Tag Archives: Tweede Vryheids oorlog

“Lang” Willem Prinsloo se Rykdom

Soos vertel deur mnr. Servaas le Roux in sy boek (titel onderaan hierdie stuk).

______________

Sommige word ryk gebore; sommige verkry rykdom; sommige word rykdom toegewerp. Willem Prinsloo was beslis in die derde kategorie. Na ‘n leeftyd van sukkel, waarin gebrek hom nou nie juis gepla het nie, maar ontbering sy skaduwee was, toe hy byna sewentig was, het hy een môre wakker geword en uitgevind dat die wêreld se rykste goudskat onder sy voete verborge lê.

Goudmyne, opspringende dorpe, al die tierlantyntjies van die “beskaafde” stadslewe was vir “Lang” Willem afstootlik. Hy het ‘n derde van sy plaas verkoop vir wat vir hom ‘n onmeetlike fortuin was, en getrek na ‘n minder bewoonde wêreld. Daar het hy ‘n ander plaas bekom, waar hy tog seker toegelaat sou word om sy dae in vrede te slyt sonder om sy buurman se skoorsteenrook te kan sien.

Nadat die geluk hom egter eenmaal toegelag het, kon hy nie so maklik daaraan ontsnap nie. Die hele Afrika was een stukkie woeste aarde, waardevoller as enige ander stuk ter wêreld, en daar het Lang Willem hom neergelaat op soek na eensaamheid en eenvoud. Ná goud kom diamante. Sy nuwe plaas was die ontstaanplek van die beroemde Premier-diamantmyn, houer van die beroemde Cullinan-diamant, onder die grootste ter wêreld, en die skatkamer waaruit ongemete rykdomme sou voortkom.

Hy is in 1818 in die Kaapkolonie gebore en was as agtienjarige seun onder die eerste emigrante wat hulle anderkant die Vaal gevestig het. Ek het ook verneem dat hy in Hendrik Potgieter se kommando was wat die Matabeles uit Transvaal gedryf het. ‘n Goeie aantal jare was hy olifantjagter, met matige sukses. In 1851 was hy lid van die eerste geselskap Boere wat die Ngami-meer besoek het. Ander in die geselskap was Martinus Swartz, Jan Viljoen en Petrus Jacobs.

Die enigste avontuur in sy jagtersloopbaan wat enigsins buite die alledaagse is, was sy geveg met ‘n gewonde buffel. Hy het die dier gekwes, die buffel het hom gestorm en Lang Willem het hom beetgepak. Ontsaglik sterk soos hy was, kon hy teen ‘n buffel nie veel uitrig nie, en hy is agteruit gedruk teen ‘n boomstam. Gelukkig was dit ‘n dik stam en die punte van ‘n paar gebreekte takke het só uitgesteek dat hy tussen hulle teen die stam kon leun op so ‘n manier dat die buffel hom nie mooi kon bykom nie.

Na ‘n ruk het die buffel teruggetrek toe hy al te veel bloed uit sy wond verloor het, en kort daarna het hy neergesak. Maande daarna het Prinsloo gely aan die inwendige beserings. Drie of vier maande lank kon hy net op krukke beweeg.

Nadat hy ‘n ruk in Transvaal was, het Willem hom op die Hoëveld van die Witwatersrand gevestig op ‘n plaas in die gebeid Oos-Rand. Die naam van die plaas was, as ek reg onthou “Geduld”. In heirdie tyd was sy lewe maar net soos dié van die ander Boere van die omgewing. Hoewel hulle onbesorgd kon lewe, het hulle geen rykdom hoegenaamd gehad nie.

Ek het die Prinsloos 40 jaar gelede goed geken en onthou hoe hulle my vertel het dat op die jaarlikse trek van die Hoëveld na die Laeveld die meisies die skape aangejaag het; die jong mans, natuurlik ook op perde, het die beeste versorg. Dit was hul omstandighede toe die eienaardige wisseling in hul lewe gekom het.

In 1885 en 1886 het skielik geblyk dat die Rand een van die grootste goudvelde ter wêreld is. ‘n Paar jaar later sou dit die grootste van almal wees. 

Prospekteerders het op Lang Willem se plaas gekom, en met sy opvattings van patriargale en landelike eenvoud het hy geweet dat die vrede en rus verby is. Hy het ‘n aanbod van £40,000 vir ‘n derde van sy plaas gekry en dit aangeneem. Dadelik het hy ‘n nuwe wêreld gaan soek en hom neergelaat op die plaas Kaalfontein, sowat 25 myl ten ooste van Pretoria. Dit was in 1888. Die ander twee-derdes van Geduld is mettertyd verkoop vir £90,000.

Ten spyte van sy plotselinge rykdom het Willem Prinsloo ‘n eenvoudige Boer gebly in sy uitkyk op die lewe, besonder taai en streng van aard. Uit niks het hierdie geaardheid beter gelyk as uit sy handelswyse met die geld wat so mildelik in sy hande gestop is nie.

Sy rykdom is aan die Standard Bank in Johannesburg in bewaring gegee. In 1889 het ‘n depressie ingetree. Die Bank van die Kaap die Goeie Hoop en die Westelike Provinsie-bank het ineen gestort. Willem Prinsloo wou niks meer waag nie. Met sy wa het hy die 70 myl of wat na Johannesurg getrek en stilgehou voor die Standard Bank in Commissionerstraat.

Daarbinne het hy sy geld gevra, in goud. Die kassier het gaan praat met die assistent-bestuurder, die assistent-bestuurder met die hoofbestuurder. Die baas het kom praat met hierdie onbuigsame Boer. Vergeefs. Willem Prinsloo wou sy geld hê en teenstand het hom net meer oortuig dat hy maar liewer sy geld moet vat.

Dit is vir hom gebring in seilsakkies, elk met £1,000. Moeisaam het hy dit begin tel, maar die proses was vir hom te lank. Hy het genoeg vertroue in sy medemens gehad om die bankbestuurder se woord te neem dat elk van die sakkies duisend goue ponde bevat; hy het hulle maar op sy wa gelaai en huis-toe gery.

Op sy plaas het hy die goud in ‘n groot kis in die voorhuis gehou. Mense het hom gewaarsku dat daar baie slegte mense na Transvaal gekom het wat hom sou vermoor en beroof. Hy het hom vasberade voorberei op elke gebeurtelikheid. Moderne gewere, almal gelaai, het klaar gestaan, maar sy grootste vertroue was nog altyd op sy ou olifantgeweer gevestig. As hy daarmee gewapen is, kon hulle maar kom.

Wyle mnr. Karel Rood, wat die plaas besoek het met die doel om die res van Geduld vir ‘n maatskappy te koop, het my van een insident vertel.

Willem Prinsloo, die seun van Lang Willem, het in ‘n naburige huis gewoon. Hy sou na Pretoria gaan en het met sy pa kom praat oor sake wat hy daar vir hom moet verrig. Nadat die instruksies gegee is, vra Lang Willem: “Het jy genoeg geld?”

“Ja, Pa.”

“Jy sal miskien meer nodig hê.”

“Nee, ek dink ek het genoeg, Pa.”

“Ek sê jy sal miskien meer nodig hê.”

Sonder praatjies het Lang Willem na die groot kis gestap, een van die sakkies oopgemaak, albei vuiste ingesteek en ‘n dubbele handvol goud uitgehaal. Sonder om te tel het hy dit in sy seun se bladsak gegooi.

Nadat die ander dele van Geduld verkoop was, het die opberging van goud op die plaas baie moeilik geword wanneer in die winter na die Laeveld getrek moes word. Na lange oorpeinsing het Lang Willem besluit om weer van die bank gebruik te maak. Hy wou die geld egter nie deponeer nie. Hy het die soliede brandkamers van die bank deurgekyk en besluit om die goud aan hulle toe te vertrou.

Drie en ‘n half jaar het hy opbergkoste vir sy goud betaal. Uiteindelik het hy ingesien dat die Standard Bank ‘n betroubare onderneming is en sy geld op vaste deposito geplaas.

Almal het hom Lang Prinsloo genoem, maar my pogings om sy lengte presies vas te stel het weer getoon hoe moeilik dit is om akkuraatheid te verkry van mense wat ‘n eenvoudige landelike lewe lei soos die ou Transvaalse Boere. Ek het Joachim Prinsloo gevra hoe lank sy vader was.

“O, so tussen ses en sewe voet.”

“Dis nie naby genoeg nie, Joachim. Kan jy nie ‘n beter skatting gee nie?”

Na ‘n rukkie se dink meen Joachim dat sy vader langer as ses en ‘n half voet was. Toe dink ek aan ‘n plan.

“Was hy so groot soos Lang Jan Erasmus?”

Lang Jan was baie jare die langste man in Transvaal, naamlik ses voet tien duim. Ons het hom altwee goed geken; hy was Lang Willem se kleinkind.

“Nee, hy was nie so groot soos Lang Jan nie.”

“Was hy dan so lank soos Doris Erasmus?” (‘n Broer van Jan.)

“Noudat jy van Doris praat, ja. Hy was presies so groot soos Doris, niks langer en niks korter nie.”

Dit het Lang Willem se lengte aangedui as ses voet agt duim.

Hy het ‘n taamlike klompie kinders gehad, maar party is jonk dood. Toe ek hulle 40 jaar gelede geken het, was die volgende kinders, in volgorde van ouderdom, nog in die lewe: mev. Erasmus, Willem, mev. Meyer, mev. van Dyk, Joachim, mej. Bettie Prinsloo en mev. van Niekerk (Marta).

Lang Willem is in 1898 oorlede. Voor sy dood is die plaas Kaalfontein onder sy kinders verdeel. Dit is op een van hierdie stukke dat die Premier-diamandmyn in 1902 ontdek is; 800 morg is vir £52,400 verkoop. Op ‘n ander deel van Kaalfontein is die diamantregte vir £100,000 verkoop. Na veel gesoek is geen myn op hierdie stuk gevind nie en is die Kaalfontein Diamond Company gelikwideer.

………………………….

Bron: Baanbrekers en Jagters van Suid-Afrika 1760-1890; deur Servaas le Roux; 1940.

Hoe het die Boere weer begin na die Tweede Vryheids Oorlog?

Party Boere het geld en ander goed weggesteek waarmee hulle weer na die oorlog kon begin:

Mnr. C. Strauss:“Oom Dottie het ‘n stroopblik, ‘n groen en goud Lyle’s Golden Syrup-blik wat daardie tyd vier pond inhoudsmaat gehad het, gevat, die geld daarin gesit en die deksel toegesoldeer. Op die plaas was ‘n land, ongeveer 10 ha groot, wat met ‘n klipmuur omring was. Oom Dottie het die blik met sy waardevolle inhoud in die klipmuur versteek.”

Tydens die oorlog het die spesifieke stuk muur omgeval, maar die blik, wel met ‘n paar ekstra duike in, was nog toe en het hy iets gehad om mee te begin.

Mev. Hendrie Louw: “Ouma-hulle se opstal is nooit afgebrand nie. Ná die oorlog kon hulle kosbaarhede soos droë perskes, saad, droë wors en eetgerei wat hulle in die grondmure toegemessel het, gebruik. Hulle het ook goedere wat hulle op hul plaas in ‘n grot versteek het, teruggebring.”

Mev. Mathilda de Kok: “Ná die oorlog het oupa Wille homself en ook sy bure van broodnodige saadkoring voorsien. Verreweg nie genoeg nie, maar ‘n noodsaaklike begin. Vroegtydig het hy sakke vol koring langs ‘n binnemuur in die skuur gepak en toe die muur daarop omgestoot veilig buite sig van enige vyand. Goed weggesteek onder die watervlak in die diep fonteinekuil bokant die populierbos was ook sy perdekar twee jaar lank weggesteek.”

Mev. Rina Steyl: “Oupa Crause het met hul aankoms (op hul afgebrande plaas) sy vrou en seuntjies omarm, gebid en gesê ondanks hul omstandighede loof hulle God en is hulle dankbaar dat hulle almal nog leef en saam terug op hul plaas kan wees. Hulle het sinkplate skuins teen mure van die murasie gepak om vir hulle ‘n woonbare skuiling te maak. Die kinders het by die afgebrande skure en perdestalle gebrande mielies opgetel en dit teen klippe so skoon as moontlik geskuur sodat ouma vir hulle kaboemielies kon maak.”

Tydens die oorlog het Oupa Crause vir sy gesin kom kuier, en net betyds weggejaag voor die engelse hom kon vang. Net voor hy gery het, het Ouma “…uitgehardloop gekom met ‘n vrugtefles en geroep: ‘My man, neem ons geld saam!’ Sy het haar voorskoot afgehaal en die vrugtefles met honderd goue ponde vasgebind sodat Oupa ‘n greep daarop kon hê. Oupa is in ‘n jaaggalop in die teenoorgestelde rigting as wat die engelse gery het na ‘n leegte waar die rooigrasse in hul sade gestaan het. In die gejaag het die gehawende voorskoot geskeur en Fluit het die vrugtefles stukkend getrap. Die goue ponde het tussen die gras gespat, maar Oupa moes voortjaag.”

Na die oorlog het die gesin 99 goue ponde daar opgetel.

Ander Boere het met skenkings van familie, ruilhandel en harde werk weer op die voete gekom:

Mnr. Hendrik Smit: “…Na die oorlog het … oom Hennie en tant Alie Palm … na hul leë plaas, Blackwood, teruggekeer. Van sy beeste en skape het nie een lewende dier oorgebly nie. Die huis en ander buitegeboue was afgebrand. Oor die agterste kamer in die gang het ‘n stuk dak bly hang, wat ‘n mate van skuiling teen wind en weer gebied het…. Hul enigste meubels was twee ysterkateltjies en ‘n paar leë seepkissies. Besorgde familie het ‘n kerriekoeitjie (‘n soort melkkoei van destyds) met ‘n groterige verskalfie vir ‘n bietjie koffiemelk geskenk.”

Mej. Amanda du Plessis: “…Ná die oorlog moes hulle help om afgebrande plaashuise op te bou. Pa moes timmer en bou. Ma het by ‘n gebarste seeppot skaapvet in steentjies seep probeer omsit en die kinders het wolpluisies van doringbome afgestroop om te verkoop….”

………………………..

Bron: ABO 100 Ons lesers vertel, deel 1, 2001.