TUISONDERWYS

TUISONDERWYS – Marisa Haasbroek

ONTWERPER-ONDERWYS UIT DIE BOONSTE RAKKE

 

Die verskil tussen tuisonderwys en skool is soos die verskil tussen tuisgemaakte mieliepap en bokspap, skryf MARISA HAASBROEK, wie se twee kinders nog nooit een dag op die skoolbanke deurgebring het nie.

 

Daar is ‘n begaafde jongman wat vanjaar met sy studies in Tandheelkunde in die Kaap begin het. Hy het sy onderwys tuis ontvang en het glad nie matriek geskryf nie. Tog het hy keuring vir hierdie uiters moeilike kursus gekry. Hoe? Hy het aan Wiskunde- en

Wetenskapolimpiades deelgeneem en uitstekend gevaar. Dit het die universiteitsowerhede genoeg beïndruk om hom sonder ‘n formele matriek tot die kursus toe te laat. In Pretoria het dieselfde ding verlede jaar gebeur toe ‘n jong meisie tot die BMus kursus toegelaat is, ook sonder dat sy ooit matriek geskryf het. Haar uitslae in haar musiekeksamens was genoeg om haar toegang (wel na ‘n maandelange administratiewe

stryd) tot dié taai kursus te laat verkry.

Hierdie suksesstories is vir die na beraamde 100 000 gesinne in Suid-Afrika wat reeds die opsie van tuisskool toepas ‘n groot aansporing en laat die spook van “jy moet matriek hê om verder te kan studeer,” al hoe meer die wyk neem.

As ‘n mens met tuisonderwys-ouers praat, vind jy uit dat daar twee redes is waarom hulle nie hulle kinders na ander skole toe stuur nie. Die eerste het te doen met die standaard van die onderwysstelsel. Die tweede het te make met lewenswaardes en -oortuigings.

Op 10 April 2004 het ‘n senior onderwysamptenaar van die Sentraal-Transvaal provinisie in ‘n TV program oor tuisonderwys deur Carte Blanche gesê: “We are gunning for the same critical outcomes, we are gunning for the same South African citizen.” Haar

militêre werkwoord “gunning” is gepas as ‘n mens sien met hoeveel ywer die staat sy ideologiese doelwitte op die onderwys afdruk. In die graad een werkboeke vir ‘n  soos Wiskunde (syfervaardigheid, soos dit bekendstaan) is daar byvoorbeeld verwysings na verskillende gelowe se aanbiddingsplekke sodat die klein kind vroeg reeds bekend is met die sinkretisme. En dan praat ‘n mens nie eens van die lewensbeskoulike breinspoeling

in die sogenaamde “lewensvaardighede” vak van latere grade nie: Marx se siening oor die ekonomie, die subtiele swartsmeer van Christene oor slawerny, die superieure beskawing wat Afrika danksy Islam voor kolonialisme sou gehad het, duik tipies in hierdie handboeke op. Dit is dan geen wonder nie dat al hoe meer ouers verkies om hulle kinders tuis te hou en groot te maak volgens hulle eie norme, vry van die staat se inmenging.

Die moeilikheid met skole wie se vakinhoud so swaar gelaai is met ideologiese doelstellings, is dat hulle hul opvoedkundige doelstellings misloop. Oor die verskil tussen opvoeding teenoor opleiding kan ‘n mens lank praat, maar in breë trekke het opleiding te

doen met die aanleer van vaardighede om iemand voor te berei om ‘n spesifieke taak te doen. Opvoeding het ‘n breër doelwit en probeer die unieke kind se totale potensiaal ontwikkel. Hoofsaaklik as gevolg van die manier waarop hul saamgestel is, lei skole kinders op, eerder as om hulle op te voed. Moenie dink dat die onderwysowerhede dit nie besef nie. Dis juis die rede vir al die veranderinge in die onderwys en waarom die

uitkomsgebaseerde onderwysstelsel aanvaar is. Maar dis eenvoudig nie haalbaar vir ‘n arme onderwyseres om ‘n klas van veertig, vyftig wat met invulwerkboeke werk, op te voed en elke kind se indiwiduele potensiaal te verwesenlik nie. Sy kan haar klas hoogstens oplei!

Die enigste gevolg van die nuwe stelsel is dat skole faal met die bietjie opleiding wat hulle wel aan kinders gee. Daarom dat ‘n mens al hoe meer hoor van matrikulante wat funksioneel ongeletterd is.

Tuisonderwys fokus op opvoeding. So sal die tipiese tuisskoolouers byvoorbeeld vir hulle kinders geskiedenis leer, alhoewel geskiedenis uiteindelik geen direkte toepassing in hul werk gaan hê nie. Maar om vertroud te wees met die geskiedenis gee ‘n meer afgeronde persoon, iemand met ‘n sterker sin vir identiteit en iemand wat sy werk, van dokter tot dokwerker, van werktuigkundige tot mode-ontwerper, binne ‘n breër konteks kan plaas.

Daar is baie tuisonderwys-ouers wat ‘n vaste leerplan van ‘n kurrikulumverskaffer gebruik. Dié leerplanne kan handboeke, oefenboeke, toetse, eksamens en werkswinkels insluit. Navorsing wat in veral Amerika gedoen is, dui egter daarop dat tot 80% van tuisskolers egter mettertyd verkies om hul eie leerplan te volg.

Hoe verloop ‘n tipiese tuisonderwysdag in só ‘n huis? Daar word baie gelees, later deur die kinders self, maar aanvanklik lees Ma voor. Die Bybel self staan gewoonlik sentraal in die leerdag. Verder word ander lewende boeke verkies en nie handboeke nie. So sal ‘n

passievolle, entoesiastiese boek in wonderlike, helder Afrikaans deur Anna Rothman oor voëls van Suid-Afrika eerder gelees word as ‘n droë handboekteks wat gestroop is van sy emosionele inhoud en net saai feite bevat. Maar dit word aangevul met ‘n voëlgids met

puik illustrasies, wat selfs op rekenaar kan wees, kompleet met

voëlgeluide. Vir geskiedenisonderrig word biografieë en goeie historiese romans gebruik in plaas van handboeke. Die kind leer vroeg-vroeg dat die hele menslike bestaan aaneenskakel. Lees hulle byvoorbeeld van ‘n verwysing na die antibiotiese krag van skimmel op perskes in ‘n roman van Dot Serfontein oor die Tweede Vryheidsoorlog,

sal hulle die geskiedenis van pensillien en Alexander Fleming se toevallige ontdekking daarvan navors. Taalvaardigheid word ingeoefen deurdat die kinders projekboeke

maak van wat hulle geleer het, hetsy dit natuurstudie-boeke is wat hulle eie waarnemings insluit of geskiedenisplakboeke is wat sketse, kort beskrywings, gedigte wat hulleself skryf, aanhalings en selfs koerantknipsels kan insluit. In plaas daarvan om ontbrekende

woorde in te vul, vrae wat iemand anders opgestel het, te beantwoord of lyste datums of hoofstede te memoriseer, word die kind telkens met ‘n blanko bladsy gekonfronteer, wat hy self moet vul met betekenisvolle inhoud. Dis die tipiese situasie wat hy eendag in

sy werkswêreld gaan hê. Op dié manier maak die kind ook meer van die inhoud sy eie en behoort hy dit sy lewe lank te onthou. Hoeveel geskiedenis wat ons op skool geleer het, onthou ons volwassenes nog? Selfs diegene met ‘n liefde daarvoor. Hier is ‘n vinnige

toetsie: Op watter dag en datum het Jan van Riebeeck aan die Kaap geland? Die meeste van die lesers van hierdie nuusbrief sal waarskynlik onthou dit was 6 April 1652. Die kans is goed dat 80% van alle ander Afrikaners dit nie kan onthou nie. Maar op watter

dag van die week was dit? Dit was ‘n Maandag. Eintlik het hulle al die Sondag van die vyfde April aangekom, maar soos wat dit goeie Protestante betaam, het hulle gewag dat die Sabbatdag verby is, voordat hulle voet aan wal gesit het. Met daardie bykomende,

bietjie meer menslike inligting is ek seker dat u nooit in u lewe weer sal vergeet op watter dag van die week ons volkstigting plaasgevind het nie. Met tuisonderwys word daar gepoog om alle geskiedenis, aardrykskunde, biologie en watter vak ookal só te laai.

Wiskunde word gewoonlik op ‘n meer gesistematiseerde manier geleer, meestal uit ‘n goeie handboek. Sommige gesinne verkies om elke dag ‘n kort tydjie aan Wiskunde af te staan, ander sê hulle kinders leer beter deur byvoorbeeld twee weke per kwartaal aaneen

net Wiskunde te doen.

Ander gesinne volg nou weer ‘n eenheidstudie-benadering. Die perd sal byvoorbeeld gekies word en hulle sal sy anatomie navors vir die natuurstudie-deel. Vir geskiedenis sal so ‘n gesin byvoorbeeld kyk na die rol wat perde in die Tweede Vryheidsoorlog gespeel het. Die kinders sal self perde teken en ‘n plakboek maak met byskrifte by oor wat hulle alles geleer het. Baie gesinne gebruik die Internet met groot vrug.

Die belangrike is dat hierdie losser stelsels kan aanpas en fokus op die spesifieke behoeftes van die gesin en die kinders. As klein Jannie byvoorbeeld sukkel met langdeling, staan Ma daarby stil tot hy dit onder die knie het.

Die klem val ook dikwels op die karaktervorming van die kind: hy moet deursettingsvermoë en geduld leer kweek, ordelikheid en netheid, deeglikheid en selfdissipline. Bowenal moet hy leer om self te leer.

Omdat tuisonderwys-gesinne gewoonlik met ‘n enkele inkomste moet klaarkom, is daar selde geld vir bediendes en tuindienste. Kinders leer van kleinsaf om hul kant te bring om hul omgewing netjies te hou. Groentetuine is veral besonder gewild onder tuisskolers.

Baie leer ook van jongsaf om sakgeld te verdien hetsy dit deur die bak van een of ander produk is, deur troeteldiere te teel of dienste soos huisoppas vir mense in die buurt wat op vakansie wil gaan. Dit lyk of hierdie vroeë bekendstelling aan ondernemerskap goed werk, want navorsing toon dat 70% van Amerikaanse tuisskolers entrepeneurs word, hetsy as beroepslui of sakemanne wat vir hulleself werk.

In tuisonderwys leer ken die kind dus ‘n breë, maar ook ‘n ryker en dieper wêreld wat by hom ‘n positiewe gesindheid van lewenslange leergierigheid kweek. Hy kry inderwaarheid ontwerper-onderwys, in plaas van “one size fits all”-onderrig. Met ander woorde, tuisgemaakte mieliepap, in plaas van bokspap.

Die lus om te leer en om aan te hou leer is belangrik, want anders as die worsmasjien-uitgestote “same South African citizen” waarvoor die regime “gun”, het die werkswêreld van die toekoms juis oopkop, aanpasbare en skeppende burgers nodig. Die rede hiervoor

is dat die wêreld waarin ons leef teen ‘n duiselingwekkende tempo aan’t verander is en dat talle beroepe wat vandag bestaan oor twintig, dertig jaar tot niet sal wees. Verder hou beroepe aan om te verander, sodat dit telkens nodig is om mense her op te lei.

Kom ons neem die voorbeeld van ‘n oogarts wat voor 1985 as spesialis gekwalifiseer het. So ‘n dokter sou geen opleiding in die gebruik van laser vir oogoperasies ontvang het nie. Maar teen die vroeë negentigs het alle oogartse laser begin gebruik om onder meer bysiendheid reg te stel, vir retina-loslatings, maar ook vir katarakoperasies. Die oogarts wat ten spyte van sy meer as tien jaar opleiding agter die blad, nie bereid was om homself te laat heroplei in lasertegnieke nie, se praktyk sou gekwyn het. En hierdie soort neiging tot heropleiding is deesdae normaal in feitlik alle beroepe! Dis altyd makliker om iemand wat goed opgevoed is (met ander woorde, iemand wat sy potensiaal wel verwesenlik het en wie se karakter geslyp is) op te lei. Tuisonderwys poog om boonop kinders die grootmenslewe in te stuur met ‘n liefde vir leer. Dit maak die voortdurende heropleiding wat hulle waarskynlik vir hulle hele beroepslewe in die gesig staar, soveel makliker.

Diegene wat in die werkwêreld van die toekoms gaan oorleef, is nie hulle wat goed kan onthou of vinnig somme kan maak of opdragte getrou kan uitvoer nie — rekenaars doen hierdie dinge klaar beter as mense. Hulle wat probleme kan oplos, kreatief kan dink en selfgemotiveerd is, en wat waarskynlik hulle eie werk sal kan skep, sal die beroepslewe van die een en twintigste eeu soveel makliker kan aandurf. En dis die soort kind wat ouers hoop om met tuisonderwys te lewer.