In die vroeë oggendure van 22 November 1962 marsjeer ‘n groep van 200 tot 250 Poqo-lede, PAC se millitêre afdeling die Paarl binne, swaar bewapen met pangas, byle, kapmesse, loodpype en selfs vuurwapens.
Op die dorpsgrens verdeel hulle in twee groepe, een gaan Tronk toe om die gevangenes te ‘bevry’, terwyl die ander groep die Polisie Stasie aanval.
‘n Busbestuurder het die polisie in kennis gestel van die aantog, dus was hulle nie onkant gevang nie. Hoewel heelwat polisie voertuie beskadig is deur die massa, is die aanval op die Polisie Stasie en Tronk afgeweer.
Die gewapende massa storm toe egter die woonbuurt in waar hulle vensters stukkend gooi met klippe, inbreek by huise en voertuie stukkend kap. Daar is hulle deur die polisie en van die burgerlikes terug gedryf.
Twee blankes is gedurende die aanval vermoor: Mej. Rencia Vermeulen (17) en Mnr. Frans Richards (22) (hy het op troue gestaan) gruwelik vermoor, vermink en uitmekaar gekap.
Sewe Poqo-lede is dood in die geveg, en heelwat is in hegtenis geneem.
Ek haal graag die volgende stuk deur Dawie (Politieke rubriekskrywer van Die Burger 1946 tot 1964) vir u aan:
“Die Paarlse Onluste.
Ons gedagtes is vandag by die Paarl in die groot leed wat die dorp getref het.
Ek het die vermoorde meisie nie geken nie. Ook nie die vermoorde jong man wat op troue gestaan het en hier by Die Burger sou kom werk, of die ouer mense wat aangerand is nie. Ek is ook geen Paarliet nie.
Maar by die Bolandse Afrikaners is ‘n diep persoonlike gevoel gewek deur die ramp van Donderdag.
Dit moet wees om rede van die simboliese plek wat die Paarl in ons denke en gevoel beklee. Daarom is ‘n sukses of ‘n krisis altyd belangriker in die volkslewe as die Paarl die toneel daarvan was.
Dit kry vanself ‘n groter betekenis, soos ‘n boodskap wat gelewer word van ‘n geskiedkundige verhoog af.
Wat gebeur het.
As ek die breë trekke van die Paarl gebeurtenisse reg verstaan, dan is dit geen plaaslike verskynsel wat daar tot ‘n uitbarsting gekom het nie. Wat gebeur het — en ek spreek onder korreksie — is ongeveer dit:
Onder die Paarlse Bantoes het ‘n ondergrondse groep van terroriste bedrywig geraak. In hoeverre hul motiewe bloot misdadig was en in hoeverre van politieke aard, kan gedebatteer word. Maar hul metodes was dieselfde as dié van dergelike groepe in ander lokasies en trouens oor die hele Suid-Afrika.
Dit is om ‘n terroristiese heerskappy oor die grote gros van ordeliewende Bantoes te vestig en beskermingsgeld van hulle af te dreig. Soms word sulke gelde ingevorder vir ‘n werklike of denkbeeldige politieke saak: maar ek vermoed dat die grootste deel nie verder gaan as die afpersers se private sak nie.
Bantoes wat nie wil saamspeel nie, word hardhandig bearbei, en diegene wat by die polisie gaan kla of daarvan verdink word, kry selfs die uiterste straf as ‘n voorbeeld vir die ander.
Terreur in Lokasies.
Nou sien u waarom ek sê dat die Paarlse gebeurtenis, afgesien natuurlik van die besonderhede van die uiteindelike uitbarsting, nie as ‘n plaaslike verskynsel beskou kan word nie.
Dit is bekend, onder meer uit hofsake soos dié oor die moord-sameswering op Stellenbosch, dat sulke ondergrondse terroristegroepe ook op ander plekke in die lokasies bestaan.
Dit is ook klaarblyklik dat, al sou hulle in bepaalde gevalle nie danig politiek bewus wees nie, maar bloot misdadig, hulle feitlik ‘n klaargemaakte instrument vorm vir die giftiger soort revolusionêr wat Suid-Afrika die grootste skade in die kortste tyd wil aandoen.
Dit is dus lewensnoodsaaklik dat hierdie ondergrondse groepe opgeruim moet word.”