Party Boere het geld en ander goed weggesteek waarmee hulle weer na die oorlog kon begin:
Mnr. C. Strauss:“Oom Dottie het ‘n stroopblik, ‘n groen en goud Lyle’s Golden Syrup-blik wat daardie tyd vier pond inhoudsmaat gehad het, gevat, die geld daarin gesit en die deksel toegesoldeer. Op die plaas was ‘n land, ongeveer 10 ha groot, wat met ‘n klipmuur omring was. Oom Dottie het die blik met sy waardevolle inhoud in die klipmuur versteek.”
Tydens die oorlog het die spesifieke stuk muur omgeval, maar die blik, wel met ‘n paar ekstra duike in, was nog toe en het hy iets gehad om mee te begin.
Mev. Hendrie Louw: “Ouma-hulle se opstal is nooit afgebrand nie. Ná die oorlog kon hulle kosbaarhede soos droë perskes, saad, droë wors en eetgerei wat hulle in die grondmure toegemessel het, gebruik. Hulle het ook goedere wat hulle op hul plaas in ‘n grot versteek het, teruggebring.”
Mev. Mathilda de Kok: “Ná die oorlog het oupa Wille homself en ook sy bure van broodnodige saadkoring voorsien. Verreweg nie genoeg nie, maar ‘n noodsaaklike begin. Vroegtydig het hy sakke vol koring langs ‘n binnemuur in die skuur gepak en toe die muur daarop omgestoot veilig buite sig van enige vyand. Goed weggesteek onder die watervlak in die diep fonteinekuil bokant die populierbos was ook sy perdekar twee jaar lank weggesteek.”
Mev. Rina Steyl: “Oupa Crause het met hul aankoms (op hul afgebrande plaas) sy vrou en seuntjies omarm, gebid en gesê ondanks hul omstandighede loof hulle God en is hulle dankbaar dat hulle almal nog leef en saam terug op hul plaas kan wees. Hulle het sinkplate skuins teen mure van die murasie gepak om vir hulle ‘n woonbare skuiling te maak. Die kinders het by die afgebrande skure en perdestalle gebrande mielies opgetel en dit teen klippe so skoon as moontlik geskuur sodat ouma vir hulle kaboemielies kon maak.”
Tydens die oorlog het Oupa Crause vir sy gesin kom kuier, en net betyds weggejaag voor die engelse hom kon vang. Net voor hy gery het, het Ouma “…uitgehardloop gekom met ‘n vrugtefles en geroep: ‘My man, neem ons geld saam!’ Sy het haar voorskoot afgehaal en die vrugtefles met honderd goue ponde vasgebind sodat Oupa ‘n greep daarop kon hê. Oupa is in ‘n jaaggalop in die teenoorgestelde rigting as wat die engelse gery het na ‘n leegte waar die rooigrasse in hul sade gestaan het. In die gejaag het die gehawende voorskoot geskeur en Fluit het die vrugtefles stukkend getrap. Die goue ponde het tussen die gras gespat, maar Oupa moes voortjaag.”
Na die oorlog het die gesin 99 goue ponde daar opgetel.
Ander Boere het met skenkings van familie, ruilhandel en harde werk weer op die voete gekom:
Mnr. Hendrik Smit: “…Na die oorlog het … oom Hennie en tant Alie Palm … na hul leë plaas, Blackwood, teruggekeer. Van sy beeste en skape het nie een lewende dier oorgebly nie. Die huis en ander buitegeboue was afgebrand. Oor die agterste kamer in die gang het ‘n stuk dak bly hang, wat ‘n mate van skuiling teen wind en weer gebied het…. Hul enigste meubels was twee ysterkateltjies en ‘n paar leë seepkissies. Besorgde familie het ‘n kerriekoeitjie (‘n soort melkkoei van destyds) met ‘n groterige verskalfie vir ‘n bietjie koffiemelk geskenk.”
Mej. Amanda du Plessis: “…Ná die oorlog moes hulle help om afgebrande plaashuise op te bou. Pa moes timmer en bou. Ma het by ‘n gebarste seeppot skaapvet in steentjies seep probeer omsit en die kinders het wolpluisies van doringbome afgestroop om te verkoop….”
………………………..
Bron: ABO 100 Ons lesers vertel, deel 1, 2001.