Op ‘n Persoonlike Noot

Die wêreldberoemde sangeres Mimi Coertse was ‘n skoolvriendin van dr. Verwoerd se een dogter. Hier vertel sy bietjie van hoe sy dié groot man geken het.

____________

Min mense weet waarskynlik dat ek dr. Verwoerd goed geken het. Ek het dikwels na hom toe gehardloop as ek probleme gehad het en hy het my ook van sy kant ondersteun, selfs as ek nie daarvoor gevra het nie.

Gewoonlik, wanneer ek in die sestiger jare van Europa af gekom het, het ‘n staatsvoertuig my die volgende dag kom haal en na Libertas geneem om te gaan kuier. Een van daardie kere het ek so ‘n pragtige, driedubbele string pêrels aangehad en dit was vir Dok verskriklik mooi. Toe ek vir hom sê dat ek dit in Wenen gekoop het, en dat dit soveel of soveel gekos het, sê hy: “Nouja, dan moet jy maar volgende keer vir Betsie een saambring.” Ek het toe vir Betsie een saamgebring en hy het so ewe die geld gegee…

My kennismaking met die Verwoerds gaan al heelwat verder terug; om die waarheid te sê, na 1946 toe ek nog op skool was. Hulle dogter Anna was ‘n klasmaat van my op Helpmekaar Hoër Meisieskool in Johannesburg en dit het ‘n oor en weer kuiery afgegee.

Ek sal nooit die dag vergeet toe ek die eerste keer by hulle gaan eet het nie. Ons sit die middag om die tafel, toe tik haar pa op sy bord, almal laat hulle koppe sak, hy tik weer en toe begin hulle eet. “Nou maar wanneer bid ons?” vra ek. Hy sê toe, nee, elkeen bid vir homself. Toe sê ek: “In ons huis bid my pa altyd kliphard vir ons almal.”

Jare later kuier ek in Libertas en my ma en pa is ook genooi vir ete. Toe bid Dok hardop, waarop tannie Betsie sê: “Dit doen hy net as Mimi Coertse aan tafel is.” En dit was ook so.

By daardie eerste ontmoeting het ek gehoor hoe hy ‘n storie kan vertel dat jou hare rys. Dié storie was nogal die waarheid, hoor. Hy het vertel hoe hy in die nag van ‘n vergadering af tuisgekom het en by die hek voorgelê is deur ‘n paar gewapende jongmanne wat hom wou ontvoer. Hy het toe deur die hek gebars en ternouernood ontkom. Later is vasgestel dat dit Stormjaers van die Ossewa-Brandwag was wat nie gehou het van sy koerant-artikels teen hulle nie.

Wat hy ook vertel het, was dat hy ‘n paar dae later ‘n hoë besoeker uit Engeland, ‘n sir Somebody wat ‘n koerantredakteur was, dink ek, saam met hom in die kar huistoe gebring het vir middagete. Die hek was weer toe. Nou stop hy, hy weet nie of hy moet uitklim om oop te maak nie want die hek is nooit toe nie. Dit kan ‘n lokval wees. Hy sê hy begin sweet. Hy kan ook nie die man langs hom op hol jaag nie.

Die volgende oomblik spring twee knape agter ‘n bos uit met speelgoedgeweertjies. Dit was toe Hendrik en Christiaan wat die storie gehoor het en gedink het dit sal groot pret wees om ‘n heropvoering te hou! Dok sê hy was die eerste keer nie bang nie, maar die tweede keer het die koue sweet op hom uitgeslaan al was dit helder oordag.

My uitgesprokendheid, soos dié middag by die ete, het my al dikwels in die sop laat beland, maar nie by Dok nie. In 1966 is N.P. van Wyk Louw se stuk Die pluimsaad waai ver in Pretoria opgevoer en ek weet Dok het nie daarvan gehou nie. Ek het seker met ander oë daarna gekyk want ek het vir hom gesê ek dink dit was ‘n goeie opvoering. Hy het nie met my geargumenteer nie, net gesê: “Los dit dan nou maar.”

Daar was ‘n ander keer wat ek in die koerant uitgekryt is omdat ek te velde getrek het teen die hoesery en proesery van gehore by musiekuitvoerings. Ek is dan nou so geliefd en ek word so goed behandel en ek kry sulke goeie kritiek, dit is mos pure ondankbaarheid van my om die publiek te kritiseer. Maar die mense het regtig geen respek gehad nie.

Ek kry toe onverwags ‘n oproep van die Eerste Minister. Hy sê: “Hulle gaan met jou probeer praat oor die koerantberigte. Nou sê ek vir jou, jy sê nie ‘n woord nie. Hulle soek net nog ammunisie. Jy antwoord net nie. Dit is die beste taktiek.” Ek het daardie advies ter harte geneem en my lewe lank onthou.

Dit het een of twee keer gebeur dat ek hom sommer uit Wenen gebel het om raad te vra. Soms is ek genooi na plekke waarheen ek nie geweet het of ek moet gaan en hoe dit gereël kan word nie; Rusland byvoorbeeld.

‘n Ander geval waar Dok blitsvinnig tot my redding gekom het was in 1965 hier in Suid-Afrika. Ek was toe met die Italianer getroud. My pa se neef wat in die politiek was, het ons gaan wys hoe lyk dit in Soweto. Hy wou ons wys watter vordering gemaak word met die uitvoering van die beleid. Ek het ‘n kamera gehad, foto’s geneem en die foto’s by ‘n apteek ingehandig om ontwikkel te word.

Ons was skaars terug op my ouers se kleinhoewe tussen Pretoria en Hartbeespoortdam, toe daag die polisie daar op. Hulle kom toe vrae vra en beslag lê op die foto’s. Die apteker moes hulle seker in kennis gestel het. Ek het niks verkeerd gedoen nie; wat sal ek nou met die foto’s aanvang?

Ek bel toe sommer die Eerste Minister en sê “die geheime polisie” is hier en hulle sukkel met my. Dit was nie vyftien minute later nie, toe kom daar ‘n oproep vir een van die polisiemanne, daar word so ‘n bietjie gepraat, en weg is hulle sonder die foto’s. Dok was nie aan die slaap nie, hoor. Hy het geweet wat dit is om op te tree.

Dit laat my aan ‘n ander episode dink, maar miskien het die KWV (Kaapse Wyn Vereniging) ook ‘n rol daarin gespeel, ek weet nie.

Daar was ‘n swendelary in Wenen aan die gang met Suid-Afrikaanse rooiwyn. Van my kollegas het ‘n bottel gekoop en dit het sleg gesmaak. Iemand het ondersoek ingestel en gevind die wyn word nagemaak deur ‘n poeier met water te meng; bid jou dit aan!

Kort daarna was ek in Pretoria en ek vertel toe die storie aan tafel by die Verwoerds. Dok het nie ‘n oog geknip nie; hy sê niks. Terug in Wenen vind ek alles in rep en roer. Daar het ‘n opdrag uit Suid-Afrika gekom om al die Suid-Afrikaanse rooiwyn van die winkelrakke af te haal en die ambassadeur is woedend. Hulle gaan al die visums na en probeer vasstel wie die nuus versprei. Ek was nog nooit stom nie, maar ek kon my eie afleiding maak.

Van my ouers se kleinhoewe gepraat, dit het meer as een keer gebeur dat ek ná ‘n kuier by Libertas alleen in die aand met my Mini-motortjie moes terugry. Dan het tannie Betsie gewoonlik saam met my gery met die bestuurder en die ampsmotor agterna om haar weer terug te bring.

Daar was ook die keer toe my motor oorgekook het. Dok-hulle het my by die voordeur kom afsien, toe merk hy die plas water. Bedink nou die volgende toneel: Ek lig die enjinkap op en Dok is op sy knieë om onder die kar in te kyk.  Tannie Betsie kom nader om te keer: “Maar Pappa, jy kan tog nie uitmaak wat verkeerd is nie.” En die veiligheidswag dink hy is die groot ekspert: “Nee, Doktor asseblief, laat ek sien.”

Intussen het Dok al klaar opgelet dit is die verkoeler se dop wat nie teruggeplaas is nie. “Betsie,” sê hy, “nou ry jy saam met Mimi terug na die garage waar sy vanoggend volgemaak het en kyk dat sy die regte dop terugkry.” Betsie is toe saam, ja, daar is die dop, sy klim in die ander kar wat agterna gekom het en terug is sy na Libertas.

Dok was vrygewig met my. Ek het soms konserte in Pretoria gehad om geld in te samel vir die Mimi Coertse-beurs. Ek sing verniet, die mense koop kaartjies en die opbrengs gaan om jong sangers oorsee te stuur vir studie. Dok het dan vir my ‘n blanko tjek gestuur met sy handtekening, en ‘n nota dat ek moet invul hoeveel ek dink hy behoort te gee vir die konsert.

Dit het nie heeltemal so maklik gegaan om staatsgeld uit hom te kry nie toe TRUK op ‘n stadium in die nood was met hulle operaseisoen. Dit was omstreeks 1962/1963 wat Bags Cilliers my (namens wie weet ek nie meer nie) afgevaardig het om met dr. Verwoerd te gaan praat oor addisionele fondse en ek was bra teensinnig.

Sê maar die bedrag wat hulle wou hê was R400 000, of so iets. Ek kom by die Eerste Ministerswoning en sê vir Dok ek wil eintlik vanaand bietjie besigheid kom praat. Hy neem my saam studeerkamer toe en haal eers die kussings af want nie een van ons sit graag teen kussings op ‘n bank nie.

Ek stel my versoek en dink by myself: kom nou, Dok, jy kan as jy wil. Hy begin praat, daar is damme wat gebou moet word, daar is armoede en die behoefte is groot. My moed sak. Ek voel vanaand kry ek niks. Uiteindelik sê hy: “Maar ek sal jou darem R200 000 kan gee.” TRUK het gejubel. Die saak was gered.

Dr. Verwoerd het goeie musiek waardeer en het opreg belang gestel in my loopbaan. Hy het my vertel van die operas wat hy as platsakstudent in Duitsland gesien het, onder andere die Berlynse première (nie die wêreldpremière nie) van Der Rosenkavalier van Richard Strauss.

Ek weet nie hoeveel van my konserte hy bygewoon het nie, maar een kan ek baie goed onthou. Dit was in 1960 met die Uniefees in Bloemfontein toe ek spesiaal gekom het om in Rigoletto te sing. Daarna het ek ook nog twee of drie uitvoerings in die Aula in Pretoria gegee. Hy was nog besig om te herstel ná die eerste aanslag op sy lewe by die Randse Paasskou vroeër daardie jaar.

Ek het by Bags Cilliers van die universiteit tuisgegaan. Hier bel Dok uit die bloute en vra vier kaartjies vir Vrydag, twee vir hom en tannie Betsie en twee vir die wagte wat hom moet vergesel. Bags sê dit kan nie, alles is uitverkoop, hy sal hoogstens twee plekke kan organiseer, maar vier is onmoontlik. Ek bel terug. “Kyk,” sê Dok oor die telefoon, “as hy nie vir my plek kan kry nie dan loop ek op die verhoog orals langs jou saam waar jy sing.”

Ek kom by die huis en vertel dit vir my ma. Ag siestog, voor sy haarself kan keer sê sy: “Haai my kind, hy kan dit mos nie doen nie, sê nou maar hulle skiet hom weer en dan skiet hulle jóú raak!”

Die aand ná die uitvoering was daar ‘n onthaal by prof. Rautenach en Dok was ook daar. Ek vertel toe maar as ‘n grap wat my ma op die ingewing van die oomblik krytgeraak het. Sy oë het vol trane geskiet en hy het gesê: “Dis net ‘n moeder wat so kan voel.” Ander mense het toe ná die tyd gefluister dat hulle darem nie geweet het hy kan so bewoë raak nie.

Die eerste keer wat ek hom gesien het ná die skietery was by Libertas. Toe hy by die deur inkom, het ek opgestaan en na hom toe geloop. Hy het mos so ‘n skewe manier gehad om ‘n mens te omarm. Hy sit toe sy arm om my, half aan die een kant, en nadat osn gegroet het, hou hy my vas en sê: “Dit het hier ingegaan en hier uitgekom.” Hy het gesukkel om die woorde te sê, en hy wys my toe verder: “Ek kan nog nie my twee vingers insteek nie. My mond is nog nie heeltemal reg nie, maar verder makeer ek niks.”

Ons het toe nog so ‘n bietjie gepraat oor die skietery. Sy woorde onthou ek nog soos gister: “Die Here het nog planne met my, dis dié dat ek nie dood is nie, ek het nog ‘n paar dinge om te doen.”

Ek was regtig baie na aan dr. Verwoerd. Hy was ‘n nederige man. Wanneer my ouers, Ben en Maria, by die klein tafeltjjie in die restaurant van die parlementshuis gesit het, het hy van die groot tafel waar sy kollegas bymekaar was, opgestaan en by hulle kom sit.

……………………….

Bron: Verwoerd, só onthou ons hom; saamgestel deur Wilhelm J. Verwoerd; 2001.