Maandelijks archief: december 2014

 Verwoerd 1

Op 16 Desember 1958 was dokter Verwoerd die feesredenaar tydens die Geloftedagviering by Bloedrivier. Dit was die eerste keer dat ‘n Eerste Minister daar opgetree het.

Inleidend het dokter Verwoerd die gebeure tydens die Slag van Bloedrivier ontleed en veral gewys waartoe ‘n eensgesinde groepie manne in staat was. Daardie oorwinning het die binneland oopgestel en ontwikkeling moontlik gemaak. Die geskiedenis bevestig dat ons as volk groot rede tot dankbaarheid het en ook deur die dade van die voorgeslagte verplig word tot toewyding. Bowe-al loop die beskermende Hand van God soos ‘n goue draad deur ons geskiedenis, waardeur die godsdienstige karakter van ons volksfeeste beklemtoon word.   Daarna het dokter Verwoerd soos volg verder gegaan:

Liewe vriende, ek wil praat van toe en van nou. As ons die gees van die wêreld van die tydsgewrig van die Voortrekkers nagaan, dan vind ons dat dit ‘n periode van beroering was in die gemoedere van mense. Daar het destyds ‘n geestestroom oor die wêreld beweeg wat ‘n nuwe atmosfeer geskep het, wat sy invloed gehad het tot so ver as hier in die suide van Afrika. Ons weet almal hoe tydens die Franse Rewolusie ‘n gees van bevryding onder die mensdom ontstaan het; ‘n gees van vryheid en broederskap en gelykheid van alle mense. Dit was gebore uit die omstandighede van die Europa van daardie tyd en is toe verkeerd toegepas op die wêreld daarbuite wat anders was.

Die toepassing van die idee van vryheid en gelykheid en die broederskap van alle mense het aanleiding gegee tot geweldige geskille en twiste. En dit het die wanbegrip openbaar van die lewe van mense in ander lande en in ander omstandighede. In Europa is geskryf van die edele barbaar, terwyl die mens rondom hulle, die blanke in sy beskawing van daardie tyd, nie geag is nie. In daardie gees is die blankes wat besig was om lande te beskaaf en om die barbaar van homself en van sy verdrukker uit eie geledere te red, as verdrukkers beskryf.

Dieselfde het met ons eie nasie en die Voortrekkers gebeur. Geweldige wanvoorstellings het in Europa geheers oor ons mense en die dade wat hier verrig is. Uit daardie lande het vreemde predikante, die Philips’ en die Van der Kemps, besiel met die gees wat oor Europa versprei het, gekom na ‘n gebied wat hulle nie geken het nie. Hulle het nie net die Evangelie gebring nie, maar ook die steurnis van die misverstand. Hulle het ‘n ondiens bewys, nie net aan die blanke wat destyds met die Bybel in die hand die binneland ingedring het nie, maar ook aan die heidendom deur hom aan te hits teen die blanke met al sy goeie wil en sy kennis van die toestande hier. Hulle het die weg beswaar. Heelwat van die bloed wat vergiet is en die stryd wat veroorsaak is, was die gevolg van die goedbedoelde maar misplaaste oordra van ‘n gees wat in die omstandighede van daardie tyd hier nie gepas het nie.

Daardie gees was nie gerig teen die Afrikanervoorsate alleen nie, maar teen alle blankes. Ook die Engelssprekenders het besef dat die kersteningsproses vir Afrika nodig is en dat die heerskappy van die blanke nodig was om hier in Suid-Afrika die beskawing en die Christendom te bring en uit te bou.

Te midde van dit alles word die optrede van die Voortrekkers deur drie duidelike gesindhede gekenmerk. Die een word gesimboliseer deur die gereedheid van Piet Retief om, waar hulle oop gebied hier gevind het, dit tog nog deur behoorlike onderhandelings as besit te verkry. Piet Retief was gereed om ‘n ooreenkoms met Dingaan aan te gaan. Hy was gereed om te vertrou en saam te werk. Hy het in die hande van die barbaar die lewens van sy klein groepie metgeselle geplaas. Die vertroue van die blanke, die eerlike opregtheid van die blanke, die onderhandelingsgereedheid van die blanke, die bereidheid om regte toe te ken soos dit pas, elkeen na sy soort en op sy plek, is gesimboliseer met daardie daad van Piet Retief.

Verder voortvloeiend uit die gebeure te Moordkoppie, sien ons dat die mense daar vergader nie gereed was om deel te hê aan die selfmoord van ‘n nasie nie. Hulle was nie bereid om pad te gee of om te vermeng nie. Hulle was gereed om te bly of om te trek as dit nodig was na Transvaal. Maar waar hulle ook al sou gaan, was hulle gereed om te stry tot die oorwinning toe, te stry om ‘n nasie te help bou. Of die Voortrekker getrek het, of hy geveg het en of hy die hand aan die ploeg geslaan het wanneer hy in vrede gelaat is, was hy altyd besig om te bou aan sy nasie. Nooit was hy gereed om te verbreek, te vernietig of te verloor nie.

Kenmerkend van daardie stryd was dat die Voortrekker altyd sy kind en sy vrou by hom gehad het. Dit was nie ‘n stryd van mans alleen nie. Dit was nie ‘n stryd net met die wapen in die hand nie. Dit was ‘n stryd van die hele gesin, man, vrou en kind, sy aan sy om die toekoms vir hulle nageslag te beveilig en die suiwerheid van die bloed van die volk te bewaar. Was dit mans alleen wat ‘n land so binnegestroom het, was daar vandag miskien nie ‘n blanke nasie nie. Omdat dit ‘n gesinstrek was en omdat die eenheid van die familie die basiese band was van die demokratiese bestuur van die state wat toe gestig is, kon orde en vrede so gou daar gevind word. Dit was die gesin wat getrek het, die gesin wat gestry het, die gesin wat gebou het.

Dit is wat toe gebeur het. Wat is die posisie vandag?

Daar bestaan ‘n merkwaardige ooreenkoms. Is dit nie so dat ‘n liberalistiese stroom weer vandag besig is om oor die wêreld te beweeg, baie soortgelyk aan 120 jaar gelede nie? ‘n Gees wat in die Tweede Wêreldoorlog, miskien alreeds in die Eerste Wêreldoorlog, sy oorsprong het. ‘n Gees wat gebore is uit die ervaring van die mense elders en hulle belange alleen. ‘n Gees van liberalisme wat veroorsaak het dat die blanke state so onder mekaar verdeel geraak het dat elkeen vir die welslae van sy oogmerke die steun van die nie-blanke wêreld – hetsy in Asië, hetsy in Afrika – probeer soek het. ‘n Gees nie gebore, soos dit dikwels voorgestel word, uit die hoogste morele oorwegings nie, want dan sou dit nie so verdoemend neersien op die eie blanke in ander dele van die wêreld nie, maar teenoor hom ewe begrypend kon staan as teenoor die swarte.

Dit is eienaardig dat die wêreldgees, net soos destyds, nie gerig is teen die Afrikaner nie, maar teen alle blankes. Daardie gees is deurdring van verheerliking vir die edele barbaar. Alles wat die nie-blanke sê of doen, is goed of word goedgepraat. As hy ru of dwaas optree, word dit beskryf as maar net kenmerkend van die oorgangsperiode. Maar as die blanke deur vas te staan, moet sorg dat die beskawing behoue bly, dan is dit verdrukking en word hy gesmaad. Die wêreldgees is ook gerig teen al die koloniale moondhede in Afrika, of dit nou die Portugese, Engelse, Belge of Franse is, en of dit die Suid-Afrikaners is. Wie ook al die beskawing hier gebring het, wie ook al die mense gered het van onderlinge uitdelgery, wie ook al dak en voedsel besorg het vir groter massas as wat die land eers kon dra. Aan hulle word nie dankie gesê vir lewe, vir voorspoed, vir kennis, vir die Evangelieverkondiging nie.

Dit is ook eienaardig dat juis nou weer predikante uit die vreemde moes kom wat die wanbegrippe verder dra, die Huddlestons, die Collinse, die Scotts, die De Blanks, miskien mense met goeie bedoelings, maar mense besiel deur die gees wat in Europa deur hulle ingedrink is, sommige selfs besiel met ‘n gees wat uit die verwerplike Kommunisme afkomstig is.

In hierdie land waar ons as ‘n Christelike volk met kennis van ons geskiedenis en van die natuur van die Bantoevolkere en die peil van hulle ontwikkeling, probeer om te doen wat reg en Christelik is, word ons verdoem uit monde wat eers moet kom leer voor hulle praat. Hulle sien nie raak dat net soos 120 jaar gelede, daar die duidelikste bewyse bestaan van ons gereedheid om billikheid en reg te laat geskied. Ek het verwys hoe Piet Retief gereed was om ‘n ooreenkoms aan te gaan. Ek voeg daarby dat na daardie Moordkoppie gebeurtenis Andries Pretorius, wat gekom het om straf uit te deel vir die wandaad, onderweg nog ‘n boodskap na Dingaan gestuur het. Indien Dingaan berou sou openbaar, sou die Voortrekkers nog vergewensgesind wees en nie die stryd tot die uiterste voer nie. Die boodskap was met minagting bejeën en daarom moes die slag van Bloedrivier plaasvind.

Net so is die blanke vandag op allerlei wyse gereed om geregtigheid aan die Bantoe te laat geskied. Die beleid van Suid-Afrika is om regte aan die nie-blanke in sy eie gemeenskap en in sy eie gebied te gee waar dit pas.

Weer is dit die blanke volk van Suid-Afrika wat die toestande ken, wat die enigste metode ontwerp het en volg wat vrede kan bring en geregtigheid aan almal bewys. Maar daarin word hy nie gesteun deur diegene wat van buite kom en hom nie begryp nie.

Hulle het die verdwyning van die blankedom reeds aanvaar as onvermydelik. Wanneer gepraat word soos in Europa en ook deur sommige in ons eie land, dat die oplossing van hierdie stryd geleë is in die samevoeging van alle mense – sogenaamde integrasie – begryp hulle nie dat dit nie eenwording is nie. Al wat sal gebeur is die vernietiging van die blankedom. Nie integrasie nie, maar disintegrasie – disintegrasie van die blankedom, van die beskawing en van die godsdiens wat ons geërf het, is die enigste gevolg.

Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekker van ouds: “Ons kan nog stry”. En ons sal veg, al sou ons moet ondergaan. Ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika en die godsdiens wat aan hom gegee is om te versprei. En ons sal dit doen net soos hulle – man, vrou en kind. Ons sal veg vir ons bestaan en die wêreld moet dit weet. Ons kan nie anders nie. Ons staan soos ‘n Luther met die Hervorming, met die rug teen die muur. Ons veg nie om geld of goed nie. Ons veg om die lewe van ons volk.

Maar ons veg nie net vir ons volk nie. Ek is diep sielsoortuig dat ons veg vir die voortbestaan van die blanke beskawing. As ooit ‘n stryd tussen Oos en Wes moet kom, as Afrika ooit êrens sy gewig moet ingooi en dit ‘n beslissende gewig sal wees, dan sal Afrika se gewig aan die kant van die blanke en die Westerse nasies wees alleen as die idee waarvoor ons as ‘n volk staan, kan bly seëvier. Die blanke is aan die suidpunt van Afrika ‘n voorpos van die blanke beskawing en as sodanig die krag van die vegtende massa, vooruit geskuif daar waar die eerste aanvalle moet kom. Ons weet ons is ‘n klein nasie, maar ons weet ook dat ons in ons het die staal en die krag wat die Bloedrivier-triomf teweeg gebring het.

Wanneer jy in ‘n voorpos is en die gevaar sien wat kom, het jy die reg om boodskappe agtertoe te stuur na die leërs wat agter jou skuil. Daarom stuur ons die boodskap aan die wêreld daarbuite en sê ons vir hulle weereens daar is net een redding vir die blankedom van die wêreld. Dit is dat blank en nie-blank in Afrika elkeen sy regte beoefen binne sy eie gebiede.

Ons veg met alles wat in ons is want ons weet ons is ‘n nasie in wording. Ons weet ons is nog nie mas halfpad op nie. Ons weet ons is nog maar fondamentleêrs net soos die helde van Bloedrivier was. Ons weet ook ons is gewone mense met baie swakhede. Maar ons weet dat diegene wat geskiedenis maak soos hulle, en soos ons nou, geskiedenis maak van ‘n jong volk wat nog in die lente van sy lewe staan. As die fondamente reg gelê word, kan die mure sterk gebou word. En die fondamente wat ons lê probeer ons heg en sekuur lê. Ons probeer deur die klei grawe tot op die gruis en die rots, want die nasie van Suid-Afrika moet bestaan tot in verre tye vorentoe. Daarom laat ons ons ook nie tot oorhaastigheid of tot paniek drywe nie. Daarom bou ons op die enigste rots van nasies, naamlik die geloof en dieselfde reddende Hand wat Bloedrivier aan ons voorvaders besorg het. Ons bou in geloof, ons bou met krag want ons weet ons is nie doelloos hier geplant nie.

Waarom sou driehonderd jaar gelede blankes na die suidpunt van Afrika gelei gewees het? Waarom was die helfte van die land onbeset, waarom kon klein getalle mense so vermeerder en versprei raak oor die hele land? Waarom kon hulle, nieteenstaande hulle Moordkrans en Italeni, ook hulle Bloedrivier verkry? Waarom kon hulle hul vryheidsoorloë deurmaak en wen of verloor, tog as ‘n nasie bly voortbestaan? Waarom is dit alles aan ons gegee as daar nie ‘n doel is nie?

En ek glo dit is die doel dat ons hier vir die Westerse beskawing en die Christelike godsdiens ‘n anker en ‘n stutpunt moet wees. Die Westerse beskawing en die blankedom deurloop ook ‘n krisis, al sien hulle dit nie raak nie. Nog nooit in die geskiedenis, in elk geval die geskiedenis van die afgelope tweeduisend jaar, was die blankedom se posisie so in gevaar soos nou nie. Nie in gevaar weens sy gebrek aan kennis of mag nie, maar in gevaar vanweë dit wat in sy eie gees omgaan. Sy innerlike verswakking en verkeerde begrip van wat sy taak op aarde is. En daar moet soms klein groepe wees wat teenstand bied, wat uitgebou word totdat dit die hele volkedom omgryp.

Miskien is dit die doel met ons dat ons hier aan die suidpunt geplant is, binne-in die plek van krisis, om van hierdie weerstandsgroep uit weer die oorwinning te laat uitbou waardeur alles wat opgebou is sedert die dae van Christus, sal staande bly tot heil van die ganse mensdom.

Mag u krag hê, volk van Suid-Afrika, om die doel te dien waarvoor u hier gestel is!