Die Afrikanervolk se strewe na selfbeskikking

Deur mnr. J.A. Marais; geskryf in Mei 1995.

Roeringe rondom die Groot Trek

Die begin van die Afrikaners se volk bewuswording en hulle strewe na politieke selfbeskikking val min of meer saam; en in terme van tyd kan dit, met enkele kwalifikasies, vasgepen word op die tweede helfte van die agtien-dertigerjare, met die Groot Trek as die sentrale en seminale gebeurtenis.

‘n Veelheid van faktore rondom die gestremde verhoudings tussen die boere aan die Oosgrens en die Naturelle, die Britse owerheid se ongevoeligheid teenoor die Blanke Oosgrens bewoners, “die Swart Ommegang”, en die wyse waarop die slawe-eienaars benadeel is by die vrystelling van die slawe, het daartoe bygedra dat die Hollands-sprekende inwoners van die Kaap-kolonie die roeringe van ‘n groeiende gemeenskap besef aangevoel het.

Hulle het bewus geword van ‘n toevoeging tot hulle bestaan wat van hulle iets groters gemaak het as die totaal van hulle getalle – die vroeë verdrag ervaring van volkskap. Dit was die plus en die surplus wat die bewegings mag in die Groot Trek uitgemaak het.

Die kulturele en sosiale bewustheid van ‘n vroeë volkskap en die besef van ‘n gewaagde intog in die vreemde het uiteraard die nodigheid van georganiseerde samelewing laat posvat. En die daarstelling van ‘n owerheid wat sonder belemmering van buite die belange van die gemeenskap kon behartig en bevorder, was die natuurlike eerste stap tot selfbeskikking.

Die Groot Trek was dus eintlik die aanvang van die Afrikaners se trek na nasionale selfstandigheid en politieke selfbeskikking in ‘n eie staat. En dat die staatsvorm die republiek sou wees, was feitlik vooraf bepaal deur die voorbeeld van die groot historiese gebeurtenisse in die voorafgaande tydvak – die Bataafse Republiek in Nederland, die Franse Rewolusie en die Amerikaanse Rewolusie.

Vryheid van politieke oorheersing het sinoniem geword met die republikeinse staatsvorm.

Toekomstige magstryd

Die republikeinse Noorde, met Hollands as amptelike taal en ongelykheid van Wit en Swart, teen die koloniale Suide, met Engels as amptelike taal en gelykheid van Wit en Swart, het die grondslag gevorm van die toekomstige magstryd van Britse kant om die gevolge van die Groot Trek te ontdoen en ‘n verenigde Engelse Suid-Afrika te skep.

Groot Trek gehandhaaf

In die drif om Transvaal (die ZAR) deel aan die federasie onder die Britse vlag te maak, is Theophilus Shepstone gebruik om Transvaal in 1877 te annekseer. Die daaropvolgende stryd wat eers lydelik verloop en toe in geweld ontvlam het, het nie net die Britse planne verydel nie, maar het tegelyk met die slag van Amajuba in 1881 die resultaat van die Groot Trek gehandhaaf, naamlik ‘n onafhanklike Republikeinse Noorde.

Dié oorlog het baie Afrikaners in die OVS, Natal en die Kaap bewus gemaak van hulle volk verbondenheid aan die Transvalers, en só is ‘n Afrikaner nasionalisme bo-oor staatsgrense rondom die Republikeinse Noorde opgewek. En in Transvaal het Paul Kruger na vore getree as ‘n gesag wat die onderlinge getwis en verdeeldheid bygelê het en die jong republiek tot ‘n ordelike staat laat ontwikkel het.

Nuwe Uitdagings

Die ontdekking van goud en die sametrekking van die politieke en die finansiële imperialisme in die persoon van Cecil Rhodes, het ‘n nuwe uitdaging aan die Republikeinse Noorde gestel. Die toestroming van fortuinsoekers uit die buiteland na die goudvelde het die moontlikheid geskep dat Transvaal bloedloos verower kon word deur ‘n stem-regtelike stelsel wat buite die volksgrense strek en volgens die liberaal-demokratiese voorskrifte mense bloot as individuele staatsburgers erken.

Daarteen het Kruger hom verset. Hy wou die groei van die staat bou op die historiese wortel van die Trek-geslag en hulle verwante en sodoende die Hollands-sprekende volk die sentrale en rigtinggewende mag in sy land hou.

Daarteen het Rhodes se obsessie met ‘n verenigde Suid-Afrika onder Britse vlag, gestuit. En toe hy besef het dat hy dit nie op bloedlose wyse sou kon bewerkstellig het nie, het hy dit probeer afdwing deur die infame “Jameson Raid” van 1896 wat op bekwame wyse deur die Kruger-regering verydel is.

Dit was nie net ‘n groot verleentheid vir die imperialiste nie, maar tegelyk is die Groot Trek herbevestig. En, net so belangrik, dit het die Afrikaners hegter saamgebind oor staatsgrense, en in afwagting van ‘n herhaalde “Jameson Raid”, Transvaal die voedings bron van ‘n vrugbare Afrikaner-nasionalisme, gemaak.

Rhodes en Oppenheimer

Die “Jameson Raid” het ‘n neerslag van Boere haat gelaat wat ‘n driekwart-eeu later verwoord is deur die finansiële en politieke erf-opvolger van Rhodes, naamlik mnr. Harry Oppenheimer.

By die 75ste herdenking van die “Raid” het hy by die Rhodes-universiteit te Grahamstad ‘n gedenk lesing gehou en onder andere gesê: “…if there were a white community so attached to old ways, so indifferent to luxury, so self-satified, so suspicious of foreign influence as to refuse even at great material cost to co-operate in building a united modern country, then that community must be destroyed because, as Rhodes saw the matter, it was obstinately and foolishly setting itself up as an obstacle in the way of the ineviteble ecolutionary forward march of history…

Yet Rhodes believed that the Transvaal Republic of President Kruger, unless it had been fundamentally transformed, could never have formed part of a modern united South Africa. The existence of such a republic, by making unity impossible, threatened, as he saw it, the whole future of South Africa and brought hom face to face with a terrible dilemma.

And Rhodes, because he was impatient and arrogant and gravely ill, tried to resolve that dilemma too soon and in the wrong way… But Rhodes’ word, as he knew so well, was left unfinished and is still unfinished today… In South Africa the struggle of Afrikaner nationalism against Brittish imperialism has ended in a way which can give small satisfaction to either side… The life and growth of a great modern state, as Rhodes understood so well, cannot be reconciled with tribal attitudes within its borders, whether the tribes be black or white. Nor can it be reconciled either with a refusal to admit to change or with undue tenderness for traditional ways of life.”

Finansiële imperialisme teen kulturele nasionalisme

Dit is uiters aggressiewe en aanmatigende stellings: “must be destroyed”, “obstinately and foolishly”; maar tipies van die finansiële imperialis wat in sy egoïsme minagtend staan teen ‘n volk se historiese verbondenheid en eer. Ekonomiese gewin is sy hoofmotief en kulturele nasionalisme en volksoewereiniteit is sy vyand. As ‘n volk soos die Transvaalse Boere in sy pad tot groter rykdom staan, moet die volk vernietig word.

Hierdie waarheid het aan Afrikaners van die tweede helfte van die twintigste eeu verbygegaan toe hulle weer die politieke mag in Suid-Afrika gehad het. Hulle het nie gedink dat die imperialistiese heerssug steeds tot die uiterste roekeloosheid in staat sou wees om die Afrikanervolk “te vernietig”, nie.

Die Republikeinse Noorde van ná 1895 het egter besef dat die “Jameson Raid” ‘n tussenspel was en dat daar met die oog op die Britse vyandigheid bewapen moes word. En die wapen botsing het gekom nadat Kruger aan Milner gesê het: “Jy wil nie die stemreg hê nie; jy wil my land hê.” Dit was ‘n herhaling van die aanslag om die Groot Trek en republikanisme ongedaan te maak.

“Ethnic Cleansing”

In meer konkrete terme as vroeër is die vernietiging van die Afrikanervolk beoog deur militêre verowering, ekonomiese verarming, volksmoord in konsentrasiekampe en kulturele vervreemding.

Dit is betekenisvol dat toe die frase “ethnic cleansing” in die Engelse taal gangbaarheid gekry het na aanleiding van die huidige Serwiese en Kroaatse oorlog, ‘n Engelse professor aan Oxford in die blad World Link geskryf het dat “ethnic cleansing” nie iets nuuts is nie; dit is in die Britse konsentrasiekampe toegepas op die Afrikanervolk in die 1899-1902 oorlog.

Dat die verwoesting van 1899-1902 nie finaal geag is nie, is bevestig deur Milner se woorde: “The struggle continues. It has changed in character; it is no longer war with bullets, but it is war still.”

Die stryd het voortgeduur om die Afrikanervolk se gees te breek. Die Groot Trek moes finaal ongedaan gemaak word. Suid-Afrika moes as ‘n verenigde land onder die Britse vlag verder voortgaan.

“Nog niet afgerekend”

By hierdie smartvolste ervaring van die Boerevolk, was een van die treffendste dinge wat geskryf is, dié woorde van HT Colenbrander voor in sy ‘De Afkomst der Boeren’. Dit is geskryf twee dae ná die sluiting van die Vrede van Vereniging op 31 Mei 1902.

“Die wêreld,” sê hy, “heeft trots het vredesverdrag met die Boere nog niet afgerekend” (die wêreld synde die Engelstalige wêreld). “Hun strijd om het volksbestaan,” sê hy verder, “die niet gisteren begon, eindigt niet morgen.”

Groter waarheid oor die Engelse wêreld se verhouding met die Afrikanervolk is wellig nie te vinde nie. Dit sny deur alle skyn en ryk die historiese werklikheid oop wat tot die huidige onderworpenheid van die Afrikanervolk gelei het en waaragter die Britse imperialisme steeds die oorheersende rol gespeel het, soos byvoorbeeld blyk uit die onlangse verklaring van ‘n voormalige Britse Minister, lord Deedes, dat “die mandaryne van die Departement van Buitelandse sake op die voorpunt van die stryd teen die Nasionale Party-regering was.

Hoewel die Boeremagte die Tweede Vryheidsoorlog verloor het, is die eer en selfrespek van die volk gered en het die wapenstryd ‘n galery van helde opgelewer waaruit voortreflike staatsmanne en volksleiers na vore gekom het wat die grondslag gelê het vir die daaropvolgende stryd om die imperiale juk af te gooi en republikeinse selfstandigheid en selfbeskikking te herwin, en die Groot Trek te handhaaf, soos in 1960/61 verwesenlik is na ‘n heroïese politieke stryd van geslagte.

Strakke teenstelling

Die tweede maal het die Afrikanervolk die Britse verowering ontdoen, maar daardeur die grondslag gelê vir die volgende oorlog teen die Afrikanervolk wat in 1990-1994 weens politieke bedrog en verraad, roemloos en eerloos verloor is teen ‘n terroriste-organisasie wat volgens die Engelse joernalis, Peter Younghusband, “nooit veel werd was as ‘n bevrydings-organisasie nie”.

Die Afrikaner het nou, soos ‘n Engelse joernalis verlede jaar in November geskryf het, “geword wat hulle was aan die einde van die Tweede Vryheidsoorlog: mense sonder ‘n staat, soos die Baske en die Koerde, in die land waar hulle volk gebore is”.

Die angel in hierdie seer is dat die Afrikanervolk se selfrespek en selfvertroue tot die wortel aangetas is weens die feit dat sonder slag of stoot sy vryheid hom ontneem is, in strakke teenstelling met die harde en moedige wapen stryd van 1880-1881 en 1899-1902.

Veelal soos na 1902

By al die verskille tussen die ná-1902-tyd en die huidige toestand is daar merkwaardige ooreenkomste. Die land is tans nie fisiek verwoes nie, maar hy is verarm tot ‘n onkredietwaardige staat met ‘n enorme staatskuld en ‘n verarmde Afrikanervolk.

Die Afrikaner het nie tans 22,000 kinders in konsentrasiekampe verloor nie, maar die geboortesyfer van Afrikaners het weens die ekonomiese druk op egpare gedaal van 2,5% per jaar in die sestigerjare tot 0,67% in die tagtigerjare wat reeds etlike jare lank ‘n “negatiewe groei” beteken, omdat teen ‘n geboortesyfer van 1,7% per jaar ‘n volk se getalle konstant bly.

Die Afrikanervolk is dus op die onregstreekse wyse beroof van tienduisende kinders – ‘n gesofistikeerde wyse van “ethnic cleansing”.

In hierdie moreel, sosiaal, ekonomies, polities en numeries verswakte posisie, moet die Afrikanervolk sy stryd om selfbeskiking hervat — die stryd wat deurgaans gekenmerk was deur drie hoofelemente: om vry te wees van oorheersing deur buitelandse magte; om vry te wees van oorheersing deur finansiële imperialiste; en om vry te wees van oorheersing deur Swart getalle.

Nie berus

Soos in die vorige twee stryde om herwinning van die verlore vryheid, is die allereerste stap daartoe die besluit van die Afrikaner leiers dat hulle nie berus in die bedrog volle en verraderlike verowering nie.

Dit was so ‘n besluit wat die aansporing was ot die triomf van Amajuba. En dit was ‘n dergelike besluit wat genl. JBM Hertzog, die stryd met ander middels na 1902 laat opneem het in die Vrystaat, en wat die prikkeling tot die Rebellie van 1914 was. Vandaar het dit verloop tot die 1948-verkiesings-oorwinning en die republiekwording van 1961.

Naas die besluit om nie te berus nie, is dit nodig om ‘n deurdagte langtermyn-strategie te bedink wat gerig is op een onveranderlike doel: herwinning van die Afrikanervolk se selfbeskikking. Oor al die aspekte daarvan kan hier nie uitgewei word nie. Die les van die geskiedenis is hier ter sake. Dit gee perspektief aan die onmiddellike toestand.

Huidige staatsbestel lamlendig

Enersyds is daar die onwerkbaarheid van die huidige staatsbestel. Soortgelyke modelle is al male sonder tal op die proef gestel, en het telkens misluk. Selfs met die ergste diktatoriale metodes sal daar nie in geslaag word om etniese en volksverskille te onderwerp aan ‘n sentrale owerheid, waarmee groepe in die samelewing hulle nie vereenselwig nie.

Die parlementêre demokrasie het ‘n beperkte verdraagvermoë vir rasse- en godsdiens verskille. Die huidige bestel sal daarom inmekaar stort, eerder vroeër as later.

Die verwikkelings in die voormalige Sowjet-Unie en die Sentraal-Europese state is ‘n aanskouings-les in die mag van kulturele nasionalisme. Dieselfde soort magte lê ingebed in die huidige Suid-Afrikaanse staatsbestel.

Les van die Geskiedenis

Naas hierdie erkenning van die mag van nasionalisme is die ander les van die geskiedenis die reeks gebeurtenisse ná wat nie die resultaat van die Boere leiers se beplanning was nie, maar hulle strewe bevorder het:

  • Die vroeë verlening van verantwoordelike regering aan Transvaal en Vrystaat deur die Liberale Partyregering van Brittanje, wat ‘n sterk politieke prikkeling verskaf het.
  • Die poging van Britse kant om by Uniewording die Kaapse stelsel van gelykheid van Wit en Swart uit te brei na Transvaal en Vrystaat, wat deur die Boere leiers verydel is en ‘n versterking van die Groot Trek-riglyne ingehou het.
  • Die uitskop van genl. Hertzog uit die Britse-kabinet op Engelse aandrang, en die stigting van die Nasionale Party.
  • Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, en die daarmee gepaardgaande Rebellie van 1914, wat ‘n golf van nasionalisme ontketen het.
  • Die vroeë dood van genl. Louis Botha in 1919, en ‘n gevolglike verlies van aansien van die Suid-Afrikaanse Party.
  • Die mynwerkerstaking aan die Rand in 1922, genl. Smuts se hardhandige teen-optrede, en die ontwikkelende samewerking tussen genl. Hertzog se Afrikaanse NP en kol. Creswell se Engelse Arbeidersparty, waardeur genl. Smuts (met die SAP) twee jaar later in ‘n algemene verkiesing verslaan is.

Die Boere leiers kon hierdie ontwikkelings voordelig benut, omdat hulle na 1902 nie in die verowering berus het nie, en die stryd voortgesit het.

Soortgelyke dinge sal weer in Suid-Afrika gebeur. En as die vaste besluite geneem is om, soos die Boere leiers, nie te berus nie, sal daar telkens voordeel uit te haal wees.

Stry en streef na buite

‘n Baie belangrike ander les is ook uit die verlede te leer: die groot omkeerpunte in die Afrikaner geskiedenis, het gekom wanneer daar van buite gestry en gestreef is – die Groot Trek, die Boererepublieke, genl. Hertzog se Nasionale Party, dr. Malan se Gesuiwerde (later Herenigde) Nasionale Party, dr. Verwoerd se uittrede uit die Statebond.

Deur van buite te stry en te streef, bring suiwerheid van strewe, innerlike versterking en vryheid van beweging. Die nasionalisme kan alleen so gedy. Soos Groen van Prinsterer gesê het: “In myn isolement ligt mijn krag.”

Afrikaner-nasionalisme

Wanneer al hierdie dinge gesê is, bly die groot vraag: hoe moet daar te werk gegaan word? Is daar kortpaaie?

Die antwoord is opgesluit in die herlewing van Afrikaner-nasionalisme. Dit is die mag wat soos tevore ‘n onstuitbare beweging kan wees. Dit moet in al sy geledinge geaktiveer word – vaderland, geskiedenis, taal, kultuur, geloof, idealisme. Die werklike politieke botsing sal al meer uitgesuiwer word tot ‘n stryd tussen Afrikaner-nasionalisme en Kommunisme.

Die noodwendige ontplooiing van die politiek sal uitloop op ‘n uiteenval van die kunsmatige Nuwe Suid-Afrika, weens die drang van nasionalisme, en volkstate sal tot stand kom op die patroon van Lesotho, Swaziland en Botswana.

Moed, vertroue, geloof

In hierdie stadium is die groot vereistes: geen berusting in die verowering nie, moed om op te staan na die terugslae, vertroue op die God van die vadere, geloof in die geroepenheid van die Afrikanervolk, opwekking van Afrikaner-nasionalisme tot ‘n magnetiese mag wat aantrek en bind.

En daarby die gerusstellende wete: die Britse mag het telkens probeer om die Afrikanervolk te vernietig; deur die genade van God kon hulle nie daarin slaag nie; en uit elke verowering het die Afrikanervolk opgestaan en sterker uitgekom.

……………………..

Bron: Bybel en Volk, nr. 4, jaargang 10; Mei 1995.