Willie van der Grijp, HNP-onderleier (2001 -2004), ANB-voorsitter (2004-2007)
Ek het oudergewoonte weer in die môreskemering vanoggend (1 Januarie 2004) gestaan en kyk hoe die son sy eerste strale oor die heuwels begin versprei. Ek het onwillekeurig gedink aan my moeder wat 16 dae gelede, op Geloftedag, oorlede is en op 23 Desember, twee dae voor Kersfees, begrawe is.
Ek het gedink aan my kinderjare, my grootwordjare in ‘n huis waar ons gesin van moederskoot geleer het van ons Skepper se liefde vir ons. Die stryd van die Afrikaner het sy geken, was haar lewe lank daarby betrokke, en het ons van kindsbeen geleer waar ons vandaan kom, wie ons is, en waarheen ons oppad is. Sy het ons geleer dat ons nie net deel van ‘n gesin is nie, maar deel van ‘n groter eenheid, die Afrikanervolk.
Alhoewel vanoggend met heimwee vervul oor vervloë dae, is ek steeds dankbaar teenoor Hom wat hierdie besonderse moeder aan my gegee het om my van Hom te leer. Te leer dat Hy aan ons die versekering gee dat die lewe nie in die graf eindig nie. Dankbaar teenoor Hom wat haar deur die jare gelei het om my te inspireer om Afrikaner te wees. Indien sy nie my moeder was nie, kon ek dalk ook een van die “verloopte” Afrikaners gewees het.
Haar laaste woorde aan my, net voor ek haar twee dae voor haar heengaan gegroet het, met “Die Afrikaner” koerantjie in haar hand, was: “Willie, julle mag nie ophou nie! Julle moet aanhou stry. God sal vir ons volk op Sy tyd uitkomste bied, maar nooit voor dié wat die stryd voer self daarvan oortuig is nie!”

Vanoggend het daardie woorde “eers wanneer dié wat die stryd voer self daarvan oortuig is” met my begin parte speel. Is almal van ons wat die stryd voer werklik daarvan oortuig dat ons die oorwinning sal behaal?
Glo ons almal werklik, sonder enige twyfel dat die stryd wat ons voer weer die Afrikanervolk sy vryheid sal besorg? Word die stryd nie, deur sommige van ons, maar net gevoer om hulleself te verontskuldig van die toestand waarin ons volk verkeer, en sodoende hulle eie gewete te sus nie?
Kan almal van ons uit eie oortuiging en met vaste geloof in God se Almag voor Hom staan en sê: “Hier staan ons as Bittereinders! Bereid en gereed om die hoogste tol vir vryheid van ons volk te betaal.”?
Die binne-wêreld van ‘n mens kan so arglistig wees, dat dié hom in sy binnekamer so kan verberg dat sy ware karakter nie vorendag kom nie. Dié wat betrokke is by die stryd wat ons voer, moet besef dat ons nie met ‘n waagspel besig is nie; dat die gewete nie met betrokkenheid by die HNP gesus kan word nie; dat betrokkenheid by die HNP letterlik beteken om die vryheid van die Afrikanervolk te herwin.
Dat betrokkenes, net soos die Bittereinders (1899-1902), van al hulle besittings gestroop kan word; daarom is mense wat eie belang, -status of -aansien (die materie) eerste in hul lewe stel, ‘n gevaar vir ons; hulle hoort nie in ons geledere nie. Diesulkes sal altyd die stryd op ‘n wyse wil voer wat hul aardse besittings nie sal skaad nie.
Daarom sal hulle ook nie aarsel om diegene wat bereid is om alles terwille van die stryd te offer, in diskrediet by strydgenote te bring nie. Ons volk staar algehele uitwissing in die gesig, en in hierdie stadium van die stryd kan ons nie bekostig om in die HNP te akkommodeer: diegene wat nie bereid is om hulle materiële besittings, status en aansien terwille van die Afrikanervolk se voortbestaan prys te gee nie.
Ons betree nou ‘n stadium in ons volksbestaan wat hoë eise aan ons gaan stel. Ons het geen keuse as om met oortuiging en geloof te begin om die stryd op ‘n praktiese en sigbare wyse te voer nie. Maar as die geloof nie sterk genoeg is nie, en daarom die wil om te handel by ons ontbreek, voer ons ‘n verlore stryd.
Wat binne-in ons woel moet openbaar word deur ons dade; dit wat ons verstand sê ons moet doen en die woorde wat ons praat, moet in harmonie wees, dit moet opreg wees, dit moet ons motiveer om te handel na die oortuiging. Ons wat in die HNP staan se gewete moet skoon wees, ons moet daarvan oortuig wees dat ons terwille van die saak in die stryd staan.
Die jaar 2004 lê voor ons, en met die anti-Chris in beheer van ons land kan dit nie beter as die afgelope jaar met ons gaan nie. In Mattheus 21:22 staan: “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo”.
Om te glo beteken om seker te wees van God se wil. Gelet op die Afrikanervolk se geskiedenis sedert sy ontstaan, kan slegs die wat nie in God glo nie, daaraan twyfel dat dit nie Sy Wil is dat die Afrikanervolk moet voortbestaan nie. Die innerlike krag van ons voorouers wat Dingaan en sy hordes met ‘n handjievol mense kon verslaan, was hulle Godsvrug en geloof.
Om te sê dat ek glo dat ons voortbestaan Sy Wil is, beteken egter ook om, soos ons voorouers, die daad by die woord te sit; en soos hulle, God as ons toevlug en sterkte te hê. Dan sal ons gebede verhoor word; sal ons die oorwinning behaal; sal die wêreld beskaamd voor Hom staan wanneer ons sing: “U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak.” (Psalm 77: 15 – onberymd).