President MT Steyn

Hoe M.T. Steyn tot President verkies is

Begin 1883 is die bejaarde president Brand vir die vyfde en laaste keer tot Staatspresident van die Vrystaat verkies, en dit was moontlik in verband met die beëdigingsfeesvierings dat die jong Tibbie Fraser daardie jaar Bloemfontein besoek het, waar sy haar toekomstige man ontmoet het, want volgens ‘n fragment van ‘n manuskrip op Onze Rust was sy self by die plegtigheid in die Tweetoringkerk teenwoordig.

“Ek herinner my goed met sy laaste inswering het hy so gevoelvol gepraat van die donkere dae wat hy met sy volk deurgemaak het, tydens die Basuto oorlog, (toe) het ek gedink of daar ooit weer ‘n President van die Vrystaat sal wees wat sulke moeilike dae moet deurmaak. Min het ek gedroom wat vir my man en ons dierbaar Land en Volk voorlê, en dat hy feitlik sy krag en lewe voor ‘n saak sou opoffer.”

In 1888 is Brand egter in die tuig oorlede, en hierna kon die toenemende Afrikanernasionalisme in die Vrystaat nie langer aan bande gelê word nie: met die steun van Carl Borckenhagen en sy koerant is hoofregter F.W. Reitz, prominente lid van die Afrikaner Bond, as sy opvolger verkies, en onder hom is nouer betrekkinge met die Transvaal aangeknoop. Reitz het egter net sewe jaar die amp beklee voordat sy gesondheid hom dwing om te bedank, en toe dit gebeur, was regter Steyn vir vele die aangewese kandidaat vir die presidentskap, soos mevrou Steyn jare later opgeteken het.

.

“In 1895 het ons geliefde president Reitz onverwags baie ongesteld geword, sodat hy verplig was om as President te bedank, want daar was geen kans op ‘n spoedige herstel. My man was toe Regter gewees, en dadelik het daar van alle kante van die Vrystaat (rekwisisies) gekom dat hy die kandidaat moet word.

Die Volksraad nomineer kandidate – hulle kan baie meer as een nomineer, dit is as die kandidaat 29 stemme in die Raad kry. As die Raad slegs een nomineer, dan kan uit die Volk nog ander kandidate gestel word as hy ‘n rekwisisie kry van 25 stemgeregtigde burgers. Met President Reitz se verkiesing was hy deur die Raad genomineer, maar die Volk het nog twee ander kandidate gestel. Hy het egter ‘n groot meerderheid behaal.

Nog voor die Volksraad in 1895 ‘n kandidaat genomineer het, het manne van verskeie distrikte na my man gekom en gesê, Kyk, al nomineer die Raad jou nie, verstaan goed, ons Volk wil jou as landsman kies. President se antwoord was, Ek is nog jong (hy het die 2de Okt. sy 38ste verjaarsdag gevier), en ek wil my nie by ons Volk opdring nie. Nomineer die Raad my, dan is die vingerwysing daar vir my wat ek nie van die hand kan wys nie.

.

Voor die Raad vergader het, het President al goed getekende rekwisisies ontvang. Die Raad het die 1ste Desember 1895 vergader, en President was met ‘n besliste meerderheid as die enigste kandidaat genomineer. Die verkiesing was vasgestel vir die 19de Februarie en die inswering vir die 4de Maart 1896.

In daardie tyd was dit nie die gewoonte dat die kandidate verkiesingsvergaderings hou, en gelukkig ook, want begin Januarie het my man ‘n aanval maagkoors gekry en was hy net siek. Dit was ‘n moeilike en angstige tyd. Ons geneesheer was baie bekommerd en het sy bes gedoen om hom so gou moontlik hersteld te kry. Daar was gelukkig geen komplikasies, maar die 15 Februarie, al was hy op, moes hy baie stil gehou word, en ek het nog die grap gemaak en gesê, wel, as die Volk die twee kandidate vandag sou sien, is daar geen twyfel wie genomineer sal word; hy het daar nog so swak uitgesien.”

Waarskynlik was dit deur toedoen van sy moeder se politiek bewuste familie dat Steyn aktief tot die politiek toegetree het, want daar was in hierdie stadium nie minder as nege Wesselse in die Vrystaatse Volksraad nie, en dit was sy eie neef, Cornelis Wessels, ‘n latere Voorsitter van hierdie liggaam, by wie die gedagte aan sy (Pres. Steyn) se kandidaatskap vir die eerste keer opgekom het. C.R. de Wet, die lid vir Bo-Modderrivier, het die nominasie in die Raad gesekondeer.

.

Steyn se teenstander in die verkiesing was sy vrou se oom, J. G. Fraser, destydse voorsitter van die Volksraad, wat opgetree het namens dié deel van die Vrystaatse bevolking wat onwillig was om die toekoms van hulle land in gevaar te stel deur nouer betrokke te raak by die Transvaal met sy… talle inwendige probleme. Die Jameson-inval kort voor die verkiesing het egter die deurslag gegee, en vir die Afrikaanssprekendes van die Vrystaat was daar geen twyfel omtrent Steyn se geskiktheid vir die presidentsamp nie.

Ook buite die kring van sy eie mense het Steyn egter vir vele soos ’n uiters geskikte kandidaat gelyk, en selfs die twee Londense weekblaaie wat die belange van die mynmaatskappye verteenwoordig, het hulle ten gunste van hom uitgelaat:

The African Review het hom as “a man of decided views and high character” geloof, terwyl South Africa verklaar het dat “(as) a man of culture and sterling character, possessed of a balanced judgement and a dignified personal appearance – a thing that counts for a good deal – Mr. Steyn would, there can be little doubt, not only represent the Free State with advantage, but well qualified to maintain its position as a harmonious and harmonizing factor in the South African family.”

Toe die verkiesing plaasvind, het Steyn dan ook 6 877 stemme gekry teenoor 1367 vir Fraser en 30 vir die derde kandidaat, ds. Van der Lingen.

.

Om met mevrou Steyn se herinnerings voort te gaan:

“President was die eerste gebore Vrystater wat genomineer was, en ek was ook ‘n gebore Vrystater, en dit het veel bygedra om sy verkiesing as landsman so wenslik te maak. Hy was een wat vrolik in die omgang was en het ‘n groot vriendekring gehad. Ons huis was altyd oop vir ons vriende. Ná ons huwelik in 1887 het my man aan my gesê, Ek wil nou graag dat jy weet: op rondgaande hof geniet ek baie vriendskap, en as vriende onverwags na Bloemfontein kom, wil ek hulle altyd nooi vir ‘n maaltyd tuis, dus (onleesbaar) jy moet altyd gereed wees om hulle te ontvang. Al (onleesbaar), ‘n hartlike ontvangs beteken alles.

In daardie dae was daar nie telefoons en daar was nie kans om vooruit te laat weet nie. Ek het in ‘n pastorie groot geword en was gewoond om tydig en ontydig vriende te ontvang, dus het ek dan ook geredelik aan sy versoek voldoen.

.

Teen begin Maart was my man al veel beter en het ek angstig gevoel en gewonder of sy kragte genoeg sou wees vir die groot inspanning van die verkiesing en die groot resepsie in die Presidentshuis wat gevolg het na die verkiesing, wat deur die President gegee word.

Die dag tevore was die stad al baie woelig, en daar was ‘n stroom van vriende om President te sien. Vroeg die môre van die 4de, wat ‘n pragtige dag was, het die burgers te perd al gekom by ons huis en ‘n saluut gevuur.

President het ‘n landau en ‘n baie goeie naturelle koetsier gehad, maar ‘n groot vriend van President, ‘n burger van ‘n ander distrik, het gesê, President, ek wil self die landau dryf, die koetsier gebruik jy nie vanmôre nie. Daar was ook ‘n lyfwag van vier van die President se vriende wat die rytuig vergesel het.

.

Om tienuur het twee van die Volksraadslede die President kom haal en hom na die Volksraad geneem, en presies om elfuur, in die teenwoordigheid van ‘n ontsaglike skare, kom die optog aan met die nuwe President. By die kerk stap die Baljuw voorop met die Vrystaatse vlag, die President en die Voorsitter volg.

 My swaer, Mnr. Jan Steyn, het my vroeër na die Kerk begelei, die gedrang was groot en met moeite het ek die Kerk kon instap. Ek het ook baie bekommerd oor President gevoel.

Die President neem sy plaas in op die platform. Ds. Kriel is op die kansel en Psalm 121: 1 en 4 word gesing. Die Voorsitter van die Volksraad maak sy toespraak, dit was die heer John George Fraser, en wens die Volk geluk met die voorreg om nou vir die eerste maal in sy geskiedenis ‘n gebore Vrystater aan bewind te hê, ens.

Die Sekretaris van die Raad lees die eed voor, wat op perkament gedruk is en mooi geïllustreerd is, en handig President die goue pen in die vorm van ‘n veer waarop sy naam en die datum is, om sy naam te teken. Die pen word dan ook aan die President as geskenk gegee, en is nog in my besit.

.

Nou staan President op om sy eerste toespraak te maak. Groot stilte heers. Die siekte het die gelaat bleek, tog nog vol laat bly. Sy stem was kalm en (….) Vir die eerste en enigste maal het die Volk die gewyde plaas vergeet en met applous die President in die rede geval. Die toespraak het groot opgang gemaak, en net na alles oor is, kom ‘n liewe ou Volksraad vriend na my, diep bewoë, en sê, Mevrou, God het hom gehelp om so ‘n toespraak te lewer.

Baie hartelik en vrolik het die resepsie afgeloop. Gelukwensinge het ingestroom. Later het Mnr. Borckenhagen, editeur van die Express, op satyn die hele verslag van die inswering laat druk en dit aan my as geskenk oorhandig. Dit het ek nog.

Winburg se adres was aan President oorhandig ingebind met die portret van die huis en plaas waar President gebore was. Die syvlag is ook in my besit, en wil ek terloops sê dat ek die Vrou en Moeder Voortrekker-ossewa met daardie vlag gedoop het.

.

Om drie-uur was ons na die sportterrein geneem om die sports by te woon, en ek moes die pryse uitdeel. Om agtuur was daar ‘n resepsie wat ons moes bywoon in die Bloemfontein Club. Maitlandstraat was pragtig verlig, in daardie dae so ‘n moeilike taak, want gebruik moes gemaak word van die onderste dele van glas bottels en glase met vet en pitte, en gekleurde papier daarom. Dit was verbasend hoe mooi alles gelyk het.

By die Club was daar ‘n groot portret van die President met lig agter, en (bo-)oor die Vrystaatse wapen. Vuurwerke was op die markplein vertoon en hy was omringd van ‘n skaar van vriende. Die (onleesbaar) Volk was in ‘n opgewonde stemming, en om half twaalf kon ons eintlik (= eindelik) na huis keer, met ‘n hart so vol van dankbaarheid, want ‘n meer suksesvolle inswering kon ons nooit verlang het, en ons het diep gevoel wat ons alles aan ‘n Hoër Hand te danke het.”

………………………………………………

Bron: In Liefde en Trou, die lewe van pres. M.T. Steyn en mevrou Tibbie Steyn, met ‘n keuse uit hulle korrespondensie; deur Karel Schoeman; 1983.

Foto is geleen.