend. Ook aan die Amerikaners en Engelse wat met toenemende diplomatieke druk aangedring het op “political reforms”.

Die ware rede vir die uitreiking van die bevel?

Nog vreemder is die feit dat Trump in sy vorige ampstermyn nie in die minste belangstelling getoon het in die lot van die Afrikaner nie. Tog het dit skielik ‘n saak van hoogste prioriteit geword wat sommer binne die eerste maand van sy nuwe bewindstermyn aangespreek moet word.

Die antwoord op hierdie raaisel word waarskynlik in die res van die uitvoerende bevel gevind:

In addition, South Africa has taken aggressive positions towards the United States and its allies, including accusing Israel, not Hamas, of genocide in the International Court of Justice, and reinvigorating its relations with Iran to develop commercial, military, and nuclear arrangements.”

(Nadruk toegevoeg)

Amerika dans na Israel se pype

Die ernstige politieke student weet dat die regering van die VSA direk onder beheer van die Sionistiese geldmag staan. Ongeag watter party aan bewind is, of wie die president is, geen besluit sal geneem word sonder dat dit deur die Sioniste goedgekeur is nie. Die Amerikaanse regering is ‘n marionet wat altyd die beste belang van die Joodse staat Israel najaag.

VSA wil ANC straf

Hieruit word dit duidelik dat die Afrikaner bloot die speelbal is wat deur die Amerikaanse regering gebruik word om die ANC-regering die hardste moontlike hou toe te dien as straf op hul optrede teen die VSA se meesters, Israel. Die bevel stel dit verder dat die ANC-regering nie verdere ondersteuning van die VSA sal ontvang nie vanweë ”its undermining United States foreign policy, which poses national security threats to our Nation, our allies, our African partners, and our interests.”

SA-boere moet tekorte aanvul

Benewens die skuins klap na die ANC deur die Amerikaanse regering se “ontferming” oor die Afrikaner, die mees gehate bevolkingsgroep van die SA-regering, moet nie uit die oog verloor word nie, dat die Suid-Afrikaanse boere wêreldwyd bekend staan as uitmuntende landboukundiges. Die Amerikaanse regering sien dus ook onmiddellik die geleentheid raak om hierdie boere vir die Amerikaanse arbeidsmark te win. In Oktober 2024 berig die Amerikaanse Departement van Landbou se Economic Research Service:

American agriculture faces a critical shortage of labour that harms annual harvests, animal agriculture production and processing facilities. This damages American competitiveness and overall food security.”

Twee vlieë met een klap

Trump se uitvoerende bevel is dus ‘n kragtige teregwysing aan die ANC wat Ramaphosa en sy kabinet voortaan twee maal sal laat dink voordat hulle beleidsuitsprake teenoor Israel of Amerika maak. Daarbenewens kan Trump moontlik deur dié bevel die kritieke tekort aan landbouers in sy land aanvul. Die geskiedenis leer egter, en dit kan u maar seker weet, dat daar van werklike ontferming oor die Afrikaner en sy lot geen sprake hier is nie. Eerder die teendeel: Die ANC kan nou met onteiening begin, want die Afrikaner het danksy Trump nou ‘n “heenkome in die VSA”.

Wie jubel oor Trump?

Tog is daar groepe in Suid-Afrika wat baie opgewonde is oor Trump se skynheilige besorgdheid oor die Afrikaner. Solidariteit en Afriforum, Orania, Willem Petzer en dan die Landbou-organisasies TLU, SAAI en Vrystaat Landbou-unie. Wat opmerklik is, is dat al hierdie organisasies/persone gemeenskaplike faktore deel. Hulle gemeenskaplikheid lê daarin dat hulle aan een of selfs albei van die volgende voldoen:

Hulle is voorstanders van en yweraars vir die volkstaatgedagte

en / of

Hulle organisasies (en dikwels hulleself) was direk of indirek betrokke by die verraad deur die IDASA-komplot waardeur die oordrag van mag na die ANC bewerkstellig is.

Verraad se gemene deler: Volkstaatgedagte

Baie interessant dat die verraad van 1994 juis gedryf is deur die Afrikaner Volksfront se sugting na ‘n Volkstaat, wat uiteindelik deur die Vryheidsfront voortgedra is met die futlose Volkstaatraad wat nie eers een morg van ons land kon beding vir ‘n sogenaamde volkstaat nie.

Wanneer hierdie groepe so opgewonde raak oor Vrymesselaar Trump se skielike kommer oor die Afrikaner, wonder mens tereg of hier nie dalk drie vlieë met een klap raakgeslaan word nie. Noudat die 94-verraad en hierdie organisasies se aandeel daarin, asook hul hernude oproepe tot die daarstel van ‘n volkstaat skerp onder vergrootglas geplaas is, het weerstand teen hulle planne, asook groot verleentheid vir hulle gevolg. Daarom is Trump se aankondiging nou vir hulle ‘n handige weerligafleier wat ook ‘n welkome gawe op hul ewige sugting na buitelandse hulp en erkenning is.

Trump blaas nuwe lewe in Volkstaat-idee

Daarom verklaar Joost Strydom van Orania:

The Orania Movement has appealed to the United States (US) government, seeking support and recognition as a distinct ethnic group within South Africa. Head of the movement, Joost Strydom said they are not seeking to flee the country but rather to establish a self-governing territory within South Africa. 
According to Strydom, Orania’s vision for self-governance is not a new concept, as the Afrikaner territory was acknowledged in Parliament in the 1990s. 

“Our plea can be summarised in three words: ‘Help us here.’ Not necessarily with US tax dollars, but with the recognition of our legitimate pursuit. That is the pursuit of Afrikaner self-determination. The South African government even signed this as the Afrikaner Accord on Self-Determination, which states that Afrikaner self-determination is a legitimate pursuit.”

Laat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly!

Die denkfout wat gemaak word deur aanvaarding van die repatriasie-aanbod van Trump enersyds, of die najaag van ’n volkstaatgedagte andersyds, is dat aanvaar word dat ons, die Afrikaners, nie die wettige eienaars van ons vaderland is nie. Vanweë hierdie denkfout is dit dan maklik vir hulle om maar die land te verlaat, dit vaarwel toe te roep. Die land behoort in hulle skeefgetrekte gedagtes aan die Swart massas wat deur hulle as die wettige eienaars van Suid-Afrika beskou word. Niks kan verder van die waarheid wees as dit nie! Die geskiedenis van ons land leer dat ons ’n feitlik onbesette land binnegetrek het en die eerste maal met die Swart rasse in aanraking gekom het by die Visrivier. Die Vrystaat en Transvaal was grootliks onbewoond met nomadiese groepies wat gewoonlik vir hul lewe aan’t vlug was vanweë die “difaquane” deur die Zoeloes wat die Matabeles selfs tot oor die Limpopo teruggedryf het na wat later as Rhodesië bekend sou staan. Ons voorgeslagte het hoë offers gebring – met bloed en sweet en lewensgevaar en dikwels lewensverlies is hierdie land getem en ontwikkel. Dit het plaasgevind onder die bewarende Hand van die Almagtige en deur Sy seën kon daardie offers vir ons ’n vaderland verwerf, ook vir hul nageslagte.

Ons heil lê nie by wêreldmagte nie

Aan Trump, die Sioniste en al die Volkstaat-planmakers: Hierdie land, Suid-Afrika, is óns land! Net so min as wat ons in die VSA as vreemdelinge wil gaan liefdadigheid soek, net so min wil ons ons Vaderland, ons erfenis – die Republiek van Suid-Afrika – verruil vir ‘n stukkie waarvoor julle by die ANC-regering moet gaan kruip. Ons vertrou nie op (Vrymesselaar) prinse nie. Daarom sal Afrikanernasionaliste ons Vaderland nie prysgee om in Amerika of waar ookal (óf in ‘n “volkstaat”-dorp waar niemand kaart-en-transport van sy “eiendom” het nie), as vlugtelinge ‘n kortstondige “beter lewe” te gaan soek nie.

Ons bely dat ons hulp is van dié Een vir Wie niks onmoontlik is nie – die HERE, wat hemel en aarde gemaak het. As Hy Hom weer oor ons ontferm sal Hy doen wat nou haas onmoontlik lyk, maar by die HERE ‘n kleinigheidjie is – wonderbaarlik kan Hý ons in die erfenis wat Hy ons laat toekom het, weer volkome herstel.

Deur die benouende tye wat vir ons mag voorlê roep die HERE ons volk wat Hy hier geplant het na Hom toe terug. Terug na Sy suiwere Woord, die Bybel,in ons eie Afrikaanse taal. Terug na ‘n ware geloof in Hom. Soos ons vadere vertrou het… Ons roeping is hiér.  Om ‘n lig te wees, soos Jan van Riebeeck gebid het, en soos ons geskiedenis en heldedom onmiskenbaar aandui. Ons wil met die ANC-politieke bestel niks te doen hê nie. Ons oë is op die HERE alleen! Van Hóm is ons verwagting.