Suzette Douwine de Ridder is op 29 Julie 1928 in Potchefstroom gebore. Sy was die oudste kind van Boy (Josephus Marthinus) en Tollie (Gertruida Anna Susanna) Fourie.
Na die voltooiing van haar skooldae, eers in Central Primary School en Leith Academy in Edinburgh, Skotland (1939), daarna in die High School for Girls in Potchefstroom, het sy haar graad B.A. Ed. Ph. (HOD) in 1951 aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Sy hou in 1952 by die Hoërskool Heidelberg skool. Van 1953–56 gee sy Engels by Afrikaans Hoër Meisieskool. Sy was onder andere ook ’n kranige sportvrou. Sy ontmoet Johan (Johannes) de Ridder, ’n argitek wat onder andere vele kerke ontwerp het. Hulle trou op 14 Desember 1954 en vestig hulle eers in Herbert Bakerstraat 31 en later in Herbert Bakerstraat 56 te Groenkloof, waar hulle gewoon het tot 2003. Natuurlik was die huis deur Johan ontwerp.
Uit die huwelik is 4 kinders gebore: Johan 1958, Trudy 1959, Tienie 1962 en Tomas 1964. Baie interessant is die feit dat Suzette se moeder ’n nooi van der Merwe was en haar seun, Johan se vrou, ook van der Merwe was.
Ten spyte van die verlies van twee seuns het Suzette in geloof moedig voluit voortgelewe. Thomas is in 1982 op byna 19, as eerstejaarstudent in Argitektuur, tragies en misterieus in ’n motorongeluk oorlede. Johan is in 2012 aan breinkanker oorlede. Johan, haar eggenoot, is in 2013 oorlede, hoofsaaklik as gevolg van Parkinson-siekte.
Hulle was vir meer as 59 jaar baie gelukkig getroud. Na 2003 het hulle na die Protea-aftreeoord in Centurion verskuif. In 2019 het sy na Huis Nasaret in Waterkloof verskuif, nie ver van haar Herbert Bakerhuis nie.
Hoewel sy baie swaar gekry het na Johan se afsterwe, het sy selfstandig (met Tienie se hulp) aangegaan. Sy het nog elke Sondag van Centurion na die Gereformeerde Kerk, Meintjieskop, gery waar hulle vir baie jare lidmate was. Sy het, net soos Johan, meer as een rugoperasie gehad en derhalwe redelik krom geloop, maar altyd aan die hardloop totdat sy een Sondagoggend langs die pad gaan staan het met die motor. Die kinders het haar toe dringend versoek om nie meer alleen te ry nie. Tienie, wat haar baie liefdevol bygestaan het tot haar einde toe, het daarna gesorg dat sy elke Sondagoggend by die kerk kom en weer terug.
Tienie beskryf sy ma as baie Godvresend, aantreklik, stylvol, lojaal, blymoedig, ruimhartig, onpartydig en beskeie. Behalwe Godvresend was hulle ook groot nasionalistiese, patriotiese volksgenote – in hart en siel Afrikaners. Sy en Johan was al die die jare HNP’s en het op verskeie kultuurinstansies gedien. Hy onder andere by die GHA en sy by Boervrouforum.
Met die skeuring het hulle onmiddellik ingeskakel by die ANB en was erelede tot hul dood. Suzette het na Johan se dood nog baie ANB-vergaderings bygewoon en baie sinvolle bydraes gelewer.
Weens swak bloedsomloop het sy die laaste paar maande ongeneeslike sere aan haar bene gekry en kon nie meer loop nie en was die laaste maand bedlêend. Haar toestand het toe vinnig versleg, want in haar eie woorde het sy haar kerk en die gemeenskap van die Heiliges so gemis dat sy oorgegee het. Ten spyte van haar 92 jaar was haar brein nog skerp en haar taalgebruik onberispelik.
Haar lewe is gekenmerk deur ‘n diepe dankbaarheid teenoor haar Skepper, onwrikbare geloof en innige liefde vir haar man, kinders en kleinkinders. Sy was ‘n besondere aantreklike, netjiese,
vriendelike, innemende, ruimhartige, opofferende en beskeie persoon. Sy het met die grootste sorg, deernis en meelewing na siekes en hulpbehoewendes omgesien en waar ook al gehelp.
Die manier hoe sy terugslae en beproewing sonder klag en moed in lydsaamheid gedra het sal vir ons altyd ‘n voorbeeld wees.
Sy was bevoorreg dat haar drie oorblywende kinders die laaste week by haar bed kon waak (Trudy en Helene vanaf die Kaap).