Tag Archives: Geloftefees

Geloftetoespraak deur Pres. Kruger

16 Desember 1896 by geleentheid van die Staatsfees te Paardekraal.

Landgenote,

ek heet u almal hartlik welkom op hierdie plek en ek sal tot u spreek, u versoekende om u hele gedagte tot my te wend om my te verstaan. God is hier teenwoordig; Hy wil Sy oor tot ons neig om te hoor wat ons in ons harte spreek. Hy verstaan die taal van ons hart, maar het geen lus in die taal van ons lippe alleenlik nie. Staan dan eerder by Homself stil en keer tot uself in, want ons het hier met God te doen.

U is ou inwoners van die land, u sal miskien sê: “Ek het opgekom om my gelofte aan die Meester te betaal en oor Sy verlossingswerk te dink in teenwoordigheid van die hele volk.” As u dit met my wil nagaan, staan dan ‘n bietjie by uself stil, keer tot uself en vra u hart af: ken u die weg van die Here of is dit miskien uit die oog verloor wat God gedoen het. Ek spreek nie hier an Sy inwendige, maar van Sy uitwendige roeping, waarvan Hyself in die Ou Verbond en in die teenwoordige tyd Sy volk verlos en gelei het, sodat ons oue natuur verbreek mog word.

Ongelowiges vra of God nog aan Sy volk doen wat Hy onder die Ou Verbond gedoen het, en die wêreld sê: God doen nie meer die tekens en Sy weë is nie meer dieselfde as onder die Ou Verbond nie. Ek wil daaraan herinner dat God nog so doen van geslag tot geslag, totdat Hy op die wolke sal kom om te oordeel, ook diegene wie se oue natuur rebellie teen God gepleeg en kwaad teen Hom gespreek en Hom beskuldig het dat Hy ‘n veranderlike God is.

Wend u gedagtes daarheen sodat u Sy weg kan verstaan, anders kan u in Hom nie glo, nog Sy Naam heilig nie.

Laat ons Hom dan vra soos in Psalm 25 vers 2 gedoen word, ons vernederende en alle menslike roem opsy sit en slegs let op Gods hand, Gods almag, bestier en wysheid, sodat ons mag verstaan waarom ons ons geloftes hier moet betaal, en welke dié is.

Julle gekraakte rietjies en rokende vlaswerkies, u het natuurlike behoefte om Sy weg te ken, sodat u u nie besondig om deur ongeloof te twyfel of God nog dieselfde vir Sy volk is nie.

Kom laat ons vooraf sing uit Psalm 25 en daarvan die 2de vers:

Heer, ai, maakt mij Uwe wegen

Door Uw woord en Geest bekend;

Leer mij, hoe die zijn gelegen,

En waarheen G’Uw treden wendt.

Leid mij in Uw waarheid, leer

IJv’rig mij Uw wet betrachten;

Want Gij zijt mijn heil o Heer,

‘k Blijf U al den dag verwachten.

Mag dit nie u lippe- maar u hartetaal wees as u sing: “Heer! Ai maak mij Uwe wegen door Uw woord en Geest bekend.”

U ganse volk wat hier vergader is, verstaan my. Ek noem u almal tesaam Gods volk, maar u, ou inwoners van die land, wat u gelofte afgelê het om God te dien, om hierdie dag te vier om Sy verlossingswerk te gedenk; tot u spreek ek in die eerste plek. Wat wil u doen?

U sal sê: “Ek het gekom om my geloftes te betaal om Sy verlossingswerk te gedenk.” Ek het vooraf aan u gesê, laat ons alle menslike roem opsy sit. As ons reg wil feesvier, moet ons ons voor Gods aangesig verneder en tot Hom kom.

Ek wil u egter eers op een punt opmerksaam maak. Die mens is altyd geneig om sy oog op ‘n ander te slaan en nie tot homself in te keer nie, en sodoende kom die mens nie tot vernedering voor God se aangesig nie. Elkeen het met homself te doen en ek sê aan u, hier in u midde, let op u eie hart en keer tot uself in, my broers en susters en u almal tesame wat hier is, sodat hierdie plek nie teen ons getuig nie, want as hierdie fees ‘n wêreldse fees word, sal God nie meer by ons woon nie.

Laat ons ons dus verneder en tot God kom. U het gevra: “Heer, ai maak mij Uwe wegen door Uw woord en Geest bekend;” so laat ons teruggaan in die verlede en let op Gods weë en op Sy Almagtige hand, wat so duidelik sigbaar was in die geskiedenis van Sy volk, aangesien Hy hulle vrygemaak het. Laat ons daarby stilstaan en daaraan vashou dat God ons vrygemaak het, sodat ons ons geloftes kan betaal en sodat ons getrou bly.

Ja, ou inwoners van die land, nuwe inkomelinge, vreemdelinge, roekeloses wat met God en godsdiens spot, ek versoek u u met u hele gedagte na my te wend om my te volg.

Die Ou Verbond en die Nuwe Verbond

Laat ons teruggaan tot die Ou Verbond waar God met Abraham Sy verbond opgerig het en u sal die grondslag van sy belofte vind in Sy verbond, wat hom nie alleen tot die Ou Verbond maar tot die laaste nageslag uitstrek.

My broers en susters, u is seker meegereken. U het gelees dat God eers mondeling met Sy volk gespreek het. Onder die stamme het Hy Sem se geslag uitverkies en dit Sy volk genoem. Niemand het God gesien nie, maar Hy het deur die mond van Sy profete tot Sy volk gespreek, en wel sulke dinge dat die allergrootste waarsêers en skrifgeleerdes moes erken, sowel as die grootste ateïste, dat dit alleen die hand van God is wat sulke dinge kan doen.

So het God Hom deur Sy Woord geopenbaar dat Hy regeer en niemand anders nie. En daarna het Hy te midde van alle soorte van nasies Israel Sy volk genoem. Nie dat hulle beter as die ander was nie, maar omdat Hy Hom aan dié volk wou openbaar sodat alle geslagte van die aarde kon weet dat Hy regeer en dat hulle nie van Hom moes afwyk en na waarsêers gaan nie, want so bestaan ons in die natuur.

Daar het sware verdrukking gekom. God het Abraham geroep, hom die sterre van die Hemel getoon en gesê: “Net so sal jou saad vermeerder word.” So strek Sy verbond uit tot die Ou, maar ook tot die Nuwe Verbond. U sal in die heilige Boek van Genesis gelees het dat God sê: “Neem ‘n rooi koei, ‘n bokooi en ‘n ram en twee duiwe, een ou en een jong duif. Die diere moet drie jaar oud wees,” en Hy sny dit deur en lê dit teenoormekaar, elke helfte, en gaan daar tussendeur, en jaag die roofvoëls weg sodat hulle dit nie verteer nie, as ‘n teken dat die verbond opgerig is.

Hoe wonderlik is Gods bestier. Sodat dit nie verteer word nie. Die afgedwaalde volk het verskeurd en verstrooid gelê maar die Here het gewaak dat die roofvoël, Farao, Israel nie verteer nie.

Hoe wonderlik is Gods werk. Israel moes vier geslagte lang onder die verdrukking gebly het, en waar Gods volk ook heen gedwaal het, God het hulle deur tug weer teruggebring en hulle moes erken dat hulle hulle deur Gods Woord moes laat lei of hulle wou of nie, en God het hulle teruggebring. Die jong duif sien op die Nuwe Verbond wat uitstrek tot die laaste nageslag.

Gods Verbond is wonderlik en watter verdrukking die volk ook al ondervind het, en watter kwaad dit ookal bedryf het, God het hulle teruggebring, alhoewel geslagte moes vergaan. In die vierde geslag is die godsdiens weer opgerig en nie afgesny nie. Laat ons oplet en kyk wat daar in Psalm 89 staan. “Ek het vir u ‘n held bestel uit u broers, wat sy troon onder u sal oprig en niemand sal hom van sy troon stoot nie. Konings en vorste sal voor Hom buig en niemand sal sy volk uit Sy hand ruk nie, nog lis, nog bedrog, en Hy sal My Sy Vader noem en Ek sal Hom noem My eniggebore Seun,” maar let op, die Psalm spreek van Dawid, maar sien op die Here Jesus.

Ik zal de heerschappij doen duren bij zijn zaad,

Zoolang de hemel zelf op vaste pijlers staat.

Maar zou zijn kinders ooit Mijn zuiv’re wet verlaten,

Zoo’t richtsnoer van Mijn recht ter reeg’ling niet kan baten,

Zoo zij ontheiligen wat Ik heb voorgeschreven,

Dan mogen zij gewis voor Mijne straffen beven.

Dan zal Ik hen, die dwaas en wreev’lig overtreên,

Bezoeken met de roê en bitt’re tegenheên;

Doch over hem Mijn gunst en goedheid nooit doen enden,

Niet feilen in Mijn trouw, noch Mijn verbond ooit schenden;

‘k Zal nooit herroepen, ‘t geen Ik eenmaal heb gesproken;

‘t Geen uit Mijn lippen ging, blijft vast en onverbroken.

Hoe onwrikbaar is sy belofte. Maar so waar as dit is, so seker is Sy tug op Sy volk indien hulle afwyk. Ek het my voorgeneem om u te wys op Gods hand, Gods bestier en almag, dat Hy nog dieselfde is as in die Ou Verbond, en Hy verander nooit hoe die mens ook al heen en weer slinger. Hy bring die hele volk weer tereg, hoe die sake ook al loop, sodat ons ons voor Sy aangesig verneder en alle menslike roem opsy sit en Hom dank vir Sy weldade wat Hy aan ons bewys het om ons vry te maak en te verlos.

U ganse skaar wat hier vergader is om die gedenkteken wat vir ons en ons nageslag as ‘n blywende monument opgerig is; let op wat daarop geskrywe staan, op die feite, sodat u kan weet wat God gedoen het om ons te verlos en ons kan vashou aan die gedagte dat Hy Sy volk verlos het met Sy Almagtige hand, opdat ons getrou mag wees aan ons gelofte om Hom te dien en ander daartoe op te wek.

God lei en verlos ons keer op keer

My broers en susters, staan daarby stil dat die fees ‘n godsdienstige fees is om God te dien en geen mens nie. Alle menslike roem is uitgesluit, want daar wil die natuur maar heen. Hier is geen mense- maar Godsverering.

Gaan dan met my terug na ons geskiedenis, toe God ons vaders uit die Kolonie uitgelei het oor die Oranjerivier, wat die grens was. In 1835 het my oorlede vader Grootrivier deurgetrek. Hy was een van die eerste Voortrekkers want die Groot Trek het eers in 1836 begin.

Toe was ek ‘n jongeling van tien jaar en die rede waarom ek my ouderdom aan u vermeld is omdat ek nie aan u wil vertel wat ek in boeke gelees het, of in ander tydskrifte nie, maar waarvan ek self oor- en ooggetuie was. Ek wil u op Gods leiding wys en dat dit Gods hand is wat ons uitgelei het en die vryheid gegee het. Laat ons dan ‘n weinig stilstaan by wat ek van toe af tot op hierdie dag deurleef het sodat u Gods weg verstaan.

Die mens is in sy natuurstaat ‘n vyand van God en wanneer hy vry is van politieke wette wil hy losbandig lewe. Toe ons voorouers onder die wette uit weggetrek het en die menslike natuur in losbandige vryheid wou leef om te doen wat hy goedgevind het, het God die natuur gebreek.

Die mense het nouliks die grens oorgetrek of hulle is byeengeroep om bestuurders te kies om die volk te regeer en om geen kwaad toe te laat nie, en hulle het Gods Woord as hulle gids geneem om daarvolgens te leef. Die reël was om van niemand iets weg te neem, selfs nie van die swak stamme in die Vrystaat nie, en u weet wat die natuurstaat is, dat dit oor die swakke wil heers. Maar nee, God het dit belet en dit was ‘n reël wat nie uit mense voortgekom het nie, maar van God self, wat Sy volk dadelik aan Sy bevele volgens Sy Woord wou bind. Wat ons van die nasies wou hê, moes ons met vrede en vriendskap probeer om van hulle te verkry deur middel van onderhandeling, en niks het ons gewelddadiglik geneem nie.

Die vernaamste voorneme van die Voortrekkers was om ‘n vry land te verkry om hulle aldaar te kan vestig, en het hulle deur die Vrystaat getrek, sonder egter om die swakke stamme daar iets te ontneem, maar alleen in vrede en vriendskap handel gedryf.

Broers, u moet met my erken dat dit Gods hand is wat aan ons die vryheid gegee het, en nie onsself nie. Die mens wil in sy natuurstaat immers altyd doen wat hy begeer.

Aan die Vaalrivier gekom, het uit die noorde woeste barbare gekom. Moselikats het op die mense aangeval sonder enige aanleiding of kwessie en manne, vroue en kinders vermoor en slegs 28 of 30 manne het oorgebly, wat in ‘n klein laer getrek het, vertrouende op God om hulle teen die woeste barbare wat die laer vyftien dae daarna by duisende aangeval het, te verdedig. Hulle is teëgehou, God het die volk bygestaan en hulle het tot die Here geroep en hulle het die vyande, waarvan enige honderde op die slagveld gebly het, afgeslaan. Dertienhonderd assegaaie is in die laer gewerp. Die barbare het al die vee weggeneem, met uitsondering van die weinige wat in die laer was.

Daar het hulle gestaan, verleë die hande opheffende om ‘n weg te soek, steeds vertrouende op die Here, en was dit nodig dat die wynstok tot aan die stam toe besnoei word sodat dit goeie vrugte sou kon dra, en God het vir hulle die weg gebaan. Die broers wat agter was, het hulle gehaas om by hulle te kom om hulle broers by te staan teen die vyande.

Na die klein klompie onder oorlede Potgieter, — ek het geen persone voor nie; daar was ook o.a. Cilliers, Uys en meer ander, maar Potgieter was die hoof, — het hulle gesamentlik na Marico vertrek om die vyand te volg en te tugtig en die gelede skade vergoed te kry. God het hulle geseën en hulle het die vyande verslaan. Kyk, die groot seën en uitkoms nadat God hulle getugtig het, sodat hulle alle hulp en krag van Hom sou vra.

Terugkerende het die klompie weinig aangegroei en het hulle Moselikats vir die tweede maal ontmoet by Silkaatskop, distrik Marico. Die eerste geveg het by Zeerust plaasgevind. Die vyand is opnuut verslaan en die Trekkers het die land gaan bewoon, wat God op dié regmatige wyse aan die uitgeweke emigrante gegee het, welke land ons dus van Gods hand ontvang het.

Bloukrans, Bloedrivier en daarna

Die oog van die emigrante was toe op Durban gevestig om ‘n seehawe te kry. Daar het toe ‘n kommisie onder Retief gegaan om die strook land te kry, maar hulle is verraderlik vermoor. Die ander mense het by die Tugela en Blauwkrans gestaan, en elkeen met vee, op ‘n afstand van mekaar.

My broers en susters, die toestand is byna nie te beskryf nie. In die vroeë môre het ons hoor skiet en gedink dat dit welkomskote was. Toe die kommisie tuisgekom het en sê dat die woeste barbare die mense vermoor, kan u ons toestand begryp. Die manne het op die perde gespring, en van my wil ek nie praat nie, maar ek het kinders en swakke vroue gesien wat takke aangedra het tot hulle daarby neergeval het.

Duisende vyande het die aarde bedek. Daar was geen hulp by die mense nie en tot selfs die kleine kinders het tot die Here geroep en die stem van die volk het tot die Here gekom.

Enige honderde vroue, kinders en ook manne is vermoor. Beddens is aan stukke gesny en die vere het orals rondgewaai, rook en kruitdamp het oor die aarde gehang en roofvoëls het nie alleen op die lyke kom aas nie, maar ook begin om die swaargewondes aan te val. Dit was ‘n gruwel van verwoesting wat nie te beskryf is nie. Die oorgeblewenes het die oog na die Almagtige Skepper opgeslaan en dadelik ‘n rapport aan hulle broers te Rietrivier (en) in die Kolonie gestuur en nadergetrek in ‘n laer.

Toe het die edele heer A. Pretorius met sy dapperes gekom en daarop het gevolg die slag van Bloedrivier, waar die gelofte afgelê is om indien God ons die oorwinning mog skenk, ons die dag sou hou as ‘n dankdag, as ‘n sabbatdag om Hom te dien. Siedaar, die grote oorwinning oor duisende barbare deur ‘n klein klompie mense.

Maar daarna het ons weer van ons belofte afgewyk. In die jaar 1839, want in 1838 het die slag van Bloedrivier plaasgevind, het ons weer teruggekom om die vyande hier te agtervolg en na te spoor om die gelede skade vergoed te kry en die vyand te tugtig. Toe was ek ‘n jongeling van dertien jaar, in my veertiende, en was (ek) self opgekommandeer en uitgetrek.

Ons het die land binnegekom, maar dit was skoongevee; die Makatese was uitgeroei met uitsondering van klein klompies hier en daar, wat hulle in die rotse verberg het. Toe hulle die uitgeweke emigrante sien, het hulle na hulle toe gekom en beskerming gevra, en ons het van hulle verneem dat die woeste Moselikats oor die Limpopo gevlug het.

Ons het hulle toe gevra waarom hulle nog in die rotse gebly het en daarop het hulle geantwoord dat daar nog ‘n groot kraal van Moselikats op Silkaatsnek was, wat hulle opgevang, die oues doodmaak en die jonges vir Silkaats agterna gestuur het.

Ons het toe in 1839 teruggekeer en by Silkaatsnek te lande gekom, die kraal daar gevind, die swartes oorwin en nog baie goedere van die vermoorde mense, soos klere, in die stat gevind.

My broers en susters, so is dit in ‘n land wat God aan ons gegee het en nie die mense nie. Die land was skoongevee en daarna het ander Makatese weer ingekom om hier te woon, onder ons beskerming wat ons aan hulle verleen het. Ek moet egter een deel van die geskiedenis oorslaan anders sal dit te lank duur.

Die eerste Vryheidsoorlog

Die tyd is afgewissel deur voor- en teëspoed totdat ons weer afgewyk en die verbond en belofte vergeet het, en ons deyr ‘n vreemde moondheid geannekseer en verdruk is U almal ken die geskiedenis van 1880 en 1881, sodat die volk byna radeloos was en gedwing is om na mekaar te kom en hulle aan die Here oorgegee het om te veg vir die dierbare kleinood en die skat wat Hy aan hulle gegee het.

God het ons eenmaal vrygemaak en waar ons afgedwaal het, het Hy ons teruggebring deur ons hart daartoe te bewerk. Ek wil u op Gods hand wys om Sy weë te erken, sodat ons Sy Naam nie met ons lippe nie, maar met ons hart mag verheerlik, en te erken hoe Hy ons bestuur en ons mag verstaan waarom ons ons gelofte moet aflê.

U weet hoe ons bymekaar gekom het in die tyd toe die land geannekseer was. Toe is daar geroep dat die volk te onkundig was en dit die land nie kon ontwikkel nie, want dit is ‘n ryk land. Toe die land geannekseer is, het deskundiges, mineraloë, uitgegaan om goud te soek, maar God het dit vir hulle oë verberg en hulle rapport was dat daar wel goud was, maar nie betaalbaar nie, en die skat het verborge gebly totdat die Here ons die onafhanklikheid weer teruggegee het, en toe het die ‘onnosele Boere’ die goud gevind.

My broers, ek wil u daarop opmerksaam maak hoe spoedig ons Gods wonders vergeet. Daar kan geen groter wonders en mirakels wees as in die Vryheidsoorlog nie. Sonder ammunisie, ja sonder ‘n kanon, sonder dorpe was ons; en sou dit nie kinderagtig skyn om onder die omstandighede en met slegs 6,000 mense altesaam wat kon skiet, terwyl daar reeds 3,000 troepe van ons teenparty binne ons grense was en 3,000 vrywilligers en ons ons dorpe ook nog moes beset, om teen 12,000 man in die veld te gaan veg, terwyl enige duisende barbare opgemaak is om ons van weerskante aan te val? Toe moes ons ook nog vrouens en kinders beskerm.

Toe ons by Paardekraal byeengekom en hierdie steenhoop opgerig het, het enige burgers van drie- tot vierduisend patrone gehad, maar die meeste geen enkele, sodat oor alle burgers verdeel, elkeen nie meer as vyftien patrone sou hê nie. En sou dit nie dwaasheid wees indien God nie ons harte bewerk het, om met moed teen ‘n moondheid op te trek nie!

Laat ons op Gods hand let sodat ons weet wat Hy aan ons gegee het, opdat ons ons geloftes betaal. En kyk, God het aan ons die oorwinning gegee en ons het ons vryheid weer teruggekry. Is dit geen wonder nie?

Een van die militêre predikante te Newcastle, wat my na die vrede, toe ek daar was, met die vrede gelukgewens het, het aan my gevra hoe ek en die heer Joubert die werk gedoen het om sonder telegraaf en spoorlyn binne ‘n week al die dorpe te beset, sodat geen rapport daaruit verkry on word nie. Ek het geantwoord dat as ek en die heer Joubert dit moes doen, dit sleg sou afgeloop het, maar dit was die werk van ons grote Generaal, Jesus Christus, want as ons bevele op een plek aangekom het, dan was dit alreeds uitgevoer en was alles in orde, en het ek hom duidelik Gods bestier laat opmerk. Hy het alle harte in Sy hand. Toe sê die predikant knikkende, hierdie geskiedenis is tot onder Israel nie te lese nie.

Die geringste heiden en ongelowige moet erken dat dit Gods hand is wat aan ons die vryheid teruggegee het, en geen mens nie.

Slotsom

My broeders en susters, laat my toe dat ek op my persoon afkom.

God het aan u die vryheid gegee en het my gekies as hoof van die staat. Ek het u nie die vryheid gegee nie, maar God, en dus wee my en ‘n vloek oor my indien die vryheid deur my geskend sal word. Ek moet dit verantwoord en sal liewer my lewe wil verloor. Ek spreek uit die binneste van my hart.

Laat ons derhalwe God se weë in die oog hou en sien wat Hy gedoen het en Hom weer verheerlik, siende wat Sy dade is, en nie met ons lippe nie, maar met die hart, en dat ons goed verstaan waarom ons ons geloftes moet aflê.

Soos ek uit die geskiedenis van Israel aangewys het, tugtig die Here, soos ook in Psalm 89 staan. Wanneer ons van Sy bevele afwyk, sal Hy ons met bittere teënhede slaan. En wanneer ons terugaan, laat ons nie teen Sy slaande hand murmureer nie, want die Here sê: “Julle afkerige kinders, keer terug, en ek sal julle afkering genees. Die Almagtige Skepper sê: Beproef My dan, en kyk of Ek nie die vensters van die hemele sal open en My reën afgiet, en Ek sal die opeters en die kewers vernietig, en u skure sal vol word met u kuddes.”

Let op Gods hand. Hy kasty ons, laat ons nie murmureer nie, maar tot Hom terugkeer; dan sal ons vryelik saam met Dawid kan sê: “Toe ek in weelde geleef het, het ek van U afgedwaal, maar nou dat U my kasty, keer ek terug en kus die roede wat soos olie, soos balsem op my hoof is.” Iemand sal nie kan begryp hoe Dawid dit kon sê nie. Maar hy het dit gesê sodat die Here hom nie sou loslaat nie en hy weer tot die Here kon terugkeer. Daarom staan daar in Psalm 12:

“Kom ons ter hulpe Here, behoed ons, want dit ontbreek onder ons om U liefde te betrag, en die liefde beswyk en word minder en minder in ons.” Laat ons ons voor God neerbuig en wees verseker, Sy hand is nie kort nie en Hy kan Sy slaande hand dadelik stop, hoe ver ons al afgedwaal mag wees. Immers, Hy sê: “Kom weer, julle afkerige kinders en Ek sal julle afkering genees.”

Laat ons ten slotte sing van Psalm 105 en daarvan die 8ste vers en laat ons oplet hoe toepaslik dit op ons geskiedenis is.

Broers en Susters, laat ons saam bid.

……………………..

Bron:

President Kruger aan die woord; saamgestel en versorg deur J.S. du Plessis, M.A.; 1952.