Sal die boom wat Jopie Fourie geplant het weer vrugte dra?

Deur Carel van der Grijp

Die Geskiedenis van ‘n volk is die voedsel wat daardie volk laat groei. Dit is die wortel en anker vir elke geslag. ‘n Volk getrou aan sy geskiedenis bly ook getrou aan sy geloof, sy afkoms en herkoms, sy taal, kultuur en tradisies.

Soos Jopie Fourie dit in sy sterwinsuur op 20 Desember 1914 gestel het: “Die boom wat geplant is en met my bloed benat word, sal opgroei tot ‘n groot boom en sal heerlike vrugte dra”.

In 1453 word Europa lamgelê toe die bestaande handelsroete na die Ooste, Klein-Asië en Noord-Afrika deur die Turke, die vyand van die Christendom, verower is. ‘n Alternatiewe handelsroete moes gevind word.

Eerste bloed in die suidpunt van Afrika

Op 6 Januarie 1488 betree die eerste Witman die suidkus van Afrika by Visbaai. Daarna verskuif Bartholomeüs Dias na Mossebaai vir die inneem van vars water. Inboorlinge bestorm egter Dias en sy matrose en hulle word met klippe bestook. Van die Portugese seevaarders se kant word daar in selfverdediging ‘n skoot geskiet en ‘n inboorling word gedood. Só vloei die heel eerste bloed tussen Wit en Swart aan die suidpunt van Afrika, met die Swartman as die aggressor.

Sowat 164 jaar later, op 6 April 1652, stap Jan van Riebeeck aan wal in die Kaap van Goeie Hoop om ‘n handelstasie op te rig. ‘n Handelstasie wat die wêreld se geskiedenis op byna elke gebied sou beïnvloed.

Die soeke na speserye en ivoor word dus die baanbreker vir die geboorte van ‘n volk, want deur die verloop van die jare het hier ‘n volk ontstaan met sy eie taal, kultuur, geloof en lewens- en wêreld-beskouing. ‘n Volk wat gelouter is deur die eise om staande te bly teen die onderdrukking van die Britse wêreldheersers, wat ook die haat teen die Afrikanervolk aangevuur het onder die Swart bewoners van Afrika.

As ons kyk wat hierdie volk moes verduur, is dit menslik byna onmoontlik dat hulle kon oorleef. Die Afrikanervolk is dus ‘n wonderwerk van God. Ten spyte van al die aanslae om die ontstaan van hierdie volk te verhoed, het hy tog een van die wêreld se voortreflikste volke geword.

Die beproewinge van die Boere op die oosgrens, die Britse besetting in 1806, die vervolging en teregstelling van Boere deur Britse owerhede, die onteiening en herverdeling van plase, die afbrand van en moorde op plase, die verpligte Engelse onderwys en taalbeleid en gelykstelling tussen rasse was niks anders as ‘n totale aanslag nie.

Die beproewings op die Groot Trek het bewys dat die Swart massas 30 jaar na die besetting van die Kaap steeds deur die Britse owerhede en hul sendeling-handlangers in Natal aangevuur is om die Trekkers uit te moor.

Die Slag van Bloedrivier en die Gelofte van 16 Desember 1838 was ‘n keerpunt in die verloop van die geskiedenis. Hieruit het ‘n gevoel van samehorigheid ontstaan en dit is vandag nog steeds die gebeurtenis wat regdenkende nasionalistiese Afrikaners bymekaarbring.

Die volkssmart word ‘n wekroep tot vryheid

Die stigting van die twee Boererepublieke en hul onafhanklikheid vry van die Britse oorheersing was ‘n oorwinning in die Boervolk se stryd. Maar daar sou dit ongelukkig nie eindig nie. Toe kom die Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë, die oorwinning by Majuba, die moord op 27927 weerlose vroue en kinders en die afbrand van huise en plase tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Saam met die ewige vervolgingswaansin van die Britse Imperialiste en die stryd ná 1902 vir die behoud van volk en taal, die 1914 Rebellie en die moord op Jopie Fourie was al hierdie historiese gebeure ‘n martelpad vir die Afrikanervolk.

Al hierdie gebeurtenisse het egter ook die volk se wil om te leef en steeds vry te wees laat opvlam. “Die boom wat geplant is en met my bloed benat word, sal opgroei tot ‘n groot boom en sal heerlike vrugte dra”, het Jopie Fourie gesê kort voor hy op ‘n Sondag deur Botha en Smuts se magte doodgeskiet is.

Die teregstelling van Jopie Fourie was ‘n hartseer gebeurtenis in die geskiedenis en dit het die volk aan die hart geruk. Afrikaners wat passief was, het meer betrokke geraak. Botha en Smuts het hul aansien verloor en weer is die geskiedenis van die onreg deur die volk in herinnering gebring.

Digters en skrywers het die pen opgeneem en die geskiedenis berym. Met weemoed is die volk gevul en die wil om vry te wees het herleef, soos dié gedig “Wekroep tot die volk – Jopie Fourie” deur Jan FE Cilliers dit verwoord:

Vriend en vyand en renegaat,

Luister toe! Dis n man wat praat –

Wat ek gedaan het, is gedaan

Met ope oog, soos ek voor jul staan;

sê Jopie Fourie

Ek vrae nie om genade nie,

Transvaal, my land, jou kind is jou

tot in die boeie getrou;

bo slawediens is die eer wat hy begeer.

Ek vra nie om trane of rou vir my;

Ek vra net dat jul trou sal bly

Aan God en sede, volk en taal en ideaal –

En heerlike vrug sal die boom nog dra

Van Suid-Afrika.

Dié boom hét vrugte voortgebring en sy saad is deur die volksmond versprei. Met ywer het die volk gewerk en hul kinders daarvan vertel. Nasionalisme het herleef so ook die strewe om weer hul vryheid terug te win. Op 31 Mei 1961, byna 47 veertig jaar na Jopie se teregstelling, word die vrug ingewin.

Verraad laat vryheid verlore gaan

Die vryheid waarvoor Jopie Fourie sy bors aangebied het, om die koeëls te ontvang met die vaste oortuiging dat God sy dood sal gebruik om die volk tot ontwaking op te wek en sodoende die vryheid te erwe, word 79 jaar na Fourie se teregstelling in Desember 1993 ongedaan gemaak. Toe ontbind die laaste verkose Blanke volksraad en word dit vervang met ‘n tussentydse regering waaraan die ANC deel het.

Die skandalige oorgawe word op 27 April 1994 verseël. Byna 80 jaar na Jopie Fourie se offer verloor die Afrikanervolk sy vryheid. Fourie se vryheidsboom is vergete, onversorg en verwaarloos. Daar vloei steeds Afrikanerbloed, maar dit benat nie meer die vryheidsboom nie.

Vandag, 20 later, staan daardie boom deur onkruid en dissels berank met die verval duidelik sigbaar. Sy takke is besmet met swam en parasiet en hy is stadig aan die verwelk. Die vrugte is min en sonder saad – ‘n toonbeeld van die toestand waarin ons volk vandag verkeer.

Mandela word ‘n wêreld-ikoon

Op 5 Desember 2013 sterf die groot “ikoon” of hedendaagse “messias” en gepryste “vredemaker van die nuwe Suid-Afrika, Nelson Mandela.

Die wêreld is in rou gedompel en hy word met lofsange geprys.

Ook deur sekere Afrikaners wat voorgee om ook “vry” te voel sonder hul Afrikanerskap en die skuldgevoel van apartheid. Hiervoor pryse hulle vir Mandela. Reuse standbeelde word deur die wêreld opgerig. Die wêreld vier sy lewe en daar word gesê dat hy bedank moet word dat die Afrikaners oorwin is en dat daar nooit weer apartheid (“Aparthate”), afsonderlike ontwikkeling, rasse diskriminasie en nasionalisme (alles natuurlik sondes teen die mensdom) in Suid-Afrika toegelaat of geduld sal word nie.

5 Desember 2013 word ‘n dag wat altyd onthou sal word en waaroor kinders regoor die wêreld in die toekoms in geskiedenisboeke as ‘n “hartseer dag” sal leer. Daarmee saam sal hulle leer van die “wreedheid van die Afrikaner” en die “Long walk to Freedom” van hierdie wêreldgod. Die meerderheid Afrikaner sal natuurlik sy kind in die regering se skole plaas en toelaat dat die leuen aan hom geleer word.

Die pilare wankel

Die meerderheid Afrikaners besef en erken vandag dat die voortbestaan van die Blanke – en veral die voortbestaan van die Afrikaner as volk – in die weegskaal is. Die feit is egter dat die skaal oorhel na die uitwissing van die volk. Volgens die “Stop Die Plaasmoorde”veldtog se statistiek is daar ongeveer 68 000 Blankes sedert 1994 in Suid-Afrika vermoor en omtrent ‘n miljoen het die land verlaat.

Daarteenoor is die aanwas vir die Blanke (Afrikaners ingesluit) maar 0,75 % en word daar voorspel dat in 2016 die aanwas op 0% sal wees.

Wil ons nog as ‘n volk voortbestaan? ‘n Volk word gebou op vier pilare: Sy geloof, ras, gemeenskaplike afkoms (geskiedenis) en taal. Indien een hiervan ontbreek, bestaan daar in werklikheid nie ‘n volk nie. Indien een van die pilare begin wankel en nie versterk of gestabiliseer word nie, is die ineenstorting onvermydelik.

Ons wil graag glo dat die Christen Afrikanernasionalis tog nog op die vier pilare geanker is. Die aanslag word by die dag feller en ons word vandag wysgemaak dat die Afrikaner nie raseg is nie.

Kleurlinge word deur sekere groepe as Afrikaners beskou en word daar verder gegaan dat daar self Swart gene in die Afrikaner voorkom. Volgens dié standpunt is die Afrikaner dus eintlik ‘n nie-blanke.

Om alles te kroon is die aanslag op ons taal, Afrikaans, veller as ooit tevore.

Die vraag is wat kan ons doen? Die antwoord is reeds gegee deur dr. DF Malan. “Keer terug. Terug na u volk (Geskiedenis), terug na u volk se hoogste ideale, terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar”.

Hierdie pand is om God te dien, om Blank te bly en die vryheidsideaal na te streef.

Verwyder dus u kind uit die leerplan van die ANC/SAKP/ Cosatu-alliansie en lei hom terug. Weg van vreemde invloede. Daardeur word die volk gelei op die pad van genesing en herstel.

Kom laat ons daardie onkruid en dissels uit Jopie Fourie se boom verwyder. Kom laat ons die verrotte tak met parasiet en swam uitkap en nuwe lote daar laat uitspruit.

Kom laat ons die boom met ons opoffering benat en weer vrugte laat voortkom. Laat ons die boom se vrugbare saad laat voortplant om weer vrugte van ware Christelike Afrikanernasionalisme te dra en daardeur sal die pad na vryheid bewandel word.

……………………………..

Bron: Uit ANB Nuusbrief nr.50, April 2014. Gaan blaai gerus bietjie deur die volle nuusbrief by hierdie skakel.